SSPN Test Site

Author: slabuschagne

  • Middies sluit 2025 op ’n hoë noot af

    Middies sluit 2025 op ’n hoë noot af

    HTS Middelburg eindig eerste in Mpumalanga en 15de in Suid-Afrika.

    HTS Middelburg se eerste netbalspan het hul reputasie as een van Mpumalanga se topskole vanjaar gestand gedoen.

    Die span se uitsonderlike samewerking, vasberadenheid en taktiese groei het verskeie hoogtepunte deur die loop van die seisoen tot gevolg gehad, met hul triomf by die Mpumalanga o.18A-kampioenskap as die kersie op die koek.

    Benewens dié prestasie het Middies ook sukses behaal by die Sportisimo-toernooi, waar hulle as o.18A-wenners gekroon is. Hul deelname aan die Topskole-toernooi, waar hulle 15de in die land geëindig het, het bevestig dat hulle op nasionale vlak kan meeding teen van die sterkste spanne in Suid-Afrika.

    Die skool kan boonop trots wees op die vyf provinsiale spelers wat gedurende die seisoen uit hul geledere opgelewer en ’n toonbeeld is van die gehalte spelers wat HTS Middelburg jaarliks ontwikkel.

    Volgens die afrigtingspan het die groep se grootste groei gelê in hul vermoë om as ’n eenheid op die baan te funksioneer. Die spelers het deurentyd as ’n span beweeg, kommunikeer en saam baklei, iets wat duidelik in hul wedstryde na vore gekom het. ’n Merkbare verbetering is ook in hul taktiese verdediging opgemerk, wat dikwels die verskil beteken het tussen wen en verloor in naelskraapse kragmetings.

    Nicola Smith het deur die loop van die seisoen uitgetroon met haar konsekwente spel, harde werk en deurlopende groei, en is welverdiend aangewys as HTS Middelburg se Speler van die Jaar.

    Uitslae:

    Liga & Toernooie:
    Steelcrest 49–8
    Delmas 38–7
    MHS 32–28
    HTSW 29–23
    HGH 54–7
    Sibon 41–6
    Sial 47–3
    Bergvlam 44–5
    Secunda 26–12
    MHS 22–19
    Nelspruit 25–14

    Suid-Afrikaanse Skole:
    Nomzamo (WCU1) 31–22 
    KHS (NWP2) 22–18 
    Bukit Jalil 43–14 
    Diepdale (GU2) 31–18 
    Khanyisa (ECU1) 38–6 
    Eindig eerste in groepwedstryde

    Uitspele:
    Nelspruit 17–20 
    Paarl Girls’ 13–27
    Upington 22–24 
    KHS 28–16 
    Eindig 15de by SA’s

  • Helpies die beste netbalskool in die land

    Helpies die beste netbalskool in die land

    Helpies se o.15’s gekroon as SA-kampioene.

    Helpmekaar Kollege is onlangs aangewys as die Beste Netbalskool in Suid-Afrika.

    Vir die Helpies-gemeenskap is hierdie erkenning nie bloot ’n titel nie, maar die bevestiging van jare se toewyding, harde werk en ware liefde vir die sport waarop hulle met dankbaarheid en nederigheid uiters trots is.

    By Helpmekaar word daar geglo dat sukses nie aan geheime of formules gekoppel is nie, maar dat dit spruit uit opregte liefde vir die spel, asook ’n span mense wat waarlik omgee vir die dogters wat die Helpie-baadjie dra.

    Elke seisoen bring nuwe uitdagings en geleenthede vir groei. Oefentye bly byvoorbeeld ’n struikelblok, aangesien Helpmekaar se busse reeds om 15:00 vertrek en spelers regoor Johannesburg woonagtig is. Tog gee die afrigters alles, van die A- tot die E-spanne. Hul passie vir netbal word weerspieël in hul toewyding aan elke speler, ongeag haar vlak of span.

    Mentorskap vorm ook ’n kernpilaar van Helpmekaar se benadering tot sport. Dr. Elsje Jordaan, wat al vir etlike jare deel vorm van die skool se netbalprogram, speel ’n beduidende rol in die ontwikkeling van beide spelers en afrigters. Haar kundigheid en betrokkenheid is van onskatbare waarde vir die groei van die program.

    Die vrugte van hierdie harde werk was vanjaar duidelik sigbaar:

    • Die o.15-span het goud gewen by die Kay Motsepe-toernooi en vertrek op 21 November na Singapoer om Suid-Afrika te verteenwoordig, ‘n besondere prestasie wat groot trots bring.

    • Die o.14- en o.16-spanne het albei silwer verower by die SA-kampioenskappe.

    • Die eerste span het ’n vyfde plek in Gauteng behaal, ’n bewys van die diepte en gehalte van Helpmekaar se netbalprogram.

    Tog gaan dit by Helpmekaar oor méér as bloot medaljes en trofees. Die skool glo dat elke dogter die kans verdien om te groei, haar talente te ontwikkel en, bo alles, die vreugde van netbal te ervaar.

    By Helpmekaar Kollege bly dit ’n groot voorreg om deel te wees van elke dogter se reis – op die baan, maar ook buite sportverband.

