SSPN Test Site

Author: slabuschagne

  • Delta maak stem dik by SASN All Ages 2025

    Delta maak stem dik by SASN All Ages 2025

    Die afgelope naweek se SASN All Ages 2025-toernooi was waarlik ’n viering van Suid-Afrika se opkomende netbaltalent. Met provinsies van regoor die land wat in verskillende ouderdomsgroepe deelgeneem het, is daar nie slegs met mening meegeding op die baan nie, maar ook uitnemendheid en sportmangees uitgestal wat uiters belowend is vir die toekoms van netbal in die land.

    SA Top 12

    ‘n Hoogtepunt van die toernooi was die aankondiging van die SA Top 12-span, wat erkenning gee aan uitstaande individuele prestasie. Die gekose spelers het hul plekke in die span verdien op grond van hul vaardighede, spel-intelligensie en onwrikbare deursettingsvermoë. Die SA Top 12 vir 2025:

    • Francesca Kante-Heumou (Gauteng)

    • Chloe van den Berg (Noordwes)

    • Orefile Magoro (Limpopo)

    • Lianel Groenewald (Wes-Kaap)

    • Deborah Oviahon (Gauteng)

    • Oluchi Ndubueze (Gauteng)

    • Ella Lisa Steenkamp (Wes-Kaap)

    • Milan Engelbrecht (Gauteng)

    • Imitha Mdaka (Gauteng)

    • Charmaine Tsvangira (Gauteng)

    • Nadine van Hoogdalem (Gauteng)

    • Mike Scholtz (Wes-Kaap)

    Die SASN All Ages 2025-toernooi het ‘n reeks opwindende wedstryde opgelewer wat die diepte van talent in Suid-Afrikaanse junior netbal tentoongestel het.

    In die o.16-eindstryd het Delta met ’n indrukwekkende vertoning vir Willows met 23–9 verslaan. Delta het van die eerste afgooi reeds hul stempel afgedruk en momentum regdeur behou. In die uitspeelstryd om die derde plek het Lambda naelskraaps vir Oaks met 13–12 getroef.

    Volgens afrigter Marcelle Fourie, onder wie se passievolle mentorskap die Delta o.16-span koning gekraai het, was dit vernaam hul verdediging, asook die selfvertroue en akkuraatheid van haar doelskieters, wat die deurslag gegee het. Sy het vir Sylah Wilson uitgesonder vir haar indrukwekkende werk onder die paal, en beskryf Wilson as ’n speler wat elke geleentheid doeltreffend benut.

    Die o.15-eindstryd het gesorg vir naelbytaksie met Delta wat hier ook met 14–13 die pyp gerook het teen Gamma. Dit het ‘n uiters strategiese kragmeting afgegee met rotsvaste verdediging aan albei kante, maar Delta het met hul fokus en vasberadenheid die knoop deurgehak. Inyathi het vir Lambda met 12–10 geklop om derde te eindig.

    In die o.14-afdeling, het Gamma ’n kragtige vertoning gelewer om Delta met 16–10 in die eindstryd te verslaan. Gamma het hul oorheersing in die sirkel beklemtoon met blitsige bewegings en presiese afronding. Die uitspeelstryd om die derde plek was nog ’n riller, met Oaks wat die Sharks net-net met 13–12 baasgeraak het in die doodsnikke.

    Oaks het in die o.13-eindstryd met 22-14 geseëvier teen Inyathi. Oaks se sukses was grootliks te danke aan uitstekende samewerking tussen die aanvallers en verdedigers. Inyathi het dapper weerstand gebied, maar kon uiteindelik nie die blitsaanvalle van Oaks keer nie. Lambda het derde geëindig deur vir Gamma net-net met 9–5 uit te stof.

    In die o.12-afdeling het Gamma hulself as kampioene bevestig met ’n oortuigende sege van 20–9 oor Cedars. Gamma het met puik afronding hul teenstanders oorrompel en van meet af aan beheer geneem. In die stryd om die derde plek het Oaks met 9–7 vir Delta geklop in nóg ’n naelbytstryd.

    Die SASN All Ages 2025-toernooi het weereens bevestig dat Suid-Afrika se netbaltoekoms in goeie hande is. Die gees van mededinging, hoë gehalte van spel en wêreldklas-afrigting het van hierdie toernooi ’n monumentale mylpaal gemaak vir elke deelnemer. Met die SA Top 12-span wat aangewys is en talle ander sterre in wording, is dit duidelik dat Suid-Afrikaanse netbal gereed is om nuwe hoogtes te bereik.

