SSPN Test Site

Author: hnienaber

  • Farmer laat die Woeries vooruit boer, Kleynhans se skopskoen doen praatwerk vir Erries

    Farmer laat die Woeries vooruit boer, Kleynhans se skopskoen doen praatwerk vir Erries

    Na die eerste twee rondes van die nuwe NWU Interskole-reeks blyk dit dat die Hoërskool Ermelo en Hoërskool Centurion die twee spanne is om te klop.

    Centurion het sy aanslag in die reeks afgeskop deur Overkruin met 38-22 te troef. Die twee spanne sal mekaar later vanjaar weer in Afdeling 2 van die Blou Bulle-liga pak. Die Woeries kan verwag dat Overkruin dan met ‘n groter aanslag vorendag sal kom.

    Centurion se losskakel, Donell Farmer, het sy skopskoene aangehad en 18 punte daarmee aangeteken. Voorlangs het Robbie Herholdt (haker), Malan le Roux (flank) en Darius Durie (agtsteman) die grondslag help lê vir die sege.

    Le Roux het twee keer oor Overkruin se doellyn gebars.

    Die Woeries se laaste groepwedstryd op 20 Maart teen Dinamika sal heel moontlik die wenner die die groep bepaal.

    Dinamika het sy eerste kragmeting in die reeks teen Dr. Malan van Meyerton met 36-22 gewen. Die span van Meyerton het in die eerste ronde in die reën vir Overkruin met 8-5 getroef.

    Dokkies se heelagter, Luka Pretorius, het vanuit die laaste vesting vir Dinamika ‘n paar keer laat bontstaan.

    Die Hoërskool Ermelo het in Boksburg teen Oosterlig met 54-22 koning gekraai. Die tuisspan het Ermelo in die eerste helfte nog in toom gehou met die besoekers wat teen die omdraaislag ‘n voorsprong van 21-10 geniet het.

    Die Erries se losskakel, Janco Kleynhans, het 19 van sy span se punte aangeteken. Hy het een van sy span se sewe drieë gedruk asook al sewe verdoel. Die agtsteman, Francois Homan, was gevaarlik met die bal in die hand en het ‘n driekuns aan drieë behaal.

    Lydenburg het op sy tuisveld in ‘n strawwe tweestryd met 13-11 as oorwinnaars uit die stryd teen Hans Moore van Benoni getree. Die wenspan se Seabi Ramodike (haker) en Jaidem Venter (slot) het meer as hul kant gebring.

    Hans Moore se senter, Troy Strydom, het al sy span se punte aangeteken. Strydom kon in die doodsnikke van die kragmeting met ‘n strafdoel ‘n sege vir sy span beklink, maar het ongelukkig die stelskop gemis. Hy is vir sy blink vertoning as Speler van die Wedstryd aangewys.

    Puntemakers: 

    Ermelo 54 (21) – Drieë: Francois Homan (3), Thabo Mokwena (2), Nicolas Steyn, Janco Kleynhans. Doelskoppe: Kleynhans (7). Oosterlig 22 (10) – Drieë: Juandré Naude, Brandon Desmore, Zander Crous. Doelskoppe: Jayden Middleton, Daniël Calvin. Strafdoel: Middleton.

    Lydenburg 13 (5) – Drie: Teejay van der Walt, Joshua Weber. Strafdoel: Alan Vos. Hans Moore 11 (6) – Drie: Troy Strydom. Strafdoele: Strydom (2).

    Centurion 38 – Drieë: Malan le Roux (2), Gerldo Danster, Coenraad du Toit. Doelskoppe: Donell Farmer (3). Strafdoele: Farmer (4). Overkruin 22 – Drieë: Waylon Oncke (2), Lequine Fredericks, Damian Sealie. Doelskoppe: Eagan Klein.

    Dr. Malan 22 – Drieë: Luka Pretorius (2), Amborgio van der Westhuizen. Doelskoppe: Dewald Erasmus, Pretorius. Strafdoel: Erasmus. Dinamika 36 – Geen puntemakers ontvang nie.

    Ander spanne: 

    o.16: Ermelo 29, Oosterlig 21; Centurion 66, Overkruin 0; Dinamika 40, Dr. Malan 7; Lydenburg 43, Hans Moore 10.

    o.15: Ermelo 17, Oosterlig 5; Centurion 41, Overkruin 0; Dinamika 21, Dr. Malan 20; Lydenburg 10, Hans Moore 5.

    o.14: Ermelo 29, Oosterlig 17; Centurion 7, Overkruin 5; Dinamika 22, Dr. Malan 19; Lydenburg 19, Hans Moore 10.

  • Fletcher en Jansen baljaar in die middelveld vir Brandwag in Super-reeks

    Fletcher en Jansen baljaar in die middelveld vir Brandwag in Super-reeks

    Tuis - HOËRSKOOL LINDENDie Hoërskool Brandwag van Benoni en Hoërskool Linden sal mekaar in die eindstryd van vanjaar se Super-reeks die stryd aansê.

    Albei spanne moet egter nog komende Saterdag teen onderskeidelik Generaal Hertzog van Witbank en die Hoërskool Tuine van Pretoria in hul laaste groepwedstryde uitdraf voordat hul aandag na die eindstryd op 12 April kan verskuif.

    Brandwag was op sy stukke en het Birchleigh Saterdag met 71-10 kaf gedraf. Die wenspan het in totaal 11 drieë ingeryg waarvan die buitesenter en onderkaptein, Tristan Fletcher, drie gedruk het. Fletcher was sonder twyfel sy span se beste speler op die dag.

