SSPN Test Site

Author: froberholzer

  • Roos, Helmand kry groenlig vir stryd teen Parkies

    Roos, Helmand kry groenlig vir stryd teen Parkies

    FOTO: Marius Nortjé.

    Hoërskool Noordheuwel draf vir ‘n derde agtereenvolgende Saterdag op sy tuisveld uit wanneer hy gasheer speel vir die gevaarlike Hoërskool Menlopark, wat in die nekke blaas van die voorlopers in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling.

    Volg al die SDC Noordvaal Beker-aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Die stryd tussen die Blues en Parkies is tradisioneel ‘n kragmeting wat vir hope aksie en ‘n groot gestoei voorlangs sorg. Dit was juis teen die einste Parkies dat die Nories se halfeind-hoop verlede jaar die nekslag toegedien is, met die Pretorianers wat ‘n skoksege van 26-19 behaal het.

    Vanjaar sien die prentjie ietwat anders daar uit. Die tuisspan beklee tans die derde plek, met 30 ligapunte, en is reeds van ‘n plek in vanjaar se halfeindronde verseker – danksy ‘n deurslaggewende sege van 28-22 oor Hoërskool Garsfontein in die vorige ronde. Die Parkies het intussen ‘n beduidende hupstoot gekry in hul halfeind-veldtog deur vir vir Hoërskool Monument naelskraaps met 39-37 om te dop.

    Die span van Pretoria sou dié oorwinning egter spoedig agter hom plaas, met die fokus wat na die laaste twee weke verskuif en die doelwit om albei oorblywende kragmetings te wen. Indien Parkies dit kan vermag, staan hulle ‘n uitstekende kans om vierde te eindig, maar heelwat hang ook af van wat in Hoërskool Transvalia en Hoërskool Dr EG Jansen se laaste twee wedstryde gebeur.

    Die Nories het vroeër vandeesweek hulle gevaarlike duo van Jeandré Uithaler en Clinton Agu, wat Kaap toe vertrek het om vir onderskeidelik die SA o.18 “A”- en SA o.18-span te verteenwordig, gegroet. Agu word, soos vroeër, deur die woelige Wikus Roos vervang, terwyl Tristan Helmand Uithaler se plek op heelagter inneem.

    Lucian Reid, wat vir Juan Joubert op linkervleuel vervang, is die Parkies se enigste verandering vir die stryd op die “Heuwel”.

    In Rustenburg, is die tuisspan in ‘n maak-of-breek stryd met Hoërskool Monument gewikkel. Hoërskool Rustenburg, een van vyf skole wat tans gevaar loop om gerelegeer te word, se spanne sal moet uithaal en wys in hul stryd om oorlewing in die Beker-oorlewing.

    Die Rusties bevind hulself tans in die sesde plek, slegs ses ligapunte voor Hoërskool Waterkloof in die negende plek. Dit benadruk die gewigtigheid van die oorblywende twee naweke.

    Hoewel die Wit Bulle in die algemeen ‘n teleurstellende seisoen beleef het, het Monnas se junior spanne steeds uitmuntend vertoon en lê die skool van Krugersdorp tans veilig in die vierde plek. Die feit dat albei eerste spanne uit die halfeind-wedloop is, doen boonop geensins afbreuk aan Saterdag se kragmeting nie.

    Die Rusties het verlede naweek teen Helpmekaar Kollege geweldig beïndruk, vernaam in die tweede helfte met Ayden Willemse wat ‘n taamlike verkil as plaasvervanger op losskakel gemaak het. Willemse draf Saterdag in die nr. 10-trui uit.

    Vir die besoekers skuif Ruan Genis, van linkervleuel na buitesenter, wat ‘n reuse tweestryd met die Rusties se Jon-Ré Jefthas in die middeveld behoort af te gee. Corné Mostert vervang vir Genis in die nr. 11-trui.

    Die spanne: 

    Noordheuwel t. Die Hoërskool Menlopark om 12:30 in Krugersdorp

    Noordheuwel: 15 Tristan Helmand, 14 Jayden Steyn, 13 Brandon Pieters, 12 Kieran Reid, 11 Aidan Bester, 10 Pablo Moeketsane, 9 Gillie Diedericks, 8 Armand van Eck, 7 Juandré de Villiers, 6 Andrew Lambert, 5 Jared Coetzer, 4 Robert Hurn, 3 Steph Botha, 2 Wikus Roos, 1 Skuttie Bezuidenhout.

    Menlopark: 15 Reinhardt Herbst, 14 Bladen Petersen, 13 Leskin Samuels, 12 Dylan Stumke, 11 Lucian Read, 10 Willie Pieterse, 9 Gustav Shäffner, 8 JN van Wyk, 7 Nathen du Plessis, 6 Ruan Strydom, 5 Keagen Pretorius, 4 Tiaan Boshoff, 3 Ruvan van Aardt, 2 Declan Pelser, 1 Mattheus Prinsloo.

    Hoërskool Rustenburg t. Monument om 13:35 in Rustenburg

    Rustenburg: 15 Lorenzo Snyers, 14 Henré Robinson, 13 Jon-Rè Jefthas, 12 Zack Swanepoel, 11 Waide Davey, 10 Ayden Willems, 9 Adriano George, 8 Pieta Niemandt, 7 Marais Röcher, 6 MJ Otto, 5 Thian Labuschagnè, 4 Tristan Myburgh, 3 Jaden Mienie, 2 Xavier Steenkamp, 1 Xander Stickling.

    Monument: 15 Loghan Langeveldt, 14 Jason Joubert, 13 Ruan Genis, 12 Cameron Kourie, 11 Corné Mostert, 10 Jaydon Viljoen, 9 Evan Bernhardi, 8 Ryno van der Westhuizen, 7 Jordan Swanepoel, 6 Caleb Sparks, 5 Dean Hartman, 4 Janco Pretorius, 3 Juandré Marais, 2 Regardt Ernst, 1 Dexter Chiwanga.

  • Rooi Bulle is Zwarries se grootste toets van die jaar

    Rooi Bulle is Zwarries se grootste toets van die jaar

    FOTO: HTS Middelburg op Facebook.

    Dit gaan ‘n titaniese stryd afgee wanneer die voorlopers in die Plaat-afdeling van die SDC Noordvaal Cup mekaar Saterdagmiddag in Centurion pak.

    Volg al die SDC Noordvaal Plaat-aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Die onoorwonne Hoërskool Zwartkop speel gasheer vir die verdedigende kampioen, Hoër Tegniese Skool Middelburg. Die kragmeting is ook die Rooi Bulle se laaste rondomtallie-wedstryd, voordat hulle moet wag om te sien hoe die finale puntelys gaan lyk.

    Dit is steeds moeilik om te voorspel wie waar gaan eindig, met nog heelwat water wat gedurende die laaste twee rondes in die see moet loop. Dit maak die besoekers van Middelburg se doelwit eenvoudig: wen so ver moontlik.

