SSPN Test Site

Blog

  • Griffons-skole ontevrede oor VS se verteenwoordigers in Colts-liga

    Griffons-skole ontevrede oor VS se verteenwoordigers in Colts-liga

     

    KovsieRugbyLogoUit vele geledere vanuit die Griffons se skolerugby-strukture is daar ongelukkigheid oor die Vrystaat se twee verteenwoordigers in die Kovsiestreek-kompetisie se Colts-liga. Volksblad is ‘n medeborg van die kompetisie.

    Die Vrystaat het besluit om die verloorspanne in die halfeindronde van die Vrystaatse B1-liga as sy twee spanne vir vanjaar se Colts-liga deur te gee. Die twee spanne is die Hoërskool Staatspresident Swart van Brandfort en Zastron.

    Laasgenoemde het egter besluit om hom aan die kompetisie te onttrek en die span wat vyfde in die Vrystaatse liga geëindig het, Sand du Plessis, het Zastron se plek ingeneem. Die wenners van die twee halfeinstryde, St. Andrew en President Steyn, het tot die halfeindrondes van die streekkompetisie se Irawa-liga (vir kleinskole) deurgedring.

    “Toe die kontrak tussen dié drie unies en Kovsies vroeër hernu is, was een van die voorwaardes dat die Colts-liga slegs vir die kleinste van die kleinskole bly,” het Victor Campher, voorsitter van die Griffons se Skolerugby-vereniging (GSRV), gesê. Dié verstandhouding is glo dat slegs skole met twee of minder spanne aan dié liga kan deelneem.

    Die Sandveld se Hoërskole Rugby-subunie (SHRU) het in ‘n brief aan Campher sy misnoeë oor die stand van sake deurgegee. In die brief se SHRU dat Sand du Plessis nog verlede jaar in die Vrystaatse A1-liga gespeel het. “Dit is met groot skok dat ons moet verneem dat ander provinsies hulle ligas so manipuleer sodat hul spanne die beste kans het om met ‘n trofee weg te stap,” lui die brief aan Campher wat deur die sekretaris van die SHRU, Kalla Kalsbeek, onderteken is.

    Bultfontein is die Griffons se verteenwoordiger en sal teen Sannies in die halfeindronde te staan kom. Die Vrystaatse B2-liga waaruit die unie se verteenwoordigers vir die Colts-liga gekom het, bestaan nie meer as ‘n liga nie. Van die spanne in die B2-liga het slegs Martie du Plessis en Bohmer teen mekaar gespeel. Die ander spanne soos Koffiefontein, Sehunelo, Tsoseletso en die Hoër Landbouskool Hendrik Potgieter van Reddersburg het ook vanjaar aan die Vrystaatse B1-liga deelgeneem.

    Griekwas se verteenwoordiger in die Irawa-liga, die Hoërskool Martin Oosthuizen van Kakamas, kon by van sy ligaverpligtinge vanjaar slegs ‘n eerstespan in die veld stoot. Die span van Kakamas het bo-aan die puntelys in die Griekwas se kleinskoleliga geëindig en daaroor tot die streekkompetisie deurgedring.

    “Ja, hulle het wel ook in mediumskole se halfeindronde gespeel, maar dit is slegs iets wat ons vanjaar as proefneming gedoen het om ook aan ons kleinskole die geleentheid te gee om hulle teen die groter skole te toets,” het Danie Slabbert, voorsitter van die Griekwa Skolerugby-vereniging (GWSRV), gesê.

    Kathu wat Griekwas se verteenwoordiger in die Irawa-liga is, het Martin Oosthuizen in die Griekwa-halfeindstryd met 38-10 verslaan.

     

  • Foto’s wys watter toeskouer blaser klap

    Die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU) het foto’s in sy besit van die bakkie, met die nommerplaat sigbaar, van die toeskouer wat Saterdag die skeidsregter in die Beeld Noordvaal Trofee-halfeindstryd bygedam het.

    Die foto’s is deur omstanders geneem. Die skeidsregter, Wilko Esterhuizen, het die wedstryd tussen die Hoërskool Oos-Moot en Helpmekaar-kollege beheer.Esterhuizen het ’n klag van aanranding by die Villieria-polisiekantoor aanhangig gemaak.

    Die BBRU kan hom ook verhoor. Oos-Moot kan ook in die moeilikheid wees omdat die gasheer die veiligheid van toeskouers, spelers en alle beamptes tydens wedstryde moet verseker.

    Esterhuizen is ná die twee skole se kragmeting van die kleedkamer af agtervolg. Hy sê die toeskouer het hom op sy bors getik terwyl hy in sy motor gesit het en twee keer in die gesig geklap. Esterhuizen het probeer wegkom en ’n Mercedes-Benz-motor agter hom gestamp.

