SSPN Test Site

Author: froberholzer

  • Potch is Bowl se halfeind-mekka

    Potch is Bowl se halfeind-mekka

    FOTO: Potchefstroom Volkskool op Facebook.

    Alle paaie lei eerskomende naweek na Potchefstroom waar albei die halfeindstryde in die Bowl-afdeling van die SDC Noordvaal Cup by die afdeling se voorlopers plaasvind.

    Herleef al die SDC Noordvaal Bowl-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)

    Potchefstroom Gimnasium het sy plek bo aan die puntelys behou, maar moes klippe kou om naelskraaps vir Bergsig Akademie met 18-17 te troef.

    Die Eagles het self vir die halfeindronde gekwalifiseer en moet terugkeer Potch toe om vir Potchefstroom Volkskool aan te durf in die een halfeindstryd. In die ander halfeind, speel die Gimmies gasheer vir ‘n onvoorspelbare Hoërskool Jeugland, wat vir Hoërskool Ermelo met 27-25 verslaan het om sy plek onder die boonste vier te bespreek.

    De Wet Grobler was oudergewoonte ‘n uitblinker vir die Gimmies. Grobler, wat op senter uitgedraf het in die plek van die beseerde Elrich Bosch, is vir sy kranige vertoning met een sy span se twee drieë beloon.

    Vir die Eagles het regtervleuel, Kiabetswe Daile, die skare by ‘n paar geleenthede laat regop sit. Daile het oorgewals vir ‘n tweekuns aan drieë en dit was dit so hittete of Martin Pelser se span van Rustenburg het vir die Gimmies verras.

    In Alberton het die Volkies se voorhoede weer die oorhand geniet. Hulle het voorlangs heelwat spasie geskep vir die gevaarlike agterste driehoek, om uiteindelik vir Hoërskool Dinamika met 32-22 die loef af te steek. Haker, Louis Fourie, het weer gewoel in die vastelos en self twee keer oorgeduik vir drieë danksy die Volkies se dinamiese dryfmale.

    Jeugland se voorryman, Phenyo Nkoana, en regtervleuel, Thando Ngome, het elk twee keer gaan druk in hul span se naelbytsege oor Ermelo. Dit was egter heelagter, King Agbanzo, wat uiteindelik met sy stewel die deurslag gegee het. Hoewel dit sy enigste suksesvolle poging pale toe was, het die twee punte danksy Agbanzo se doelskop die verskil tussen wen en verloor beteken, en ‘n plek in die halfeind verseker.

    Hoërskool Eldoraigne se afrigters wonder seker steeds waar dié span heel jaar was wat Saterdag vir Merensky Landbou Akademie in Tzaneen met 36-8 oorrompel het.

    Die betroubare MC Scheepers en die rooikop vuurvreter, Cameron Killian, het hul laaste uitstappie as Eldos terdeë geniet, vernaam in die vastelos. Scheepers is uiteindelik met twee drieë beloon, terwyl Killian ook agter die doellyn gaan draai het.

    Puntemakers: 

    Potchefstroom Gimnasium 18 (8) – Drieë: De Wet Grobler, Rea Moalosi. Doelskop: Zandré Da Silva. Strafdoele: Da Silva (2). Bergsig Akademie 17 (5) – Drieë: Keabetswe Daile (2), Martin Pieterse. Doelskop: Carlo de Jager.

    Potchefstroom Volkskool 32 (8) – Drieë: Louis Fourie (2), Lethabo Riet, Wian Victor, Hennie Pretorius. Doelskoppe: Juhan Geldenhuys (2). Strafdoel: Geldenhuys. Dinamika 22 (10). 

    Jeugland 27 – Drieë: Phenyo Nkoana (2), Thando Ngome (2), King Agbanzo. Doelskop: Agbanzo. Hoërskool Ermelo 25.

    Eldoraigne 36 (17) – Drieë: MC Scheepers (2), Darren Bruwer, Cameron Kilian, Jean de Villiers, Kevin Earl. Doelskoppe: Damian Elferink (3). Merensky Landbou Akademie 8 (3) – Drie: Marno Nel. Strafdoel: JD Boshoff.

    Ander spanne: 

    o.16: Bergsig Akademie 38, Potchefstroom Gimnasium 20; Dinamika 18, Potchefstroom Volkskool 5; Merensky 29, Eldoraigne 7; Ermelo 39, Jeugland 12.

    o.15: Bergsig Akademie 29 Potchefstroom Gimnasium 19; Dinamika 14, Potchefstroom Volkskool 5; Eldoraigne 31, Merensky 0; Ermelo 52, Jeugland 5.

    o.14: Potchefstroom Gimnasium 33, Bergsig Akademie 14; Dinamika 44, Potchefstroom Volkskool 5; Merensky 14, Eldoraigne 0; Jeugland 26, Ermelo 10.

  • Pieties kom van agter om tuishalfeind te verseker

    Pieties kom van agter om tuishalfeind te verseker

    FOTO: Hoërskool Pietersburg op Facebook.

    Hoërskool Pietersburg het, soos in die fabel van “Die skilpad en die haas”, met onverbiddelike deursettingvermoë sy pad na die halfeindronde van die SDC Noordvaal Cup se Skild-afdeling oopgespeel.

    Herleef al die SDC Noordvaal Skild-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    ‘n Derde agtereenvolgende bonuspuntsege, die keer oor Hoërskool Die Anker (24-21), het nie alleen vir hom ‘n plek in die uitspeelronde verseker nie, maar beteken voorts dat hy eerskomende naweek tuisveldvoordeel in sy halfeindstryd sal geniet.

    Hoërskool Montana se naelskraapse sege van 22-20 oor Hoërskool Lichtenburg het veroorsaak dat die Pieties, vanaf vyfde plek, verby die Liggies kon skuif om nou die tweede posisie te beklee.

    Dit was vir die soveelste keer vanjaar die Pieties se dieselenjin wat die grondslag vir ‘n sege gelê het. Dit het nietemin ‘n reusestryd afgegee met Die Anker se groot pak, wat self nie geskroom het om die skote te laat klap nie. Al drie die Pietersburgers se drieë, buiten ‘n strafdrie, is deur lede van die agttal gedruk, met haker, Ziahn Lombaard, wat sy seisoen se drieëtotaal verder verhoog het met nóg ‘n kuier agter die doellyn.

    Vir Die Anker het sy voorhoede genoegsame spasie aan die buitekant geskep vir vleuel, Jonathan Jordaan, en buitesenter, Arno Krugel, om netjies af te rond, maar was dit oplaas nie goed genoeg nie, met die Pieties wat teen rustyd reeds met 19-7 voorgeloop het.

    Die Monties se tweede sege in Lichtenburg vanjaar beteken dat hulle hul plek bo aan die puntelys behou. Indien hulle eerskomende naweek se halfeindstryd ook kan wen, sal die eindstryd dus tuis in Pretoria plaasvind.

