SSPN Test Site

Author: slabuschagne

  • Menlo-Blou oorheers Tshwane Fast 5-toernooi

    Menlo-Blou oorheers Tshwane Fast 5-toernooi

    Menlopark o.18’s

    Menlo-Blou het koning gekraai in sowel die o.18- as o.15-ouderdomsgroep, tydens Saterdag se Tshwane Fast 5-toernooi in Pretoria.

    Dié netbalbyeenkoms, waaraan spanne van regoor die hoofstad deelgeneem het, het vir hope aksie en klipharde mededinging gesorg om opnuut die gees en talent van Tshwane se jong netbalspelers uit te lig.

    In die o.15-kategorie was daar geen tekort aan drama nie. In die uitklopwedstryde het die spanne hardnekkig baklei vir elke punt, met Menlo-Blou en Menlo-Rooi wat in die eindstryd teen mekaar te staan gekom het. Ná ’n spanningsvolle kragmeting het Menlo-Blou net-net daarin geslaag om met 22–20 as kampioen uit die stryd te tree.

    Die ander uitspele was ewe mededingend, met Oos-Moot, Hillview, Worker Beez, Baby Beez, Garsfontein en Zwartkop wat almal uitgehaal en gewys het. Die geesdrif van die spelers en die ondersteuning van die toeskouers het gesorg vir ’n besonderse atmosfeer.

    Die o.18’s het kragtig voortgebou op die aksie van die juniors, om met onwrikbare karakter mee te ding vir die plekke op die puntelys. Prestige en Queen Beez het in die wedstryd om die sewende plek gelykop gespeel met 31–31, terwyl Garsfontein met ’n indrukwekkende sege van 24–15 oor Zwartkop vyfde geëindig het. In die stryd om die bronsmedalje het Oos-Moot met 25-20 die botoon gevoer oor Queen Beez.

    Die toernooi het ‘n gepaste klimaks bereik met die o.18-eindstryd, waar Menlo-Blou en Menlo-Rooi weer mekaar die stryd aangesê het. Menlo-Blou het uiteindelik met gefokusde spel en doeltreffende afronding die oorhand verkry om met 24–18 as die Tshwane Fast 5-kampioen gekroon te word.

    Uitslae

    o.15:

    Posisie 7 & 8: Oos Moot 21, Hillview 17

    Posisie 5 & 6: Worker Beez 24, Baby Beez 25

    Posisie 3 & 4: Garsfontein 24, Zwartkop 18

    Finaal: Menlo Blou 22, Menlo Rooi 20

    o.18:

    Posisie 7 & 8: Prestige 31, Queen Beez 31

    Posisie 5 & 6: Garsfontein 24, Zwartkop 15

    Posisie 3 & 4: Oos Moot 25, Queen Beez 20

    Finaal: Menlo Blou 24, Menlo Rooi 18

  • Framesby, Nico Malan sorg vir volop netbalaksie

    Framesby, Nico Malan sorg vir volop netbalaksie

    Humansdorp het die afgelope naweek tot stilstand gekom met Nico Malan en Framesby wat mekaar die stryd aangesê het op die netbalbaan.

    Hoewel Framesby die laaste sê gehad het met hul o.18A-span wat in die hoofwedstryd geseëvier het, was die dag deurgaans mededingend, met Framesby wat uiteindelik 11 van die 17 wedstryde gewen het.

    Framesby se o.14-spanne het sterk begin, met die o.14A-span wat 31–21 en die o.14B’s wat 29–10 gewen het. Nico Malan se o.14B2-span het egter gewys dat hulle nie te versmaai is nie met ‘n oorwinning van 23–9 .

    In die o.15-ouderdomsgroep het Framesby gedomineer met hul A-, B- en C-spanne wat almal groot seges behaal het. Die o.15A’s het met 36–9 koning gekraai.

    Die o.16-afdeling was uiters mededingend. Framesby se A-span het met 23–13 gewen, terwyl Nico Malan se o.16B’s ’n puik oorwinning van 20–13 aangeteken het. Die o.16C-wedstryd was ’n naelbytstryd wat naelskraaps met 16–14 in Framesby se guns geëindig het.

    Framesby se o.18A-span het vir Nico Malan met 34–24 verslaan, maar Nico Malan se o.18B’s het met ’n sege van 19–13 hul naam hoog gehou. Die o.18C’s van Framesby het ook ’n wegholsege van 31–3 behaal.

