SSPN Test Site

Author: froberholzer

  • Middelburg weer in Rooi en Groen verdeel

    Middelburg weer in Rooi en Groen verdeel

    FOTO: Frans Lombard/Actionpix.

    Middelburg is weer in rep en roer voor Saterdag se jaarlikse derby tussen Hoër Tegniese Skool Middelburg en Hoërskool Middelburg.

    Volg al die aksie regstreeks op Supersport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Verlede jaar het die Rooi Bulle van HTS Middelburg in albei kragmetings koning gekraai, nadat hulle eers met 31-24 in die uitspeelrondes en toe met 22-17 in die halfeindronde van die SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling geseëvier het.

    Die moontlikheid bestaan dat dié twee spanne mekaar weer in ‘n uitspeelronde van dié afdeling kan raakloop.

    Die Rooi Bulle spog reeds met ‘n gemaklike sege van 44-15 oor Hoërskool Marais Viljoen in die vorige ronde, terwyl die Middies litte losgemaak het teen Afrikaanse Hoër Seunskool se derde span, die Rooiharte.

    Matthew Abbey, die Middies se losskakel, was sy span se groot uitblinker in verlede jaar se derby, maar sal graag vanjaar dinge ‘n stappie verder wil neem en hulle tot ‘n sege lei.

    Vir die Rooi Bulle behoort haker, Hanru Terblanche, die vuur voorlangs te stook in sy tweestryd met Middies se Roux Grobler, terwyl HTS se hemelbesem-slot, Janco Botha, die oorhand sal probeer verkry in die lynstane.

    In Kempton Park, wil Hoërskool Kempton Park vergoed vir sy nederlaag die week vantevore wanneer hy vir Hoërskool Marais Viljoen op die Oos-Rand welkom heet. Die span van Alberton lek ook wonde, maar het vroeër vanjaar gewys dat hy oor die vermoë beskik om te herlaai, en dan kan hy gevaarlik wees.

    Rio Tshimbalanga, ‘n sterk aanspraakmaker as agsteman vir die Leeus se Cravenweekspan, sal oudergewoonte die pas aangee vir Marais Viljoen, maar hy kan taai teenstand verwag van Kempies se woelwater-flank, Marco van der Walt.

    Ligbron Akademie durf die tog van 373 km aan na Klerksdorp, waar hy teen Hoërskool Wesvalia te staan kom. Die Wessies behoort oor te loop van selfvertroue nadat hulle verlede naweek vir die tweede keer vanjaar met Hoërskool Klerksdorp afgereken het.

    Die Liggies, gekwes na ‘n nederlaag van 15-59 teen Hoërskool Zwartkop, het egter ‘n punt om te bewys en hul gevaarlike duo bestaande uit Neo Zwane (regtervleuel) en Siyanda Dennison (buitesenter) kan met die nodige voorvoetbal vir Wessies se agterlyn heelwat hoofbrekens besorg.

    Die spanne: 

    HTS Middelburg t. Hoërskool Middelburg om 14:30 in Middelburg: 

    HTS Middelburg (moontlik): 15 WJ Enslin, 14 Kwanele Mkhize, 13 Jacques Greyling, 12 Tercius Bezuidenhout, 11 CJ Muller, 10 Nathan Jansen van Vuuren, 9 Reece Botha, 8 Kayden Wessels, 7 Regard Blake, 6 Dewan Coetzee, 5 Janco Aucamp, 4 Ethan Kock, 3 Marinus Oberholzer, 2 Hanru Terblanche, 1 Janco Botha.

    Hoërskool Middelburg: 15 Katlego Baloyi, 14 Kefilwe Phamotse, 13 Jaco Truter, 12 Lingelo Maseko, 11 Lesego Rakale, 10 Matthew Abbey, 9 Keabetswe Nkgadima, 8 Hencoe Jane van Rensburg, 7 Wihan Jordaan, 6 CW Hanekom, 5 Jabu Mathebula, 4 Khensani Buthelezi, 3 Dewald du Toit, 2 Roux Grobler, 1 Carlo Joubert.

    Hoërskool Kempton Park t. Marais Viljoen om 12:30 in Kempton Park: 

    Kempton Park: 15 Ben Steyn, 14 Ethan botha, 13 Wian Riekert, 12 Jethro Williams, 11 Ettienne Stroebel, 10 Stian de Villiers, 9 Ferdi Smith, 8 Ruan Mostert, 7 Marco van der Walt, 6 Matthew Vermaak, 5 Luca du Plooy, 4 Louis Mouton, 3 Dihan Keeve, 2 Matthew Swannevelder, 1 Piet van den Heever.

    Marais Viljoen: 15 Raynhardt Kruger, 14 Cayden Scheepers, 13 Juan van den Heever, 12 Jonno Morkol, 11 Kabelo Tlhoaele, 10 Claude do Cotto, 9 Ethan Wiedeman, 8 Rio Tshimbalanga, 7 Munga Mwengehya, 6 Lloyd Shoko-Schenck, 5 Dean Scheepers, 4 Jermaine Crause, 3 Sifiso Shongwe, 2 Ondisa Njili, 1 Juan Cooper.

    Wesvalia t. Ligbron Akademie om 12:30 in Klerksdorp: 

    Wesvalia: 15 Henco Greyling, 14 Martin Bierman, 13 Jeandré Snyman, 12 Wian du Preez, 11 Wilson Letholi, 10 Eduard Dreyer, 9 Barry Niemand, 8 Franco Dumond, 7 Tiaan de Kock, 6 Quewen Fourie, 5 JP Hatting, 4 Joshua Pieterse, 3 Ignus Nel, 2 Fanie Linde, 1 Ulrigh du Preez.

    Ligbron Akademie (moontlik): 15 Bandile Thanjekwayo, 14 Neo Zwane, 13 Siyanda Dennison, 12 Lethi Ngwenya, 11 Ndumiso Dlamini, 10 Eben Degenaar, 9 Renier van Staden, 8 Janco Claasen, 7 Jurgens Bezuidenhout, 6 Tiaan Botha, 5 Ian Booysen, 4 Henco Scheepers, 3 Devan Scheepers, 2 Regard Janse van Rensburg, 1 WP Human.

