SSPN Test Site

Author: froberholzer

  • Nories knak Rusties in tweede helfte, Valia laat Bere sweet

    Nories knak Rusties in tweede helfte, Valia laat Bere sweet

    FOTO: Marius Nortjé.

    Hoërskool Noordheuwel het, danksy 27 onbeantwoorde punte in die tweede helfte van sy stryd met Hoërskool Rustenburg, homself met ‘n waardevolle sege beloon op die vooraand van die skoolvakansie.

    Herleef al die Beker-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Voor rustyd was die Nories hulle eie grootste vyand, met ongedwonge foute wat hul ritme totaal in die wiele gery het. Dit was egter grotendeels ook te wyte aan die Rusties se uitstaande verdediging, gelei deur vaskopstut, Jayden Minnie, wat ‘n aantal reuse duikslae uitgevoer het.

    Dié aggressiewe verdediging het ook geleentheid geskep vir die tuisspan se haker en kaptein, Xavier Steenkamp, nóg ‘n uitblinker op die dag, om deur te bars vir ‘n drie wat sy span met 7-0 laat voorloop het met die omdraaislag.

    Steenkamp se eweknie, Clinton Agu, het egter kort na rustyd teruggeslaan om die momentum te begin terugswaai en namate die Blues stelselmatig ritme gevind het, vernaam in gebroke spel, het die blitsige Aiden Bester en Armand van Eck ook elk gaan druk. Van Eck het vir die soveelste keer ‘n uitstaande vertoning gelewer op agsteman, terwyl loskoptut en kaptein, Skuttie Bezuidenhout, uiters stewig vertoon het in die vaste fasette en los.

    Dit was die Nories se tweede sege oor die Rusties vanjaar, nadat hulle vroeër ‘n opwarmingswedstryd met 40-14 gewen het.

    Die Ras van Rooyen, Hoërskool Monument se tuisveld in Krugersdorp, het in die Wit Bulle se laaste tuiswedstryd vanjaar ‘n absolute drieëfees opgelewer. Monnas en Hoërskool Nelspruit het gesamentlik 11 keer die doellyn oorgesteek, met die tuisspan wat sewe daarvan aangeteken het om uiteindelik met 41-34 koning te kraai.

    Die wedywering agterlangs, vernaam in die middeveld, was besonder fel en ‘n hoogtepunt op die dag. Monument se buitesenter, Ruan Genis, wat in die Goue Leeus se Akademieweekspan opgeneem is, het sy vaart en vermoë om af te rond weer uitgestal. Genis en linkervleuel, Ewan van der Walt, wat spasie aan die buitekant puik benut het, het elk ‘n tweekuns aan drieë behaal.

    Op binnesenter, het die Wit Bulle se Juandré Ehlers en Nelspruit se Rian Botha, wat albei verlede jaar aan die Grant Khomo-week deelgeneem het, mekaar behoorlik die stryd aangesê. Ehlers gaan eenvoudig van krag tot krag , terwyl Botha gewys het hoekom hy die Pumas by die Cravenweek in Middelburg sal verteenwoordig. Nellies se vleuels, Tinyiko Silubane en Kamo Monkwe, het ook uitgehaal, maar dit was nie genoeg om die “nuwe” Wit Bulle te tem nie.

    Op Berepark het Hoërskool Transvalia vir die verdedigende kampioen, Hoërskool Garsfontein, al sy dae gegee. Die Bere het egter, soos dit ‘n kampioenspan betaam, ‘n manier gevind om met 43-41 as oorwinnaars uit die stryd te tree.

    Valia se fisieke, direkte benadering deur die grootmanne voorlangs het die Bere behoorlik laat les opsê en ook aan haker, Wihandré Kruger, nóg ‘n driekuns vanaf kragtige dryfmale besorg.

    Die Bere se Luan van den Berg, terug van ‘n besering, en agsteman, Lourenz de Jager, het egter daarop geantwoord met ‘n drie elk, terwyl die giftige Junaide Stuart agterlangs die opposisie telkens gelooi het wanneer hy spasie aan die buitekant gegun is. Sy twee drieë, tesame met vier doelskoppe en ‘n strafdoel deur losskakel, Joshua Gouws, het uiteindelik die verskil tussen wen en verloor beteken.

    Puntemakers: 

    Noordheuwel 27 (0) – Drieë: Clinton Agu, Skuttie Bezuidenhout, Aiden Bester,  Armand van Eck. Doelskoppe: Tsidi Moeketsane, Juandré Uithaler. Strafdoel: Moeketsane. Hoërskool Rustenburg 7 (7) – Drie: Xavier Steenkamp. Doelskop: Ayden Willemse.

    Monument 41 (17)  – Drieë: Ewan van der Walt (2), Ruan Genis (2), Caleb Sparks, Juandré Ehlers, Jason Joubert. Doelskoppe: Jaydon Viljoen (3). Hoërskool Nelspruit 34 (20) – Drieë: John Duncan, Rian Botha, Gert Cloete, Kamo Monkwe, Tinyiko Silubane. Doelskoppe: Liam Pringle (3). Strafdoel: Pringle

    Garsfontein 43 (17) – Drieë: Junaide Stuart (2), Luan van den Berg, Lourenz de Jager, Dian van Aswegen. Doelskoppe: Joshua Gouws (4). Strafdoel: Gouws. Transvalia 41 (17) – Drieë: Wihandré Kruger (3), Johan Smit, Juan Bischoff, Tumi Moloi

    Ander spanne: 

    o.16: Noordheuwel 13, Rustenburg 0; Monument 75, Nelspruit 3; Garsfontein 20, Transvalia 10.

    o.15: Noordheuwel 34, Rustenburg 25; Monument 24, Nelspruit 12; Garsfontein 24, Transvalia 20.

    o.14: Rustenburg 17, Noordheuwel 17; Monument 43, Nelspruit 5; Garsfontein 48, Transvalia 7.

  • Skild-wedloop nog wawyd oop

    Skild-wedloop nog wawyd oop

    Die wedloop in die SDC Noordvaal Cup se Skild-afdeling is steeds wawyd oop met ‘n aantal spanne wat, voor hierdie naweek se ronde, steeds ses wedstryde het om te speel.

    Volg al die Skild-aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Een só ‘n span is Hoërskool Die Anker, wat Saterdag vir die gevaarlike Heidelberg Volkskool op sy tuisveld in Brakpan welkom heet.

    Die Volkies het reeds vyf wedstryde agter die rug en lê tans tweede op die afdeling se puntelys, met 17 ligapunte, een meer as Hoërskool Ben Vorster se 16 in die derde posisie. Die manne van Brakpan, daarenteen, beklee die sesde plek, met agt ligapunte.

    Die Anker sal dus oorgehaal wees vir sy tweede sege in vanjaar se kompetisie, nadat hy verlede naweek tuis in ‘n rillerstryd teen Hoërskool Lichtenburg met 36-36 gelykop gespeel het.