    Teen die Zwarries, is dit natuurlik makliker gesê as gedaan, met die span van Centurion wat tans ‘n merkwaardige segetog van 16 agtereenvolgende oorwinnings geniet. Boonop het Zwartkop nog twee wedstryde op die spyskaart, met die gevaarlike Hoërskool Klerksdorp wat op hom wag na die Rooi Bulle.

    Dit kom dus as geen verrassing dat die Vikings na volsterkte terugkeer nie. Senter, David van Jaarsveld, wat verlede naweek kort voor die afskop moes onttrek, het betyds herstel om weer sy plek in die middeveld in te neem. Van Jaarsveld en sentermaat, Luan Williams, se tweestryd met die besoekers se kaptein, Johnny Dos Santos, en die uitstaande Jacques Greyling beloof hope aksie.

    Hoërskool Middelburg is vir ‘n derde agtereenvolgende week tuis in aksie wanneer hy Saterdag met Hoërskool Oos-Moot swaarde kruis. Die Middies se sege in die vorige ronde van 24-9 oor Hoërskool Wesvalia, danksy ‘n akkurate skopvertoning deur losskakel, Matthew Abbey, was goud werd. Dit het hulle na vyfde plek geneem met 19 ligapunte, twee punte agter Hoërskool Klerksdorp (21), wat gelyk trek met die Wessies (21) en weereens beklemtoon hóé straf die Plaat-wedloop is.

    Die Klerksdorpers draf Saterdag teen ‘n onvoorspelbare Hoërskool Marais Viljoen in Alberton uit, wetende dat ‘n sege geensins gewaarborg is nie. Die Middies, asook Klerksdorp, het geen veranderinge vir dié belangrike kragmetings aangebring nie, en, met elk twee wedstryde oor, besef dat ‘n nederlaag die verskil tussen maak of breek kan beteken.

    In Kempton Park veg Ligbron Akademie se spanne om oorlewing wanneer hulle by Hoërskool Kempton Park besoek aflê. Die Liggies is slegs agt ligapunte agter Hoërskool Klerksdorp en oorwinning kan beteken dat hulle moontlik promosie-relegasie vryspring.

    Hulle het, nes Klerksdorp, twee wedstryde oor en kom in die laaste ronde teen die Middies in Ermelo te staan. Die enigste verandering vir die Kempie-bepaling is Banele Mthambo wat vir Siyanda Dennison in die nr. 13-trui vervang.

    Die spanne: 

    Zwartkop t. HTS Middelburg om 12:30 in Centurion

    Zwartkop: 15 Justin Julies, 14 Shayden Botha, 13 Luan Williams, 12 David van Jaarsveld, 11 Stiaan Botha, 10 Tilon Baron, 9 Luan Janse van Rensburg, 8 Brian Smith, 7 Jethro le Roux, 6 Mikka Allers, 5 Logan Knott, 4 Ettienne van Niekerk, 3 Christiaan de Vries, 2 Regan Blignaut, 1 Matthew Smith.

    HTS Middelburg: 15 Wynand Cronje, 14 Reynard Snyders, 13 Jacques Greyling, 12 Johnny Dos Santos, 11 CJ Muller, 10 Dante Lubbe, 9 Reece Botha, 8 Tercius Bezuidenhout, 7 Ethan Kock, 6 Argu Kruger, 5 Andrea De Wet, 4 Janco Aucamp, 3 Marinus Oberholzer, 2 Hanru Terblanche, 1 Janco Botha.

    Hoërskool Middelburg t. Oos-Moot om 12:35 in Middelburg

    Hoërskool Middelburg: 15 Buhle Mphahlaza, 14 Kefilwe Phamotse, 13 Jaco Truter, 12 Lungelo Maseko, 11 Lesego Karale, 10 Matthew Abbey, 9 Keabetswe Nkgadima, 8 Jabu Mathebula, 7 Khensani Buthelezi, 6 Zanempilo Mahlangu, 5 Jeandré Potgieter, 4 André Robberts, 3 Dewald du Toit, 2 Roux Grobler, 1 Carlo Joubert.

    Oos-Moot: 15 Brian Jacobs, 14 Drew Williams, 13 Jayden Pretorius, 12 Jeandré Venter, 11 Bradley Jacobs, 10 Dewron Aford, 9 David Joubert, 8 Jaydon Botha, 7 Riyaan Wilson, 6 Pema Bramely, 5 MC van Tonder, 4 Stian de Vente, 3 Jandré de Beer, 2 Mike Nothnagel, 1 Divan du Preez.

    Marais Viljoen t. Hoërskool Klerksdorp om 12:30 in Alberton

    Marais Viljoen: 15 Raynhardt Kruger, 14 Devin Raubenheimer, 13 Juan van den Heever, 12 Jonno Morkol, 11 Kabelo Thloaele, 10 Claude do Couto, 9 Ethan Weideman, 8 Rio Tshimbalanga, 7 Tiaan van Huyssteen, 6 Lloyd Shoko-Schenk, 5 Clayton Gagiano, 4 Jermaine Crause, 3 Sifiso Shongwe, 2 Ondisa Njili, 1 Juan Cooper.

    Klerksdorp: 15 Brendin Matthyse, 14 Tyrand Masango, 13 Winton Abrahams, 12 Jarred van Staden, 11 Elzeno Schalkwyk, 10 Dorian Isaacs, 9 Rellston Wilson, 8 Tiaan Koen, 7 Marnus van der Merwe, 6 D-Jee Treurnich, 5 Juan Hills, 4 Abrie Esterhuizen, 3 Hanro Nel, 2 De Wet Le Roux, 1 Zander Nienaber.

    Hoërkool Kempton Park t. Ligbron Akademie om 13:30 in Kempton Park

    Kempton Park (moontlik): 15 Stian de Villiers, 14 Guillaume Botha, 13 Rocco Louw, 12 Wian Riekert, 11 Ethan Botha, 10 Ben Steyn, 9 Ettienne Stroebel, 8 Ruan Mostert, 7 Marko van der Walt, 6 Matthew Vermaak, 5 Luca du Plooy, 4 Louis Mouton, 3 Zander Luckay, 2 Dihan Keeve, 1 Piet van den Heever.

    Ligbron Akademie: 15 Gaston Brown, 14 Neo Zwane, 13 Banele Mthambo,  12 Lethi Ngwenya, 11 Bandile Thanjekwayo, 10 Siyanda Dennison, 9 Renier van Staden, 8 Jurgens Bezuidenhout, 7 Henco Scheepers, 6 Tiaan Botha, 5 Janco Claassen, 4 Ian Booysen, 3 Dewan Scheepers, 2 Regard Janse van Rensburg, 1 WP Human.

  • Vier spanne kan nog vierde eindig in Skild

    Vier spanne kan nog vierde eindig in Skild

    FOTO: Heidelberg Volkskool op Facebook.

    Hoërskool Pietersburg het steeds ‘n goeie kans om sy weg oop te speel na die halfeindronde in die Skild-afdeling van die SDC Noordvaal Cup.