  • Klofies, Parkies kan weer rillerstryd afgee in Pretoria

    Klofies, Parkies kan weer rillerstryd afgee in Pretoria

    LESKIN SAMUELS, Die Hoërskool Menlopark se gevaarlike buitesenter, op die aanval in die NWU Sportreeks se eindstryd. FOTO: Frans Lombard/Actionpix.

    Slegs 36 dae nadat hul vir die eerste keer vanjaar swaarde gekruis het, kom Hoërskool Waterkloof en Die Hoërskool Menlopark vir ‘n tweede keer in 2025 teen mekaar te staan by Klofies.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)

    Die vorige kragmeting tussen die Klofies en Parkies op die tuiste van Hoërskool Dr EG Jansen in April, het ‘n wipplankstryd afgegee wat uiteindelik met 23-23 gelykop geëindig het.

    Dit was óók die naaste wat die Parkies vanjaar aan ‘n nederlaag gekom het. As een van die gunstelinge in die Beker-afdeling van die SDC Noordvaal Cup, is die gevestigde span van Menlopark steeds onoorwonne in 2025 en betree hy Saterdag se stryd weer met ‘n onveranderde span.

    Die Klofies, daarenteen, is tot groot verbasing steeds segeloos in vanjaar se reeks, na nederlae teen Hoërskool Nelspruit (24-31) en Hoërskool Garsfontein (19-53). Dit maak hulle egter uiters gevaarlik, vernaam terug op hul tuisveld.

    Die Klofies se afrigtingspan het slegs een verandering aan die span aangebring, met Meyer Pretorius wat op buitesenter uitdraf in die plek van Danré Tustin. Meyer se insluiting is waarskynlik vanweë sy soliede verdediging en is straks presies wat nodig is om Parkies se gevaarlike Leskin Samuels te neutraliseer.

    In Mbombela wag ‘n gekweste Hoërskool Nelspruit op Helpmekaar Kollege. Die Rhinos het met 7-40 die onderspit gedelf teen die Parkies ‘n week vantevore, terwyl die Helpies verras het met ‘n sege van 36-0 oor Hoërskool Noordheuwel .

    Helpmekaar besef nietemin dat die besoek aan Mpumalanga geensins maklik sal wees nie. Dit is welbekend dat die Nellies ‘n gedaanteverwisseling ondergaan in hul agterplaas is.

    Daar kan uitgesien word na vuurwerke tussen die opponerende vleuels, Tinyiko Silubane, en Xander van Niekerk, wat albei uitstekend op dreef is. Voorlangs behoort die agstemanne, Lewelyn Vermaak (Helpmekaar) en Vaughn van Zyl (Nelspruit), mekaar goed op te keil.

    Hoërskool Transvalia sal op sy uitstekende begin as nuweling in die afdeling wil voortbou wanneer hy vir Hoërskool Dr EG Jansen in Vanderbijlpark verwelkom. Valia het sy reeks met ‘n naelbytsege van 20-13 oor Hoërskool Rustenburg afgeskop. Die Arende vlieg egter self hoog ná hulle vir ‘n derde agtereenvolgende keer met Hoërskool Monument (39-31) afgereken het.

    Die spanne: 

    Waterkloof t. Menlopark om 12:30 in Pretoria: 

    Waterkloof: 15 Tiaan Posthumus, 14 Gustav Mienie, 13 Meyer Pretorius, 12 Dylan Botha, Jaiden Badenhorst, 10 Ronan Bastiaanse, 9 Zack Jordaan, 8 Marko Kok, 7 Dawid Prinsloo, 6 Divan Botha, 5 Heinrich Naude, 4 Leander van der Westhuizen, 3 Jedri Swart, 2 Ruan Jacobs, 1 Alexander Elliott.

    Menlopark: 15 Reinhardt Hebrst, 14 Bladen Peterson, 13 Leskin Samuels, 12 Dylan Stumke, 11 Juan Joubert, 10 Andru Keun, 9 Gustav Scäffner, 8 JN van Wyk, 7 Tiaan Boshoff, 6 Nathen du Plessis, 5 Keagen Pretorius, 4 Xander Roets, 3 Ruvan van Aardt, 2 Declan Pelser, 1 Mattheus Prinsloo.

    Hoërskool Nelspruit t. Helpmekaar Kollege om 12:20 in Mbombela: 

    Nelspruit (moontlik): 15 Jean Erasmus, 14 Jordan Pretorius, 13 Ruben Greeff, 12 Rian Botha, 11 Tinyiko Silubane, 10 John Duncan, 9 Liam Pringle, 8 Vaughn van Zyl, 7 Vian Louw, 6 Werno Heyns, 5 André Smit, 4 Ethan Esterhuizen, 3 Gert Cloete, 2 D’Angelo Roberts, 1 Lindani Ndlela.

    Helpmekaar Kollege: 15 Ty Ax, 14 Xander van Niekerk, 13 Clinton Cloete, 12 Ethan Lourens, 11 Francois Tonkin, 10 Wian Storm, 9 Shaye Lourens, 8 Lewelyn Vermaak, 7 Zaiden Krige, 6 Sydney Nicholson, 5 Eugen de Lange, 4 Diandro Botha, 3 Dylan Engelbrecht, 2 Keanan Combrink, 1 Liam Devenier.

    Transvalia t. EG Jansen om 12:30 in Vanderbijlpark: 

    Transvalia: 15 Lorenzo Flynn, 14 Dihan Crause, 13 Danté Oosthuizen, 12 Declan Hattingh, 11 Tumi Moloi, 10 Jay-Dee Maree, 9 Johan Smit, 8 Wynand Stolz, 7 Daniel Kazambo, 6 Juan Bischoff, 5 Christiaan Liebenberg, 4 Kyle Maartens, 3 Damian van Heerden, 2 Wihandré Kruger, 1 Vusi Morathi.

    EG Jansen: 15 Deshean Pietersen, 14 Otlatleng Zulu, 13 Christopher Combrink, 12 Nathan Delport, 11 Jordan van der Westhuizen, 10 Juan van Aswegen, 9 Joseph Diesel, 8 Slade Mowbray, 7 Dian Botha, 6 Craig Lightfoot, 5 Breyton Kruger, 4 Jacques van Tonder, 3 Deveraux Wideman, 2 Marco ventura, 1 Ruan Rossouw.