    Die toeskouer het toe in sy bakkie geklim en weggery. “Dit was ’n lekker wipplank-wedstryd om te blaas. Ek was maar geskok ná dié voorval, maar ek gaan dit nie net daar laat nie.

    “Ek gaan die saak sover vat as wat ek kan,” het Esterhuizen gesê. Die voormalige Springbok-vleuel Pieter Hendriks het Esterhuizen om verskoning gevra vir die toeskouer se gedrag. Hendriks se seun, MP, het vir Helpmekaar op vleuel uitgedraf.

    Oos-Moot se span het nadat die eindfluitjie geblaas het ’n tonnel vir Helpies se spelers gevorm uit waardering vir die hewige stryd. Helpmekaar het Oos-Moot met 24-19 geklop en deurgedring tot die eindstryd van die Beeld Noordvaal Trofee vir groot skole.

    Die tuisskare het gejubel toe Oos-Moot se heelagter, Tiaan Bedford, met speeltyd so te sê verstreke oor die doellyn val. Esterhuizen was in ’n goeie posisie en het die aangee na Bedford as vorentoe beoordeel. As Bedford se drie toegeken is, sou die doelskop bepaal het wie tot die eindstryd deurdring.

    Esterhuizen het glo ’n positiewe verslag vir sy hantering van die wedstryd van die assessor Pieter White ontvang.

    Esterhuizen is sedert 2007 ’n skeidsregter. Hy was van 2007 tot 2010 by die Griffons betrokke voordat hy hom in 2011 by die Leeus aangesluit het. Sedert 2012 is hy ’n lid van die Blou Bulle se skeidsregtersvereniging.

  • Pressies pak Pretoria se Tekkies in eindstryd

    Pressies pak Pretoria se Tekkies in eindstryd

    Beeld Noordvaal Trofee Logo 250mmDie Hoërskool President van Johannesburg se senterpaar, Jeandré Maré en Mandla Tshabalala, was uitstaande in hul span se sege van 25-14 oor die Hoërskool Parys in die halfeindstryd van die Beeld Noordvaal Trofee vir Middelskole.
    Dié twee se rotsvaste verdediging het die grondslag vir dié sege gelê. Pressies se agttal het ook die stryd voorlangs oorheers.

    Parys se langeraat op slot, Jako van der Westhuizen, het wel meer as sy man voorlangs gestaan. Hy het in die los gewoel en natuurlik ook in die lynstane uitgetroon. Die wenspan se slot Kenny Weiners het self met sy spel beïndruk.

    Parys se haker, Derick Claassen, verdien ook lof vir sy uitmuntende ingooiwerk in die sterk wind. Hy het sy springers deurgaans gevind. Pretoria THS sal President op sy tuisveld in die eindstryd inwag.

    Die Tekkies het Belvedere van Benoni met 34-26 in die ander halfeindstryd met die kous oor die kop huis toe gestuur.

    Morgenzon Landbou se senter Henning van Aswegen het met ’n driekuns aan drieë in sy span se sege van 32-19 oor Heilbron uitgestaan. Dié kragmeting was ’n halfeindstryd van Beeld Noordvaal Trofee vir Kleinskole.

    Buiten Van Aswegen het die span se losskakel, Ricky du Toit, ook ’n blink vertoning gelewer. Morgenzon se Stallions sal na Christiana vir die eindstryd reis. Christiana het nie veel probleme ondervind om Curro Heuwelkruin met 22-7 die loef af te steek nie. Die wenspan se slot Pieter Fourie het twee van sy span se vier drieë gedruk.

    In die Beeld Noordvaal Trofee se Makro-afdeling het Waterkloof se o.16-span verras deur Monument van Krugersdorp met 8-3 in die halfeindstryd te troef. Klofies sal teen E.G. Jansen van Boksburg in die eindstryd te staan kom ná hy Garsfontein oortuigend met 41-10 verslaan het.

    Monnas se o.14- en o.15-span het daarin geslaag om tot die eindstryd deur te dring. Monnas het Menlopark met 22-8 in die o.14-wedstryd geklop. Die o.15-span het Menlopark ook met 10-3 uitgeskakel.

    Die eerstespanne se halfeindronde vind Dinsdag in Pretoria en Boksburg plaas. In die Jakarandastad sê Garsies Monnas die stryd aan, terwyl EG Jansen en HTS Middelburg mekaar in Boksburg pak.

    Puntemakers: 

    MIDDELSKOLE HALFEINDRONDE

    Pretoria THS 34 – Drieë: Shadeur Mahlanga (2), Chucky Kweainete, Mlondi Xolo, Bradley Matambo. Doelskoppe: Keanu Duraan (3). Strafdoel: Duraan. Belvedere 26 – Drieë: Nathan Smith (2), Jasen van Huysteen, Byron Wolfaard. Doelskoppe: Terrel Abbey (3).