    Monties kom in die halfeindronde te staan teen Hoërskool Secunda, wat danksy ‘n bonuspunt, behaal met slegs ‘n minuut oor op die horlosie, in sy nederlaag van 12-17 teen Hoërskool Ben Vorster, verby Heidelberg Volkskool kon skuif op die puntelys.

    Vir die Buffels was die oorwinning ‘n gepaste afskeid vir vernaam heelagter, Freddie Pinto, en staatmaker-agsteman, Tumi Ramohlale, wat die Tzaneeners se twee drieë gedruk het. Ramohlale was ongetwyfeld een van die span van Tzaneen se grootste uitblinkers deur die loop van die seisoen.

    Puntemakers: 

    Hoërskool Pietersburg 24 (19) – Drieë: Ziahn Lombaard, Brent Vorster, FC Smith, Strafdrie. Doelskop: Ryno Mienie. Die Anker 21 (7) – Drieë: Branden Sauerman, Jonathan Jordaan, Arno Krugel. Doelskoppe: Edrick Pienaar (3).

    Montana 22 (5) – Drieë: Juan Theunissen, Luan Barnard, Rubel Bester, Aiden Vorster. Doelskop: Rubel Bester. Hoërskool Lichtenburg 20 (14). 

    Ben Vorster 17 (14) – Drieë: Freddie Pinto, Tumi Ramohlale. Doelskoppe: Shelton-Ray Primo (2). Strafdoel: Primo. Hoërskool Secunda 12 (0) – Drieë: Renier Combrink, Sifiso Hlungwane. Doelskop: Alonzo Blackenberg.

    Ander spanne: 

    o.16: Pietersburg 43, Die Anker 14; Montana 28, Lichtenburg 19; Ben Vorster 39, Secunda 12.

    o.15: Pietersburg 29, Die Anker 0; Lichtenburg 29, Montana 12; Ben Vorster 36, Secunda 3.

    o.14: Pietersburg 27, Die Anker 0; Montana 33, Lichtenburg 5; Ben Vorster 38, Secunda 7.

  • Parkies deur na halfeind, Bastiaanse sluit Klofies-hoofstuk met sege af

    Parkies deur na halfeind, Bastiaanse sluit Klofies-hoofstuk met sege af

    FOTO: Riaan de Bruyn/RDB Photography.

    Die Hoërskool Menlopark het sy plek in die halfeindronde van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling Saterdag op sy tuisveld deur en deur verdien.

    Herleef al die SDC Noordvaal Beker-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Die Pretorianers het die nodige verrig deur vir Hoërskool Rustenburg met 30-26 te troef en sodoende ‘n derde agtereenvolgende bonuspuntsege te behaal.

    Nie alleen het die eerste span ‘n plek in die halfeindronde bespreek nie, maar die oorwinning het ook die relegasiespook suksesvol afgeweer.

    Hoewel Parkies ná die afgelope naweek se aksie steeds 0.5 punte agter Hoërskool Transvalia lê, het hulle twee spanne in die halfeindronde, in vergeleke met die geen van Valia, wat verseker dat hulle volgende naweek die nodige punte kan behaal om verby die manne van Vanderbijlpark te skuif.

    Die sege oor die Rusties was egter allermins maklik. Die besoekers het die pap dik aangemaak en, deur middel van uitstekende aanvallende rugby en rotsvaste verdediging, die lewe moeilik gemaak vir die Pretorianers.

    Nadat buitesenter, Jon-ré Jefthas, en regtervleuel, Henré Robinson, deurgebreek het vir drieë, was die Parkies op 20-26 in die moeilikheid in die tweede halfte. Die wortel van ‘n halfeindstryd, asook die bedreiging van relegasie, het hulle egter tot hoër hoogtes aangevuur.

    Parkies het uiteindelik die wipplankstryd gewen danksy laat drieë deur plaasvervanger-heelagter, Reinhard Herbst, en Andru Keun. Keun, die gereelde kaptein en generaal in die nr. 10-trui, het ook vanaf die bank vir die Parkies oor die doellyn gehelp.

    Die streeptruie kom teen Hoërskool Garsfontein in eerskomende Saterdag se halfeindstryd op Berepark in Pretoria te staan.

    Elders in die hoofstad het Hoërskool Waterkloof se Ronan Bastiaanse sy Klofie-loopbaan met ‘n strafdoel in die doodsnikke afgesluit om vir die Blou Tornado ‘n naelbytsege van 29-28 oor Hoërskool Monument te beklink. Daarmee het Klofies ‘n derde agtereenvolgende jaar vir die Wit Bulle van Krugersdorp gewys waar Dawid die wortels gegrawe het.

    Bastiaanse, wat die tweede meeste punte aangeteken het by die onlangse Akademieweek, het dié einste week se voorste puntemaker, Jaydon Viljoen, in ‘n kritieke skopstryd uitoorlê. Bastiaanse het, benewens ‘n drie, ook drie doelskoppe en dié allerbelangrike strafdoel deur die mikke gejaag, terwyl Viljoen met ‘n doelskop, strafdoel en skepdoel geslaag het.

    Die hoogtepunt van die kragmeting was egter die stoeigeveg tussen die twee agttalle, vernaam wat die dryfmaalbewegings betref. Dit het albei hakers in staat gestel om die kollig te steel, met die Monumentare se Regardt Ernst wat drie keer vanaf dryfmale oorgeduik vir drieë, terwyl die Klofies se Ruan Jacobs op dieselfde wyse ‘n belangrike tweekuns behaal het.

    Puntemakers: 

    Menlopark 30 (15) – Drieë: Nathen du Plessis, Leskin Samuels, Bladen Pietersen, Gustav Schäffner, Reinhardt Herbst, Andru Keun. Hoërskool Rustenburg 26 (12) – Drieë: Waide Davey, MJ Otto, Jon-ré Jefthas, Henré Robinson. Doelskoppe: Ricardo Enos (3).

    Waterkloof 29 (7) – Drieë: Ruan Jacobs (2), Divan Botha, Ronan Bastiaanse. Doelskoppe: Bastiaanse (3). Strafdoel: Bastiaanse. Monument 28 (13) – Drieë: Regardt Ernst (3), Ruan Genis. Doelskop: Jaydon Viljoen. Strafdoel: Viljoen. Skepdoel: Viljoen.

    Ander spanne: 

    o.16: Menlopark 47, Rustenburg 10; Waterkloof 43, Monument 17.

    o.15: Rustenburg 22, Menlopark 17; Monument 17, Waterkloof 5.

    o.14: Rustenburg 31, Menlopark 12; Monument 8, Waterkloof 0.

  • Bere eindig bo in Beker, maar Jansies laat hulle sweet

    Bere eindig bo in Beker, maar Jansies laat hulle sweet

    FOTO: Tap Light Edits.

