SSPN Test Site

Author: froberholzer

  • Geskiedkundige driekuns wink vir Garsies in Beker-eindstryd

    Geskiedkundige driekuns wink vir Garsies in Beker-eindstryd

    YUVRAH GEORGE, vleuel van Hoërskool Garsfontein, in aksie teen Hoërskool Menlopark. FOTO: Frans Lombard/Actionpix.

    Geen span het, sedert die ontstaan van die Noordvaal-reeks (voorheen Virsekerbeker) se Beker-afdeling sewe jaar gelede, daarin kon slaag om dié titel drie keer agtereenvolgens te verower nie.

    Volg al die SDC Noordvaal Beker-aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) of Kanaal 216

    Dit is die geel wortel voor die neus van Hoërskool Garsfontein, die verdedigende kampioen van die afgelope twee jaar, wanneer hy Saterdag vir gevaarlike Helpmekaar Kollege in die eindstryd op Berepark verwelkom.

    Die Helpies se matriek-  sowel as Graad 11-groep is as kampioen op o.16-vlak in onderskeidelik 2023 en 2024 gekroon.

    Die Lourens-tweeling, Ethan en Shaye Lourens, twee van die Helpies se grootste uitblinkers vanjaar, was verlede jaar staatmakers in Helpies se seëvierende o.16-span van verlede jaar. Helpies se kaptein, Ty Ax, en sy o.16-span het in 2023 ook die trofee omhoog gehou. Dié groeiproses is voortgesit met ál drie bogenoemde spelers wat vanjaar hul buiging by die Cravenweek vir die Leeus gemaak het.

    Dit is juis hoekom die Bere se hoofafrigter, Johan du Plessis, meen dat die Helpies Saterdag straks die eindstryd as gunstelinge betree.

    “Helpmekaar is ‘n gedugte span en dus besef ons dat dit nie ‘n maklike taak gaan wees om hulle in die eindstryd te klop nie,” het Du Plessis vandeesweek gesê.

    “Ons fokus nooit te veel op geskiedenis nie, want elke jaar bring ‘n nuwe span, met nuwe uitdagings en kombinasies. Daarom fokus ons nie op dit wat die vorige twee jaar gebeur het nie, en weet ons ook dat die bal in enige rigting kan hop, vernaam in ‘n eindstryd.”

    Die Bere sal, nes verlede week voor hul halfeindstryd teen Menlopark, weer kopkrap oor hoe die span Saterdag daar gaan uitsien.

    Yuvrah George se twee agtereenvolgende driekunste maak dit moeilik om hom uit die span te laat, maar terselftertyd sit die tuisspan met SA Skole-vleuel, Junaide Stuart, en Drewyn Baron wat elkeen op enige gegewe dag iets uit niks kan optower. Stuart het in die halfeind teen die Parkies ‘n onmiddelike impak gemaak vanaf die bank, terwyl Baron ook sy indrukwekkende self was.

    Boonop beskik Garsies oor die SA Skole “A”-heelagter, Junade Pasensie, wat waarskynlik vir die laaste keer as ‘n Beer in die nr.15-trui sal uitdraf. Dit alles maak die Garsies se keuse van kombinasies in die agterlyn uiters interessant.

    Nuus vanuit die Helpies se kamp is dat hul beginspan, wat vir Hoërskool Noordheuwel met 39-36 getroef het, onveranderd bly ter wille van momentum. Die Helpies het wel vroeër vanjaar met 29-47 teen die Bere vasgeval, maar sedertdien hul ritme gevind en geen ander nederlaag in die rondomtalie-ronde gely nie.

    Die span van Johannesburg kan Saterdag self ‘n stukkie geskiedenis skryf.

    Indien Helpies die Bere kan klop sal dit die eerste keer in 50 jaar, sedert 1975, wees wat hulle as kampioen op die grootste verhoog in die Noordvaal gekroon word. Hulle het wel in 2016 en 2017 die Grootskole-trofee verower, en in 2019 weer die Beker-eindstryd gehaal, maar met 17-44 teen Hoërskool Menlopark verloor.

    Dit is heel gepas dat vanjaar se twee Beker-voorlopers sake in die laaste en grootste wedstryd van die seisoen uitspook, en dit beloof 70 minute van naelbytrugby in Pretoria.

    Die spanne is: 

    Garsfontein t. Helpmekaar Kollege om 14:00 op Berepark in Pretoria: 

    Garsfontein (moontlik): 15 Junade Pasensie, 14 Junaide Stuart, 13 Xian Erasmus, 12 Keagan Knighton, 11 Yuvrah George, 10 Joshua Gouws, 9 Derrick Kuhn, 8 Lourenz de Jager, 7 JP Meintjies, 6 JP Pieterse, 5 Derik Potgieter, 4 JJ Fourie, 3 Morné Coetzer, 2 Justin Blom, 1 Brendon Branford.