    Volg al die SDC Noordvaal Skild-aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Om dit te vermag moet die Pieties egter Saterdag vir Hoërskool Lichtenburg weg van die huis troef. Dit op sigself is ‘n reuse taak, aangesien die Liggies ‘n ander gedierte is op tuisbodem.

    Die Skild-afdeling beloof om op sy interessantste te wees in die pylvak, nadat die vorige sewe rondes reeds uiters opwindend was.

    Dit is nie slegs die Pieties wat in hul oorblywende twee wedstryde wil uittroon nie, met Heidelberg Volkskool en Hoërskool Die Anker wat ook werk het om te doen met die vierde posisie op die puntelys wat nog geensins ‘n uitgemaakte saak is nie. Die Anker kom Saterdag tuis in Brakpan teen die voorlopers, Hoërskool Montana, te staan, terwyl Volkies gasheer speel vir ‘n omgekrapte Hoërskool Secunda in Heidelberg.

    Lichtenburg se afrigter, Michael Bondesio, moes ‘n paar veranderinge aanbring aan die span wat die vorige week met 20-23 teen Secunda vasgeval het. Haker, Juan van Rhyn, skuif weer na vaskopstut om die beseerde Duan Kruger te vervang, met David Passetti wat tussen Van Rhyn en loskopstut, Ruben Pretorius, op haker sak.

    Die Pieties toon slegs een verandering, met regtervleuel, Armand Venter, wat die kragmeting misloop en deur Elkan Esterhuyze in die gevaarlike Pietie-agterlyn vervang word.

    Die Monties beklee na hul sege oor Hoërskool Ben Vorster in Tzaneen weer die eerste plek op die puntelys. Daar is egter net ‘n twee-punt verskil tussen hulle (25) en die Liggies (23), wat beteken dat Monties Saterdag móét wen om bo te bly.

    ‘n Gekweste Die Anker, na sy nederlaag van 26-29 teen Hoërskool Piet Retief, sal egter nie ‘n vulletjie in Brakpan wees nie, vernaam met die wete dat hy, hoewel in die vyfde plek op 20, slegs vyf ligapunte agter die Monties is. Die Buffels (19) het self nog een wedstryd oor en is slegs een punt agter die span van Brakpan.

    Volkies moet hul laaste rondomtalie-wedstryd teen Secunda met ‘n bonuspunt wen om enigsins nog ‘n kans te staan om die halfeindronde te haal. Die span van Heidelberg pronk ook met 29 ligapunte, maar kom te staan teen ‘n Secunda-span wat oorloop van selfvertroue, selfs al moet hy sonder staatmaker-senter, Bismarck Jansen, en oopkantflank, Sifiso Hlungwane, klaarkom.

    Jansen word deur Alberto Volschenk in die middeveld vervang, terwyl Avon Smith Hlungwane se plek aan die kant van die skrum inneem.

    Hoërskool Hugenote van Springs hoop dat tuisveldvoordeel in sy laaste wedstryd van die seisoen, teen Hoërskool Piet Retief, ‘n eerste sege in vanjaar se reeks kan oplewer.

    Die spanne: 

    Hoërskool Lichtenburg t. Hoërskool Pietersburg om 12:30 in Lichtenburg

    Lichtenburg: 15 Xander Blom, 14 Thatu Seabo, 13 WJ Liebenberg, 12 Oratile Sekoto, 11 Kuzi Mupudzi, 10 Luan Snyman, 9 Rea Motsusi, 8 KG Legodi, 7 Tiaan Booysen, 6 Ruan Kroëse, 5 Darius Lombard, 4 George Bingudza, 3 Juan van Rhyn, 2 David Passetti, 1 Ruben Pretorius.

    Pietersburg: 15 Ryno Mienie, 14 Elkan Esterhuyze, 13 Zuhan Labuschagne 12 Siya Mahlangu, 11 Keanu Potgieter, 10 Juan Randall, 9 Celliers van der Merwe, 8, FC Smith, 7 Juan Jansen van Vuuren, 6 Andru de Beer, 5 Ludke Pienaar, 4 Brent Vorster, 3 Stephan Jansen van Rensburg, 2 Ziahn Lombaard, 1 Krissie Swanepoel.

    Die Anker t. Montana om 12:20 in Brakpan: 

    Die Anker: 15 Ethan Minnie, 14 Dyllon le Roux, 13 Arno Krugel, 12 Edrick Pienaar, 11 Jonothan Jordaan, 10 Danie Smit, 9 Troy Joubert, 8 Ruben Herbst, 7 Markus Herbst, 6 Byron van Zyl, 5 Jaydon Steenkamp, 4 Marco Groenewald, 3 Xavier Momberg, 2 Rico Goosen, 1 Branden Sauerman.

    Montana: 15 Marq de Villiers, 14 Dixie Sethuga, 13 Luan Barnard, 12 Hendrew Schoeman, 11 Dirk Coetzee, 10 Rubel Bester, 9 Braam Schutte, 8 Ulrich van Biljon, 7 Dieter Scheepers, 6Ashton Vorster, 5 Kyle Bronkhorst, 4 Eric Potgieter, 3 Aiden Vorster, 2 Juan Theunissen, 1 Joseph Wilkonson.

    Heidelberg Volkskool t. Hoërskool Secunda om 12:30 in Heidelberg 

    Heidelberg Volkskool (moontlik): 15 Theuns van der Merwe, 14 Pieter Greyling, 13 Tritstan Munro, 12 Vaughn Steynvaart, 11 JV Badella, 10 Marco Botha, 9 Hein Oelofse, 8 Juandré Pretorius, 7 Klaas Venter, 6 Jaco Botha, 5 Jano Dietrechsen, 4 Werner Grobler, 3 Dean Last, 2 Henru Coetzer, 1 Reuben Bothma.

    Secunda: 15 Dillon Grundlingh, 14 Ryan Lottering, 13 Alberto Volschenk, 12 Armand Underhay, 11 Damian de Beer, 10 Alonzo Blakenberg, 9 JD van Coller, 8 Renier Combrink, 7 Zander van der Merwe, 6 Avon Smith, 5 JC Olivier, 4 Mickey Jordaan, 3 MC Vosloo, 2 Jarred Davies, 1 Nathan Erasmus.

    Hoërskool Hugenote van Springs t. Hoërskool Piet Retief om 12:30 in Springs

    Hugenote (Springs): 15 Musa Mahlangu, 14 Kyle de Klerk, 13 Anzani Netshiongolwe, 12 Tovan Prinsloo, 11 Christiaan Basson, 10 George Lucas, 9 Jaco Coetzer, 8 Tristan de Beer, 7 Migael Swart, 6 Henlo Meyer, 5 Zirk Naudé, 4 Zander Janse van Vuuren, 3 Franko Neuhoff, 2 Luan Pretorius, 1 Luan Smith.