    Die Volkies het kort voor die vakansie ‘n taamlike terugslag beleef met vier groot name wat Saterdag afwesig is in Brakpan as gevolg van beserings. Die vernaamste hiervan is agsteman, Juandré Pretorius, wat deur stut, Dean Last, vervang word, terwyl Dyllan Baird, Last se plek in die voorry ineem. Losskakel, Marco Botha, laat ook ‘n groot leemte, maar die ervare Hein Oelofse skuif oor van skrumskakel na losskakel om die toutjies agterlangs te trek.

    Die tuisspan het een verandering aangebring aan die span wat in die boksgeveg met die Liggies betrokke was, met die beseerde steelkantflank, Markus Herbst, wat deur die bekwame Vian Strydom vervang word. Strydom sluit dus aan in die lostrio by Die Anker se inspirerende agsteman en kaptein, Ruben Herbst, en haastige oopkantflank, Byron van Zyl.

    In Springs, verwelkom Hoërskool Hugenote vir Hoërskool Lictenburg. Die Liggies, tans in die vyfde plek, het nog slegs drie wedstryde in vanjaar se reeks gespeel, waarvan hulle twee gewen het, terwyl die Hugies nog op soek is na ‘n eerste sege. Boonop het die jaarlikse wintergriep posgevat in die span van Springs en is die afrigtingskorps nog besig om te beraadslaag oor hul span.

    Die Liggies, daarenteen, betree Saterdag se stryd met slegs een verandering, met hul Cravenweek-agsteman en kaptein, KG Legodi, wat las ervaar van ‘n ligte dyspierbesering. Afrigter, Michael Bondesio, het dit goed gedink om vir Legodi ‘n blaaskans te gee, met Tiaan Booysen wat van steelkantflank na agsteman oorskuif en deur Tydian Williams aan die kant van die skrum vervang word.

    In Piet Retief is dit die stryd van die “Pieties” met Hoërskool Pietersburg wat op die Jack Botes, tuisveld van Hoërskool Piet Retief, besoek aflê. Nuus uit die Piet Retief-kamp is dat hy vir ‘n derde agtereenvolgende week met dieselfde beginspan op die veld draf, iets wat hoofafrigter, Herman Schlebusch, opgewonde maak, aangesien sy puntemasjien, Vuyani Tshabalala, uitstekend op dreef is.

    Die span van Pietersburg lek nog wonde na ‘n nederlaag van 15-39 teen Hoërskool Ben Vorster verlede naweek in Tzaneen. Die Pieties het egter reeds vanjaar gewys dat hulle nie ligtelik opgeneem moet word nie, vernaam direk ná ‘n nederlaag. ‘n Uiters opwindende stryd word dus in Piet Retief verwag.

    Die spanne: 

    Die Anker t. Heidelberg Volkskool om 12:20 in Brakpan:

    Die Anker: 15 Paul Schutte, 14 Dyllon le Roux, 13 Arno Krugel, 12 Edrick Pienaar, 11 Jonothan Jordaan, 10 Danie Smit, 9 Troy Joubert, 8 Ruben Herbst, 7 Vian Strydom, 6 Byron van Zyl, 5 Brendan van Lutterveld, 4 Marco Groenewald, 3 Xavier Momberg, 2 Rico Goosen, 1 Branden Sauerman.

    Heidelberg Volkskool: 15 JV Badella, 14 Jason Brits, 13 Theuns van der Merwe, 12 Tristan Munro, 11 Pieter Greyling, 10 Hein Oelofse, 9 Kyle Hutchinson, 8 Dean Last, 7 Klaas Venter, 6 Jaco Botha, 5 Jano Dietrechsen, 4 Werner Grobler, 3 Dyllan Baird, 2 Henru Coetzer, 1 Reuben Bothma.

    Hoërskool Hugenote van Springs t. Hoërskool Lichtenburg om 13:30 in Springs:

    Hugenote (Springs) (moontlik): 15 Christaan Basson, 14 Andile Dhlamini, 13 Yovan Prinsloo, 12 Dylan Nel, 11 Kyle de Klerk, 10 George Lucas, 9 Thanyani Mokiri, 8 Euan Venter, 7 Luan Pretorius, 6 Arné Marais, 5 André Coetzee. 4 Tristan de Beer, 3 Wian Rudolph, 2 Luan Smit, 1 Franko Neuhoff.

    Lichtenburg: 15 Xander Blom, 14 Tehan Potgieter, 13 Oratile Sekoto, 12 WJ Liebenberg, 11 Kuzi Mupudzi, 10 Luan Snyman, 9 Rea Motsusi, 8 Tiaan Booysen, 7 Tydian Williams, 6 MC Shanahan, 5 Darius Lombard, 4 George Bingudzu, 3 Juan van Rhyn, 2 David Passetti, 1 Ruben Pretorius.

    Hoërskool Piet Retief t. Hoërskool Pietersburg om 12:30 in Piet Retief:

    Piet Retief: 15 Owethu Shabalala, 14 De Klerk Ferreira, 13 Bubele Ngubane, 12 Gilles van der Meulen, 11 Vuyani Tshabalala, 10 Kyle Stock, 9 Domenic Coetzer, 8 Marnus Thomas, 7 SJ van Barneveld, 6 Lethu Hlope, 5 Harold Gevers, 4 Abongwe Maduna, 3 Aza Phakathi, 2 Mario de Oliveria, 1 Sfundo Mayisa.

    Pietersburg: 15 Ryno Mienie, 14 Armand Venter, 13 Zuhan Labuschagne, 12 Siya Mahlangu, 11 Basson Wolmarans, 10 Juan Randall, 9 Celliers van der Merwe, 8 FC Smith, 7 Juan Jansen van Vuuren, 6 Andru de Beer, 5 Ludke Pienaar, 4 Brent Vorster, 3 Elardus Erasmus, 2 Ziahn Lombaard, 1 Krissie Swanepoel.

  • Ermelo smag steeds na eerste Bowl-sege

    Ermelo smag steeds na eerste Bowl-sege

    FOTO: Hoërskool Ermelo op Facebook.

    Gedurende die laaste twee rondes van die SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling het Hoërskool Ermelo hard aan die deur geklop vir ‘n eerste oorwinning as nuweling in vanjaar se reeks. Dit maak van Saterdag se tuiswedstryd teen Hoërskool Eldoraigne ‘n interessante kragmeting.

    Volg al die Bowl-aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    In sy onlangste uitstappie, het die span van Ermelo byna ‘n merkwaardige sege oor Hoërskool Randburg behaal. In ‘n wedstryd wat gesamentlik 99 punte opgelewer het, het hy naelskraaps met 47-52 vasgeval. Hoewel hy oplaas die onderspit gedelf het, het Ermelo nietemin sewe aanskoulike drieë om ‘n duidelike waarskuwing aan die Eldos te rig voor hierdie Saterdag se stryd.

    Die besoekers van Centurion sal beslis moet let op hul dissipline, andersins kan die skopskoen van Ermelo-heelagter, WJ Pretorius, hulle kwaai straf. Pretorius se taktiese skopwerk behoort ook die besoekers se agterste driehoek vir die volle 70 minute op hul tone te hou.

    Voorts sal die tuisspan se binnesenter, en driekunsheld teen Randburg, Nicolas Steyn, fyn dopgehou moet word in die middeveld.