    Hoërskool Garsfontein moes verbete terugveg, met 26 punte in die tweede helfte, om nie alleen vir Hoërskool Dr EG Jansen uit te skakel nie, maar ook bo aan die puntelys in die Beker-afdeling van die SDC Noordvaal Cup te eindig.

    Herleef al die SDC Noordvaal Beker-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Met ‘n agterstand van 5-12 wat hulle met die omdraaislag in die gesig gestaar het, moes die Bere uithaal om die kookwaterspan van die Jansies in te haal en uiteindelik met 31-24 in Boksburg te seëvier.

    Die tuisspan het in sy laaste wedstryd soos ‘n totaal nuwe span gelyk en het veral in die eerste helfte die pap dik aangemaak.

    Binnesenter, Nathan Delport, het die Garsie-verdedigers dikwels in die eerste skof laat bontstaan met sy kranige lopies in die middeveld. Dit het ook aan Delport ‘n welverdiende tweekuns aan drieë besorg.

    Dit was egter die “pocket-rocket”, Craig Lightfoot, wat die kollig gesteel het. Hy was uitmuntend in die vastelos, en het selfs soos ‘n wafferse senter deurgebars om vanuit sy halfgebied te druk.

    Delport en Lightfoot se uitstaande pogings was oplaas nie genoeg om die verdedigende kampioen te stuit nie. Met linkervleuel, Yuvrah George, aan die spits van hul aanslag, het die Bere in die tweede helfte na hoogste versnelling oorgeskakel en vir George het die spasie gebied om briljant af te rond vir ‘n aanskoulike driekuns.

    Heelagter, Drewyn Baron, het die kersie op die koek geplaas deur, na nog ‘n puik vertoning, uit gebroke spel die wendrie te druk. Die Garsies kom volgende naweek teen Die Hoërskool Menlopark op hul tuisveld, Berepark, in die halfeindronde te staan.

    In Vanderbijlpark het die armdruk tussen Hoërskool Transvalia en Hoërskool Noordheuwel geëindig in ‘n gelykopuitslag van 14-14. Dit was ‘n klipharde kragmeting, met rotsvaste verdediging aan albei kante en nie een van die twee spanne wat bereid was om handdoek in te gooi nie.

    Dit was vernaam Valia wat beïndruk het met hul verbete verdediging in die tweede skof. Nie alleen kon haker, Wihandré Kruger, die doellyn oorsteek om sake gelykop te laat trek nie, maar die span Vanderbijl het ook die besoekers van Krugersdorp punteloos gehou na rustyd. Spoedvraat, Aiden Bester, en binnesenter Kieran Reid, het elk ‘n drie vir die besoekers gedruk.

    Die Nories verskuif nou hul fokus na volgende naweek se halfeindstryd teen Helpmekaar Kollege in Johannesburg.

    Puntemakers: 

    Garsfontein 31 (5) – Drieë: Yuvrah George (3), Morné Coetzer, Drewyn Baron. Doelskoppe: Joshua Gouws (3). EG Jansen 24 (12) – Drieë: Nathan Delport (2), Craig Lightfoot, Jeandré Rynders. Doelskoppe: Deshean Pietersen (2).

    Transvalia 14 (7) – Drieë: Daniel Kazambo, Wihandré Kruger. Doelskoppe: Jay-dee Maree (2). Noordheuwel 14 (14) – Drieë: Aiden Bester, Kieran Reid. Doelskoppe: Tidi Moeketsane (2).

    Ander spanne: 

    o.16: Garsfontein 37, EG Jansen 18; Noordheuwel 24, Transvalia 15.

    o.15: Garsfontein 24, EG Jansen 14; Noordheuwel 50, Transvalia 21.

    o.14: Garsfontein 54, EG Jansen 17; Noordheuwel 54, Transvalia 7.

  • Jansies skommel span vir Bere-stryd, moet-wen vir Valia teen Nories

    Jansies skommel span vir Bere-stryd, moet-wen vir Valia teen Nories

    FOTO: Tap Light Edits.

    Die skote gaan klap wanneer Hoërskool Dr EG Jansen en Hoërskool Garsfontein mekaar pak in ‘n kragmeting wat tradisioneel ‘n reusestryd afgee.

    Volg al die SDC Noordvaal Beker-aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Die Bere is vasberade om hul posisie bo aan die puntelys in die Beker-afdeling van die SDC Noordvaal Beker vas te maak. Dit kan natuurlik oor twee weke ‘n tuiseindstryd vir die span van Pretoria verseker.

    Dit bied voorts ‘n geleentheid vir die Garsies om die rondomtalie-fase van die kompetisie met ‘n sege af te sluit en na die wenpad terug te keer, ná hul skoknederlaag met 22-28 teen Hoërskool Noordheuwel twee weke gelede.

    Soos reeds bekend, moet Garsfontein sonder drie groot name, wat tans vir Suid-Afrika in die internasionale o.18-reeks in die Wes Kaap verteenwoordig, klaarkom.

    Dit het ‘n paar skuiwe tot gevolg gehad, met Drewyn Baron wat oorskuif na heelagter in Junade Pasensie se plek, en Neo Ledwaba wat ‘n kans kry in Baron se plek op vleuel. Ledwaba is juis vroeër gedurende die Akademieweek opgeroep vir die Blou Bulle.

    Die ywerige Yuvrah George vervang vir Junaide Stuart op linkervleuel, terwyl Morné Coetzer op vaskopstut sak in die plek van Luan van den Berg.

    Vir die Jansies is die storielyn basies dieselfde as vir vyf ander spanne in vanjaar se reeks. Dis ‘n stryd om oorlewing.

    Die Jansies besef alte goed dat die 10-punt verskil tussen hulle (182.5) en Hoërskool Menlopark (172.5), in die negende plek, alles behalwe genoeg is. Dit maak van Saterdag ‘n maak-of-breek dag vir die Arende van Boksburg.

    Boonop hang die wortel van ‘n moontlike plek in volgende naweek se halfeindronde voor hul neus, maar dan moet hulle vir die Bere omdop, en ook duim vashou dat sowel die Parkies as Hoërskool Transvalia verloor.

    Die Jansies het derhalwe hul agterlyn geskommel, met spelskepper, Deshean Pietersen, wat van heelagter na losskakel skuif en hul ander uitblinker, Zulu Otlatleng, wat in die laaste linie stelling inneem. Jayden du Preez kry kans op regtervleuel, terwyl Jeandré Reynders vir Jordan van der Westhuizen op linkervleuel vervang. Van der Westhuizen kan ‘n impak vanaf die bank maak.