  • Groot opgewondenheid in Centurion oor jaarlikse derby

    Groot opgewondenheid in Centurion oor jaarlikse derby

    Die Eldos op die aanval in verlede jaar se derby. FOTO: Brian Callaghan.

    Hoërskool Zwartkop is oorgehaal om dit Saterdag twee uit twee te maak teen Hoërskool Eldoraigne op Eldos se tuisveld.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Dié derby het oor die jare ‘n taamlike armdruk tussen die Zwarries en Drake afgegee, met ‘n paar onvergeetlike oomblikke, soos in 2012, toe die Zwarries ‘n droogte van vyf jaar teen die Eldos beëindig het, met ‘n strafdoel in die doodsnikke. Die Drake het egter net die volgende jaar teruggeslaan met ‘n wegholsege van 85-0.

    Die mededinging tussen die twee spanne van Centurion was die afgelope paar jaar meer gelykop. Zwartkop het die laaste hou geland deur verlede jaar, op tuisbodem, met 22-16 te seëvier, maar in 2023 het die Drake met 23-19 die pyp gerook. Dit is egter geen geheim dat Zwarries hierdie Saterdag se groot stryd as gunsteling betree nie.

    Die besoekers se jong span, bestaande uit 11 Graad 11’s en vier Matrieks, geniet tot dusver nog ‘n oorwonne seisoen, terwyl die Eldos, alhoewel teen sterker opposisie, gemengde welslae behaal het. Hulle behoort nietemin steeds, volgens tendens, moeilik tuis getem word, soos wat die geval onlangs was teen Hoërskool Jeugland in die SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling.

    Hulle moes verwoed terugveg met 22 punte in die laaste 10 minute om die span van Kempton Park te troef, maar dié sege het teen ‘n prys gekom. Die beseringspook het by die Drake kom draai, met skrumskakel en kaptein, Darren Bruwer, wat onbeskikbaar is vir die stryd teen Zwartkop.

    Binnesenter, Kevin Earle, is ook buite aksie en word deur Ethan Beyers vervang, met Damian Elferink wat van losskakel na skrumskakel skuif in die plek van Bruwer en Tsepang Motsomane wat Elferink se plek in die nr 10-trui inneem.

    “Hoewel ons ‘n paar beserings in sleutelposisies opgedoen het, bestaan daar geen twyfel dat dié span steeds oor die nodige skietgoed beskik om die wa deur die drif te trek nie,” het Deon Anderson, die baasbrein agter die Eldos se agterlyn, gesê.

    “Die terugvegpoging teen Jeugland verlede naweek het die selfvetroue opgejaag. Boonop speel ons tuis, wat ‘n rapsie ekstra motivering bied.”

    Zwartkop, daarenteen, verwelkom twee van sy groot kanonne terug. Die span se twee voorste driedrukkers, Luan Issacks, en Zulu Mona, keer op net die regte tyd terug, maar albei speel vanaf die plaasvervangerbank.

    David Gouws, die Zwarries se hoofafriger, het stil en beskeie gesê dat hy nóg ‘n titaniese stryd verwag.

    “Enige derby tussen ons twee skole is taai, en boonop geniet hulle tuisveldvoordeel. Maar, soos almal weet, die rugbybal is nie rond nie en kan enige kant toe spring.

    “Ons fokus daarop om so vinnig as moontlik in struktuur te kom en fases af te dwing. Hierdie is ‘n jong span, maar het reeds gewys dat hulle, wanneer dit saak maak, hul beste kan lewer.”

    Indien die Eldos kan voortbou op die laaste 10 minute van verlede week én die Zwarries hul aanskoulike hardlooprugby kan voortsit, kan Centurion hom regskuif vir 70 minute van aksiebelaaide vermaak.

    Die spanne: 

    Eldoraigne t. Zwartkop om 13:45 in Centurion: 

    Eldoraigne: 15 Manie Buitendag, 14 Tristan Lee, 13 Hugo Theron, 12 Ethan Beyers, 11 Hanno Jacobs, 10 Tsepang Motsomane, 9 Damian Elferink, 8 Esdee Kotze, 7 Justin Meintjies, 6 Cameron Killian, 5 MC Scheepers, 4 Juawan Pieterse, 3 Chase Wessels, 2 Jean de Villiers, 1 Wian White.

    Zwartkop: 15 Shayden Botha, 14 André Marx, 13 Luan Williams, 12 David van Jaarsveld, 11 Stiaan Botha, 10 Tilon Baron, 9 Luan Janse van Rensburg, 8 Wihan Roux, 7 Luan Wepener, 6 Brian Smith, 5 Jethro le Roux, 4 Ettienne van Niekerk, 3 AJ Hendriks, 2 Regan Blignaut, 1 Christiaan de Vries.

    Ander spanne: 

    12:10 – o.16
    11:00 – Tweede span
    10:00 – o.15
    09:00 – Derde span
    08:00 – o.14.

  • Polokwane kom tot stilstand vir jaarlikse Bosveld Interskole-stryd

    Polokwane kom tot stilstand vir jaarlikse Bosveld Interskole-stryd

    FOTO: Hoërskool Pietersburg op Facebook.

    Die Bosveld Interskole, voorheen die Bosveld Intervarsity, is sedert 1977 ‘n rooiletterdag op rugbyliefhebbers in die hoofstad van Limpopo, Polokwane, se rugbykalender.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com

    Dit is ‘n jaarlikse instelling wat die ganse stad tot stilstand bring en vanjaar se groot stryd tussen Hoërskool Pietersburg en Hoër Tegniese Skool Tom Naudé behoort Saterdag, op die Pieties se veld, weer ‘n aksiebelaaide skouspel op te lewer.

    Sedert die hervatting van dié dag, in 2016, het Pieties die botoon gevoer. Die afgelope twee jaar alleen het Saterdag se tuisspan met 54-3 (2024) en 43-7 (2023) die septer geswaai.

    Vroeër jare het die Tiere egter die hef in die hand gehad. Van 1977 tot 1997 het die spanne 27 keer ontmoet, met Tom Naudé wat 14 keer baas was teenoor die Pieties se 11 oorwinnings, terwyl twee kragmetings gelykop geëindig het.