    Helpmekaar Kollege: 15 Ty Ax (kaptein), 14 Kean Butler, 13 Clinton Cloete, 12 Ethan Lourens, 11 Michael Herbst, 10 Wian Storm, 9 Shaye Lourens, 8 Llewelyn Vermaak, 7 Eugene de Lange, 6 Zaiden Krige, 5 Jandré Botha, 4 Diandro Botha, 3 Dylan Enlgenbrecht, 2 Gustav Grotius, 1 Liam Devenier.

    Skeidsregter: Excellent Mnkomo (Limpopo)

    Ander eindstryde:

    o.16 – 12:30 – Menlopark t. Monument

    o.15 – 11:00 – Garsfontein t. Noordheuwel

    o.14 – 09:30 – Noordheuwel t. Helpmekaar

  • Kemp kasty Volkies met ses van die bestes

    Kemp kasty Volkies met ses van die bestes

    HENRI KEMP, van Hoërskool Rustenburg, in aksie in sy span se sege oor Potchefstroom Volkskool. FOTO: Verskaf deur Hoërskool Rustenburg.

    Hoërskool Rustenburg se Henri Kemp het vir Potchefstroom Volkskool bykans eiehandig omgedop in die Rusties se eerste wedstryd as deel van die Noordwes-premierliga.

    Lees en herleef al die 2025 Skolekrieket op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)  

    Rustenburg het die loot gewen en besluit om sy kolwers in te stuur om tuisveldvoordeel te benut.

    Dinge het egter nie heeltemal volgens plan verloop nie en hy kon slegs 182 aanteken voor die laaste paaltjie gekantel het. Tristan van der Linde was die tuisspan se topkolwer op die dag met 32 lopies.

    Henlo van Rooyen (27) en Ander Wenhold (26) het elk ook die 20-merk oorgesteek, maar het nie veel meer antwoorde op die vrae van Volkies se Andries Venter gehad nie. Venter het drie paaltjies vir slegs 26 lopies in sy skof van 10 beurte laat kantel. Sihle Duma (2/7) en Schalk Pienaar (2/29) het netjiese bystand gebied.

    Kemp het egter die gunstige boultoestande op die dag die beste benut. Die Rustie-draaier het 9.2 beurte afgestuur wat 48 lopies gekos het. Dit was egter sy vermoë om die besoekers een na die ander kleedkamer toe te stuur wat die kollig gesteel het.

    Kemp het nie minder nie as ses paaltjies laat spat, terwyl aanvangsbouler, Thian Labuschagne, ook drie opgepik het.

    Dié fel boulaanslag het die druk vierkantig op die Volkies geplaas en alles het ná Louis van Wyk se 30 lopies in duie gestort. Die span van Potchefstroom kon uiteindelik net 135 vermag voordat Kemp die laaste paaltjie geneem het, 48 lopies kort van ‘n wentotaal.

    Beknopte telkaart: 

    Hoërskool Rustenburg 182 (Tristan van der Linde 32, Extras 29, Henlo van Rooyen 27, Xander Wenhold 26; Andries Venter 3/26, Sihle Duma 2/7, Schalk Pienaar 2/29); Potchefstroom Volkskool 135 (Louis van Wyk 30, Ruan Smit 24, Ben Oosthuizen 22; Henri Kemp 6/48, Thian Labuschagne 3/28). Hoërskool Rustenburg wen met 47 lopies. 

  • Mohammed’s century beats down Black Caps, Baker bamboozles Nkowankowa

    Mohammed’s century beats down Black Caps, Baker bamboozles Nkowankowa

    Photo: Ankia Botha.

    Muaaz Mohammed, of Hoërskool Piet Potgieter, in Mokopane, scored the first century of the 2025 Limpopo Super League on Saturday to guide his side to victory over Hoërskool Ben Vorster‘s Black Caps.

    Relive all the Schools Cricket action on SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Playing at the Black Caps’ Premier Park Oval, Piet Pot, as they are more commonly known, was sent in to bat. At first, it seemed that it was going to be a tough slog for the visitors, with Rivoningo Chauke and Khulani Mnisi doing early damage with the ball.

    Chauke was the home team’s most successful bowler, taking 4/38 from his 10 overs, while Mnisi finished with 3/57. Mohammed, who made the provincial team last year, relied on his experience to counteract the Ben Vorster attack.