    In Vanderbijlpark is Hoërskool Transvalia in ‘n ewe belangrike stryd met Hoërskool Noordheuwel gewikkel. Valia is tans met 174 slegs 1.5 ligapunte voor die Parkies, en op die eerstespan-puntelys slegs een (21) agter die einste Menlopark (22), wat hom steeds in die wedloop plaas.

    Heelagter, Lorenzo Flynn, is terug op sy pos na hy verlede naweek se kragmeting met die Klofies misgeloop het. Voorlangs maak Wihandré Kruger sy terugkeer op haker en word slot, Kyle Maartens, ook terugverwelkom, wat beteken dat die tuisspan weer op volsterkte is vir wat straks sy laaste wedstryd vanjaar kan wees.

    Vir die Nories het slot, Kean Lourens, verlede week ‘n vroeë terugkeer vanaf die bank gemaak in hul nederlaag teen die Parkies, wat aandui dat hy Saterdag gereed behoort te wees om sy plek in die beginspan in te neem en ‘n beduidende hupstoot vir die Blues-pak te bied teen die omgekrapte Valia-agttal.

    Die spanne: 

    EG Jansen t. Garsfontein om 12:25 in Boksburg: 

    EG Jansen: 15 Zulu Otlatleng, 14 Jayden du Preez, 13 Christopher Combrink, 12 Nathan Delport, 11 Jeandré Rynders, 10 Deshean Pietersen, 9 Joseph Diesel, 8 Slade Mowbray, 7 Jaco Engelbrecht, 6 Craig Lightfoot, 5 Breyton Kruger, 4 Jacques van Tonder, 3 Deveraux Wideman, 2 Marco Ventura, 1 Ruan Rossouw.

    Garsfontein: 15 Drewyn Baron, 14 Neo Ledwaba, 13 Xian Erasmus, 12 Keagan Knighton, 11 Yuvrah George, 10 Joshua Gouws, 9 Derrick Kuhn, 8 Lourenz de Jager, 7 Stefan van der Vyver, 6 JP Pieterse, 5 Derik Potgieter, 4 JJ Fourie, 3 Morné Coetzer, 2 Justin Blom, 1 Brendon Branford.

    Transvalia t. Noordheuwel om 12:40 in Vanderbijlpark: 

    Transvalia: 15 Lorenzo Flynn, 14 Dihan Crause, 13 Tshepo Molakeng, 12 Declan Hattingh, 11 Tumi Moloi, 10 Jay-Dee Maree, 9 Bernard van Dyk, 8 Wynand Stolz, 7 Danie Kazambo, 6 Juan Bischoff, 5 Christiaan Liebenberg, 4 Kyle Maartens, 3 Damian van Heerden, 2 Wihandré Kruger, 1 Vusi Morathi.

    Noordheuwel (moontlik): 15 Tristan Helmand, 14 Jayden Steyn, 13 Brandon Pieters, 12 Kieran Reid, 11 Aidan Bester, 10 Pablo Moeketsane, 9 Gillie Diedericks, 8 Armand van Eck, 7 Juandré de Villiers, 6 Andrew Lambert, 5 Kean Lourens, 4 Robert Hurn, 3 Steph Botha, 2 Wikus Roos, 1 Skuttie Bezuidenhout.

  • Parkies veg vir meer as bloot ’n plek in halfeind

    Parkies veg vir meer as bloot ’n plek in halfeind

    FOTO: Marius Nortjé.

    Hoërskool Rustenburg se besoek aan Die Hoërskool Menlopark Saterdagmiddag in Pretoria gaan vir die Parkies oor meer as bloot om ‘n plek in die halfeindronde van SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling te probeer verseker.

    Volg al die SDC Noordvaal Beker-aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Twee bonuspuntseges in sy laaste twee wedstryde, het vir die span van Pretoria in ‘n stewige posisie geplaas om steeds nog vanjaar se halfeindronde te haal.

    Na ‘n indrukwekkende sege verlede naweek van 34-20 oor Hoërskool Noordheuwel, lê Parkies tans vierde op die puntelys, met 22 ligapunte, wat beteken dat hulle slegs die Rusties moet klop om ‘n plek in volgende naweek se aksie te bespreek.

    Dit sal natuurlik ook help om die relegasiespook te ontwyk.

    Die Pretorianers bevind hulself tans in die negende posisie, en in die moeilikheid op 172.5 punte. Hulle is egter slegs 10 punte agter Hoërskool Dr EG Jansen (182.5), in die vyfde plek, wat op sy beurt ‘n taamlike uitdaging in die gesig staar met Hoërskool Garsfontein se besoek aan Boksburg .

    Die Rusties is self nog nié van relegasie gevrywaar nie. Met 175 ligapunte is hulle tans sewende, slegs drie plekke voor die Parkies, wat van Saterdag se kragmeting ‘n stryd om oorlewing maak. Die span van Rustenburg is reeds uit die halfeindwedloop, maar sal graag vir staatmakers soos Lorenzo Snyers en kaptein, Xavier Steenkamp, ‘n waardige afskeid wil gee.

    Elders in Pretoria wag nog ‘n tradisoneel fisieke stryd tussen Hoërskool Waterkloof en Hoërskool Monument, op die Blou Tornado se tuisveld. Die Monumentare het in hul laaste twee wedstryde van nêrens gekom om steeds ‘n kans te staan vir ‘n plek in die halfeind, met 19 ligapunte, net drie minder as die Parkies. Dit behoort heelwat hoop te bied op die vooraand van hul kragmeting met die Klofies.

    Daar is egter heelparty eksterne faktore wat ‘n rol moet speel voordat Monnas dit kan vermag, maar hul enkelfokus is eenvoudig om Saterdag vir die Klofies ore aan te sit.

    Die tuisspan se goeie vertoning teen Hoërskool Transvalia die vorige week het die relegasiespook op ‘n afstand gehou, maar nie heeltemal verjaag nie. Valia beklee tans die sesde plek op die algehele puntelys, met 180 ligapunte, net 7.5 voor die Parkies en 4.5 voor die Rusties. ‘n Positiewe is egter dat hy vir agsteman, Marko Kok, vir dié taai stryd terugverwelkom.

    Kok het die Klofies se laaste twee kragmetings weens ‘n beenbesering misgeloop en sal oorgehaal wees om ‘n laaste, yslike vertoning op te dis voordat hy volgende jaar, saam met Ethan Adams en Matthey Abbey, by die Leeus inskakel.

    In die Monumentare se kamp is, Vincent Roberts terug om die Wit Bulle aan te voer, terwyl die kollig op vaskopstut, Juandré Marais val, wat in sy 50ste wedstryd as Wit Bull sal uitdraf.

    Die spanne: 

    Menlopark t. Hoërskool Rustenburg om 12:30 in Pretoria

    Menlopark: 15 Dylan Stumke, 14 Bladen Petersen, 13 Leskin Samuels, 12 Aidan Dicks, 11 Lucian Read, 10 Willie Pieterse, 9 Gustav Shäffner, 8 JN van Wyk, 7 Nathen du Plessis, 6 Ruan Strydom, 5 Keagen Pretorius, 4 Tiaan Boshoff, 3 Ruvan van Aardt, 2 Declan Pelser, 1 Mattheus Prinsloo.

