SSPN Test Site

Author: froberholzer

  • Bosch weer die gróót verskil in Potch-derby

    Bosch weer die gróót verskil in Potch-derby

    FOTO: Potchefstroom Gimnasium op Facebook.

    Potchefstroom Gimnasium is, na straks die opwindendste plaaslike derby in jare, Saterdagmiddag vir die derde agtereenvolgende keer as die “Prinse” van Potch gekroon.

    Lees al die nuutste Noordvaal Nuus op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Die Gimmies moes nietemin hard werk om vanjaar se gevaarlike Potchefstroom Volkskool uiteindelik met 21-12 af te stof. Dit was boonop ‘n heel gepaste inwyding vir die nuutgedoopte Piet Malan-veld (A-veld).

    Soos wat normaalweg met ‘n derby die geval is, het dit ‘n groot naam geverg om uit te staan. Vir die Gimmies was dit, vir die soveelste keer die afgelope paar seisoene, binnesenter en onderkaptein, Elrich Bosch. Bosch was eenvoudig briljant, met sy tweekuns aan drieë wat uiteindelik die verskil tussen die twee spanne beteken het.

    Die Gimmies se kaptein, Reuel Potgieter, het self voorlangs gewoeker en die toon vir die res van die pak aangegee. Die kantman was verál van onskatbare waarde op die verdediging en het ook in die los en vastelos sy lyf op die spel geplaas.

    Die Volkies was egter geensins te versmaai nie en, hoewel hulle hierdie slag vasgeval het, is ‘n herontmoeting met die Gimmies in die latere stadiums van die SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling ‘n besliste moontlikheid aangesien dié twee spanne vroeg reeds na vore tree as van die sterkste aanspraakmakers op die titel.

    Agterlangs het losskakel, Lorenzo Louw, sake netjies dikteer met sy visie en aanvoeling wat die Gimmies dikwels aan die raai gehad, terwyl regtervleuel, Lethabo Riet, weer in ‘n aanvallende bui was om een van Volkies se twee drieë te druk. Hy en buitesenter, Hennie Pretorius, het by meer as een geleentheid hul vaart tentoongestel om die Gimmies se verdedigers na grashalms te laat gryp.

    Dit was egter nie genoeg om deur die tuisspan se uitmuntende verdediging in die laaste kwart te breek nie, en dus kon Gimmies vasbyt vir ‘n welverdiende sege.

    Puntemakers: 

    Potchefstroom Gimnasium 21 (14) – Drieë: Elrich Bosch (2), MJ Viljoen. Doelskoppe: Zandré Da Silva. Potchefstroom Volkskool 12 (7) – Drieë: Lethabo Riet, Hennie Pretorius. Doelskop: Juhan Geldenhuys.

    Ander spanne: 

    o.16: Potchefstroom Gimnasium 17, Potchefstroom Volkskool 17.

    o.15: Potchefstroom Volkskool 24, Potchefstroom Gimnasium 7.

    o.14: Potchefstroom Gimnasium 24, Potchefstroom Volkskool 15.

  • Stuart, Baron blink uit vir Bere, Rusties verras Rhinos

    Stuart, Baron blink uit vir Bere, Rusties verras Rhinos

    FOTO: Frans Lombard/Actionpix.

    Hoërskool Garsfontein se “skrumpet-brigade” het die Bere se aanslag Saterdagmiddag in Pretoria gelei om ‘n derde agtereenvolgende sege in die Beker-afdeling van vanjaar se SDC Noordvaal Cup te behaal.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Die twee ratse vleuels, Junaide Stuart en Drewyn Baron, het elk twee keer deurgedartel om agter Die Hoërskool Menlopark se doellyn te gaan kuier in die verdedigende kampioen se oortuigende sege van 40-27 in die Parkies se agterplaas. Dié blitsige duo was deurgaans giftig op die aanval, van bykans enige hoek op die veld, en het op die dag kop en skouers bo die res uitgestaan.

    Die Parkies was nietemin vir ‘n groot gedeelte van die stryd binne trefafstand van die Bere en het selfs met die omdraaislag geklou aan ‘n voorsprong van 15-14. Daarna het dit ‘n effense wipplankstryd afgegee, met die voortou wat ‘n paar keer hande verwissel het. Dit was totdat Stuart en Baron na hoogste versnelling oorgeskakel het.

    Voorlangs het die pakke mekaar met mening aangevat. Die tuisspan se kantman, Tiaan Boshoff, was nie net ‘n tier met sy lakwerk nie, maar het ook dikwels met sy barslopies vir Parkies op die voorvoet geplaas en is met ‘n vyfpunter beloon vir sy kranige spel.

    Hoërskool Rustenburg het ietwat verras deur vir Hoërskool Nelspruit met 38-32 te troef. Die Rhinos se nederlaag het weer benadruk hoe belangrik tuisveldvoordeel is in ‘n reeds strawwe afdeling waar wegoorwinnings so skaars soos hoendertande is.

    Die Rusties se Ayden Willemse is as Speler van die Wedstryd aangewys. Willemse wat vandeesweek op heelagter ingeskuif het, was oor die algemeen uitstekend met sy aanvalsvernuf, wat die tuisspan in ‘n oogwink die voortou help neem het, en was self vir een van die Rusties se vyf drieë verantwoordelik. Boonop was sy korrelwerk pale toe ook van hoogstaande gehalte en het hy geslaag met ál vyf doelskoppe en ‘n strafdoel vir ‘n persoonlike bydrae van 18 punte.

    Die besoekers vanuit Mbombela kan egter nooit afgeskryf word nie. Selfs met ‘n agterstand van 15-35 wat hulle in die gesig gestaar het, het hulle ‘n terugvegpoging van stapel gestuur wat uiteindelik die asems in Rustenburg laat ophou het. Kaptein, Vaughn van Zyl, en slot, André Smit, het uitgetroon in die loopgraafoorlogvoering voorlangs en is elk ‘n drie beloon.

    Puntemakers: 

    Garsfontein 40 (14) – Drieë: Junaide Stuart (2), Drewyn Baron (2), Junade Pasensie, Levi Jordaan. Doelskoppe: Joshua Gouws (5). Menlopark 27 (15) – Drieë: Tiaan Boshoff, Gustav Schäffner, Mattheus Prinsloo, Reinhardt Herbst. Doelskoppe: Willie Pieterse (2).

