SSPN Test Site

Author: ferasmus

  • Montana beïndruk in NWU Prestige-reeks se kwarteindronde

    In die NWU Prestige-reeks se kwarteindronde, het Hoërskool Montana ’n oortuigende oorwinning van 38-20 oor Hoërskool Zwartkop behaal.

    Montana het in die eerste kwart voorgeloop met 9-3, en hoewel Zwartkop probeer terugveg het in die tweede kwart, was Montana eenvoudig meer doelgerig om hul voorsprong na 19-9 te rek.

    Montana het agt doele bygevoeg na rustyd, maar Zwartkop het mooi teruggekom met sewe doele van hul eie.

    Die laaste kwart het egter geheel en al aan Montana behoort, en hulle het 11 doele teenoor Zwartkop se vier bygevoeg om die uitslag bo alle twyfel te stel.

    Elders was Marais Viljoen se spanne aan die brand en het ses uit hul 10 spanne teen Rustenburg gewen, met die eerstespan wat met 35-29 geseëvier het.

    Jeugland het met 23-21 teen Wesvalia gewen, terwyl Potchefstroom Volkskool vir Oosterlig met 32-7 ore aangesit het.

    In volgende week se halfeindronde sal Montana, Marais Viljoen, Jeugland en Potch Volkies sake uitspook om te bepaal wie deurgaan na die finaal toe.

    Die res van die uitslae:

    o. 14 A: Rustenburg 22, Marais Viljoen 15; Montana 16, Zwartkop 14; Wesvalia 30, Potch Volkies 15; Jeugland 26, Oosterlig 5.

    o. 14 B: Rustenburg 19, Marais Viljoen 10; Zwartkop 24, Montana 12; Wesvalia 19, Potch Volkies 11; Oosterlig 14, Jeugland 7.

    o. 15 A: Rustenburg 30, Zwartkop 18; Potch Volkies 20, Wesvalia14; Jeugland 24, Montana 14; Marais Viljoen 33, Oosterlig 15.

    o. 15 B: Rustenburg 19, Zwartkop 8; Marais Viljoen 13, Wesvalia 9; Montana 19, Potch Volkies 4; Jeugland 15, Oosterlig 5.

    o. 16 A: Rustenburg 22, Zwartkop 20; Marais Viljoen 31, Montana 15; Wesvalia 15, Potch Volkies 14; Jeugland 17, Oosterlig 14.

    o. 16 B: Montana 22, Zwartkop 14; Marais Viljoen 36, Rustenburg 10; Wesvalia 14, Potch Volkies 13; Jeugland 14, Oosterlig 7.

    o. 17 A:  Rustenburg 24, Potch Volkies 17; Marais Viljoen 18, Wesvalia 15; Montana 32, Jeugland 12; Zwartkop 30, Oosterlig 13.

    o. 17 B: Zwartkop 25, Montana 7; Marais Viljoen 30, Rustenburg 10; Oosterlig 21, Jeugland 4; Wesvalia wen, Potch Volkies verbeur die wedstryd.

    o. 19 B: Montana 27, Jeugland 11; Zwartkop 35, Wesvalia 9; Oosterlig 22, Potch Volkies 6; Rustenburg 22, Marais Viljoen 8.

  • Affies troef Paarl Gim met 14 doele

    Die Afrikaanse Hoër Meisiekool (Affies) het die afgelope naweek weer oor Paarl Gimnasium geseëvier, met ‘n telling van 36-22 op hul tuisveld.

    Affies het verlede jaar met ‘n telling van 31-25 as oorwinnaars uit die stryd getree.

    Die eerste kwart het die toon aangegee vir ‘n titaniese stryd, met Affies wat met slegs 5-3 voorgeloop het.

    Namate die kragmeting in die tweede kwart gevorder het, het Affies hul aanval verskerp om 17 doele te behaal, terwyl Gim dapper bly veg en 11 doele van hul eie aangeteken het.

    Affies het in die derde kwart daarin geslaag om die gaping te vergroot na 24-19, maar die span van die Paarl het steeds geweier om handdoek in te gooi en die telbord het die intensiteit van die stryd weerspieël.

    Affies het egter die tempo dramaties opgetel om 12 doele gedurende die laaste kwart aan te teken, terwyl Gim slegs vier verdere doele op die telbord kon plaas.

    Christie Koekemoer, Affies se verdedigende vleuel, en hulpdoelverdediger en kaptein, Amia Roux, was die wenspan se uitblinkers.