    Finale Puntestand (o.12-o.16)

    o.12 

    1.Gamma

    2.Cedars

    3.Oaks

    4.Delta

    5.Rubies

    6.Ikhala

    7.Willows

    8.Iqhude

    9.Inyathi

    10.Bakwena

    11.Lynx

    12.Ndlovu

    o.13

    1.Oaks

    2.Inyathi

    3.Lambda

    4.Gamma

    5.Willows

    6.Delta

    7.Sharks

    8.Cedars

    9.Cheetahs

    10.Ndlovu

    11.Ikhala

    12.Bakwena

    o.14

    1.Gamma

    2.Delta

    3.Oaks

    4.Sharks

    5.Willows

    6.Morula

    7.Cedars

    8.Lambda

    9.Jaguars

    10.Iqhude

    11.Inyathi

    12.Diamonds

    o.15

    1.Delta

    2.Gamma

    3.Inyathi

    4.Lambda

    5.Oaks

    6.Willows

    7.Cedars

    8.Sharks

    9.Cheetahs

    10.Mopani

    11.Namibia

    12.Rubies

    o.16

    1.Delta

    2.Willows

    3.Lambda

    4.Oaks

    5.Gamma

    6.Lynx

    7.Morula

    8.Mooka

    9.Cedars

    10.Jaguars

    11.Inyathi

    12.Whales

  • Gabby Smith: Die stem van haar pa, die hart van haar span

    Gabby Smith: Die stem van haar pa, die hart van haar span

    Van die eerste oomblik dat sy haar voetjies op ’n netbalbaan geplant het as ’n glimlaggende graadeentjie, het Gabby Smith geweet dat sy ’n tweede tuiste gevind het.

    Vir baie mense is sport ’n stokperdjie; vir Gabby was dit ’n anker – ’n plek waar sy nie net kon speel nie, maar kon lééf. Sy vertel met ’n sagte nostalgie hoe sy nooit weer van die baan af kon wegstap nie, omdat iets in daardie eerste wedstryd haar hart vasgegryp en nooit weer losgelaat het nie.

    Deesdae is sy een van Hoërskool Menlopark se spogspelers, bekend vir haar presisie, haar koelkop-doele en haar natuurlike leierskap in die sirkel. Vir Gabby gaan haar posisie as doel egter nie slegs oor doele aanteken nie – dit het te doen met konneksie, met vertroue, met iemand wat jou onvoorwaardelik bystaan wanneer die druk jou asem wil wegslaan.

    “Die spesiaalste is die konneksie met my hulpdoel,” sê sy. “Om te weet ek is daar vir haar, en sy vir my. Dit is iets wat min mense in hul lewe het – iemand wat jou waarlik onderskraag, wanneer jy op jou swakste is, en jou dra.”

    Gabby het al oomblikke in die spel, wat ander spelers vreesbevange sou gelaat het, met ’n stille vasberadenheid aangegryp.  Soos in die Fast 5-eindstryd, wat sy as een van haar trotste oomblikke beskou.

    Die opposisie het voorgeloop en, met skaars 15 sekondes speeltyd oor, moes sy ’n haas onmoontlike driepuntdoel skiet. Met die wêreld se lawaai wat stil geword het in haar ore, het sy die doel geneem – en geseëvier. Dit is Gabby Smith: kalm in onsekerheid, vasberade wanneer ander twyfel.

    Selfs die dapperstes onder ons word egter soms deur die lewe gekniehalter. Vroeër vanjaar was Gabby se wêreld op sy kop gekeer toe sy haar pa verloor het.

    Haar pa was nie net haar grootste ondersteuner nie, hy was die stem langs die baan wat harder as enige toeskouer bemoedig het, wat elke wedstryd, elke oefensessie, elke droom met haar gedeel het.

    “Almal kon sy stem hoor – nie net ek nie,” onthou sy.

    Om sonder hom langs die kantlyn te speel was, en is, steeds een van die moeilikste dinge wat sy moes leer doen. Sy het egter nie die rou en die pyn alleen gedra nie.

    Haar spanmaats, wat sy as haar beste vriendinne beskryf, het elke tree saam met haar gestap — van die kerkbank met sy begrafnis tot langs die baan wanneer die herinneringe te erg raak.

    “Ek weet nie hoe ek dit sonder hulle sou gemaak het nie,” sê sy met ’n kraak in haar stem, maar tóg met ’n glimlag van dankbaarheid.

    En, haar pa se stem is nie stil. Voor elke wedstryd buig sy haar kop in ’n stille geselsie met hom. Dan raak sy haar skoen aan – die een waarop sy sy naam geskryf het — en sy weet: “Hy skree nog steeds vir my, net nou van bo af.”

    Vir Gabby is netbal ’n erfenis én ’n belofte. Sy dra haar pa se trots met elke gooi, elke doel en elke sweetdruppel op die baan. Haar droom is eenvoudig maar hemelhoog: om eendag vir Suid-Afrika te verteenwoordig, die Protea op haar bors te dra en te wys dat niks haar kan verhoed om te bereik waarvoor sy bestem is nie.

    “Ek wil hom trots maak en vir hom wys ek het dit gemaak,” sê sy, vasberade en met ’n vonkel in die oog wat geen traan ooit kan blus nie.