  • Rautenbach, Holtzhausen span saam om Oranje na nuwe hoogtes te lei

    Rautenbach, Holtzhausen span saam om Oranje na nuwe hoogtes te lei

    Maryka Holtzhausen en Ané Rautenbach.

    Meisieskool Oranje het die ervare en passievolle Ané Rautenbach en Maryka Holtzhausen aangestel as mede-afrigters van die o.19A-netbalspan.

    Rautenbach en Holtzhausen vorm ’n dinamiese span wat kennis, ervaring en entoesiasme kombineer om Oranje se trotse netbaltradisie verder uit te bou.

    Rautenbach, ’n wetenskaponderwyser aan Oranje, het die afgelope twee jaar met groot sukses aan die skool se jonger spanne leiding gegee. Haar o.14A-span het vanjaar vierde by die Suid-Afrikaanse skolekampioenskap geëindig, terwyl haar o.17A-span in 2023 ’n sewende plek behaal het. Sy bring ook waardevolle ervaring as voormalige eerstespan-afrigter by Hoërskool Lydenburg.

    Holtzhausen is ’n bekende naam in Suid-Afrikaanse netbalkringe. Die voormalige Protea-kaptein, met 116 toetse agter haar naam, dien tans as senior bestuurder by KovsieSport. Sy het reeds sterk bande met Oranje, as afrigter van die o.19A-span in 2016 en 2017, en het vanjaar as hulpafrigter opgetree. Holtzhausen het ook Eunice se o.19A-span afgerig en was deel van die Kovsies se afrigtingspan.

    Saam bring hierdie twee dames ’n balans tussen ervaring op internasionale vlak en ’n diep begrip van skolenetbal. Hulle deel ’n duidelike visie vir die toekoms van Oranje se eerste span en beklemtoon die belangrikheid van kultuur, samewerking en groei.

    “As ‘n afrigtingspan is ons baie opgewonde vir die geleentheid. Ons wil graag ’n netbalkultuur vestig waar elke meisie waardig en veilig voel, en saam as ’n span drome najaag wat groot genoeg is om ons te inspireer en ook uit te daag,” sê hulle.

    Met twee sulke gedugte afrigters aan die stuur, is Oranje se eerste span in 2026 oorgehaal om hul merk te maak op die nasionale netbalverhoog.

  • Eunice verwelkom Jonas as breier van die eerstes

    Eunice verwelkom Jonas as breier van die eerstes

    Die nuwe afrigter van Eunice se eerste netbalspan, Tammy Jonas.

    Tammy Jonas is aangestel as die eerste netbalspan van Eunice Girls’ High School se nuwe afrigter.

    Jonas spog met ’n indrukwekkende lys van prestasies en ’n duidelike passie vir ontwikkeling, dissipline en uitnemendheid. Jonas het taamlik naam gemaak in Oos-Kaapse netbalkringe die afgelope ruk.

    As afrigter, het sy talle provinsiale senior verteenwoordigers opgelewer, en haar vorige skool, Hudson Park, is onlangs aangewys as die beste mede-opvoedkundige netbalskool in die Buffalo City Metropolitan (BCM)-distrik, ná jare waarin hulle nie vir die kampioenskap kon kwalifiseer nie. Onder haar leiding het Hudson ook ‘n bronsmedalje by die BCM-kampioenskap verower en is hulle as die derde beste skool in die Oos-Kaap aangewys. Benewens netbal, het sy ook as hoof van atletiek gedien.

    Jonas het self aan die TNL-toernooi deelgeneem in 2021 en 2022, waar sy die Eastern Cape Comets verteenwoordig het, ’n bewys van haar ervaring in die sport op ’n hoë vlak.

    Haar afrigtingsfilosofie is duidelik en inspirerend:

    “As niks verander nie, verander niks nie,” sê sy. “Dit is die basis van die afrigtingstelsel wat ek toepas.

    “Ek glo heelhartig in harde werk en het dikwels die vrugte waargeneem wat gepluk word wanneer ’n mens telkens uit jou gemaksone gedruk word. Dieselfde toewyding waarborg bloot dieselfde resultaat, maar verhoogde inspanning word beloon met beter resultate. Uitnemendheid is ’n gewoonte, nie ’n oomblik nie.”

    Hierdie uitgangspunt beklemtoon die belangrikheid van volgehoue groei, harde werk en die moed om uit jou gemaksone te tree, iets wat beslis by Eunice se kultuur van uitnemendheid sal aanklank vind.

    Jonas is uiteraard opgewonde om by Eunice aan te sluit:

    “Wat my die meeste opgewonde maak oor dié geelentheid is ongetwyfeld om te kan werk met een van die voorste meisieskole in die land, wat ’n toonbeeld is van passie, deurgaanse toewyding om algeheel te verbeter en die uitstaande harmonie tussen vrouens.

    “Daar is iets kragtigs daaraan om omring te word met eendersdenkende atlete en afrigters. Ek bewonder voorwaar die holistiese trots wat die skool uitstraal, en sien uit na hierdie nuwe hoofstuk van my afrigtingstog.”

    Jonas se aanstelling bring groot verwagtinge en opgewondenheid vir Eunice in 2026. Met haar bewese sukses, toewyding en duidelike visie vir groei, is dit duidelik dat die skool se eerste span in bekwame hande is.

