SSPN Test Site

Blog

  • Uitslae Noord van die Vaal – 25 July 2015

    Blou Bulle

    GROOTSKOLE-EINDSTRYD

    ■ Oos-Moot 20 – Drieë: Tiaan Bedford, Therance Kingsburgh. Doelskoppe: Ronald van der Wetering (2). Strafdoele: Van der Wetering (2). Overkruin 12.

    ■ Ander spanne:

    o.16: Oos-Moot 29, Hoërskool Tuine 3.

    o.15: Oos-Moot 0, Pretoria-Noord 0.

    o.14: Oos-Moot 20, Pretoria-Noord 19.

    MEDIUMSKOLE-EINDSTRYD

    ■ Midstream College 31 (16) – Drieë: Die Wilgers 22 (10) – Drieë: André Oerson (2), Stian Joubert. Doelskoppe: Joubert (2). Strafdoel: Joubert.

    Ander spanne:

    o.16: Midstream College 12, Die Wilgers 7.

    o.15: Erasmus 13, Die Wilgers 0.

    o.14: Midstream College 17, Die Wilgers 0.

    MIDDELSKOLE-EINDSTRYD

    ■ Pretoria THS 20 (7) – Drieë: Ashton Swart, Xabiso Mtumtum. Doelskoppe: Keanu Duraan (2). Strafdoele: Duraan (2). Hercules 13 (6) – Drie: Frederik Erasmus. Doelskop: Christo Erasmus. Strafdoele: Christian Kitenge (2).

    ■ Ander spanne:

    o.16: Curro Hazeldean 38, Cullinan 0.

    o.15: Curro Hazeldean 15, Cullinan 12.

    o.14: Pretotria THS 15, Lyttelton Manor 10.

    KLEINSKOLE-EINDSTRYD

    ■ Maragon Olympus 12 (6) – Strafdoele: Tylo da Camara (4). Woodhill College 3 (0) – Strafdoel: Nayron Paulsen.

    Ander spanne:

    o.15: Maragon Olympus 24, Curro Roodeplaat 12.

    VRIENDSKAPLIK

    ■ Affies 50 – Drieë: Christian Strydom (4), Louritz van der Schyff (2), Cabous Eloff, Pieter Coetser. Doelskoppe: Eddie Fouché (5). Maritzburg College 19 – Drieë: Simphiwe Mpanza (2), Kelton Thunder. Doelskoppe: Ruben van Blerk (2).

    ■ Helpmekaar 22 (16) – Drie: Mel Mathieson. Doelskop: Chunier van Rooyen. Strafdoele: Van Rooyen (5). Garsfontein 26 (0).

    ■ Ander spanne:

    o.16: Affies 43, Maritzburg College 5; Helpmemaar 31, Garsfontein 3.

    o.15: Affies 29, Maritzburg College 0; Garsfontein 26, Helpmekaar 15.

    o.14: Affies 20, Maritzburg College 3; Helpmekaar 24, Garsfontein 5.

    Leeus

    MAKROSKOLE – UITSPEELSTRYD

    ■ Marais Viljoen 17 (17) – Marco Saaiman, Ederick van Niekerk. Doelskoppe: Eben Koekemoer (2). Strafdoel: Koekemoer. Florida 14 (8).

    GROOTSKOLE

    ■ Hoërskool Linden 15 (5) – Drieë: Zander Voges, Morné van den Berg, Dillon van Tonder. Hoërskool Randbug 27 (17).

    ■ Ander spanne:

    o.15: Linden 48, Randburg 9.

    MEDIUMSKOLE-EINDSTRYD

    Eerste spanne: Trinityhouse 22, Bekker 3.

    VRIENDSKAPLIK

    ■ Jeppe Boys’ High 27 – Drieë: Hacjivah Dayimani, Andile Ngobe. Doelskop: Damien Paysley. Strafdoele: Paysley (5). Parktown Boys’ High 20.

    Limpopo

    GROOTSKOLE-EINDSTRYDE

    Eerste spanne: Hoërskool Pietersburg 48, Ben Vorster 19.

    Ander spanne:

    o.16: Pietersburg 18, Ben Vorster 15.

    o.15: Ben Vorster 15, Frikkie Meyer 0.

    o.14: Pietersburg 12, Ben Vorster 5.

    MEDIUMSKOLE-EINDSTRYDE

    Ben Viljoen 26 – Drieë: Muller Visser, Phil Joubert, Ruan Breed. Piet Potgieter 12.

    Ander spanne:

    o.16: Hans Strijdom 38, Ellisras 0.

    o.15: Ellisras 16, Piet Potgieter 12.

    o.14: Piet Potgieter 14, Nylstroom 0.

    MIDDELSKOLE-EINDSTRYDE

    Eerste spanne: Eric Louw 29 Warmbad 10

    Ander spanne:

    o.16: Warmbad 10, Eric Louw 8.

    o.15: Northern Academy 16, Warmbad 12.

    KLEINSKOLE-EINDSTRYDE

    Eerste spanne: Curro Heuwelkruin 35, Stanford Lake College 10.

    Ander spanne:

    o.15: Curro Heuwelkruin 47, Stanford Lake College 3.

