SSPN Test Site

Author: froberholzer

  • Randburg, Potch Gimmies ewe goed in naelbytstryd, enkele punt genoeg vir Bergsig

    Randburg, Potch Gimmies ewe goed in naelbytstryd, enkele punt genoeg vir Bergsig

    FOTO: Hoërskool Randburg op Facebook.

    Die afgelope naweek se Bowl-aksie in die SDC Noordvaal Cup het ondersteuners vasgenael gehou.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    In Randburg was daar ‘n wipplank van emosies betrokke met Hoërskool Randburg en die verdedigende kampioen, Potchefstroom Gimnasium, wat uiteindelik met 33-33 gelykop gespeel het.

    Dié uitslag behoort die Randburgers effens meer te pas, aangesien hulle reeds vroeg in die kompetisie onder taamlike druk verkeer.

    Die besoekers van Potchefstroom was soos ‘n wafferse naelloper uit die blokke om binne ‘n oogwink reeds met 19-7 voor te loop, met binnesenter, Elrich Bosch, oudergewoonte aan die voorpunt. Bosch het knaend druk op die voordeellyn toegepas met sy kragtige lopies, wat aan hom ‘n tweekuns aan drieë besorg het.

    Die Randburgers het egter, soos ‘n week vantevore teen Hoërskool Dinamika, gewys dat hulle nooit voor die eindfluitjie afgeskryf moet word nie, met buitesenter, Bradley Butcher, en steelkantflank, Philip Rykaart, wat die terugvegpoging gelei het. Rykaart, vir die soveelste keer vanjaar ‘n uitblinker, het in samewerking met vuurvreter-agsteman, Curwin Hill, die platform daargestel vir Butcher en Kie agterlangs.

    In Rustenburg het die vreugdevure Saterdag hoog gebrand nadat Bergsig Akademie se buitesenter, Bradley Stonehouse, met ‘n strafdoel in die doodsnikke, ‘n sege voor Merensky Landbou Akademie se neus weggeraap het. Die eindtelling was 18-17 in die tuisspan se guns.

    Dit was een van twee suksesvolle pogings pale toe deur Stonehouse, met die Arende wat verwoed moes terugveg om ‘n eerste sege in vanjaar se Bowl-afdeling te beklink. Die besoekers van Tzaneen se kookwater-slot, Craig Walker, en heelagter, George Steenkamp, het elk voor rustyd agter die Arende se doellyn gaan kuier, wat ‘n rustydvoorsprong van 14 punte aan hulle besorg het.

    Die tuisspan se losskakel, Carlo de Jager, en regtervleuel, Diale Keabetswe, het egter elkeen gedruk in die tweede helfte, voordat Stonehouse met sy stewel die Plasies se doppie geklink het.

    Puntemakers: 

    Hoërskool Randburg 33 (19) – Drieë: Diedloff Fourie, Jayden Brown, Philip Rykaart, Bradley Butcher, Josh Wiggett. Doelskoppe: Jayden Todd (2), Wiggett (2). Potchefstroom Gimnasium 33 (26) – Drieë: Elrich Bosch (2), Zandré Da Silva, Matthew Redelinghuys, Rynel Rautenbach. Doelskoppe: Da Silva (4).

    Bergsig Akademie 18 (0) – Drieë: Carlo de Jager, Diale Keabetswe. Doelskop: De Jager. Strafdoele: Bradley Stonehouse (2). Merensky Landbou Akademie 17 (14) – Drieë: Craig Walker, George Steenkamp. Doelskoppe: JD Boshoff (2). Strafdoel: Boshoff.

    Ander uitslae: 

    Jeugland 34, Dinamika 17.

    Ander spanne: 

    o.16: Randburg 23, Potchefstroom Gimnasium 19; Merensky 26, Bergsig Akademie 6; Dinamika 45, Jeugland 0.

    o.15: Potchefstroom Gimnasium 14, Randburg 12; Bergsig Akademie 28, Merensky 21; Dinamika 25, Jeugland 10.

    o.14: Potchefstroom Gimnasium 17, Randburg 13; Bergsig Akademie 5, Merensky 0; Dinamika 12, Jeugland 10.

  • Dit reën drieë in die Bosveld Interskole

    Dit reën drieë in die Bosveld Interskole

    Hoërskool Pietersburg vs Tom Naudé
    FOTO: Pietie-Paparazzi/Hoërskool Pietersburg op Facebook.

    Die groot skare wat na Hoërskool Pietersburg opgeruk het vir die jaarlikse Bosveld Interskole tussen die Pieties en Hoër Tegniese Skool Tom Naudé is met ‘n behoorlike drieëfees, aan albei kante, beloon.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Die eerstespan-wedstryd het nie minder nie as 13 aanskoulike drieë opgelewer, met die tuisspan wat uiteindelik met 50-35 koning gekraai het. Dit was egter geensins ‘n maklike taak om die Tommies se begeesterde Tiere te tem nie. Hulle het selfs in ‘n stadium die Pietie-ondersteuners laat sweet toe hulle met 21-12 voorgeloop het.