    Rustenburg: 15 Lorenzo Snyers, 14 Henré Robinson, 13 Jon-Rè Jefthas, 12 Zack Swanepoel, 11 Waide Davey, 10 Ayden Willems, 9 Adriano George, 8 Pieta Niemandt, 7 Marais Röcher, 6 MJ Otto, 5 Thian Labuschagnè, 4 Tristan Myburgh, 3 Jaden Mienie, 2 Xavier Steenkamp, 1 Xander Stickling.

    Waterkloof t. Monument om 13:30 in Pretoria: 

    Waterkloof: 15 Tiaan Posthumus, 14 Gustav Mienie, 13 Meyer Pretorius, 12 Dylan Botha, Jaiden Badenhorst, 10 Ronan Bastiaanse, 9 Jacobus van den Berg, 8 Dawid Prinsloo, 7 Phillip Mans, 6 Hugo Dercksen, 5 Heinrich Naude, 4 Codi Binneman, 3 Jedri Swart, 2 Ruan Jacobs, 1 Alexander Elliott.

    Monument: 15 Loghan Langeveldt, 14 Jason Joubert, 13 Ruan Genis, 12 Juandré Ehlers, 11 Corné Mostert, 10 Jaydon Viljoen, 9 Evan Bernhardi, 8 Ryno van der Westhuizen, 7 Vincent Roberts, 6 Siya Ncube, 5 Dean Hartman, 4 Janco Pretorius, 3 Juandré Marais, 2 Regardt Ernst, 1 Dexter Chiwanga.

  • Wessies, Middies spook sake uit om vierde plek

    Wessies, Middies spook sake uit om vierde plek

    FOTO: Hannes Nienaber.

    Die feit dat nie minder nie as vier spanne tans gelyk trek, is ‘n aanduiding van hoe straf die mededinging in die Plaat-afdeling van die SDC Noordvaal Cup vanjaar is.

    Volg al die SDC Noordvaal Plaat-aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Hoërskool Klerksdorp is tans gelyk derde met HTS Middelburg, wat verlede naweek sy laaste rondomtalie-wedstryd in Centurion gespeel het. Dié twee spanne het elk 26 ligapunte op die oomblik.

    Die groot gespook van die naweek, sover dit die Plaat aangaan, behels Hoërskool Middelburg en Hoërskool Wesvalia, wat onderskeidelik vierde en vyfde lê, met 21 punte elk.

    Wesvalia moet ‘n begeesterde Hoërskool Kempton Park klop om sy kanse lewendig te hou. Hoewel die Kempies ietwat gesukkel het vanjaar, kan hulle ‘n perd van ‘n ander kleur wees nadat hulle vir Ligbron in die vorige ronde ore aangesit het. ‘n Bonuspuntsege is ononderhandelbaar vir Willem van der Sandt se span, wat na ‘n blaaskans weer na volsterkte terugkeer.

    Die Middies kom Saterdag in Ermelo teen ‘n onvoorspelbare Ligbron Akademie te staan. Hul nederlaag teen Hoërskool Oos-Moot in die doodsnikke verlede naweek het nie dinge makliker gemaak nie, en boonop die Oosies ‘n kans gegun om by die agterdeur in te glip. Middies beskik nietemin steeds oor genoeg skietgoed in losskakel, Matthew Abbey, en haker, Roux Grobler, om die pap dik aan te maak in Ermelo.

    Die Liggies, met spoedvrate soos Neo Zwane en Bandile Thanjekwayo op vleuel, sal egter brand om hul laaste wedstryd, boonop tuis, met ‘n opskudding af te sluit.

    Vir Hoërskool Klerksdorp is sy kragmeting met die onoorwonne Hoërskool Zwartkop ewe belangrik. ‘n Sege, of selfs net twee bonuspunte in ‘n nederlaag, kan hom na tweede en ‘n moontlike tuishalfeind neem. Klerksdorp toon een verandering, met Xander Smit wat die beseerde Tyrand Masango op regtervleuel vervang.

    Die Zwarries moes ook twee veranderinge aanbring na hul reusestryd met die Rooi Bulle verlede week. Herman Potgieter draf op agsteman uit met Brian Smith wat uitmis, terwyl Kyle Koopman hom as skrumskakel aansluit by losskakel Tilon Baron, in die plek van Luan Janse van Rensburg.

    Die beseringspook het homself behoorlik tuisgemaak by Oos-Moot vanjaar. Die span van Pretoria moet vir Hoërskool Marais Viljoen sonder staatmaker-agsteman, Jaydon Botha, aandurf. Botha se afwesigheid gee aan Divan du Preez ‘n kans om te wys wat in hom steek.

    Die Oosies sal uiteraard alles in die stryd werp vir ‘n bonuspuntsege wat, indien die Middies en Wessies albei vasval, vir hulle ‘n plek in die halfeindronde sal bespreek.

    Die spanne: 

    Wesvalia t. Hoërskool Kempton Park om 13:30 in Klerksdorp

    Wesvalia: 15 Henco Greyling, 14 Stephan Pelser, 13 Jeandré Snyman, 12 Wian du Preez, 11 Fafa Calitz, 10 Eduard Dreyer, 9 Barry Niemand, 8 Franco Dumond, 7 Christiaan Swanepoel, 6 Quewen Fourie, 5 Tiaan de Kock, 4 Joshua Pieterse, 3 Ignus Nel, 2 Fanie Linde, 1 Ulrigh du Preez.

    Kempton Park: 15 Stian de Villiers, 14 Guillaume Botha, 13 Jethro Williams, 12 Rocco Louw, 11 Ettienne Stroebel, 10 Ben Steyn, 9 Ferdi Smith, 8 Almero Gerritsen, 7 Marko van der Walt, 6 Matthew Vermaak, 5 Luca du Plooi, 4 Ruan Mostert, 3 Dihan Keeve, 2 Damian Slabbert, 1 Piet van den Heever.

    Ligbron Akademie t. Hoërskool Middelburg om 12:20 in Ermelo

    Ligbron Akademie: 15 Gaston Brown, 14 Neo Zwane, 13 Banele Mthambo,  12 Lethi Ngwenya, 11 Bandile Thanjekwayo, 10 Siyanda Dennison, 9 Renier van Staden, 8 Jurgens Bezuidenhout, 7 Henco Scheepers, 6 Tiaan Botha, 5 Janco Claassen, 4 Ian Booysen, 3 Dewan Scheepers, 2 Regard Janse van Rensburg, 1 WP Human.

