SSPN Test Site

Author: slabuschagne

  • Parkies, Helpies, Paarlse meisies maak stem dik by Absa Wildeklawer

    Parkies, Helpies, Paarlse meisies maak stem dik by Absa Wildeklawer

    Vanjaar se Absa Wildeklawer-netbaltoernooi het op 1 Mei afgeskop met kragmetings van die hoogste gehalte waarin die land se top skole-netbalspanne hul vaardigheid, vasberadenheid en spanwerk uitgestal het.

    Dit was van meet af aan duidelik dat daar verbete geveg sou moes word vir elke oorwinning.

    Menlopark het hul uitstekende spelpeil voortgesit met indrukwekkende uitslae teen Framesby (29–18), Diamantveld (26–13) en Oranje (26–18). Die Parkies is beslis een van die spanne om dop te hou in Kimberley.

    Paarl GHS het self op die voorgrond getree met ‘n oorwinning van 26–16 oor Marais Viljoen en het ook met Framesby (32–19) en La Rochelle (26–21) afgereken, danksy uitmuntende afronding. Stellenberg het Potch Gimnasium oorrompel met 38–13 en, met hul rostvaste verdediging, ook seges van 26–21 en 21–16 oor Rustenburg en Shayamoya behaal.

    Paarl Gimnasium was blitsig en doelgerig op die aanval, en het hul stempel afgedruk met oorwinnings oor Affies (21–17), Rustenburg (24–13) en Shayamoya (36–12). Helpmekaar het bewys dat hulle ‘n span is om mee rekening te hou deur ook vir Affies (19–15) te klop, asook ‘n oorweldigende sege van 37–8 oor Potch Gimnasium.

    La Rochelle het ‘n taai stryd teen Oranje met 21–20 gewen en ook vir Marais Viljoen met 22–12 verslaan. Framesby het die dag goed afgesluit met ‘n sege van 28–24 oor Marais Viljoen.

    Die eerste dag in Kimberley het ongetwyfeld die toon aangegee, met die res van die gewilde Absa Wildeklawer-toernooi wat beloof om selfs opwindender netbal op te lewer.

    Uitslae:

    Paarl GHS 26, Marais Viljoen 16
    Shayamoya 20, Rustenburg 15
    AHMP 15, Helpmekaar 19
    Oranje 17, Diamantveld 13
    Menlopark 29, Framesby 18
    Potch Gim 13, Stellenberg 38
    AHMP 17, Paarl Gim 22
    Oranje 20, La Rochelle 21
    Menlopark 26, Diamantveld 13
    Potch Gim 8, Helpmekaar 37
    Shayamoya 16, Stellenberg 21
    Paarl GHS 32, Framesby 19
    La Rochelle 22, Marais Viljoen 12
    Paarl Gim 24, Rustenburg 13
    AHMP 35, Potch Gim 17
    Oranje 18, Menlopark 26
    Paarl GHS 26, La Rochelle 21
    Shayamoya 12, Paarl Gim 36
    Rustenburg 21, Stellenberg 26
    Marais Viljoen 24, Framesby 28

  • Heidelberg Volkies gekroon as NWU Prestige-kampioen

    Heidelberg Volkies gekroon as NWU Prestige-kampioen

    Heidelberg Volkskool het hul uitstekende NWU Prestige-veldtog stylvol afgesluit deur vir Montana met 30–23 te troef in die finaal van dié netbalreeks.

    In ‘n naelbytstryd het Volkies se tegniese vaardighede en strategiese spel uiteindelik die deurslag gegee. Hul verdediging het Montana se aanval effektief aan bande gelê, terwyl hulle self met akkuraatheid en spoed punte aangeteken het.

    Montana het dapper weerstand gebied en tot die bitter einde aanhou geveg, maar Volkskool se toonaangewende spel het hulle as welverdiende kampioen onderskei.

    In die uitspeelstryd om die derde plek het Hoërskool Klerksdorp hul staal gewys deur vir Potchefstroom Gimnasium met 25–18 te klop. Klerksdorp se konsekwente spel en vinnige reaksievermoë het aan hulle die bronsmedalje besorg. In die wedstryd om die vyfde plek het Marais Viljoen en Hoërskool Pietersburg teen mekaar te staan gekom, met Marais Viljoen wat met ‘n kragtige vertoning die oorhand verkry het om met 37–25 te seëvier.