    Die span in wit, met die tuisskare agter hom, het egter na ‘n volgende rat oorgeskakel en sy punte in die tweede helfte meer as verdubbel, nadat hy voor rustyd reeds teruggeveg het om met die omdraaislag ‘n voorsprong van 24-21 te geniet.

    Haker, Ziahn Lombard, is vir sy energieke, en fisieke vertoning met ‘n tweekuns aan drieë beloon, terwyl stut, Krissie Swanepoel, vir Lombard kragtig ondersteun het met sy oneindige barslopies.

    Die Pieties se skakelpaar het, namate die stryd gevorder het, hul ritme gevind, met skrumskakel, Celliers van der Merwe, en loskakel, Juan Randall, wat spel netjies dikteer het.

    Aan die kant van Tom Naudé was buitesenter, Fortune Sehlabane, verantwoordelik vir 15 van sy span se 35 punte met ‘n driekuns aan drieë, in straks sy grootste skolerugbywedstryd nóg. Dit is duidelik hoekom Sehlabane vir die Limpopo Blou Bulle by die Cravenweek in Middelburg sal verteenwoordig; sy aanvalsvernuf en dartellopies is van hoogstaande gehalte.

    Binnesenter, Mahlatse Kekana, het ál vyf die besoekers se drieë verdoel vir ‘n persoonlike bydrae van 10 punte, en het beïndruk aan Sehlabane se binnekant met ‘n paar venynige lopies van sy eie.

    Puntemakers: 

    Hoërskool Pietersburg 50 (24) – Drieë: Ziahn Lombard (2), Krissie Swanepoel, Brent Vorster, FC Smit, Celliers van der Merwe, Juan Randall, Brydan Retief. Doelskoppe: Ryno Mienie (5). HTS Tom Naudé 35 (21) – Drieë: Fortune Selabane (3), Khatu Sikwheta, Mokibelo Matllhabaseletsi. Doelskoppe: Mahlatse Kekana (5).

    Ander spanne: 

    o.16: Pietersburg 54, Tom Naudé 5.

    o.15: Pietersburg 31, Tom Naudé 3.

    o.14: Pietersburg 12, Tom Naudé 3.

  • Hanekom, Abbey verf Middelburg groen

    Hanekom, Abbey verf Middelburg groen

    FOTO: Frans Lombard/Actionpix

    Die vonke het, soos verwag, gespat in Saterdag se jaarlikse Middelburg-derby, wat ook Hoërskool Middelburg en Hoër Tegniese Skool Middelburg se eerste ontmoeting was in die Plaat-afdeling van vanjaar se SDC Noordvaal Cup.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Dit was uiteindelik Middies wat daarin kon slaag om die bordjies te verhang, op die Rooi Bulle se tuisveld, met ‘n swaarverdiende sege van 16-11.

    In aanloop tot dié reuse stryd, is daar bespiegel oor die strawwe stryd wat voorlangs sou woed en dit was dan ook so. Die skote, en duikslae, het verwoed geklap tussen die voorspelers.

    Die Middies se staatmaker-flank, CW Hanekom, het die eerste deurbraak bewerkstellig, toe hy vanaf ‘n dryfmaal losgebreek en, eers links, toe regs, soos ‘n wafferse senter geswenk het om sy span se eerste en enigste drie te druk.

    Hanekom se verdediging en dinamiese teenwoordigheid by die afbreekpunte het voorts bygedra daartoe dat hy as die Speler van die Wedstryd aangewys is.

    Die skopstryd het uiteindelik egter ‘n deurslaggewende rol gespeel. Die Middies se losskakel, Matthew Abbey, was op sy stukke, met ‘n doelskop en drie strafdoele wat aan die Middies 11 waardevolle punte besorg het, terwyl die Rooi Bulle se WJ Enslin met twee strafdoele geslaag het.

    HTS Middelburg se agsteman, Tercius Bezuidenhout, het met sy terugkeer ‘n beduidende verskil gemaak. Sy fisiekheid en hoë werkverrigting kan vir die Rooi Bulle nog goud werd wees in die verdediging van hul Plaat-titel.

    Hoërskool Marais Viljoen se heelagter, Raynhardt Kruger, het die span van Alberton gehelp om vir Hoërskool Kempton Park met 30-20 in Kempton Park te troef. Kruger was in die kol met ál ses sy pogings pale toe, en met dié drie doelskoppe en drie strafdoele het hy die helfte van sy span se punte aangeteken.

    Voorlangs het die besoekers se losvoorspelers die vuur onder die res van die pak gestook. Agsteman, Rio Tshimbalanga, was vir die soveelste keer ‘n konstante gevaar met die bal in hand, terwyl sy flankmaat, Lloyd Shoko-Schenk, in die vas en die los uiters bedrywig was.

    Henco Greyling, Hoërskool Wesvalia se heelagter, het twee keer deurgedartel om Wessies aan te spoor tot ‘n sege van 32-19 oor Ligbron Akademie.