    Hoërskool Rustenburg 38 (28) – Drieë: Ayden Willemse, Bradley Snyers, Adriano George, Xavier Steenkamp, Xander Strickling. Doelskoppe: Willemse (5). Strafdoel: Willemse. Hoërskool Nelspruit 32 (15) – Drieë: Jordan Pretorius, André Smit, Vaughn van Zyl, Kamo Monkwe, Tinyiko Silubane, Jason Cogill. Doelskop: Liam Pringle.

    Ander spanne: 

    o.16: Menlopark 22, Garsfontein 19; Rustenburg 29, Nelspruit 3.

    o.15: Garsfontein 47, Menlopark 20; Rustenburg 22, Nelspruit 14.

    o.14: Garsfontein 61, Menlopark 7; Rustenburg 24, Nelspruit 8.

  • Van Eck-driekuns breek 24-jaar derby-droogte teen Monnas

    Van Eck-driekuns breek 24-jaar derby-droogte teen Monnas

    ARMAND VAN ECK, agsteman van Hoërskool Noordheuwel, rank hoog om die bal uit die lug te pluk kort voor sy tweede van drie drieë. FOTO: Marius Nortjé.

    KRUGERSDORP – Armand van Eck, Hoërskool Noordheuwel se vlieënde agsteman, het drie keer agter die doellyn gaan draai om die Blues tot ‘n sege van 43-27, hul eerste in 24 jaar oor Hoërskool Monument, aan te spoor.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Dit was van meet af aan duidelik dat die Nories, op hul tuisveld, nie van plan was om die besoekende Wit Bulle enigsins kans te gee om in die wedstryd te kom nie. Die tuisspan was van die eerste afskop reeds in hoogste versnelling.

    Dit was ook kort daarna dat Van Eck vir die eerste van sy driekuns aan drieë deurgestorm het. Noordheuwel het die voet op die versneller gehou met ‘n drie deur regtervleuel, Aidan Bester, gevolg deur Van Eck se tweede, en straks die drie van die dag.

    Die breker-losvoorspeler het die kollig in Krugersdorp gesteel met ‘n uitstekende stukkie opvolgwerk vanaf die afskop om die Monnas-verdediging onkant te betrap en sy span ‘n voorsprong van 21-8 met die omdraaislag te bied.

    Die Wit Bulle het egter, soos verwag, nie gaan lê nie, met hul buksie op skrumskakel, Evan Bernhardi, wat uitmuntend was met sy sluipaanvalle vanaf skrums en rondom die afbreekpunte. Dit was juis een só ‘n skitterlopie wat die besoekers in staat gestel het om terug te slaan met ‘n vyfpunter deur oopkantflank, Caleb Sparks. Voorlangs het  vaskopstut, Juandré Marais, voor hy met ‘n ernstige besering van die veld is, ook ‘n barshou gespeel.

    Die gevaarligte het egter verwoed begin flikker toe die Blues se haker, Clinton Agu, soos ‘n senter op loop gesit en deur die verdediging gevleg het om die momentum met mening terug te swaai in sy span se guns. Jeandré Uithaler was weer sy gevaarlike self op heelagter en het ook 11 punte met die stewel bygedra.

    Loskopstut en kaptein, Skuttie Bezuidenhout, het uiteindelik heel gepas oorgebeur om die uitklophou toe te dien en die feesvieringe op die “Heuwel” in te lui.

    In Boksburg het dit Helpmekaar Kollege ‘n rukkie geneem om stoom op te bou, maar hy kon uiteindelik vir Hoërskool Dr EG Jansen met 35-15 verslaan. Dit het soos verwag ‘n fisieke stryd afgegee, met die Jansies wat met tye uitsonderlike rugby opgedis en selfs in ‘n stadium met 15-14 voorgeloop het. Hul agterste driehoek, met die indrukwekkende heelagter, Deshean Pietersen, aan die spits, het aldrie die tuisspan se drieë gedruk.

    Dit was egter nie genoeg om ‘n goed afgeronde aanslag deur die besoekers van Johannesburg af te weer nie. Voorlangs was het agsteman Llewelyn Vermaak, en oopkantflank, Zaiden Krige, die pap dik aangemaak, wat vir losskakel, Wian Storm, die geleentheid gebied om die Helpies se agterhoede op die voorvoet te plaas en self ook deur te wals vir ‘n drie.

    Puntemakers: 

    Noordheuwel 43 (21) – Drieë: Armand van Eck (3), Aiden Bester, Jayden Steyn, Skuttie Bezuidenhout. Doelskoppe: Jeandré Uithaler (4), Pablo Moeketsane. Strafdoel: Uithaler. Monument 27 (8) – Drieë: Loghan Langeveldt (2), Caleb Sparks, 14 Jason Joubert. Doelskoppe: Cameron Kourie (2). Strafdoel: Kourie.

    Helpmekaar Kollege 35 (14) – Drieë: Wian Storm, Ty Ax, Llewelyn Vermaak, Zaiden Krige, Diandro Botha. Doelskoppe: Storm (5). EG Jansen 15 (0) – Drieë: Deshean Pietersen, Otlatleng Zulu, Jordan van der Westhuizen.

    Ander spanne: 

    o.16: Noordheuwel 26; Monument 23; Helpmekaar Kollege 48, EG Jansen 14.

    o.15: Noordheuwel 22, Monument 18; Helpmekaar 36, EG Jansen 10.

    o.14: Monument 14, Noordheuwel 12; Helpmekaar 31, EG Jansen 10.

  • Heftige verwelkoming wag op Dinamika in Plasies se ‘Kraal’

    Heftige verwelkoming wag op Dinamika in Plasies se ‘Kraal’

    FOTO: Marius Nortjé.

    Merensky Landbou Akademie is daarop uit om te vergoed vir sy naelskraapse nederlaag met ‘n enkele punt teen Bergsig Akademie verlede naweek, en dit voorspel niks goeds vir Saterdag se opposisie nie.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Die Plasies, ‘n vooraanstaande span wat oor die afgelope paar jaar telkens die SDC Noordvaal Cup se Bowl-halfeindronde kon haal, verwelkom hierdie naweek een van die drie nuwelinge in dié afdeling, Hoërskool Dinamika. Boonop is die Plasies op hul gevaarlikste in die “Kraal” op die “Plaas” in Tzaneen.

    Die nederlaag teen Bergsig was ‘n bitter pil om te sluk, maar die silwerrandjie is dat Merensky ongeskonde van Rustenburg teruggekeer het. Derhalwe kon breier, Steve Kruger, sy span onveranderd laat vir Saterdag se stryd, met die Plasies se enigste Cravenweek-verteenwoordiger, senter en kaptein, Maritz Meintjies, wat, saam met sentermaat, Jens Bezuidenhout, weer die middeveld op horings kan neem.