    Die span se haker, Damian Minnaar, asook die binnesenter, Dirk Jansen, het elk ook twee keer ‘n draai agter die doellyn gemaak. Minnaar het met sy stormramlopies gesorg dat sy span deurgans op die voorvoet bly.

    Brandwag se kaptein en loskopstut, Wian Riekert, het in die skrums vir Birchleigh laat kreun. Die flank Ian Venter het by die afbreekpunte ook seker gemaak dat Birchleigh se besit so ietwat stadiger was, as wat hul dit graag sou wou hê.

    Die wenspan se skrumskakel, Jason Coetzer, het gesorg dat sy agterlyn skoon balbesit van die voorspelers ontvang. Dit het bygedra tot die feit dat Jansen en Fletcher agterlangs kon baljaar. Die heelagter, Zander Gower, verdien ook vermelding vir die manier hoe hy aansluiting by die agterlyn gevind het.

    Linden het sy onoorwonne status in die reeks behou deur Vereeniging Gimnasium op laasgenoemde se tuisveld met 30-12 te klop.

    Dit was veral die flank Heinrich Bothma se verdediging wat gesorg het dat die Gimmies nie op die voorvoet kon kom nie. Agterlangs het die binnesenter, Etienne Fouché, deurgans daarin geslaag om bresse in die verdediging te slaan. Hy is sy skitterende aanvallende spel met twee drieë beloon.

    Hoogenhout van Bethal het vir Generaal Hertzog van Witbank met 55-7 geklop. Die span se binnesenter, Pieter Viljoen, het vanaf die afskop gaan druk om die besoekers onder druk te plaas. Viljoen het ‘n driekuns aan drieë behaal.

    Die linkervleuel, Mongezi Dlamini, het met vlugvoetigheid ‘n hele paar verdedigers na lug laat gryp.

    Puntemakers: 

    Linden 30 – Drieë: Etienne Fouché (2), Roelof Smit. Doelskoppe: Schuler van der Berg (3). Strafdoele: Van der Berg (3). Vereeniging Gimnasium 12 – Drië: Lemarium Sandamela, AJ Theron. Doelskop: JJ Herbst.

    Hoogenhout 55 (15) – Drieë: Pieter Viljoen (3), Thabang Mphore (2), Sonwabo Simelane, Siyabonga Shabangu, Dandré Els. Doelskoppe: Jacques Bosch (4), Shabangu (2). Strafdoel: Shabangu Generaal Hertzog 7 (0).

    Brandwag (Benoni) 71 – Drieë: Tristan Fletcher (3), Damian Minnaar (2), Dirk Jansen (2), Johndré Pienaar, Ruben Crauwcamp, Jayden Diedericks, Jayden van Staden. Doelskoppe: Jason Coetzer (7), Zander Gower. Birchleigh 10.

    Ander spanne: 

    Eerstespanne: Hoërskool Tuine 20, HTS Tuine 6 (Ongelukkig geen puntemakers van enige van die spanne ontvang nie).

    o.16: Hoogenhout 33, Generaal Hertzog 13; Linden 28, Vereeniging Gimnasium 5; Hoërskool Tuine 31, HTS Tuine 10; Brandwag 43, Birchleigh 0.

    o.15: Hoogenhout 40, Generaal Hertzog 5; Linden 8, Vereeniging Gimnasium 0; Hoërskool Tuine 40, HTS Tuine 5; Brandwag 32, Birchleigh 3.

    o.14: Hoogenhout 8, Generaal Hertzog 0; Linden 50, Vereeniging Gimnasium 7; HTS Tuine 26, Hoërskool Tuine 5; Brandwag 36, Birchleigh 5.

  • Die Blou Leeus asook die Leeu van die Noorde brul hard in NWU 16-reeks

    Die Blou Leeus asook die Leeu van die Noorde brul hard in NWU 16-reeks

    Die kompetisie in die NWU 16-reeks het die afgelope paar jaar al hoe strawwer geword.

    Na die eerste twee rondes ligawedstryde is dit reeds bekend dat daar vanjaar ‘n nuwe kampioen op eerstespanvlak gekroon sal word.

    Die verdedigende kampioen, Hoërskool Riebeeckrand, is in albei sy kragmeting tot dusver teen Hans Strijdom (12-35) en die Hoërskool Alberton (14-17) uitoorlê.

    Die groepwedstryd tussen Alberton en Hans Strijdom van Mookgophong eerkomende Saterdag sal bepaal wie van Groep C tot die halfeindronde sal deurdring. Dié kragmeting sal dus vir alle akademiese doeleindes as ‘n kwarteindstryd dien.

    Die Allies het vir Riebies met 17-14 in ‘n klipharde tweestryd verslaan. Die verdedigende kampioen het met die omdraaislag ‘n skrale voorsprong van 7-5 geniet.

    Riebies se twee flanke, Marko Grobler en Kobus Malan, het die veld vol gespeel, terwyl die skrumskakel, Aiden Botes, agterlangs ‘n doring in Alberton se vlees was.

    Hans Strijdom het Saterdag vir Leeuwenhof Akademie op laasgenoemde se tuisveld met 38-0 gekarnuffel. Die besoekers het teen rustyd ‘n voorsprong van 19-0 opgebou met sy regtervleuel, Louis Joubert, wat twee keer in die helfte ‘n draai agter die doellyn gemaak het.

    In die tweede helfte was dit die agtsteman, Kian du Plessis, se beurt om twee keer te gaan druk. Die wenspan se flank en kaptein, Janneman Benson, was op die dag sy span se beste speler, terwyl Du Plessis en Tebogo Mopologela (heelagter) ook uitmuntend vertoon het.