    Dit was welliswaar nie die Wessies van ouds nie, maar dit was te verstane na ‘n taai derby teen Hoërskool Klerksdorp die vorige naweek, asook die laaste ronde van die Luiperds-proewe wat Dinsdag plaasgevind het. Die besoekers van Ermelo het boonop na ‘n totaal ander span daar uitgesien in die tweede 35 minute, waartydens hulle 19 punte aangeteken het.

    Puntemakers: 

    Hoërskool Middelburg 16 (13) – Drie: CW Hanekom. Doelskop: Matthew Abbey. Strafdoele: Abbey (3). HTS Middelburg 11 (3) – Drie: Tercius Bezuidenhout. Strafdoele: WJ Enslin (2).

    Marais Viljoen 30 (20) – Drieë: Lloyd Shoko-Schenk, Ethan Weideman, Jonno Morkol. Doelskoppe: Raynhardt Kruger (3). Strafdoele: Kruger (3). Hoërskool Kempton Park 23 (13) – Drieë: Wian Riekert, Strafdrie. Doelskop: Stian de Villiers. Strafdoele: De Villiers (3).

    Wesvalia 32 (10) – Drieë: Henco Greyling (2), Martin Bierman, Fafa Calitz. Doelskoppe: Eduard Dreyer (3). Strafdoele: Dreyer (2). Ligbron Akademie 19 (0). 

    Ander spanne: 

    o.16: Hoërskool Middelburg 50, HTS Middelburg 6; Kempton Park 20, Marais Viljoen 10; Wesvalia 36, Ligbron Akademie 36.

    o.15: Hoërskool Middelburg 19, HTS Middelburg 7; Kempton Park 31, Marais Viljoen 11; Wesvalia 12, Ligbron Akademie 0.

    o.14: Hoërskool Middelburg 31, HTS Middelburg 14; Kempton Park 12, Marais Viljoen 6; Wesvalia 33, Ligbron Akademie 3.

  • Schoeman, Pretorius driekuns-dorings vir Secunda en Heidelberg Volkies

    Schoeman, Pretorius driekuns-dorings vir Secunda en Heidelberg Volkies

    FOTO: Heidelberg Volkskool op Facebook.

    Dit het driekunste gereën in die Skild-afdeling van die SDC Noordvaal Cup, en dit nogal deur voorspelers.

    Lees al die nuutste rugbynuus op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Hoërskool Secunda se voorryman, Rico Schoeman, het drie keer agter die doellyn gaan kuier in sy span se gemaklike sege van 48-18 oor die besoekende Hoërskool Piet Retief. Dié loskopstut was boonop die woeligheid vanself in die vastelos en het in die skrums ook sy stem dik gemaak.

    Benewens Schoeman se driekuns aan drieë, het Secunda nog ‘n verdere vyf keer agter die besoekers se doellyn gaan draai.

    Slot, Renier Combrink, en die woelige oopkantflank, Sifiso Shongwe, het ook reuse werk verrig in die loopgraafoorlogvoering voorlangs. Dit het uiteraard die agterlyn toegelaat om na hartelus te baljaar, met vernaam regtervleuel, Ryan Lottering, en heelagter, Dillon Grundeling, wat die die Pieties gereeld na lug laat gryp het.

    Piet Retief het, soos verwag, steeds bewonderenswaardige veggees aan die dag gelê en dit sou eenvoudig nie ‘n Pietie-wedstryd gewees het sonder dat linkervleuel, Vuyani Tshabalala, gaan druk het nie. Hy het sommer twee keer so gemaak om as sy span se groot uitblinker uit die stryd te tree.

    In Heidelberg, het Heidelberg Volkskool vir die tweede agtereenvolgende week 50 punte op die telbord geplaas deur vir Hoërskool Ben Vorster met 53-17 te verslaan. Vir Volkies was agsteman, Jeandré Pretorius, voor in die koor met ‘n briljante driekuns, terwyl linkervleuel, JV Badella, ‘n tweekuns behaal het.

    Die Volkies, met ‘n taamlike jong span, het voorlangs die hef in die hand gehad, met Pretorius aan die spits, en dit het vir skrumskakel, Hein Oelofse, en binnesenter, Vaughn Steynvaart, in staat gestel om die opposisie verder te kasty agterlangs.

    Vir die Buffels, het haker, Ruben Pohl, en skrumskakel, Stiaan du Rand, moedig probeer, met Pohl wat gewoeker het in die vatse los en Du Rand wat onder druk steeds goeie diens agter die skrum gelewer het.

    Puntemakers: 

    Hoërskool Secunda 48 (22) – Drieë: Rico Schoeman (3), Renier Combrink, Sifiso Hlunwane, JD van Coller, Ryan Lottering, Dillon Grundeling. Doelskoppe: Alonzo Blackenberg (4). Hoërskool Piet Retief 18 (8) – Drieë: Vuyani Tshabalala (2), Abongwe Maduna. Strafdoel: Bubele Bgubane.