    Die span van Alberton is steeds segeloos in sy eerste seisoen as deel van dié afdeling en ‘n sege oor die Plasies sal nie alleen welkom wees nie, maar ook ‘n opskudding in Tzaneen veroorsaak.

    ‘n Gekweste Hoërskool Eldoraigne verwelkom vir Bergsig Akademie met nie minder nie as sewe beserings in sy kamp. Die Eldos se nederlaag teen Hoërskool Zwartkop in hul derby verlede naweek het dus nie net op die telbord seergemaak nie.

    ‘n Aantal noodgedwonge skuiwe moes gemaak word, waarvan die interessantste straks dié is van Hanno Jacobs, van linkervleuel na agsteman, met Esdee Kotze wat op slot sak. Steelkantflank, Justin Meintjies, is ook op die krukkelys, met Kyle de Bruin, ook ‘n kranige krieketspeler, wat sy plek aan die kant van die skrum inneem.

    Die stryd tussen Hoërskool Jeugland en Hoërskool Randburg in Kempton Park kan vir een van die aanskoulikstes van die naweek sorg.

    Randburg se uitmergelende gelykopuitslag (33-33) teen Potchefstroom Gimnasium het ietwat van ‘n tol geëis, met die gevolg dat hy die tog na Kempton sonder staatmaker-loskop en kaptein, Malan van Heerden, moet aandurf. Van Heerden word deur haker, Diedlof Fourie, op stut vervang, terwyl Michael Payne in die middel van die voorry sal diens doen.

    Die spanne: 

    Merensky t. Dinamika om 12:25 in Tzaneen: 

    Merensky: 15 George Steenkamp, 14 Meschack Mohlala, 13 Jens Bezuidenhout, 12 Maritz Meintjies, 11 Henru Venter, 10 JD Boshoff, 9 Muis Koen, 8 Phuki Mpiti, 7 PG Botes, 6 Jan Pretorius, 5 Craig Walker, 4 Blessing Mathebula, 3 Otto Muller, 2 Marno Nel, 1 Carel Volschenk.

    Dinamika: 15 Zavian Mathys, 14 Nathan Kearns, 13 Shane Serfontein, 12 Nico Greyling, 11 Caiden van der Merwe, 10 Keanu de Sousa, 9 Gustav Schutte, 8 Monré van Wyk, 7 Hendrik Albert, 6 Darren Pretorius, 5 Ruan van Tonder, 4 Branden Smit, 3 Jayden Smith, 2 Duandré Boshoff, 1 Janco Fourie.

    Eldoraigne t. Bergsig Akademie om 13:00 in Centurion: 

    Eldoraigne: 15 Damian Elferink, 14 Tristan Lee, 13 Hugo Theron, 12 Kevin Earle, 11 Ethan Beyer, 10 Manie Buitendag, 9 Johnny du Randt, 8 Hanno Jacobs, 7 Kyle de Bruin, 6 Cameron Killian, 5 Damian Janse van Vuuren, 4 Esdee Kotze, 3 Chase Wessels, 2 JG Engelbrecht, 1 Wian White.

    Bergsig Akademie: 15 Alzandro Dos Santos, 14 Keabetswe Daile, 13 Bradley Stonehouse, 12 Dan Bogopane, 11 Heinrich Krugel, 10 Carlo de Jager, 9 Paulo Dos Santos, 8 Stephan Harmse, 7 Thatano Bagwase, 6 Christiaan de Abreu, 5 Martin Pieterse, 4 Jacques Viviers, 3 Dylan Smith, 2 Marnus Dercksen, 1 Thabang Machubene.

    Jeugland t. Hoërskool Randburg in Kempton Park: 

    Jeugland: 15 Kokets Maphopa, 14 Beya Nyathi, 13 Andrew Khoza, 12 Innocent Vilakazi, 11 Thando Ngomane, 10 King Agbanzo, 9 Zaydene Adams, 8 Jaden Kleyn, 8 Jaden Kleyn, 7 Alec Mohlala, 6 Joseph Ngoma-Ngoma, 5 Nivan Duvenhage, 4 Daniel Wawina, 3 Khumo Maimane, 2 Lesego Moitse, 1 Phenyo Nkoana.

    Randburg: 15 Joshua Wiggett, 14 Eduan Bakkes, 13 Bradley Bitcher, 12 Zander Drake, 11 Jayden Oosthuizen, 10 Jayden Todd, 9 Rico Vosloo, 8 Cruwin Hill, 7 Chrisjan van Niekerk, 6 Victor van Blerk, 5 Philip Rykaart, 4 Jayden Brown, 3 Kian Kritzinger, 2 Michael Payne, 1 Diedlof Fourie.

  • Die Anker, Secunda oorgehaal vir die ‘Slag van Brakpan’

    Die Anker, Secunda oorgehaal vir die ‘Slag van Brakpan’

    FOTO: Hoërskool Secunda op Facebook.

    Kragmetings tussen Hoërskool Die Anker en Hoërskool Secunda sorg normaalweg vir hope aksie. Saterdagmiddag se stryd in die Skild-afdeling van die SDC Noordvaal Cup, in Brakpan, sal nie ‘n uitsondering wees nie.

    Volg al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Sowel Secunda as Die Anker, sedert hul toetrede tot die Skild in 2024, is toonaangewende spanne in dié afdeling.

    Dit het tot dusver klopdisselboom gegaan met Secunda se Skild-veldtog. Hy het in die eerste twee wedstryde reeds ‘n total van 87 punte opgestapel met oortuigende seges oor Hoërskool Hugenote van Springs (39-13) en Hoërskool Piet Retief (48-18).

    Die span van Brakpan, daarenteen, het nog slegs een keer in vanjaar se reeks uitgedraf, toe hy met 12-26 teen Hoërskool Ben Vorster vasgeval het, en het daarna ‘n loslootjie geniet het. Dié blaaskans het Die Anker nietemin goed gedoen, aangesien ‘n aantal staatmakers teruggekeer het van beserings.

    Agsteman en kaptein, Ruben Herbst, is een van die spelers wat met ope arms terugverwelkom word en ‘n reuse verskil voorlangs behoort te maak. Herbs se neef, Edrick Pienaar, keer ook terug om noodsaaklike woema aan die tuispan se agterhoede te verleen en behoort in ‘n taamlike tweestryd met die besoekers se uithaler-senter, Bismark Jansen, gewikkel te wees.