    Uit die kamp van die Drake is die goeie nuus dat hulle einde ten laaste die tog na Ermelo aanpak met hul sterkste moontlike span. Die terugkeer van die woelige slot, MC Scheepers, verleen heelwat woema aan die Eldos se pak, terwyl Justin Meintjies ook weer die agterlyn vir die loopgraafoorlogvoering voorlangs, op agsteman, verruil.

    In die agterlyn verwelkom Eldos vir staatmaker, Kevin Earle, terug op binnesenter, wat ‘n aanskoulike tweestryd met Steyn beloof. Earle sluit aan by sentermaat, Juawan Pieterse, wat die vorige week nog op agsteman diens verrig het. Kaptein, Darren Bruwer, is weer in aksie op losskakel, waar hy sedert sy terugkeer van ‘n besering ‘n daadwerklike impak gemaak het.

    Die spanne: 

    Hoërskool Ermelo t. Eldoraigne om 13:20 in Eldoraigne:

    Ermelo (moontlik): 15 WJ Pretorius, 14 Luthando Mahlangi, 13 HJ Hobkirk, 12 Nicolas Steyn, 11 Thabo Mokwena, 10 Janco Kleynhas, 9 Dick Rouillard, 8 Cules Hamman, 7 Marco de bruin, 6 WJ Cronje, 5 Janneman Malan, 4 De La Rey Hattingh, 3 Jacques Diedericks, 2 Ruan Grobler, 1 Hennie Geel.

    Eldoraigne: 15 Hugo Theron, 14 Tristan Lee, 13 Juawan Pieterse, 12 Kevin Earle, 11 Hanno Jacobs, 10 Darren Bruwer, 9 Aiden Labuschagne, 8 Justin Meintjies, 7 Kyle de Bruin, 6 Cameron Killian, 5 MC Scheepers, 4 Esdee Kotze, 3 Luan du Preez, 2 Jean de Villiers, 1 Wian White.

  • Nories sonder twee staatmakers vir Rustie-stryd

    Nories sonder twee staatmakers vir Rustie-stryd

    FOTO: Tap Light Edits.

    Hoërskool Noordheuwel moet Saterdag die laaste wedstryd voor die vakansie sonder twee van sy groot staatmakers aandurf.

    Volg al die Beker-aksie resgtreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) of Kanaal 216. 

    Die Nories reis na Rustenburg om ‘n uiters onvoorspelbare Hoërskool Rustenburg die stryd aan te sê. Die Rusties het verlede naweek gewys hóé moeilik dit is om hulle op hul tuisveld te tem deur so hittete die verdedigende kampioen van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling, Hoërskool Garsfontein, te laat les opsê.

    Die Blues, op hul beurt, het reeds in ‘n moeilike wegwedstryd teen Hoërskool Nelspruit met 27-14 geseëvier.

    Hierdie naweek se uitdaging is egter ietwat moeiliker vanweë die afwesigheid van Nories se Cravenweek-slot, Kean Lourens, en vaskopstut, Steph Botha. Botha, steeds o.17, is ook in die Leeus se provinsiale strukture opgeneem en sal die Welpies by die Akademieweek in Middelburg verteenwoordig. Albei ervaar las van skouerbeserings, met Lourens s’n die ernstigste, wat ook sy Cravenweek-verteenwoordiging in gedrang stel.

    Botha word deur Johan Helberg vervang, terwyl die Blues se breiers steeds koukus oor Lourens se plaasvervanger. Daar bestaan ‘n sterk moontlikheid dat die veelsydige JB Blount Lourens se skoene sal volstaan.

    Die Rusties het self ‘n paar veranderinge aan hul span gemaak, met die vleuels, Waide Davey en Bradley Snyers, wat truie ruil. Davey speel regtervleuel met Snyers aan die linkerkant van die veld. Voorlangs loop steelkantflank, Thian Labuschagne, die Norie-stryd mis en word vervang deur Marais Röcher. Die res van hul fisieke pak bly dieselfde, wat ‘n titaniese voorspelerstryd beloof.

    Hoërskool Monument verwelkom sy spelskepper op losskakel, Anthony Viljoen, terug in die beginspan vir die stryd met Hoërskool Nelspruit op die Ras van Rooyen. Viljoen was vir bykans twee maande buite aksie weens ‘n armbesering. Die span van Krugersdorp het verlede week sy eerste sege van die reeks behaal, teen Hoërskool Transvalia (24-22), danksy ‘n strafdoel deur Viljoen, vanaf die plaasvervangerbank.

    Kantman, Siyabonga Ncube, keer ook terugkeer, maar vir eers ook van die bank af. Haker, Tristan Rodrigues, is egter nou op die krukkelys, wat noodsaak dat Reghard Ernst van flank na haker skuif. Ernst het vroeër vanjaar reeds in die middel van die voorry gesak, en word deur Jordan Swanepoel op steelkantflank vervang.

    Die Rhinos verwelkom die giftige Tinyiko Silubane terug op linkervleuel, na sy skorsing van ‘n week. Dit is die enigste verandering aan die span van Nelspruit, wat ‘n oorwinning broodnodig het indien hulle in die wedloop wil bly, terwyl die Wit Bulle óók hul kanse met ‘n sege kan lewendig hou.

    Garsfontein, tans eerste op dié afdeling se puntelys na sy oorwinning in Rustenburg verlede Saterdag, verwelkom die indrukwekkende nuweling, Hoërskool Transvalia, op Berepark. Hoewel die Garsies steeds met beserings aan vier sleutelspelers sit, het hulle ‘n beduidende hupstoot ontvang met die terugkeer van vaskopstut, Luan van den Berg. Van den Berg was vir die laaste twee kragmetings buite aksie en verleen heelwat oemf aan die enjinkamer.

    Valia behou dieselfde beginspan vir sy besoek aan die Jakarandastad. Die span van Vanderbijlpark se direkte en fisiese benadering sal ongetwyfeld die verdedigende kampioen toets, maar terselftertyd besef hy dat ‘n besoek aan Berepark allermins maklik is.

    Die spanne: 

    Hoërskool Rustenburg t. Noordheuwel om 12:30 in Rustenburg:

    Rustenburg: 15 Ayden Willemse, 14 Waide Davey, 13 Zack Swaenpoel, 12 Hendré Robinson, 11 Bradley Snyers, 10 Ricardo Enos, 9 Adriano George, 8 Dirk Huisamen, 7 Marais Röcher, 6 MJ Otto, 5 Evan van Heerden, 4 Tristan Myburgh, 3 Jayden Minnie, 2 Xavier Steenkamp, 1 Xander Stickling.

    Noordheuwel (moontlik): 15 Jeandré Uithaler, 14 Aidan Bester, 13 Tristan Helmund, 12 Kieran Reid, 11 Jayden Steyn, 10 Pablo Moeketsane, 9 Gillie Diedericks, 8 Armand van Eck, 7 Juandré de Villiers, 6 Andrew Lambert, 5 Roehan Hoogendyk, 4 JB Blount, 3 Johan Helberg, 2 Clinton Agu, 1 Skuttie Bezuidenhout.