    Heidelberg Volkskool 53 (31) – Drieë: Jeandré Pretorius (3), JV Badella, Henru Coetzer, Eduard Roets, Hein Oelofse, Vaughn Steynvaart. Doelskoppe: Oelofse (2), Steynvaart (2). Ben Vorster 17 (5) – Drieë: Ruben Pohl, Stiaan du Rand, Wessel Joubert. Doelskop: Shelton-Ray Primo.

    Ander spanne: 

    o.16: Piet Retief 57, Secunda 12; Ben Vorster 29, Heidelberg Volkskool 28.

    o.15: Piet Retief 31, Secunda 12; Ben Vorster 41, Heidelberg Volkskool 6.

    o.14: Piet Retief 3, Secunda 0; Ben Vorster 24, Heidelberg Volkskool 17.

  • Blignaut druk 4 keer vir Zwarries in wegholsege oor Eldos

    Blignaut druk 4 keer vir Zwarries in wegholsege oor Eldos

    FOTO: Marius Nortjé.

    Dit gebeur nie aldag dat ‘n speler vier keer agter die opposisie se doellyn gaan kuier nie. Vir ‘n voorryman om dit te vermag, is selfs raarder.

    Dit is presies hoe Hoërskool Zwartkop se haker, Regan Blignaut, Saterdag vir Hoërskool Eldoraigne gekasty het in die Zwarries se wegholsege van 59-10 in Saterdag se derby in Centurion.

    Blignaut het nie alleen vier drieë gedruk nie, maar was ook ‘n algemene uitblinker regoor die Drake se tuisveld. Daarmee het hy die pas aangegee vir sy pak om vanuit die staanspoor die oorhand voorlangs te bewerkstellig en dodelike fases op te sit.

    Dit het vir losskakel, Tilon Baron, en die Zwarries se giftige agterlyn oombliklik op die voorvoet geplaas sodat hulle, soos afrigter, David Gouws, beoog het, die Eldos kon looi agterlangs. Baron se verspreiding was uit die boonste rakke en het die nodige aanvalshoeke vir buitesenter, Luan Williams, geskep om self oor te wals vir ‘n tweekuns aan drieë.

    Dit was die Zwarries se 11de agtereenvolgende sege vanjaar en die derde keer na mekaar wat hulle meer as 50 punte op die telbord kon sit. Dit het hul totale puntestand vir 2025 opgejaag na 498, terwyl hulle slegs 143 punte in dié 11 wedstryde afgestaan het.

    Ten spyte van die oormag, het die tuisspan se flanke, Cameron Killian en Justin Meintjies, steeds daarin geslaag om uit te blink. Killian, wat ook ingestaan het as kaptein vir skrumskakel, Darren Bruwer, het weereens gewoeker en, met Meintjies, moedig probeer om die Zarries te stuit, maar helaas tevergeefs.

    Agterlangs het linkervleuel, Hanno Jacobs, ook hand opgesteek en die Eldos se beste stukkie aanvalswerk met die tuisspan se enigste drie afgerond.

    Die Zwarries kom volgende teen Hoërskool Kempton Park te staan, terwyl die Eldos na Rustenburg reis om met Bergsig Akademie swaarde te kruis.

    Puntemakers: 

    Zwartkop 59 (26) – Drieë: Regan Blignaut (4), Luan Williams (2), Ettienne van Noekerk, Tilon Baron, David van Jaarsveld. Doelskoppe: Baron (7). Eldoraigne 10 (3) – Drie: Hanno Jacobs. Doelskop: Tsepang Motsomane. Strafdoel: Motsomane.

    Ander spanne: 

    o.16: Zwartkop 24, Eldoraigne 15.

    o.15: Zwartkop 17, Eldoraigne 7.

    o.14: Zwartkop 29, Eldoraigne 3.

  • Klerksdorp breek wendroogte van twee jaar teen Liggies

    Klerksdorp breek wendroogte van twee jaar teen Liggies

    FOTO: Marius Nortjé

    Hoërskool Klerksdorp het daarin geslaag om ‘n wendroogte van twee jaar teen Hoërskool Lichtenburg te breek. Die Klerksdorpers het in nóg ‘n groot derby-stryd tussen dié spanne met 21-13 die pyp gerook.

    Dit het soos telkens vantevore ‘n titaniese stryd afgegee tussen hierdie twee spanne, met geen genade wat gegee of gevra is nie.

    Die Klerksdorpers, met ‘n punt om te bewys nadat hulle verlede naweek tuis teen bure, Hoërskool Wesvalia, vasgeval het, het egter die intensiteit gelig, boonop met ‘n groot tuisskare wat hulle luidkeels aangemoedig het.

    Voorlangs het Tiaan Koen het gewys hoekom hy onlangs as die Luiperds se Cravenweek-agsteman aangewys is. Koen het die veld volgespeel op sowel die aanval as verdediging, en was boonop ‘n staatmaker in die lynstane.

    Koen het duidelik vir vaskopstut, Hanro Nel, aangesteek, met die voorryman wat dikwels met mening vorentoe gebeur het in die vastelos. Dit het die platform geskep vanwaar die gevaarlike buitesenter, Winton Abrahams, vir die Liggies kon laat bontstaan.