    Taking the fight to them, he struck 12 fours and five sixes, racing to an aggressive 103 from only 83 balls before he was dismissed by Chauke.

    Rayaan Malji (53) and Frederik Botes (45) provided strong support, which helped the visitors to an intimidating total of 293 from their 50 overs.

    In reply, Sontag Ramatsoma batted well for Ben Vorster. His 63 runs gave the side from Tzaneen hope, while Mnisi, after his solid bowling performance weighed in with 28

    The trio of Malji, Botes and Mohammed having caused the Black Caps pain with their bats then hurt them with the ball. Malji knocked over 3/34, Botes 2/38, and Mohammed 2/43 as Ben Vorster was bowled out for 224, 69 runs less than Piet Pot’s tally.

    Also in Tzaneen, Merenksy Landbou Akademie crushed Nkowankowa Hub by 189 runs.

    Captain Luka Heinlein and star top-order batsman, Rinaldo Bornman, laid a solid foundation as the Plasies, batting first, totalled 248 in their 50 overs. Heinlein top-scored with 56, while Bornman contributed 51.

    The day, though, belonged to left-arm spinner, Timothy Baker. Over the past two years, he’s proved himself to be Merensky’s main strike bowler and he showed his prowess once again by spinning a web around the Nkowankowa batsmen.

    Baker’s decisive contribution was 5/29, while Heinlein snared three wickets cheaply, which led to the visitors sliding to just 59 all out.

    Summarised scorecards 

    Hoërskool Piet Potgieter 293/10 (Muaaz Mohammed 103, Rayaan Malji 53, Frederik Botes 45; Rivoningo Chauke 4/38, Khulani Mnisi 3/57, Njabulo Maseko 2/42); Ben Vorster 224/10 (Sontag Ramatsoma 63, Khulani Mnisi 28; Rayaan Malji 3/34, Frederick Botes 2/38, Muaaz Mohammed 2/43). Hoërskool Piet Potgieter won by 69 runs. 

    Merensky Landbou Akademie 248/10 (Luka Heinlein 56, Rinaldo Bornman 51, Cashan Jacobsz 29*, Xander Schoeman 26, Extras 24; Prosperity Machabe 2/48, Allen Shivuri 2/50, Vinani Mkhawani 2/62); Nkowankowa Hub 59/10 (Javulike Chavala 19; Timothy Baker 5/29, Luka Heinlein 3/13). Merensky Landbou Akademie won by 189 runs

  • Koekemoer leads Menlopark to win, Waterkloof steamrolls Pretoria Boys High

    Koekemoer leads Menlopark to win, Waterkloof steamrolls Pretoria Boys High

    Cricket bat and helmet on field during sunny dayMorné Koekemoer played a crucial innings of 85 runs to guide Die Hoërskool Menlopark to their first victory of the 2025 Titans Platinum A-League on Saturday.

    Read and relive all the 2025 Schools Cricket action on SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    This season, the Platinum League boasts a cracking lineup of teams and matches. Menlopark, Hoërskool Waterkloof, Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) and Hoërskool Garsfontein‘s Ysbere all possess serious firepower. A four-horse race for the Titans’ honours is not out of the question.

    Batting at four for the Parkies, Koekemoer laid the foundation in the middle order, playing the anchor role in his side’s 68-run victory over Prestige College, at the Prestige Oval, in Hammanskraal. His innings, which came off only 70 balls, allowed the rest of the lineup to bat around him.

    Firstly, he combined nicely with Luan Barnard (38) in a partnership of 89 runs and then he put on another 27 with young gun Jan-Willem Pienaar (32). Further useful contributions from Jacques de Villiers (28) and James Bronkhorst (24) took the visitors to a healthy 257/9 from their 50 overs.

    Ditebogo Chauke, Prestige’s bowling spearhead, found a good rhythm and was rewarded with a return of 3/39 from nine overs. Johan Bosch did the trick for Menlopark, snapping up 4/22 to rip through Prestige College’s top order.

    Despite a hard-fought 60 from Omphile Maredi, who also contributed 2/52 with the ball, Menlopark comfortably held the upper hand and eased to a 68-run victory.

    In Pretoria, at the André van der Walt Oval, Waterkloof’s AJ de Villiers notched a classy century as the defending champions overpowered Pretoria Boys High. As good opening batsmen do, De Villiers occupied the crease well. He spent 140 deliveries in the middle and struck 15 fours and two sixes in a masterful 124.

    Kloof captain and hard-hitting middle-order batsman, Riley Miller, made his presence felt, clubbing five sixes in his 75, which helped lift his side to 278/6 from their 50 overs. Eduan Gottfried was the best of Boys High’s bowlers, claiming 3/56 in eight overs.