    President 25 (10) – Drieë: Kenny Weiners, Mandla Tshabalala, Brendan Gordan. Doelskoppe: Jeandré Maré (2). Strafdoele: Maré (2). Parys 14 (7) – Drieë: Jandré Beukes, Toko Nthoroane. Doelskoppe: Hannu Benade (2).

    Ander spanne: 

    o.16: Carletonville 5, Zeerust 0; Voortrekker (Boksburg) 29, Wolmaransstad 6. 

    o.15: Cullinan 15, President 10; Goudrif 29, Patriot 12.

    o.14: Wolmaransstad 19, Carletonville 6; Goudrif 33, Zeerust 26.

    KLEINSKOLE 

    Christiana 22 (5) – Drieë: Pieter Fourie (2), Tiaan Engelbrecht, Renier Bostelman. Doelskop: CJ van Heerden. Curro Heuwelkruin 7 (0) – Drie: Wernich Kachelhoffer. Doelskop: Kachelhoffer. 

    Morgenzon Landbou 32 (12) – Drieë: Henning van Aswegen (3), Llewellyn van der Linde Botha. Doelskoppe: Jaco Botha (3). Strafdoel: Botha. Skepdoel: Ricky du Toit. Heilbron 19 (12)

    Ander spanne: 

    o.17: Curro Roodeplaat 20, Morgenzon Landbou 17; Koster 19, Curro Heuwelkruin 8. 

    o.15: Koster 41, Morgenzon Landbou 0; Komatipoort 29, Heilbron 22.

    VRIENDSKAPLIK

    Jeppe Boys’ High 9 (6) – Strafdoele: Damien Payley (2), Kyle Grundlingh. Pretoria Boys’ High 5 (5) – Drie: Jean Volschenk.

  • Beeld Noordvaal Trofee vir mediumskole gaan na Limpopo

    Beeld Noordvaal Trofee vir mediumskole gaan na Limpopo

    NewsG BenViljoenDie Beeld Noordvaal Trofee vir Mediumskole sal vanjaar staanplek in Limpopo kry. Ben Viljoen van Groblersdal sal die gasheer vir Piet Potgieter van Mokopane (voorheen Potgietersrus) in die eindstryd wees.

    Potties het die verdedigende kampioen, die Hoërskool Vryburg, in ’n spannende halfeindstryd met 35-33 uitgeskakel.
    Die besoekers van Vryburg het met nog vyf minute oor ’n voorsprong van 11 punte gehad.

    Dié span se strawwe reis-verpligtinge die afgelope drie weke het gewis ’n invloed gehad. Vryburg het amper 3 000 km die afgelope drie weke vir sy verpligtinge in dié reeks afgelê.

    Eers het Piet Potgieter se skrumskakel, Bennet Riekert, in die hoek oorgeglip om aan sy span hoop te gee. Daarna het die senter Driekuns Kleynhans die wendrie in die doodsnikke gaan druk ná Potties besit in ’n lynstaan by Vryburg afgeneem het met ongeveer twee minute se spel oor.

    Die wenpunte is deur die heelagter, Marnus Uys, met die doelskop aangeteken. As die doelskop mis was, sou die telling 33-elk gewees het, met Vryburg wat tot die eindstryd sou deurdring omdat hy die eerste drie gedruk het.

    Vryburg se heelagter, Francois Pelser, het weer gewys dat hy een van die opwindendste spelers op die aanval vanjaar in Suid-Afrika is. Hy het ’n driekuns aan drieë behaal.

    Vryburg het verlede week in die kwarteindronde in Brakpan met 10-elk gelykop teen Stoffberg gespeel. Hy het toe deurgedring omdat hy die eerste drie gedruk het.

    Ben Viljoen het Midstream College op sy agterplaas in Pretoria met 29-23 die loef afgesteek. Die besoekers van Groblersdal se flank Nimrod Lategan en losskakel, Ruan Breed, het elk dubbele driedruk-plesier ervaar.

    Ben Viljoen se agttal het die oorhand voorlangs gehad, terwyl Midstream se agterlyn bobaas in die stryd van die agterhoedes was.

    Die sterk wind het ook ’n beduidende rol in die kragmeting gespeel. Midstream het eerste teen die wind gespeel en die besoekers het ’n voorsprong van 17-8 opgebou.

    Puntemakers: 

    Piet Potgieter 35 – Drieë: Driekus Kleinhans, Waldo Kruger, Bennet Riekert, Luandro Canqueiro. Doelskoppe: Marnus Uys (3). Strafdoele: Marnus Uys (3). Vryburg 32 – Drieë: Francois Pelser (3), André Kock, Rico Markram. Doelskoppe: Kock (2). Strafdoel: Kock. 

    Ben Viljoen 29 (17) – Drieë: Nimrod Lategan (2), Ruan Breed (2), Johan Moolman. Doelskoppe: Ruann Human, Breed. Midstream College 23 (8) – Drieë: Sybrand de Villiers, Heinro Kritzinger, Heinrich Bisschoff. Doelskop: Jason Bayford. Strafdoele: Bayford (2). 