    In Pretoria wag daar nóg ‘n liplekker-stryd tussen ‘n uiters gevaarlike Heidelberg Volkskool en Skild-nuweling, Hoërskool Montana.

    Sedert die Volkies hul ritme ‘n paar weke gelede gevind het, het hulle daarin geslaag om meer as 112 punte in hul laaste twee wedstryde aan te teken. Afrigter, Louwtjie Dalhouzie, het egter een taktiese skuif in die agterhoede aangebring, met Tristan Munro wat van senter na losskakel om plekke te ruil met die gevaarlike Marco Botha.

    Die Monties glimlag self breed met die terugkeer van hul skitterende senter, Hendrew Schoeman.

    Hoërskool Ben Vorster, op soek na ‘n tweede sege in vanjaar se reeks, reis na Springs waar Hoërskool Hugenote op hom wag. Dit bied aan die Buffels ‘n geleentheid om die bordjies te verhang en vanjaar die Hugies op hul tuisveld te probeer verslaan, nadat hulle verlede jaar met 7-38 les opgesê het tuis in Tzaneen.

    Hoërskool Lichtenburg behoort ‘n perd van ‘n ander kleur wees na sy nederlaag teen Hoërskool Klerksdorp (13-21) in hul derby verlede naweek. Die Liggies pak die tog aan na Mpumalanga waar hulle vir Hoërskool Piet Retief op die Jack Botes-stadion moet aandurf.

    Die Pieties gaan steeds gebuk onder beseringsprobleme, maar tuisveldvoordeel en die Liggies se lang tog van Noordwes kan moontlik in hul guns tel.

    Die spanne: 

    Die Anker t. Hoërskool Secunda om 12:20 in Brakpan: 

    Die Anker: 15 Paul Schutte, 14 Dyllon le Roux, 13 Arno Krugel, 12 Edrick Pienaar, 11 Jonothan Jordaan, 10 Danie Smit, 9 Troy Joubert, 8 Ruben Herbst, 7 Vian Strydom, 6 Byron van Zyl, 5 Brendan van Lutterveld, 4 Jaydon Steenkamp, 3 Xavier Momberg, 2 Rico Goosen, 1 Branden Sauerman.

    Secunda: 15 Dillon Grundeling, 14 Ryan Lottering, 13 Armand Underhay, 12 Bismark Jansen, 11 Alberto Volschenk, 10 Alonzo Blackenberg, 9 JD van Coller, 8 Franko Rossouw, 7 Zander van der Merwe, 6 Sifiso Hlangawe, 5 Renier Combrink, 4 Mickey Jordaan, 3 MC Vosloo, 2 Reinhardt Fourie, 1 Rico Schoeman.

    Montana t. Heidelberg Volkskool om 12:30 in Pretoria: 

    Montana: 15 Marq de Villiers, 14 Keagan van der Merwe, 13 Luan Barnard, 12 Hendrew Schoeman, 11 Sam Schoeman, Rubel Bester, 9 Braam Schutte, 8 Ulrich van Biljon, 7 Dieter Scheepers, 6 Aiden Vorster, 5 Kyle Bronkhorst, 4 Eric Potgieter, 3 Xandré le Roux, 2 Juan Theunissen, 1 Aiden van der Made.

    Heidelberg Volkskool: 15 Tyrone Munro, 14 Theuns van der Merwe, 13 Marco Botha, 12 Vaughn Steynvaart, 11 Pieter Greyling, 10 Tristan Munro, 9 Hein Oelofse, 8 Juandré Pretorius, 7 Klaas Venter, 6 Jaco Botha, 5 Eduard Roets, 4 Jano Dietrechsen, 3 Dean Last, 2 Henru Coetzer, 1 Reuben Bothma.

    Hoërskool Hugenote van Springs t. Ben Vorster om 13:30 in Springs: 

    Hugenote (Springs): 15 Christaan Basson, 14 Andile Dhlamini, 13 Yovan Prinsloo, 12 Dylan Nel, 11 Kyle de Klerk, 10 George Lucas, 9 Thanyani Mokiri, 8 Euan Venter, 7 Luan Pretorius, 6 Arné Marais, 5 André Coetzee. 4 Tristan de Beer, 3 Wian Rudolph, 2 Luan Smit, 1 Franko Neuhoff.

    Ben Vorster: 15 Wessel Joubert, 14 Miguel Makubupetsi, 13 Chifu Banda, 12 Gegan Hendriks, 11 Freddie Pinto, 10 Shelton-Ray Primo, 9 Stiaan du Rand, 8 Tumi Ramohlale, 7 Lesedi Motseke, 6 Gerhardt Ryan, 5 Lourens Harmse, 4 Barend Harmse, 3 Thaba Matlou, 2 Ruben Pohl, 1 Thabang Nkuna.

    Hoërskool Piet Retief t. Hoërskool Lichtenburg in Piet Retief: 

    Piet Retief: 15 Buhle Ngubane, 14 Spephelo Phakathi, 13 Siphosethu Sibisi, 12 Gilles van der Meulen, 11 Vuyani Tshabalala, 10 Owethu Shabalala, 9 Kyle Stock, 8 Marnus Thomas, 7 SJ van Barneveld, 6 Lethu Hlope, 5 Harold Gevers, 4 Abongwe Maduna, 3 Aza Phakathi, 2 Mario de Oliveria, 1 Sfundo Mayisa.

    Lichtenburg: 15 Xander Blom, 14 Tehan Potgieter, 13 Oratile Sekoto, 12 WJ Liebenberg, 11 Kuzi Mupudzi, 10 Luan Snyman, 9 Rea Motsusi, 8 KG Legodi, 7 Tiaan Booysen, 6 George Bingudzu, 5 Darius Lombard, 4 LJ Kleynhans, 3 Duan Kruger, 2 Juan van Rhyn, 1 Ruben Pretorius.

  • Sege oor Bere kan kroon span op Parkies se skitterseisoen

    Sege oor Bere kan kroon span op Parkies se skitterseisoen

    Leskin Samuels, buitesenter van Die Hoërskool Menlopark, op die aanval teen Outeniqua. FOTO: Frans Lombard/Actionpix.

    Die laaste keer wat Die Hoërskool Menlopark oor Hoërskool Garsfontein kon seëvier was ses jaar gelede, toe hy in die destydse Noordvaalbeker-halfeindstryd koning gekraai het.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Tuisveldvoordeel, met die skare wat hul luidkeels aanmoedig, kan Saterdagmiddag vir Parkies egter die nodige hupstoot gee om die verdedigende kampioen se onoorwonne veldtog tot dusver in vanjaar se Beker-afdeling te beëindig.