    Unfortunately for Boys High, their batsmen didn’t come close to replicating the efforts of the Waterkloof batsmen, which had plenty to do with Ricardo Crous. He undermined the PBHS innings by knocking over 4/30.

    Three wicket hauls from Rivan Booysen (3/10) and Jaco van der Walt (3/21) meant Boys High never got going and they were dismissed for only 100, 178 runs shy of Waterkloof’s total.

    Summarised scorecards

    Die Hoërskool Menlopark 257/9 (Morné Koekemoer 85, Luan Lombard 38, Jan-Willem Pienaar 32, Jacques de Villiers 28, James Bronkhorst 24; Ditebogo Chauke 3/39, Bongani Sithole 2/35, Omphile Maredi 2/52, Gift Motlhasedi 2/40); Prestige College 189 (Omphile Maredi 60, Lesedi Mabena 24, Mohau Mahlnagu 24; Johan Bosch 4/22, Matt van der Westhuizen 2/33, Jordan van Eck 2/39). Menlopark won by 68 runs. 

    Hoërskool Waterkloof 278/6 (AJ de Villiers 124, Riley Miller 75, Johan Feuth 33, Extras 20; Eduan Gottfried 3/56, Jaydon Knott-Craig 2/47); Pretoria Boys High 100 (Pieter Steyn 27, Timothy Gordon 21; Ricardo Crous 4/30, Rivan Booysen 3/10, Jaco van der Walt 3/21). Waterkloof won by 178 runs. 

  • Die Bowl bly in Potch, maar kan Volkies vir Gimmies onttroon?

    Die Bowl bly in Potch, maar kan Volkies vir Gimmies onttroon?

    FOTO: Potchefstroom Volkskool op Facebook.

    Die SDC Noordvaal Cup se Bowl-trofee sal weer vanjaar in Potchefstroom staanplek kry. Die groot vraag is net, waar? Weer by Potchefstroom Gimnasium, óf by Potchefstroom Volkskool?

    Herleef al die SDC Noordvaal Bowl-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Gimmies het die kanse om hul titel suksesvol te verdedig lewendig gehou deur vir Hoërskool Jeugland met 22-18, op die Piet Malan-veld, te verslaan.

    Die besoekers van Kempton Park het dit egter geensins maklik gemaak vir die verdedigende kampioen nie.

    Jeugland se agterste driehoek, met heelagter, King Agbanzo, aan die spits, het die Gimmies se verdediging by meer as een geleentheid oorhoeks gehad. Agbanzo en sy twee vleuels, Jan Romano en Thando Ngomane, het elkeen gaan druk om die druk vierkantig op die Gimmies te plaas.

    Heelagter, Josh Pretorius, het egter tot die tuisspan se redding gekom. In straks sy beste vertoning van die jaar, het Pretorius twee keer deurgewals om die Gimmies terug in die wedstryd te kry, nadat hulle met 8-13 agtergeloop het teen rustyd.

    Losskakel-generaal, Zandré Da Silva, het nie alleen ook agter die besoekers se doellyn gaan draai nie, maar albei Pretorius se drieë verdoel en met ‘n kritieke strafdoel geslaag om sy span oor die wenstreep te help kry.

    Potchefstroom Volkskool was self in ‘n hewige stryd met Bergsig Akademie gewikkel. Die ervaring van staatmakers, Lourenzo Louw en Lethabo Riet, het ‘n sleutelrol gespeel in Volkies se sege van 26-24. Die duo was nie slegs dodelik op die aanval nie, maar hul verdediging het grootliks gehelp om die Eagles van ‘n plek, vir die eerste keer ooit, in die Bowl-eindstryd te weerhou.

    Skrumskakel, Juhan Geldenhuys het ook sy deel bygedra vanaf die skopkegel. Die drie strafdoele en een doelskop waarmee hy geslaag het was ongetwyfeld ‘n bepalende faktor, terwyl plaasvervangers, Joshua van der Westhuizen en Nolan Roets, die nodige woema vanaf die bank gebied het vir die naelskraapse sege.

    Hoewel aan die verloorkant, het die span Rustenburg gewys dat hy in dié afdeling hoort. Met drie spanne wat in die halfeindronde uitgedraf het, lyk die toekoms by die Eagles rooskleurig onder die vlerk van Martin Pelser en voorspelerafrigter, Kosie Jansen van Vuuren.

    Puntemakers: 

    Potchefstroom Gimnasium 22 (8) – Drieë: Josh Pretorius (2), Zandré Da Silva. Doelskoppe: Da Silva (2). Strafdoel: Da Silva. Jeugland 18 (13) – Drieë: Jan Ramano, Thando Ngomane, King Agbanzo. Strafdoel: Agbanzo.