    Luiperds

    GROOTSKOLE-EINDSTRYDE

    ■ Potchefstroom Gimnasium 15 (7) – Drieë: Inus Vermeulen (2). Doelskop: Jaswyn Damon. Skepdoel: Casper Dreyer. Hoërskool Klerksdorp 15 (10) – Drieë: Michael Steinberg, Machiel le Roux. Doelskop: Erich Hough. Strafdoel: Hough.

    ■ Ander spanne:

    o.16: Potch Gimmies 15, Klerksdorp 12.

    o.15: Potch Volkies 15, Potch Gimmies 7.

    o.14: Klerksdorp 28, Potch Volkies 0.

    VRIENDSKAPLIK

    ■ Hoërskool Vryburg 62 – Drieë: Francois Pelser (3), Gert Jonker (2), Johan Pelser (2), Billy Venter (2), Joe van Huysteen. Doelskoppe: André Kock (6). Bothaville 3.

    Pumas

    MAKROSKOLE-EINDSTRYDE

    ■ HTS Middelburg 14 – Drieë: JP Mans, Ryan Cloete. Doelskoppe: Brandon Par-Bailey (2). Hoërskool Nelspruit 12 – Drieë: Marnus Kruger, Eduan Engelbrecht. Doelskop: Wessel Muller.

    ■ Ander spanne:

    o.16: HTS Middelburg 31, Nelspruit 3.

    o.15: Nelspruit 12, Hoërskool Middelburg 10.

    o.14: HTS Middelburg 36, Nelspruit 12.

    GROOTSKOLE-EINDSTRYDE

    ■ Secunda 27 – Drieë: George Weilbach, Kevin Malan. Doelskop: Righ Potgieter. Strafdoele: Potgieter (5). Piet Retief 3.

    ■ Ander spanne:

    o.16: Ligbron 23, Hoogenhout 17.

    o.15: Ligbron 7, Piet Retief 3.

    o.14: Secunda 15, Generaal Hertzog 0.

    MEDIUMSKOLE-EINDSTRYDE

    ■ Penryn College 19 – Drieë: Wakhe Shongwe (3). Doelskoppe: Ernest Mthethwa (2). Oosterland 10.

    ■ Ander spanne:

    o.16: Lowveld High 17, Kanonkop 10.

    o.15: Bergvlam 14, Oosterland 5.

    o.14: Oosterland 17, Bergvlam 5.

    KLEINSKOLE-EINDSTRYDE

    Eerste spanne: Morgenzon Landbou as kampioen gekroon na Hendrina punte gee.

    o.17: Morgenzon Landbou kampioen as kampioen gekroon na Komatipoort punte gee.

    o.15: Komatipoort 34, Morgenzon Landbou 5.

    Valke

    MAKROSKOLE-UITSPEELSTRYDE

    ■ Kempton Park 42 – Drieë: Dean Koch (2), Johan Marais, Tinus Grundeling, Martin Louw, Ruan van der Merwe. Doelskoppe: Francois Erasmus (5), Divan de Beer. Die Anker 8 – Drie: Lee Olivier. skepdoel: Juandré van Vuuren.

    ■ Ander spanne:

    o.16: Hoërskool Rustenburg 20, Marais Viljoen 0.

    o.15: Kempton Park 8, Die Anker 7.

    o.14: Kempton Park 15, Noordheuwel 10.

    GROOTSKOLE-EINDSTRYDE

    ■ Heidelberg Volkskool 21 – Drieë: Brendan Strydom, Jan Kotze. Doelskop: Kotze. Strafdoele: Kotze (3). Hugenote (Springs) 14 – Drie: Xavier Hawley. Strafdoele: Lenus Wilkinson (3).

    Ander spanne:

    o.16: Transvalia 15, Hugenote 8.

    o.15: Transvalia 36, Hugenote 3.

    o.14: Transvalia 50, Heidelberg Volkies 6.

    MEDIUMSKOLE-EINDSTRYDE

    ■ Stoffberg 10 – Drieë: Arnoux Venter, Lourens Goosen. Brandwag (Benoni) 6 – Strafdoele: Corné van der Linde (2).

    ■ Ander spanne:

    o.16: Overvaal 13, Brandwag 3.

    o.15: Brandwag 29, Carel de Wet 5.

    o.14: Overvaal 22, Brandwag 14.

    MIDDELSKOLE-EINDSTRYDE

    ■ Parys 26 (12) – Drieë: Jako van der Westhuizen, Dewald Alberts, Eduan Naudé. Doelskop: Hannu Benadé. Strafdoele: Benadé (3). Belvedere 17 (5) – Drieë: Jason van Huysteen, Lee-Jay Abrahams, Byron Wolfaard. Doelskop: Terrel Abbey.

    ■ Ander spanne:

    o.16: Belvedere 13, Voortrekker (Boksburg) 12.

    o.15: Voortrekker (Boksburg) 6, Belvedere 3.

    o.14: Belvedere 48, Die Ankerskool 5.

    KLEINSKOLE-EINDSTRYD

    ■ Heilbron 31 (5) – Drieë: TJ Janse van Rensburg (3), DJ van Deventer, Jantus Strauss. Doelskoppe: Marcel de Villiers (2), Janse van Rensburg. Balfour 12 (7) – Drieë: Christiaan Pieterse, Dirk Losaro. Doelskop: Ettienne Vries.

  • Midstream, Randburg verhang bordjies

    Midstream College het die bordjies teen Die Wilgers in die eindstryd van die Blou Bulle se mediumskole-liga op Loftus Vers­feld in Pretoria verhang.