    Monument t. Hoërskool Nelspruit om 12:30 in Krugersdorp:

    Monument: 15 Loghan Langeveldt, 14 Jason Joubert, 13 Ruan Genis, 12 Juandré Ehlers, 11 Ewan van der Walt, 10 Anthony Viljoen, 9 Evan Bernhardi, 8 Ryno van der Westhuizen, 7 Jordan Swanepoel, 6 Caleb Sparks, 5 Dean Hartman, 4 Vincent Roberts, 3 Daniel Smith, 2 Reghard Ernst, 1 Kamogelo Katisa.

    Nelspruit: 15 Jean Erasmus, 14 Kamo Monkwe, 13 Ruben Greeff, 12 Rian Botha, 11 Tinyiko Silubane, 10 John Duncan, 9 Liam Pringle, 8 Vaughn van Zyl, 7 Vian Louw, 6 Dhandré van Wyk, 5 André Smit, 4 Jason Cogill, 3 Gert Cloete, 2 D’Angelo Roberts, 1 Christiaan Viljoen.

    Garsontein t. Transvalia om 13:30 in Pretoria:

    Garsfontein: 15 Junade Pasensie, 14 Junaide Stuart, 13 Levi Jordaan, 12 Keagan Knighton, 11 Drewyn Baron, 10 Joshua Gouws, 9 Derrick Kuhn, 8 Lourenz de Jager, 7 Stefan van der Vyver, 6 JP Pieterse, 5 Derik Potgieter, 4 JJ Fourie, 3 Luan van den Berg, 2 Justin Blom, 1 Morné Coetzer.

    Transvalia: 15 Lorenzo Flynn, 14 Dihan Crause, 13 Danté Oosthuizen, 12 Declan Hattingh, 11 Tumi Moloi, 10 Jay-Dee Maree, 9 Johan Smit, 8 Wynand Stolz, 7 Daniel Kazambo, 6 Juan Bischoff, 5 Christiaan Liebenberg, 4 Kyle Maartens, 3 Damian van Heerden, 2 Wihandré Kruger, 1 Vusi Morathi.

  • Blaaskans, net wat die dokter voorgeskryf het vir Parkies

    Blaaskans, net wat die dokter voorgeskryf het vir Parkies

    FOTO: Johan Orton.

    Die blaaskans wat Die Hoërskool Menlopark in die vorige ronde van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling geniet het, was presies wat nodig was op die vooraand van Saterdag se groot kragmeting met Hoërskool Dr EG Jansen in Boksburg.

    Volg al die Beker-aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Die Parkies se vorige kragmeting in Boksburg was teen Hoërskool Waterkloof, in die eindstryd van die NWU-Sportreeks, waar hulle die louere met 23-23 gedeel het.

    Die Jansies het verlede naweek die einste Klofie-span vir die eerste keer sedert 2023, in Pretoria, met 22-20 getroef, wat die selfvertroue in die Boksburgers se kamp ‘n taamlike hupstoot sou gegee het. Dit was boonop slegs die Jansies se tweede sege in vanjaar se reeks.

    Die Parkies het voor hul loslootjie gebuk gegaan onder verskeie beserings en siektes, wat hul momentum in die wiele gery en twee agtereenvolgende nederlae op tuisbodem tot gevolg gehad het, teen die verdedigende kampioen, Hoërskool Garsfontein (27-40), en nuweling, Hoërskool Transvalia (27-47). Hopelik was die blaaskans voldoende vir meeste van die afwesiges, soos vernaam loskopstut, Mattheus Prinsloo, om hul terugkeer te maak.

    Hoewel daar steeds vraagtekens hang, beskik Parkies steeds oor genoegsame skietgoed, met die Blou Bulle se Cravenweek-senterpaar, Dylan Stumke en Leskin Samuels, wat vir ‘n opwindende tweestryd met die Jansies se middeveld-kombinasie van Nathan Delport en Christopher Combrink kan sorg. Die skrumskakelstryd tussen die Jansies se Joseph Diesel en Gustav Schäffner van die Parkies beloof ook vuurwerke.

    Graig Lightfoot, die Jansies se woelige oopkantflank, het in sy laaste paar vertonings beïndruk en die Parkies se kantman, Nathen du Plessis, sal moet uithaal om die bedreiging wat Lightfoot inhou, in die los, te neutraliseer.

    Hoërskool Waterkloof se paadjie raak nie makliker nie, met die naaswenners van 2024 wat hierdie naweek die Jukskeirivier oorsteek om die indrukwekkende Helpmekaar Kollege in Johannesburg die stryd aan te sê. Die Helpies beklee tans die die tweede plek op die Beker-puntelys met 22 ligapunte, drie agter die Garsies wat eerste is, maar is, nes die Klofies, gekwes na verlede Saterdag se naelskraapse nederlaag van 21-23 teen King Edward VII School.

    Die groot nuus uit die Helpie-kamp is dat kaptein, Ty Ax, van heelagter na buitesenter skuif om die beseerde Clinton Cloete se plek in te neem. Cloete was reeds buite aksie teen KES, met Francois Tonkin wat toe op buitesenter diens gedoen het. Ax se terugkeer na senter, met die gevaarlike Ethan Lourens aan sy binnekant, behoort woema aan die Helpies se middeveld te verleen. Tonkin behou sy plek in die beginspan en wel in sy gunstelingposisie op linkervleuel.

    Cravenweek-skrumskakel, Shaye Lourens, is steeds buite aksie weens harsingskudding-protokol, met Kean Butler wat vir die tweede agtereenvolgende week agter die kookwater Helpie-pak diens doen.

    Afgesien van die nederlaag, het Klofies ongedeerd afgekom van die stryd met die Jansies, wat afrigter, Cobus van Dyk, toegelaat het om die beginspan dieselfde te hou met die oog op noodsaaklike kontinuïteit vir die Pretorianers se oorblywende vier wedstryde.

    Die spanne: 

    Hoërskool Dr EG Jansen t. Die Hoërskool Menlopark om 12:25 in Boksburg:

    EG Jansen: 15 Deshean Pietersen, 14 Otlatleng Zulu, 13 Christopher Combrink, 12 Nathan Delport, 11 Jordan van der Westhuizen, 10 Dian Botha, 9 Joseph Diesel, 8 Slade Mowbray, 7 Jaco Engelbrecht, 6 Craig Lightfoot, 5 Breyton Kruger, 4 Jacques van Tonder, 3 Deveraux Wideman, 2 Marco Ventura, 1 Ruan Rossouw.

    Menlopark (moontlik): 15 Reinhardt Herbst, 14 Bladen Petersen, 13 Leskin Samuels, 12 Dylan Stumke, 11 Lucian Reid, 10 Andru Keun, 9 Gustav Schäffner, 8 Ruan Strydom, 7 Dawid van den Heever, 6 Nathen du Plessis, 5 Xander Roets, 4 Tiaan Boshoff, 3 Ruvan van Aardt, 2 Declan Pelser, 1 Justin Toerien.