    Die Tiere is vanjaar weer netjies op dreef met ‘n onlangse oorwinning van 29-15 oor Hoërskool Ellisras, en behoort oorgehaal te wees om Saterdag die bordjies oplaas te verhang. Dit sal nietemin steeds ‘n tamaaie poging verg om vir PHS op sy tuisveld te troef.

    Die Pieties het oor die jare gewys dat hulle ‘n perd van ‘n ander kleur is met die tuisskare wat hulle luidkeels aanspoor en hulle het onlangs opnuut lekker momentum gebou. Hulle spog nie verniet met nege spelers in die Limpopo Blou Bulle se Cravenweekgroep nie.

    Heelagter, Ryno Mienie, is een van dié nege en hou groot gevaar in vir die Tiere. Hy is nie alleen goed op dreef met die skopstewel nie, maar kan ook die verdediging aan flarde ruk as hy op loop sit met die bal. Mienie en Tom Naudé se Tshenello Nwkana behoort altwee vir opwindende hardlooprugby te sorg.

    Nwkana, wat in die Limpopo Bulle se oefengroep ingesluit is as heelagter, sal Saterdag egter op loskakel vir die Tiere diens doen en het die taak om vir buitsenter, Fortune Sehlabane, op die voervoet te plaas in sy tweestryd in die middeveld met Siya Mahlangu.

    Hoewel albei spanne oor gevaarlike agterlyne beskik, sal die platform steeds voor gelê moet word. In die opsig, sal PHS hewig staatmaak op sy woelige haker, Ziahn Lombaard, wat met sy Tommies-eweknie, Khatu Sikhetha, die pap dik sal aanmaak. Agsteman, Ludke Pienaar, en vaskopstut, Stephan Jansen van Rensburg, is ook sleutelfigure in die Pieties se pak.

    Die spanne: 

    Hoërskool Pietersburg t. Hoër Tegniese Skool Tom Naudé om 13:45 in Polokwane: 

    Pietersburg: 15 Ryno Mienie, 14 Armand Venter, 13 Basson Wolmarans, 12 Siya Mahlangu, 11 Keanu Potgieter, 10 Juan Randall, 9 Celliers van der Merwe, 9 Ludke Pienaar, 7 Juan Jansen van Vuuren, 6 FC Smith, 5 Henco Venter, 4 Brent Vorster, 3 Stephan Jansen van Rensburg, 2 Ziahn Lombaard, 1 Krissie Swanepoel.

    Tom Naudé: 15 Mokibelo Matlhabaseletsi, 14 Lebogang Aphane, 13 Fortune Sehlabane, 12 Mahlatse Kekana, 11 Elvis Monokoane, 10 Tshenello Nkwana, 9 Lu-hann Pieterse, 8 Druan Venter, 7 Jayden Viljoen, 6 Kamogelo Molepo, 5 Tiaan Bezuidenhout, 4 Dean Viljoen, 3 Tiaan Russouw, 2 Khatu Sikhetha, 1 Jayden Lewis.

    Ander spanne: 

    11:10 – o.16
    10:00 – Tweede span
    09:00 – o.15
    08:00 – o.14.

  • Grey High appoints Grant Morgan as new Head of Cricket

    Grey High appoints Grant Morgan as new Head of Cricket

    Grant Morgan
    Photo: Darren Stewart/Gallo Images.

    Grey High School has appointed old boy and former first-class coach, Grant Morgan, as its new Head of Cricket.

    Morgan, who has established a strong reputation for excellence within coaching circles through his work with teams like The Dolphins and KwaZulu-Natal Inland’s Tuskers, will return to the Windy City to share his considerable experience with the young talent gracing the grounds of one of Gqeberha’s oldest and most prestigious cricketing institutions.

    In addition to his extensive coaching credentials, the fiery and passionate Morgan was once regarded as one of South Africa’s most promising young wicketkeepers.

    During his time at Grey High, he captained both the First XI and the Eastern Province Schools team. He went on to represent the South African Schools side, also serving as its vice-captain.

    After finishing school, Morgan earned over 50 first-class caps before transitioning into coaching.

    His impressive coaching résumé includes roles with, among others, the South Africa u19 side, the Royal Challengers Bangalore, in the Indian Premier League, and a stint with the Scotland national team. Morgan was also involved with Grey High’s neighbours, Pearson High School, in 2022.

    “Grey High School is proud to welcome back Old Grey, Grant Morgan, as the new Head of Cricket. A distinguished cricketer and coach, Mr Morgan brings a wealth of experience and a deep-rooted passion for the game to his alma mater,” a press release from Grey High read.

    Morgan, who departed the Tuskers during their inaugural and only season in Cricket South Africa’s Division One competition, returns from Scotland, where he has been based for the past two years. He is certain to receive a warm homecoming upon his return to the place where his cricketing journey began.

    Morgan takes over from Deon Kruis, who has moved north to join Cornwall Hill College, in Pretoria.

  • Drake spuug vuur tot die bittereinde om Jeugland te troef

    Drake spuug vuur tot die bittereinde om Jeugland te troef

    HUGO THERON, linkervleuel van Hoërskool Eldoraigne, duik oor vir die wendrie teen Hoërskool Jeugland in Saterdag se eerste ronde van die SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling. FOTO: Brian Callaghan.

    Nie eens ‘n agterstand van 15 punte, met skaars 10 minute oor, was genoeg om die vuur van Hoërskool Eldoraigne se Drake te blus nie.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.superpsportschools.com) 

    Die Eldos het Saterdagmiddag tuis in Centurion verbete teruggeveg met 25 punte in slegs sewe minute om dié agterstand om te swaai in ‘n sege van 27-20 oor Hoërskool Jeugland in die Bowl-afdeling van die SDC Noordvaal Cup.

    Die Drake se staatmakerflank, Cameron Killian, was sy vurige self in die los en goud werd vir die tuisspan by die afbreekpunte. Dit het die vuur onder sy lostrio-kollegas, Justyn Meintjies en Esdee Kotze, aangesteek, met elkeen van die drietal wat agter die doellyn gaan draai het.