    Piet Retief: 15 Owethu Shabalala, 14 De Klerk Ferreira, 13 Bubele Ngubane, 12 Gilles Van der Meulen, 11 Vuyani Tshabalala, 10 Kyle Stock, 9 Domenic Coetzer, 8 Marnus Thomas, 7 SJ van Barneveld, 6 Lethu Hlope, 5 Abongwe Maduna, 4 Harold Gevers, 3 Sfundo Mayisa, 2 Mario de Oliveira, 1 Waynne Mitchell.

  • Valia, Klofies veg om oorlewing in Pretoria

    Valia, Klofies veg om oorlewing in Pretoria

    FOTO: Frans Lombard/Actionpix.

    Hoërskool Transvalia , na sy eerste seisoen in die Beker-afdeling van die SDC Noordvaal Cup, en Hoërskool Waterkloof, pak mekaar Saterdag, in Pretoria, in ‘n stryd om oorlewing.

    Volg al die SDC Noordvaal Beker-aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Dit is ‘n kritieke dag vir albei skole, aangesien die Klofies hulself tans tweede laaste en op die drumpel van relegasie na die Plaat-afdeling bevind. Daar is egter steeds lig in die tonnel vir altwee skole.

    Die verskil tussen die Klofies se algehele puntestand en dié van Hoërskool Dr EG Jansen, wat die vyfde plek beklee, is slegs ses ligapunte. Dit beteken dat nie minder nie as vyf skole steeds gevaar staan om gerelegeer te word, insluitende ook Hoërskool Rustenburg en Menlopark.

    Die feit dat slegs twee punte vir Valia en die Klofies, in onderskeidelik die agtste en negende plek op die puntelys, skei, maak Saterdag se stryd in Pretoria des te meer interessant.

    Boonop het die besoekers van Vanderbijlpark nóg ‘n kans om die halfeindronde te haal. Dus sal ‘n sege oor die Klofies goud werd wees voor Valia in sy laaste groepwedstryd teen ‘n omgekrapte Hoërskool Noordheuwel te staan kom.

    Valia is vasberade om die bordjies te verhang nadat hy in die vorige kragmeting met Klofies verlede jaar naelskraaps met 25-30 die aftog op sy tuisveld  moes blaas.

    Valia-breier, Lloyd Greeff, moes vandeesweek verdere veranderinge aan sy span aanbring, met heelagter Lorenzo Flynn wat deur Dave Mtizi vervang word. Voorlangs laat haker, Wihandré Kruger, ‘n taamlike leemte en sal Jonathan Roets moet uithaal en wys om Kruger se skoene vol te staan teen ‘n gedugte teenstander in Klofies se Ruan Jacobs.

    Daar is steeds onsekerheid oor die beskikbaarheid van Klofies se agsteman, Marko Kok, nadat hy verlede week se wedstryd teen Afrikaanse Hoër Seunskool misgeloop het weens ‘n beenbesering wat hy teen die Nories opgedoen het.

    In Mbombela draf die matrieks van Hoërskool Nelspruit die laaste keer as Rhinos uit, wanneer hulle vir Hoërskool Dr EG Jansen in Mpumalanga verwelkom. Die Nellies is ongelukkig reeds gerelegeer en sal aanstaande jaar in die Plaat-afdeling meeding.

    Kaptein Vaughn van Zyl en sy span is nietemin steeds oorgehaal om die Jansies te laat werk vir ‘n oorwinning. Die Jansies het, nes Valia, ook nog ‘n kans om ‘n plek in die halfeindronde los te slaan, terwyl hulle terselftertyd hul ook in dieselfde benarde posisie as die Nellies bevind.

    Die besoekers van Boksburg het die seisoen nie watwonders afgeskop nie, maar met die aanvang van die Noordvaal-reeks skielik na ‘n ander span begin lyk. Dit is waarskynlik omdat hulle na hul sterkpunte teruggekeer en die puntemasjiene, Deshean Pietersen en Otlatleng Zulu, hul voete begin vind het.

    Dit het die terugvegpoging tot gevolg gehad wat tans aan die Arende die vyfde plek op die puntelys besorg met 18 ligapunte, slegs drie agter die ligblouspan van Vanderbijl se 21.

    Die spanne: 

    Waterkloof t. Transvalia om 13:30 in Pretoria

    Waterkloof (moontlik): 15 Tiaan Posthumus, 14 Gustav Mienie, 13 Meyer Pretorius, 12 Dylan Botha, Jaiden Badenhorst, 10 Ronan Bastiaanse, 9 Jacobus van den Berg, 8 Dawid Prinsloo, 7 Phillip Mans, 6 Hugo Dercksen, 5 Heinrich Naude, 4 Codi Binneman, 3 Jedri Swart, 2 Ruan Jacobs, 1 Alexander Elliott.

    Transvalia: 15 Dave Mtizi, 14 Dihan Crause, 13 Danté Oosthuizen, 12 Declan Hattingh, 11 Tumi Moloi, 10 Jay-Dee Maree, 9 Bernard van Dyk, 8 Wynand Stolz, 7 Caylin Mcluaghlin, 6 Juan Bischoff, 5 Christiaan Liebenberg, 4 Daniel Kazambo, 3 Gerhard Rossouw, 2 Jonathan Roets, 1 Vusi Morathi.

    Hoërskool Nelspruit t. EG Jansen om 12:30 in Mbombela

    Nelspruit (moontlik): 15 Jean Erasmus, 14 Kamo Monkwe, 13 Ruben Greeff, 12 Rian Botha, 11 Tinyiko Silubane, 10 John Duncan, 9 Liam Pringle, 8 Vaughn van Zyl, 7 Vian Louw, 6 Dhandré van Wyk, 5 André Smit, 4 Jason Cogill, 3 Gert Cloete, 2 D’Angelo Roberts, 1 Christiaan Viljoen.

    EG Jansen: 15 Deshean Pietersen, 14 Otlatleng Zulu, 13 Christopher Combrink, 12 Nathan Delport, 11 Jordan van der Westhuizen, 10 Juan van Aswegen, 9 Joseph Diesel, 8 Slade Mowbray, 7 Jaco Engelbrecht, 6 Craig Lightfoot, 5 Breyton Kruger, 4 Jacques van Tonder, 3 Deveraux Wideman, 2 Marco Ventura, 1 Ruan Rossouw.

  • Hans Moore se Shaw-broers herskryf rekordboeke

    Hans Moore se Shaw-broers herskryf rekordboeke

    FOTO: Verskaf deur Hoërskool Hans Moore.

    Die Shaw-broers van Hoërskool Hans Moore, Kenan en Aiden Shaw, het die afgelope Saterdag, 2 Augustus, hul skool se krieketrekordboeke herskryf.

    Dié twee het die eerste stel broers geword wat elk, in dieselfde wedstryd vir die Mories, ‘n honderdtal kon aanteken.

    Die span van Benoni het in ‘n opwarmingswedstryd teen Midstream College in Centurion te staan gekom. Die kragmeting was ter voorbereiding van Midstream se promosie-relegasie-wedstryd teen Hoërskool Centurion later in die seisoen, nadat hy vroeër vanjaar bo aan die C-afdeling van die jaarlikse Finsbury-reeks geëindig het.