    Zwartkop het sesde plek opgeraap nadat hulle vir  Wesvalia met 32–20 verslaan het. Die Zwarries het hul teenstanders met slim spelpatrone en doeltreffende afronding uitoorlê. Die sewende en agtste plekke is gedeel tussen Potchefstroom Volkskool en Bergsig Akademie, nadat hulle in ‘n uiters spannende kragmeting met 24–24 gelykop gespeel het.

    In die stryd om die negende plek het Die Anker daarin geslaag om vir Hugenote met 25–19 die loef af te steek, danksy ‘n stewige tweede helfte waarin hulle hul teenstanders se aanvalle doeltreffend gestuit het. Lichtenburg het die 10de plek ingeneem deur vir Jeugland met 28–23 te troef.

    Die NWU Prestige-reeks het weereens vanjaar die ongelooflike diepte en talent van skolenetbal in Suid-Afrika beklemtoon. Heidelberg Volkskool se onwrikbare vasberadenheid en spanwerk het hulle verdienstelik as kampioene van 2025 gekroon.

    Finale uitslae:

    [ninja_tables id=”70812″]

  • Affies kraai koning teen Garsfontein

    Affies kraai koning teen Garsfontein

    Vrydag se netbalkragmetings tussen Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria en Hoërskool Garsfontein het ‘n kragtige aanduiding gegee van wie tans die botoon voer in Pretoria.

    Affies het in elke ouderdomsgroep onwrikbaar presteer om hul teenstanders van Garsfontein oortuigend te klop.

    In die o.14A-wedstryd het Affies met 25–16 geseëvier en daarmee die toon duidelik aangegee vir die res van die dag. Die momentum het verder opgebou met die o.15A-span wat hul kragmeting met 22–15 beklink het.

    Affies se o.16’s het uiters klinies vertoon om hul opponente met ‘n indrukwekkende telling van 39–12 van die baan te vee.

    Een van die dag se hoogtepunte was die o.17A-ontmoeting, waar Affies weer die hef in die hand gehad het om Garsfontein met 29–11 te verslaan. Die Affie-dogters het met blitsige spel, akkurate doele en rotsvaste verdediging uitgeblink en geen twyfel oor hul vaardighede gelaat nie.

    Die o.18-A span van Affies het die dag stylvol afgesluit deur ‘n taai stryd teen Garsfontein se eerste span met 33–27 te wen. Alhoewel Garsies vasgebyt het, het Affies se ervaring en puik samespel uiteindelik die deurslag gegee.

    Die dag het gewys dat Affies se netbalstrukture diep gevestig en goed ontwikkeld is. Hulle spanne het nie slegs met individuele talent nie, maar ook met uitstekende spanwerk en strategiese spel beïndruk. Affies het dus sonder twyfel koning gekraai in hierdie klassieke Pretoria-derby.

    Uitslae:

    o.14A: AHMP 25, Hoërskool Garsfontein 16

    o.15A: AHMP 22, Hoërskool Garsfontein 15

    o.16A: AHMP 39, Hoërskool Garsfontein 12

    o.17A: AHMP 29, Hoërskool Garsfontein 11

    o.18A: AHMP 33, Hoërskool Garsfontein 27

  • Garsies, Affies pak mekaar op netbalbaan

    Garsies, Affies pak mekaar op netbalbaan

    Die netbalbane van Hoërskool Garsfontein gaan aan die brand gespeel word op 25 April wanneer Garsies en Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria mekaar die stryd aansê in ‘n reeks spanningsvolle wedstryde.

    Beide skole spog met ‘n trotse geskiedenis van prestasie op die netbalbaan, en hierdie kragmetings beloof om kranige kompetisie op te lewer. Met hope talent, stewige strukture en ‘n gevestigde kultuur van mededinging, word ‘n aksiebelaaide middag verwag.

    Garsfontein is bekend vir hul vinnige, tegniese spel en rotsvaste verdediging, terwyl Affies dikwels hul teenstanders met strategiese aanvalle en geduldige aanvoorwerk oorrompel.

    Die wedstryde in die o.14 A en o.15 A-kategorieë bied ‘n blik op die toekoms, met opkomende sterre wat elke wedstryd as ‘n geleentheid wil aangryp om hul staal te wys. Die o.16 A en o.17 A-spanne bring normaalweg hoë-intensiteit en taktiese vaardigheid na die baan, wat as voorwedstryde dien vir die hoofskouspel later die dag.