    Die wenner van die kragmeting tussen Alberton en Hans Strijdom sal teen Ben Viljoen van Greoblersdal in die reeks se halfeindronde te staan kom. Die span van Groblersdal het nog een ligawedstryd teen Pretoria-Noord oor, maar is die gunsteling om die kragmeting volgende week in die Jakarandastad te wen.

    Ben Viljoen was met 19-12 in ‘n strawwe tweestryd soos gewoonlik teen die Hoërskool Ellisras baas. Teen rustyd met die telling op 6-elk was daar niks tussen die twee spanne te kies nie.

    Die wenspan se binnesenter, Chris Jordaan, het 14 van sy span se punte met sy skopskoen aangeteken. Hy het vier strafdoele deur die pale geklits asook sy span se enigste drie deur die flank Jac-Johan Gouws verdoel. In totaal het die skeidsregter 40 strafskoppe tydens die kragmeting toegestaan.

    Dit is dan ook geen verrassing dat al 12 Ellisras se punte deur sy losskakel, Anzio Swartbooi, met strafdoele aangeteken is nie. Die twee spanne het mekaar verlede jaar laas in die Limpopo-einstryd gepak met Ellisras wat toe met 27-19 baas was.

    In Groep B blyk dit dat Sarel Cilliers van Glenco tot die halfeindronde sal deurdring. Die Blou Leeus van Sarel Cilliers was op hul stukke teen Volskrust met ‘n oortuigende oorwinning van 90-19. Soos wat die telling aandui het die verloorspan egter nooit handdoek ingegooi nie.

    Sarel Cilliers se buitesenter en onderkaptein, Nzuzo Lembethe, was witwarm in die middelveld en het vier van sy span se 14 drieë afgerond. Sy sentermaat, Adriaan de Beer, het saam met hom amok gemaak.

    Die skrumskakel, Thando Mnisi, het tien van dié drieë vir ‘n persoonlike bydrae van 20 punte verdoel. Mnisi was boonop op die dag sy span se beste agterspeler, terwyl die slot en kaptein, Simphiwe Zuma, voorlangs die pap dik aangemaak het.

    Sothando Sangweni, Sipho Dube en Browin Martins het moedig vir die verloorspan probeer.

    Pionier vanaf Vryheid het Ferrum van Newcastle se kanse om tot die halfeinronde deur te dring met ‘n sege van 23-18 beëindig. Dit was die wenspan se losskakel, Gerber Diedericks, was die meeste skade aangerig het. Hy het self een van sy span se twee drieë gedruk, albei verdoel en ook drie strafdoele tussen deur die pale gejaag.

    Sy skakelmaat, Jaco Smith, kan ook tevrede met sy diens aan Diedericks voel. Voorlangs het Stephan Nel (loskopstut), Franco Jonker (slot) en Jacques Richter (flank) ook stewige vertonings opgedis. Vir Ferrum was sy flank Zander Struwig uitstaande. Hy het ook twee van sy span se drieë gaan druk.

    In Groep D blyk dit dat die Hoërskool Vryburg weer bo-aan die puntelys sal eindig. Hy was met 10-8 baas in ‘n naelbytstryd Vrydag teen Wolmaransstad. Die wenspan het teen rustyd ‘n skrale voorsprong van 5-0 geniet.

    Wollies se flank Attie Becker het egter met speeltyd reeds verstreke die tuisskare hoop gegee. Indien Becker se drie verdoel was sou die gelykopuitslag beteken het dat Wollies nog tot die halfeindronde kon deurdring.

    Die Hoërskool Schoonspruit se binnesenter, Bevan Morkel, het met sy skopskoen vir Fochville ‘n paar benoude oomblikke in die eerste helfte van hul kragmeting laat beleef. Fochville wat die kragmeting met 20-6 as oorwinnaars van die veld gestap het, het teen lemoentyd ‘n voorsprong van 19-6 geniet.

    Morkel het twee strafdoele waarvan een verder as 50 meter in die eerste oorgeklits om sy span in die wedstryd te hou. Sy kaptein en agtsteman, Dylan Prinsloo, was ook weer uitstaande.

    Vir Fochville het Ryan O’Reilly dubbelle driedruk-plesier ervaar.

    Puntemakers:

    Fochville 20 (10) – Drieë: Ryan O’Reily (2), Simphiwe Ntuli, Athi Nqwele. Schoonspruit 6 (6) – Strafdoel: Bevan Morkel (2).

    Vryburg 10 (5) – Drieë: Olerato Bonokwane, Marco Halgryn. Wolmaransstad 8 (0) – Drie: Attie Becker. Skepdoel: Lucraine Wyngaardt.

    Hoërskool Alberton 17 (5) – Drieë: Joshua van Rensburg, Luke Joubert, Jayden Mostert. Doelskop: Jayden Mostert. Riebeeckrand 14 (7) – Drieë: Aiden Botes, Kobus Malan. Doelskoppe: Onthatile Moruledi (2).

    Sarel Cilliers 90 (41) – Drieë: Nzuzo Lembethe (4), Fisokuhle Ndaba (2), Simphiwe Zuma (2), Manqoba Mkhize, Samkelo Ntombela, Adriaan de Beer, Katlego Makoni, Kgomotso Mtshali, Awonke Dlamini. Doelskoppe: Thando Mnizi (10). Volksrust 19 (7) – Drieë: Sipho Dube, Nqobani Mayisela, As’iphile Nkosi. Doelskoppe: Bronwin Martins (2).