    Hoërskool Middelburg: 15 Buhle Mphahlaza, 14 Kefilwe Phamotse, 13 Jaco Truter, 12 Lungelo Maseko, 11 Lesego Karale, 10 Matthew Abbey, 9 Keabetswe Nkgadima, 8 Jabu Mathebula, 7 Khensani Buthelezi, 6 Zanempilo Mahlangu, 5 Jeandré Potgieter, 4 André Robberts, 3 Dewald du Toit, 2 Roux Grobler, 1 Carlo Joubert.

    Hoërskool Klerksdorp t. Zwartkop om 12:30 in Klerksdorp

    Klerksdorp: 15 Brendin Matthyse, 14 Xander Smit, 13 Winton Abrahams, 12 Jarred van Staden, 11 Elzeno Schalkwyk, 10 Dorian Isaacs, 9 Rellston Wilson, 8 Tiaan Koen, 7 Marnus van der Merwe, 6 D-Jee Treurnich, 5 Juan Hills, 4 Abrie Esterhuizen, 3 Brandon Botha, 2 De Wet Le Roux, 1 Zander Nienaber.

    Zwartkop: 15 André Marx, 14 Shayden Botha, 13 Justin Julies, 12 Luan Williams, 11 Stiaan Botha, 10 Tilon Baron, 9 Kyle Koopman, 8 Herman Potgieter, 7 Jethro le Roux, 6 Mikka Allers, 5 Logan Knott, 4 Ettienne van Niekerk, 3 Christiaan de Vries, 2 Regan Blignaut, 1 Matthew Smith.

    Oos-Moot t. Marais Viljoen om 12:20 in Pretoria

    Oos-Moot: 15 Brian Jacobs, 14 Drew Williams, 13 Themba Kella, 12 Jeandré Venter, 11 Jayden Pretorius, 10 Dewron Aford, 9 David Joubert, 8 Divan du Preez, 7 Riyaan Wilson, 6 Pema Bramely, 5 MC van Tonder, 4 Stian de Vente, 3 Jandré de Beer, 2 Thando Telelo, 1 Mike Notnagel.

    Marais Viljoen: 15 Raynhardt Kruger, 14 Devin Raubenheimer, 13 Juan van den Heever, 12 Jonno Morkol, 11 Kabelo Thloaele, 10 Claude do Couto, 9 Ethan Weideman, 8 Rio Tshimbalanga, 7 Tiaan van Huyssteen, 6 Lloyd Shoko-Schenk, 5 Clayton Gagiano, 4 Jermaine Crause, 3 Sifiso Shongwe, 2 Ondisa Njili, 1 Juan Cooper.

  • Dis maak of breek vir Plasies, Jeugland in die Bowl

    Dis maak of breek vir Plasies, Jeugland in die Bowl

    FOTO: Marius Nortjé.

    Hoërskool Jeugland en Merensky Landbou Akademie se laaste wedstryde in die SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling sal bepaal hoe die finale puntelys daar uitsien.

    Volg al die SDC Noordvaal Bowl-aksie regstreeks op SuperSport Schools (www.supersportschools.com)

    Vir Jeugland gaan sy besoek aan Hoërskool Ermelo oor meer as bloot kwalifikasie vir die halfeindronde, siende dat albei skole ook in ‘n stryd gewikkel is om die relegasiespook af te weer.

    Skaars agt ligapunte skei die span van Kempton Park (108.5), in die laaste plek, en Ermelo (117), wat tweede laaste lê. Dus kan ‘n sege, en ‘n span in die halfeindronde, vir Jeugland van relegasie red.

    Ermelo sal egter nie maklik op sy tuisveld geklop word nie. Dit is op stuk van sake waar oopkantflank, Duan Bruger, vroeër vanjaar in die doodsnikke oorgeduik het om Ermelo se eerste en enigste sege in die Bowl, oor Hoërskool Eldoraigne (32-29), te beklink.

    Die span Kempton Park is nietemin netjies op dreef na twee tuisoorwinnings, teen Merensky (39-27) en Bergsig Akademie (39-32), wat hom tot vierde, met 21 punte, gelig het. Hy kan selfs nog tot derde vorder indien Bergsig in sy kragmeting met Potchefstroom Gimnasium vasval.

    In Tzaneen is dit ‘n moet-wen situasie vir die Plasies wat vir Eldoraigne agter die sitrusgordyn welkom heet. Die Tzaneeners lê tans vyfde, met 20 punte, en moet met ‘n bonuspunt wen vir die beste kans om kwalifikasie. Die Eldo’s is reeds uit die halfeindwedloop, maar beplan wel om die Plasies se kaarte deurmekaar te krap.

    Die ligbloues hoop om na twee weke vir senter en kaptein, Maritz Meintjies, terug te verwelkom. Sy plaasvervanger in die vorige twee wedstryde, Henru Venter, het homself egter uitstekend van sy taak gekwyt, wat sy impak van die bank, ongeag waar breier, Steve Kruger, besluit om hom in te span, groot sal maak.

    Die twee spanne van Potchefstroom, die verdedigende kampioen, die Gimmies en Potchefstroom Volkskool, kan nie op hul louere rus nie. Die Volkies is steeds nie ‘n plek in die halfeindronde gewaarborg nie, wat hul besoek aan Hoërskool Dinamika in Alberton uitdagend maak. Indien hulle vasval, en Bergsig en Jeugland elk wen, sal Volkies vyfde klaarmaak.

    Die Eagles, wat self nog ‘n groot gevaar inhou, pak die tog na Potch aan, waar dit moeilik is om die Gimmies te troef. Die tuisspan benodig slegs een ligapunt om te verseker dat hy eerste op die puntelys eindig, maar moet sonder staatmaker-senter, Elrich Bosch, vir die res van die seisoen klaarkom.

    Bosch se ernstige kniebesering beteken dat agsteman, De Wet Grobler, die tuisspan se beste speler deur die loop van die jaar, in die middeveld moet diens doen, terwyl Damian Zwahlen hom op agsteman vervang.

    Die spanne: 

    Hoërskool Ermelo t. Jeugland in Ermelo

    Ermelo: 15 WJ Pretorius, 14 Luthando Mahlangi, 13 HJ Hobkirk, 12 Nicolas Steyn, 11 Thabo Mokwena, 10 Janco Kleynhans, 9 Dick Rouillard, 8 Cules Hamman, 7 Marco de Bruin, 6 Duan Burger, 5 Janneman Malan, 4 De La Rey Hattingh, 3 Jacques Diedericks, 2 Ruan Grobler, 1 Hennie Geel.

    Jeugland: 15 King Agbanzo, 14 Thando Ngomane, 13 Andrew Goremusanda, 12 Innocent Vilakazi, 11 Jan Ramano, 10 Koketso Maphopa, 9 Zaydene Adams, 8 Jaden Kleyn, 8 Alec Mohlala, 7 Joseph Ngoma-Ngoma, 6 Tshepang Moeketsi, 5 Nivan Duvenhage, 4 Uche Morka, 3 Levino Domingo, 2 Lesego Moitse, 1 Phenyo Nkoana.