    Haar boodskap aan ander jong spelers: “Die lewe kan jou rondruk en in moeilike situasies plaas, maar hoe jy opstaan en daardeur werk, dit is wat regtig saak maak. Moet nooit moed verloor of opgee omdat dit makliker lyk nie – druk deur, want die Here weet presies waartoe jy in staat is.”

    Wanneer ’n mens Gabby Smith op die baan sien, sien jy nie net ’n doel nie – jy sien ’n dogter wat nog steeds haar pa se stem hoor, ’n spanmaat wat ander dra soos sy gedra is, en ’n toekomstige Protea wat elke doel skiet met die vlam van herinnering en hoop in haar hart.

  • Affies behou titel as Gauteng-kampioen, Rand Park verras en bespreek plek in nasionale eindronde

    Affies behou titel as Gauteng-kampioen, Rand Park verras en bespreek plek in nasionale eindronde

    Affies Meisies en Parkies in aksie FOTO: Marius Esterhuizen

    Die Afrikaanse Hoër Meisieskool het sy titel as kampioen van die DStv Schools Challenge in Gauteng behou. Die span van Pretoria het vir Menlopark in die eindstryd van die toernooi met 24-19 verslaan.

    Kyk weer na al die aksie op SuperSport Schools (www.supersportschools.com).

    Affies se kaptein, Kristi Koekemoer, asook Arette Burger, het deurgans uitstaande spel vir die kampioene gelewer.

    Die eerste twee kwarte teen Parkies was ‘n titaniese stryd met Affies wat na die eerste kwart ‘n voorsprong van 6-5 geniet het. Die span het sy voorsprong van 12-10 teen halftyd gerek.

    Vir die Parkies het Minette Boshoff, Mila Stander en Lisa van Vuuren blink vertonings in die eindstryd opgedis.

    Affies het hul plek in die eindstryd met ‘n sege van 30-13 in die halfeindronde oor Rand Park High bespreek. Rand Park was die verrassing van die toernooi.

    Die span van Johannesburg het met sy vierdie plek vir homself ‘n plek in die nasionale eindronde van die DStv Schools Challenge bespreek. Menlopark het tot die eindstryd danksy ‘n sege van 22-17 oor Noordheuwel deurgedring. Die Nories sal ook later vanjaar aan die nasionale toernooi deelneem.

    Rand Park het beslis die verrassing van die dag gelewer met hul aanhoudende vasbyt en slim spel — ‘n besonderse hoogtepunt was sy 21-20 sege oor Montana, en sy wen oor Monument wat vir hulle ‘n plek in die halfeindstryd teen die magtige Affies besorg het.

    Al het hulle nie deurgedring na die eindstryd nie, het hulle met hul vierde plek bewys dat hulle onder die voorste spanne in Gauteng tel.

    Helpmekaar Kollege van Johannesburg het met ‘n vyfde plek net uitgemis om tot die volgende ronde deur te dring. Die span van die Goudstad se nederlaag teen Menlopark (19-21) in die kwarteindronde het teen ‘n duur prys gekom.

    Vir Hoërskool Garsfontein sal sy afrigter, Carin Strauss, voel dat dit ‘n geval was van so naby maar tog so ver. Die Garsies moes op die ou einde met die sewende posisie tevrede wees, maar het twee van hul belangrike uitspeelwedstryde met net ‘n enkele doel verloor.

    Hulle het teen Rand Park High in die kwarteindronde met 28-29 die knie gebuig en daarna ook teen Oos-Moot in ‘n belangrike uitspeelwedstryd met 23-24 verloor.

    In die Ubuntu-been van die kompetisie het Tswelopele met die titel as Gauteng-kampioen weggestap. Tswelopele het vir Diepdale met 28-26 in ‘n spannende eindstryd verslaan. Drie spanne van dié been sal later vanjaar aan die nasionale eindronde deelneem.

    Daar het geen twyfel bestaan wie die derde beste span in die been was na Kgetsiyatsie vir Ennerdale met 36-4 die loef in die uitspeelwedstryd vir die posisie afgesteek het nie.

    Finale Ranglys — DStv Schools Challenge: 

    1. Affies; 2. Menlopark; 3. Noordheuwel; 4. Rand Park High; 5. Helpmekaar; 6. Oos-Moot; 7. Garsfontein; 8. Redhill; 9. Monument; 10. Montana; 11. St Mary’s Waverley; 12. Transvalia; 13. Kempton Park; 14. Florida; 15. Edenvale; 16. Hoërskool Randburg; 17. Marais Viljoen; 18. Dinamika; 19. Heidelberg Volkskool.

    Die 2025-weergawe van die DStv Schools Challenge het weereens bevestig: Gauteng se netbal is nie net ‘n spel nie — dit is ‘n vertoonvenster van talent, deursettingsvermoë en ongekende passie. Die voorste spanne het hul plekke verdien, dit gaan interessant wees om te sien wie top gaan eindig by die SA’s.