    Uitslae:

    o.14A: Framesby 31, Nico Malan 21

    o.14B: Framesby 29, Nico Malan 10

    o.14B: Framesby 9, Nico Malan 23

    o.14C: Framesby 20, Nico Malan 12

    o.14C: Framesby 13, Nico Malan 20

    o.14D: Nico Malan 20, Framesby D 10

    o.14D: Nico Malan 24, Framesby F 12

    o.15A: Nico Malan 9, Framesby 36

    o.15B: Nico Malan 18, Framesby 35

    o.15C: Nico Malan 14, Framesby 28

    o.16A: Nico Malan 13, Framesby 23

    o.16B: Nico Malan 20, Framesby 13

    o.16C: Nico Malan 14, Framesby 16

    o.16D: Nico Malan 11, Framesby 34

    o.18A: Nico Malan 24, Framesby 34

    o.18B: Nico Malan 19, Framesby 13

    o.18C: Nico Malan 3, Framesby 31

  • Lister, Venter vier 100ste vir Pearson met sege oor Brandwag

    Lister, Venter vier 100ste vir Pearson met sege oor Brandwag

    Pearson se eerste netbalspan van 2025.

    Hoërskool Pearson se netbalspanne het die afgelope naweek hul seisoen met trots afgesluit teen Brandwag.

    Die eerste span het sterk geëindig met ’n sege van 31–18, maar Brandwag kon nietemin ook daarin slaag om te seëvier  in twee van die vier o.19-kragmetings. Pearson het in totaal 11 van die dag se 15 wedstryde oor die verskillende ouderdomsgroepe heen gewen.

    Sarah Venter vier haar 100ste wedstryd.

    ’n Spesiale mylpaal is bereik toe Amber Lister en Sarah Venter elk hul 100ste wedstryd vir Pearson se eerste span gespeel het, ’n besonderse prestasie wat dié spelers se lojaliteit en verbintenis tot die skool en die sport beklemtoon.

    Pearson bedank alle personeel, leerders en ouers vir hul volgehoue ondersteuning gedurende die seisoen.

    Uitslae:

    o.14A: Pearson 23, Brandwag 17

    o.14B: Pearson 27, Brandwag 13

    o.14C: Pearson 14, Brandwag 15

    o.14D: Pearson 6, Brandwag 12

    o.15A: Pearson 24, Brandwag 18

    o.15B: Pearson 30, Brandwag 14

    o.15C: Pearson 23, Brandwag 10

    o.16A: Pearson 29, Brandwag 20

    o.16B: Pearson 15, Brandwag 13

    o.16C: Pearson 18, Brandwag 12

    o.16D: Pearson 18, Brandwag 16

    o.19D: Pearson 7, Brandwag 13

    o.19C: Pearson 9, Brandwag 10

    o.19B: Pearson 23, Brandwag 15

    Eerstes: Pearson 31, Brandwag 18

  • Min te kies in opwindende interskole tussen Durbies en Stellies

    Min te kies in opwindende interskole tussen Durbies en Stellies

    Foto verskaf deur MB fotografie

    Durbanville en Stellenberg het die naweek kragte gemeet in ’n reeks skouspelagtige wedstryde wat elkeen tot die laaste fluitjie vir hope opwinding gesorg het.

    Die hoofwedstryd tussen die eerste spanne het verál ‘n naelbytstryd, en doele by die dosyne, opgelewer, met Durbies wat uiteindelik met 39-34 die wat deur die drif kon trek

    In die o.15A-wedstryd was dit Stellenberg wat die pyp gerook het met ook ’n naelskraapse oorwinning van 20-17. Durbanville het egter hul stem dik gemaak in die o.16A-afdeling, waar hulle met 23-17 vir Stellies die loef afgesteek het.

    Die o.17A-span van Durbanville het dapper weerstand gebied, maar moes uiteindelik met 20-24 die aftog blaas teen Stellenberg in nóg ’n kragmeting wat tot die doodsnikke in die weegskaal was.

    In die laaste wedstryd van die dag, tussen die o.19A-spanne, het groot geesdrif geheers met Durbanville se eerstes wat uiteindelik oorwinning gesmaak het met vyf doele. Dié interskole het bevestig dat beide skole oor heelwat talent beskik en dat die tradisionele wedywering tussen die skole nog kerngesond is.