    Merenky Landbou Akademie t. Eldoraigne om 12:25 in Tzaneen

    Merensky (moontlik): 15 George Steenkamp, 14 Meshack Mohlala, 13 Jens Bezuidenhout, 12 Maritz Meintjies, 11 Christo Venter, 10 JD Boshoff, 9 Muis Tolken, 8 Puki Mpiti, 7 PG Botes, 6 Jan Pretorius, 5 Matthew Mockford, 4 Blessing Mathebula, 3 Otto Muller, 2 Marno Nel, 1 Carel Volschenk.

    Eldoraigne: 15 Hugo Theron, 14 Aiden Labuschagne, 13 Ethan Beyer, 12 Kevin Earle, 11 Tristan Lee, 10 Damian Elferink, 9 Darren Bruwer, 8 Juawan Pieterse, 7 Kyle de Bruin, 6 Cameron Kilian, 5 MC Scheepers, 4 Luan du Preez, 3 Chase Wessels, 2 Marnes Prinsloo, 1 Wian White.

    Dinamika t. Potchefstroom Volkskool om 12:30 in Alberton

    Dinamika: 15 Zavian Mathys, 14 Nico Greyling, 13 Shane Serfontein, 12 Caiden van der Merwe, 11 Nathan Kearns, 10 Keanu de Sousa, 9 Gustav Schutte, 8 Monré van Wyk, 7 Hendrik Albert, 6 Darren Pretorius, 5 Dewan Gomes, 4 Branden Smit, 3 Jayden Smith, 2 Duandré Boshoff, 1 Janco Fourie.

    Potchefstroom Volkskool: 15 Lethabo Riet, 14 Lourenzo Louw, 13 River Samuel, 12 Hennie Pretorius, 11 Juan Fourie, 10 Anro Nel, 9 Juhan Geldenhuys, 8 Johannes Lombard, 7 Henre Nel, 6 Wian Victor, 5 Caden Kruger, 4 Stef Schoeman, 3 AB Brink, 2 Louis Fourie, 1 Koan Smit.

    Potchefstroom Gimnasium t. Bergsig Akademie om 12:30 in Potchefstroom

    Potchefstroom Gimnasium: 15 Josh Pretoruis, 14 Rea Moalosi, 13 Itumeleng Pheto, 12 De Wet Grobler, 11 Orabile Koena, 10 Zandre Da Silva, 9 MJ Viljoen, 8 Damian Zwahlen, 7 Jacques van Straten, 6 Zach De Jager, 5 Rynel Rautenbach, 4 Dirk Stear, 3 Matt Redelinghuys, 2 Kobus Grobbelaar, 1 Janru Jansen van Rensburg.

    Bergsig Akademie: 15 Heinrich Krugel, 14 Keabetswe Daile, 13 Carlo de Jager, 12 Dan Bogopane, 11 Daniel Addinal, 10 Alzandro Dos Santos, 9 Martin Pieterse, 8 Christian De Abreu, 7 Stephan Harmse, 6 Thatano Bagwase, 5 Ryan Nagel, 4 Jacques Viviers, 3 Thabang Machubene, 2 Marnus Dercksen, 1 Dylan Smith.

  • Vonke gaan spat in laaste ronde van die Skild

    Vonke gaan spat in laaste ronde van die Skild

    FOTO: Hoërskool Lictenburg op Facebook.

    Die laaste ronde van die SDC Noordvaal Cup se Skild-afdeling eerskomende Saterdag is die belangrikste nóg, met selfs vier spanne wat vir Hoërskool Secunda uit die vierde plek op die puntelys kan lig vir ‘n plek in die halfeindronde.

    Volg al die SDC Noordvaal Skild-aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Hoërskool Lichtenburg en Hoërskool Montana, wat tans bo aan die puntelys lê en reeds vir ‘n halfeindstryd gekwalifiseer het, pak mekaar vir die tweede keer vanjaar in Lichtenburg. In die vorige kragmeting, tydens die NWU Prestige-reeks, het die Monties met ‘n enkele punt (29-28) die pyp gerook.

    Die Liggies sal oorgehaal wees om die bordjies te verhang, verkieslik met ‘n bonuspunt om aan die einde van die rondomtalie-wedstryde die eerste plek te beklee, wat moontlik ‘n tuiseindstryd kan verseker indien hulle die halfeindstryd oor ‘n week kan wen. Duan Kruger keer terug om die tuisspan se voorry op volsterkte te bring, met Juan van Rhyn wat weer sy plek op haker inneem.

    Die Monties hoef egter slegs een punt uit die wedstryd te kry om sy voorsprong heel bo aan die puntelys te behou.

    Teen wie dié twee spanne in hul onderskeie halfeindeindstryde te staan sal kom, bly egter nog ‘n raaisel. Met slegs een punt wat Secunda (23) in die vierde plek en Hoërskool Pietersburg (22) in die vyfde plek skei, kan daar hierdie naweek nog heelwat water in die see loop.

    Dit maak van Secunda se besoek aan Hoërskool Ben Vorster in Tzaneen ‘n uiters belangrike een. Die moontlike terugkeer van binnesenter, Bismarck Jansen, in wat straks sy laaste en belangrikste wedstryd vir die span van Mpumalanga kan wees, sal verwelkom word.

    Secunda spook nie slegs vir ‘n plek in die halfeindronde nie, maar moet boonop ook nog die relegasie-spook wat oor sy kop hang afweer. Slegs ‘n halwe punt (129.5) hou tans sy kop bo water, met die Lichtenburgers (129) wat in sy nek blaas, en teen die twee topskole in die afdeling kan sake moeilik raak Saterdag.

    Selfs die Buffels het nog ‘n skraal wiskundige kans om by die agterdeur in te glip, maar sal hul stryd met Secunda met ‘n bonuspunt móét wen om daardie kans lewend te hou.

    Die Pieties durf vir Hoërskool Die Anker aan met ‘n onveranderde span in Polokwane. Dié ander voorslagspan uit Limpopo het so te sê uit die dood opgestaan en staan ‘n uitstekende kans om die halfeindronde te haal na twee reuseseges in die vorige rondes.

    ‘n Sege oor die besoekers van Brakpan sal beteken dat hy verby Heidelberg Volkskool skuif en moontlik met 26 punte in die derde plek kan eindig. Die Volkies, met 24 punte, sal moet hoop dat Die Anker hom ‘n guns doen deur die Pieties te klop, asook dat Secunda met geen punte van Tzaneen terugkeer nie.