  • Fast5-titel net nóg ’n pluimpie vir Parkies

    Fast5-titel net nóg ’n pluimpie vir Parkies

    Parkies is eerste in Suid-Afrika.

    Die Hoërskool Menlopark se o.18A-span, beter bekend as Menlo Blou, het tydens vanjaar se nasionale Fast5-toernooi hul merkwaardige vorm en vasberadenheid gehandhaaf om as kampioen gekroon te word.

    In ’n naweek gevul met opwindende, strategiese en hoëtempo-netbal, het Parkies se meisies bewys hoekom hulle tot die room van Suid-Afrikaanse skolenetbal behoort.

    Menlo Blou het reeds in die kwarteindronde kragtige spel gelewer om met 30–8 oor MHS Blitz te seëvier. In die ander kwarteindstryde het Durbanville met 27–17 teen Jim Fouché gewen, Monument vir Paarl Meisies met 26–6 getroef en Ben Vorster vir Bergsig met 24–19 geklop.

    Die halfeindronde het naelbytstryde afgegee, maar Menlo Blou het karakter en kalmte tentoongestel om naelskraaps met 21–20 oor Durbanville te triomfeer – in ’n kragmeting waar die uitslag tot in die doodsnikke in die weegskaal was. Monnas het vir Ben Vorster met 23–18 verslaan om hul plek in die eindstryd te bespreek.

    Die groot eindstryd het die toeskouers op hul tone gehad. In ’n wipplankstryd het Menlo Blou uiteindelik die botoon gevoer met ’n dramatiese sege van 39–36 oor Monnas. Spanwerk, spoed en taktiese insig was deurslaggewend daarin om die goue medalje in te palm.

    In die wedstryd om die derde en vierde plek het Durbanville hul toernooi op ’n hoë noot afgesluit met ’n oorwinning van 33–21 oor Ben Vorster.

    Parkies se triomf is nie slegs ’n bewys van hul vanselfsprekende talent nie, maar ook van harde werk en toewyding agter die skerms. Die span het met trots en passie gespeel, en is waardig gekroon as Suid-Afrika se Fast5-kampioen.

    Uitslae:

    Kwarteindronde:

    Jim Fouché 17, 27 Durbanville

    Monnas 26, 6 Paarl Meisies

    Menlo Blou 30, 8 MHS Blitz

    Bergsig 19, 24 Ben Vorster

    Halfeindronde:

    Durbanville 20, 21 Menlo Blou

    Monnas 23, 18 Ben Vorster

    3de/4de Plek

    Durbanville 33, 21 Ben Vorster

    Eindstryd:

    Menlo Blou 39, 36 Monnas

  • Parkies se seisoen van glorie

    Parkies se seisoen van glorie

    Parkies se eerstes gekroon as SA Kampioen.

    Die 2025-netbalseisoen is een wat Hoërskool Menlopark se eerste span, wat vanjaar oplaas as SA Kampioen gekroon is, lank sal onthou.

    Dit was vanuit die staanspoor duidelik dat die Parkies op ’n missie was. Boonop het die span oor die vasberadenheid beskik om hul doelwit enduit deur te voer.

    Volgens hoofafrigter Manny Ferreira was die span se dryfveer eenvoudig maar doelgerig.

    “Ons hoofdoel elke seisoen is om die  SA Kampioenskap te wen, maar ons moes areas vir verbetering identifiseer deur soveel wedstryde as moontlik te speel,” verduidelik hy.

    Hierdie ingesteldheid, om deur ervaring sterker te word, het aan die eerste span ’n balans van selfvertroue en nederigheid verleen.

    Die uitdaging was groot. Ferreira erken dat dit nie ’n maklike taak was om die span te slyp tot wat hulle in 2025 geword het nie.

    “Vanjaar het ek twee spanne met verskillende behoeftes afgerig, en elke speler het verantwoordelikheid vir haar rol aanvaar om die span te help slaag,” vertel hy.

    “Dit het tyd geneem – twee totaal verskillende spanne, maar met een wonderlike missie: om die SA’s te wen. Vir die eerste span het dit beteken dat elke speler haar unieke rol moes vervul en opofferings maak vir die groter geheel.”

    Menlopark se eerste span het sedert 2021 gereeld die halfeindstryd gehaal, maar die finale stoot na glorie wou nie kom nie.

    “Ons het gesukkel om die wenvoordeel te vind – tot nou toe. Ons het belangrike veranderinge aangebring, hoewel ons dit vir eers vertroulik sal hou.”

    Dié strategiese skuiwe het die span se aanslag verskerp. Een van die pilare van Menlopark se sukses is die filosofie dat geen individu belangriker is as die span nie.

    “Ons maak nie staat op uitstaande spelers nie; spanwerk dryf ons sukses,” sê Ferreira.

    “Daar is ’n aantal leiers, maar elke wedstryd het ’n nuwe held na vore gebring. Hierdie benadering het ’n span gevorm waarin elke speler ’n bydrae gelewer en waarin oorwinning ’n gesamentlike triomf geword het.”