    Uitslae:

    o.15A: Stellenberg 20, Durbanville 17
    o.16A: Durbanville 23, Stellenberg 17
    o.17A: Stellenberg 24, Durbanville 20
    o.19A: Durbanville 39, Stellenberg 34

  • Bloemhof se eerstes troef Oranje in interskole

    Bloemhof se eerstes troef Oranje in interskole

    Bloemhof se eerste netbalspan.

    Die jaarlikse interskole tussen C&N Meisieskool Oranje en HMS Bloemhof het oudergewoonte heelwat opwinding opgelewer, met kragmetings in die onderskeie ouderdomsgroepe wat ’n netjiese balans van oorwinnings en nederlae vir beide skole gebied het.

    Dit was egter Bloemhof wat uiteindelik in die eerstespan-wedstryd die septer geswaai het om die kroon te span op die dag se aksie.

    Die dag het afgeskop met die o.14A-spanne, waar Oranje ’n kragtige vertoning gelewer het om oortuigend met 25-13 oor Bloemhof te seëvier.

    Bloemhof het egter met menig teruggeslaan in die o.15A-afdeling om met 23-15 die oorhand te geniet. In die o.16A-kragmeting het Oranje weereens hul slag gewys deur vir Bloemhof met 21-17 te verslaan.

    Die eerstespan-stryd het die tuisskare in vervoering gehad, met Bloemhof se meisies wat daarin kon slaag om met 31-23 die pyp te rook en só die dag op ’n hoë noot af te sluit.

    Uitslae:
    o.14A: Oranje 25, Bloemhof 13
    o.15A: Bloemhof 23, Oranje 15
    o.16A: Oranje 21, Bloemhof 17
    o.19A: Bloemhof 31, Oranje 23

  • Fireballs speel Pretoria aan die brand in Fast5-toernooi

    Fireballs speel Pretoria aan die brand in Fast5-toernooi

    Fireballs, wenners van die Speed Beez Fast5-toernooi

    Die Speed Beez Fast5-toernooi, aangebied deur Hoërskool Montana, het die afgelope naweek nogmaals ’n naelbytfees van spoed, vaardigheid en spanwerk opgelewer.

    Netbalspanne van regoor Gauteng en verder het in drie ouderdomsgroepe aan die gewilde kortformaat-kompetisie deelgeneem, met Randpark High School se Fireballs wat in die senior kategorie koning gekraai het.

    Miche Oosthuizen wen beste o.13-toekenning.

    O.13-afdeling:
    In ’n afdeling wat bruis van jong talent het die PowerPlays (CVO Combined) as wenners uit die stryd getree ná ’n reeks indrukwekkende vertonings. Die Prestige Tigers (Prestige College) het die tweede plek beklee, met die Buzzing Divas (Rabboni) wat derde geëindig het. Miche Oosthuizen van PowerPlays is aangewys as die beste speler in hierdie ouderdomsgroep.

    O.15-afdeling:
    Die Garsies Pumas (HS Garsfontein) het die trofee omhoog gehou nadat hulle vir die Sky Guardians (E.G. Jansen) in die eindstryd verslaan het. Die derde plek is deur Worker Beez A (HS Montana) ingepalm, terwyl Baby Beez A (HS Montana) vierde geëindig het. Karla van der Nest van Garsies Pumas het met die titel as die beste speler in die o.15-afdeling weggestap.

    O.18-afdeling:
    In die senior-afdeling het Fireballs hul oorheersing bevestig deur vir die Garsies Jaguars (HS Garsfontein) in die eindstryd te troef. Die Sky Hunters (E.G. Jansen) het derde geëindig, met Queen Beez Groen (HS Montana) in die vierde posisie. Oluchi Ndubueze van Fireballs is as die beste speler in dié afdeling aangewys.

     ’n Fees van netbalkultuur

    Die Fast5-toernooi het nie alleen as ’n mededingende platform gedien nie, maar ook gemeenskapsbetrokkenheid en skoolgees gevier. Met hoëtempo-kragmetings, spanningsvolle eindrondes en individuele uitblinkers wat die kollig gesteel het, is dié toernooi ongetwyfeld ’n hoogtepunt op die skolenetbal-kalender.

