SSPN Test Site

Author: froberholzer

  • Keun se korrelwerk gee deurslag teen Helpies

    Keun se korrelwerk gee deurslag teen Helpies

    FOTO: Frans Lombard/Actionpix.

    Die Hoërskool Menlopark se losskakel en kaptein, Andru Keun, het die span van Pretoria tot ‘n sege van 36-33 gesool oor Helpmekaar Kollege in Johannesburg.

    Herleef al die aksie op SuperSportSchools – (www.supersportschools.com) 

    Keun het ‘n merkwaardige skopvertoning gelewer om persoonlik 19 van sy span se 36 punte by te dra. Dit het vyf strafdoele en twee doelskoppe ingesluit.

    Benewens sy akkurate korrelwerk na die pale, was Keun se algemene spel en taktiese skopwerk ook van hoogstaande gehalte en het hy gereeld die Helpies laat omdraai. Sy flink verspreiding het vir buitesenter, Leskin Samuels, losgelaat om na hartelus aan te val, terwyl linkervleuel, Juan Joubert, met sy gereelde lopies teen die kantlyn af die Helpies ook laat bontstaan het.

    Voorlangs het die Pretorianers se pak as ‘n eenheid uitgeblink in ‘n uiters fisieke stryd. Oopkantflank, Nathen du Plessis, het soos gebruiklik gewoel in die los en die tuisspan by die afbreekpunte hoofbrekens besorg. Die kranige loskopstut, Mattheus Prinsloo, en staatmaker-haker, Declan Pelser, het ook die pap dik aangemaak.

    Die tweede helfte het egter aan die Helpies behoort. Die span van Johannesburg het verbete teruggeveg om die Parkie-ondersteuners te laat naels kou in die doodsnikke van die wedstryd. Die tuisspan se lostrio bestaande uit agsteman, Llewelyn Vermaak, en flanke, Sydney Nicholson en Zaiden Krige, het uitgetroon in die terugvegpoging, terwyl regtervleuel, Xander van Niekerk, ook moedig probeer het om ‘n haas uit die hoed te trek.

    Dit was egter nét nie genoeg om die Parkies te ontspoor nie en dié sege bied vir die span van die Jakarandastad ‘n stewige platform vir die res van die kompetisie.

    Puntemakers: 

    Menlopark 36 (24) – Drieë: Bladen Petersen, Strafdrie, Juan Joubert. Doelskoppe: Andru Keun (2). Strafdoele: Keun (5). Helpmekaar Kollege 33 (14) – Drieë: Llewelyn Vermaak, Sydney Nicholson, Keenan Combrink, Xander van Niekerk, Andreas Badenhorst. Doelskoppe: Wian Storm (4).

    Ander spanne: 

    o.16: Menlopark 29, Helpmekaar 19.

    o.15: Helpmekaar 17, Menlopark 0.

    o.14: Helpmekaar 31, Menlopark 6.

  • Silubane, Roberts se tweekunste sink Klofies in Mbombela

    Silubane, Roberts se tweekunste sink Klofies in Mbombela

    FOTO: Frans Lombard/Actionpix.

    Tinyiko Silubane was die Rhinos se spreekwoordelike ridder op ‘n wit perd in die span van Mbombela se eerste wedstryd in die Beker-afdeling van die SDC Noordvaal Cup Saterdag in Mbombela.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Silubane het twee keer die doellyn oorgesteek om vir Hoërskool Nelspruit ‘n oorwinning van 31-24 oor verlede jaar se naaswenner, Hoërskool Waterkloof, te beklink. Vir die tweede, het die Rhino’s se linkervleuel met speeltyd bykans verstreke in die hoekie oorgeduik vir die drie wat die Klofies se harte gebreek het.

    Benewens sy tweekuns, het Silubane dikwels sy opponent aan die buitekant geklop om druk te plaas op die Klofies en was hy ongetwyfeld die speler van die wedstryd.

    Die Nellies het voorlangs die septer geswaai, nadat hulle vroeg reeds die oorhand in die skrums verkry het. Haker, D’Angelo Roberts, het kookwaterspel gelewer en is ook met twee drieë, vanaf kragtige dryfmaalbewegings, beloon.