    Ander spanne:

    o.16: Vryburg 32, Ellisras 13; Hans Strijdom 19, Midstream College 16. 

    o.15: Piet Potgieter 8, Brandwag (Benoni) 0; Ellisras 34, Erasmus (Bronkhorstspruit) 18.

    o.14: Overvaal 33, Nylstroom 19; Midstream College 19, Piet Potgieter 0.

  • Helpies behaal naelskraapse sege oor Oos-Moot

    Helpies behaal naelskraapse sege oor Oos-Moot

    NewsG HelpmekaarDit was ’n geval van so naby, maar tog so ver vir die eerste rugbyspan van die Hoërskool Oos-Moot. Helpmekaar-kollege het die Blou Bulle se kampioen met 24-19 in die halfeindronde van die Beeld Noordvaal Trofee uitgeskakel.
    Oos-Moot van Pretoria se drome om vir die eerste keer sedert 1982 as Beeld Noordvaal Trofee kampioene gekroon te word, het op sy tuisveld in die slag gebly.

    In ’n kragmeting van twee helftes was die verskil tussen die twee spanne op die ou einde die verspreidingsvermoë van Helpies se losskakel, Justin Taylor.

    Die tuisspan het eintlik die meeste van die speelwerk in dié halfeindstryd gedoen. Die span se groot vleuel, JP Alberts, het in die eerste helfte ’n gulde geleentheid verspeel. Alberts het aan die bal geklou terwyl ’n aangee op ’n seker drie sou uitloop.

    Die span van die Jakarandastad se ander vleuel, Terrance Kingsburgh, het ’n droomwedstryd beleef. Hy het binne die eerste tien minute sy direkte teenstander, MP Hendriks, drie keer geklop. As hy en Alberts meer gehalte besit gekry het, kon sake dalk anders verloop het. Oos-Moot se hantering agterlangs het hom in die steek gelaat.

    Die span se heelagter, Tiaan Bedford, het egter in die voorlaaste beweging gaan druk. Die skeidsregter, Wilko Esterhuizen, het beslis dat die aangee na Bedford vorentoe was. As dié aangee nie vorentoe was nie, sou die doelskop deur die senter en kaptein, Ronald van Wetering vanuit die hoekie bepaal het wie tot die eindstryd deurdring.

    Taylor het deur ’n gaping geglip om die aanvoorwerk vir Helpies se eerste drie deur Hendriks gedoen.
    Die span van Johannesburg se ander vleuel, Mel Mathieson, het ook ’n hand in dié drie gehad.

    Die wenspan se haker, Tiaan van der Merwe, en kaptein en flank, Eddie van der Merwe, het voorlangs ingeklim.

    Vir Oos-Moot was niemand beter as sy skrumskakel, Johan Marais, nie. In die agttal het die flank Ruhan Viljoen en stut Frikkie Deysel ook goeie werk verrig.

    In Tzaneen het Potchefstroom Gimnasium ’n merkwaardige sege van 21-10 oor Ben Vorster behaal.
    Gimmies het die hitte van bykans 30 grade Celcius asook die busrit van meer as 500 km oorkom om sy plek in die eindstryd te bespreek.

    Die twee spanne het met die telling op 3-elk gaan rus. Die tuisspan het vroeg in die tweede helfte danksy ’n drie deur sy vleuel Sibusiso Mhlangeni ’n voorsprong van 10-3 bewerkstellig.

    Ben Vorster se stoom het egter opgeraak en Gimmies het in die laaste gedeelte van die kragmeting beheer oorgeneem. Gimmies se slot Gwampie van den Berg en flank Marcel Burger verdien elk ’n klop op die skouer.

    Vir die verloorspan het die agtsteman, Stefan Engelbrecht, en die skrumskakel, Eduan Smit, blink vertonings gelewer. Ben Vorster se twee breiers, André Hay en Hein Wagner, rig nou al tien jaar lank die skool se eerste span af.

    Puntemakers: 

    Helpmekaar 24 (21) – Drieë: Wian van der Berg, Tiaan van der Merwe, MP Hendriks. Doelskoppe: Chuiner van Rooyen (3). Strafdoel: Van Rooyen. Oos-Moot 19 (0) – Drieë: Jason Maartens, Terrance Kingsburgh, Erik Lourens. Doelskoppe: Ronald van Wetering (2). 

    Potchefstroom Gimnasium 21 (3) – Drieë: Heinrich Siepker, Tyre Bezuidenhout. Doelskop: Jaswyn Damon. Strafdoele: Damon (2). Skepdoel: Cassie Dreyer. Ben Vorster 10 (3) – Drie: Sibusiso Mhlangeni. Doelskop: Eduan Smit. Strafdoel: Smit.