    Dit is natuurlik die eerstespan-kragmeting om 17:05 wat die meeste aandag gaan trek. Beide skole spog met spelers wat onlangs op provinsiale vlak uitgeblink het en dié kragemting gaan bepaal wie die oorhand geniet in Pretoria se netbal-hiërargie. Hierdie is beslis nie ‘n doodgewone ligawedstryd nie – daar is aansienlik meer tradisie, eer en trots op die spel.

    Moet dit nie misloop nie – Garsfontein teen Affies beloof ‘n middag van topgehalte skolenetbal!

    WEDSTRYDROOSTER:

    o.14A – 14:45

    o.15A – 15:20

    o.17A – 15:55

    o.16A – 16:30

    Eerste span – 17:05

  • Montana, Heidelberg Volkies deur na NWU Prestige-eindstryd

    Montana, Heidelberg Volkies deur na NWU Prestige-eindstryd

    Montana en Heidelberg Volkskool se netbalspanne het hul plekke bespreek in die eindstryd van die NWU Prestige-reeks met oortuigende seges in verlede naweek se halfeindronde.

    Die semi-finale het opwindende kragmetings opgelewer, met spanne wat goeie strukture, kliniese afronding en soliede spanwerk tentoongestel het.

    Montana het indrukwekkend vertoon om vir Potchefstroom Gimnasium met 41–20 af te ransel in hul halfeindstryd. Die Monties het hul ritme vroeg gevind om Gimmies se verdediging deurgaans onder druk te plaas en het met elke kwart hul voorsprong vergroot.

    In die ander semi-finaal was Heidelberg Volkies klinies en gefokus teen Hoërskool Klerksdorp om ‘n ewe oortuigende sege van 31–13 te behaal. Volkies se verdediging het min spasie gebied, terwyl hulle doeltreffend en blitsig was op die aanval.

    Marais Viljoen het vir Wesvalia met 37–21 geklop danksy puik samespel tussen hul senters en aanvallers, terwyl  Pietersburg in ‘n naelbytstryd met 24-20 vir Zwartkop getroef het. Sowel die Pieties as Zwarries het rotsvas verdedig, maar eersgenoemde het op kritieke oomblikke die oorhand verkry en hul kanse in doele omskep.

    Potchefstroom Volkies het hul naam hoog gehou met ‘n oorwinning van 37–23 oor Hugenote. Volkies se doelskieters was akkuraat, terwyl hul verdediging ‘n groot rol gespeel het met ‘n aantal kritieke onderskeppings. Bergsig het indrukwekkend vertoon in die middelveld, waar hul oorgang tussen verdediging en aanval vloeiend was, om met 34–24 as oorwinnaars uit die stryd te tree teen Die Anker.

    Uitslae:

    [ninja_tables id=”69546″]

  • NWU Super 16 gekenmerk deur netbal van hoogstaande gehalte

    NWU Super 16 gekenmerk deur netbal van hoogstaande gehalte

    Die onlangse NWU Super 16-reeks was weer ‘n uitstalvenster vir netbalspanne van regoor die land om hul vaardighede, spanwerk en deursettingsvermoë op die baan ten toon te stel.

    Sommige oorwinnings is met oortuiging behaal, terwyl ander op die spreekwoordelike mespunt beslis is.

    Ben Viljoen het groot indruk gemaak met ‘n indrukwekkende oorwinning van 38–16 teen Volksrust. Die wenspan het van meet af aan momentum gebou en hul teenstanders min ruimte gelaat om te herstel.

    Leeuwenhof Akademie het ‘n ewe indrukwekkende sege van 39–29 oor Schoonspruit (NW) behaal, in ’n kragmeting waar beide spanne op die aanval gedreig het, maar Leeuwenhof se beter afronding het uiteindelik die deurslag gegee.

    Een van die spannendste kragmetings van die reeks was tussen Pionier en Ellisras, met Pionier wat net-net met 32–30 die knoop deurgehak het. Dit was ’n riller van ‘n stryd met die uitslag wat tot in die laaste sekondes in die weegskaal was.

    Hoërskool Alberton het ook as oorwinnaars uit die stryd getree met ‘n swaarverdiende sege van 27–25 oor ’n vasberade Vryburg, terwyl Hans Strijdom daarin geslaag het om Wolmaransstad met 22–20 te troef in nóg ’n naelbytstryd waar verdediging ’n sleutelrol gespeel het.

