WITRIVIER. – Die Cravenweek vir laerskole word vir die eerste keer in die Laeveld aangebied word. Dit is die 44ste keer wat die laerskole-toernooi gehou word.
Die laerskole-toernooi is vir die eerste keer in 1972 saam met die hoërskole in Potchefstroom aangebied.
Die jongspan van die Westelike Provinsie mik vanjaar daarna om vir die derde agtereenvolgende jaar in die nie-amptelike eindstryd van die toernooi te speel. As daar na hulle spanlys gekyk word gaan hulle nie maklik van die mikpunt weggehou word nie.
Die span se vaskopstut, Nizaar Nazier, van Wynberg laat die skaal op ‘n allemintige 110kg kreun. Hy sal naby aan die swaarste speler op die toernooi wees. Die span se slot, Connor Evans, kan met sy 1.87m wat hy in sy sokkies staan ook waarskynlik die langste speler op die toernooi wees. Die swaarste speler uit die sentrale streek is die Griffons se vaskopstut, Connie Campher, wat die skaal se wyser op 99kg laat staan.
Die gasheer, die Pumas, was laas in 2008 in die hoofwedstryd van die week in aksie. Een van die spelers van daardie span die vaskopstut, Dewald Maritz, sal vanjaar op die Cravenweek vir hoërskole in Stellenbosch ook die Pumas se skrum anker. Die gasheer speel in die hoofwedstryd van die eerste dag teen KwaZulu-Natal.
Die Vrystaatse o.13-rugbyspan kan inspirasie put vir die Cravenweek vir laerskole wat vandag in Witrivier afskop uit die unie se o.12-span se goeie vertoning op die interprovinsiale o.12-toernooi verlede week in Vryheid.
Die span se Jean Smith, seun van die oud Springbok-losskakel en huidige afrigter van die Cheetahs Franco Smith, is na afloop van die toernooi in Vryheid as speler van die toernooi aangewys.
Die ander twee spanne van die sentrale streek, die Griffons en Griekwaland-Wes, moet hulle aanslag vanaf die B-veld vandag loots.
Die Cravenweek vir laerskole sal volgende jaar in die Paarl aangebied word. Die Suid-Afrikaanse Skole-vereniging het besluit om volgende jaar die Cravenweek vir laerskole en die Grant Khomo-week (vir o.16-spanne) dieselfde week saam in die Paarl aan te bied.
Die Cravenweek vir hoerskole en die Akademie-week (vir o.18-spanne) sal ook dieselfde tyd deur Durban gehuisves word.
Vandag se bepalings is:
A-veld: 08:30: Vrystaat t. Suidwestelike Distrikte; 09:30: Oostelike Provinsie t. Goue Leeus; 10:30: Boland t. Luiperds; 11:30: Westelike Provinsie t. Valke; 12:30: Limpopo Blou Bulle t. Grens; 14:30: Pumas t. KwaZulu-Natal. B-veld – 08:30: Griffons t. Grens-platteland; 09:30: Griekwaland-Wes t. Namibië; 10:30: Blou Bulle t. Zimbabwe.

SASOLBURG. – Die Vrystaatse o.18-rugbyspan se oorwinning van 31-19 oor KwaZulu-Natal op die jaarlikse Noordval Bondedag in die DP de Villiers-stadion hier het nie van die mooiste rugby opgelewer nie, maar die span het daardeur sy voorbereiding vir die Cravenweek onoorwonne afgesluit.
REITZ. – Daar is nie veel vooraf te kies tussen die voorste spanne op vanjaar se 18de VKB-week hier nie. Die sentrale streek se aanslag sal na verwagting deur die Vrystaatse Kiewiete gelei word.
SASOLBURG. – Indien iemand gewonder het of die Griffons se o.18-rugbyspan hulle goeie vertonings op die Cravenweek oor die afgelope paar jaar vanjaar in Stellenbosch kan voortsit is hulle Saterdag in die DP de Villiers-stadion op die jaarlikse Noordval Bondedag beantwoord. 