    Ander spanne: 

    o.16: Helpmekaar 52, Oos-Moot 23; Potchefstroom Gimnasium 12, Ben Vorster 10. 

    o.15: Potchefstroom Volkskool 17, Linden15; Helpmekaar 13, Oos-Moot 13 (Helpmekaar dring deur tot eindstryd omdat hulle die meeste drieë in die kragmeting gedruk het).

    o.14: Transvalia 39, Ben Vorster 0; Helpmekaar 37, Oos-Moot 6.

  • Tralies vir eerste keer kampioen van Vrystaatse A-liga

    Tralies vir eerste keer kampioen van Vrystaatse A-liga

    NewsG SentraalOp ‘n dag wat meer gemaak was om jou vlieër in Bloemfontein te vlieg as om rugby te speel, het die Hoërskool Sentraal se rugbyspan vermag wat nog geen van sy voorgangers kon doen nie.

    Die Bloktruie het op Shimlapark in ‘n naelbyt-eindstryd van die Vrystaatse A1-liga vir Jim Fouché met 31-28 getroef. Die span het met dié sege die eerste eerstespan van dié skool geword om as kampioen van die Vrystaatse A-liga gekroon te word.

    Nie eers die seëvierende span van Stephen Brink wat in 1991 die Vrystaatse Direkteurs-trofee verower het, kon daarin slaag om as kampioen van die A-liga gekroon te word nie.

    Tralies se held in die geskiedkundige sege was sy losskakel, Christiaan Geyer, wat in die doodsnikke van die wedstryd verby verskeie van JF se verdedigers gedans het om die wendrie te gaan druk. Voor Geyer se drie het die verloorspan nog met 28-26 voorgeloop. Geyer het ook in die eerste helfte al sy span se punte aangeteken. Sy persoonlike bydra van 21 punte was sleutel tot Tralies se sukses.

    In die eerste helfte het die twee spanne om die beurt die voortou geruil met die kampioen wat ‘n naelskraapse voorsprong van 16-15 met die omdraaislag geniet het. Geyer het sy senter, Denzil Fiff, vir ‘n mooi drie vroeg in die tweede helfte in ‘n gaping gesit om die voorsprong na 21-15 te rek.

    Hierna het Tralies se loskopstut, Willem van Niekerk, ‘n geelkaart gekry en het JF die geleentheid ten volle benut. JF het tien punte aangeteken in die tydperk wat Van Niekerk in die koelkas was. Die loskop het egter kort na sy terugkeer op die veld vir Tralies oorgeval om die telling op 28-26 in die verloorspan se guns te maak.

    JF se Cravenweek-losskakel, Tiaan Schutte, het in die tweede helfte sy ritme begin vind. Hy het met ‘n allemintige strafdoel van ongeveer 57m geslaag. Vir Sentraal verdien sy kantman Roché Roelofse ook ‘n stewige klop op die skouer.

    Agterlangs het die twee spanne se buitesenters, Fiff (Sentraal) en Vandré Rolls (JF) albei met eer uit die stryd getree.
    Sentraal sal nou na Kimberley reis om teen Diamantveld in die halfeindstryd van die Kovsiestreek-kompetisie se Shimla-liga (vir mediumskole) kragte te meet. JF sal na Welkom reis om teen die Griffons se kampioen, Welkom-Gimnasium, sake uit te spook. Volksblad is ‘n medeborg van dié kompetisie.

    In die eindstryd van die Vrystaatse B1-liga het St. Andrew die bordjies teen President Steyn met 28-20 verhang. Dit was die Steyners se eerste nederlaag in vanjaar se liga. Die verloorspan het met die omdraaislag met 13-10 voorgeloop en kort na rustyd gaan druk om sy voorsprong tot 20-13 te rek.

    Vir Saints het sy losskakel, Kevin Pretorius, senter Sam Lin en skrumskakel, Jacques de Bruyn, blink vertonings gelewer. Saints was laas in 2010 kampioen van dié liga.

    Puntemakers:

    Sentraal 31 (16) – Drieë: Christiaan Geyer (2), Denzil Fiff, Willem van Niekerk. Doelskop: Geyer. Strafdoele: Geyer (3). Jim Fouché 28 (15) – Drieë: Sheldon Jansen, Hanno Spies, Ian Trollip. Doelskoppe: Tiaan Schutte (2). Strafdoele: Schutte (3).

    St. Andrew 28 (10) – Drieë: Mellie Minnaar, Jacques de Bruin, JD Petersen. Doelskoppe: Kevin Pretorius (2). Strafdoele: Pretorius (2). Skepdoel: Pretorius. President Steyn 20 (13) – Drieë: Fanie van Heerden, Raymond Kruger. Doelskoppe: Fanie Griessel (2). Strafdoele: Griessel (2). 

    Grey-kollege 40 – Drieë: Dian Schoonees (2), Mario Vieira, Rewan Kruger, Dawid Snyman, Marnus Boshoff. Doelskoppe: Vieira (5). Glenwood 10.