    Uiteindelik was dit linkervleuel, Hugo Theron, wat die kersie op die koek aangesteek het deur, met speeltyd bykans verstreke, oor te duik vir die wendrie.

    Andrew Khoza, buitesenter van Kempton Park, was die besoekers se groot gevaarman. Hy het die Eldos se middeveld deurentyd beproef met skerp aanvalslyne en het sierlik tussen die pale oorgeduik vir een van die Kempies se twee drieë.

    Potchefstroom Volkskool, een van vanjaar se sterk aanspraakmakers op die Bowl-titel, het tuis sy veldtog gesaghebbend afgeskop teen Bergsig Akademie. ‘n Puik spanpoging het op ‘n oortuigende sege van 40-28 uitgeloop en, soos wat die geval was in die vorige ontmoeting tussen dié twee spanne, was dit die tuisspan se Lethabo Riet (regtervleuel) en Arno Nel (heelagter) wat Bergsig laat bontstaan het agterlangs.

    Riet het by twee geleenthede uitstaande stukkies aanvalswerk afgerond, terwyl Nel vir ‘n tweede keer vanjaar agter die Arende se doellyn gaan kuier het. Vir die Arende het steelkantflank, Thatano Bagwase, sy lyf op die spel geplaas in sowel die vastelos as op die verdediging.

    Die verdedigende kampioen, Potchefstroom Gimnasium, het in die eerste ronde nie op hom laat wag nie en gemaklik met 47-19 met die nuweling, Hoërskool Ermelo, afgereken.

    Agsteman, De Wet Grobler, was weer die uitblinker onder die Gimmie-voorspelers, met loskopstut, Jeandré Barends, kort op sy hakke. Thabo Mokwena het nietemin uitgeblink op Ermelo se linkervleuel met sy bedrieglike vaart en aanvalsvernuf wat uiteindelik tot ‘n tweekuns aan drieë gelei het.

    Hoërskool Randburg moes self ‘n agterstand van 18 punte uitwis om vir Hoërskool Dinamika met 29-18 te troef.

    Die Randburgers se Graad 11-slot, Phillip Rykaart, was aan die spits van die terugvegpoging met nogmaals ‘n blink vertoning met die bal in hand en is met ‘n tweekuns beloon. Heelagter, Josh Wiggett, en linkervleuel, Vino Prince, het ook dikwels hul slag op die aanval uitgestal.

    Puntemakers: 

    Eldoraigne 27 (5) – Drieë: Justyn Meintjies, Cameron Killian, Esdee Kotze, Hugo Theron. Doelskop: Shepang Motsomane. Strafdoel: Motsomane. Jeugland 20 (13) – Drieë: Levino Domingo, Andrew Khoza. Doelskoppe: Koketso Maphopa (2). Strafdoele: Mophopa (2).

    Potchefstroom Volkskool 40 (23) – Drieë: Lethabo Riet (2), Arno Nel, Hennie Pretorius, Koan Smit. Doelskoppe: Juhan Redelinghuys (3). Strafdoele: Geldenhuys (3). Bergsig Akademie 28 (13) – Drieë: Thatano Bagwase, Alzandro dos Santos, Keabetswe Dale, Carlo de Jager. Doelskop: Bradley Stonehouse. Strafdoel: Stonehouse.

    Potchefstroom Gimnasium 47 (19) – TBC. Hoërskool Ermelo 19 (7) – Drieë: Thabo Makwena (2), Janco Kleynhans. Doelskoppe; Willie Pretorius (2).

    Hoërskool Randburg 29 – Drieë: Phillip Rykaart (2), Victor van Blerk, Vino Prince, Josh Wiggett. Doelskoppe: Wiggett (2). Dinamika 18 TBC.

    Ander spanne: 

    o.16: Eldoraigne 41, Jeugland 0; Bergsig Akademie 14, Potchefstroom Volkskool 13; Ermelo 34, Potchefstroom Gimnasium 21; Randburg 20, Dinamika 17.

    o.15: Eldoraigne 33, Jeugland 21; Bergsig Akademie 19, Potchefstroom Volkskool 14; Ermelo 22, Potchefstroom Gimnasium 17; Dinamika 26, Randburg 15.

    o.14: Jeugland 47, Eldoraigne 3; Potchefstroom Volkskool 13, Bergsig Akdemie 7; Ermelo 29, Potchefstroom Gimnasium 26; Randburg 16, Dinamika 16.

  • Schoeman skitter in Monties se terugvegpoging teen Pieties

    Schoeman skitter in Monties se terugvegpoging teen Pieties

    FOTO: Hoërskool Secunda Fotoklub op Facebook.

    Hoërskool Montana het hul rekening in die Skild-afdeling van die Noordvaal Cup seëvierend afgeskop danksy ‘n skitterende terugvegpoging Saterdag in Pretoria.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Die Monties het ‘n rustydagterstand van 17-22 uitgewis met ‘n uitstaande vertoning in die tweede helfte om uiteindelik met 36-25 teen Hoërskool Pietersburg as oorwinnaars uit die stryd te tree.

    Die Monties, óók bekend as die Wit Bulle, se Sam Schoeman (linkervleuel) het oorgeduik vir twee van sy span se vyf drieë en sy ervaring, dis Schoeman se tweede jaar van eerstespan-rugby, het sterk deurgekom. Voorlangs het die werkesel-slot, Kyle Bronkhorst, vir die besoekers deurgaans besig gehou met sy inklimspel.

    Alhoewel die Pieties met ‘n nederlaag huiswaarts moes keer, het hulle steeds beïndruk teen ‘n goed afgerigte Montana-span, en kan kan hulle heelwat selfvertroue uit die vertoning put vir die pad vorentoe.

    Ryno Mienie gaan van krag tot krag op heelagter en hy was persoonlik verantwoordelik vir 20 van sy span se 25 punte. Nes Schoeman, het Mienie ook tweekeer agter die doellyn gaan kuier en ook met twee doelskoppe en twee strafdoele geslaag.

    Hoërskool Secunda se agsteman, Franko Rossouw, het van voor gelei in sy span se sege van 39-13 oor Hoërskool Hugenote van Springs, in Secunda. Rossouw het sy aanvalsvernuf benadruk met ‘n tweekuns aan drieë en terselftertyd ‘n platform help skep vir die gevaarlike senter-kombinasie van Bismark Jansen en Armand Underhay, wat ook twee keer gedruk het, om hul vaardighede uit te stal.