    Karla is aangewys as beste speler in die o.15-kategorie.
    Oluchi is as speler van die o.18-toernooi aangewys.

    Eindstryde:

    o.13: Powerplays 22, Prestige Tigers 13

    o.15: Garsies Pumas 35, Sky Guardians 29

    o.18: Fireballs 28, Jaguars 15

  • Paarl Gim span kroon op spogseisoen met Interskole-sege

    Paarl Gim span kroon op spogseisoen met Interskole-sege

    Anja Arangies, Mari Snyman en Kyla Smit vier hul 5oste wedstryd vir Paarl Gim.

    Die immergewilde Interskole tussen Paarl Gimnasium en Paarl Girls High het die afgelope naweek die Boland aan die gons gehad, met klipharde kragmetings regdeur die ouderdomsgroepe.

    Die dag, wat op Paarl Gim se velde plaasgevind het, het ‘n gepaste klimaks beleef toe die tuisspan in die o.19A-wedstryd koning gekraai het met 24-16 om die seisoen in styl af te sluit.

    Paarl Gim, wat tans tweede op die nasionale ranglys pryk en as die voorste skool in die Wes-Kaap beskou word, het met oorgawe hul talent tentoongestel en afrigter, Juline van der Merwe, het haar trots uitgespreek oor haar span se puik vertoning regdeur die jaar.

    Afrigter Juline van der Merwe wat met trots 2025 se netbaljaar afsluit.

    “Hierdie groep het deurgaans netbal van hoogstaande gehalte gelewer. Ek is ongelooflik trots op hul vasberadenheid, dissipline en passie vir die spel,” het sy gesê.

    Slegs drie spelers van die o.19A-span sluit vanjaar hul skoolloopbane af, met agt kernspelers wat oorbly. Dit is inderdaad ‘n fantastiese vooruitsig vir Paarl Gim, maar dié stabiliteit en ondervinding bied ook ‘n taamlike kopseer vir die skole wat volgende jaar teen hulle te staan kom.

    Die Interskole was besonder betekenisvol vir ‘n aantal spelers wat  mylpale bereik het. Anja Arangies, Mari Snyman en Kyla Smit het elkeen hul 50ste wedstryd vir Paarl Gim se eerste span gespeel – ‘n bewys van hul toewyding en volgehoue prestasie – terwyl Anja Smit geskiedenis gemaak het deur haar 100ste wedstryd vir die skool te speel.

    Met drie oorwinnings teenoor Paarl Girls se twee, het Paarl Gim hulle reputasie as een van die top-netbalskole in die land gestand gedoen. Voorts was die interskole nie bloot ‘n viering van sport nie, maar ook van gemeenskapsbetrokkenheid, lojaliteit en skooltrots – waardes wat diep gewortel is in beide hierdie Bolandse instansies.

    Uitslae:

    o.14A: Paarl Gim 30, Paarl Girls 18

    o.15A: Paarl Gim 15, Paarl Girls 17

    o.16A: Paarl Gim 22, Paarl Girls 18

    o.17A: Paarl Gim 20, Paarl Girls 22

    o.19A: Paarl Gim 24, Paarl Girls 16

  • Parkies kraai koning met een doel by DStv Schools Challenge

    Parkies kraai koning met een doel by DStv Schools Challenge

    Hoërskool Menlopark het hul reputasie as een van die land se voorste netbalskole gestand gedoen deur as kampioen gekroon te word by die afgelope naweek se SASN DStv Schools Netball Challenge. Parkies het dit vermag deur vir Paarl Gimnasium met 21-20 te troef in straks die spannendste kragmeting van die toernooi.

    Kyk weer na al die aksie op SuperSport Schools (www.supersportschools.com).

    Vir Menlopark het Lisa van Vuuren (V) briljant op verdediging vertoon en talle belangrike balle onderskep. Gabby Smith (D) het met haar akkuraatheid en beweging onder die paal waardevolle doele aangeteken, terwyl die kaptein, Minette Boshoff (S), op senter spel meesterlik georkestreer het met haar visie en leierskap.