    Die hoogtepunt van hierdie tog was die eindstryd van die SA’s teen Paarl Gimnasium. Parkies se eerste span het in ‘n naelbytstryd met 21–20 geseëvier, ’n oorwinning wat nie net ’n trofee beteken het nie, maar die vervulling van ’n jarelange droom: die eerste span se naam gegraveer as die beste in Suid-Afrika.

    Die seisoen was egter nie sonder sy beproewinge nie. Die Parkies se eerstespan het vyf keer vanjaar die knie gebuig: teen Bloemhof en Paarl Gimnasium by die La Rochelle-toernooi, teen Garsfontein in die liga, teen Affies in die GSS, en teen Helpmekaar in die Irene Seymore-toernooi.

    Teen hierdie agtergrond is Parkies se uiteindelike triomf des te meer merkwaardig. Elke nederlaag was ’n leerkurwe wat die weg gebaan het na nasionale glorie.

    Menlopark 2025 Uitslae:

    Vriendskaplik

    Edenvale 43–20

    Rustenburg 34–30

    NWU-toernooi

    Eldoraigne 54–13

    Piet Retief 55–15

    Halfeindronde: Transvalia 29–15

    Eindronde: Oos Moot 29–8

    Menlotoernooi

    Durbanville 28–20

    Oranje 21–13

    Diamantveld 29–13

    Paarl Girls 31–18

    Rand Park 32–12

    Monnas 29–21

    Bloemhof 26–18

    Duineveld 30–12

    La Rochelle-toernooi

    Dinamika 27–26

    Rustenburg 36–28

    Transvalia 38–24

    Bloemhof 29–30

    La Rochelle 30–29

    Montana 33–29

    Halfeindronde: La Rochelle 33–29

    Eindronde: Paarl Gimnasium 33–34

    Liga

    Zwartkop 33–16

    Oos Moot 27–21

    Eldoraigne 45–12

    Waterkloof 27–21

    Garsfontein 34–37

    GSS

    Monnas 20–18

    Kgetsiyatsie 43–7

    Randburg 30–14

    Kgapamadi 50–5

    Noordheuwel 20–17

    AHMP 19–24

    Irene Seymore-toernooi

    Helpmekaar 25–28

    Oranje 20–13

    Beverly Hills 43–29

    Semi: Klerksdorp 54–20

    Finaal: Helpmekaar 26–33

    SA’s

    Kgapamadi 50–15

    Duineveld 32–26

    Masibonisane 45–6

    Leifo Iziko 33–15

    Upington 26–17

    Halfeindronde: Framesby 30–15

    Eindronde: Paarl Gimnasium 21–20

  • Nasionale erkenning vir Bayisa en Moloise weerspieël Middies se sukses

    Nasionale erkenning vir Bayisa en Moloise weerspieël Middies se sukses

    Middelburg eerstes 2025.

    Hoërskool Middelburg se 2025-netbalseisoen het nie alleen prestasies op die baan opgelewer nie, maar ook die geleentheid gebied vir elke speler om te groei en vir die span om ’n hegte familie te word.

    Volgens afrigter Marli Nel was die seisoen oor die algemeen ’n groot sukses, met vernaam die indrukwekkende verteenwoordiging van Middies se dogters in provinsiale en nasionale spanne.

    “Ons het goeie verteenwoordiging geniet in die Mpumalanga-spanne,” sê Nel.

    “Boonop was Olwethu Bayisa in die oefengroep vir die SA o.19-span ingesluit, terwyl Thelma Moloi gekies was vir die SA o.17-span wat na Swaziland getoer het vir die Cossasa Games.”

    Hierdie prestasies beklemtoon die hoë gehalte van talent wat by die skool ontwikkel word, en dien as ’n inspirasie vir jonger spelers wat droom om dieselfde hoogtes te bereik.

    Die seisoen het nietemin ook sy uitdagings gehad.

    “Die eerste wedstryd wat ons verloor het in die liga was teen HTS Middelburg in die Mpumalanga-haleindstryd,” vertel Nel. “Dus was ons kans om na die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe deur te dring daarmee heen en het ons derde in Mpumalanga geëindig.”

    Alhoewel dié nederlaag uiteraard ’n groot teleurstelling was, het dit die spelers se vasberadenheid en gees versterk. Die feit dat die span steeds die derde plek in Mpumalanga verower het, getuig van harde werk en die gehalte van hul spel.

    Een van die uitstaande kenmerke van die seisoen was egter nie net die kragmetings op die baan nie, maar die bande wat van die baan af gesmee is.

    “Die wyse waarop die dogters saam gegroei het om onafskeidbare vriendskapsbande op te bou en op die baan as ’n eenheid gespeel het, was pragtig om te sien,” sê Nel.

    Hierdie vriendskappe het die fondament vir die span se prestasie gelê en gewys dat sport soveel meer behels as bloot punte op die telbord. Die span se spelpeil het nietemin ook heelwat groei getoon.

    “Ons aanvallende spel het die meeste verbeter deur die loop van die jaar, terwyl ons ook regtig geseënd was met ’n uitstekende verdedigende span.”

    Die kombinasie van kragtige verdediging en ’n ontwikkelende aanval het die nodige balans geskep wat die span se sukses gedryf het. Juis daarom is dit moeilik vir Nel om individue uit te sonder.