    Vir die besoekers het skrumskakel, Rea Motsusi, sy ervaring op eerstespan-vlak uitgestal met geniepsige lopies en puik diens aan die agterlyn. Agsteman en kaptein, KG Legodi, en buitesenter, Oratile Sekoto, het ook hul bes probeer om die besoekers op die voorvoet te plaas, met Legodi wat oudergewoonte by die afbreekpunte uitgetroon het.

    Vir die Liggies verskuif die fokus nou na hul eerste wedstryd in die Skild-afdeling van die SDC Noordvaal Cup teen Hoërskool Piet Retief volgende naweek, terwyl die Klerksdorpers voor ‘n reuse toets te staan kom teen die besoekende Hoërskool Middelburg.

    Puntemakers: 

    Hoërskool Klerksdorp 21 (10) – Drieë: Winton Abrahams, Tyrand Masango. Doelskop: Dorian Isaacs. Strafdoele: Isaacs (3). Hoërskool Lichtenburg 13 (3) – Drieë: Rea Motsusi, Kuzi Mupudzi. Strafdoel: Luan Snyman.

    Ander spanne: 

    o.16: Klerksdorp 46, Lichtenburg 5.

    o.15: Lichtenburg 15, Klerksdorp 10.

    o.14: Klerksdorp 29, Lichtenburg 0.

  • Valia vier Beker-toetrede met Kazambo-driekuns

    Valia vier Beker-toetrede met Kazambo-driekuns

    RONAN BASTIAANSE, losskakel en kaptein van Hoërskool Waterkloof, op die aanval teen Die Hoërskool Menlopark. FOTO: Riaan de Bruyn/RDB Photography.

    Daniel Kazambo, Hoërskool Transvalia se steelkantflank, was die hoofkarakter in sy span se sprokie wat oor 70 minute op sy tuisveld in Vanderbijlpark afgespeel het, toe Valia vir Hoërskool Dr EG Jansen met 39-24 verslaan het.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Kazambo, in sy tweede seisoen van eerstespan-rugby, en reeds een van Valia se groot uitblinkers as Graad 11 in 2024, het sy gehalte Saterdag uitgestal met ‘n besonderse driekuns aan drieë.

    Die kantman moes vir elkeen van sy drie drieë ‘n tikkie briljante individuele spel optower. Vir die tweede, het hy byvoorbeeld tussen die pale oorgebars na ‘n skitterende stukkie opvolgwerk vanaf ‘n afskop.

    Kazambo was egter nie ál ‘n uitblinker vir Valia nie. Haker, Wihandré Kruger, het gewoel in die vastelos om die lewe vir die besoekers van Boksburg moeilik te maak, terwyl losskakel, Jay-Dee Maree, agterlangs die toutjies meesterlik getrek het. Hoewel nie sy beste vertoning vanaf die skopkegel nie, was Maree se taktiese skopwerk uit die boonste rakke, en het hy goed versprei om gevaarmanne soos regtervleuel, Dihan Crause, op die aanval te plaas.

    Vir die besoekers het niemand beter vertoon as heelagter, Deshean Pietersen, nie. Pietersen, welbekend in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling vir sy dodelike teenaanvalle, het die tuisspan goed besig gehou wanneer hy met die bal op loop gesit het. Voorlangs het haker en kaptein, Marco Ventura, en oopkantflank, Craig Lightfoot, moedig probeer om momentum te herwin, maar dit was oplaas tevergeefs teen Kazambo en Kie.

    In Pretoria kon Die Hoërskool Menlopark nie die Waterkloof-vloek van die laaste twee jaar breek nie, toe hulle met 19-27 die knie moes buig teen die Klofies. Dit was egter nie één van die twee spanne se beste vertoning vanjaar nie. Die kragmeting het wel sy oomblikke gehad, vernaam wanneer die Parkies se buitsenter, Leskin Samuels, die bal in die hande gekry het.

    Vir die Blou Tornado, het sy pak voorlangs die grondslag gelê. Ál drie sy drieë is deur voorspelers gedruk, met haker, Ruan Jacobs, se wendrie straks die aanskoulikste van die dag. Vaskopstut, Jedri Swart, lyk ook weer soos die Jedri van ouds en het moue opgerol in die loopgraafoorlogvoering voorlangs.

    Ethan Lourens, binnesenter van Helpmekaar Kollege, het die voortou geneem in sy span se sege van 22-13 oor Hoërskool Nelspruit in Mbombela. Lourens het, nes ‘n week vantevore teen Hoërskool Noordheuwel, die middeveld telkens aan flarde geruk en is uiteindelik as speler van die wedstryd aangewys.

    Die Nellies, as ‘n eenheid, was uiters fisiek op die verdediging. Die besoekers van Johannesburg het vir seker gevoel wanneer hulle geduik word, maar dit was helaas nie genoeg om die Bruin-golf te stuit nie.