    Potchefstroom Volkskool 26 (16) – Drieë: Lethabo Riet, Juan Fourie, Louis Fourie. Doelskop: Juhan Geldenhuys. Strafdoele: Geldenhuys (3). Bergsig Akademie 24 (14). 

    Ander spanne: 

    o.16: Merensky 38, Bergsig Akademie 24; Eldoraigne 31, Dinamika 16.

    o.15: Eldoraigne 31, Bergsig Akademie 15; Ermelo 22, Dinamika 17.

    o.14: Potchefstroom Gimnasium 27, Dinamika 11; Jeugland 17, Ermelo 7.

  • Monties sterk op pad terug Plaat toe, Pieties doof Liggies uit

    Monties sterk op pad terug Plaat toe, Pieties doof Liggies uit

    Hoërskool Montana is steeds goed op koers om na vanjaar van die SDC Noordvaal Cup se Skild- na die Plaat-afdeling terug te skuif.

    Herleef al die SDC Noordvaal Skild-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Die Monties, wat verlede jaar gerelegeer is, het vanjaar, saam met Hoërskool Ben Vorster, die Skild oorheers en het bo aan die algehele puntelys geëindig. Die eerste span se naelskraapse sege van 19-18 oor Hoërskool Secunda in Saterdag se halfeind het hul kanse verder versterk.

    Dit was egter so hittete of die span van Mpumalanga het die vreugdevieringe in die wiele gery.

    Die Monties het die toon vir grootste gedeelte van die wedstryd aangegee en was kort na die omdraaislag reeds met 19-6 voor, met die tuisspan se senterpaar, kaptein Hendrew Schoeman en Luan Barnard, wat in daardie stadium uithalerspel gelewer het. Soos gebruiklik, was albei gevaarlik met bal in hand, maar dit was vernaam hul soliede verdediging teen Secunda se Bismarck Jansen en Armand Underhay wat ‘n groot rol in die uiteindelike oorwinning gespeel.

    Drieë deur linkervleuel, Damian de Beer, en steelkantflank, Zander van der Merwe, in die tweede helfte het vir Secunda terug in die wedstryd gebring. Dit was verál Van der Merwe s’n, met sowat vier minute oor, wat die senuwees van die Monties se ondersteuners op hol gejaag het.

    Die besoekers het egter uit tyd uit gehardloop en kon op die einde net-net nie die Monties se aanvanklike oorheersing heeltemal uitblus nie.

    Goeie nuus vir Secunda was nietemin dat sy o.14 span ‘n skoksege oor Hoërskool Ben Vorster behaal het. Die jongelinge het, slegs ‘n week nadat hulle met 7-38 teen die einste Ben Vorster vasgeval het, die bordjies dramaties met met 16-14 verhang, om die span van Mpumalanga van relegasie te red.

    In Pietersburg het Hoërskool Pietersburg vir die tweede keer vanjaar met Hoërskool Lichtenburg afgereken om sy plek in die halfeind, teen Montana, in Pretoria te bespreek. Dit was ‘n kragmeting wat hoofsaaklik deur die voorspelers beslis is, met sewe van die totaal van nege drieë in die Pieties se oorwinning van 36-28 wat deur die twee spanne se voorspelers gedruk is.

    Die Liggies het teen rustyd redelik gemaklik met 23-14 voorgeloop, maar daarna het die Pieties se pak sy stem dik gemaak het om die kastaiings uit die vuur te krap. Die voorrymanne, Ziahn Lombaard en Krissie Swanepoel, het die leiding geneem in hierdie verbete terugvegpoging.

    Die Pieties het nie minder nie as 22 punte aangeteken in die tweede skof, teenoor slegs vyf van die besoekers, wat ‘n duidelike waarskuwing aan die Monties gerig het voor eerskomende Saterdag se eindstryd.

    Puntemakers: 

    Montana 19 (12) – Drieë: Aiden Vorster, Luan Barnard, Ulrich van Biljon. Doelskoppe: Rubel Bester (2). Hoërskool Secunda 18 (6) – Drieë: Damian de Beer, Zander van der Merwe. Doelskop: Alonzo Blackenberg. Strafdoele: Blackenberg (2).

    Hoërskool Pietersburg 36 (14) – Drieë: Krissie Swanepoel, Ziahn Lombaard, Andru de Beer, Celliers van der Merwe, Elkan Esterhuyze. Doelskoppe: Ryno Mienie (4). Strafdoel: Mienie. Hoërskool Lichtenburg 28 (23) – Drieë: Juan van Rhyn, George Bingudza, KG Legodi, Tiaan Booysen. Doelskop: Luan Snyman. Strafdoele: Snyman (2).