    Indien Midstream die promosie-stryd wen, sal hy na die B-afdeling opskuif, waar hy weer met spanne soos die Mories, Hoërskool Zwartkop, Potchefstroom Gimnasium en Hoërskool Monument sal meeding.

    Midstream het verlede Saterdag teen Hans Moore die loot gewen en besluit om eerste te boul. Dit was ‘n besluit wat reeds vroeg dividende gelewer het, danksy Wian de Bruin wat drie vroeë deurbrake met die bal bewerkstellig het.

    Sy twee paaltjies in die vierde beurt, insluitende die van die gevaarlike Xavier Coetzee (5), het die Mories op 22/3 laat wankel. De Bruin het sy dag met syfers van 3/63 in nege beurte afgesluit.

    Dit het egter vir Shaw-broers oorgehaal om die langsteel behoorlik in te lê. Aiden, ook die Mories se paaltjiewagter, het eerste stelling ingeneem by die kolfkampie en saam met kaptein, Adrian Watson (28), die skade begin herstel, voordat Kenan by hom aangesluit het.

    Albei broers het van meet af aan die bal besonder skoon getref en dit was verál Kenan wat die wilgerlat na willekeur geswaai het. Hy het van slegs 102 balle, sewe viere en ses sesse grens toe gejaag vir sy onoorwonne 126*, terwyl Aiden die ankerrol gespeel het met ‘n bestendige 124 vanaf 128 aflewerings. Laasgenoemde se beurt het 11 viere en een ses ingesluit, voordat hy deur Barto Oosthuizen (2/42) terug kleedkamer toe gestuur is.

    Die broers se vennootskap van 158 lopies het die Mories in staat gestel om ‘n reuse-totaal van  327/7 in hul toegelate 50 beurte op die telbord te plaas.

    Asof die kolfaanslag nie genoeg was nie, het Kyle Wratten met die bal verdere sout in die wonde van Midstream gesmeer. Wratten het in die nege beurte wat hy geboul het, vyf paaltjies laat spat. Die indrukwekkendste feit betreffende Wratten se boulskof is dat hy in 54 balle ‘n merkwaardige 48 leë aflewerings afgestuur het, om met syfers van 5/8 te pronk.

    Die jongeling, Keegan Gibson, was die silwerrandjie op die tuisspan se kolflys. As 15-jarige het hy die beurt teen die Fain Noordvaal-reeks se verdedigende kampioen geopen en 53 balle vir 21 lopies trotseer. Dit was ook sy span se hoogste individuele telling, met Midstream wat uiteindelik vir 61 lopies uitgeboender is.

    Beknopte telkaart

    Hans Moore 327/7 (Kenan Shaw 126*, Aiden Shaw 124, Adrian Watson 28; Wian de Bruin 3/63, Barto Oosthuizen 2/42); Midstream College 61 (Keegan Gibson 21; Kyle Wratten 5/8, Kenan Shaw 2/9). Hans Moore wen met 266 lopies. 

  • Plasies, Volkies steeds op koers in Bowl-wedloop

    Plasies, Volkies steeds op koers in Bowl-wedloop

    FOTO: Potchefstroom Volkskool op Facebook.

    Merensky Landbou Akademie het die eerste hekkie, in sy strewe om ‘n plek in die halfeindronde van SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling los te slaan, gemaklik oorkom.

    Herleef al die SDC Noordvaal Bowl-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Die Plasies het tuis in Tzaneen ‘n allemintige nege keer agter die besoekende Hoërskool Ermelo se doellyn gaan kuier vir ‘n wegholsege van 57-8, en volpunte op die puntelys.

    Hulle het reeds in die eerste helfte die grootste skade aangerig, met die blitsige buitesenter, Jens Bezuidenhout, wat twee keer gedruk het vir die tuisspan om ‘n stewige voorsprong van 47-0 met die omdraaislag te geniet. Die grondslag vir Plasies se drieëfees is deur die agttal gelê, met vernaam die twee voorrymanne, Marno Nel (haker) en Otto Muller, wat die besoekers laat kreun het onder hul fisieke aanslag.

    Agterlangs het binnesenter, Henru Venter, sy geleentheid in die beginspan aangegryp en vir Bezuidenhout goed bygestaan met slim aanvalslyne. Venter het in die plek gespeel van die Plasies se beseerde kaptein, Maritz Meintjies, wat moontlik aanstaande week gereed sal wees om sy plek weer in te neem.

    Potchefstroom Gimnasium het ‘n noue ontkoming in Alberton oorleef danksy losskakel, Zandré Da Silva, se akkurate korrelwerk. Da Silva het, met sowat 30 sekondes oor, koelkop gebly om ‘n naelskraapse sege van 27-24 oor ‘n begeesterde Hoërskool Dinamika te beklink.

    Vir die tuisspan was heelagter, Zavian Mathys, deurentyd gevaarlik. Mathys se dodelike aanvalle van agter het aan hom twee drieë besorg, wat Dinamika tot op die laaste nippertjie in die wedloop teen die verdedigende kampioen en vanjaar se Bowl-voorloper gehou het.

    Die driepunt-sege beteken dat die Gimmies die pylvak van die 2025-reeks steeds onoorwonne binnegaan.

    Die Gimmies se bure, Potchefstroom Volkskool, het ook sy kanse om die halfeindronde te haal lewendig gehou. Die Volkies het uiteindelik met 36-26 teen Hoërskool Randburg koning gekraai, met die slotpaar, Joshua van der Westhuizen en Caden Keuger, wat voorlangs uitgetroon het.

    In Kempton Park het Hoërskool Jeugland se haker, Lesego Moitse, drie keer oorgebars om vir Bergsig Akademie met 39-32 kous oor die kop terug Rustenburg toe te stuur.

    Dit was van meet af aan duidelik dat dié kragmeting uiters gelykop sou verloop met die spanne wat uitstekend teen mekaar opgeweeg het. Met die rustydtelling 15-15 was daar inderdaad niks te kies tussen die spanne nie, en was dit uiteindelik Moitse se driekuns wat die dooiepunt sou breek.

    Puntemakers: 

    Merensky Landbou Akademie 57 (47) – Drieë: Jens Bezuidenhout (2), Marno Nel, Otto Muller, Craig Walker, Jan Pretorius, Henru Venter, Christo Venter, George Steenkamp. Doelskoppe: JD Boshoff (6). Hoërskool Ermelo 8 (0) – Drie: Dick Rouillard. Strafdoel: WJ Pretorius.

    Potchefstroom Gimnasium 27 – Drieë: De Wet Grobler, Kobus Grobelaar, Dirk Stear, Strafdrie. Doelskoppe: Zandré Da Silva (2). Strafdoel: Da Silva. Dinamika 24 – Drieë: Zavian Mathys (2), Shane Serfontein. Doelskoppe: Caiden van der Merwe (3). Strafdoel: Van der Merwe.