    Die Bere was soos ‘n wafferse naelloper uit die blokke om gemaklik met Helpmekaar Kollege (47-29) en 2024 se naaswenner, Hoërskool Waterkloof (53-19), af te reken.

    Die Parkies het verlede week, vir die derde keer in hul laaste vier kragmetings, met 19-27 teen die einste Klofies vasgeval. Dit was egter hul eerste nederlaag vanjaar, wat die Parkies se skitterseisoen tot dusver beklemtoon.

    Die Bere se diepte aan die kant van die skrum word hierdie naweek getoets met flank en kaptein, JP Pieterse, wat las van ‘n enkelbesering ondervind. Hy word deur nog ‘n JP, JP Meintjies, vervang. Vaskopstut, Luan van den Berg, dra derhalwe Saterdag die kapteinsarmband.

    Die Parkies behou dieselfde span wat tot op hede vanjaar soveel sukses behaal het.

    Haker, Declan Pleser, sal, saam met oopkantflank, Nathen du Plessis, een van die tuisspan se groot uitblinkers vanjaar, woel in die los en vastelos. Agterlangs hou die beproefde kombinasie van losskakel en kaptein, Andru Keun, en heelagter, Reihardt Herbst, ‘n taamlike bedreiging in vir die Bere.

    In Boksburg mik Helpmekaar Kollege vir drie agtereenvolgende seges wanneer hy met die “Dokter” van Boksburg, Hoërskool Dr EG Jansen, swaarde kruis.

    Die Jansies het tot dusver ‘n wipplank-seisoen ervaar. In hul mees onlangse uitstappie in die Beker-afdeling, het hulle teen Hoërskool Transvalia in Vanderbijlpark vasgeval, wat egter van hulle ‘n gevaarlike opponent tuis maak. Vernaam heelagter, Deshean Pietersen, hou groot gevaar in met sy teenaanvalle vanuit enige hoek van die veld.

    Die Helpies gaan egter weekliks van krag tot krag, met die Lourens-tweeling, Ethan en Shaye, wat uitblink op onderskeidelik binnesenter en skrumskakel.

    Die spanne: 

    Menlopark t. Garsfontein om 12:30 in Pretoria: 

    Menlopark: 15 Reinhardt Hebrst, 14 Bladen Peterson, 13 Leskin Samuels, 12 Dylan Stumke, 11 Juan Joubert, 10 Andru Keun, 9 Gustav Scäffner, 8 JN van Wyk, 7 Tiaan Boshoff, 6 Nathen du Plessis, 5 Keagen Pretorius, 4 Xander Roets, 3 Ruvan van Aardt, 2 Declan Pelser, 1 Mattheus Prinsloo.

    Garsfontein (moontlik): 15 Junade Pasensie, 14 Junaide Stuart, 13 Xian Erasmus, 12 Keagan Knighton, 11 Drewyn Baron, 10 Joshua Gouws, 9 Derrick Kuhn, 8 Lourenz de Jager, 7 JP Meintjies, 6 JP Pieterse, 5 Derik Potgieter, 4 JJ Fourie, 3 Luan van den Berg, 2 Justin Blom, 1 Morné Coetzer.

    EG Jansen t. Helpmekaar Kollege om 12:25 in Boksburg: 

    EG Jansen: 15 Deshean Pietersen, 14 Otlatleng Zulu, 13 Christopher Combrink, 12 Nathan Delport, 11 Jordan van der Westhuizen, 10 Juan van Aswegen, 9 Joseph Diesel, 8 Slade Mowbray, 7 Dian Botha, 6 Craig Lightfoot, 5 Breyton Kruger, 4 Jacques van Tonder, 3 Deveraux Wideman, 2 Marco Ventura, 1 Ruan Rossouw.

    Helpmekaar Kollege: 15 Ty Ax, 14 Xander van Niekerk, 13 Clinton Cloete, 12 Ethan Lourens, 11 Francois Tonkin, 10 Wian Storm, 9 Shaye Lourens, 8 Lewelyn Vermaak, 7 Zaiden Krige, 6 Sydney Nicholson, 5 Eugen de Lange, 4 Diandro Botha, 3 Dylan Engelbrecht, 2 Keanan Combrink, 1 Liam Devenier.

  • Nories se beste kans om Wit Bulle te troef in 24 jaar

    Nories se beste kans om Wit Bulle te troef in 24 jaar

    Wanneer die Krugersdorp-derby Saterdagmiddag op “Die Heuwel” afskop, sal die gasheerspan, Hoërskool Noordheuwel, streef na slegs ‘n derde oorwinning ooit oor die naburige Hoërskool Monument.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) of op DStv kanaal 216. 

    Sedert die ontstaan van dié derby, in 1986, kon die Nories nog nét twee keer, in die heel eerste kragmeting en weer in 2001, met 20-18, die knoop deurhak.

    Intussen het die Wit Bulle in 16 van die 18 ontmoetings koning gekraai. Die grootste punteverskil was in 1996 toe hulle vir die Blues met 74-3 pak gegee het.

    Die tweestryd het sedert 2022 ‘n jaarlikse instelling geword, danksy die destydse Noordvaal-trofee (deesdae die SDC Noordvaal Cup) en ‘n paar rillers opgelewer.

    Die Wit Bulle was nietemin steeds baas van die Krugersdorp-plaas in ál drie die onlangse kragmetings. Die vorige keer, tydens die rondomtalie-fase van verlede jaar se Beker-afdeling het die Monumentare naelskraaps met 36-33 die pyp gerook op hul tuisveld, die Ras van Rooyen.

    Vanjaar is die algemene gevoel in Krugersdorp dat die Blues dié derby straks as gunstelinge betree, maar, gegewe die onvoorspelbaarheid van skolerugby, kan ‘n mens nooit té vroeg daadwerklike aannames maak nie. Die Nories het op stuk van sake die afgelope paar weke klippe gekou, met ‘n onlangse nederlaag teen King Edward VII School (22-23), wat ‘n bitter pil was om te sluk.

    Die beseringspook het intussen by albei skole kom aanklop. Die Wit Bulle se staatmaker-losskakel, Jaydon Viljoen, is steeds op die krukkelys met ‘n gebreekde arm. Cameron Kourie het egter Viljoen se skoene netjies volgestaan as generaal van die span.

    Kourie se lakmoestoets wag egter Saterdag in die vorm van Noordheuwel se Jeandré Uithaler. Uithaler is onlangs welverdiend as die Goue Leeus se Cravenweek-losskakel aangewys, maar daar is twyfel oor sy beskikbaarheid na hy die Blues se nederlaag teen KES verlede naweek misgeloop het.