    Pionier 23 (11) – Drieë: Gerber Diedericks, Dylan Smit. Doelskoppe: Diedericks (2). Strafdoele: Diedericks (3).  Ferrum 18 (3) – Drieë: Zander Struwig (2), Phillip van Tonder. Strafdoel: Thando Masondo.

    Hans Strijdom 38 (19) – Drieë: Louis Joubert (2), Kian du Plessis (2), Tebogo Mopologela, Nathan Pool. Doelskoppe: Henriko van der Colff (4). Leeuwenhof 0.

    Ben Viljoen 19 (6) – Drie: Jac-Johan Gouws. Doelskop: Chris Jordaan. Strafdoele: Jordaan (4). Ellisras 12 (6) – Strafdoele: Anzio Swartbooi (4).

    Ander spanne: 

    o.16: Fochville 44, Schoonspruit 3; Riebeeckrand 28, Alberton 18; Leeuwenhof 12, Hans Strijdom 5; Ellisras 30, Ben Viljoen 28; Ferrum 14, Pionier 5.

    o.15: Schoonspruit 12, Fochville 10; Riebeeckrand 55, Alberton 3; Leeuwenhof 75, Hans Strijdom 0; Ben Viljoen 21, Ellisras 8; Pionier 24, Ferrum 23.

    o.14: Fochville 43, Schoonspruit 0; Riebeeckrand 38, Alberton 3; Leeuwenhof 17, Hans Strijdom 0; Ellisras 19, Ben Viljoen 10; Pionier 12, Ferrum 3.

  • School Netball Results – 8 March 2025

    School Netball Results – 8 March 2025

    Catch all the action live on SuperSport Schools (www.supersportschools.com).

    The results from around South Africa will be updated here as we receive the results from the various schools.

    If your school’s match is not listed below or you would like to send in your team’s results – don’t hesitate to get in touch with us via e-mail at netball@superschoolsnews.co.za or via WhatsApp at 072 172 5455.

    You can also submit a result via our website – Submit Result.

    All the Results:

    NWU SPORT SERIES 

    [ninja_tables id=”66288″]

    NWU PRESTIGE SERIES 

    [ninja_tables id=”66289″]

  • Grey-kollege doen nog proefnemings teen Welkom Gimnasium

    Grey-kollege doen nog proefnemings teen Welkom Gimnasium

    FOTO: Marnus Prinsloo

    Die afrigters van Grey-kollege se eersterugbyspan is nog besig om hul doepa vir 2025 te verfyn wanneer hul span Saterdag teen Welkom Gimnasium in Welkom te staan kom.

    Die kragmeting sal in die Down Touch Investments-stadion gespeel word. Dit is boonop die Gimmies se hulpafrigter, Jacques Juries, se hoofkwartier as die Griffons se breier.

    Die span se agterlynafrigter, Bobby Joubert, het besluit om die binnesenter en losskakel in die span se eerste kragmeting van die seisoen twee weke gelede teen die Hoërskool Trio, Darius Erwee en Toriq Schambreel, om te ruil.

    Daar sal ook natuurlik verwag word dat Welkom Gimnasium met sy gevaarlike buite-agterspelers Grey se verdediging wyer as gewoontlik sal toets.

    Daar is nie baie spanne in Suid-Afrika wat die vermoë het om Grey agterlangs te laat bontstaan nie. Welkom Gimnasium beskik egter jaarliks oor dié vermoë.

    Schambreel kan moontlik hier die Gimmies se angel trek. Die tuisspan se skakelpaar, Leano Williams (losskakel) en Rewaldo Farmer (skrumskakel) sal ‘n belangrike rol in hul span se aanslag speel. Albei sal met hul spel die nodige spasie moet skep vir Dylan Titus (binnesenter), Vusi Ndayi (linkervleuel) en Jaydewin Solomons (heelagter) om te baljaar.

    Grey se hoofafrigter, Jannie Geldenhuys, sal vertrou dat sy agttal die Gimmies op die agtervoet kan hou om sodoende te verhoed dat die tuisspan sy stert in die lug kry. Voorlangs sal die flank Steven Muller, haker AJ Hendriks en vaskopstut, JG Badenhorst, belangrikke rolle vertolk.

    Die span se staatmaker slot, AJ Meyer, is nog met ‘n besering op die krukkelys. Hy sal gewis ‘n reuse verskil maak wanneer hy weer sy terugkeer op die veld maak.

    Welkom Gimnasium se Nathan Muller het Saterdag die onbegonne taak om vir Ethan Adams (buitesenter) in toom te probeer hou. Adams is sonder twyfel die gunsteling om vanjaar die Suid-Afrikaanse Skole se Nr. 13-trui oor sy kop te trek.

    Grey se naasbestes, die Cherries, kom in die voorwedstryd teen Goudveld-Hoërskool se trots te staan. Dit sal die voormalige Vrystaatse veelsydige agterspeler, Eben von Gericke, se eerste wedstryd terug aan stuur van die die Gouties wees.

    Die spanne is: 

    Welkom Gimnasium: 15 Jaydewin Solomons, 14 Ruan Theron, 13 Nathan Muller, 12 Dylan Titus, 11 Vusi Ndayi, 10 Leano Williams, 9 Rewaldo Farmer, 8 Emile Mahlelebe, 7 Reagan Krige, 6 Relebohile Sello, 5 Hlombe Mamane, 4 Diederik Beuken, 3 Julius Makhanda, 2 Kananelo Tutubala, 1 Ewald Booyens.