    Helpmekaar Kollege t. Hoërskool Waterkloof om in Johannesburg:

    Helpmekaar Kollege: 15 Michael Herbst, 14 Xander van Niekerk, 13 Ty Ax, 12 Ethan Lourens, 11 Francois Tonkin, 10 Wian Storm, 9 Kean Butler, 8 Llewelyn Vermaak, 7 Zaiden Krige, Jandré Botha, 5 Zian Smith, 4 Diandro Botha, 3 Dylan Engelbrecht, 2 Gustav Grotius, Liam Devenier.

    Waterkloof: 15 Tiaan Posthumus, 14 Gustav Mienie, 13 Meyer Pretorius, 12 Dylan Botha, Jaiden Badenhorst, 10 Ronan Bastiaanse, 9 Jacobus van den Berg, 8 Marko Kok, 7 Dawid Prinsloo, 6 Divan Botha, 5 Heinrich Naude, 4 Phillip Mans, 3 Jedri Swart, 2 Ruan Jacobs, 1 Alexander Elliott.

  • Grobler, Gimmies veg terug om suster te soen met Plasies

    Grobler, Gimmies veg terug om suster te soen met Plasies

    FOTO: Potchefstroom Gimnasium op Facebook.

    Merensky Landbou Akademie het Saterdag vir Potchefstroom Gimnasium en sy ondersteuners laat naels kou in dié twee spanne se kragmeting in die Bowl-afdeling van die SDC Noordvaal Cup.

    Herleef al die Bowl aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Die uiteindelike gelykopuitslag van 41-41 het as ‘n taamlike skok gekom. Om die waarheid te sê, teen rustyd het die besoekers van Tzaneen reeds met ‘n verrassende buffer van 26-8 voorgeloop.

    Haker, Marno Nel, het voorlangs ‘n barshou gespeel om die vuur te stook onder die Plasie-pak, en dit het ‘n soliede platform vir die agterlyn geskep. Heelagter, George Steenkamp, was een van die Ligbloues se groot uitblinkers, vernaam wanneer hy die bal in hand gehad het maar óók as ‘n laaste linie van verdediging. Losskakel, JD Boshoff, het vir die Limpopo Blou Bul-keurders tong uitgesteek deur die toutjies meesterlik te trek met sy visie en besluitneming.

    In die tweede skof, het Gimmies se agsteman, De Wet Grobler, egter op dramatiese wyse die momentum teruggeswaai. Grobler, nog ‘n Graad 11-leerder, het oral opgeduik om die Plasies se verdediging te teister en ‘n welverdiende driekuns aan drieë te behaal.

    Slot, Rynel Rautenbach, het met sy werkverrigting en rotsvaste verdediging ook ‘n reuse aandeel gehad daarin dat Gimmies na vyf wedstryde steeds onoorwonne is in die Bowl-afdeling.

    In Centurion het Porchefstroom Volkskool na die wenpad teruggekeer met ‘n naelbytsege van 36-34 oor Hoërskool Eldoraigne. Die Drake moes weereens probeer inhaal in die tweede helfte, maar die Volkies het verbete vasgebyt met briljante verdediging om die Eldos se aanslag af te weer.

    Binnesenter, River Samuel, was uiters effektief daarin om die bal punte toe te skuif, waar die Volkies op hul gevaarlikste gelyk het, en ook vir sy sentermaat, Hennie Pretorius, geleentheid geskep om twee keer agter die Drake se doellyn te gaan draai.

    Die Eldos se woelige rooikopflank, Cameron Killian, het deurentyd vir die besoekers hoofbrekens besorg en ook twee keer gaan druk.

    Hoërskool Randburg het in ‘n aanskoulike drieëfees in Ermelo met 52-47 teen Hoërskool Ermelo geseëvier.

    In dié kragmeting, wat ‘n gesamentlike totaal van 99 punte 13 drieë opgelewer het, het die Randburgers se oopkantflank, Victor van Blerk, uitgetroon met ‘n tweekuns aan drieë, terwyl die tuisspan se binnesenter, Nicolas Steyn, die kollig gedeel het met ‘n uitmuntende driekuns. Francois Homan het ook twee keer gedruk.

    Bergsig Akademie se heelagter, Bradley Stonehouse, het 15 van sy span se 20 punte aangeteken, met ‘n drie, twee doelskoppe en ‘n strafdoel, om ‘n begeesterde Hoërskool Dinamika met 20-15 die hoof te bied. Die span van Alberton se held van die vorige week, regtervleuel, Nico Greyling, het weereens sy weg na die doellyn gevind, terwyl heelagter, Zavian Mathys, ook gedruk het.

    Puntemakers: 

    Potchefstroom Gimnasium 41 (8) – Drieë: De Wet Grobler (3), MJ Viljoen, Bolt Koena, Rynel Reutenbach. Doelskoppe: Zandré da Silva (4). Strafdoel: Da Silva. Merensky Landbou Akademie 41 (26) – Drieë: Marno nel, Matthew Mockford, Henru Venter, Maritz Meintjies, Jens Bezuidenhout, Meshack Mohala. Doelskoppe: JD Boshoff (4). Penalty: Boshoff

    Potchefstroom Volkskool 36 (24) – Drieë: Hennie Pretorius (2), River Samuel, Wian Victor, Marlu du Preez. Doelskoppe: Juhan Geldenhuys (5). Strafdoel: Geldenhuys. Eldoraigne 34 (15) -Drieë: Cameron Killian(2),Hugo Theron, Hanno Jacobs, Kevin Earle. Doelskoppe: Darren Bruwer, Damian Elferink. Strafdoel: Elferink.

    Hoërskool Randburg 52 () – Drieë: Victor van Blerk (2), Chrisjan van Niekerk, Bradley Butcher, Eduan Bakkes, Josh Wigget, Josef van den Berg. Doelskoppe: Wigget (3), Jayden Todd (2), Van den Berg. Hoërskool Ermelo 47 () – Drieë: Nicolas Steyn (3), Francois Homan (2), JW Pretorius. Doelskoppe: WJ Pretorius (4). Strafdoele: Pretorius (3).

    Bergsig Akademie 20 (10) – Drieë: Bradley Stonehouse, Kea Daile. Doelskoppe: Stonehouse (2). Strafdoele: Stonehouse (2). Dinamika 15 (0) – Drieë: Zavian Mathys, Nico Greyling. Doelskop: Mathys. Strafdoel: Caiden van der Merwe.

    Ander spanne: 

    o.16: Ermelo 30, Randburg 26; Merensky 50, Potch Gimmies 10; Dinamika 19, Bergsig 10; Eldoraigne 27, Potch Volkies 10.

    o.15: Ermelo 37, Randburg 0; Potch Gimmies 30, Merensky 17; Bergsig 13, Dinamika 12; Eldoraigne 33, Potch Volkies 0.

    o.14: Randburg 14, Ermelo 5; Potch Gimmies 24, Merensky 13; Dinamika 24, Bergsig 5; Potch Volkies 14, Eldoraigne 7.

  • Zwarries sit merkwaardige segetog voort

    Zwarries sit merkwaardige segetog voort

    FOTO: Frans Lombard/Actionpix.