  • Gimmies verbreek Welkom-vloek wat sedert 1998 oor Griffon-liga hang

    Die eerste rugbyspan van Welkom-Gimnasium het Saterdag in die Pelatona-stadion in Welkom ‘n titeldroogte sedert 1998 vir skolespanne vanuit Welkom verbreek. Gimmies het die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad met 20-15 in ‘n klipharde eindstryd verslaan.

    Die sterk wind het Gimmies se planne om die bal hope lug te gee ietwat in die wiele gery. Dit was ‘n wedstryd van twee helftes met die kampioen wat in die eerste helfte sake beheer het. In die tweede helfte het Rooiskool die septer geswaai. Gimmies was laas in 1991 kampioen van die Noord-Vrystaatse liga.

    Interresant is dat Gimmies se afrigter, Roean Bezuidenhout, se broer Alrico Bezuidenhout was in 1998 HTS Welkom se heelagter toe hulle as kampioen gekroon was. Tekkies se losskakel, Louis Strydom, en slot AC Vosloo het later ook vir die Perses se seniorspan gespeel.

    Rooiskool se slot Michiel Bosman en die agtsteman Johan Steyn het voorlangs vir Gimmies probleme besorg. Hoewel Richman Gora sy tweestryd met Rooiskool se kaptein en skrumskakel, Duncan Horak, agter die oond gewen het, het laasgenoemde ook puik vertoon. Horak se drie was een van die hoogtepunte van die kragmeting. Die verloorspan se senter Louis Steyn mag ook maar vandag breebors rondloop.

    Vir die wenspan het die vleuel Tristan Rothman ‘n hele paar sterk lopies ingekry. Die senter Danie Hendricks het goed verdedig voordat hy die veld verlaat het, terwyl Luan James op losskakel ook lof vir sy spel verdien.

    Goudveld-Hoërskool se o.15-rugbyspan het met ‘n sege van 22-10 oor Voortrekker van Bethlehem met die kroon weggestap. Gouties sal nou teen Fichardtpark in die halfeindronde van die Kovsiestreek-kompetisie se Jip-liga te staan kom. Volksblad is ‘n medeborg van dié kompetisie. In die ander halfeindstryd sal die Vrystaatse kampioen, Jim Fouché, na Kimberley reis om teen Noord-Kaap te staan te kom.

    Die Van Aswegen-wisseltrofee het vir die vierde agtereenvolgende jaar staanplek in Frankfort gekry. Wilgerivier het soos verlede jaar in die Vrystaatse Plattelandse eindstryd vir Bothaville met ‘n enkele punt uitoorlê.

    Die span van Frankfort was Saterdag in die Pelatona-stadion met 18-17 baas na ‘n strafdoel deur die slot Cobus Erasmus met slegs ‘n minuut oor op die skeidsregter, Johan du Toit, se horlosie.

    Bothaville wat nog nooit as kampioen van die Vrystaatse Platteland gekroon kon word nie, het verlede jaar teen die eindste Wilgerivier met 20-19 die knie gebuig.

    Wilgerivier sal nou teen President Steyn in die halfeindstryd van die Kovsiestreek-kompetisie se Irawa-liga (vir kleinskole) te staan kom. In die ander halfeindstryd pak St. Andrew vir Kathu.

    Bultfontein se senter Arno Taljaard het met ‘n driekuns die toon aangegee in sy span se oortuigende sege van 66-17 oor die Hoërskool Retief van Kestell in die eindstryd om te bepaal wie tot die streekkompetisie se Colts-liga sal deurdring.

    Hoopstad moes hom Vrydag aan die eindstryd onttrek na hy nie ‘n span bymekaar kon sit om in lyn met Bokssmart se ouderdoms-reëls te kom nie.

    Puntemakers: 

    Welkom-Gimnasium 20 (13) – Drieë: Jerome Lottering, Ezrick Alexander. Doelskoppe: Luan James. Strafdoele: James (2). AHS Kroonstad 15 (8) – Drieë: Duncan Horak, Charl du Plessis. Doelskop: Corné Cooper. Strafdoel: Cooper. 

    Wilgerivier 18 (10) – Drieë: Schalk Wilkinson, GJ Janse van Rensburg, Morné Coetzee. Strafdoel: Cobus Erasmus. Bothaville 17 (5) – Drieë: JP Korkie, Wian Nell, Drikus Klopper. Doelskop: Carlo Kleynhans. 

    Bultfontein 66 – Drieë: Arno Taljaard (3), Bernard Fourie (2), GJ van Eeden, Tshepang Mocholotsi, Desmond Grobler, Jano Smit, Erik Helm. Doelskoppe: Taljaard (3), Fourie (3), Van Eeden (2). Hoërskool Retief (Kestell) 17.