    Grey-kollege: 15 Lamla Mgedezi, 14 Benjamin van den Berg, 13 Ethan Adams, 12 Toriq Schambreel, 11 Siyabonga Kenny, 10 Darius Erwee, 9 Sherwin Buys, 8 Adem Nieuwoudt, 7 Xander Smit, 6 Steven Muller, 5 Claude Steyn, 4 Alexi Tyropolis, 3 JG Badenhorst, 2 AJ Hendriks, 1 David Hayidakis.

    Afskop: 11:45

  • Absa Wildeklawer of 2025 promises to be the biggest yet

    Absa Wildeklawer of 2025 promises to be the biggest yet

    The annual Absa Wildeklawer tournament for 2025 is jumbo packed with schoolboy rugby clashes for the connoisseur.

    The main event of the u19 rugby festival will take place from Wednesday, 30 April until Saturday, 3 May.

    All the action will be brought live to your screens once again by SuperSport Schools (www.supersportschools.com).

    The main match on the opening day will be one of the clashes of 2025 with Paul Roos Gimnasium taking on the Afrikaanse Hoër Seunskool of Pretoria. The main curtain raiser will be between the hosts, Diamantveld, and Waterkloof of Pretoria.

    Nico Malan of Humansdorp will also make their debut on the opening day as they will take on Glenwood of Durban.

    The main match on the second day will see Grey College facing Helpmekaar of Johannesburg. The rugby factory of Bloemfontein’s second match will be against Garsfontein on the final day. Both these matches will provide their fair share of fireworks.

    Paarl Gimnasium will have an interesting encounter against Northwood. Their headmaster, Paul Viljoen‘s, previous job was as headmaster of Northwood. The Gimmies could be one of the top teams in the country with stars like Markus Muller (centre) and Quinton Potgieter (loose forward) in their midst.

    Gimmies’ second clash of the tournament will be the main match on the final day against Durban High School.

    The Fixtures: 

    Wednesday, 30 April 2025 

    A-Field 

    19:00 – Paul Roos Gimnasium vs Affies
    17:30 – Opening Ceremony
    15:30 – Diamantveld vs Waterkloof
    14:00 – Nico Malan vs Glenwood
    12:30 – Marlow Landbou vs Welkom Gimnasium
    11:00 – Invitation Final | u19

    Thursday, 1 May 2025 

    A-Field

    20:00 – Grey College vs Helpmekaar
    18:30 – Maritzburg College vs Jeppe High School for Boys
    17:00 – Paarl Boys’ High vs Noordheuwel
    15:30 – Paarl Gimnasium vs Northwood
    14:00 – Garsfontein vs Oakdale Landbou
    12:30 – Monument vs Outeniqua
    11:00 – Durban High School vs Stellenberg
    09:30 – Boland Landbou vs Framesby
    08:00 – EG Jansen vs HTS Drostdy

    B-Field

    16:10 – Hoërskool Rustenburg vs Voortrekker

    Saturday, 3 May 2025 

    A-Field

    20:00 – Paarl Gimnasium vs Durban High School
    18:30 – Grey College vs Garsfontein
    17:00 – Paul Roos Gimnasium vs EG Jansen
    15:30 – Oakdale Landbou vs Jeppe High School for Boys
    14:00 – Affies vs Boland Landbou
    12:30 – Maritzburg College vs Diamantveld
    11:00 – Paarl Boys’ high vs Monument
    09:30 – Noordheuwel vs Outeniqua
    08:00 – Waterkloof vs Stellenberg

    B-Field 

    16:20 – Nico Malan vs Northern Barbarians
    15:00 – Glenwood vs Marlow Landbou
    13:50 – Northwood vs HTS Drostdy
    12:40 – Voortrekker vs Southern Barbarians
    11:30 – Helpmekaar vs Framesby
    10:20 – Hoërskool Rustenburg vs Welkom Gimnasium

  • Diamonds se sterre lyk blink teen Fichie Leeus op jaarlikse sportdag

    Diamonds se sterre lyk blink teen Fichie Leeus op jaarlikse sportdag

    DIAN VISAGIE, slot van die Hoërskool Fichardtpark se Leeus, duik hier oor die doellyn vir sy span se enigste drie in die hoofwedstryd van vanjaar se Standard Bank Sportdag wat deur sy skool in Bloemfontein aangebied word. Fichies het met 7-25 die onderspit in die hoofwedstryd gedelf. FOTO: Marnus Prinsloo

    Die Wesgrow-reeks skop dalk eers op 15 Maart amptelik af, maar die eerste skote van dié oorlog het reeds geklap.

    Die Hoërskool Diamantveld het die Fichardtpark Leeus met 25-7 in die hoofwedstryd van die jaarlikse sportdag deur Hoërskool Fichardtpark gestamp. Standard Bank was vanjaar die hoofborg van die grootste sportdag in Suid-Afrika.

    Die twee spanne sal mekaar later vanjaar op 24 Mei op dieselfde veld weer die stryd in ‘n Wesgrow-wedstryd die stryd aansê.

    Die span van Kimberley het egter met dié sege ‘n belangrike sielkundige uitklophou vir later vanjaar geplant.

    Die Diamonds, wat in geel truie uitgedraf het om nie met die gasheer se blou-truie te bots nie, het teen rustyd reeds ‘n stewige voorsprong van 15-0 opgebou. Die besoekers het vyf keer agter die doellyn gaan kuier, maar kon  nie met ‘n enkele doelskop slaag nie.