    Sarel Cilliers (Glencoe) het vir Warmbad geklop met 22–18 danksy doelgerigte spel en netjiese spanwerk. Ferrum het met 25–15 die botoon gevoer oor Pretoria-Noord, terwyl Riebeeckrand se goed gestruktureerde spel aan hulle ‘n oorwinning van 24-19 besorg het oor Fochville.

    Uitslae:

    [ninja_tables id=”69549″]

  • Parkies bevestig hulself as netbalkrag met Sportreeks-titel

    Parkies bevestig hulself as netbalkrag met Sportreeks-titel

    Die laaste dag van die NWU Sportreeks het ‘n reeks spannende uitspeelwedstryde opgelewer tussen van die top netbalskole in die land, met Menlopark wat as kampioen gekroon is en weereens hulself bevestig het as ‘n netbalkrag in Suid-Afrika.

    Parkies het in die eindstryd teen Oos-Moot hul kenmerkende styl van vinnige, presiese spel gehandhaaf om met 29–18 te seëvier. Hulle het van meet af vir die Oosies versmoor met kliniese afronding asook meedoënlose druk op die verdediging.

    Transvalia en Nelspruit het om brons meegeding, met Transvalia wat met 24–16 die botoon gevoer het in ‘n kragmeting gevul met intensiteit en fyn afgeronde spel. Abigail Coetzee se rol as aanvallende vleuel (AV) was deurslaggewend, met verskeie kritieke onderskeppings wat tot doelpogings gelei en uiteindelik die momentum in Transvalia se guns laat swaai het.

    Die halfeindstryd tussen Menlopark en Transvalia het vroeër die dag reeds die toon aangegee. Parkies het met 29–15 gewen deur vir Transvalia deurentyd aan bande te lê met hul kompakte verdediging en foutlose spel op die aanval.

    In die uitspeelwedstryd om die vyfde plek het Middelburg vir Ben Vorster met 16–9 getroef, nadat Middies vroeër die dag ook ‘n naelbytsege, in ekstra tyd, van 29-28 oor Eldoraigne behaal het. Middelberg het in altwee oorwinnings puik deursettingsvermoë aan die dag gelê, met Khanya Sibanyoni en Thelma Moloi wat as sleutelverdedigers op getree het met belangrike onderskeppings wat die wedstryde in hul guns laat draai het.

    1ste: Menlopark

    2de: Oos-Moot

    3de: Transvalia

    4de: Nelspruit

    5de: Middelburg

    6de: Ben Vorster

    7de: Eldoraigne

    8ste: EG Jansen

    9de: Waterkloof

    10de: Kempton Park

    11de: HTS Middelburg

    12de plek: Piet Retief

  • Menlo-toernooi sluit af op aksiebelaaide noot

    Menlo-toernooi sluit af op aksiebelaaide noot

    Die finale kragmetings van die Menlopark-Netbaltoernooi het soos verwag aksie van hoogstaande gehalte gelewer, met spanne wat enduit alles in die stryd gewerp het.

    Die gasheerspan, Menlopark, het hul toernooi stylvol afgesluit met gesaghebbende vertonings teen Paarl Girls (31-18) en Duineveld (30-12). Helpmekaar het ewe indrukwekkend vertoon teen Ben Vorster (22-8) en Potch Gim (26-6).

    Brackenfell het voortgebou op hul belowende spelpeil van vroeër met ’n oortuigende sege van 29-13 oor Frans du Toit, maar moes hard werk om Hans Moore met 22-18 baas te raak.

    Milnerton het een van die dag se uithaler-vertonings gelewer om ‘n wegholsege van 30-4 oor Alberton te behaal, en het ook met 22-12 die pyp gerook teen Lydenburg. Monnas het ’n sterk indruk gelaat met hul wegholsege van 31-9 oor Dr Malan, en groot veggees getoon om Diamantveld met 21-16 te troef.

    DF Malan het vir Merensky met 24-10 geklop en vir Oosterland met 30-8 oorweldig, terwyl Secunda hul reputasie gestand gedoen het deur Alberton (27-14) en Capricorn (29-18) te klop. Edenvale het ook uitgehaal om met 28-26 teen Ben Vorster en 21-14 teen Worcester Gim te seëvier.

    Sommige spanne het dit moeilik gevind om momentum te handhaaf, met Merensky wat beide hul wedstryde op die laaste dag verloor het, terwyl Diamantveld teen Monnas en Potch Gim vasgeval het. Oosterland kon ook nie die mas opkom teen sowel Linden (14-19) as DF Malan (8-30) nie, terwyl Randburg teen Stellenbosch en Vredendal, en Pretoria Noord teen Hugenote en Oranje 2 verloor het.