    Rossouw en oopkanflank, Sifiso Hlungwane, is albei nog sterk aanspraakmakers vir plekke in die Pumas se Cravenweekspan.

    Hoërskool Ben Vorster het in Tzaneen die bordjies teen Hoërskool Die Anker verhang deur met 26-12 oor die besoekers van Brakpan koning te kraai. Die kragmeting was in gebroke spel beslis, waar die Buffels straks op sy gevaarlikste is, en dit pas vir buitesenter, Tumi Ramohlale, wat nie net soos ‘n wafferse losvoorspeler die bal jag nie, maar ook uitblink op die aanval.

    Hoërskool Piet Retief het ‘n koue verwelkoming in die Skild-afdeling ontvang, met Heidelberg Volkskool wat hom met 57-15 slae gegee het. Haker, Henru Coetzer, was vernietigend en het met die Skild-afdeling se eerste driekuns aan drieë vorendag gekom. Agterlangs het linkervleuel, Pieter Greyling, ook die besoekers al hul dae gegee.

    Puntemakers: 

    Montana 36 (17) – Drieë: Sam Schoeman (2), Braam Schutte, Kyle Bronkhorst, Dixie Sethuga. Doelskoppe: Rubel Bester (4). Strafdoel: Bester. Hoërskool Pietersburg 25 (22) – Drieë: Ryno Minie (2), Ziahn Lombard. Doelskoppe: Mienie (2). Strafdoele: Mienie (2).

    Hoërskool Secunda 39 (24) – Drieë: Franko Rossouw (2), Armand Underhay (2), Sifiso Hlungwane, Bismark Jansen. Doelskoppe: Alonzo Blackenberg (3). Strafdoel: Blackenberg. Hugenote (Springs) 12 (8) – Drie: Luan Pretorius. Doelskop: George Lucas. Strafdoel: Lucas.

    Ben Vorster 26 – Drieë: Tumi Ramohlale, Kobus de Beer, Chifu Banda. Doelskop: Shelton-Ray Primo. Strafdoele: Primo (3). Die Anker 12. 

    Heidelberg Volkskool 57 (31) – Drieë: Henru Coetzer (3), Pieter Greyling, Dean Last, Theuns van der Merwe, Hein Oelofse. Doelskoppe: Marco Botha (6). Hoërskool Piet Retief 15 (8) – Drieë: Kyle Stock, Vuyani Tshabalala. Doelskop: Olwethu Shabalala. Strafdoel: Shabalala.

    Ander spanne: 

    o.16: Montana 15, Pietersburg 14; Hugenote (Springs) 19, Secunda 17; Ben Vorster 36, Die Anker 14; Piet Retief 31, Heidelberg Volkskool 21.

    o.15: Pietersburg 20, Montana 19; Secunda 46, Hugenote (Springs) 22; Ben Vorster 36, Die Anker 3; Piet Retief 27, Heidelberg Volkskool 10.

    o.14: Montana 24, Pietersburg 7; Secunda 12, hugenot (Springs) 0; Ben Vorster 54, Die Anker 0; Heidelberg Volkskool 13, Piet Retief 7.

  • Wessies wéér baas in Klerksdorp, Kempton laat Oosies skrik

    Wessies wéér baas in Klerksdorp, Kempton laat Oosies skrik

    FOTO: Marius Nortjé.

    Hoërskool Wesvalia het dit Saterdag die tweede agtereenvolgende keer vir Hoërskool Klerksdorp die loef afgesteek het, maar, teen die die trant, kan dié twee spanne mekaar moontlik later vanjaar weer raakloop in die uitkloprondes van die SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Hierdie slag was die Wessies voor ‘n groot skare op Klerksdorp se tuisveld met 27-22 baas, nadat hulle bietjie meer as ‘n maand gelede met 16-12 die pyp gerook het teen hul buurspan.

    Die pas is oudergewoonte deur die Wessies se staatmaker in die nr 8-trui, Franco Dumond, aangegee, wat saam met loskopstut, Ulrigh du Preez, die besoekers deurentyd op die voorvoet gehou het. Dit het vir die skakelpaar, Barry Niemand en Eduard Dreyer, die baan geweg om hul agterlyn los te laat.

    Niemand het sy beste vertoning van die jaar opgedis en ‘n aandeel in meeste van sy span se drie drieë gehad, terwyl Dreyer, op ‘n winderige dag, met ál vyf sy pogings pale toe in die kol was. Dit was op die einde van die dag deurslaggewend.

    Abrie Esterhuizen, die tuisspan se slot, was KHS se beste speler op die dag met sy fisieke dryfspel en is met een van sy span se drie drieë beloon. Agsteman, Tiaan Koen, het ook sy pond vleis tafel toe gebring en gereeld oor die voordeellyn gebars.

    Hoërskool Kempton Park het so hittete ‘n haas uit die hoed getrek teen Hoërskool Oos-Moot, met ‘n verbete terugvegpoging in die tweede helfte. Die Oosies, wat teen rustyd met 24-7 voorgeloop het, het egter vasgebyt om oplaas met 29-26 as oorwinnaars uit die stryd te tree, vir hul tweede sege in vanjaar se reeks. Skrumskakel, David Joubert, het nogmaals goed vertoon, maar dit was die Oosies se pak wat die grondslag gelê het.

    Swak disipline het die tuisspan egter gekortwiek, met dié dat hy vir ‘n groot gedeelte van die tweede skof met minder as 15 man moes klaarkom vanweë vier geel kaarte. Dit het vir steelkantflank, Marko van der Walt, en die Kempton-pak aangevuur om die momentum te swaai, maar dit was nét nie genoeg om ‘n sege in die Moot op hul kerfstok te plaas nie.

    Die indrukwekkende Hoërskool Zwartkop het nóg ‘n aanskoulike vertoning gelewer om vir Ligbron Akademie, op sy tuisveld in Ermelo, met 59-15 pakslae te gee. Die Zwarries het nie minder nie as agt keer agter die tuisspan se doellyn gaan kuier.