    Midstream het met 31-22 koning gekraai nadat Die Wilgers die ligawedstryd tussen dié twee spanne vroeër vanjaar naelskraaps met 31-30 gewen het.

    Die verloorspan se agtsteman, André Oerson, is met twee drieë vir sy kragtige lopies beloon. Die slot Zandré Muller het ook voorlangs inklimspel gelewer.

    Agterlangs het die losskakel, Stian Joubert, en die senter Chad Sias ook blink vertonings gelewer.

    ■ Ashton Swart, heelagter van die Pretoria Technical High School, het sy span die titel as kampioen van die Blou Bulle se medium ­skole met ’n drie in die doodsnikke van hul wedstryd teen Hercules op Loftus Versfeld besorg. Die telling was 20-13.

    Swart het ’n los bal opgeraap nadat sy direkte teenstander, Christo Erasmus, die bal vanuit die hand mis geskop het. Erasmus was ondanks dié flater steeds uitstekend in die verloorspan.

    Die wenspan se flank Mlondi Nxolo verdien ook ’n klop op die skouer vir sy vertoning in die eindstryd. Vir Hercules het sy senter Dean Nel, slot Hanco Benadé en stut Frederik Erasmus goed vertoon.

    ■ Die Hoërskool Randburg het ook die bordjies teen Linden in die Leeus se eindstryd vir groot skole verhang. Randburg het Linden Saterdag in die UJ-stadion met 27-15 die loef afgesteek. In die twee spanne se kragmeting vroeër vanjaar was Linden met 36-20 baas.

    Helpmekaar sal as die Leeus se naaswenner die Beeld Noordvaal Trofee betree.

    Oos-Moot is as nuwe kam­pioen van die Blou Bulle se groot skole gekroon deur in die eindstryd met 20-12 oor Overkruin koning te kraai.

    ■ In die Valke se grootskole- eindstryd het die Heidelbergse Volkskool die titel as kampioen verower deur Hugenote van Springs met 21-14 in die Isak Steyl-stadion in Vanderbijlpark te troef.

    Brandwag van Benoni het met 10-6 teen Stoffberg in die eindstryd vir medium skole vasgeval, terwyl Parys vir Belvedere met 26-17 in die middelskole-eindstryd verslaan het.

    Heilbron se vleuel TJ Janse van Rensburg was aan die voorpunt van sy span se sege van31-12 oor Balfour in die eindstryd vir klein skole. Janse van Rensburg het in die tweede helfte na die middelveld geskuif en drie keer die doellyn oorgesteek.

    Balfour het by die omdraaislag nog ’n skamele voorsprong van 7-5 gehad.

    Die Hoërskool Pietersburg het Ben Vorster van Tzaneen in die eindstryd vir groot skole met 48-19 verslaan. Ben Vorster kan egter steeds nie onderskat word in die stryd om die Beeld Noordvaal Trofee nie.

  • Gimmies en Klerksdorp deel Jacob Wilkins-trofee

    Ná 70 moordende minute het die Luiperds se grootskole-eindstryd tussen die Hoërskool Klerksdorp en Potchefstroom Gimnasium met 15-elk gelykop geëindig. Dié twee spanne deel sodoende die gesogte ­Jacob Wilkens-trofee.

    Klerksdorp het teen rustyd met 10-7 voorgeloop, maar die belangrike feit was dat Gimmies se Cravenweek-senter, Inus Vermeulen, die eerste drie van die wedstryd gedruk het.

    Danksy sy drie sal Gimmies die Beeld Noordvaal Trofee as die Luiperds se kampioen betree. Albei spanne het twee keer die witlyn in die eindstryd oorgesteek.

    Klik hier vir al die rug​by-uitslae

    Gimmies het die voortou geneem met Vermeulen se tweede drie ná 24 minute se spel in die tweede helfte, met die telling op 12-10.

    Casper Dreyer, Gimmies se losskakel, het enkele minute voor die einde met ’n skepdoel geslaag om Gimmies gemaklik met 15-10 voor te laat loop, maar dit was nie die einde van die storie nie.

    Dit was so al asof Gimmies die oorwinning begin vier het toe hy in die laaste oomblikke besit afgestaan het en Klerksdorp se buitesenter, Machiel le Roux, deurgebeur het vir ’n drie wat sake gelykop gemaak het.

    Die lastige wind het die losskakel, Erich Hough, se doelskop net-net skeef laat trek, waarna die eindfluitjie geblaas het.

    Gimmies sal in die Beeld Noordvaal Trofee teen die Blou Bulle se naaswenner, Overkruin, in ’n uitspeelwedstryd speel. Klerksdorp sal na Piet Retief moet reis vir sy uitspeelwedstryd.

    Secunda het vir Piet Retief in die Pumas se eindstryd met 27-3 ore aangesit. Secunda sal teen Ben Vorster van Tzaneen in sy uitspeelwedstryd te staan kom.

    ■ Die Hoërskool Vryburg was op die jaarlikse sportdag van die Bloemfonteinse Hoërskool President Steyn teen die Hoërskool Bothaville in aksie. Die span van die Noordwes het Bothaville met 62-3 ’n drag slae toegedien.

    Die wenspan se Cravenweek-heelagter, Francois Pelser, het drie keer ’n draai agter die doellyn gaan maak. Sy tweelingbroer, Johan, het twee van sy span se bewegings in dié sege afgerond.