    Die wenspan se binnesenter, Jonathan Harding, het ‘n stewige vertoning opgedis. Hy is gewis ‘n speler wat vanjaar dopgehou moet word. Hy het ook twee van sy span se drieë afgerond. Hy en sy direkte teenstander, Junior Titoti, was in ‘n hewige stryd in die middelveld gewikkel.

    Titoti is egter net voor rustyd koelkas toe gestuur. Diamonds het in die tweede helfte self vir ‘n ruk met net 13 spelers gespeel toe die disipline begin lostorring het. Die span se buitesenter, Jaco Beukes, is van die veld gestuur na hy sy tweede geelkaart weens ‘n ongeoorloofde duikslag ontvang het.

    Die span se losskakel, Duran Makoni, is ook kort koelkas toe gestuur. Makoni het egter ‘n goeie wedstryd beleef met sy agttal wat voorlangs die botoon gevoer het. Sy skakelmaat, Ruben van der Linde, het ook op die voorvoet baljaar.

    In die agttal het die slot Zuan Rautenbach, die haker Jaydrian Jacobs asook die losvoorspelers Enrique Boshoff en Jayden de Klerk goeie wedstryde beleef.

    Vir die Fichies die heelagter, Unathi Ntuli, elke keer gevaarlik gelyk wanneer hy in besit geplaas is.

    In die eerste wedstryd van die sportdag het die Hoërskool Bultfontein en Hopetown seker gemaak dat die ondersteuners wat vroeg uit die vere moes kom, nie teleurgesteld was nie.

    Albei spanne het op die veld gedraf om aanvallende voetbal te speel. Bultfontein het die kragmeting met 12-5 gewen, maar dit was Hopetown wat in die eerste helfte die bal hope lug gegee het.

    Hopetown se linkervleuel, Robin-Lee Eland, beskik meer oor die spoed van ‘n Rooihartbees as die van ‘n Eland. Hy het agter die doellyn gaan draai, maar die drie is weens ‘n vorentoe-aangee nie toegeken nie. Die skrumskakel, Faithden Jantjies, het Bultfontein besig gehou agter die oond en ook sy span se enigste drie na ‘n skerp breekslag gedruk. Die span se heelagter, Kabelo Poni, het ook verniet ‘n draai agter die doellyn gemaak.

    Bultfontein het in die tweede helfte behoorlik ingeklim met sy plaasvervangers wat ‘n duidelike impak gemaak het. Veral Deon du Toit het op flank vanaf die plaasvervangersbank ‘n impak gemaak.

    Die verloorspan se Le-ru Klok en Charl du Plessis (buitesenter) was hul span se beste spelers op die dag.

    Puntemakers: 

    Diamantveld 25 (15) – Drieë: Jonathan Harding (2), Clinton Brits, Driaan Jacobs, Zuan Rautenbach. Fichardtpark 7 (0) – Drie: Dian Visagie. Doelskop: JM Rensburg.

    Hoërskool Bultfontein 12 (0) – Drieë: Deon du Toit, Armand Olivier. Doelskop: Andries De Wet Steyl. Hopetown 5 (5) – Drie: Faithden Jantjies.

  • Fichie Leeus sal nie net tande wil wys teen Diamonds tydens jaarlikse sportdag

    Fichie Leeus sal nie net tande wil wys teen Diamonds tydens jaarlikse sportdag

    FOTO: Dirkie Groenewald

    Die Leeus van die Hoërskool Fichardtpark se Leeus se tande sal reeds Saterdag met sy eerste jagtog baie skerp moet wees.

    Die eersterugbyspan van die Fichies kom vanjaar in die hoofwedstryd van dié skool se jaarlikse sportdag teen die Hoërskool Diamantveld van Kimberley te staan. Vanjaar se 23ste Fichardtpark Sportdag word deur Standard Bank geborg.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools (www.supersportschools.com).

    Die twee spanne ontmoet mekaar ook later vanjaar in die Wesgrow-reeks. Dié ontmoeting sal op 24 Mei weer op die Fichies se hoofveld plaasvind.

    Hoewel die Fichies se twee afrigters, Zandré Pienaar en André-Pierre Burger, nie te veel van hul kaarte reeds met die kragmeting op die tafel sal wil sit nie, sal hul steeds ‘n hele paar planne in plek hê om die Leeus van 2023 na te doen.

    Fichardtpark se eerstespan het in 2023 se hoofwedstryd van hul sportdag vir ‘n reuse opskudding gesorg deur vir Diamantveld met 33-27 die loef af te steek.

    Diamonds sal egter nie weer so maklik verras word nie. Die span vanuit die Diamantstad word vanjaar deur Philip Molnar en Bok Markram gebrei. Die span het wel ook die kennis van George Whitehead asook Oloff Bergh tot sy beskikking.

    Die tweestryd in die middelveld tussen die tuisspan se Junior Titoti en Diamonds se Jonathan Harding beloof om een van die hoogtepunte van die kragmeting te wees.

    Indien die Fichie Leeus se agttal sy sterte in die lug kry, kan die voorrymanne, Marko van der Westhuizen en Justin van Eyssen, baljaar in die vastelos.

    In die eerste kragmeting van die dag sal die Hoërskool Bultfontein teen die Hoërskool Hopetown te staan kom. Die twee spanne sal nie veel vanmekaar af weet nie, maar kan met opwindende spel die dag aan die gang kry.

    Die Bulties het in sy eerste kragmeting van die seisoen teen Wolmaranstad met 7-27 die onderspit gedelf. Bultfontein se skakelpaar, Lucraine Wyngaardt (skrumskakel) en Johan Erasmus (losskakel), sal sy sleutelspelers wees.