    Hoërskool Zwartkop is na 14 wedstryde vanjaar steeds onoorwonne, maar die Vikings moes Saterdag tuis, in Centurion, met ‘n grootse terugvegpoging in die tweede helfte vorendag kom, om dit te vermag.

    Herleef al die Plaat-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Die Zwarries het teen rustyd ‘n agterstand van 3-13 in die gesig gestaar, maar 25 punte in die tweede was genoeg om vir Hoërskool Wesvalia, tans tweede op die puntelys van die SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling, met 28-21 te troef.

    Die Wessies was egter uiters klinies in die eerste helfte, met vernaam agsteman, Franco Dumond, wat uitgeblink het vir die besoekers met sy hoë werkverrigting. Ongedwonge foute na die omdraaislag het die Wessies egter duur te staan gekom.

    Met slegs drie punte op die bord, te danke aan ‘n strafdoel deur losskakel, Tilon Baron, het die Zwarries in daardie stadium ook na ‘n volgende rat oorgeskakel om drie keer te gaan druk.

    Heelagter, Justin Julies, was soos verwag die groot gevaarman, terwyl slot, Logan Knott, vir die derde agtereenvolgende naweek, ook oorgebars het vir ‘n belangrike vyfpunter en binnesenter, David van Jaarsveld, die derde drie gedruk het. Baron het met nóg twee strafdoele en twee doelskoppe geslaag, vir ‘n deurslaggewende bydrae van 10 punte.

    In Middelburg het Hoër Tegniese Skool Middelburg die sluise oopgemaak om vir Hoërskool Klerksdorp met 62-26 uit die pad te vee. Die besoekers is vroeg reeds ‘n reuse knou toegedien toe agsteman en kaptein, Tiaan Koen, die veld weens ‘n besering moes verlaat, en die Rooi Bulle het dit bykans onmiddelik uitgebuit.

    Die tuisspan se senterpaar was vernietigend, met binnesenter, Nathan Janses van Vuuren, wat die voortou geneem het met ‘n merkwaardige driekuns aan drieë, terwyl die man aan sy buitekant, Jacques Greyling, twee keer deur die Klerksdorpers se verdediging gesny het vir drieë.

    Voorlangs het vaskoptstut, Marinus Oberholzer, en slot, Janco Aucamp, die pap dik aangemaak en albei is met ‘n kuier agter die besoekers se doellyn beloon.

    Ligbron Akademie se swaargewigte het op die regte tyd gepiek om vir Hoërskool Oos-Moot met 41-38 te verras.

    Vleuel, Bandile Thanjekwayo, in sy tweede jaar van eerstespan-rugby, het sy ervaring tentoongestel om met gemak deur te dartel vir ‘n tweekuns. Siyanda Dennison en die venynige Neo Zwane het elk ook een keer afgerond, terwyl heelagter, Gaston Brown, ‘n volmaakde dag van die skopkegel af beleef het om met ál vyf doelskoppe en twee strafdoele te slaag.

    Die Oosies het nietemin so hittete van agter gekom om die tuisspan te skaapvang. Agsteman, Jaydon Botha, het uitgetroon met ‘n energieke vertoning voorlangs, wat die grondslag gelê het vir die moedige terugvegpoging.

    Kefilewe Phamotse se skuif vanaf regter na linkervleuel het vrugte afgewerp vir Hoërskool Middelburg. Phamotse het in Kempton Park drie keer deurgewals in die Middies se sege van 36-22 oor Hoërskool Kempton Park, terwyl losskakel, Matthew Abbey, ook weer puik vertoon en in byna elke drie wat die besoekers gedruk het ‘n aandeel gehad het, om sy aanspraak op ‘n plek in een van die SA Skole-groepe te versterk.

    Puntemakers:

    Zwartkop 28 (3) – Drieë: Justin Julies, David van Jaarsveld, Logan Knott. Doelskoppe: Tilon Baron (2). Strafdoele: Baron (3). Wesvalia 21 (13) – Drieë: Fafa Calitz, Strafdrie. Strafdoele: Wian du Preez (3).

    HTS Middelburg 62 (36) – Drieë: Nathan Jansen van Vuuren (3), Jacques Greyling (2), Marinus Oberholzer, Janco Aucamp, Anthoni Smuts, Kwanele Mkhize. Doelskoppe: WJ Enslin (7). Strafdoel: Enslin. Hoërskool Klerksdorp 26 (14) – Drieë: Tiaan Koen, Tyrand Masango, Marco Symington, Dorian Isaacs. Doelskoppe: Isaacs (3).

    Ligbron Akademie 41 (15) – Drieë: Bandile Thanjekwayo (2), Siyanda Dennison, Neo Zwane, Jurgesn Bezuidenhout. Doelskoppe: Gaston Brown (5). Strafdoele: Brown (2). Oos-Moot 38 (26) – Drieë: Jaydon Botha, Jayden Pretorius, David Joubert, Owen Basson, Jeandré Venter, Stian de Vente. Doelskoppe: Venter (4)

    Hoërskool Middelburg 36 (22) – Drieë: Kefilwe Phamotse (3), Matthew Abbey, CW Hanekom. Doelskoppe: Abbey (4). Strafdoel: Abbey. Hoërskool Kempton Park 22 (10) – Drieë: Guillaume Botha (2), Almero Gerritson. Doelskoppe: Stian de Villiers, Ben Steyn. Strafdoel: De Villiers.

    Ander spanne:

    o.16: Wesvalia 26, Zwartkop 24; Klerksdorp 43, HTS Middelburg 19; Oos-Moot 25, Ligbron Akademie 20; Hoërskool Middelburg 24, Kempton Park 23; Oos-Moot 25, Ligbron Akademie 20.

    o.15: Zwartkop 26, Wesvalia 15; HTS Middelburg 25, Klerksdorp 14; Oos-Moot 28, Ligbron Akademie 13; Kempton Park 13, Hoërskool Middelburg 3.

    o.14: Wesvalia 24, Zwartkop 18; HTS Middelburg 3, Klerksdorp 0; Ligbron Akademie 31, Oos-Moot 10; Hoërskool Middelburg 10, Kempton Park 5.

  • Buffels bly baas van Limpopo

    Buffels bly baas van Limpopo

    FOTE: Hannnes Nienaber.

    Daar was vanjaar geen naelbyt-oomblikke vir Hoërskool Ben Vorster in sy jaarlikse Limpopo-derby met Hoërskool Pietersburg nie.

    Herleef al die Skild-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Nadat die Buffels verlede jaar in Polokwane met ‘n enkele strafdoel in die doodsnikke die wa met 25-23 deur die drif getrek het, het afrigter, Frikkie Spangenberg, se span vanjaar tuisveldvoordeel optimaal benut om enige angstige oomblikke te vermy.

    Die Buffels het, danksy 27 punte in die tweede helfte, gemaklik met 39-15 oor sy tradisionele vyand uit die hoofstad koning gekraai.

    Met slot, Chifu Banda, wat hulle aangevuur het met sy hoë werkverrigting en uithalerspel met die bal in hand, het die span van Tzaneen vier keer in die laaste 35 minute die Pieties se doellyn oorgesteek. Banda se skuif van buitesenter na slot, om die Buffels se pak meer woema te gee, het beslis vrugte afgewerp en die besoekers dikwels in trurat gedwing.