    Ander spanne: 

    o.16: Piet Retief 23, Montana 20; Hoërskool Pietersburg 21, Ben Vorster 17.

    o.15: Ben Vorster 22, Lichtenburg 3; Piet Retief 19, Hoërskool Pietersburg 14.

    o.14: Montana 30, Heidelberg Volkskool 0; Secunda 16, Ben Vorster 14.

  • Rooi Bulle verdedig Plaat-titel teen Middies

    Rooi Bulle verdedig Plaat-titel teen Middies

    FOTO: Suné Rowe Photography.

    Die akkurate korrelwerk van agsteman Tercius Bezuidenhout het verseker dat Hoër Tegniese Skool Middelburg eerskomende Saterdag, in ‘n herhaling van die Middelburg-derby, sy titel verdedig teen die naburige Hoërskool Middelburg in die eindstryd van die SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling.

    Herleef al die SDC Noordvaal Plaat-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Bezuidenhout, wat reeds in die Rooi Bulle se laaste rondomtalie-wedstryd teen Hoërskool Zwartkop aangedui het dat hy oor ‘n kanonpoot beskik, het die afgelope naweek wéér drie strafdoele en twee doelskoppe deur die pale gejaag. Met dié 13 punte het Bezuidenhout ‘n beduidende bydrae gelewer tot sy span se sege van 23-10 oor Hoërskool Klerksdorp, in Saterdag se halfeindstryd.

    Die Rooi Bulle was puik op die aanval, maar, was dit hul verdediging wat uitgestaan het. Om die gevaarlike span van Klerksdorp tot slegs 10 punte in 70 minute te beperk, was ‘n oorwinning op sigself, en in hierdie opsig het Bezuidenhout se losvoorspeler-maat, Ethan Kock, ‘n reuserol verrig met sy hoë werkverrigting in die los.

    Agterlangs, het losskakel en kaptein, Johnny Dos Santos, in sy 50ste wedstryd vir die Rooi Bulle, sake netjies dikteer om sy span op die voorvoet te kry en te hou.

    Vir Klerksdorp, kon slegs Jarred van Staden (binnesenter) die verdediging oopkloof om die tuisspan se enigste drie aan te teken.

    Die eindstryd behoort oudergewoonte ‘n titaniese stryd tussen rooi en groen af te gee. Die Middies het self uitstekend vertoon in hul halfeind teen Zwartkop Vrydagaand en is immers die enigste span wat vanjaar met die Vikings kon afreken.

    Puntemakers: 

    HTS Middelburg 23 (14) – Drieë: Ethan Kock, Ruwan Graaff. Doelskoppe: Tercius Bezuidenhout (2). Strafdoele: Bezuidenhout (3). Hoërskool Klerksdorp 10 (3) – Drie: Jarred van Staden. Doelskop: Dorian Isaacs. Strafdoel: Isaacs.

    Ander spanne: 

    o.16: Oos-Moot 22, Hoërskool Kempton Park 15.

    o.15: Zwartkop 11, Wesvalia 10.

    o.14: Hoërskool Kempton Park 17, Hoërskool Middelburg 14.

  • Helpies “Storm” die eindstryd binne

    Helpies “Storm” die eindstryd binne

    EUGENE DE LANGE, steelkantflank van Helpmekaar Kollege, beur oor vir een van sy span se vyf drieë in die sege van 39-36 oor Hoërskool Noordheuwel. FOTO: Marius Nortjé.

    ‘n Strafdoel deur Wian Storm, met slegs twee minute speeltyd oor, het vir Helpmekaar Kollege vir die eerste keer sedert 2019 ‘n plek in die eindstryd van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling bespreek.

    Herleef al die SDC Noordvaal Beker-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)

    Storm se strafdoel was die beslissende faktor in ‘n naelbytstryd tussen die Helpies en Hoërskool Noordheuwel, wat deurentyd wipplank gery en die toeskouers in Johannesburg op die punte van hul stoele gehou het. Dit was tot op daardie stadium nie duidelik wie eerskomende Saterdag teen Hoërskool Garsfontein in die eindstryd te staan sou kom nie, maar Storm se suksesvolle poging vanaf die skopkegel het ‘n naelskraapse sege van 39-36 vir die tuisspan beklink.

    Storm het boonop ook vier van sy span se vyf drieë verdoel en met nóg ‘n strafdoel vroeër geslaag.