    Al die uitslae: 

    0.14

    A Affies 15-28 PG
    B Affies 13-8 PG
    C Affies 18-4 PG
    D Affies 17-13 PG
    E Affies 19-9 PG
    F Affies 18-4 PG
    G vs E Affies 8-15 PG
    H vs F Affies 9-8 PG

    0.15

    A Affies 15-22 PG
    B Affies 8-7 PG
    C Affies 13-17 PG
    D Affies 17-11 PG
    E Affies 23-11 PG
    F Affies 13-8 PG

    0.16

    A Affies 22-25 PG
    B. Affies 13-25 PG
    C. Affies 19-20 PG
    D. Affies 13-26 PG
    E. Affies 11-18 PG
    F. Affies 21-18 PG

    0.17
    A Affies 17-18 PG
    B. Affies 21- 31 PG

    0.18
    A Affies 36-22 PG
    B Affies 22-8 PG
    C Affies 16-14 PG
    D Affies 13-22 PG

  • Chillies sit segetog voort

    Duineveld het opnuut gewys waarom hulle verlede jaar as die beste netbalspan in die Noord-Kaap aangewys was.

    Die span, ook bekend as die Chillies, het met 13 doele teen Hoërskool Diamantveld geseëvier.

    Die kragmeting het nietemin taamlik gelykop afgeskop in die eerste kwart, met die Chillies wat in daardie stadium met slegs 9-7 voorgeloop het. Die tweede en derde kwarte het steeds ‘n verbete stryd afgegee, met slegs ‘n verskil van vier punte (20-16) wat die spanne teen rustyd geskei het.

    Die Chillies het egter in die derde kwart daarin geslaag om die gaping effens te vergroot deur nege doele teenoor die Diamonds se sewe aan te teken, en die telling op 29-23 te staan te bring.

    In die laaste kwart het die Chillies heeltemal die oorhand verkry, om ‘n indrukwekkende totaal van 13 doele aan te teken vir ‘n welverdiende oorwinning van 42-29.

    Die Brink-susters, Zandri en Zanelle, het uitgeblink vir die Chillies en deurentyd aansienlike druk op Diamonds se doele toegepas.

  • NWU Prestige-reeks: Agt spanne speel uit om halfeindronde te haal

    NWU Prestige-reeks: Agt spanne speel uit om halfeindronde te haal

    Die naweek is dit die NWU Prestige-reeks se kwarteindstronde by Hoërskool Montana, waar agt spanne ‘n kans staan om tot die halfeindronde te haal.

    Wesvalia teen Jeugland begin die kwarteindstryd van die eerste spanne om 14:30 op baan een, saam met Oosterlig wat teen Potchefstroom Volkskool speel op baan drie.

    Hoërskool Montana speel teen Zwartkop om 15:20 op baan een en die Hoërskool Rustenburg speel teen Marais Viljoen op baan drie.

    Ander bepalings:

    08:30 – o.14B: Montana vs Zwartkop; Rustenburg vs Marais Viljoen; Wesvalia vs Potch Volkies; Oosterlig vs Jeugland.

    09:10 – o.14A: Montana vs Zwartkop; Rustenburg vs Marais Viljoen; Wesvalia vs Potch Volkies; Oosterlig vs Jeugland.

    09:50 – o.15B: Rustenburg vs Zwartkop; Wesvalia vs Marais Viljoen; Montana vs Potch Volkies; Oosterlig vs Jeugland.

    10:30 – o.15A: Rustenburg vs Zwartkop; Wesvalia vs Potch Volkies; Montana vs Jeugland; Oosterlig vs Marais Viljoen.

    11:10 – o.16B: Montana vs Zwartkop; Rustenburg vs Marais Viljoen; Wesvalia vs Potch Volkies; Oosterlig vs Jeugland.

    11:50 – o.16A: Montana vs Marais Viljoen; Rustenburg vs Zwartkop; Wesvalia vs Potch Volkies; Oosterlig vs Jeugland.

    12:30 – o.17B: Montana vs Zwartkop; Rustenburg vs Marais Viljoen; Oosterlig vs Jeugland; Wesvalia vs Potch Volkies.

    13:10 – o.17A: Rustenburg vs Potch Volkies; Wesvalia vs Marais Viljoen; Montana vs Jeugland; Oosterlig vs Zwartkop.

    13:50 – o.19B: Montana vs Jeugland; Wesvalia vs Zwartkop; Oosterlig vs Potch Volkies; Rustenburg vs Marais Viljoen.

  • Chillies reg vir klipharde stryd teen Diamonds

    Chillies reg vir klipharde stryd teen Diamonds

    Hoërskool Duineveld

    Dit is hierdie naweek die Chillies, oftewel Hoërskool Duineveld, en Hoërskool Diamantveld se beurt om mekaar die stryd aan te sê.