    Paarl Gim was egter nie sonder sterre van hul eie nie. Anja Arangies (VV) het as verdediger uitmuntende spel gelewer met haar werkstempo, terwyl Nicola van Heerden (V) as verdediger indrukwekkende werk verrig het om talle aanvalle te stuit met goeie druk wat toegepas en onderskeppings wat verkry was.

    Menlopark se pad na die eindstryd het begin met ’n sege van 30-15 oor Framesby in die kwarteindronde, en in die halfeindstryd het hulle vir La Rochelle met 21-15 geklop. Paarl Gim moes hard werk vir hul plek in die finaal, toe hulle eers taai teenstand van Affies moes oorkom vir ‘n oorwinning van 19-17 in die kwarteindstryd, en daarna het hulle vir Rustenburg Hoërskool (RHS) met 22-19 uitgeskakel.

    La Rochelle het in die uitspeelwedstryd om die derde plek met 24-17 teen Rustenburg gewen om die bronsmedalje te verower.

    Verskeie ander spanne het ook hulle stempel op die toernooi afgedruk. Shayamoya het met ’n kragtige vertoning vir Upington met 29-14 geklop, Oranje het vir Duineveld met 19-14 getroef, en Paarl Girls het oortuigend met HTSM afgereken (27-13).

    Rand Park het verras deur vir Potch Gim met 23-17 te klop, en Voortrekker het vir Ben Vorster met 27-22 uitgeskakel. Leifa Iziko het ook goed gevaar om met 27-17 teen Bukit Jalil te wen, terwyl Pearson ’n stewige sege van 25-12 oor Sentraal behaal het.

    Hoewel daar uiteindelik net een wenner kon wees, het die diepte van talent en gees onder al die deelnemende skole die puik standaard van skolenetbal in Suid-Afrika herbevestig.  Vanjaar se uitgawe van die SASN DStv Schools Challenge sal beslis onthou word as een van die mededingendste en opwindendste nóg.

    Finale ranglys:

    Botho: 1. Menlopark; 2. Paarl Gim; 3. La Rochelle; 4. Rustenburg; 5. AHMP; 6. Framesby; 7. Noordheuwel; 8. Nelspruit; 9. Shayamaya; 10. Oranje; 11. Paarl Girls; 12. PHS; 13. Upington; 14. Duineveld; 15. HTSM; 16. KHS; 17. Rand Park; 18. Voortrekker; 19. Ben Vorster; 20. Potch Gim; 21. Pearson; 22. Leifo Iziko; 23. Sentraal; 24; Bukit Jalil.

    Ubuntu: 1. Nomzamo; 2. Lambolathi; 3. Kgapamadi; 4. Diepdale; 5. Tshiawelo; 6. Kgetsiyatsie; 7. Chief Ampie; 8. Veritas; 9. Tswelopele; 10. Khaisa; 11. Ntsu; 12. Ramotshere; 13. Masibonisane; 14. Adelaide Gim; 15. Themnalethu; 16. Friersdal; 17. Khanyisa; 18. Kayamandi.

    Kwarteindronde:

    Botho: Menlopark 30, Framesby 15; AHMP 17, Paarl Gim 19; La Rochelle 26, Nelspruit 14; Noordheuwel 19, RHS 20; Shayamaya 29,, Upington 14; Duineveld 14, Oranje 19; Paarl Girls 27, HTSM 13; KHS 13, PHS 24; Potch Gim 17, Rand Park 23; Ben Vorster 22, Voortrekker 27; Leifa 27, Bukit Jalil 17; Pearson 25, Sentraal  12.

    Ubuntu: Chief Ampie 15, Kgapomadi 25; Lambolathi 20, Veritas 8; Tshiawelo 12, Nomzamo 26; Diepdale 22, Kgetsiyatsie 17; Ramotshere 17, Adelaide 16; Masibonisane 15, Tswelelopele 28; Friersdale 8, Khaiso 24; Ntsu 12, Thembalethu 8.

    Halfeindronde:

    Botho: Menlopark 21, La Rochelle 15; Paarl Gim 22, RHS 19.

    Ubuntu: Kgapamadi 15, Namzamo 20; Lambolathi 29, Diepdale 17.

    Uitspeelwedstryde:

    Botho: 3/4: La Rochelle 24, RHS 17; 5/6: AHMP 28, Framesby 15; 7/8: Noordheuwel 24, Nelspruit 18; 9/10: Shayamaya 16, Oranje 12; 11/12: Paarl Girls 26, PHS 8; 13/14: Upington 24, Duineveld 20.