    Puntemakers: 

    Transvalia 39 (17) – Drieë: Daniel Kazambo (3), Christiaan Liebenberg, Dihan Crause, Declan Hattingh. Doelskoppe: Jay-Dee Maree (3). Strafdoel: Maree. EG Jansen 24 (7) – Drieë: Ruan Rossouw, Deshean Pietersen, Marco Ventura, Strafdrie. Doelskop: Juan van Aswegen.

    Waterkloof 27 (3) – Drieë: Jedri Swart, Dawid Prinsloo, Ruan Jacobs. Doelskoppe: Ronan Bastiaanse (3). Strafdoele: Bastiaanse (2). Menlopark 19 (14) – Drieë: Leskin Samuels (2), Declan Pelser. Doelskoppe: Andru Keun (2).

    Helpmekaar Kollege 22 (12) – Drieë: Ethan Lourens, Shaye Lourens, Xander van Niekerk. Doelskoppe: Wian Storm (2). Strafdoel: Storm. Hoërskool Nelspruit 13 (6) – Drie: Tinyiko Silubane. Doelskop: Liam Pringle. Strafdoele: Pringle (2).

    Ander spanne: 

    o.16: EG Jansen 33, Transvalia 21; Menlopark 26, Waterkloof 24; Helpmekaar 35, Nelspruit 7.

    o.15: Transvalia 21, EG Jansen 17; Menlopark 35, Waterkloof 22; Nelspruit 14, Helpmekaar 10.

    o.14: Transvalia 24, EG Jansen 12; Helpmekaar 59, Nelspruit 7.

  • Randburg skommel span vir Gimmie-golf

    Randburg skommel span vir Gimmie-golf

    FOTO: Frans Lombard/Actionpix.

    Hierdie week se aksie in Bowl-afdeling van die SDC Noordvaal Cup bied ‘n smullekker mengsel van spanne op soek na ‘n tweede en eerste sege in die reeks.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Hoërskool Randburg, een van die vroeë onoorwonne spanne in dié afdeling, durf die verdedigende kampioen, Potchefstroom Gimnasium, tuis in Randburg aan.

    Die Gimmies, onder die nuwe “vlerk” van Regardt Kleingeld, is duidelik een van die gevaarspanne,  en, hoewel relatief jonk, het die Potchefstromers reeds gewys dat hulle honger is om die Bowl te verdedig. Hul krag lê voorlangs met agsteman, De Wet Grobler, en loskopstut, Jeandré Barends, wat uithalerspel lewer vanjaar.

    Die tuisspan het ‘n paar taktiese skuiwe aangebring, met die staatmaker-slot, Phillip Rykaart, wat flank toe skuif en Jaydon Brown wat sy plek in die nr 4-trui inneem. Agterlangs, skuif Bradley Butcher, wat tot dusver op vleuel uitgeblink het, na buitesenter.

    Merensky Landbou Akademie reis na Rustenburg waar hy vir die eerste keer in bykans ‘n maand in aksie sal wees, teen Bergsig Akademie.

    Danksy dié blaaskans is die Plasies se middeveld weer op volsterkte, met kaptein, Maritz Meintjies, wat terugkeer op binnesenter na ‘n skouerbesering, en die blitsige Jens Bezuidenhout aan sy buitekant. Meintjies is die enigste lid van Merensky wat tans in die Limpopo Blou Bulle se Cravenweek-oefengroep opgeneem is, wat sy belangrikheid vir die Plasies beklemtoon.

    Hoërskool Dinamika se warm vuurdoop in die Bowl-afdeling duur voort. Na ‘n taai stryd teen Randburg verlede naweek, waar hy in ‘n stadium vir die Randburgers met 18-0 teen die toue gehad het, verwelkom Dinamika hierdie naweek die nuweling vanaf die Skild-afdeling, Hoërskool Jeugland, in Alberton.

    Jeugland lek self wonde ná hy ‘n week vantevore teen ‘n sterk Eldoraigne met 20-27 vasgeval het.

    Die spanne: 

    Hoërskool Randburg t. Potchefstroom Gimnasium in Randburg: 

    Randburg: 15 Joshua Wiggett, 14 Eduan Bakkes, 13 Bradley Bitcher, 12 Zander Drake, 11 Vino Prince, 10 Jayden Todd, 9 Rico Vosloo, 8 Cruwin Hill, 7 Phillip Rykaart, 6 Chrisjan van Nieker, 5 Brandon Peterson, 4 Jayden Brown, 3 Kian Kritzinger, 2 Diedlof Fourie, 1 Malan van Heerden.

    Potchefstroom Gimnasium: 15 Jandré Oosthuizen, 14 Rea Moalosi, 13 Itumeleng Pheto, 12 Elrich Bosch, 11 Chris van Zijl, 10 Zandré Da Silva, 9 MJ Viljoen, 8 De Wet Grobler, 7 Reuel Potgieter, 6 Zach de Jager, 5 Rynel Rautenbach, 4 Ignu du Toit, 3 Matt Redelinghuys, 2 Kobus Crobbelaar, 1 Jeandré Barends.