    Met dié netbalstryd, geskeduleer vir 11:20 op Duineveld se bane, is die Chillies oorgehaal om hul titel, as beste span in die Noord-Kaap vir 2023, te verdedig.

    Hoofafrigter, Madri Steyn, beklemtoon die belangrikheid van spanwerk om sukses op die baan te behaal en die Chillies is voorbereid op ‘n klipharde, kompeterende wedstryd.

    Hoërskool Duineveld: Abriëlle de Witt, Clarise Barnard, Carmi Liebenberg (k), Carla Kuhn, Tersian Oberholzer, Zandri Brink, Zanelle Brink. Reserwes: Jeanne Coetser, Yolanda de Kock, Stephanie Kruger

    Hoërskool Diamantveld: Mari du Raan, Johandri de Wet, Izeldi Jacobs, Valmari Faber, Carmen Louw, Lara van Niekerk, Klarissa Taljaard, Brithe Honiball, Zandri Starke, Timney Greyling.

     

     

  • NWU Skolesportreeks sorg vir hope netbalaksie

    Die NWU Skolesportreeks het ‘n opwindende naweek van netbalaksie by verskeie skole opgelewer, sowel as ‘n paar interessante uitslae.

    Hoërskool Oos-Moot het ‘n indrukwekkende tuisoorwinning van 52-16 oor Hoërskool Middelburg behaal. Lesedi Ntimeng se uitmuntende vertoning, gekenmerk deur haar flink vaardigheid om die bal te onderskep, het ‘n deurslaggewende rol in Oos-Moot se sukses gespeel.

    HTS Middelburg en Hoërskool Dr EG Jansen was in ‘n verbete stryd gewikkel, met die Middelburgers wat tuis uiteindelik met 30-21 as oorwinnaars uit die stryd getree het, terwyl Hoërskool Nelspruit in Mbombela naelskraaps vir Hoërskool Eldoraigne met 26-25 verslaan het in ‘n rillerstryd.

    Hoërskool Waterkloof het tuis ook vir ‘n begeesterde Hoërskool Transvalia met ‘n telling van 34-24 getroef. Juané Kruger se uitsonderlike vertoning in die senterposisie, asook Zoe Smit se doelvaardighede, het heelwat bygedra tot Waterkloof se sukses, terwyl Transvalia se Dudu Malindi deurentyd groot vasberadenheid tentoongestel het.

  • Uppies seëvier naelskraaps teen Diamonds

    Kayla du Plessis, Liebe Karsten, Lané Esterhuizen, Anria Oberholzer, Jenique Matthys, Raquel Raman, Cara Fourie, Lida Louw, Mari-Alet van Zyl en Amé Kotzé.

    Hoërskool Upington se eerste netbalspan het Saterdag, in ‘n titaniese kragmeting in Kimberley, ‘n welverdiende oorwinning van 37-32 oor die tuisspan, Hoërskool Diamantveld, behaal.

    Uppies het vanuit die staanspoor die krane oopgedraai om blitsig ‘n voorsprong van 14-9 in die eerste kwart op te bou.

    Diamonds was egter nie van voorneme om te gaan lê nie en het in die tweede kwart uitstekend teruggeveg.

    Hoewel Uppies ‘n verdere agt doele aangeteken het, het Diamonds hulle doel-vir-doel die stryd aangesê om self nege doele te behaal.

    Teen die tyd wat die rustydfluitjie geblaas het, het Uppies aan ‘n skrale voorsprong van 22-18 geklou, wat die weg gebaan het vir ‘n riller van ‘n stryd in die oorblywende kwarte.

    Namate die wedstryd gevorder het, het die spanning toegeneem, met albei spanne wat alles in die stryd gewerp het.

    Ten spyte van Diamonds se voortdurende pogings om die gaping verder te laat krimp, het Uppies egter daarin geslaag om hul voorsprong effens te vergroot en die vierde kwart met ‘n telling van 30-24 tegemoet te gaan.

    Gedurende die laaste kwart het Diamonds verbete aanhou veg vir ‘n oorwinning, maar Uppies het met ‘n eindtelling van 37-32 die knoop deurgehak.

    Onder hul uitblinkers was die hoofdoel, Lané Esterhuizen, en hulpdoel, Anria Oberholzer, met ‘n merkwaardige doelgemiddeld van 80%.

    Boonop was die bydraes van die senter, Liebe Karsten, en verdediger, Lida Louw, instrumenteel om oorwinning vir die Uppies te kon verseker.