    Ubuntu: 3/4: Kgapamadi 28, Diepale 25; 5/6: Tshiawelo 24, Kgetsiyatsie 17; 7/8: Chief Ampie 21, Veritas 17; 9/10: Tswelapele 29, Khaiso 14; 11/12: Ntsu 18, Ramotshere 12; 13/14: Adelaide 13, Masbonisane 16; 15/16: Thembalethu 27, Friersdale 6.

    Ubuntu:

    Eindstryd:

    Botho: Menlopark 21, Paarl Gim 20

    Ubuntu: Nomzamo 25, Lambolathi 17

  • Topskole slaggereed vir DStv Schools Challenge

    Topskole slaggereed vir DStv Schools Challenge

    Die SASN DStv Schools Challenge 2025 skop Vrydag 25 Julie af by Hoërskool Dr. EG Jansen en bring van Suid-Afrika se sterkste netbalskole saam op een platform.

    Met die eerste dag wat uitsluitlik aan rondomtalie-wedstryde gewy word, is daar heelwat op die spel vir skole soos die Afrikaanse Hoër Meisieskool (Affies), Menlopark, Paarl Girls’ High, Meisieskool Oranje, Rand Park, La Rochelle, Sentraal en Noordheuwel. Hierdie topspanne sal alles in die stryd werp om ‘n plek in Saterdag se uitspeelrondes te verseker.

    Een van die vroeë hoogtepunte van die toernooi is die ontmoeting tussen Paarl Girls’ High en Meisieskool Oranje, wat reeds Vrydagoggend om 08:45 in aanvang neem. Hierdie twee tradisionele netbalreuse bring sowel spoed as tegniese vernuf na die baan en ondersteuners kan uitsien na ‘n wedstryd wat tot die laaste sekonde fyn gebalanseerd sal wees.

    Later die dag, om 14:45, betree Oranje weer die baan teen Rand Park, voordat Paarl Girls en Rand Park mekaar om 16:15 takel in ’n wedloop om punte wat moontlik die groep se einduitslae kan bepaal.

    In Groep F, met ’n sterk Wes-Kaapse teenwoordigheid, kom La Rochelle om 08:45 teen Noordheuwel van Gauteng te staan in kragmeting waar rotsvaste verdediging aan die orde van die dag behoort te wees. Om 10:15 wag nóg ‘n uitdaging op La Rochelle  teen Sentraal van die Vrystaat, ‘n wedstryd waar strategie deurslaggewend kan wees.

    Om 09:30 val die kollig op Affies wat vir Pearson van die Oos-Kaap die stryd aansê. Hierdie kragmeting tussen twee spanne wat albei dinamies is op die aanval, kan straks die tempo van Groep B bepaal. Kort daarna, om 11:45, pak Menlopark vir Duineveld in ‘n kragmeting wat bepalend kan wees vir die Pretoriaanse span se hoop om ’n plek in die uitspeelrondes te bespreek.

    Die kompetisie is straf en elke punt tel, met die eerste dag se uitslae wat bepaal watter spanne die volgende dag aan die uitspeelrondes deelneem.

    Saterdag 26 Julie skop af met die Ubuntu-uitspele regdeur die oggend, met die eindstryd van die Ubuntu-afdeling  om 13:00, gevolg deur die Botho-eindstryde om 13:45. Hier sal die room van die oes oplaas sake uitspook om die titel.

    Met die gehalte van talent wat tot dusver vanjaar tentoongestel is, beloof die 2025-uitgawe van die SASN DStv Schools Challenge om een van die opwindendste en mededingendste in die toernooi se geskiedenis te wees.

  • Tshwane dra kroon by Telkom Kampioenskap

    Tshwane dra kroon by Telkom Kampioenskap

    Die Telkom Nasionale Kampioenskap het vanjaar nogmaals gesorg vir opwindende netbalaksie en ‘n eindstryd wat lank onthou sal word.

    In dié toernooi waarin van Suid-Afrika se sterkste distrikte kragte gemeet het, het Tshwane uiteindelik met die kroon weggestap ná ‘n indrukwekkende oorwinning van 36–26 oor Johannesburg in die eindstryd.