    Storm se skakelmaat, Shaye Lourens, se diens agter die Helpies se woelige pak was uitstekend, terwyl sy afstormdrie in die laaste 10 minute ook ‘n reuse-aandeel in die uiteindelike oorwinning gehad het. In die middeveld, was senters, Ethan Lourens en Clinton Cloete, weer op hul stukke met uitstekende aanvalslyne.

    Voorlangs het die stryd tussen die twee pak onverpoos voortgewoed.

    Die Nories se agttal het vir die besoekers die grondslag gelê vir ‘n verbete terugvegpoging in die tweede helfte, nadat hulle met die omdraaislag ‘n agterstand van 10-24 in die gesig gestaar het. Loskopstut, Ruben Botes, wat vir kaptein, Skuttie Bezuidenhout, vervang het, het sy kans aangegryp en danksy die Nories se effektiewe dryfmaal oorgebars vir ‘n tweekuns aan drieë.

    Slot, Robert Hurn, en oopkantflank, Andrew Lambert, het ook verwoed te werk gegaan in die vastelos, met Hurn wat een van die besoekers se vyf drieë gedruk. Dié aanslag in die tweede skof was oplaas egter net-net nie genoeg nie, met die tuisspan se vaardigehede en vermoëns om in kontak af te laai, wat uiteindelik die deurslag gegee het.

    Puntemakers: 

    Helpmekaar Kollege 39 (24) – Drieë: Clinton Cloete, Eugene de Lange, Gustav Grotius, Kean Butler, Shaye Lourens. Doelskoppe: Wian Storm (4). Strafdoele: Storm (2). Noordheuwel 36 (10) – Drieë: Ruben Botes (2), Aiden Bester, Tidi Moeketsane, Robert Hurn. Doelskoppe: Jeandré Uithaler (4). Strafdoel: Uithaler.

    Ander spanne: 

    o.16: Monument 39, Noordheuwel 33.

    o.15: Noordheuwel 15, Helpmekaar 14.

    o.14: Noordheuwel 22, Monument 10.

  • Garsies se “skrumpet-brigade” looi die Parkies

    Garsies se “skrumpet-brigade” looi die Parkies

    YUVRAH GEORGE, regtervleuel van Hoërskool Garsfontein, duik oor vir een van sy drie drieë in die halfeindstryd teen Hoërskool Menlopark. FOTO: Frans Lombrad/Actionpix.

    Hoërskool Garsfontein se “skrumpet-brigade” het die wa deur die drif getrek teen Die Hoërskool Menlopark, vir die Bere om uiteindelik met 45-29 te seëvier en deur te dring na die eindstryd van SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling.

    Herleef al die SDC Noordvaal Beker-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Yuvrah George het sy tuisveld binne die eerste 10 minute reeds aan die brand gespeel om sy tweede driekuns aan drieë behaal.

    George het Saterdag weer op regtervleuel uitgedraf, nadat Junaide Stuart ‘n hou teen die bobeen gekry het in die SA o.18-span se laaste wedstryd teen Engeland in die onlangse Internasionale Reeks in die Kaap. Stuart is wel later van die bank ingespan en het ook sy stempel afgedruk.

    Die Bere was, danksy George, blitsig uit die blokke en het binne ‘n oogwink met 14-0 voorgeloop.

    Die Parkies se formidabele dryfmaal het spoedig egter aan die gang gekom en vir Declan Pelser in staat gestel om oor te bars vir ‘n tweekuns. Dit het die momentum in die Parkies se guns geswaai, met skrumskakel, Gustav Schäffner, en buitesenter, Leskin Samuels, wat ook gedruk het om aan die besoekers ‘n voorsprong van 29-24 te bied met die omdraaislag.

    Stuart het in die tweede skof egter die knoop vir die Bere deurgehak met ‘n paar stukkies briljante individuele spel, wat aan hom ook twee drieë besorg het. Sy tweede, na ‘n uitstekende agterlynbeweging, het die uitklophou toegedien.

    Losskakel, Joshua Gouws, het die res bygevoeg, terwyl die Parkies geen verdere punte in die tweede skof kon aanteken nie. Gouws het met drie doelskoppe en twee strafdoele geslaag vir die verdedigende kampioen, wat nou na ‘n vierde agtereenvolgende eindstryd, tuis teen Helpmekaar Kollege, deurgedring het.

    Puntemakers: 

    Garsfontein 45 (24) – Drieë: Yuvrah George (3), Junaide Stuart (2), Derrick Kuhn. Doelskoppe: Joshua Gouws (3). Strafdoele: Gouws (2). Menlopark 29 (29) – Drieë: Declan Pelser (2), Gustav Schäffner, Tiaan Boshoff, Leskin Samuels. Doelskoppe: Willie Pieterse (2).