    Bergsig Akademie t. Merensky Landbou Akademie in Rustenburg: 

    Bergsig Akademie: 15 Alzandro Dos Santos, 14 Keabetswe Daile, 13 Bradley Stonehouse, 12 Dan Bogopane, 11 Heinrich Krugel, 10 Carlo de Jager, 9 Paulo Dos Santos, 8 Stephan Harmse, 7 Thatano Bagwase, 6 Christiaan de Abreu, 5 Martin Pieterse, 4 Jacques Viviers, 3 Dylan Smith, 2 Marnus Dercksen, 1 Thabang Machubene.

    Merensky: 15 George Steenkamp, 14 Meschack Mohlala, 13 Jens Bezuidenhout, 12 Maritz Meintjies, 11 Henru Venter, 10 JD Boshoff, 9 Muis Koen, 8 Phuki Mpiti, 7 PG Botes, 6 Jan Pretorius, 5 Craig Walker, 4 Blessing Mathebula, 3 Otto Muller, 2 Marno Nel, 1 Carel Volschenk.

    Dinamika t. Jeugland in Alberton: 

    Dinamika: 15 Zavian Mathys, 14 Nathan Kearns, 13 Shane Serfontein, 12 Nico Greyling, 11 Caiden van der Merwe, 10 Keanu de Sousa, 9 Gustav Schutte, 8 Monré van Wyk, 7 Hendrik Albert, 6 Darren Pretorius, 5 Ruan van Tonder, 4 Branden Smit, 3 Jayden Smith, 2 Duandré Boshoff, 1 Janco Fourie.

    Jeugland: 15 Kokets Maphopa, 14 Beya Nyathi, 13 Andrew Khoza, 12 Innocent Vilakazi, 11 Thando Ngomane, 10 King Agbanzo, 9 Zaydene Adams, 8 Jaden Kleyn, 8 Jaden Kleyn, 7 Alec Mohlala, 6 Joseph Ngoma-Ngoma, 5 Nivan Duvenhage, 4 Daniel Wawina, 3 Khumo Maimane, 2 Lesego Moitse, 1 Phenyo Nkoana.

  • Liggies mik vir driekuns, Klerksdorp wil wendroogte breek

    Liggies mik vir driekuns, Klerksdorp wil wendroogte breek

    Daar is nóg ‘n derby op Hoërskool Klerksdorp se spyskaart wanneer hy vir Hoërskool Lichtenburg Saterdag tuis in Klerksdorp verwelkom.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Die Klerksdorpers moes vandeesweek terugkeer na die tekenbord ná hul nederlaag van 22-27 in die Klerksdorp-derby teen Wesvalia, hul eerste uitstappie in die Plaat-afdeling van vanjaar se SDC Noordvaal Cup.

    Die Liggies het ‘n langer blaaskans geniet en pak die tog na Klerksdorp aan met ‘n gedugte, vars span, in die hoop om vir ‘n derde agtereenvolgende keer die pyp te rook in hierdie derby. Klerksdorp se laaste oorwinning oor die Liggies was in 2022 toe hy naelskraaps met 23-22 die knoop kon deurhak.

    Soos gebruiklik word ‘n uiters fisiese stryd voorsien tussen dié twee spanne, met albei spanne wat vanjaar reeds aangedui het dat hulle bereid is om met mening in te klim, vernaam voorlangs.

    Die Liggies se kaptein, KG Legodi, wat vanjaar uithalerspel op agsteman lewer, se tweestryd met KHS se Tiaan Koen beloof om ‘n hoogtepunt te wees. Legodi kan ook staatmaak op kragtige ondersteuning van haker, Juan van Rhyn, en steelkantflank, Tiaan Booysen, wat albei verlede jaar reeds hul merk gelaat het op eerstespan-vlak.

    Agterlangs kan die vonke spat tussen die twee buitesenters, Klerksdorp se Winton Abrahams, een van sy span se grootste aanvalswapens, en Liggies se bedrieglike Oratile Sekoto.

    Die spanne: 

    Hoërskool Klerksdorp t. Hoërskool Lichtenburg om 13:40 in Klerksdorp: 

    Klerksdorp: 15 Jayden Turner, 14 Tyrand Masango, 13 Winton Abrahams, 12 Jarred van Staden, 11 Marco Symington, 10 Dorian Isaacs, 9 Rellston Wilson, 8 Tiaan Koen, 7 Marnus van der Merwe, 6 D-Jee Treurnich, 5 Juan Hills, 4 SG de Klerk, 3 Hanro Nel, 2 Brandon Botha, 1 De Wet le Roux.

    Lichtenburg: 15 Xander Blom, 14 Tehan Potgieter, 13 Oratile Sekoto, 12 WJ Liebenberg, 11 Kuzi Mupudzi, 10 Luan Snyman, 9 Rea Motsusi, 8 KG Legodi, 7 Tiaan Booysen, 6 George Bingudzu, 5 Darius Lombard, 4 LJ Kleynhans, 3 Duan Kruger, 2 Juan van Rhyn, 1 Ruben Pretorius.