    Daar was ook kleiner maar betekenisvolle oorwinnings vir spanne soos Swartland wat Krugersdorp met 17-13 geklop het, en Outeniqua wat met 23-11 teen die einste Swartland koning gekraai het. Paarl Girls het teruggekom na hul nederlaag teen Menlopark om met 21-10 teen Rand Park te wen, terwyl Durbanville hul plek in die wennerskring behou het met seges oor Rand Park en Oranje.

    Dit was ’n gepaste afsluiting vir ’n toernooi waar borrelende talent en, vernaam, vasberadenheid voorop gestaan het.

    Dag 4 | Uitslae

    [ninja_tables id=”68148″]

  • Gasheer gee die toon aan by Menlo-toernooi

    Gasheer gee die toon aan by Menlo-toernooi

    Dag 3 van die Menlo-Netbaltoernooi het nogmaals gesorg vir sprankelende aksie wat die bruisende jong netbaltalent van Suid-Afrika uitstal.

    Verskeie spanne het uitgestyg bo die res met kragtige vertonings en spogtaktiek wat wys waarom hulle as topspanne in skolenetbal gereken word.

    Die gasheerspan, Menlopark, het heel toepaslik beïndruk met ’n oortuigende sege van 32-12 oor Rand Park en die dag afgesluit deur Oranje met 21-13 te troef.

    Brackenfell het hulself ook as formidabele mededingers onderskei met ’n indrukwekkende sege van 35-15 oor Merensky, maar het later teen Middelburg vasgeval. Paarl Gim was onverbiddelik in hul kragmeting met Monnas om met 29-9 die botoon te voer, terwyl hul buurspan, Paarl Girls, hul onoorwonne status behou het met oorwinnings oor Oranje  (21-14) en Potch Gim (20-11).

    Bloemhof het ook uitgeblink met twee seges, oor Northcliff (28-9) en Monnas (20-13), wat hul status as medalje-kandidate versterk het. Diamantveld het hul dag afgeëindig met ‘n aanskoulike oorwinning van 27-20 oor Northcliff en het vroeër ook met Dr Malan afgereken (21-12), terwyl Edenvale aangedui het dat hulle nie onderskat moet word nie met welverdiende seges oor Hugenote (28-16) en ‘n hardnekkige Duineveld (28-26).

    Krugersdorp, Middelburg, Helpmekaar en Milnerton het almal waardevolle oorwinnings behaal, terwyl Swartland, Duineveld en Linden mededingend vertoon het teen van die topspanne. Alhoewel ‘n paar wedstryde deur reën onderbreek is, het die mededinging steeds die gehalte van die toernooi pragtig tentoongestel.

    Uitslae | Dag 3

    [ninja_tables id=”68146″]

  • Paarl Gimmies troef Parkies in ekstra tyd van dramatiese Rhodes-eindstryd

    Paarl Gimmies troef Parkies in ekstra tyd van dramatiese Rhodes-eindstryd

    ’n Dramatiese eindstryd tussen Paarl Gimnasium en Menlopark, met Gimmies wat uiteindelik, na ekstra tyd, naelskraaps met 34-33 kon koning kraai, het die kroon gespan op ’n uiters suksesvolle Rhodes Netbaltoernooi 2025.

    Die room van o.19-netbalspanne van regoor die land het van 3 tot 6 April in die Paarl saamgetrek vir vanjaar se Rhodes Netbaltoernooi wat deur Hoër Meisieskool La Rochelle aangebied is.

    Die fees het bestaan uit twee dae van groepwedstryde, gevolg deur ’n opwindende uitspeelronde wat Sondag met die eindstryd ‘n gepaste klimaks bereik het. Dié fees het nie slegs die room van jong netbaltalent tentoongestel nie, maar verskeie naelbytstryde gelewer wat die gees van kompetisie perfek vasgevang het.

    ‘n Aantal spanne het vroeg reeds hul staal gewys. Menlopark het die toon aangegee met ‘n swaarverdiende sege van 27–26 oor Dinamika, en dit opgevolg met oorwinnings oor Rustenburg (36–28) en Transvalia (38–24).