    “As ’n eenheid het die span bitter hard gewerk om bo uit te kom. Elke speler het insette gelewer tot en ’n sleutelrol gespeel in die wonderlike uitslae van 2025.”

    Hoërskool Middelburg se eerste span van 2025 sal onthou word vir spelers wat op nasionale vlak presteer het, ’n span wat bo hul uitdagings uitgestyg het en ’n kultuur van ware spanwerk, wat ‘n stewige grondslag lê vir die toekoms.

    Hoërskool Middelburg se uitslae van 2025:

    Wen Ermelo 20-13

    Wen Piet Retief 22-9

    Verloor PHS 15-24

    Gelykop Ben Vorster 21-21

    Verloor Nelspruit 13-18

    Verloor Affies 8-3

    Wen Merensky 33-4

    Verloor Garsfontein 17-22

    Wen Nelspruit 16-13

    Wen Kempton Park 28-15

    Verloor Transvalia 17-28

    Wen Eldoraigne 29-18

    Wen Ben Vorster 16-7

    Wen Steelcrest 62-14

    Wen HTSW 43-15

    Wen Eldoraigne 29-28

    Wen Ben Vortser 16-7

    Wen Delmas 43-18

    Wen HGH 54-20

    Wen Lydenburg 20-15

    Wen Ligbron 24-7

    Wen Lambalati 28-10

    Wen Kleinwater 16-10

    Wen HTS W 19-10

    Verloor HTS Middelburg 19-22

    Wen Ermelo 26-18

  • Top-4 Rusties leef hul droom

    Top-4 Rusties leef hul droom

    Rustenburg eindig vierde in Suid-Afrika.

    Die 2025-netbalseisoen sal vir lank in die geheue van Hoërskool Rustenburg se eerste span ingeprent bly.

    Nie slegs vanweë die oorwinnings en prestasie om onder die top-vier in die land te eindig nie, maar verál oor die pad wat die dogters saam geloop het; ’n pad van geloof, vriendskap, harde werk en die oortuiging dat klein Dawids ook reuse kan verslaan.

    Die hoogtepunt van die Rusties se seisoen was ongetwyfeld die Suid-Afrikaanse Skolekampioenskappe. Na maande se voorbereiding en selfondersoek het hulle presies op die regte tyd “gepeak”. Hulle het as eenheid gespeel en met vasberadenheid elke wedstryd aangepak.

    Die kwarteindstryd was die keerpunt, die oomblik toe hulle die sege verseker en besef het dat hulle amptelik deel uitmaak van die top-vier skole in die land.

    “Daardie oomblik was ongelooflik spesiaal,” vertel afrigter Danelle Bisschoff. “Ek kon sien hoe elke dogter haar droom uitleef, en dit was vir my die grootste beloning vir ’n jaar van harde werk.”

    Bisschoff se woorde weerspieël die gevoel van triomf wat nie net op die telbord gemeet is nie, maar in die harte van elke speler wat besef het hulle drome word bewaarheid.

    Die pad na glorie was natuurlik nie sonder struikelblokke nie. Rustenburg se dogters het egter naam gemaak as ’n span wat altyd weer opstaan, ál is die terugslag hoe groot. Geen nederlaag is as ’n einde gesien nie, maar eerder as ’n bousteen vir die volgende tree vorentoe.

    “Wat my die trotste maak, is dat die meisies nooit moed opgegee het nie,” sê Bisschoff. “Hulle het na elke terugslag teruggekom met nóg meer vasbyt en nóg meer vuur.”

    Hierdie ingesteldheid het die span se karakter gevorm, ’n onwrikbare wil om te wys dat vasbyt dikwels die sleutel tot oorwinning is. Hul geloof en die vriendskap wat deur die seisoen ontwikkel het, het die dogters ook nader aan mekaar gebring. Hulle het mekaar buite die baan leer ken, saam gelag, saam geleer en saam gebid.

    “Hierdie span se geloof en die manier hoe hulle mekaar dra, is iets besonders,” meen Bisschoff. “Hulle het geleer om nie net vir hulself te speel nie, maar vir mekaar. Dit is hoekom ek glo hulle só ‘n groot prestasie kon behaal.”

    Dié benadering beteken dat hulle nie net oorwinnings nagestreef het op spelvlak nie, maar ook in die waardes wat hulle as jong mense vorm, ’n band wat lank ná die laaste fluitjie sal voortleef. ’n Groot stap vorentoe was die merkbare groei in selfvertroue en ingesteldheid. Spelers het geleer om netbal as meer as ’n fisieke spel te beskou; dit is ook ’n kopspel.

    “Ek het regtig gesien hoe hulle nie net beter spelers, maar ook sterker mense geword het,” sê Bisschoff. “Selfvertroue is iets wat nie geleer kan word nie; dit word opgebou deur ervaring, en hierdie span het dit in oorvloed gewys.”

    Hierdie groei het ’n verskil gemaak in elke wedstryd; dit het hulle kalm gehou onder druk en slim laat speel toe dit die nodigste was.

    Hoewel elke speler ’n onmisbare rol in die span gespeel het, was daar name wat die afrigter se verwagtinge ver oortref het. Anya Matchett, die doeldoeltreffende aanvaller, en Nina Breetvelt, die vasberade verdediger, het keer op keer die span vorentoe gelei en die balans op die baan gehandhaaf.