    Al die uitslae: 

    Groep A: Montana 48, Shoshunguve 3; Rand Park 25, Marais Viljoen 21; Rand Park 21, Montana 20; Marais Viljoen 56, Shoshunguve 0; Rand Park 43, Shoshunguve 3; Montana 26, Marais Viljoen 19.

    Groep B: Menlopark 20, Monument 18; Dinamika 28, Kgetsiyatsie 10; Menlopark 27, Dinamika 19; Monument 44, Kgetsiyatsie 5; Monument 27, Dinamika 15; Menlopark 55, Kgetsiyatsie 7.

    Groep C: Garsfontein 37, Diepdale 14; Garsfontein 31, Randburg 18; Randburg 31, Diepdale 20.

    Groep D: Helpmekaar 43, Phahama 1; Helpmekaar 38, Edenvale 18;  Edenval 30, Phahama 7.

    Groep E: Affies 20, St Mary’s Waverley 9; Affies 53, Khutlo-Taro 1; St Mary’s Waverley 30, Khutlo-Taro 4.

    Groep F: Transvalia 40, Tswelopele 11; Noordheuwel 53, Tswelopele 3; Noordheuwel 28, Transvalia 18.

    Groep G: Florida 48, Ennerdale 3; Kempton Park 21, Florida 15; Kempton Park 56, Ennerdale 2.

    Groep H: Heidelberg Volkskool 21, Oos-Moot 16; Oos-Moot 26, Redhill 25; Redhill 24, Heidelberg Volkskool 12.

    UITSPEELWEDSTRYDE 

    Botho: Rand Park 24, Monument 17; Menlopark 30, Randburg 14; Garsfontein 33, Edenvale 26; Helpmekaar 28, St Mary’s Waverley 7; Affies 33, Transvalia 12; Noordheuwel 32, Florida 10; Oos-Moot 23, Kempton Park 12; Redhill 28, Montana 28; Marais Viljoen 25, Dinamika 19; Edenval 25, Monument 21; St Mary’s Waverley 20, Randburg 13; Transvalia 23, Kempton Park v18; Montana 23, Florida 14; Marais Viljoen 22, Heidelberg Volkskool 17; Monument 27, Transvalia 23; Montana 28, St Mary’s Waverley 19; Kempton Park 33, Edenvale 19; Florida 17, Randburg 13; Dinamika 21, Heidelberg Volkskool 20.

    Ubuntu: Shoshunguve 12, Ratanda 10.

    KWARTEINDSTRYDE 

    Botho: Affies 28, Oos-Moot 12; Rand Park 29, Garsfontein 28; Menlopark 21, Helpmekaar 19; Noordheuwel 22, Redhill 20.

    Ubuntu: Diepdale 23, Phahama 17; Tswelopele 40, Ratanda 1; Kgetsiyatsie 26, Shoshunguve 4.

    HALFEINDSTRYDE 

    Botho: Menlopark 22, Noordheuwel 17; Affies 30, Rand Park 13.

    Ubuntu: Tswelopele 34, Kgetsiyatsie 17; Diepdale , Ennerdale .

    UITSPEELWEDSTRYDE 

    Botho – 3/4: Noordheuwel 20, Rand Park 17; 5/6: Helpmekaar 26, Oos-Moot 15; 7/8: Garsfontein 28, Redhill 21; 9/10: Monument 19, Montana 13; 11/12: St Mary’s Waverley 23, Transvalia 17; 13/14: Kempton Park 17, Florida 9; 15/16: Edenvale 28, Randburg 21.

    Ubuntu – 3/4: Kgetsiyatsie 36, Ennerdale 4; 5/6: Phahama 19, Ratanda 7.

    EINDSTRYDE 

    Botho: Affies 24, Menlopark 19.

    Ubuntu: Tswelopele 28, Diepdale 26.

  • Netbalkoors loop hoog aan die vooraand van DStv Schools Challenge

    Netbalkoors loop hoog aan die vooraand van DStv Schools Challenge

    Vanjaar se DSTV Schools Netball Challenge vind dié naweek in Gauteng plaas en beloof om een van die mededingendste skoletoernooie van die seisoen af te gee.

    Met spanne van regoor Gauteng, van gevestigde netbalkragte soos Menlopark, Helpmekaar, Affies en Volkskool tot opkomende spanne soos Garsfontein, Transvalia en Rand Park, is die tafel gedek vir ‘n uitmuntende tentoonstelling van talent, vaardigheid en vasberadenheid.