    Die gasheerskool, La Rochelle, het self beïndruk met vroeë oorwinnings oor Rustenburg (31–26), Bloemhof (36–30) en Dinamika (44–18). Paarl Gimnasium het van meet af na vore getree as een van die sterkste aanspraakmakers op die titel met oortuigende seges oor Tygerberg (38–24), Waterkloof (48–16) en Sundowns (49–22).

    Die uitspeelrondes het egter die koring van die kaf geskei.

    In die kwarteindronde het La Rochelle hul plek in die semi-finaal verseker met ‘n beduidende sege van 42–28 oor Upington, terwyl Menlopark en Montana in ‘n spannende stryd gewikkel was, wat Menlo met 33–30 gewen het. Bloemhof het vir Waterkloof met 35–29 uitgeskakel, terwyl Paarl Gim met gemak vir Transvalia verslaan het (38–22).

    Die halfeindronde het dié toernooi behoorlik laat vlam vat, met Menlopark wat, na ‘n hewige stryd, vir La Rochelle met 33–29 getroef het. In die ander halfeindstryd, was Paarl Gimnasium met slegs een doel (33–32) baas teen Bloemhof.

    Die uitspeelwedstryd om die vyfde plek tussen Transvalia en Montana het vir een van die boeiendste kragmetings van die toernooi gesorg. Met sake wat steeds gelykop getrek het ná ekstra tyd, het Transvalia uiteindelik met 43–41 geseëvier, nadat hulle die eerste span was om met twee doele voor te loop in die uitklopspel. In die uitspeelwedstryd om die derde plek, het Bloemhof hul plek op die podium verseker met nogmaals ‘n naelbytsege van 34–32 oor La Rochelle.

    Die eindstryd tussen Menlopark en Paarl Gimnasium het ‘n uiters ’n tegniese, fyn beplande tweestryd afgegee, wat die toernooi op ‘n absolute hoogtepunt afgesluit het. Met die telling wat weereens gelykop was ná gewone tyd, moes ekstra tyd gespeel word en, toe die stof gaan lê het, was dit Paarl Gimnasium wat as kampioen uit die stryd getree met ‘n oorwinning van 34–33.

    Die Rhodes Netbaltoernooi het ongetwyfeld die gehalte van skolenetbal in Suid-Afrika uitgestal, met elke span wat hul hart en siel op die baan gelos het.  La Rochelle verdien ook ’n pluimpie vir hul puik organisasie en aanbieding van ’n toernooi waar dié jong atlete kon skitter.


    Uitslae

    Donderdag, 3 April
    Menlopark 27–26 Dinamika
    La Rochelle 31–26 Rustenburg
    Bloemhof 27–37 Transvalia
    Waterkloof 38–37 Sundowns
    Tygerberg 24–38 Paarl Gim
    Montana 38–35 Upington
    Montana 31–31 Tygerberg
    Upington 24–35 Sundowns
    Paarl Gim 48–16 Waterkloof
    Bloemhof 30–36 La Rochelle
    Transvalia 22–25 Dinamika
    Rustenburg 28–36 Menlopark
    Waterkloof 34–35 Upington
    Paarl Gim 39–27 Montana
    Dinamika 18–44 La Rochelle
    Menlopark 38–24 Transvalia
    Bloemhof 33–31 Rustenburg
    Tygerberg 36–31 Sundowns

    Vrydag, 4 April
    Dinamika 20–34 Rustenburg
    La Rochelle 38–28 Transvalia
    Sundowns 22–49 Paarl Gim
    Tygerberg 27–34 Upington
    Bloemhof 34–33 Menlopark
    Montana 27–28 Waterkloof
    Transvalia 31–26 Rustenburg
    Waterkloof 35–34 Tygerberg
    Sundowns 38–44 Montana
    Dinamika 29–38 Bloemhof
    Upington 25–39 Paarl Gim
    Menlopark 30–29 La Rochelle

    Kwarteindronde – Saterdag, 5 April
    La Rochelle 42–28 Upington
    Menlopark 33–30 Montana
    Bloemhof 35–29 Waterkloof
    Transvalia 22–38 Paarl Gim

    Halfeindronde – Sondag, 6 April
    La Rochelle 29–33 Menlopark
    Bloemhof 32–33 Paarl Gim

    Plekwedstryde – Sondag 6, April
    5de/6de plek: Transvalia 43–41 Montana (sudden death na ekstra tyd)
    3de/4de plek: La Rochelle 32–34 Bloemhof
    Eindstryd: Menlopark 33–34 Paarl Gimnasium (na ekstra tyd)