    Potchefstroom Volkskool 36 (15) – Drieë: Louis Fourie (2), Juan Fourie, AB Brink, Hennie Pretorius, Lourenzo Louw. Doelskoppe: Juhan Geldenhuys (3). Hoërskool Randburg 26 (0). 

    Jeugland 39 (15) – Drieë: Lesego Moitse (3), Zaydene Adams, Thando Ngomane, Beya Nyathi. Doelskoppe: Nyathi (2), Kokets Maphopha. Strafdoel: Maphopa. Bergsig Akademie 32 (15) – Drieë: Carlo de Jager (2), Keabetswe Daile (2), Marnus Dercksen. Doelskoppe: Alzandro Dos Santos. Strafdoel: Dos Santos.

    Ander spanne: 

    o.16: Merensky 66, Ermelo 5; Dinamika 37, Potchefstroom Gimnasium 26; Potchefstroom Volkskool 22, Randburg 9; Bergsig 16, Jeugland 7.

    o.15: Merensky 24, Ermelo 12; Dinamika 24, Potchefstroom Gimnasium 7; Potchefstroom Volkskool 13, Randburg 7; Bergsig 17, Jeugland 5.

    o.14: Ermelo 8, Merensky 7; Potchefstroom Gimnasium 10, Dinamika 5; Randburg 22, Potchefstroom Volkskool 19; Jeugland 31, Bergsig 7.

  • Vorsters pronk in Monties-sege oor Ben Vorster

    Vorsters pronk in Monties-sege oor Ben Vorster

    FOTO: Hoërskool Monatana Pta Amptelik op Facebook/DB Photography.

    Hoërskool Montana se Vorster-tweeling, Aiden en Ashton Vorster, het gesamentlik drie keer agter die doellyn in Tzaneen gaan draai in hul span se belangrike wegsege van 41-34 oor Hoërskool Ben Vorster.

    Herleef al die SDC Noordvaal Skild-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Dit was ‘n styd van 70 minute wat die skare in Tzaneen vasgenael op die punte van hul stoele gehou het.

    Die besoekers van Pretoria het reeds vroeg hul stempel in die vaste fasette afgedruk. Dit was vernaam in die lynstane waar hulle met kragtige dryfmaalbewegings die botoon oor die Buffels gevoer het.

    Dit het aan Aiden Vorster, wat weens beserings van oopkantflank na vaskoptstut moes skuif, die geleentheid gebied om tweekeer agter die tuisspan se doellyn te gaan kuier. Broer, Ashton, is later met ‘n vyfpunter van sy eie beloon na ‘n bedrywige vertoning in die yslike stryd voorlangs.

    Hoewel aan die verloorkant, was die Buffels se vertoning ook van hoogstaande gehalte. Hulle het volgens hul sterkpunte gespeel en floreer in gebroke spel om self vyf keer die Monties se verdediging te fnuik vir aanskoulike drieë. Losskakel, Shelton-Ray Primo, het ‘n beduidende aandeel hieraan gehad met sy venynige aanvalsvernuf.

    Die Buffels se slot en kaptein, Chifu Banda, en agsteman, Tumi Ramohlale, het die besoekers laat brul met hul hoë werkverrigting en kragtige barslopies. Dit was egter nie genoeg om die Monties te stuit nie, nadat hulle die momentum herwin het met twee vinnige drieë kort voor rustyd.

    In Secunda het die tuisspan, Hoërskool Secunda, vasgebyt vir ‘n noemenswaardige sege oor die Skild-afdeling se voorlopers, Hoërskool Lichtenburg.

    Dit het, soos verwag, ‘n titaniese stryd tussen die twee kookwater-agttalle afgegee. Ten spyte van die afwesigheid van Franko Rossouw, het slot, Mickey Jordaan, en haker, Reinhardt Fourie, die pap dik aangemaak vir die tuisspan voorlangs.

    In antwoord daarop, het die Liggies se Cravenweek-losvoorspeler en kaptein, KG Legodi, en slot, Realoboga Ranatshoele, die skote laat klap met woelige vertonings van hul eie.

    Dit was egter uiteindelik die skopskoen van Secunda se losskakel, Alonzo Blackenberg, wat die deurslag gegee het. Hoewel hy met ‘n doelskop misluk het, was het sy twee strafdoele die knoop vir die tuisspan deurgehak.

    Hoërskool Pietersburg se oopkantflank, Andru de Beer, is as Speler van die Wedstryd aangewys na sy tweekuns en algehele blink vertoning in sy span se sege van 40-25 oor Hoërskool Hugenote van Springs, in Polokwane.

    Dié sege het die kat in die duiwehok gegooi, met Hoërskool Piet Retief wat boonop vir die Pietersburg ‘n reuse guns in Piet Retief bewys het deur vir Hoërskool Die Anker met 29-26 te troef, danksy ‘n strafdoel deur Olwethu Shabalala in die doodsnikke, .

    Die “ander” Pieties se eerste sege in die Skild-afdeling sou egter nie moontlik gewees het sonder Letho Hlophe, wat deurgedartel het vir ‘n tweekuns aan drieë nie.

    Puntemakers: 

    Montana 41 (24) – Drieë: Aiden Vorster (2), Ashton Vorster, Dixie Sethuga, Juan Theunissen, Dieter Scheepers, Hendrew Schoeman. Doelskoppe: Rubel Bester (3). Ben Vorster 34 (14) – Drieë: Freddie Pinto, Stiaan du Rand, Chifu Banda, Lethabo Sejake, Tumi Ramohlale. Doelskoppe: Shelton-Ray Primo.

    Hoërskool Secunda 23 (12) – Drieë: Reinhardt Fourie, Mickey Jordaan, Armand Underhay. Doelsko: Alonzo Blackenberg. Strafdoele: Blackenberg (2). Hoërskool Lichtenburg 20 (7) – Drieë: Realiboga Ranatshoele, KG Legodi, Thato Seabo. Doelskop: Luan Snyman. Strafdoel: Snyman.

    Hoërskool Pietersburg 40 (12) – Drieë: Andru de Beer (2), Stephan Jansen van Rensburg, Juan Jansen van Vuuren, Celliers van der Merwe, Armand Venter. Doelskoppe: Ryno Mienie (4). Hugenote (Springs) 25 (7) – Drieë: Anzani Netshiongolwe, Tristan de Beer, Zander Janse van Rensburg, Migael Swart. Doelskop: Yovan Prinsloo. Strafdoel: Prinsloo.

    Hoërskool Piet Retief 29 (19) – Drieë: Letho Hlophe (2), Abongwe Maduna, Owethu Shabalala. Doelskoppe: Shabalala (3). Strafdoel: Shabalala. Die Anker 26 (26). 