    Ses van die agt drieë is deur slegs drie spelers gedruk, met buitesenter, Luan Williams, woelige oopkantflank, Brian Smith, en haker, Reagan Blignaut, wat elk ‘n tweekuns aangeteken het. Die Zwarries het hul onderskei as een van die Plaat-afdeling se gevaarspanne, vernaam wanneer hulle in ‘n hardloopbui kom.

    Hoër Tegniese Skool Middelburg het gemaklik met 44-15 oor Hoërskool Marais Viljoen geseëvier. Die Rooi Bulle was van meet af aan in beheer en het vir die tuisspan geen skiet gegee nie. Dit was ‘n goeie uitstappie vir die span van Middelburg na ‘n langerige onderbreking en die vroeë bonuspuntsege kan ‘n rol speel in sy titelverdediging.

    Dit HTS-pak het verál indrukwekkend vertoon, met haker, Hanru Terblanche, en die twee losvoorspelers, Regardt Blake en Kayden Wessels, wat hand opgesteek en die Rooi Bulle se diepte in vanjaar se senior groep beklemtoon het.

    Puntemakers: 

    Wesvalia 27 (7) – Drieë: Wian du Preez, Martin Bierman, Henco Greyling. Doelskoppe: Eduard Dreyer (3). Strafdoele: Dreyer (2). Hoërskool Klerksdorp 22 (12) – Drieë: Abrie Esterhuizen, D-Jee Treutnich, Jarred van Staden. Doelskoppe: Brendin Mathyse (2). Strafdoel: Mathyse.

    Oos-Moot 29 (24) – Drieë: Clayton du Bruyn, Brian Jacobs, Divan du Preez, David Joubert, Drew Williams. Conversions: Joubert (2). Hoërskool Kempton Park 26 (7) – Drieë: Marko van der Walt, Jethro Williams, Ettienne Stroebel, Matthew Vermaak. Doelskoppe: Stian de Villiers (3).

    Zwartkop 59 (40) – Drieë: Luan Williams (2), Brian Smith (2), Regan Blignaut (2), Kyle Koopman, André Marx. Doelskoppe: Tilon Baron (7). Ligbron Akademie 15 (3) – Drieë: Banele Mthombo, Siyanda Dennison. Doelskop: Eben Degenaar. Strafdoel: Degenaar.

    HTS Middelburg 44 (18) – Drieë: Hanru Terblanche, Reghardt Blake, Kayden Wessels, Nathan Jansen van Vuuren, CJ Muller, Jacques Greyling. Doelskoppe: WJ Enslin (4). Strafdoele: Enslin (2). Marais Viljoen 15 (3) – Drieë: Rio Tshimbalanga, Ongeidentifiseerd. Doelskop: Raynhardt Kruger. Strafdoel: Kruger.

    Ander spanne: 

    o.16: Klerksdorp 26, Wesvalia 15; Oos-Moot 20, Kempton Park 19; Zwartkop 28, Ligbron Akademie 26; HTS Middelburg 24, Marais Viljoen 14.

    o.15: Wesvalia 18, Klerksdorp 10; Oos-Moot 22, Kempton Park 14; Zwartkop 27, Ligbron Akademie 10; HTS Middelburg 10, Marais Viljoen 7.

    o.14:  Wesvalia 14, Klerksdorp 5; Kempton Park 31, Oos-Moot 10; Ligbron Akademie 18, Zwartkop 8; HTS Middelburg 10, Marais Viljoen 3.

  • Hallo, Helpies!

    Hallo, Helpies!

    FOTO: Frans Lombard/Actionpix.

    Helpmekaar Kollege het Saterdagmiddag in sy derde tuiswedstyd in die Beker-afdeling van vanjaar se SDC Noordvaal Cup met straks sy beste vertoning van die seisoen tot dusver vir ‘n massiewe verrassing gesorg.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Die Helpies het hul tuisveld met flair versier om vir Hoërskool Noordheuwel met ‘n telling van 36-0 die loef af te steek. Dit was inderdaad ‘n groot skok, vernaam na die Blues hul seisoen vanjaar so indrukwekkend afgeskop het.

    Dit was ‘n maak-of-breek-stryd vir Helpies, aangesien hulle na reeds drie wedstryde in die reek steeds segeloos was.

    Die agterlyn, wat reeds heelwat belofte getoon het, het teen die Blues na hoogste versnelling oorgeskakel, met die agterste driehoek, en vernaam heelagter en kaptein, Ty Ax, wat uitmuntend vertoon het. Binnesenter, Ethan Lourens, het ook die besoekers van Krugersdorp deurgaans ore aangesit op die aanval, terwyl sy verdediging rotsvas was.

    Buitesenter, Clinton Cloete, was was self ‘n derduiwel met die bal in hand. Albei senters het dikwels soos die spreekwoordelike warm mes deur botter gesny en sodoende geleentheid geskep vir regtervleuel, Xander van Niekerk, om twee keer te druk.

    Voorlangs het die Helpies se agsteman, Llewelyn Vermaak, en steelkantflank, Zaiden Krige, die pas aangegee en die Nories verhoed om aan die gang te kom.

    Die Hoërskool Menlopark se Dylan Stumke het ook twee keer die doellyn oorgesteek in sy span se sege van 40-17 oor Hoërskool Nelspruit in Pretoria. Die eerste 35 minute het welliswaar ‘n wipplankstryd afgegee. Die Parkies het in die laaste 20 minute egter hul ritme gevind.

    Die grondslag vir die span van Pretoria se sege is deur oopkantflank, Nathen du Plessis, gelê met sy onvermoeide vertoning in die los.

    Ongedwonge hanteerfoute het die besoekers gekelder. Indien dit nie daarvoor was nie, kon sake heelwat anders daar uitgesien het. Dit sou ook vir buitesenter, Ruben Greeff, en linkervleuel, Tinyiko Silubane, meer geleenthede geskep het om hul aanvalsvernuf uit te stal.

    Hoërskool Transvalia se Daniel Kazambo het, met tyd reeds verstreke, onder die dwarslat oorgebars om sy span se eerste sege in die Beker-afdeling te beklink. Die span van Vanderbijlpark was uiteindelik baas oor Hoërskool Rustenburg, met ‘n telling van 20-13.