    Dit het die vuur onder die res van die agttal aangesteek, met die jong kantman, Kobus de Beer, wat sedert sy terugkeer verlede naweek teen Piet Retief ‘n beduidende verskil voorlangs maak en Tumi Ramohlale wat wys waarom hy as die voorste agsteman in die provinsie gereken word.

    Agterlangs het losskakel, Shelton-Ray Primo, straks sy beste vertoning vanjaar opgedis, ten spyte daarvan dat hy gesukkel het vanaf die skopkegel. Primo was hy uitmuntend op die aanval, terwyl die gesoute linkervleuel, Lethabo Sejake, wat voorheen ook op haker en flank uitgedraf het, haas onstuitbaar was en by meer as een geleentheid die eerste verdediger geklop het.

    In Heidelberg het Heidelberg Volkskool ‘n tweede sege in twee jaar oor Hoërskool Hugenote van Springs behaal. In dié nuwe derby wat verlede jaar in Springs tot stand gekom het, met die Volkies wat naelskraaps met 30-29 gewen het, was die span van Heidelberg vanjaar tuis met 43-36 baas.

    Die ervare skrumskakel, Hein Oelofse het spel netjies dikteer agter die skrum en was gevaarlik wanneer hy die Hugies se verdediging aangevat het. Dit het vir vleuel, JV Badella, in staat gestel om twee keer af te rond vir ‘n tweekuns aan drieë.

    Voorlangs was die tweestryd tussen Hugies se oopkantflank, Arné Marais, in sy tweede jaar van eerstespan-rugby, en Jaco Botha, die tuisspan se agsteman, ‘n hoogtepunt.

    Daar was niks te kies tussen Hoërskool Die Anker en Hoërskool Lichtenburg in Brakpan nie, met die kragmeting wat na 70 uitmergelende minute met 36-36 gelykop geëindig het.

    Die Brakpanners se agsteman, Ruben Herbst, se kragtige dryfspel het aan hom twee drieë besorg, terwyl heelagter, Paul Schutte, ook twee keer deurgedartel het vir ‘n verdere 10 punte. Herbst se neef, binnesenter, Edrick Pienaar, het 16 punte bygedra met ‘n drie, vier doelksoppe en ‘n strafdoel.

    Die Liggies se Cravenweek-verteenwoordigers het uitgestaan, met senter, Oratile Sekoto, wat Die Anker se verdediging drie keer oopgekloof het vir ‘n driekuns en skrumskakel, Rea Motsusi, wat dikwels die eerste twee verdedigers geklop het. Kaptein, KG Legodi, het ook nie teruggestaan vir Herbst op agsteman nie.

    Sam Schoeman (linkervleuel) het ook ‘n driekuns behaal in Hoërskool Montana se sege van 55-33 oor Hoërskool Piet Retief, terwyl oopkantflank, Aiden Vorster, twee keer gaan druk het. Die span van Mpumalanga het nietemin verseg om bes te gee en ‘n paar aanskoulike drieë van sy eie gedruk in die kragmeting wat ‘n gesamentlike totaal van 88 opgelewer.

    Puntemakers: 

    Ben Vorster 39 (12) – Drieë: Lethabo Sejake, Chifu Banda, Stiaan du Randt, Kobus de Beer, Ryan Gerhardt, Barend Harmse. Doelskoppe: Shelton-Ray Primo (3). Strafdoel: Primo. Hoërskool Pietersburg 15 (10) – Drieë: Zhian Lombaard (2), Juan Jansen van Rensburg.

    Heidelberg Volkskool 43 (26) – Drieë: JV Badella (2), Jaco Botha, Hein elafse, Tristan Munro, Jason Brits, Armin Stimie. Doelskoppe: Marco Botha (3), Oelofse. Hugenote (Springs) 36 (24) – Drieë: Tanyani Mokiri, Luan Pretorius, Franco Neuhoff, Zander van Rensburg, Luan Smit, Arné Marais. Doelskoppe: George Loucas (3).

    Die Anker 36 (10) – Drieë: Ruben Herbst (2), Paul Schutte (2), Edrick Pienaar. Doelskoppe: Pienaar (4). Strafdoel: Pienaar. Hoërskool Lichtenburg 36 (14) – Drieë: Oratile Sekoto (3), KG Legodi, Rea Motsusi. Doelskoppe: Luan Snyman (4). Strafdoel: Snyman.

    Montana 55 (28) – Drieë: Sam Schoeman (3), Aiden Vorster (2), Kyle Bronkhorst (2), Eric Potgieter, Rubel Bester. Doelskoppe: Bester (5). Hoërskool Piet Retief 33 (19) – Drieë: Bubule Ngubane, De Klerk Ferreira, Vuyani Tshabalala, Fiso Methula, Letho Hlophe. Doelskoppe: Owethu Shabalala (4).

    Ander spanne: 

    o.16: Pietersburg 16, Ben Vorster 14; Heidelberg Volkskool 35, Hugenote (Springs) 14; Lichtenburg 26, Die Anker 24; Piet Retief 40, Montana 19.

    o.15: Ben Vorster 16, Pietersburg 14; Hugenote (Springs) 31, Heidelberg Volkskool 5; Lichtenburg 25, Die Anker 21; Piet Retief 17, Montana 8.

    o.14: Ben Vorster 22, Pietersburg 12; Heidelberg Volkskool 40, Hugenote (Springs) 5; Lichtenburg 19, Die Anker 3; Montana 10, Piet Retief 0.

  • Van der Westhuizen, Botha laat Jansies jubel in Pretoria

    Van der Westhuizen, Botha laat Jansies jubel in Pretoria

    JORDAN VAN DER WESTHUIZEN, Hoërskool Dr EG Jansen se linkervleuel, bars deur teen Hoërskool Waterkloof, Saterdag in Pretoria. FOTO: Tap Light Edits.

    Die “Dokter van Boksburg” het Saterdagmiddag vir ‘n opskudding gesorg deur die bordjies te verhang teen Hoërskool Waterkloof, op sy tuisveld in Pretoria.

    Herleef al die Beker aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Jordan van der Westhuizen het die Jansie-jolyt van stapel gestuur toe hy kort voor die eindfluitjie met een van sy talle intimiderende lopies oor die doellyn gebars het om Hoërskool Dr EG Jansen in posisie te plaas om die naelskraapse sege oor die Klofies te behaal.

    Losskakel, Dian Botha, het die oorwinning van 22-20 beklink met die doelskop wat hy suiwer tussen die pale deurgejaag het. Dit was die Jansies se eerste sege oor die Blou-tornado sedert 2023 .

    Van der Westhuizen was een van die Jansies se groot uitblinkers. Die linkervleuel, ook ‘n kranige 110 m-hekkiesatleet, het by meer as een geleentheid sy vaart en fisiekheid uitgestal om die Klofie-verdedigers te laat bontstaan.