    Ander spanne: 

    o.16: Ben Vorster 33, Montana 7; Pietersburg 56, Hugenote (Springs) 14; Piet Retief 47, Die Anker 10.

    o.15: Ben Vorster 46, Montana 7; Pietersburg 27, Hugenote (Springs) 0; Piet Retiet 22, Die Anker 17.

    o.14: Montana 22, Ben Vorster 19; Pietersburg 19, Hugenote (Springs) 12; Piet Retief 21, Die Anker 12.

  • Parkies troef Monnas danksy Petersen-vierkuns

    Parkies troef Monnas danksy Petersen-vierkuns

    FOTO: Menlo Rugby op Facebook.

    Die Hoërskool Menlopark moes, nes die Nories in Krugersdorp, ook verbete terugveg om vir Hoërskool Monument in Pretoria met 39-37 te verslaan, en sodoende sy kanse om die halfeindronde van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling te haal, lewendig te hou.

    Herleef al die SDC Noordvaal Beker-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)

    Die Parkies het met die deur in die huis geval om vroeg-vroeg reeds twee keer agter die besoekers van Krugersdorp se doellyn te gaan kuier en met 12-0 voor te loop.

    Jaydon Viljoen se skopskoen en ‘n tweekuns deur die Wit Bul-buks, Evan Berhardi, het die prentjie egter in ‘n oogwink verander.

    Viljoen was oudergewoonte ‘n doring met sy korrelwerk pale toe en het nie alleen met twee doelskoppe en twee strafdoele geslaag nie, maar ook ‘n netjiese skepdoel oorgeklits om aan Monnas ‘n voorsprong van 27-12 met die omdraaislag te bied.

    Die dag sou egter aan die Parkies se spoedvraat, Bladen Petersen, behoort. Petersen het weereens sy vermoë om af te rond tentoongestel met ‘n kritieke vierkuns aan drieë.

    Petersen se kordaatstuk is deur die Parkies-pak moontlik gemaak. Hul dryfmale was weer uit die boonste rakke, wat vir haker, Declan Pelser, in staat gestel het om self twee keer te druk vir ‘n belangrike aandeel in die Parkies se sege, terwyl skrumskakel, Gustav Schäffner, puik diens aan die agterlyn gelewer het.

    Die Wit Bulle het skuins voor die eindfluitjie amper weer die voortou geneem, maar Willie Pieterse se vier doelskoppe was oplaas genoeg om die wa deur die drif te trek.

    Die kragmeting tussen Hoërskool Transvalia en Hoërskool Nelspruit in Vanderbijlpark het self ‘n naelbytstryd opgelewer. Dit was uiteindelik die ligbloues van Vanderbijl wat net-net met 20-19 die pyp teen die die Rhinos kon rook.

    Hoewel aan die verloorkant, het die besoekers steeds drie keer, een keer meer as die tuisspan, agter die doellyn gaan draai. Die uiteindelike verskil was die stewel van Valia-losskakel, Jay-Dee Maree, wat albei sy span se drieë verdoel en ook met twee strafdoele geslaag het vir die helfte van sy span se punte.

    Voorlangs het flank en kaptein, Juan Bisschoff, met sy voorbeeld gelei en in die los die lewe uiters ongemaklik gemaak vir die besoekers van Mbombela.

    Christiaan Viljoen, die Rhinos se loskopstut, was die enigste voorspeler wat die doellyn kon oorsteek, terwyl binnesenter, Alex Hallet, in sy eerste begin vir die eerste span, ook met ‘n vyfpunter beloon is na ‘n uithalervertoning agterlangs.

    Puntemakers: 

    Menlopark 39 (12) – Drieë: Bladen Petersen (4), Declan Pelser (2), Reinhardt Herbst. Doelskoppe: Willie Pieterse (2). Monument 37 (27) – Drieë: Evan Bernhardi (2), Regardt Ernst, Juandré Ehlers. Doelskoppe: Jaydon Viljoen (3). Ehlers. Strafdoele: Viljoen (2). Skepdoel: Viljoen.

    Transvalia 20 (10) – Drieë: Declan Hattingh, Bernard van Dyk. Doelskoppe: Jay-Dee Maree (2). Strafdoele: Maree (2). Hoërskool Nelspruit 19 (7) – Drieë: Liam Pringle, Christiaan Viljoen, Alex Hallet. Doelskoppe: Pringle (2).

    Ander spanne: 

    o.16: Monument 23, Menlopark 20; Transvalia 43, Nelspruit 19.

    o.15: Monument 10, Menlopark 3; Nelspruit 10, Transvalia 7.

    o.14: Monument 55, Menlopark 14; Nelspruit 8, Transvalia 7.

  • Koen, Klerksdorp karnuffel die Oosies

    Koen, Klerksdorp karnuffel die Oosies

    FOTO: Tap Light Edits.

    Die ervaring van ses Cravenweek-verteenwoordigers en die brute krag van Hoërskool Klerksdorp se agttal was nét te veel vir Hoërskool Oos-Moot Saterdagmiddag in Klerksdorp.

    Herleef al die SDC Noordvaal Plaat-aksie op SuperSport School – (www.supersportschools.com) 

    Die Klerksdorpers het na ‘n taai eerste helfte, waarin die Oosies self ‘n aantal skote afgevuur het, die sluise in die tweede skof oopgemaak om uiteindelik gemaklik met 37-19 oorwinning te smaak.

    Agsteman, Tiaan Koen het ‘n kapteinsbeurt gespeel deur nie alleen die besoekers se doellyn twee keer oor te steek nie, maar het deurgaans sy lyf op die spel geplaas, en is kragtig bygstaan deur ‘n tweede agtereenvolgende uithalervertoning deur slot Abrie Esterhuizen.

    Met die Klerksdorpers wat voorlangs die oorhand verkry het, het hul gevaarlike agterlyn, met buitesenter, Winton Abrahams, aan die spits, die krane oopgedraai om amok onder die Oosie-verdedigers te saai.

    Daar was nietemin positiewe vir die besoekers, met vernaam buitesenter, Jayden Pretorius, wat die tuisspan kopsere besorg het met sy netjiese aanvalslyne.

    Matthew Abbey het met vier uit vyf doelskoppe geslaag in Hoërskool Middelburg se sege van 24-9 oor Hoërskool Wesvalia, waarmee Middies na die wenpad teruggekeer het. Wessies-losskakel, Eduard Dreyer, se visier was self ingestel en hy het ál sy span se punte met drie strafdoele aangeteken.

    Elders in die dorp het HTS Middelburg in ‘n wipplankstryd met 41-32 oor Ligbron Akademie geseëvier. Die eerste 35 minute het egter aan die besoekers behoort, met die Liggies wat weereens gewys het hoe gevaarlik hul snellers uit gebroke spel kan wees. Dit het selfs aan hulle ‘n voorsprong van 20-12 teen rustyd gebied, nadat regtervleuel, Neo Zwane, in die hoekie oorgeduik het.

    Die Rooi Bulle se Argu Kruger en CJ Muller het egter die kitaar in die tweede helfte geslaan, deur elkeen twee keer agter die doellyn te gaan draai om hul span oor die wenstreep te kry.