  • Shimla-liga kry nuwe kampioen danksy Diamonds

    Shimla-liga kry nuwe kampioen danksy Diamonds

    NewsG JancoCloeteDanksy die Hoërskool Diamantveld sal daar vanjaar vir die eerste sedert 2009 ‘n nuwe kampioen in die Kovsiestreek-kompetisie se Shimla-liga (vir mediumskole) gekroon word. Volksblad is ‘n medeborg van die kompetisie.

    Diamonds het daarin geslaag om in sy jaarlikse ENB Classic Clash vir Noord-Kaap sy eerste drag slae sedert 2008 op sy tuisveld, Pirates, toe te dien. Hulle het met 16-10 as oorwinnaars van die veld gestap.

    Die wenspan was laas in 2007 op Pirates teen Noord-Kaap baas. Sedert die ontstaan van die streekkompetisie kon nog net die Harmony-Sportakademie (2007-08) en Noord-Kaap (2009-14) die titel as kampioen dra.

    Die laaste speler van Noord-Kaap wat ‘n rooikaart in die Classic Clash gekry het, was interresant genoeg die losskakel, Tiaan van Wyk, in 2007. Gister het die buitesenter, Zayne Farmer, ook na vuilspel vroeg in die tweede helfte die trekpas gekry. Northerns was toe met 10-7 voor na hy rustyd ‘n voorsprong van 10-0 geniet het.

    Die grondslag vir die sege is deur Diamonds se rotsvaste verdediging gelê. Die span se kaptein en flank, Janco Cloete, het by die afbreekpunte vir Northerns probleme besorg. Hy het ‘n hele paar keer omgekeerde besit bewerkstellig.

    Die agtsteman, Johan “Skema” Joubert, het buiten sy twee drieë ook met sy inklimspel beindruk. Die losskakel, Gerco Nortjé, se besluitneming was van hoogstaande gehalte, terwyl hy ook met ‘n reuse-strafdoel van 55m geslaag het.

    Vir Norherns kan sy agtsteman, Gerhard Holtzhausen, en die stut Stefan Smit tevrede met hul vertonings voel.
    In die eindstryd van Griekwas se mediumskole-liga op GWK-park in Kimberley het Kathu die bordjies teen die Leeus van die Hoërskool Kalahari van Kuruman met 22-15 verhang. Die Leeus was in die twee spanne se ligawedstryd met 22-19 baas.

    Kathu se haker, Mardus Botha, en flank JP Pienaar was voorlangs uitmuntend, terwyl die skrumskakel, Robert Wessels, en die losskakel en kaptein, Arno Meyer, agterlangs blink vertonings gelewer het.

    Kathu sal in die Kovsiestreek-kompetisie se Irawa-liga (vir kleinskole) teen die Vrystaatse kampioen, St. Andrew, in die halfeindstryd te staan kom.

    In die Colts-liga sal Bultfontein vir Sand du Plessis wag, terwyl Brandfort teen die Hoërskool Martin Oosthuizen van Kakamas in die ander halfeindstryd sal speel.

    Puntemakers:

    Diamantveld 16 (5) – Drieë: Johan Joubert (2). Strafdoel: Gerco Nortjé (2). Noord-Kaap 10 (10) – Drie: Cameron Hufke. Doelskop: Wilfred Bowers. Strafdoel: Bowers. 

    Kathu 22 – Drieë: Arno Meyer, Celest Mazzosi, JP Pienaar, Samuel Muzzasa. Doelskop: Meyer. Kalahari (Kuruman) 15 – Drieë: Brian Whitehead, Kaylen Griqua. Doelskop: Griqua. Strafdoel: Griqua.

  • Helpies en Gimmies deur tot Grootskole eindstryd

    Helpmekaar-kollege moes sy keer aan die einde van sy Beeld Noordvaal Trofee halfeindstryd vir grootskole teen Oos-Moot ken. Helpies het met ‘n sege van 24-19 tot die eindstryd van die kompetisie deurgedring.

    Oos-Moot het egter meeste van die speelwerk in die wedstryd gedoen en toe sy heelagter, Tiaan Bedford, met speeltyd so te sê verstreke oor die doellyn val het die tuisspan se skare gejubel. Die skeidsregter, Wilko Esterhuizen, was in ‘n goeie posisie en het die aangee na Bedford as vorentoe beoordeel. Indien Bedford se drie toegeken was sou die doelskop bepaal het wie tot die eindstryd teen Potcchefstroom Gimnasium deurdring.

    Die grootste verskil tussen Helpies en Oos-Moot was die wenspan se losskakel, Justin Taylor. Sy verspreiding agterlangs het aan Helpies se agterhoede genoeg ruimte geskep om gate in die tuisspan se verdediging te vind. Dit terwyl Oos-Moot se hantering agterlangs hom in die steek gelaat het.

    Taylor het deur ‘n gaping geglip wat op die eerste drie van die kragmeting deur MP Hendriks uitgeloop het. Helpies het daarna nog twee keer gaan druk om rustyd met 21-0 voor te loop.