    Die span van Brakpan kan self nog met ‘n bonuspuntsege inglip. Dit sal hom na 25 ligapunte neem, een meer as die Volkies, wat verlede naweek in hul laaste wedstryd van dié ronde vir Secunda met 31-24 verslaan het.

    Die spanne: 

    Hoërskool Lichtenburg t. Montana om 12:30 in Lichtenburg

    Lichtenburg: 15 Xander Blom, 14 Thatu Seabo, 13 WJ Liebenberg, 12 Oratile Sekoto, 11 Kuzi Mupudzi, 10 Luan Snyman, 9 Rea Motsusi, 8 KG Legodi, 7 MC Shanahan, 6 Ruan Kroëse, 5 Darius Lombard, 4 George Bingudza, 3 Duan Kruger, 2 Juan van Rhyn, 1 Ruben Pretorius.

    Montana: 15 Marq de Villiers, 14 Dixie Sethuga, 13 Luan Barnard, 12 Hendrew Schoeman, 11 Dirk Coetzee, 10 Rubel Bester, 9 Braam Schutte, 8 Ulrich van Biljon, 7 Dieter Scheepers, 6 Ashton Vorster, 5 Kyle Bronkhorst, 4 Eric Potgieter, 3 Aiden Vorster, 2 Juan Theunissen, 1 Joseph Wilkonson.

    Ben Vorster t. Hoërskool Secunda om 13:30 in Tzaneen

    Ben Vorster (moontlik): 15 Freddie Pinto, 14 Zane Trollip, 13 Gehan Hendricks, 12 Stiaan du Rand, 11 Lethabo Sejake, 10 Shelton-Ray Primo, 9 Joshua van Eeden, 8 Tumi Ramohlale, 7 Joshua van der Mescht, 6 Amaris Nortjé, 5 Chifu Banda, 4 Lourens Harmse, 3 Randy Magabe, 2 Ruben Pohl, 1 Thabang Nkuna.

    Secunda (mmontlik): 15 Dillon Grundlingh, 14 Ryan Lottering, 13 Armand Underhay, 12 Bismarck Jansen, 11 Damian de Beer, 10 Alonzo Blakenberg, 9 JD van Coller, 8 Renier Combrink, 7 Zander van der Merwe, 6 Sifiso Shongwe, 5 JC Olivier, 4 Mickey Jordaan, 3 MC Vosloo, 2 Jarred Davies, 1 Nathan Erasmus.

    Hoërskool Pietersburg t. Die Anker om 12:30 in Polokwane 

    Hoërskool Pietersburg: 15 Ryno Mienie, 14 Elkan Esterhuyze, 13 Zuhan Labuschagne 12 Siya Mahlangu, 11 Keanu Potgieter, 10 Juan Randall, 9 Celliers van der Merwe, 8, FC Smith, 7 Juan Jansen van Vuuren, 6 Andru de Beer, 5 Ludke Pienaar, 4 Brent Vorster, 3 Stephan Jansen van Rensburg, 2 Ziahn Lombaard, 1 Krissie Swanepoel.

    Die Anker (voorlopig): 15 Duan Conradie, 14 Dyllon le Roux, 13 Arno Krugel, 12 Edrick Pienaar, 11 Jonothan Jordaan, 10 Ethan Minnie, 9 Troy Joubert, 8 Altus Pretorius, 7 Markus Herbst, 6 Byron van Zyl, 5 Gerhard Oosthuizen, 4 Jaydon Steenkamp, 3 Tyron Davis, 2 Rico Goosen, 1 Branden Sauerman.

  • Schmidt se 60 help Klofies tot vyfpaaltjie-sege oor Eldos

    Schmidt se 60 help Klofies tot vyfpaaltjie-sege oor Eldos

    FRANCO SCHMIDT, voorslagkolwer van Hoërskool Waterkloof, vier sy 50-tal. FOTO: Frans Lombard/Actionpix.

    Die verdedigende kampioen van die Titans se Platinum A-liga, Hoërskool Waterkloof, het Dinsdag die nuwe krieketseisoen en sy titelverdediging as topskool in Pretoria op ‘n wennoot afgeskop.

    Herleef al die Titans A-liga aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Die Klofies het vanjaar se nuweling in dié liga, Hoërskool Eldoraigne, welkom geheet met ‘n kliniese oorwinning van vyf paaltjies, waarin Franco Schmidt uitgestaan het met ‘n puik sestigtal. Dit was ‘n herhaling van die eindstryd in die Finsbury-liga vroeër vanjaar, toe die Klofies ook koning gekraai het.

    Die Eldos het die loot gewen en besluit om eerste te kolf, maar die Klofie-boulers het vroeg-vroeg hul stem dik gemaak.

    Darius Maritz (2/33) het vir Kyle de Bruin in die sesde beurt reeds teruggestuur kleedkamer toe. De Bruin is eerskomende Saterdag in Tzaneen ook in aksie vir die eerste span in Eldos se laaste wedstryd in die Bowl-afdeling van die SDC Noordvaal Cup teen Merensky Landbou Akademie.

    Rivan Booysen het ook uitgeblink met die bal vir die Klofies, met twee paaltjies vir net 23 lopies in sy 9.1 beurte.

    De Bruin se aanvangsvennoot, Ryno Mulder, het die aanslag van die tuisspan dapper trotseer terwyl die paaltjies om hom gekantel het. Dit was eers toe Ruan Steyn by hom aangesluit, dat die herstelwerk kon begin. Steyn was die besoekers se beste kolwer met 37 lopies, van slegs 36 aflewerings, terwyl Mulder hard gewerk het vir sy 30.

    Die duo se terugvegpoging het die Eldos aangehelp tot ‘n totaal van 157, wat oplaas nie genoeg was teen ‘n sterk Klofie-kolfaanslag nie. Die tuisspan se kolfbeurt het nietemin ietwat wankelrig begin met Wian du Plessis wat uitgehardloop en AJ de Villiers se houtwerk wat deur Rowan McClaren (1/21) in die eerste beurt versteur is.

    Dit het egter nie vir Franco Schmidt en sy warm kolf van stryk gebring nie. Schmidt het van voor gelei met ‘n aanskoulike 60 lopies. Paaltjiewagter en voorslagkolwer, Rico van der Walt, het met 33 lopies saamgespan vir ‘n 79-lopie vennootskap met Schmidt.

    Kaptein, Riley Miller, het die kersie op die koek geplaas met sy bydrae van 28 lopies om die teiken in die 27ste beurt verby te steek.

    Beknopte telkaart: 

    Eldoraigne 157 (Ruan Steyn 37, Ryno Mulder 30, Marinus Langerman 20; AJ de Villiers 2/18, Rivan Booysen 2/23, Darius Maritz 2/33). Waterkloof 158/5 (Franco Schmidt 60, Rico van der Walt 33, Riley Miller 28; Benyael Morkel 1/21). Waterkloof wen met vyf paaltjies.