    Die spanne is: 

    Fichardtpark Leeus vs Diamantveld om 16:10: 

    Fichardtpark: 15 Unati Ntuli, 14 Ze Mathese, 13 Divan Martens, 12 Junior Titoti, 11 Robert Popham, 10 Pule Motsilili, 9 JM Rensburg, 8 Lenro Kruger, 7 Janco Dorfling, 6 Josh Neson, 5 Dian Visagie, 4 Buko Mlali, 3 Marko van der Westhuizen, 2 Tjaart Botha, 1 Justin van Eyssen.

    Diamantveld: 15 Clinton Brits, 14 JL Fortuin, 13 Jaco Beukes, 12 Jonathan Harding, 11 Driaan Jacobs, 10 Duran Makoni, 9 Ruben van der Linde, 8 Enrique Boshoff, 7 Jayden de Klerk, 6 Louis Fourie, 5 MG van Greuning, 4 Zuan Rautenbach, 3 Dian Ellis, 2 Jaydrian Jacobs, 1 Bernard Daniels.

    Bultfontein vs Hopetown om 08:00: 

    Bultfontein: 15 Handro Conradie, 14 Cristo Mabitso, 13 Caden Storm. 12 Bradley Tesmore, 11 Antonio Pullen, 10 Johan Erasmus, 9 Lucraine Wyngaardt, 8 Thalefo Thobedi, 7 Abrie Oosthuizen, 6 Attie Becker, 5 Dian Smit, 4 JW Coetzee, 3 Zak Knoetze, 2 Johan Steenkamp (kaptein), 1 Christian Wolmarans.

    Hopetown: 15 Kabelo Poni, 14 Gerrit Klok, 13 Gino Jood, 12 Charl Bosman, 11 Robin-Lee Eland, 10 Troidan Pienaar, 9 Faithden Jantjies, 8 Henré Wiid, 7 Gums Nhlapo, 6 Hennie Ntlama, 5 Rolando Prins, 4 Josef Maringa, 3 Maxwell Mhlokwa, 2 Jaco Barnard, 1 Eden Wiid.

  • Hier is Fichardtpark se Standard Bank Sportdag se bepalings

    Hier is Fichardtpark se Standard Bank Sportdag se bepalings

    FOTO: Dirkie Groenewald

    Die Hoërskool Fichardtpark se jaarlikse sportdag sal vanjaar weer soos gewoonlik uit sy nate uit bars.

    Dit is die 24ste keer dat die Fichies dié spogdag aanbied. Vanjaar sal Standard Bank die titelborg wees.

    Die sportdag word as een van die grootste indien nie dié grootste van sy soort in Suid-Afrika gereken. In totaal sal daar 65 rugbywedstryde hierdie Saterdag, 1 Maart 2025 op die sportdag plaasvind.

    Fichardtpark se eersterugbyspan, die Leeus, sal in die hoofwedstryd van die dag teen die Hoërskool Diamantveld te staan kom. Die stryd beloof om ‘n interresante kragmeting te wees, met die Leeus wat hul tuisskare nie sal wil teleurstel nie, maar ook nie te veel van sy planne op die tafel sal wil plaas nie. Die twee spanne ontmoet mekaar later vanjaar weer tydens die Wesgrow-reeks.

    In die vernaamste voorwedstryd kom Jim Fouché teen Duineveld van Upington te staan. JF het sy seisoen verlede week met ‘n nederlaag van 12-24 teen Welkom Gimnasium afgekop.

    Die span van die Rosestad sal egter nie te ontevrede oor die uitslag wees nie. Die span se agttal het gewys dat hulle die pap dik kan aanmaak as hulle wil. Dit sal dus weer ‘n goeie toets vir hulle wees om teen die Velties arm te druk. Die span van Upington beskik gewoonlik oor gedugte ‘n agttal.

    Die Hoërskool Sentraal kom ook weer voor ‘n groot toets te staan. Hy sal teen Marlow Landbou van Cradock sake uitspook. Die Tralies het verlede week met 0-36 teen Grey se tweede span, die Cherries, die knie gebuig, maar in die proses gewys dat vanjaar se groep nie een is wat sommer die stryd gewonne sal gee nie.

    Die bepalings is: 

    FICHARDTPARK A-VELD

    16:10 – Fichardtpark vs Diamantveld
    15:00 – Duineveld vs Jim Fouché
    13:50 – Sentraal vs Marlow Landbou
    12:40 – Louis Botha vs Hoërskool Upington
    11:30 – Landboudal vs Welkom Gimnasium
    10:20 – Noord-Kaap vs Aliwal-Noord
    09:10 – Wilgerivier vs Kalahari
    08:00 – Bultfontein vs Hopetown

    FICHARDTPARK B-VELD 

    16:00 – o.16 – Louis Botha vs Noord-Kaap
    15:00 – o.16 – Voortrekker vs Landboudal
    14:00 – o.19B – Diamantveld vs Welkom Gimnasium
    13:00 – o.19B – Fichardtpark vs Duineveld
    12:00 – o.19B – Sentraal vs Marlow Landbou
    11:00 – o.19B – Wilgerivier vs Kalahari
    10:00 – o.19B – Jim Fouché vs Hoërskool Upington
    09:00 – o.16 – Diamantveld vs Welkom Gimnasium
    08:00 – o.19B – Louis Botha vs Noord-Kaap