    Vryburg het reeds as die Luiperds se mediumskole-kampioen vir die Beeld Noordvaal Trofee gekwalifiseer. Die Hoërskool Brits sal as die Luiperds se naaswenner in dié kompetisie speel.

  • Harrismith en Wilgerivier deur na Oos-eindstryd

    Die eerste rugbyspan van die Hoërskool Harrismith het nog net een hekkie wat hy moet oor om vir die eerste keer sedert 1988 as kampioen van die Oos-Vrystaat gekroon te word.

    Dié span kom Vrydag op sy tuisveld teen die verdedigende kampioen, die Hoërskool Wilgerivier van Frankfort, in die eindstryd te staan. Harrismith het vroeër vanjaar vir die eerste keer sedert 2009 daarin geslaag om vir Wilgerivier te klop en ook die span van Frankfort sy eerste nederlaag sedert 2010 in die liga toegedien.

    Harrismith wat al Springbokke soos De Wet Ras en Klippies Kritzinger opgelewer het, het sy plek in die eindstryd met ‘n naelskraapse sege van 10-7 oor Reitz in die halfeindstryd bespreek. Die halfeindstryde is Vrydag in ‘n koue en nat Harrismith beslis. Dit het twee dae voor die kragmetings gereën en net voor die afskop van die kragmeting tussen Wilgerivier en Vrede ook weer begin sous.

    Wilgerivier het sy plek in die eindstryd verseker deur vir Vrede met 27-21 te klop. Dit was die eerste keer sedert 2008 wat die Oos-Vrystaatse halfeindstryde nie op Frankfort beslis is nie.

    Harrismith se skrumskakel, Roswin Kampher, het sy span se enigste drie teen Reitz na ‘n beweging vanaf sy eie doellyn afgerond. Kampher het self van sy eie doellyn gebreek voordat hy aansluiting van die senter Charl Barthers gekry het. Barthers het ver genael voordat hy weer vir Kampher in besit gestel het om af te rond.

    Reitz se voorspelers het die oorhand in die kragmeting gehad en meeste van die balbesit en gebiedsvoordeel geniet. Die span se aanslag is in die tweede helfte ‘n slag toegedien toe sy agtsteman, Driaan Scheepers, die veld weens ‘n besering moes verlaat. Scheepers en die stut Paul van Deventer het blink vertonings vir die verloorspan gelewer.

    Agterlangs verdien die skrumskakel, Geyer Terblanché, ‘n klop op die skouer.

    Vir die wenspan was Kampher uitstaande, terwyl die agtsteman, Kurt van Rooyen, ook maar vandag breëbors kan rondloop.

    Wilgerivier se twee flanke, Monré Venter en Tat van der Watt, was aan die spits van hulle span se sege. Venter het nie ‘n losbal laat rondlê nie en ook ‘n hele paar keer goeie lyne gehardloop. Van der Watt het die fisieke aanslag voorlangs gelei en ook ‘n groot aantal duikslae uitgevoer.

    Die haker, Schalk Wilkinson, het ook soos gewoontlik met die bal onder die arm sy span oor die voordeellyn gekry.

    Puntemakers: 

    Harrismith 10 (7): Drie: Roswin Kampher. Doelskop: Remo Bruiners. Strafdoel: Bruiners. Reitz 7 (0): Drie: Paul van Deventer. Doelskop: Neil van der Merwe. 

    Wilgerivier 27 (17): Drieë: Stean Marais, Andries Burgers, GJ Janse van Rensburg, Daniel Jooste. Doelskoppe: Schalk Wilkinson (2). Strafdoel: Cobus Erasmus. Vrede 21 (10): Drieë: Johan Loock (2). Doelskop: Norman Bibbey. Strafdoele: Bibbey (3).

  • Rooi Bulle gaffel die Rhinos in Puma-eindstryd

    Die Rooi Bulle van die HTS Middelburg het die Rhinos van die Hoërskool Nelspruit van sy troon as kampioen van die Pumas se grootskole-afdeling gestamp.

    Die Rooi Bulle het Saterdag op sy tuisveld die Rhinos in ’n taai eindstryd met 14-12 geklop om dié liga onoorwonne af te sluit. Nelspruit is die verdedigende kampioen van die Beeld Noordvaal Trofee en dié nederlaag beteken dat hy reeds in die kwarteindstryd van die kompetisie met sy teenstander in verlede jaar se eindstryd, Garsfontein van Pretoria, ’n herontmoeting sal hê. Dié twee spanne het mekaar al twee keer vanjaar die stryd aangesê met albei wat een keer aan die wenkant was.

    Die Rooi Bulle sal eers moet wag op die uitslag van die uitspeelwedstryd tussen Marais Viljoen van Alberton en Menlopark van Pretoria om te weet wie hy in die kwarteindstryd sal pak.

    Die span van Middelburg se Cravenweek-flank, JC Pretorius, was soos altyd ’n doring in die Rhinos se vlees by die afbreekpunte. Hy het verskeie kere daarin geslaag om omgekeerde besit te bewerkstellig.

    Nelspruit se twee spelers wat die nasionale verteenwoordigende spanne gehaal het – die stut Dewald Maritz en haker Marnus van der Merwe – het gewys hoekom die nasionale keurders hulle so hoog aanslaan. Van der Merwe het egter langs die kant van die skrum teen die Rooi Bulle gesak.