    Die Jansies se kaptein en hoofseun, Marco Ventura, het ook gewys hoekom hy volgende maand vir die Valke se Cravenweekspan sal uitdraf. Ventura het weereens gewoeker, was prominent met die bal in hand en is uitstekend bygestaan deuroopkantflank, Craig Lightfoot, wat nogmaals ‘n onvermoeide vertoning van 70 minute gelewer het.

    Lightfoot se tweestryd met die Klofies se kantman, Divan Botha, was ongetwyfeld een van die hoogtepunte van die kragmeting. Botha, self ‘n werksesel in die los, het die Jansies deurentyd besig gehou, is met een van sy span se drieë beloon en ywerig bygestaan deur agsteman, Marko Kok.

    Ongedwonge foute het die tuisspan egter in die steek gelaat en daarvan weerhou om ritme te vind.

    In Rustenburg het die Hoërskool Rustenburg so hittete ook vir ‘n reuse opskudding teen Hoërskool Garsfontein gesorg.

    Dit was egter vir die soveelste keer die verdedigende kampioen se “skrumpet-brigade”, Drewyn Baron en Junaide Stuart, wat die kastaiings uit die vuur gekrap het vir die Bere om in die doodsnikke met 33-27 te seëvier. Baron was op sy gevaarlikste en het die Rusties twee keer met sy venynige voetwerk en vaart geklop vir drieë, waarvan een die uitklophou was. Op die ander vleuel het Stuart ook sy dansskoene aangehad en self ‘n keer deurgewals om agter die tuisspan se doellyn te gaan draai.

    Benewens Baron, was Rustenburg se skrumskakel, Adriano George, die beste speler op die veld. Hy het uitgetroon met sy flink diens agter ‘n pak wat hard gewerk het en het die Bere telkens aan die raai gehou sy breekslae om die afbreekpunte. Een só ‘n lopie het op ‘n drie tussen die pale uitgeloop.

    Cravenweek-heelagter, Ayden Willemse, nog in Graad 11, het sy indrukwekkende spelpeil van die afgelope ruk voortgesit, terwyl hy ook twee van sy span se drie drieë verdoel en met twee strafdoele geslaag het om die Rusties in ‘n stadium met 27-12 te laat voorloop.

    Puntemakers: 

    EG Jansen 22 (15) – Drieë: Marco Ventura, Deveroax Weideman, Jordan van der Westhuizen. Doelskoppe: Dian Botha (2). Strafdoel: Botha. Waterkloof 20 (12) – Drieë: Ruan Jacobs, Divan Botha, Strafdrie. Strafdoel: Ronan Bastiaanse.

    Garsfontein 33 (20) – Drieë: Drewyn Baron (2), Junaide Stuart, JP Pieterse, Justin blom. Doelskoppe: Joshua Gouws (4). Hoërskool Rustenburg 27 (12) – Drieë: Adriano George, Hendré Robinson, Zack Swanepoel. Doelskoppe: Ayden Willemse (3), Swanepoel. Strafdoel: Willemse.

    Ander spanne: 

    o.16: Waterkloof 41, EG Jansen 29; Rustenburg 28, Garsfontein 22.

    o.15: Waterkloof 38, EG Jansen 33; Garsfontein 22, Rustenburg 20.

    o.14: Waterkloof 27, EG Jansen 24; Garsfontein 40, Rustenburg 22.

  • Wit Bul-buks Berhardi baas op die Ras

    Wit Bul-buks Berhardi baas op die Ras

    FOTO: Marius Nortjé.

    Die reaksie van Hoërskool Monument se afrigtingspan het boekdele gespreek toe die eindfluitjie Saterdag die Wit Bulle se eerste sege in die Beker-afdeling van vanjaar se SDC Noordvaal Cup Beker-afdeling, op die Ras van Rooyen in Krugersdorp, bevestig het.

    Herleef al die Beker-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Hoewel naelskraaps, was Monnas in ekstase na hul sege van 24-22 oor Hoërskool Transvalia. Dit was terloops ook die span van Vanderbijlpark se eerste nederlaag as nuweling van die Beker-reeks.

    Skrumskakel, Evan Berhardi, was die Monumentare se groot held. Die woelige buksie van die Wit Bulle het by twee geleenthede sy verbysterende vaart tentoongestel om deur te suiker vir ‘n tweekuns aan drieë en was deurgaans ‘n bedreiging met die bal in hand. Die hardwerkende slot, Dean Hartman, is met Monnas se ander drie beloon.

    Die terugkeer van Jaydon Viljoen het ook ‘n merkbare impak vir die Wit Bulle gehad. Die losskakel se skopskoen het uiteindelik die verskil tussen wen of verloor beteken, toe hy kort voor die eindfluitjie met ‘n kritieke strafdoel geslaag het.

    Soos verwag, het die kragmeting op die Ras ‘n titaniese stryd tussen die twee pakke voorspelers afgegee. Die Wit Bulle se kaptein, Vincent Roberts, het van voor gelei en, tesame met Hartman, die nodige voorwaartse momentum bewerkstellig om hierdie broodnodige oorwinning te help verseker.

    Vir Transvalia was haker, Wihandré Kruger, oudergewoonte ‘n doring in die vastelos en het self oorgebars vir ‘n tweede agtereenvolgende tweekuns. Kaptein, Juan Bisschoff, was kort op Kruger se hakke met sy barslopies op die aanval.

    Hoërskool Noordheuwel se Clinton Agu het in Mbombela sy aanspraak op die nr. 2-trui van die SA Skolespan versterk met twee kuiers agter die doellyn van Hoërskool Nelspruit, in Nories se sege van 27-14.

    Oopkantflank, Andrew Lambert, was ook weer skitterend op dreef en is een van die Blues se onbesonge helde met sy hoë werkverrigting regoor die veld. Skrumskakel, Gideon “Giellie” Diedericks, het duidelik heeltemal herstel van sy dysperbesering, met sy teenwoordigheid agter die skrum wat vir die Nories ‘n raps ekstra woema gegee het.

    Die Rhinos se vaskopstut, Gert Cloete, was onkeerbaar naby die doellyn en het albei die tuisspan se twee drieë gedruk, terwyl die jong binnesenter, Rian Botha, straks sy beste vertoning van die jaar op die aanval gelewer het.

    Puntemakers: 

    Monument 24 (14) – Drieë: Evan Berhardi (2), Dean Hartman. Doelskoppe: Cameron Kourie (2), Jaydon Viljoen. Strafdoel: Viljoen. Transvalia 22 (15) – Drieë: Wihandré Kruger (2), Daniel Kazambo. Doelskoppe: Jay-Dee Maree (2). Strafdoel: Maree.

    Noordheuwel 27 (12) – Drieë: Clinton Agu (2), Gideon Diedericks, Andrew Lambert. Doelskoppe: Jeandré Uithaler (2). Strafdoel: Uithaler. Hoërskool Nelspruit 14 (7) – Drieë: Gert Cloete (2). Doelskoppe: Liam Pringle (2).

    Ander spanne: 

    o.16: Monument 34, Transvalia 7; Noordheuwel 47, Nelspruit 0.

    o.15: Monument 50, Transvalia 13; Noordheuwel 38, Nelspruit 12.

    o.14: Monument 48, Transvalia 8; Noordheuwel 33, Nelspruit 3.