  • JF troef Fichies met 26 doele

    Hoërskool Jim Fouche: Lesedi Sebiloane, Elri Pieters, Zandria Bastone, Lindsey Neveling, Jenilee Kotze, Ansune Humphries, Dimpo Totola, Jana Rossouw, Roechelle van der Merwe.

    Hoërskool Jim Fouché het Saterdag vir Hoërskool Fichardtpark op indrukwekkende wyse met 39-13 verslaan in die Wesgrow Sentrale Sportreeks.

    Jim Fouché het van meet af die toon aangegee en, na ‘n sterk begin, teen die einde van die eerste kwart reeds met 12-5 voorgeloop. Hulle het momentum opgetel in die tweede kwart, om hul rustydvoorsprong na 19-9 te rek.

    Namate die wedstryd in die derde kwart gevorder het, het JF eenvoudig van krag tot krag gegaan en met ‘n vlaag doele die gaping aan die einde van dié kwart na 29-10 vergroot.

    Jim Fouché was haas onkeerbaar in die laaste kwart om 10 verdere doele by hul totaal te voeg, terwyl Fichies tot slegs drie beperk is.

    Hoewel die wenspan as geheel uitstekend vertoon het, het Zandria Bastone en Lindsey Neveling in besonder uitgeblink.

  • Trekkers oorheers Trio op netbalbane

    Hoërskool Voortrekker het Saterdag koning gekraai teen Hoërskool Trio op die netbalbane.

    Agt uit Trekkers se 10 spanne het oorwinnings behaal, terwyl een span gelykop gespeel het.

    Trekker se eerstespan het behoorlik hul stempel afgedruk op verrigtinge, en vanuit die staanspoor die leiding geneem om die eerste kwart met 10-4 te wen en teen rustyd met 23-8 voor te loop.

    Hoewel Trio hul bes probeer het om die gaping te laat krimp, het Trekkers nie minder nie as 13 doele in die derde kwart aangeteken, en Trio slegs vyf, om die telling op 35-13 te staan te bring.

    Toe die eindfluitjie blaas het Trekkers ‘n klinkende sege van 46-18 behaal.

    Hierdie uitslag verstewig nie alleen Trekkers se posisie as ‘n krag om mee rekening te hou in die Wesgrow Sentrale Sportreeks nie, maar verleng ook hul onoorwonne status in die reeks, saam met die van Hoërskool Sentraal.

    Dit was ‘n uitstekende spanpoging deur Trekkers, met vernaam die verdedigende spel van Lykie Jonck en veelsydigheid van Mianca van Niekerk, op sowel die aanval as verdediging, wat beïndruk het.

    Al die uitslae:

    O. 19 A 46-18
    O. 19 B 25-1
    O. 19 C 24-2
    O. 19 D 17-6
    O. 17 A 15-16
    O. 16 B 39-6
    O. 15 B 15-10
    O. 15 C 22-6
    O. 14 B 16-12
    O. 14 C 4-4

    O. 14 A, 15 A en 16 A speel Maandag, 8 April.

  • Uppies en Diamonds pak mekaar in Kimberley

    Uppies en Diamonds pak mekaar in Kimberley

    Die Noord-Kaapse spanne van Hoërskool Diamantveld en Hoërskool Upington sê mekaar Saterdag die stryd aan in ‘n netbalkragmeting wat die verbeelding behoort aan te gryp.

    Dié wedstryd, wat ‘n skouspel beloof te wees, vind om 10:40 op die tuisbaan van Diamantveld plaas.

    Upington tree as gedugte teenstanders na vore, nadat hulle verlede seisoen as naaswenners geëindig het in die Noord-Kaap. Hul vermoëns op die baan mag dus nie onderskat word nie

    Christine Esterhuizen, ‘n prominente figuur in netbalkringe, asook Upington se afrigter, is dit eens dat Diamantveld ’n krag is om mee rekening te hou.

    “Dit is altyd lekker om jouself teen sulke sterk opposisie te meet,” sê sy

    Ten spyte van ‘n uiters jong span, met slegs een senior speler, is Upington nietemin vol vertroue en gretig om hul slag te wys.

    Die spanne: 

    Hoërskool Upington: Lané Esterhuizen, Anria Oberholzer, Jenique Matthys, Liebe Karsten (o/k), Cara Fourie/Raquel Raman, Kayla du Plessis (k), Lida Louw, Amé Kotze, Mari-Alet van Zyl.

    Hoërskool Diamantveld: Mari du Raan, Johandri de Wet, Izeldi Jacobs, Timney Greyling, Carmen Louw, Valmari Faber, Lara van Niekerk, Klarissa Taljaard, Brithe Honniball, Zandri Starke.