    Die verloorspan se vleuel Eduan Engelbrecht was op die aanval ook weer een van sy span se staatmakers.

    ■ Marais Viljoen moes op sy tuisveld sweet om Florida met 17-14 uit te oorlê. Marco Saaiman, die span van Alberton se kaptein en flank, was sy span se uitstaande speler op dié dag.

    Die wenspan het teen rustyd reeds met 17-8 voorgeloop. In die ander uitspeelwedstryd in die Valke/Leeus en Luiperds se liga het Kempton Park sy spiere behoorlik gebult met ’n sege van 42-8 oor Die Anker.

    Kempies se senter Dean Koch en die Cravenweek-haker Tinus Grundelingh het blink vertonings vir die wenspan gelewer.

    ■ Garsfontein het met ’n reuse-terugvegpoging vorendag gekom in die tweede helfte in sy kragmeting teen Helpmekaar in Johannesburg. Die Garsfontein-manne het uiteindelik met 26-22 as oorwinnaars van die veld

    gestap.

    Helpies het teen rustyd ’n gerieflike voorsprong van 16-0 opgebou. Chuinier van Rooyen, die span se heelagter, het met sy skopskoen vyf strafdoele en ’n doelskop tussen die pale deur gejaag.

    Vir Garsies was Bees Ferreira, haker, en die losvoorspeler Jaco Bezuidenhout op hul stukke. Die slot PJ Steenkamp het ook uitstekend in die lynstane gerank.

    ■ Die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria het op sy tuisveld Maritzburg College met 50-19 kafgedraf in ’n Premier Interskool-kragmeting.

    Chris­tian Strydom, Affies se linkervleuel, het vier keer ’n draai agter die besoekers se doellyn gaan maak.

  • Northerns en Diamonds bult spiere in die Noord-Kaap

    Die eerste rugbyspanne van Noord-Kaap en Diamantveld het albei Saterdag duidelike boodskappe aan mekaar gestuur dat hulle slaggereed vir hul jaarlikse derby in die Diamantstad is.

    Die ENB Classic Clash tussen Noord-Kaap en Diamantveld op 15 Augustus sal bepaal wie Griekwas in die Kovsiestreek-kompetisie se Shimla-liga sal verteenwoordig.

    Northerns het in Upington vir Duineveld met 30-14 die loef afgesteek. Die span van Kimberley moes boonop vroegmore eers na Upington vir die wedstryd vertrek na hulle nie slaapplek vir Vrydagaand kon kry nie.

    Northerns se heelagter, Wilfred Bowers, het ‘n blink vertoning gelewer en 15 punte tot sy span se oorwinning bygedra. Hy het self een van sy span se vier drieë afgerond en ook twee doelskoppe en twee strafdoele sekuur tussen deur die pale gejaag.

    Diamantveld was in ‘n verwoestende bui op sy tuisveld deur vir Fichardtpark van Bloemfontein met 61-0 kaf te draf. Die span se kaptein en kantman, Janco Cloete, het sy goeie spelpeil van die Cravenweek voortgesit en twee keer ooergeval. JP Roets het ook dubbelle driedruk-plesier ervaar.

    Die span se Cravenweek-losskakel, Gerco Nortjé, het agt van sy span se nege drieë met sy geleerde skopskoen verdoel. Diamonds het met die omdraaislag reeds met 47-0 voorgeloop en in die tweede helfte sy voet so ietwat van die versneller afgehaal.

    Die Hoërskool Upington se lostrio Reinhard Hayes, Cobus Wiese en Dian Dry was weer op hulle stukke. Die trio het Uppies gehelp om Landboudal van Jacobsdal op sy tuisveld, Landboupark, met 11-5 uit te oorlê. Vir Lanties het Jhuan Bezuidenhout, Michael Pienaar en Conrad Blaauw goeie spel gelewer.

    De Aar se Cravenweek-vleuel, Jacques Beukes, het twee keer teen die Hoërskool Kalahari van Kuruman die doellyn oorgesteek om sy span tot ‘n sege van 29-12 te help.

    Die Hoër Landbouskool Noord-Kaapland van Jan Kempdorp het vir Daniëlskuil met 26-17 in ‘n ander kragmeting in die Griekwa mediumskole-liga geklop.

    Puntemakers: 

    Noord-Kaap 30: Drieë: Wilfred Bowers, Daniello Huyster, Cameron Hufke, Zayne Farmer. Doelskoppe: Bowers (2). Strafdoele: Bowers (2). Duineveld 14

    Diamantveld 61 (47): Drieë: Janco Cloete (2), JP Roets (2), Keaton Gordon, Nico Roets, Johan Joubert, Etdeon Greyvenstein, Gert Coetzee. Doelskoppe: Gerco Nortjé (8). Fichardtpark 0

    Hoërskool Upington 11: Drie: Wynand Terblanché. Strafdoele: Johan Bekker (2). Landboudal 5: Drie: Conrad Blaauw. 

    De Aar 29: Drieë: Jacques Beukes (2), Didi Fourie, Gloucester Hugo, Shaun Tara. Doelskoppe: Fourie (2). Kalahari 12.

  • Kroonstad vir die agtste jaar in ‘n ry in Rooi getooi

    Kroonstad vir die agtste jaar in ‘n ry in Rooi getooi

    NuusG JohanSteynKroonstad is vir die agtste agtereenvolgende jaar rooi. Die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad het met sy sege van 36-3 Saterdag sy agtste agtereenvolgende sege oor Hoërskool Kroonstad op laasgenoemde se tuisveld behaal.