    “Anya en Nina het my werklik verras vanjaar,” vertel Bisschoff. “Hulle het elke keer meer as wat nodig was op die baan gelos.

    “Elke dogter in die span het my egter op ’n manier verras. Hulle het almal eienaarskap geneem en nooit teruggestaan nie.”

    Wedersydse respek en waardering het aan die span ’n ekstra laag motivering gebied – dit het gewys dat niemand minder belangrik was nie en dat elke dogter se bydrae die geheel soveel sterker gemaak het.

    So het die seisoen vir Hoërskool Rustenburg se eerste span ’n tydperk van groei, geloof en oorwinning geword. Dit was ’n jaar waarin hulle nie net bewys het waartoe hulle in staat is nie, maar ook waarin hulle mekaar as vriende en spanmaats ontdek het.

    “Ek sal hierdie groep dogters altyd onthou as ’n span wat met die grootste harte gespeel het,” sluit Bisschoff af.  “Hulle was klein Dawids teen groot Goliats, maar hulle het bewys dat geloof, vasbyt en liefde vir die spel altyd die verskil kan maak.”

    Daarmee is die verhaal van ’n span verseël, nie net in die rekords van hul skool nie, maar in die herinneringe van almal wat die voorreg gehad het om hul reis te volg.

    Hoërskool Rustenburg se uitslae in 2025:

    Wen Edenvale 22-18

    Verloor Menlopark 20-21

    Wen Noordheuwel 31-30

    Wen Montana 35-31

    Wen Monument 35-24

    Verloor Helpmekaar 18-37

    Wen Fichardpark 39-14

    Wen EG Jansen 22-18

    Wen Cornwall Hill 22-12

    Verloor Affies 18-19

    Wen Tom Naude 29-10

    Wen Wilgerivier 45-17

    Wen Pietersburg 12-7

    Wen Trio 38-10

    Verloor Stellenberg 20-30

    Verloor La Rochelle 28-31

    Verloor Menlopark 28-36

    Verloor Bloemhof 31-33

    Wen Dinamika 34-20

    Verloor Transvalia 26-31

    Wen Sundowns 31-28

    Wen Dinamika 36-26

    Wen Bergsig 25-19

    Wen Sellypark 24-5

    Wen Fields College 42-16

    Wen Lebone 31-14

    Wen Grenswag 18-8

    Wen Grenville 47-7

    Wen Lichtenburg 31-10

    Wen Iketleetso 45-4

    Wen Ramoshere 52-5

    Wen Bergsig 40-13

    Wen Gimmies 29-19

    Wen KHS 34-15

    Verloor Shayamoya 15-20

    Verloor Paarl Gim 13-24

    Verloor Stellenberg 21-26

    Verloor AHMP 15-28

    Wen Potch Gim 25-22

    Verloor Helpmekaar 18-27

    Wen Framesby 28-26

    Wen Marais Viljoen 25-19

    Verloor Menlo 30-34

    Wen KHS 42-32

    Wen Ben Vorster 31-15

    Verloor Helpmekaar 24-35

    Wen Volkies 34-17

    Wen Rand Park 32-19

    Wen Kayamandi 59-2

    Wen Khaiso 47-9

    Wen Nelspruit 35-11

    Wen Voortrekker 31-21

    Wen Kgetsiatsie 42-8

    Wen Pietersburg 27-14

    Wen Noordheuwel 20-19

    Verloor Paarl Gim 22-19

    Verloor La Rochelle 17-24

  • Paarl Gim se  ‘geseënde seisoen’ van seges

    Paarl Gim se ‘geseënde seisoen’ van seges

    Paarl Gimnasium se eerste span het in 2025 ’n “geseënde seisoen” beleef, wat ‘n paar groot hoogtepunte ingesluit het. Aldus afrigter Juline van der Merwe.

    “As ek twee besonderse ervaringe mag uitsonder, sal dit die ABSA Wildeklawer-eindstryd wees waar ons as kampioenspan gekroon was, asook die Interskole-oorwinning tuis,” sê Van der Merwe trots.

    Bogenoemde seges het nie alleen getuig van Gim se hoë spelpeil nie, maar ook van hul vermoë om onder druk saam te staan en as kampioene uit die stryd te tree. Van der Merwe noem voorts dat die span bevoorreg was om teen topskole mee te ding, en dat sekere derby-geleenthede uitstaan.

    “Derby-seges oor spanne soos Affies en Oranje is altyd spesiaal,” meen sy. Oorwinnings teen hierdie tradisionele aartsvyande is veelseggend, aangesien beide skole bekend is vir hul sterk netbalkultuur en uitstekende spanne. Dit plaas Gim se prestasies in perspektief en beklemtoon die hoë vlak waarop hulle meeding.

    Wat die span se groei oor die afgelope seisoen betref, voeg Van der Merwe by: “Ons het bepaalde doelwitte aan die begin van die seisoen gestel, en elke dogter het die verwagting en hul verantwoordelikheid verstaan.