    Voorlangs word vuurwerke verwag tussen die onderskeie kapteins, met Nories se haker, Clinton Agu, tans die sterkste aanspraakmaker op die nr. 2-trui vir die SA Skolespan, wat sy stempel sal wil afdruk teen Vincent Roberts en die res van die Monnas-pak.

    Om verder tot die opwinding by te dra, is daar twee oud Monumentare, Stefan Lourens en Reinhard Gerber, in die teenoorgestelde hoeke van die kryt.

    Hoërskool Rustenburg hervat sy veldtog na ‘n welverdiende blaaskans, wanneer hy vir Hoërskool Nelspruit tuis verwelkom.

    Die Rusties, met slegs een uitstappie in dié kompetisie tot dusver vanjaar, sal graag sake wil regstel na hul nederlaag van 13-20 teen Hoërskool Transvalia twee weke gelede. Die Rhinos lek self wonde nadat hulle met 13-22 die knie gebuig het teen ‘n ooglopend “nuwe” Helpmekaar Kollege.

    Die Rusties en Nellies is nietemin steeds altwee gedugte spanne, goed afgerig, en die stryd voorlangs behoort verál fel te wees.

    Nellies word versterk deur die terugkeer van kantman, Vian Louw, wat so gou as moontlik na sy harsingskudding die spelpeil wil herwin waarmee hy die tuisspan onder druk kan plaas.

    Wat die Rusties betref, vervang Ayden Willemse vir Lorenzo Snyers op heelagter, in ‘n taktiese skuif wat Willemse in staat stel om sy aanspraak op die nr. 15-trui in die Luiperds se Cravenweekspan te versterk.

    Die spanne: 

    Noordheuwel t. Monument om 12:30 in Krugersdorp: 

    Noordheuwel (moontlik): 15 Jade Rollison, 14 Aidan Bester, 13 Jayden Steyn, 12 Kieran Reid, 11 JP van der Merwe, 10 Juandré Uithaler, 9 Gillie Diedericks, 8 Armand van Eck, 7 Juandré de Villiers, 6 Andrew Lambert, 5 Roehan Hoogendyk, 4 Kean Lourens, 3 Steph Botha, 2 Clinton Agu, 1 Skuttie Bezuidenhout.

    Monument (moontlik): 15 Ewan van der Walt, 14 Jason Joubert, 13 Viandré van Loggerenberg, 12 Juandré Ehlers, 11 Ruan Genis, 10 Cameron Kourie, 9 Evan Berhardi, 8 Ryn van der Westhuizen, 7 Loghan Huges, 6 Siya Ncube, 5 Dean Hartman, 4 Vincent Roberts, 3 Juandré Marais, 2 Reghardt Ernst, 1 Danie Smith.

    Hoërskool Rustenburg t. Hoërskool Nelspruit om 13:30 in Rustenburg: 

    Rustenburg: 15 Ayden Willemse, 14 Bradley Snyers, 13 Jon-Ré Jefthas, 12 Hendré Robinson, 11 Waide Davey, 10 Ricardo Enos, 9 Adriano George, 8 Donovan Mosterdt, 7 Dirk Huisamen, 6 MJ Otto, 5 Evan van Heerden, 4 Tristan Myburgh, 3 Jayden Minnie, 2 Xavier Steenkamp, 1 Jan-Paul Nel.

    Nelspruit (moontlik): 15 Jean Erasmus, 14 Jordan Pretorius, 13 Ruben Greeff, 12 Rian Botha, 11 Tinyiko Silubane, 10 John Duncan, 9 Liam Pringle, 8 Vaughn van Zyl, 7 Vian Louw, 6 Werno Heyns, 5 André Smit, 4 Ethan Esterhuizen, 3 Gert Cloete, 2 D’Angelo Roberts, 1 Lindani Ndlela.

  • Calitz se terugkeer ‘n hupstoot vir Wessies teen Oosies

    Calitz se terugkeer ‘n hupstoot vir Wessies teen Oosies

    FOTO: Hoërskool Wesvalia op Facebook.

    Hoërskool Wesvalia se veelsydige Fafa Calitz keer Saterdag terug na die beginspan vir die Wessies se groot uitdaging teen Hoërskool Oos-Moot in die SDC Noordvaal se Plaat-afdeling in Klerksdorp.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Calitz het vanjaar al in bykans elke posisie in die agterlyn uitgedraf. Hierdie slag neem hy egter weer sy gunstelingposisie in op linkervleuel, waar hy straks op sy gevaarlikste is.

    Daar wag ook ‘n kolossale stryd tussen die twee spanne se losskakels.

    Dewron Aford, een van Oosies se vernaamste aanvalswapens, sê vir die tuisspan se Eduard Dreyer die stryd aan. Dreyer se sterkpunt is sy geoefende skopskoen, waarmee hy die besoekers uit die Moot in hul halfgebied sal probeer vaspen.

    Die onlangse Blou Bul-skoleproewe het Oos-Moot se breier, Braam Pretorius, laat asem ophou weens die moontlikheid van beserings op die vooraand van hierdie kritieke kragmeting. Pretorius maak vanjaar deel uit van die Blou Bulle se Cravenweekbestuur, wat die Oosies se sterk aanspraak op vanjaar se Plaat-titel verklaar.

    ‘n Hoogs gemotiveerde Hoërskool Marais Viljoen sal Saterdag tuis uitdraf wanneer Ligbron Akademie vanaf Ermelo besoek aflê.

    Die span van Alberton se agsteman, Rio Tshimbalanga, ‘n uitblinker van die Goue Leeus se Akademiespan verlede jaar, het weer die span gehaal, maar as reserwe, en sal dus ‘n punt hê om te bewys. Derhalwe kan dié ekstra oemf in Tshimbalanga se tenk moeilikheid beteken vir Liggies se verdedigers.

    Hoërskool Zwartkop hou ewe veel gevaar in vir die gekweste Hoërskool Kempton Park.

    Die Zwarries het nie slegs verlede naweek hul jaarlikse derby teen Hoërskool Eldoraigne gewen nie, maar dit vermag met ‘n oorweldigende sege van 59-10. Dit was die span van Centurion se 11de agtereenvolgende oorwinning van die jaar en, met haker, Regan Blignaut, en buitesenter, Luan Williams, stewig op dreef, sal hulle oorgehaal wees vir nr. 12.