    Die groepfase het die toeskouers reeds op die punte van hul stoele vasgenael gehou en ‘n paar verrassings opgelewer. Tshwane het weggespring met ‘n sege van 28–22 oor Dr.KK, terwyl Johannesburg hul titelaspirasies bevestig het met ‘n reeks indrukwekkende vertonings, insluitende ‘n oorwinning van 41–36 oor die mededingende Cape Winelands.

    Tshwane het sterk teruggeveg met oortuigende seges oor Harry Gwala (40–21), Cape Winelands (38–25) en Zululand (54–30), wat hul as sterk aanspraakmakers bevestig het. Dr.KK het hul stempel verder afgedruk met oorwinnings teen Harry Gwala (33–26), Zululand (47–37) en Manguang (33–29), maar kon nie die pas volhou teen die sterk span van Johannesburg nie.

    Die eerste halfeindstryd tussen Johannesburg en Dr.KK het gewys waarom eersgenoemde as vroeë gunsteling beskou is. Hulle het Dr.KK met 46–25 van die baan af gespeel om hul plek in die eindstryd te bespreek. In die tweede halfeindstryd het Tshwane hul momentum behou met ‘n sege van 39–29 oor Cape Winelands.

    Cape Winelands het ná hul nederlaag teen Tshwane teruggekeer met ’n stewige vertoning in die uitspeelwedstryd om die derde plek, deur vir Dr.KK met 26–18 te verslaan en die bronsmedalje huis toe te neem.

    Die eindstryd tussen Johannesburg en Tshwane het ’n kragvertoning opgelewer tussen twee tegnies-vaardige en goed voorbereide spanne. Tshwane se verdediging was rotsvas en hul aanval klinies, wat uiteindelik die deurslag gegee het vir ‘n beslissende sege van 36–26 oor Johannesburg om die titel te verower.

    Sterre van die toernooi: Top-35 o.18-spelers

    Die volgende spelers is as die Top-35 o.18-spelers van die toernooi aangewys, as erkenning vir hul talent, werksetiek en bydrae tot hul spanne se sukses:

    1. Iselle Acker

    2. Kimberley Ameras

    3. Suné Barnard

    4. Shiloh Berardelli

    5. Sumila Bingwa

    6. Zinthle Bothile

    7. Niskinle Bukosini

    8. Skyla Eley

    9. Keevy-Ann Fourie

    10. Danelle Grobler

    11. Njabilo Hlophe

    12. Lola Klijnstra

    13. Lemoni Joubert

    14. Georgia Leppan

    15. Leanne Liebenberg

    16. Dudu Malindi

    17. Giselle Maritz

    18. Chris-Marie Marx

    19. Nienke McKay

    20. Vinah Mokgatle

    21. Junicke Newman

    22. Hlengiwe Ngcobo

    23. Primrose Ngwenya

    24. Keyana Philander

    25. Minieke Serfontein

    26. Cwengile Silandela

    27. Lichwayoto Tshandu

    28. Sibabalwe Tutu

    29. Zoë Vallentyn

    30. Marli van der Merwe

    31. Kayla Venancio

    32. Marcia Venter

    33. Janie Visser

    34. Emilia Vorster

    35. Sophia Wium

    Toernooi-uitslae

    Dr.KK 22, Tshwane 28
    Johannesburg 41, Cape Winelands 36
    Dr.KK 33, Harry Gwala 26
    Cape Winelands 44, Zululand 41
    Johannesburg 37, Manguang 21
    Tshwane 40, Harry Gwala 21
    Tshwane 38, Cape Winelands 25
    Dr.KK 47, Zululand 37
    Harry Gwala 32, Johannesburg 44
    Manguang 22, Cape Winelands 41
    Zululand 30, Tshwane 54
    Johannesburg 38, Dr.KK 25
    Cape Winelands 38, Dr.KK 31
    Tshwane 39, Manguang 28
    Johannesburg 50, Zululand 21
    Cape Winelands 34, Harry Gwala 32
    Dr.KK 33, Manguang 29
    Johannesburg 30, Tshwane 27

    Halfeindstryde:
    Johannesburg 46, Dr.KK 25

    Tshwane 39, Cape Winelands 29

    3de/4de Plek:
    Dr.KK 18, Cape Winelands 26

    Eindstryd:
    Johannesburg 26, Tshwane 36