    “Om vir ’n skool soos Gim se eerste span te verteenwoordig is ’n absolute voorreg, maar ‘n mens dra ook ’n groot verantwoordelikheid. Vanjaar se span was taamlik jonk, dus kon die seisoen enige kant toe gegaan het. Die dogters het egter 100% in die visie en missie van Gim-netbal ingekoop, en het in hierdie kultuur só gegroei dat gemiddeld eenvouidig nie meer aanvaarbaar was nie.”

    Dié ingesteldheid het uiteindelik veroorsaak dat die span se ouderdom nie ’n beperking was nie, maar eerder ’n dryfveer om bo hul jare uit te styg. ‘n Aspek wat vir Van der Merwe uitgetroon het, was die span se kondisionering.

    “Ons dogters se algemene kondisionering het dramaties verbeter. Ons het rofweg hierdie seisoen 60 wedstryde gespeel, waaruit ons een ernstige besering opgetel het. Dit is die gevolg van ’n uitstekende kondisioneringsprogram, asook puik bestuur van ons dogters.”

    Hierdie fiksheidsvlak het nie slegs beserings beperk nie, maar ook verseker dat die span kompeterend kon bly regdeur ’n lang, strawwe seisoen. Van der Merwe het ook lig gewerp op hoe sy elke speler se rol waardeer.

    “Ek het vanjaar met 10 dogters in my span gespeel. Van die begin af, tydens ons doelwitstelling, het ons besef dat ons nie bo aan op die ranglys kon eindig deur met slegs sewe te speel nie.

    “Elke speler het haar rol en verantwoordelikheid verstaan. Ek het drie o.16-spelers vanjaar gehad wat ál drie my stoutste verwagtinge oortref het. Ek is nietemin ook dankbaar dat hulle kon staatmaak op die ondersteuning van ons seniors spelers.”

    Die balans tussen jong talent en ervare seniors het die span nie slegs versterk nie, maar ook die toekomstige sukses van Gim-netbal verseker.

    Die span se harde werk, toewyding en samehorigheid blyk duidelik uit hul indrukwekkende uitslae:

    Paarl Gimnasium se telling eerste:

    Teen Stellenberg 30-20
    Teen Collegiate 10-4 (wedstryd gestop agv reën)
    Teen Tygerberg 36-11
    Teen HMS 23-13
    Teen Parel Vallei 31-9
    Teen Sentraal 30-10
    Teen Nico Malan 16-8
    Teen Langenhoven 24-9
    Teen Pearson 26-10
    Teen Bellville 24-12
    Teen Randpark 25-9
    Teen Secunda 35-12
    Teen Duineveld 38-11
    Teen Helpmekaar 22-16
    Teen Oranje 20-17
    Teen Monument 29-9
    Teen Tygerberg 38-24
    Teen Waterkloof 48-16
    Teen Montana PTA 39-27
    Teen Sundowns 50-22
    Teen Upington 39-25
    Teen Transvalia 38-22
    Teen Bloemhof 33-32
    Teen Menlopark 34-33
    Teen Affies 34-21
    Teen La Rochelle 25-29
    Teen HMS 23-22
    Teen Oranje 27-19
    Teen Affies 22-17
    Teen Rustenburg 24-13
    Teen Shayamoya 36-12
    Teen Helpmekaar 18-15
    Teen Stellenberg 26-20
    Teen Menlopark 27-20
    Teen Potch Gim 31-13
    Teen HMS 19-18
    Teen Charlie Hofmeyr 56-20
    Teen Bloemhof 32-22
    Teen Parel Vallei 36-10
    Teen Worcester Gim 53-7
    Teen Tygerberg 33-26
    Teen Nomzano 45-19
    Teen Weston 64-6
    Teen Stellenberg 30-24
    Teen Durbanville 30-27
    Teen Adelaide 44-2
    Teen Ben Vorster 41-18
    Teen Tswelepole 40-11
    Teen Upington 39-23
    Teen Oranje 21-16
    Teen Affies 19-17
    Teen Rustenburg 22-19
    Teen Menlopark 20-21
    Teen HMS 24-16

  • Paarl Meisies se seisoen van groei: ‘Die dogters het leer kophou…’

    Paarl Meisies se seisoen van groei: ‘Die dogters het leer kophou…’

    Vir Paarl Meisies se eerste-netbalspan was 2025 ’n jaar wat oor veel meer gegaan het as bloot wedstryde en uitslae.

    Dit was ’n seisoen van gesamentlike groei, die bereik van doelwitte, die omhelsing van uitdagings en die trots om as ‘n hegte familie die baan te deel. Onder leiding van afrigter, Marli Visagie, het die span nie alleen hul stempel op die netbalbaan afgedruk nie, maar ook as mense en spanmaats gegroei.

    Een van die hoogtepunte van die jaar was hul deelname aan die gesogte Wildeklawer-toernooi – ’n platform waarop die topskole in Suid-Afrika mekaar die stryd aansê.

    “Om daar uit te draf en jouself in die geselskap van die land se topspanne te bevind, is ’n groot voorreg,” vertel Visagie.

    “Dat ons voorts tot die eindstryd kon deurdring en met slegs een doel teen Paarl Gim verloor het, wys die mate van karakter en gees waaroor hierdie groep dogters beskik.”