    FICHARDTPARK C-VELD 

    16:00 – o.15 – Diamantveld vs Welkom Gimnasium
    15:00 – o.15 – Voortrekker vs Landboudal
    14:00 – o.15 – Louis Botha vs Noord-Kaap
    13:00 – o.15 – Jim Fouché vs Hoërskool Upington
    12:00 – o.16 – Aliwal-Noord vs Kalahari
    11:00 – o.16 – Sentraal vs Marlow Landbou
    10:00 – o.16B – Voortrekker vs Hoërskool Kathu o.16A
    09:00 – o.16 – Fichardtpark vs Duineveld
    08:00 – o.16 – Jim Fouché vs Hoërskool Upington

    FICHARDTPARK D-VELD 

    16:00 – o.16D – Diamantveld vs Welkom Gimnasium
    15:00 – o.14 – Sentraal vs Marlow Landbou
    14:00 – o.14 – Louis Botha vs Noord-Kaap
    13:00 – o.15 – Fichardtpark vs Duineveld
    12:00 – o.15 – Sentraal vs Marlow Landbou
    11:00 – o.14 – Fichardtpark vs Duineveld
    10:00 – o.14 – Diamantveld vs Welkom Gimnasium
    09:00 – o.14 – Jim Fouché vs Hoërskool Upington
    08:00 – o.14 – Voortrekker vs Landboudal

  • Grey-kollege skop seisoen op ‘n drafstap met sege oor Trio af

    Grey-kollege skop seisoen op ‘n drafstap met sege oor Trio af

    FOTO: Kulu Ferreira

    Grey-kollege se eersterugbyspan het sy seisoen met ‘n sege van 38-10 oor Hoërskool Trio van Kroonstad tydens President Steyn se jaarlikse sportdag in Bainsvlei afgeskop.

    Soos te wagte sal wees só vroeg in die seisoen het meeste van die spanne gesukkel om uit derde rat tydens die Hester van der Walt Sportdag te kom. Grey sal egter tevrede wees met hul eerste vertoning van 2025.

    Die span van Bloemfontein is soos meeste spanne só vroeg in die seisoen nog nie op volsterkte nie. Grey het teen die omdraaislag reeds ‘n voorsprong van 33-10 geniet. Sy enigste drie in die tweede helfte is deur sy buitesenter, Ethan Adams, gedruk. Adams het twee van sy span se ses drieë afgerond.

    Vir die bygelowiges onder die Grey-ondersteuners is daar goeie nuus. Dit was die vierde keer wat Grey en Trio mekaar op die rugbyveld ontmoet het. Al vier kragmetings was tydens die Steyners se sportdag. Tydens die twee spanne se eerste kragmeting in 2022 was Grey met 40-3 baas, dit was ook die eindtelling toe die twee spanne mekaar in 2024 ontmoet het.

    Saterdag se telling van 38-10 het weer ooreengestem met 2023 se telling. Grey was onoorwonne in 2023, terwyl die span in 2022 en 2024 ‘n keer of wat aan die verloorkant was.

    Grey se flank Steven Muller het ‘n uitstekende eerste wedstryd vir sy skool se eerstespan beleef. Hy het die veld vol gespeel en ook behoorlik in die vastelos ingeklim.

    Die voorry bestaande uit JG Badenhorst (vaskopstut), AJ Hendriks (haker) en David Hayidakis (loskopstut) het ook stewige vertonings gelewer. Hendriks is die seun van die gewese Cheetah-haker Braam Hendricks. Hendricks sr. het ook vanuit die Hoërskool Sandveld in Wesselsbron die SA Skole-span in 1993 verteenwoordig.

    Adams se sentermaat, Darius Erwee, het met sy skopskoen gewys dat hy vanjaar nog ‘n belangrike rol vir hul skoolspan kan vertolk.

    Vir Trio het sy losskakel, Jayden Windvogel, ‘n hele paar goeie oomblikke beleef. Die linkervleuel, Jaylin Jones, is met ‘n drie beloon na hy ‘n hele paar keer gevaarlike lopies ingekry het.

    Grey se tweedespan, die Cherries, het die Hoërskool Sentraal met 36-0 verslaan. Die Cherries het teen rustyd reeds ‘n gemaklike voorsprong van 24-0 geniet.

    Die kragmeting was egter ‘n groot tree vorentoe vir Sentraal se rugbyprogram. Die Tralies het twee jaar gelede op die einste sportdag met 7-26 teen Grey se derdespan die knie gebuig.

    Die verloorspan het deurgans hope durf ten toon gestel en nooit die stryd gewonne gegee nie. Sy poging op dié dag was gewis meer werd as wat die 0 op die telbord aangedui het. Sy flank Jandré Jardim verdien ‘n klop op die skouer, terwyl die losskakel, Hanco Nel, ook tevrede met sy vertoning kan voel.

    Die Cherries was vinnig uit die blokke en Sentraal het gesukkel om aanvanklik aan die tempo gewoont te raak. Dit was veral die binnesenter, Ruan Roux, heelagter, Cowen Willemse, asook die regtervleuel, Johan Dormehl, wat deurgans met hul vaart daarin geslaag het om gate in Sentraal se verdediging te vind.

    Puntemakers: 

    Grey-kollege 38 (33) – Drieë: Ethan Adams (2), Steven Muller, Toriq Schambreel, JG Badenhorst, Benjamin van den Bergh. Doelskoppe: Darius Erwee (4). Hoërskool Trio 10 (10) – Drie: Jaylin Jones. Doelskop: Jayden Windvogel. Strafdoel: Windvogel.

    Cherries 36 (24) – Drieë: Cowen Willemse, Johan Dormehl, Arno de Bruin, Bernard Wessels, Tayrian Matthys, Willem Bosch. Doelskoppe: Samson Lackay (3). Hoërskool Sentraal 0.