    Ander spanne: 

    o.16: Menlopark 25, Waterkloof 20.

    o.15: Garsfontein 38, Monument 26.

    o.14: Helpmekaar 26, Garsfontein 19.

  • Abbey se stewel stuit Zwarries se segetog

    Abbey se stewel stuit Zwarries se segetog

    FOTO: Frans Lombard/Actionpix.

    Hoërskool Middelburg se Matthew Abbey het met sy skopskoen Hoërskool Zwartkop se onoorwonne seisoen, asook sy hoop om vir ‘n eerste keer die Plaat-eindstryd te haal, beëindig.

    Herleef al die SDC Noordvaal Plaat-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools)

    Abbey het ongetwyfeld sy beste voet voorgesit in Vrydagaand se halfeindstryd in Centurion. Nie alleen was die losskakel se taktiese spel van hoogstaande gehalte nie, maar sy visier was dodelik ingestel om die Middelburgers in ‘n amperse toetsatmosfeer tot ‘n naelbytsege van 22-19 oor die Vikings te lei.

    Dit was die Zwarries se eerste nederlaag in 18 wedstryde, en hul eerste vanjaar.

    Die besoekers het elke geleentheid om punte op die bord te sit aangegryp, en uiteindelik drie drieë teen die een van Middies aangeteken, maar Abbey het dit telkens met sy stewel geneutraliseer. Die Pumas se Cravenweek-losskakel het koel en kalm gebly om sy span se drie te verdoel en vyf strafdoele  deur die mikke te jaag.

    Soos die geval met enige halfeind waar die opponente uitstekend teen mekaar opweeg, het die twee spanne in die eerste 15 minute versigtig houe gewissel om hul aanvalsritme stelselmatig te vind.

    Dit was uiteindelik ‘n steekskoppie deur die Zwarries se generaal, Tilon Baron, wat op die Vikings se eerste drie, deur linkervleuel, Stiaan Botha, uitgeloop het. Hoewel Baron nie ‘n gelukkige dag vanaf die skopkegel beleef het nie, was sy taktiese spel en visie oudergewoonte uit die boonste rakke.

    Die tuisspan het meedoënloos begin aanval om die besoekende Middies knaend onder druk te plaas. Middelburg se verdediging was deurgaans rotsvas, hoewel die Zwarries daarin geslaag het om drie keer agter die doellyn te draai.

    Abbey het op Baron se taktiese vernuf met stukkies briljante individuele spel van sy eie geantwoord. ‘n Enorme lynskop het byvoorbeeld gelei daartoe dat Wian Olwagen, in sy eerste wedstryd terug na sowat twee maande, kon oorbars, om met die omdraaislag, en onder taamlike druk, ‘n naelskraapse voorsprong van 13-12 aan sy span te besorg.

    Abbey se twee strafdoele in die eerste helfte het ook gehelp om die momentum te laat swaai en die Middies vroeg in die tweede skof op die voorvoet te plaas. Hulle het voortgebou op dié momentum om, soos die Zwarries, herhaaldelik te begin aanval, met Olwagen wat uitmuntend was in daardie opsig.

    Skrumskakel, Keabetswe Nkgadima, se ervaring het ook deurgeskemer. Dit was Nkgadima en Abbey se tweede seisoen saam as skakelpaar, en eersgenoemde het sy losskakel van puik diens verseker.

    Die Vikings se haker, Regan Blignaut, het uitgetroon met sy barslopies en hoë werkverrigting, selfs in die tweede helfte toe die Middies die oorhand geniet het. Blignaut is welverdiend met ‘n tweekuns aan drieë beloon.

    Die uitstaande kenmerk van die kragmeting was egter albei spanne se vasberadenheid op die verdediging. Dit was vernaam in die laaste kwartier, toe die skote behoorlik geklap het, dat die Zwarries se laaste greintjie net nie genoeg was om Abbey se stewel te klop en oor die lyn te kom nie.

    Puntemakers: 

    Zwartkop (12) – Drieë: Regan Blignaut (2), Stiaan Botha. Doelskoppe: Tilon Baron, Luan Janse van Rensburg. Strafdoele:
    Hoërskool Middelburg (13) – Drieë: Wian Olwagen. Doelskop: Matthew Abbey: Strafdoele: Abbey (5).

    Ander spanne: 

    o.16: Hoërskool Middelburg 17, Hoërskool Klerksdorp 11.

    o.15: Oos-Moot 29, Kempton Park 28.

    o.14: Wesvalia 37, HTS Middelburg 20.