    Topwedstryde om dop te hou

    Die aksie skop Saterdagoggend om 8.00 vm af met die A-afdeling (o.19 A), wat kragmetings soos Marais Viljoen teen Rand Park en Montana teen Shoshunguve insluit. Hierdie wedstryde bied ‘n vroeë blik op watter spanne hul stempel kan afdruk. Menlopark en Monument pak mekaar aan in die o.19 B-groep, terwyl Garsfontein en Diepdale sake uitspook in o.19 C.

    Helpmekaar se o.19 D-span sal daarop uit wees om hul reputasie gestand te doen wanneer hulle teen Phahama en later Edenvale te staan kom, terwyl Transvalia hul veldtog in die o.19 F-groep loods teen Tswelopele, met Noordheuwel wat daarna volg. Volkskool en Oos-Moot, albei bekende name in Gauteng-netbal, sê mekaar die stryd aan in die o.19 H-groep, met Volkskool wat ook teen Redhill te staan kom later.

    Halfeind- en eindronde

    Die uitspeelrondes neem die middag in aanvang, met oorkruiswedstryde tussen die toppresteerders in elke groep (A1 teen B2 en C1 teen D2). Die spanne sal derhalwe uithaal om ‘n plek in die halfeindronde te verseker. Die kompetisie verskerp Sondag met die eindstryd wat geskeduleer is vir 10.15 vm, waar die uiteindelike kampioenspanne in die onderskeie ouderdomsgroepe gekroon sal word.

    Die DSTV Challenge is meer as bloot ‘n toernooi en bied ’n platform waarop Gauteng se beste jong netbalspelers hulle talent voor afrigters en ondersteuners kan uitstal. Nie alleen word spanne se tegniese vaardighede getoets nie, maar ook hul uithouvermoë, spanwerk en strategiese insig.

    Met strawwe kompetisie, hope talent en ‘n volgepakte program oor twee dae, is die DSTV Schools Netball Challenge beslis nie ‘n geleentheid om mis te loop nie.

  • Valia deur na Gauteng met naelbytsege oor Dokkies

    Valia deur na Gauteng met naelbytsege oor Dokkies

    Carla van Schalkwyk mik vir ‘n doel teen Dr.Malan, met Christephie Strydom wat probeer keer.

    Transvalia se eerste span het Saterdag hul plek as naaswenners van die Sedibeng-liga verseker met ’n klipharde en spannende sege van 18–17 oor Dr. Malan.

    Dié uitspeelwedstryd moes bepaal wie met Heidelberg Volkskool deurdring na die Gauteng-kampioenskap, en die atmosfeer het behoorlik gekook met afwagting.

    Dit het van meet af aan ‘n nek-aan-nek-stryd afgegee, met nie een van die twee spanne wat noemenswaardige momentum kon opbou gedurende die eerste drie kwarte nie en elke doel wat swaarverdiend was. In die laaste kwart het Transvalia egter daarin geslaag om ‘n kortstondige greep op die kragmeting te verkry met ’n indrukwekkende aanvalsreeks van vier opeenvolgende doele, wat aan hulle ‘n waardevolle voorsprong besorg het.

    Dokkies het geweier om handdoek in te gooi en doelgerig teruggeveg om die agterstand stelselmatig te laat krimp, wat gesorg het vir die naelbyteinde. Valia het egter koelkop gebly om die oorwinning met ‘n enkele doel te beklink.

    Transvalia gaan dus met Heidelberg Volkskool, wat reeds as ligawenners gekroon is, vir die Sedibeng-distrik verteenwoordig by die komende Gauteng-kampioenskap. Dit sal uiters interessant wees om te sien hoe dié twee spanne opweeg teen die beste in die provinsie.

    Uitslag:

    Transvalia 18, Dr.Malan 17

  • Monties sluit aan by Affies, Parkies en Garsies in Gauteng-uitdunne

    Monties sluit aan by Affies, Parkies en Garsies in Gauteng-uitdunne

    Met die Afrikaanse Hoër Meisieskool, Menlopark en Garsfontein wat reeds hul plekke vir die Gauteng-uitdunne in die Jubilee-liga verseker het, het die fokus verskuif na die oorblywende spanne wat meegeding het om die laaste, waardevolle plek. Die afgelope week se uitspeelwedstryde was dus van kritieke belang vir spanne soos Montana, Oos-Moot, Waterkloof en Midstream, met Monties wat uiteindelik die pyp gerook het.

    Montana, wat die vierde posisie in die liga beklee, het puik vertoon om ál hul uitspeelwedstryde te wen en uiteindelik die eindstryd teen Oos-Moot met 26-20 te beklink. Hulle het met elke kragmeting momentum opgebou, onder andere met ’n indrukwekkende sege van 36-25 oor Midstream in die halfeindstryd, en vroeër met oortuigende seges oor DSG (30-6) en Oos-Moot (25-13) in die groepfase.