    Nog ’n oomblik wat uitstaan, was hul deelname aan die groot Paarl Interskole – ’n tradisie wat diep in die gemeenskap gewortel is. Alhoewel die oorwinning by hierdie geleentheid aan die ander kant van die dorp opgeëindig het, is die ervaring op sigself iets wat volgens die afrigter nie in woorde vasgevang kan word nie.

    “Om deel te wees van daardie besonderse atmosfeer en trots, is iets wat die spelers vir altyd sal bybly.”

    Die span se sukses het egter nie net in groot wedstryde gelê nie. Visagie verduidelik dat hulle die seisoen opgebreek het in kleiner mikpunte wat deurgaans gestel en bereik is.

    “Elke keer wanneer ons ’n doelwit afgemerk het – of dit nou groot óf klein was – was ’n hoogtepunt. Ons het geleer dat dit nie slegs oor trofeë of punte gaan nie, maar oor die reis om daar te kom. Elke toer, elke oefensessie en elke wedstryd het die jaar spesiaal gemaak.”

    Volgens Visagie lê die span se grootste groei in hul veerkragtigheid.

    “Ek hou daarvan om van mental toughness te praat. Hierdie dogters het geleer om kop te hou onder die moeilikste omstandighede. Hulle het kalm gebly in naelbyt-oomblikke en hul beste gelewer, ongeag hoe groot die druk was. Dit het die meisies regtig onderskei.”

    Wat haar ongelooflik trots maak, is die menslike groei binne die groep. Met ’n netjiese balans tussen ervare seniors en jonger spelers het daar natuurlike mentorskap en samewerking ontwikkel.

    “Ons het vroeg ’n hegte eenheid gevorm. Om elke speler se ontwikkeling te sien – nie bloot as netbalspeler nie, maar as mens – was merkwaardig. Hulle het mekaar se ondersteuningsraamwerk gevorm, en ek glo dit is juis daardie ‘familieband’ wat ons deur taai tye gedra het.”

    Al was daar nederlae en teleurstellings, het dit die span eenvoudig sterker gemaak. Hulle het vasgebyt, harder gewerk en telkens sterker teruggekeer. Dit is hierdie eienskap wat Paarl Meisies se 2025-span gedenkwaardig maak: ’n groep dogters wat die waarde van samewerking, vasberadenheid en karakter verstaan.

    Soos die afrigter dit saamvat: “Elke speler het ’n beter weergawe van haarself geword. Uiteindelik is dit die grootste oorwinning van die jaar.”

    Paarl Meisies Netbal 2025: Uitslae

    Sportmans Warehouse-toernooi

    • Wen teen Oranje (gestop weens reën) 5–1

    • Reën teen Outeniqua

    • Wen teen Nico Malan 20–10

    • Verloor teen Paarl Gim 12–23

    • Wen teen Sentraal 13–11

    • Wen teen Augsburg 37–5

    • Wen teen Pearson (gestop weens reën) 11–9

    • Wen teen Collegiate 27–10

    • Wen teen Bellville 22–17

    • Wen teen Tygerberg 27–13

    Menlo-toernooi

    • Wen teen Duineveld 29–19

    • Verloor teen Helpmekaar 15–18

    • Gelykop teen Monnas 15–15

    • Wen teen Secunda 30–9

    • Wen teen Dr Malan (gestop weens weerlig) 19–7

    • Wen teen Outeniqua 29–10

    • Reën teen Northclift

    • Wen teen Oranje 21–14

    • Wen teen Potch Gimnasium 20–11

    • Verloor teen Menlopark 18–30

    • Wen teen Rand Park 21–10

    Liga-wedstryde

    • Wen teen Worcester Gimnasium 33–7

    • Wen teen Parel Vallei 27–18

    • Verloor teen Paarl Gim 22–23

    • Wen teen Oranje 26–15

    • Hugenote (nie gespeel nie)

    • Wen teen Charlie Hofmeyer (met 20 doele)

    • Wen teen Bloemhof 34–21 en 34–29

    • Wen teen La Rochelle 30–25

    Wildeklawer-toernooi

    • Wen teen Marais Viljoen 26–16

    • Wen teen Framesby 32–19

    • Wen teen La Rochelle 26–21

    • Wen teen Menlopark 20–18

    • Wen teen Diamantveld 37–9

    • Verloor teen Oranje 18–20

    • Wen halfeind teen Helpmekaar 20–19

    • Verloor eindstryd teen Paarl Gim 18–19

    • Eindig 2de

    Topskole Wes-Kaap

    • Wen teen Swellendam 33–19

    • Wen teen Manzaomtambu 40–8

    • Wen teen Punt 43–15

    • Wen kwarteind teen Tygerberg 46–21

    • Wen halfeind teen La Rochelle 28–20

    • Verloor eindstryd teen Paarl Gim 20–28

    • Eindig 2de in Wes-Kaap

    Topskole Nasionaal

    • Wen teen Oranje 24–20

    • Wen teen Veritas 42–2

    • Wen teen Tshiawelo 36–6

    • Verloor kruiswedstryd teen La Rochelle 12–18

    • Wen teen HTS Middelburg

    • Verloor teen Shayomoya 19–21

    • Wen teen Pietersburg 26–8

    Paarl Interskole

    • Verloor teen Paarl Gim 16–24