    Die nuus uit ‘n groen Middelburg is dat Hoërskool Middelburg sy jaarlikse derby teen HTS Middelburg ongeskonde deurgemaak het. Die Middies pak hul tog na Noordwes, waar Hoërskool Klerksdorp op hul wag, aan met ‘n onveranderde span.

    In antwoord hierop het die Klerksdorpers slegs een verandering aangebring. Brendin Mathyse keer terug van ‘n besering om vir Jayden Turner op heelagter te vervang, wat beteken dat Dorian Isaacs sy plek op losskakel behou na ‘n uitmuntende vertoning in sy span se sege oor Hoërskool Lichtenburg verlede week.

    Die spanne: 

    Wesvalia t. Oos-Moot om 12:30 in Klerksdorp: 

    Wesvalia: 15 Henco Greyling, 14 Martin Bierman, 13 Jeandré Snyman, 12 Wian du Preez, 11 Fafa Calitz, 10 Eduard Dreyer, 9 Barry Niemand, 8 Franco Dumond, 7 Christiaan Swanepoel, 6 Quewen Fourie, 5 Tiaan de Kock, 4 Joshua Pieterse, 3 Ignus Nel, 2 Fanie Linde, 1 Ulrigh du Preez.

    Oos-Moot: 15 Jayden Pretorius, 14 Drew Williams, 13 Royston Arendse, 12 Jeandré Venter, 11 LJ Vaughn, 10 Dewron Aford, 9 David Joubert, 8 Jaydon Botha, 7 Riyaan Wilson, 6 Clayton du Bruyn, 5 MC van Tonder, 4 Stian de Vente, 3 Jandré de Beer, 2 Thando Telelo, 1 Divan du Preez.

    Marais Viljoen t. Ligbron Akademie om 12:30 in Alberton: 

    Marais Viljoen: 15 Raynhardt Kruger, 14 Cayden Scheepers, 13 Juan van den Heever, 12 Jonno Morkol, 11 Kabelo Tlhoaele, 10 Claude do Cotto, 9 Ethan Wiedeman, 8 Rio Tshimbalanga, 7 Munga Mwengehya, 6 Lloyd Shoko-Schenck, 5 Dean Scheepers, 4 Jermaine Crause, 3 Sifiso Shongwe, 2 Ondisa Njili, 1 Juan Cooper.

    Ligbron Akademie: 15 Bandile Thanjekwayo, 14 Neo Zwane, 13 Siyanda Dennison, 12 Lethi Ngwenya, 11 Ndumiso Dlamini, 10 Eben Degenaar, 9 Renier van Staden, 8 Janco Claasen, 7 Jurgens Bezuidenhout, 6 Tiaan Botha, 5 Ian Booysen, 4 Henco Scheepers, 3 Devan Scheepers, 2 Regard Janse van Rensburg, 1 WP Human.

    Zwartkop t. Hoërskool Kempton Park om 12:30 in Centurion: 

    Zwartkop: 15 Shayden Botha, 14 André Marx, 13 Luan Williams, 12 David van Jaarsveld, 11 Stiaan Botha, 10 Tilon Baron, 9 Luan Janse van Rensburg, 8 Wihan Roux, 7 Luan Wepener, 6 Brian Smith, 5 Jethro le Roux, 4 Ettienne van Niekerk, 3 AJ Hendriks, 2 Regan Blignaut, 1 Christiaan de Vries.

    Kempton Park: 15 Ben Steyn, 14 Ethan Botha, 13 Wian Riekert, 12 Jethro Williams, 11 Ettienne Stroebel, 10 Stian de Villiers, 9 Ferdi Smith, 8 Ruan Mostert, 7 Marco van der Walt, 6 Matthew Vermaak, 5 Luca du Plooy, 4 Louis Mouton, 3 Dihan Keeve, 2 Matthew Swannevelder, 1 Piet van den Heever.

    Hoërskool Klerksdorp t. Hoërskool Middelburg om 12:20 in Klerksdorp: 

    Klerksdorp: 15 Brendin Mathyse, 14 Tyrand Masango, 13 Winton Abrahams, 12 Jarred van Staden, 11 Elzeno Schalkwyk, 10 Dorian Isaacs, 9 Rellston Wilson, 8 Tiaan Koen, 7 Marnus van der Merwe, 6 D-Jee Treurnich, 5 Juan Hills, 4 SG de Klerk, 3 Hanro Nel, 2 Brandon Botha, 1 De Wet le Roux.

    Middelburg: 15 Katlego Baloyi, 14 Kefilwe Phamotse, 13 Jaco Truter, 12 Lungelo Maseko, 11 Lesego Rakale, 10 Matthew Abbey, 9 Keabetswe Nkgadima, 8 Hencoe Jane van Rensburg, 7 Wihan Jordaan, 6 CW Hanekom, 5 Jabu Mathebula, 4 Khensani Buthelezi, 3 Dewald du Toit, 2 Roux Grobler, 1 Carlo Joubert.

  • Volkies jag eerste sege sedert 2022 in Potch-derby

    Volkies jag eerste sege sedert 2022 in Potch-derby

    FOTO: Potchefstroom Volkskool op Facebook.

    Potchefstroom Gimnasium betree die jaarlikse Potchefstroom-derby teen Potchefstroom Volkskool Saterdagmiddag op die Mooivallei-sportgronde as gunsteling.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Vir die Volkies bied dié groot dag nietemin ‘n gulde geleentheid om vir die eerste keer sedert hul sege van 27-10 in 2022 weer oorwinning te smaak teen hul buurskool.

    Die Gimmies se jong span streef op hul beurt na ‘n driekuns van seges in die derby, ná ‘n tuissege in 2023 (26-13) en indrukwekkende wegoorwinning (30-13) in verlede jaar se kragmeting in die Volkies se agterplaas. Gimmies het hierdie keer nie minder nie as 15 Graad 11’s in hul eerstespan-groep van 23.

    Om verder petrol op die vuur te gooi, maak Saterdag se die stryd ook deel uit van die SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling. Hoewel Gimmies die verdedigende kampioen is, is Volkies vanjaar ook ‘n sterk aanspraakmaker op die titel.

    Gimmies het vandeesweek hul A-veld vernoem na Piet Malan, ter ere van die diep spore wat dié voormalige Springbok-flank as oud-Gimmie getrap het. Dit maak van Saterdag se wedstryd ‘n geskiedkundige gebeurtenis wat bydra tot die drama.