    Oos-Moot, wat vyfde op die puntelys lê, het hulself as sterk aanspraakmakers onderskei deur Waterkloof in die halfeindstryd met 16-14 uit te skakel. Dit was ’n dramatiese en klipharde stryd waarin Oosies se verdediging en deursettingsvermoë uiteindelik die deurslag gegee het. Hoewel hulle uiteindelik teen Montana vasgeval het, het Oos-Moot se pad na die eindstryd getuig van karakter en verbeterde spanwerk.

    Waterkloof en Midstream het elk oomblikke van briljantheid gehad tydens die uitspeelrondes. Klofies het beïndruk met vroeë seges oor Centurion (35-13) en Gerrit Maritz (34-11). Oos-Moot se veerkragtigheid het egter hul aspirasies in die halfeindstryd beëindig. Midstream het met Gerrit Maritz en Centurion afgereken, maar kon nie Montana se aanvalskrag weerstaan in die halfeindstryd nie.

    Met die finale uitslae van die uitspele nou bekend, is dit duidelik dat Montana hul regmatige plek onder die top vier verdien, terwyl Oos-Moot hul seisoen met trots kan afsluit.

    Eerskomende naweek kom ál die top skole van Gauteng bymekaar om die top-vier skole te bepaal wat deurdring na die nasionale ronde. Dit beloof uitmuntende netbal en wedywering van hoogstaande gehalte.

    Uitslae:

    Groepfase:

    Montana 24, Cornwall 20

    Oos-Moot 32, DSG 14

    Waterkloof 35, Centurion 13

    Midstream 29, Gerrit Maritz 9

    Gerrit Maritz 29, Centurion 10

    Waterkloof 26, Midstream 16

    DSG 10, Cornwall 25

    Montana 25, Oos-Moot 13

    DSG 6, Montana 30

    Centurion 16, Midstream 23

    Cornwall 17, Oos-Moot 25

    Gerrit Maritz 11, Waterkloof 34

    Halfeindronde:

    Montana 36, Midstream 25

    Waterkloof 14, Oos-Moot 16

    Eindstryd:

    Montana 26, Oos-Moot 20

  • Naweek van waarheid breek aan in JOMO-liga

    Naweek van waarheid breek aan in JOMO-liga

    Met die eindstreep in sig gaan hierdie naweek se kragmetings in die JOMO-liga beslissend wees om te bepaal watter vier spanne deurdring na die uitspeelrondes vir die Gauteng-kampioenskap.

    Na ’n seisoen vol dramatiese oomblikke, fyn afronding en uitklophoue, is dit nou of nooit vir die spanne wat nog hoop om hul plek in die uitspeelstruktuur te verseker.

    Helpmekaar, wat tot dusver nog onoorwonne is, is bo aan die puntelys en reeds gewaarborg van ’n plek in die top-vier. Helpies het die afgelope week weer hul oorheersing tentoongestel met ’n kragtige oorwinning van 39–10 oor Linden – ’n span wat self nog klou aan ‘n laaste kans om die uitspeelronde te haal.

    Noordheuwel sit gemaklik tweede, maar hul posisie is nie onaantasbaar nie. Hulle het net-net met 26–25 teen Rand Park gewen in een van die spannendste kragmetings van die week. Dié uitslag stel Rand Park se posisie op die puntelys nou in gevaar, met Monument wat heelwat selfvertroue kon put uit hul oortuigende sege van 37–15 oor Krugersdorp.

    Florida het hul kanse ook aan die lewe gehou met ’n naelskraapse sege van 20–19 oor Randburg, maar benodig sowel ‘n gunstige uitslag as ‘n bonuspunt om enigsins ’n realistiese kans te staan om in die top-vier te glip.

    Met die puntelys wat as volg daar uitsien, is daar geen ruimte vir fouteer meer nie:

    1. Helpmekaar

    2. Noordheuwel

    3. Rand Park

    4. Monument

    5. Linden

    6. Krugersdorp

    7. Florida

    8. Randburg

    Slegs die boonste vier spanne sal deurdring na die Gauteng-uitspele. Met ‘n enkele ronde wedstryde oor, kan daar nog heelwat skommelinge op die puntelys plaasvind.

    Monument en Rand Park is in direkte kompetisie vir die vierde en laaste plek, en selfs Noordheuwel kan nie hul posisie as vanselfsprekend aanvaar nie. Helpmekaar is die enigste span wat gemaklik kan asemhaal, maar vir die res is dit ’n stryd tot die laaste fluitjie.

    Hierdie naweek gaan nie slegs bepaal wie deurdring nie – dit gaan ook aandui wie die ware kampioenspanne is.

    Uitslae:

    Krugersdorp 15 , Monument 37

    Helpmekaar 39, Linden 10

    Randburg 19, Florida 20

    Rand Park 25, Noordheuwel 26

  • Keira Pienaar: Gedryf deur die droom, geanker in dankbaarheid

    Keira Pienaar: Gedryf deur die droom, geanker in dankbaarheid

    Keira Pienaar, aanvallende vleuel van Hoërskool Helpmekaar se eerste span, is die tipe speler wat met elke beweging op die baan haar passie vir die spel uitstraal.