    Losskakel, Jay-Dee Maree verdien ook ‘n klop op die skouer. Hoewel hy nie veel geleenthede na die pale ontvang het nie, het Maree Kazambo se drie verdoel en ook twee uiters belangrike strafdoele deur die pale gejaag.

    Puntemakers: 

    Helpmekaar Kollege 36 (22) – Tries: Xander van Niekerk (2), Ethan Lourens, Eugene de Lange, Kean Butler. Doelskoppe: Wian Storm (3). Strafdoel: Storm. Noordheuwel 0. 

    Menlopark 40 (7) – Drieë: Dylan Stumke (2), Nathen du Plessis, JN van Wyk, Gustav Schäffner, Leskin Samuels. Doelskoppe: Andru Keun (5). Hoërskool Nelspruit 17 (3) – Drieë: Ruben Greeff (2). Doelskoppe: Liam Pringle (2). Penalty: Pringle.

    Transvalia 20 (10) – Drieë: Daniel Kazambo, Strafdrie. Doelskop: Jay-Dee Maree. Strafdoele: Maree (2). Hoërskool Rustenburg 13 (5) – Drieë: Wes van Loggerenberg, Adriano George. Strafdoel: Wade Daivey.

    Ander spanne:

    o.16: Noordheuwel 15, Helpmekaar 10; Menlopark 68, Nelspruit 3; Transvalia 32, Rustenburg 27

    o.15: Helpmekaar 12, Noordheuwel 12; Menlopark 23, Nelspruit 10; Rustenburg 11, Transvalia 6.

    o.14: Helpmekaar 17, Noordheuwel 14; Menlopark 16, Nelspruit 10; Rustenburg 41, Transvalia 0.

  • Erasmus, Bere verniel Klofies, Jansies behaal driekuns oor Monnas

    Erasmus, Bere verniel Klofies, Jansies behaal driekuns oor Monnas

    JUNAIDE STUART, Hoërskool Garsfontein se kookwater-vleuel, op pad doellyn toe. FOTO: Riaan De Bruyn.

    Hoërskool Garsfontein was Saterdagmiddag in ‘n vernietigende bui op sy tuisveld, Berepark, en het Hoërskool Waterkloof met 53-19 verrinneweer.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Die Bere, die SDC Noordvaal Cup se Beker-kampioen vir die afgelope twee jaar, het daarmee hul tweede oorwinning in vanjaar se reeks behaal en vir die Klofies, 2024 se naaswenner, behoorlik laat les opsê in die twee spanne se eerste kragmeting sedert verlede jaar se eindstryd.

    Dit was van meet af aan duidelik dat Garsies se plan was om deurentyd die tempo hoog te hou. Buitesenter, Xian Erasmus, en skrumskakel, Derrick Kuhn, het die voortou geneem. Kuhn se diens, agter ‘n pak met die hef in die hand, was oudergewoonte uit die boonste rakke, terwyl hy ook op die aanval woelig was en met ‘n tweekuns beloon is.

    Erasmus het egter die kollig gesteel, vier keer! Die Bere se senter was uiteindelik vir nie minder nie as vier van sy span se nege drieë verantwoordelik. Hy was uitmuntend in die middeveld, met vernaam sy bedrieglike aanvalslyne wat die Klofies se verdediging gereeld oorhoeks gehad het.

    Voorlangs het Justin Blom, ‘n sterk aanspraakmaker op die haker-posisie in die Blou Bulle se Cravenweekspan, ‘n barshou gespeel. Fisies is hy vanjaar besig om eenvoudig van krag tot krag te gaan.

    Ten spyte van die oormag, het Klofies se kaptein, Ronan Bastiaanse, steeds ‘n kapteinsbeurt gelewer. Die losskakel het sy goeie spelpeil tydens die Wildeklawer-toernooi voortgesit, soos wat sy tweekuns aan drieë, wat hy self verdoel het, aandui.

    In Krugersdorp het Hoërskool Dr EG Jansen dit drie uit drie gemaak teen Hoërskool Monument. Dit was nie alleen die Jansies se derde agtereenvolgende sege oor die Wit Bulle nie, maar ook hul tweede oor die Monumentare op hul tuisveld, die Ras van Rooyen.

    Die besoekers van Boksburg se agterlyn het vir die Wit Bulle menige hoofbrekens besorg, met regtervleuel, Otlatleng Zulu, se tweekuns wat die doodskoot vir die tuisspan toegedien het. Heelagter, Deshean Pietersen, het ook beïndruk deur dikwels deur die Monnas-verdediging te vleg.

    Ewan van der Walt, die Monumentare se heelagter en onderkaptein, het die Jansies ‘n paar keer op die aanval gefnuik, maar dit was nie genoeg om die momentum wat die besoekers voorlangs bewerk het te stuit nie.

    Deveraux Weideman, die Arende se vaskopstut, het waarskynlik sy beste wedstryd van die jaar opgedis, terwyl oopkanflank, Craig Lightfoot, hoewel ietwat klein van statuur, gewoeker het by die afbreekpunte.

    Puntemakers: 

    Garsfontein 53 (20) – Drieë: Xian Erasmus (4), Derrick Kuhn (2), Lourenz de Jager, Junaide Stuart, Justin Blom. Doelskoppe: Kuhn (4). Waterkloof 19 (7) – Drieë: Ronan Bastiaanse (2), Zack Jordaan. Doelskoppe: Bastiaanse (2).

    EG Jansen 39 (27) – Drieë: Otlatleng Zulu (2), Christopher Combrink, Deveraux Weideman, Joseph Diesel, Craig Lightfoot, Jordan van der Westhuizen. Doelskoppe: Juan van Aswegen, Deshean Pietersen. Monument 31 (21) – Drieë: Juandré Ehlers, Ewan van der Walt, Evan Bernhardi, Loghan Huges, Vincent Roberts. Doelskoppe: Cameron Kourie (3).

    Ander spanne: 

    o.16: Garsfontein 36, Waterkloof 20; Monument 61, EG Jansen 30.

    o.15: Garsfontein 61, Waterkloof 17; Monument 38, EG Jansen 0.

    o.14: Garsfontein 71, Waterkloof 10; Monument 53, EG Jansen 0.