    Malan, hoofseun en eerstespan-kaptein in 1937, het in die onoorwonne toetsreeks teen Fred Allen se All Blacks in 1949 Gimmies se eerste van vier Springbokke geword, en later ‘n beduidende rol gespeel in die totstandkoming van die jaarlikse Cravenweek-toernooi vir hoërskole. Gimmies se ander Bokke is Johan van der Schyff (geen toetse), Theo van Rensburg en Gerhard Steenekamp.

    Albei spanne is slaggereed vir die massiewe stryd wat hierdie Saterdag voorlê. Die Volkies, aangevoer deur skrumskakel, Juhan Geldenhuys, het vanjaar reeds ‘n paar wenkbroue laat lig met uitmuntende aanvalsrugby. Dit is vernaam heelagter, Arno Nel, en regtervleuel, Lethabo Riet, wat ‘n taamlike bedreiging agterlangs inhou.

    Kenmerkend van ‘n derby, sal die vonke ook spat in die loopgraafoorlogvoering tussen die twee pakke. Die Gimmies se Cravenweek-vaskopstut, Matthew Redelinghuys, en sy voorrymaat, Juandré Barends, lek hul lippe af vir die skrumstryd wat wag, terwyl agsteman, De Wet Grobler, se tweestryd met die Volkies se tweede in bevel, steelkantflank, Marlu du Preez, vir hope aksie in die los kan sorg.

    Die spanne: 

    Potchefstroom Gimnasium t. Potchefstroom Volkskool om 14:00 in Potchefstroom: 

    Potchefstroom Gimnasium: 15 Jandré Oosthuizen, 14 Rea Moloalosi, 13 Irumeleng Pheto, 12 Elrich Bosch, 11 Chris van Zijl, 10 Zandré Da Silva, 9 MJ Viljoen, 8 De Wet Gorbler, 7 Reuel Potgieter, 6 Damian Zwahlen, 5 Rynel Rautenbach, 4 Dirk Stear, 3 Matthew Redelinghuys, 2 Kobus Grobbelaar, 1 Juandré Barends.

    Potchefstroom Volkskool: 15 Arno Nel, 14 Lethabo Riet, 13 Hennie Pretorius, 12 Rivel Samuel, 11 Juan Fourie, 10 Lourenzo Louw, 9 Juhan Geldenhuys, 8 Johannes Lombard, 7 Marlu du Preez, 6 Wian Victor, 5 Stef Schoeman, 4 Joshua van der Westhuizen, 3 De Waal Coetzer, 2 Louis Fourie, 1 AB Brink.

    Ander spanne: 

    Piet Malan-veld (A-veld):

    12:10 – o.16
    11:00 – Tweede spanne
    10:00 – o.15
    09:00 – o.14
    08:00 – Derde spanne

  • Spelerprofiel – Luan van den Berg (Hoërskool Garsfontein)

    Spelerprofiel – Luan van den Berg (Hoërskool Garsfontein)

    LUAN “PROPPIE” VAN DEN BERG, vaskopstut van Hoërskool Garsfontein se Bere, op die aanval teen Paul Roos Gimnasium by die jaarlikse oord/Suid Toernooi. FOTO: Frans Lombard/Actionpix.

    Die naam “Proppie“, oftewel “Prop” van den Berg, het oor die afgelope twee jaar taamlik opslae gemaak in SA Skolerugbykringe.

    Lees meer oor Proppie se opkomende vertonings op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Dit is natuurlik die bynaam van Luan van den Berg, vaskoptut van Hoërskool Garsfontein se eerste rugbyspan, beter bekend as die Garsie Bere.

    Dit is egter nié die naam as sulks wat vir Proppie so alombekend gemaak het nie, maar eerder sy uitstaande skrumwerk en, meer onlangs, die vaardighede wat hy by sy reeds indrukwekkende spelpeil gevoeg het.

    Van den Berg was reeds in 2024 ‘n prominente figuur vir die Bere.

    Sy vertoning in die eindstryd van verlede jaar se Beker-afdeling in die SDC Noordvaal Cup het hom onder die aandag van die Suid-Afrikaanse Skolespan se skrumdokter, Cobus van Dyk, ook Hoërskool Waterkloof, oor wie die Garsies hier koning gekraai het, se hoofafrigter, gebring. Dit is dus geen verrassing dat Van den Berg dié wedstryd beskou as sy gunsteling herrinnering as ‘n Beer nie.

    Vanjaar was daar nog min, indien enige, vaskoppe wat tot dusver ‘n sterker aanspraak kon maak op die nr. 3-trui in die SA Skolespan.

    Die jong stut se rugbyloopbaan het in die nederige provinsie van Limpopo afgeskop. Gebore in Polokwane, die hoofstad van Limpopo, het hy reeds vroeg sy stempel afgedruk by Laerskool Pietersburg-Oos, beter bekend as Oosskool, een van die provinsie se suksesvolste rugby-laerskole.

    Dit was ook by Oosskool waar die Bok-fabriek van Bloemfontein, Grey Kollege, vir Van den Berg raakgesien het. Hy het uiteindelik in sy Graad 7 jaar die geleentheid kry om na Bloemfontein te skuif, waar hy vir die Vrystaat se o.13-span uitgedraf het.

    ‘n Paar jaar later, met die nodige skaafwerk agter die rug, haal Van den Berg, as net ‘n 15-jarige, die Vrystaat se Grant Khomo-span . Dit was die eerste van twee jaar dat hy op daardie vlak vir die Vrystaat diens gedoen het.

    Sedertien het hy teruggeskuif na die noorde, waar hy in sy Graad 11 jaar reeds vir die Blou Bulle se Cravenweekspan uitgedraf het in 2024. Met sy kragtige spelpeil by dié toernooi het hy ook vir homself ‘n plek in SARU se o.17 hoëprestasie-groep losgeslaan.

    “My grootste rolmodelle is Suid-Afrika se Wêreldbeker-wenner, Ox Nché, Wilco Louw en Kevin Buys,” sê Van den Berg van sy helde, wat almal bekend is vir hul uitmuntende skrumwerk. Buys het ook ‘n beduidende rol in die ontwikkeling van Van den Berg se tegniek en vaardighede gespeel as die Bere se skrumdokter.

    Van den Berg meen hy is ook heelwat dank verskuldig aan Garsies se bekende Gustav Theunissen, of “Oom Gustav” soos hy hom noem, en Sylvester Booysen, mede-hoofafrigter van die Bere.

    Met reeds só baie in só ‘n kort tydjie op sy kerfstok, asook die groot vooruitsigte vir die res van die jaar, kan dié jong, passievolle vaskop beslis eendag sy drome, om die Groen-en-goud oor die kop te trek, verwesenlik.