    Haar netbalreis het reeds op sesjarige ouderdom begin toe sy haar eerste wedstryd gespeel het. Vandag, meer as 10 jaar later, het daardie eerste liefde gegroei in iets veel dieper: ‘n lewenstyl van toewyding, opoffering en doelgerigtheid. Hoewel haar primêre posisie nog altyd HD was, het sy haar spel uitgebrei na AV, waar sy nou met selfvertroue en strategiese aanvoeling in die aanvallende sone skitter.

    Wat Keira die meeste geniet van haar rol in aanval, is om doele aan te teken. Vir haar gaan dit nie bloot oor punte op die telbord sit nie – dit gaan oor trots, oor ‘n bydrae lewer, oor oomblikke wat wedstryde kan swaai. Haar effektiwiteit in die sirkel weerspieël ’n spelpeil wat deur harde werk en fokus ontwikkel het.

    ‘n Groot hoogtepunt tot dusver was haar deelname aan die Wildeklawer-toernooi, wat sy beskryf as een van die opwindendste en onvergeetlikste ervarings van haar loopbaan. Haar gunstelingwedstryd was teen AHMP, waar elke pas, elke beweging en elke doel ’n toets van karakter en spanwerk gebied het. Sulke kragmetings vorm spelers en Keira steek telkens hand op wanneer dit saak maak.

    Met die oog op die toekoms, het Keira ‘n duidelike doelwit: om deel uit te maak van die Indoor Netbal Wêreldbekerspan in 2026. Dit is ’n droom wat sy met toewyding nastreef, en elke oefensessie, elke wedstryd, is ’n tree nader aan daardie groter prentjie.

    Haar reis word nie slegs gemotiveer deur ambisie nie, maar ook deur ’n diep liefde vir haar span en hul samehorigheid. Volgens Keira is haar spanmaats ’n voortdurende bron van energie en motivering. Hulle ondersteun mekaar, vier saam en staan saam in moeilike tye – dit is presies wat ’n span sterk maak.

    Wanneer dit kom by rolmodelle, hoef Keira nie ver te kyk nie. Haar ouers is haar grootste inspirasie. Hulle is altyd teenwoordig, ondersteun haar onvoorwaardelik en speel ’n sleutelrol in haar sukses. Hulle is haar fondasie – haar dryfveer om altyd haar beste te wees.

    ’n Aanhaling wat Keira se benadering tot die spel perfek opsom, is iets wat haar afrigter gereeld sê: “Fire in the belly, ice in the mind.” Hierdie woorde resoneer sterk met haar. Op die baan bring sy passie, maar ook kalmte en fokus – die perfekte balans tussen vuur en beheer.

    Wanneer sy afskakel van die spel en na haar eie kopruimte terugkeer, doen sy dit met musiek wat haar anker. Haar gunsteling liedjie, Gratitude” deur Brandon Lake, herinner haar om elke geleentheid met dankbaarheid aan te gryp. En, om nooit selftevredenheid met selfvertroue te verwar nie.

    Keira Pienaar is meer as net ’n speler. Sy is ’n toonbeeld van vasberadenheid en karakter. Of sy nou op HD of AV diens doen, of haar droom vir die wêreldverhoog navolg, sy dra altyd dieselfde vuur in haar hart, en dieselfde yskoue fokus in haar denke. Met sulke eienskappe is ly dit geen twyfel dat Keira se naam nog lank in netbalkringe sal weerklink nie.

    Indoor-netbal SA 2026 oefengroep
  • Heidelberg Volkies bo, Valia en Malan veg om oorlewing in Sedibeng-liga

    Heidelberg Volkies bo, Valia en Malan veg om oorlewing in Sedibeng-liga

    Ná weke van strawwe mededinging op die netbalbaan, het Heidelberg Volkskool hul posisie bo aan die punteleer van die Sedibeng-liga verseker.

    Met hul eerste span wat elke kragmeting met oortuiging aangepak het, het Volkies as streekswenners reeds gekwalifiseer vir die Gauteng-uitspele.

    Die tweede en laaste plek vir Gauteng-kwalifikasie is egter nog op die spel, en word volgende week bepaal in ‘n wedstryd tussen Transvalia en Hoërskool Dr. Malan.

    Beide spanne het gedurende die seisoen indrukwekkende uitslae behaal. Die komende kragmeting sal dus nie slegs bepaal wie na die volgende fase deurdring nie, maar ook wie die grootste groei en karakter gedurende die liga getoon het.

    Die atmosfeer in die streek is een van afwagting, aangesien spelers, afrigters en ondersteuners uitsien na ‘n bepalende botsing tussen twee puik spanne. Die wenner sluit by Volkskool aan as die streek se verteenwoordigers op provinsiale vlak — ‘n prestasie waarvoor die spanne deurgaans hard gewerk het.