    Hoërskool Zwartkop het sy onoorwonne segetog van 16 wedstryde met ‘n welholsege van 61-7 oor Hoërskool Marais Viljoen voortgesit. Haker en drieëvraat, Reagan Blignaut, het sy goeie spelpeil gehandhaaf met nogmaals ‘n driekuns aan drieë.

    Luan Williams, wat kort voor die afskop na binnesenter moes skuif weens ‘n besering aan David van Jaarsveld, was kort op Blignaut se hakke met twee drieë van sy eie.

    Puntemakers: 

    Hoërskool Klerksdorp 37 (15) – Drieë: Tiaan Koen (2), Abrie Esterhuizen, Dorian Isaacs, Winton Abrahams. Doelskoppe: Isaacs (2). Strafdoele: Isaacs (2). Oos-Moot 19 (12) – Drieë: Stian de Vente, Bradley Jacobs, Jayden Pretorius. Doelskoppe: Jeandré Venter (2).

    Hoërskool Middelburg 24 (13) – Drieë: Lesego Rakale, Jaco Truter. Doelskop: Matthew Abbey. Strafdoel: Abbey (4). Wesvalia 9 (6) – Strafdoele: Eduard Dreyer (3).

    HTS Middelburg 41 (12) – Drieë: Argu Kruger (2), CJ Muller (2), Danté Muller, Johnny Dos Santos, C-Jay Potgieter. Doelskoppe: WJ Enslin, Lubbe. Ligbron Akademie 32 (20) – Drieë: Bandile Thanjekwayo, Neo Zane, Siyanda Dennison, Jurgens Bezuidenhout. Doelskoppe: Gaston Brown (3). Strafdoele: Brown (2).

    Zwartkop 61 (19) – Drieë: Reagan Blignaut (3), Luan Williams (2), Shayden Botha, Justin Julies, Stiaan Botha, André Marx. Doelksoppe: Tilon Barron (8). Marais Viljoen 7 (0) – Drie: Jemaine Crause. Doelskop: Tiaan van Huyssteen.

    Ander spanne: 

    o.16: Oos-Moot 12, Klerksdorp 7; Hoërskool Middelburg 33, Wesvalia 3; Ligbron Akademie 17, HTS Middelburg 14; Marais Viljoen 35, Zwartkop 31.

    o.15: Oos-Moot 21, Klerksdorp 5; Wesvalia 13, Hoërskool Middelburg 3; HTS Middelburg 19, Ligbron Akademie 17; Zwartkop 54, Marais Viljoen 15.

    o.14: Klerksdorp 14, Oos-Moot 7; Wesvalia 19, Hoërskool Middelburg 17; HTS Middelburg 7, Ligbron Akademie 5; Zwartkop 28, Marais Viljoen 17.

  • Agu druk 2 keer in Blues se skoksege oor Bere

    Agu druk 2 keer in Blues se skoksege oor Bere

    FOTO: Marius Esterhuizen.

    Hoërskool Noordheuwel het Saterdagmiddag tuis vir die tweede keer vanjaar ‘n wendroogte verbreek teen een van sy aartsvyande in die Noordvaal Cup.

    Herleef al die SDC Noordvaal Beker-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Nadat die Blues vroeër in die seisoen vir die eerste keer in 24 jaar oor Hoërskool Monument in die Krugersdorp-derby kon koning kraai, het die ligbloues Saterdag vir die eerste keer, sedert 2011, met 28-22 oor Hoërskool Garsfontein baas gespeel.

    Die twee spanne het reeds vroeër in 2025 in ‘n opwarmingswedstryd ontmoet, met die Garsies wat toe met 34-28 die botoon gevoer het. Saterdag se nederlaag teen die Blues was ook die besoekers van die Jakarandastad se eerste nederlaag in vanjaar se reeks.

    Die Nories het in albei hul vorige oorwinnings oor die Bere, 14 jaar gelede, naelskraaps met onderskeidelik 12-10 en 19-15 die pyp gerook. Vanjaar was dit dieselfde storie, met die tuisspan se verbete terugvegpoging wat nog vir jare onthou sal word.

    Die Bere was, soos verwag, soos ‘n wafferse naelloper uit die blokke, met haker, Justin Blom, en senter, Levi Jordaan, wat deurgebars het om binne ‘n oogwink aan die besoekers ‘n voorsprong van 17-0 te besorg. Jordaan se sentermaat, Keagan Knighton, het kort daarna ook die doellyn oorgesteek om die rustydtelling op 22-7 te staan te bring.

    Na die omdraaislag het haker, Clinton Agu, die bul by die horings gepak om momentum in die tuisspan se guns te swaai met ‘n tweekuns aan drieë. Agu se tweede het behoorlik die vuur onder die Blues aangesteek, met hul durf en fisiekheid wat die deurslag gegee het.

    Vleuel, Jayden Steyn, wat deurgaans uitgeblink het op sowel die aanval as verdediging, het uiteindelik briljant afgerond om die sege met ses punte te beklink.

    In Johannesburg het Helpmekaar Kollege sy reeks van rondomtalie-wedstryde met ‘n sege van 38-22 oor Hoërskool Rustenburg afgesluit.

    Die Helpies se losskakel, Wian Storm, gaan steeds van krag tot krag as generaal van die Johannesburgers se agterlyn. Sy uitstekende visie en aanvoeling het aan homself, sowel as binnesenter, Ethan Lourens, ‘n tweekuns aan drieë besorg.

    Hoewel die Helpies teen rustyd reeds met 31-10 voorgeloop het, het die Rusties geweier om handdoek in te gooi en met kenmerkende fisieke, harde rugby tog daarin geslaag om die tuisspan effens te ontsenu. Vernaam die twee voorrymanne, Xander Stickling en Jayden Mienie, het woelig vertoon en is elk met ‘n drie beloon.

    Puntemakers: 

    Noordheuwel 28 (7) – Drieë: Clinton Agu (2), Armand van Eck, Jayden Steyn. Doelskoppe: Jeandré Uithaler (4). Garsfontein 22 (22) – Drieë: Justin Blom, Levi Jordaan, Keagan Knighton. Doelskoppe: Joshua Gouws (2). Strafdoel: Gouws.

    Helpmekaar Kollege 38 (31) – Drieë: Ethan Lourens (2), Wian Storm (2), Gustav Grotius, Dylan Engelbrecht. Doelskoppe: Wian Storm (4). Hoërskool Rustenburg 22 (10) – Drieë: Jon-ré Jefthas, Henré Robinson, Xander Stickling, Jayden Mienie. Doelskop: Ayden Willemse.

    Ander spanne: 

    o.16: Noordheuwel 31, Garsfontein 7; Helpmekaar Kollege 31, Hoërskool Rustenburg 24.

    o.15: Garsfontein 21; Noordheuwel 15; Helpmekaar Kollege 31, Hoërskool Rustenburg 15.

    o.14: Noordheuwel 11, Garsfontein 7; Hoërskool Rustenburg 24, Helpmekaar Kollege 19.