    Rooiskool het in die tweede helfte na ‘n hoër rat oorgeskakel om Bloues tot oorgawe te dwing. Die span se agtsteman, Johan Steyn, het veral met sy spel die leiding geneem.

    Blouskool het ondanks die hoë getal in die krediet kolom heelwat om oor te glimlag. Met die omdraaislag kon Rooiskool slegs ‘n voorsprong van 5-3 geniet.

    Die wenspan se slot Michiel Bosman en flank Stephan du Plessis het voorlangs saam met Steyn goeie werk verrig. Du Plessis het die veld vol gespeel en ook op die verdediging uitgeblink. Bosman het soos gewoontlik meters ver veld met sy kraglopies gewen.

    Agterlangs het die losskakel, Franco Froneman, die agterlyn seepglad weggesit. Die senter Louis Steyn het ook meer gapings in Blouskool se verdediging in die tweede helfte begin vind.

    Blouskool se skakelpaar, Theo Roux en Henro de Vos, het agterlangs moedig probeer. Voorlangs het die kaptein en agtsteman, Jan-Louis du Plessis, en die flank Hendré Bolton goeie spel gelewer.

    Voortrekker van Bethlehem het ‘n belangrike sege van 24-7 oor Goudveld-Hoërskool behaal. Niemand was beter op die dag as Trekkers se skrumskakel, Etienne Becker, nie.

    Vir Gouties het sy heelagter, Wian van Staden, met sy aanvallende spel vanuit die laaste vesting vir die Trekkers ‘n paar keer probleme besorg. Die agtsteman, Pietman Kotze, het wanneer hy die bal onder die arm vasgeknyp het meters ver veld vir die verloorspan gewen. Gouties het met die omdraaislag met 7-5 voorgeloop, maar Trekkers het in die laaste kwart van die wedstryd drie vinnige drieë gedruk om die sege te beklink.

    Die buitesenter, Donovan Bouwer, linkervleuel JJ Lombaard en flank Sakkie Mollentze het ook goed vir die wenspan vertoon. Lombaard is vir sy goeie spel met twee drieë beloon.

    Witteberg het danksy ‘n beter tweede helfte daarin geslaag om vir Hentie Cilliers van Virginia met 29-22 die loef af te steek. Die span se losskakel, Tiaan Schoonraad, het met sy skopskoen weer ‘n sleutelrol vertolk.

    Die span van Virginia het met lemoentyd ‘n voorsprong van 17-10 opgebou. Hy het kort daarna die voorsprong na 22-10 in die tweede helfte vergroot, maar Wittes het nooit gaan lê nie.

    Vir Henties het sy losskakel, Dominic Smit, flank Gift Dlamini en jong slot Scholtz Jordaan met hulle spel beindruk.
    Welkom-Gimnasium se sterk vleuel, Tristan Rothman, het ‘n driekuns aan drieë in sy span se weghol-sege van 78-5 oor HTS Welkom behaal. Gimmies het 12 drieë in die wedstryd ingeryg. Die span se losskakel, Luan James, het nege daarvan verdoel.

    Puntemakers: 

    AHS Kroonstad 36 (5): Drieë: Harold Hills, Armin Louw, Erik de Jager, Gerald Ekron, Marinus Aucamp, Zak van Niekerk. Doelskoppe: Corné Cooper (3). Hoërskool Kroonstad 3 (3): Strafdoel: Henro de Vos. 

    Welkom-Gimnasium 78: Drieë: Tristan Rothman (3), SJ Malherbe (2), Fanie Vermaak (2), Lubabalo Mtyesi, Ezrick Alexander, Benji Muller, Richman Gora, Byron Ferreira. Doelskoppe: Luan James (9). HTS Welkom 5. 

    Voortrekker 24: Drieë: JJ Lombaard (2), Eben Claassen (2). Doelskoppe: Etienne Becker (2). Goudveld-Hoërskool 7:.Drie: David Eyssen. Doelskop: Ruben Abrahams. 

    Witteberg 29 (10): Drieë: Pieter Jordaan, Cronjé Meiring, Tiaan Schoonraad, Darryl Wilson. Doelskoppe: Schoonraad (3). Strafdoel: Schoonraad. Hentie Cilliers 22 (17): Drieë: Dominic Smit, Delano Smit, Morné Mkwayi, Thebe Letsholo. Doelskop: Dominic Smit.

  • Dis agt uit agt vir die Steyners

    JOHANNESBURG. – Die Hoërskool President Steyn se eerste rugbyspan het danksy ‘n strafdoel deur sy flank Fanie Griessel in die doodsnikke van die hoofwedstryd van sy jaarlikse sportdag vir Zastron met 28-26 geklop.

    Dié sege beteken ook dat die Steyners die Vrystaatse B1-liga onoorwonne afsluit. Die Steyners het op Gonval Store-park die balbesit en gebiedsvoordeel oorheers, maar het die balbesit op kritieke tye aan Zastron afgestaan. Die Suid-Vrystaters verdien lof vir hulle skitterende spel by die afbreekpunte.

    Die gasheer het teen rustyd ‘n voorsprong van 20-12 opgebou, maar Zastron het nie gaan lê nie en amper daarin geslaag om vir Steyners sy eerste loesing in dié liga toe te dien.