    Dr. Malan vs Vereeniging Gimnasium – Uitslae:

    O/14A: Dr. Malan 31, Vereeniging Gim 17
    O/14B: Dr. Malan 22, Vereeniging Gim 0
    O/14C: Dr. Malan 14, Vereeniging Gim 8
    O/15A: Dr. Malan 37, Vereeniging Gim 3 
    O/15B: Dr. Malan 43, Vereeniging Gim 2
    O/15C: Dr. Malan 45, Vereeniging Gim 0
    O/16A: Dr. Malan 10, Vereeniging Gim 26
    O/16B: Dr. Malan 13, Vereeniging Gim 23
    2de Span: Dr. Malan 24, Vereeniging Gim 7
    1ste Span: Dr. Malan 47, Vereeniging Gim 15

    Transvalia vs Driehoek – Uitslae:

    1stes: Transvalia 33, Driehoek 18
    2des: Transvalia 13, Driehoek 10
    17A: Transvalia 27, Driehoek 18
    17B: Transvalia kry punte
    16A: Transvalia 23, Driehoek 18
    16B: Transvalia 7, Driehoek 18
    15A: Transvalia 10, Driehoek 23
    15B: Transvalia 25, Driehoek 8
    15C: Transvalia 16, Driehoek 6
    14A: Transvalia 14, Driehoek 23
    14B: Transvalia 14, Driehoek 21
    14C: Gelykop

    Heidelberg Volkskool vs Overvaal – Uitslae:

    O/14A: Volkskool 16, Overvaal 20
    O/14B: Volkskool 26, Overvaal 9
    O/15A: Volkskool 30, Overvaal 10
    O/15B: Volkskool 39, Overvaal 4
    O/16A: Volkskool 18, Overvaal 11
    O/16B: Volkskool 44, Overvaal 11
    O/17A: Volkskool 41, Overvaal 7
    3de Span: Volkskool 20, Overvaal 16
    2de Span: Volkskool 26, Overvaal 11
    1ste Span: Volkskool 56, Overvaal 8

  • Alles op die spel in JOMO-liga

    Alles op die spel in JOMO-liga

    Die JOMO-liga is besig om ‘n klimaks te bereik, met die spanne wat alles in die stryd werp om ‘n plek in die Gautengse uitkloprondes te verseker. Slegs die top-twee spanne van elke groep kwalifiseer vir die volgende fase van die kompetisie en, met slegs ‘n handjievol wedstryde oor, raak elke telling krities.

    Die week se hoogtepunte

    In een van die kragvertonings van die week het Monument ‘n oortuigende sege van 30–12 oor Florida behaal. Helpmekaar het hul onoorwonne segetog voortgesit deur vir Noordheuwel met 34–20 te klop. Daarmee behou Helpies hul posisie bo aan die puntelys.

    Rand Park het hul aanspraak op ‘n uitspeelplek versterk met ‘n sege van 38–15 oor Randburg, terwyl Linden ‘n naelbytstryd teen Krugersdorp met 24–20 gewen het. In nóg ‘n uiters spannende stryd het Florida hul veerkragtigheid tentoongestel deur vir Randburg net-net met 20–19 te troef.

    Met slegs een uitspeelplek wat oorbly, het die JOMO-liga se puntelys drasties verminder tot drie spanne wat nog ‘n realistiese kans staan om deur te dring na die Gauteng-uitspele. Helpmekaar is in ‘n dominante posisie bo aan die puntelys en het reeds hul plek in die uitspeelrondes verseker danksy ‘n reeks onoorwonne vertonings. Hul konsekwente spel en doeltreffende aanvallende struktuur bied aan hulle ‘n onbetwisbare voordeel.

    Noordheuwel lê tweede en hoewel hulle teen Helpies vasgeval het, het hulle genoeg wedstryde gewen om steeds in ‘n gunstige posisie te wees. Tóg is hul plek nie gewaarborg nie, en die druk is enorm vir hul laaste wedstryd teen Rand Park, wat goeie momentum bou en in hul nekke blaas.

    Rand Park, in die derde plek, is slegs een sege weg van ‘n uitspeelplek. Na hul oortuigende oorwinning oor Randburg is hulle sterk op dreef en sal hulle lot bepaal word in die beslissende kragmeting met Noordheuwel, wat beloof om ‘n naelbytstryd van formaat af te gee.

    Monument, Linden, Krugersdorp en Florida het reeds té veel punte verloor om nog in aanmerking geneem te word, wat beteken dat die uitspeelstryd nou woed tussen Helpmekaar, Noordheuwel en Rand Park.

    Uitslae:

    Monument 30, Florida 12
    Noordheuwel 20, Helpmekaar 34
    Randburg 15, Rand Park 38
    Linden 24, Krugersdorp 20
    Florida 20, Randburg 19