  • Nuwe Volkies kan Buffels tem in Heidelberg

    Nuwe Volkies kan Buffels tem in Heidelberg

    FOTO: Heidelberg Volkskool op Facebook.

    Daar vind hierdie naweek slegs twee kragmetings plaas in die SDC Noordvaal Cup se hoogs mededingende Skild-afdeling.

    Volg al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Hoërskool Ben Vorster onderneem die lang tog van Tzaneen na Heidelberg waar hy teen ‘n oënskynlik vuurwarm, “nuwe” Heidelberg Volkskool te staan sal kom.

    ‘n Sege kan wie ook al wen stewig in die saal plaas na die eerste twee rondes van die reeks.

    Die Volkies het ‘n week vantevore vir die nuweling van die afdeling, Hoërskool Piet Retief, behoorlik met 57-15 welkom geheet.

    Hoofafrigter, Louwtjie Dalhouzie, het vir dié wedstryd ‘n aantal taktiese skuiwe aangebring en, aangesien hy daardie beginspan behou vir hierdie week, lyk dit of hy uiteindelik sy ideale span gevestig het.

    Die Buffels se fisieke stryd teen Hoërskool Die Anker, waar hulle hard moes werk vir ‘n sege van 26-12, het duidelik sy tol geëis. Dit het die afrigtingspan, gelei deur Frikkie Spangenberg, genoop om ‘n verandering aan te bring, met Gerhardt Ryan wat vir Kobus de Beer, wat ‘n kopbesering opgedoen het, as oopkantflank vervang.

    Die Buffels is voorbereid op wat beloof om nogmaals ‘n klipharde stryd in die loopgrawe voorlangs af te gee. Die Volkies se ervare vaskopstut, Dean Last, se tweestryd met die ewe ervare loskop, Thabang Nkuna, kan in sowel die skrums as vastelos vir vuurwerke sorg.

    Hoërskool Piet Retief se paadjie raak nie makliker nie. Hoewel hulle binne die grense van Mpumalanga bly, kom hulle nietemin teen ‘n omgekrapte Hoërskool Secunda, in Secunda, te staan .

    Die tuisspan, wat ietwat ongemerk te werk gegaan het vroeër vanjaar, het sy wedloop danksy agsteman en kaptein, Franko Rossouw, en senter, Amrand Underhay, met ‘n sege oor Hoërskool Hugenote van Springs afgeskop, en dié duo behoort hierdie naweek weer sleutelfigure vir Secunda te wees.

    Die Pieties se keurders het genoeg vertroue in hul span gehad om dit onveranderd te laat. Dit is waarskynlik wys met die oog op momentum bou, vernaam as nuweling in die afdeling.

    Die span van Piet Retief het reeds vanjaar aangedui dat hy enige opponent met sy giftige agterlyn kan seermaak, en sal juis daarom vir heelagter, Buhle Ngubane, sou gou as moontlik wil in spel bring om die verdediging aan te vat met sy gevaarlike dartellopies.

    Die spanne: 

    Heidelberg Volkskool t. Ben Vorster om 13:30 in Heidelberg:

    Heidelberg Volkskool: 15 Tyrone Munro, 14 Theuns van der Merwe, 13 Tristan Munro, 12 Vaughn Steynvaart, 11 Pieter Greyling, 10 Marco Botha, 9 Hein Oelofse, 8 Juandré Pretorius, 7 Klaas Venter, 6 Jaco Botha, 5 Eduard Roets, 4 Werner Grobler, 3 Dean Last, 2 Henru Coetzer, 1 Reuben Bothma.

    Ben Vorster: 15 Wessel Joubert, 14 Miguel Makubupetsi, 13 Chifu Banda, 12 Gegan Hendriks, 11 Freddie Pinto, 10 Shelton-Ray Primo, 9 Stiaan du Rand, 8 Tumi Ramohlale, 7 Lesedi Motseke, 6 Gerhardt Ryan, 5 Lourens Harmse, 4 Barend Harmse, 3 Thaba Matlou, 2 Ruben Pohl, 1 Thabang Nkuna.

    Hoërskool Secunda t. Hoërskool Piet Retief in Secunda: 

    Secunda: 15 Dillon Grundeling, 14 Ryan Lottering, 13 Armand Underhay, 12 Bismark Jansen, 11 Alberto Volschenk, 10 Alonzo Blackenberg, 9 JD van Coller, 8 Franko Rossouw, 7 Zander van der Merwe, 6 Sifiso Hlangawe, 5 Renier Combrink, 4 Mickey Jordaan, 3 MC Vosloo, 2 Reinhardt Fourie, 1 Rico Schoeman.

    Piet Retief: 15 Buhle Ngubane, 14 Spephelo Phakathi, 13 Siphosethu Sibisi, 12 Gilles van der Meulen, 11 Vuyani Tshabalala, 10 Owethu Shabalala, 9 Kyle Stock, 8 Marnus Thomas, 7 SJ van Barneveld, 6 Lethu Hlope, 5 Harold Gevers, 4 Abongwe Maduna, 3 Aza Phakathi, 2 Mario de Oliveria, 1 Sfundo Mayisa.