    Albei die wenspan se senters, Niel Smith en Kobus van Tonder, kan vandag tevrede oor hulle vertonings voel. Smith het twee van sy span se drieë gedruk. Albei die flanke, Griessel en Joshua Potgieter, het ook goeie spel gelewer.

    Grey-kollege moes in die koue weer en op ‘n nat veld in Bainvlei so ietwat sweet om vir Louis Botha met 18-10 onder te kry. Dit sal nie goeie nuus vir die ander spanne in die Vrystaatse A1-liga wees dat Louis Botha besig is om sy spelpeil te verbeter nie.

    Louis Botha het met rustyd ‘n voorsprong van 10-5 geniet. Die verloorspan het goed daarin geslaag om Grey se spel te ontwrig en die wenspan kon ook nie die bal soveel lug gee soos hy graag sou wou doen nie.

    Die twee afrigters, Wessel du Plessis (Grey) en Corné Erasmus (Louis Botha), ken mekaar se speelstyle goed. Die twee het vanjaar kragte saamgespan om die Vrystaatse Cravenweek-span te brei.

    Grey se skrumskakel, Rewan Kruger, het vanaf die plaasvervangersbank in die tweede helfte ‘n positiewe verskil kom maak. Die slot Bakkies Rossouw het soos gewoontlik weer die donkiewerk uitstaande verrig.

    Elke speler van Louis Botha verdien ‘n klop op die skouer. Die span se Cravenweek-senter, Luciano Jones, het met die telling op 15-10 in Grey se guns na aan die einde vir ‘n drie deurgedraf, maar hy het ongelukkig vir sy span uitgetrap.

    Brandfort het op die sportdag vir Hendrik Potgieter van Reddersburg met 34-10 verslaan. Bothaville het hom behoorlik teen Vryburg met 62-3 vasgeloop. Die Luiperds se Cravenweek-heelagter, Francois Pelser, het ‘n driekuns aan drieë vir die wenspan behaal.

    Hennenman het ook sy rieme teen Wesvalia van Klerksdorp met 31-12 styfgeloop. Vir Hennenman het sy flank SF Kok, skrumskakel Stefan Smit en Juhze Piechaczek moedig probeer. St. Andrew het vir Sand du Plessis met 25-19 met die kous oor die kop huis toe gestuur.

  • SA Skole se span van 2015

    Net vier van verlede jaar se sewe Suid-Afrikaanse Skole-rugbyspelers wat vanjaar weer verkiesbaar was, kon daarin slaag om dié nasionale skolespan te haal.
     
    Die viertal wat weer die eer sal he is Andell Loubser, Embrose Papier, Curwin Bosch en Cobus Wiese.
     
    Die senter Heino Bezuidenhout en voorryman IG Prinsloo sal wel vir die naasbestes, die SA Skole A-span, volgende maand in aksie wees. Hoërskool Klerksdorp se losvoorspeler, Edmund Rheeder, kon nie in een van dié twee verteenwoordigende spanne ’n plek kry nie.
     
    Soos verwag is albei groepe van 26 spelers gekies volgens die teiken dat die helfte van die span uit spelers van kleur moet bestaan. Van die SA Skole-span se 12 agterspelers is slegs drie wit spelers goed genoeg geag. Terwyl daar slegs vier spelers van kleur in die groep van 14 voorspelers is.
     
    Die weglating wat die meeste oë sal laat rek is dié van die binnesenter van die Westelike Provinsie, Cornel Smit. Elke keer wanneer hy op die Cravenweek in Stellenbosch besluit het om te breek het dit soos verwag van ’n senter van formaat op ’n drie vir sy span uitgeloop. 
     
    Nie minder as 11 spelers van die seëvierende Westelike Provinsie wat die Oostelike Provinsie in die hoofwedstryd in die Eikestad met 95-0 vermorsel het, is in die nasionale skolespan ingesluit.
     
    Twee spelers wat op die nasionale Akademie-week in Vanderbijlpark in aksie was, Mujaahid van der Hoven (WP) en Mashao Mukhari (Blou Bulle) sal vir die naasbestes in aksie wees.
     
    Albei groepe sal op 2 Augustus in Kaapstad saamtrek. Baie spanne se skolewedstryde sal deur die nasionale spanne se wedstryde geraak word. Veral in die Beeldtrofee sal spanne in die kwarteindronde sowel as in die halfeindronde sonder hulle staatmakers moet klaarkom.
     
    Die SA Skole-span kom op 7 Augustus teen Wallis in Stellenbosch in sy eerste wedstryd te staan. Daarna sal die span op Outeniquapark in George vir Frankryk die stryd op 11 Augustus aanse, voordat hy op 15 Augustus vir Engeland in Kaapstad pak. Dié span se enigste nederlaag sedert 2010 was verlede jaar teen die einste Engelse gewees.
     
    Die naasbestes sal met Italië in sy eerste ontmoeting kennis maak, terwyl Engeland daarna op hom sal wag. Sy laaste kragmeting sal teen Wallis wees. 
     