    Therance Kingsburgh het op die vleuel vir Hendriks ‘n paar keer probleme besorg. Indien hy meer gehalte balbesit in die tweede helfte kon kry sou dit interresant geraak het. Oos-Moot se skrumskakel, Johan Marais, was sy span se beste speler op die veld.

    Potch Gimmies het in die ander halfeindstryd ‘n merkwaardige sege van 21-10 oor Ben Vorster in Tzaneen behaal. Die span van Potchefstroom het vooraf geweet dat die hitte en die meer as 500km ‘n reuse beproewing sou wees.

    Die twee spanne het met die telling op 3-elk gaan rus.

    In die mediumskole-liga sal daar ‘n nuwe kampioen in 2015 gekroon word na Piet Potgieter van Potgietersrus vir Vryburg in ‘n rillerstryd met 33-32 uitgeskakel het. Vryburg moes al sy wedstryde in die uitkloprondes weg van die huis speel indien hy sy titel as kampioen wou behou.
    Ben Viljoen van Groblersdal sal die gasheer van die eindstryd wees na hulle die Blou Bulle se kampioenspan, Midstream College, met 29-23 in die Jakarandastad getroef het.

    Die halfeindstryde van die eerstespanne in die Makroskole-afdeling sal eers Dinsdag beslis word. Garsfontein sal gasheer vir die Hoërskool Monument van Krugersdorp speel, terwyl die ander halfeindstryd deur EG Jansen in Boksburg aangebied sal word. Die span van Boksburg sal die Rooi Bulle van die HTS Middelburg pak

  • Tralies maak geskiedenis in Bloem

    Die Hoërskool Sentraal se rugbyspan van 2015 het gister in ‘n wipplank-eindstryd teen Jim Fouché geskiedenis gemaak toe hy dié eerste eerstespan van sy skool geword het om as kampioen van die Vrystaatse A-liga gekroon te word. Hy het JF met 31-28 op Shimlapark getroef.
    Tralies kon nog nooit daarin slaag om as kampioen van dié liga op o.19-vlak gekroon te word nie. Die Blok

    ruie was wel in 1991 kampioen van die Vrystaatse Direkteurstrofee, maar Grey-kollege was daardie jaar die Vrystaatse A-liga kampioen.
    Tralies se losskakel, Christiaan “Guppie” Geyer, het met enkele minute oor in die kragmeting deur JF se verdediging gedans om die wendrie te gaan druk. JF het met 28-26 voor Geyer se drie voorgeloop.

    Op Pirates in Kimberley het Noord-Kaap vir die eerste keer sedert 2008 sy rieme op sy tuisveld styfgeloop. Diamantveld het die ENB Classic Clash tussen die twee spanne met 16-10 gewen. Diamonds was laas in 2007 op Pirates baas, terwyl Landboudal van Jacobsdal aan Northerns hul vorige loesing op diéveld toegedien het.

    Die laaste speler van Noord-Kaap wat ‘n rooikaart in die Classic Clash gekry het, was interresant genoeg die losskakel, Tiaan van Wyk, in 2007. Gister het die buitesenter, Zayne Farmer, ook na vuilspel vroeg in die tweede helfte die trekpas gekry. Northerns was toe met 10-7 voor na hy rustyd ‘n voorsprong van 10-0 geniet het.

    Diamonds sal volgende Saterdag die gasheer vir Sentraal in die halfeindstryd van die Kovsiestreek-kompetisie se Shimla-liga (vir mediumskole) in die Diamantstad wees.

    Vir die eerste keer sedert 1998 het die Griffon-liga se trofee staanplek in Welkom gekry. Welkom-Gimnasium het die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad met 20-15 in die eindstryd op die Pelatona-stadion in Welkom verslaan.

    Die eindstryd word jaarliks op dié stadion beslis wat voorheen as die Noordwes-stadion bekend gestaan het, maar HTS Welkom was die laaste span vanuit dié dorp wat die kroon kon dra. Die span is destyds deur Gilbert Francke aangevoer, terwyl die losskakel, Louis Strydom, was.

    Gimmies se skrumskakel, Richman Gora, het meer as sy span se SA Skole A-span skrumskakel, Jason Olivier, se skoene volgestaan. Hy het sy tweestryd met Rooiskool se skrumskakel en kaptein, Duncan Horak, gewen.

    Die span van Welkom sal nou teen Jim Fouché in die halfeindstryd van die Shimla-liga te staan kom.

    Kathu het die bordjies in die eindstryd van die Griekwa mediumskole op GWK-park in Kimberley teen die Hoërskool Kalahari van Kuruman verhang. Kathu het die Leeus met 22-15 in die eindstryd verslaan, na die span van Kalahari vir Kathu met 22-19 in hulle jaarlikse interskole geklop het.