    Die spanne is:
     
    SA Skole – Agterspelers: Andell Loubser (Blou Bulle), Joshua Vermeulen, Nico Leonard (albei WP), David Brits (Grens), Stedman Gans (Blou Bulle), Manie Libbok (SWD), Manuel Ras (WP), Wandile Simelane (Leeus), Curwin Bosch (OP), Damian Willemse (WP), Embrose Papier (Garsfontein), Jondré Williams (WP). Voorspelers: Kwezi Mafu (OP), Hacjivah Dayimani (Leeus), Johan Visser (WP), Cobus Wiese (Griekwa-platteland), Ruben de Villiers, Salmaan Moerat, Ernst van Rhyn (almal WP), Ruben van Heerden, Cabous Eloff (albei Blou Bulle), Ashwyn Adams Carlu Sadie (albei WP), Dewald Maritz (Pumas), Johan Grobbelaar (WP), Nico Peyper (Valke). 
     
    SA Skole A-span – Agterspelers: Earl Dowrie (Boland), Riaan van Rensburg (OP), Tyreeq February, Ryan Muller (albei WP), Abner van Reenen (Blou Bulle), Mujaahid van der Hoven (WP), Heino Bezuidenhout (OP), Cyprian Nkomo (Pumas), Eddie Fouché (Blou Bulle), Bader-Werner Pretorius, Matthew Dahl (albei KwaZulu-Natal), Jason Olivier (Griffons). Voorspelers: Zain Davids (WP), Kwanda Dimaza (Grens), Phillip Krause (Blou Bulle), Khanya Ncusane (WP), PJ Steenkamp (Blou Bulle), Kamva Dilima (OP), Reinhard Nothnagel (Leeus), Hendré Stassen (Valke), PW Koegelenberg (Boland), Mashao Mukhari (Blou Bulle), IG Prinsloo (Vrystaat), Boan Venter (Griekwas), André Lategan (OP), Marnus van der Merwe (Pumas).

  • Rekord reën op Cravenweek in Stellenbosch

    Rekord reën op Cravenweek in Stellenbosch

     

    NewsG LeoKrugerRekords word opgestel om oortref te word . . . maar die rekord wat die Westelike Provinsie gister in Stellenbosch in die hoofwedstryd van die 52ste Cravenweek daargestel het, sal nie sommer góú weer spat nie.

    Die Streeptruie het die grootste sege in die geskiedenis van hoofwedstryde in die Markotter-stadion behaal deur die Oostelike Provinsie met 95-0 af te ransel.

    Die span het ook daarin geslaag om daarmee die spook van sy laaste drie hoofwedstryde op Cravenweke in Stellenbosch te ruste te lê.

    Die vorige rekord is op die einste veld in 2007 opgestel, toe die Vrystaat die Streeptruie met 52-3 verniel het. Dit was ook die eerste keer sedert 1973 se Cravenweek dat die Westelike Provinsie in Stellenbosch as nie-amptelike kampioen gekroon is. Destyds was Schalk Burger sr., Rob Louw en Peter Kirsten in die Streeptruie se span.

    Die WP was in 2013 laas die nie-amptelike kampioen, terwyl die OP verlede jaar met die kroon weggestap het.
    Die tuisspan was gister indrukwekkend en daar is nie ’n span in vanjaar se toernooi wat in dié luim met hom sou kon saamgesels nie.

    Die binnesenter, Cornel Smit, was uitstekend. Hy het van die afskop af gebreek en die vleuel Nico Leonard het na net 20 sekondes se spel sy span se eerste drie gaan afrond.

    Smit se sentermaat, Manual Ras, was ook uitmuntend, terwyl die plaasvervanger-vleuel, Tyreeq February, ook te veel vrae aan die OP se verdediging gerig het. Ras het drie drieë gaan druk en sy span het altesaam 14 drieë in die slagting gedruk.

    Voorlangs het die kaptein en flank, Ernst van Rhyn, en die twee slotte, Salmaan Moerat en Ruben de Villiers, harde werk verrig.

    Een van die hoogtepunte van die kragmeting was toe die plaasvervanger-vaskopstut, Leo Kruger, eers deur ’n gaping op die halflyn geglip het en daarna ook Curwin Bosch met ’n pypkan en fopaangee geklop voordat hy onder die pale oorgeduik het.

    Die Streeptruie se skrumskakel, Jondré Williams, het net een stelskop pale toe verbrou. Hy het met sewe doelskoppe en een strafskop geslaag en ook agter die doellyn gaan kuier vir ’n persoonlike bydrae van 22 punte.

    Die Suidwestelike Distrikte het in die vernaamste voorwedstryd KwaZulu-Natal met 24-19 met die kous oor die kop huis toe gestuur. Die Volstruisboere se buitesenter, Manie Libbok, was in die modder steeds op sy stukke. Hy het die toernooi met 43 punte as die voorste puntemaker afgesluit.

    Puntemakers:

    Westelike Provinsie 95 (43): Drieë: Manual Ras (3), Tyreeq February (2), Nico Leonard (2), Ruben de Villiers (2), Damian Willemse, Leo Kruger, Khanya Ncusane, Ryan Muller, Jondré Williams. Doelskoppe: Williams (7), George Lourens (4). Strafdoel: Williams. Oostelike Provinsie 0.

    Suidwestelike Distrikte 24 (7): Drieë: JP Duvenhage, Manie Libbok, Darylle Kameel, Bertie de Bod. Doelskoppe: Libbok (2). KwaZulu-Natal 19 (5): Drieë: Werner-Bader Pretorius (2), James Tedder. Doelskoppe: Pretorius, Tedder.