    Die besoekers verdien nietemin ‘n klop op die skouer vir die manhaftige wyse waarop hulle vir die grootste gedeelte van die wedstryd verdedig het. Hulle het die druk van die Rhinos goed absorbeer, en self ook ‘n paar houe op die aanval geland.

    Die tweedstryd tussen die agstemanne het nie teleurgestel nie, met Klofies se Marko Kok en die Rhinos se kaptein, Vaughn van Zyl, wat albei hul lywe op die spel geplaas het. Kok was ‘n breker by die afbreekpunte en het saam met flank, Dawid Prinsloo, die lewe moeilik gemaak vir die span van Mbombela.

    Liam Pringle het weer sy skopskoen aangehad. Die Nellies se skrumskakel het met ál vier doelskoppe en ‘n strafdoel geslaag.

    Puntemakers: 

    Hoërskool Nelspruit 31 (10) – Drieë: D’Angelo Roberts (2), Tinyiko Silubane (2). Doelskoppe: Liam Pringle (4). Strafdoel: Pringle. Waterkloof 24 (14) – Drieë: Dundré Tustin, Gustav Mienie, Ruan Jacobs. Doelskoppe: Ronan Bastiaanse (3). Strafdoel: Bastiaanse.

    Ander spanne: 

    o.16: Waterkloof 15, Nelspruit 13.

    o.15: Nelspruit 28, Waterkloof 8.

    o.14: Waterkloof 17, Nelspruit 0.

  • Wit Bulle die Bere se baas in Pretoria

    Wit Bulle die Bere se baas in Pretoria

    JOSHUA GOUS, regtervleuel van Affies, duik sierlik oor in sy span se sege van 41-25 Saterdagmiddag in Pretoria. FOTO: Riaan de Bruyn/Riaan de Bruyn Photography.

    Die skare op Afrikaanse Hoër Seunskool se tuisveld is Saterdagmiddag soos verwag bederf met ‘n aksiebelaaide stryd tussen die Wit Bulle en Hoërskool Garsfontein.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Dit was van meet af aan duidelik dat die twee agttalle mekaar sou opkeil, met albei pakke wat met mening ingeklim het op sowel die aanval as verdediging.

    Dit was egter die Affies-voorhoede wat uiteindelik die oorhand verkry en die grondslag vir die tuisspan se sege van 41-25 gelê het. Die Wit Bulle het ses keer agter die Bere se doellyn gaan kuier, waarvan vyf drieë deur die voorspelers gedruk is.

    Steelkantflank, Elwin Jansen van Vuuren, wat in die plek van die beseerde Albert Smit gespeel het, het straks die nr. sewe-trui sy eie gemaak. Van Vuuren het nie alleen twee van sy span se drieë aangeteken nie, maar deurentyd regoor die veld met sy energieke spel uitgetroon. Loskopstut, Roal Kruger, wat ook deurgebars het vir ‘n drie, was uiters indrukwekkend in die skrums.

    Agterlangs het Ruben Groenewald, die Wit Bulle se losskakel, oudergewoonte beheer geneem en sy driekwarte, vernaam buitesenter, Estiaan Marx, telkens op die voorvoet geplaas.

    Vir die Bere is die nederlaag ‘n bitter pil om te sluk, maar is daar was nietemin positiewe tekens op die vooraand van hul SDC Noordvaal Cup-veldtog. Vaskopstut, Luan van den Berg, het vurig vertoon voorlangs en sy vernuf met bal in hand kan vir die Bere nog heelwat beteken op die pad vorentoe.

    Dit was egter die Garsies-losskakel, Joshua Gouws, wat die kollig vir sy span gesteel het. Gouws se visie en verspreiding het dikwels die Bere op die aanval geplaas en hy het self, na ‘n slinkse steekskoppie, een van sy span se drie drieë gedruk. Hy het ook 15 punte met die stewel bygedra.

    Puntemakers: 

    Affies 41 (17) – Drieë: Elwin Jansen van Vuuren (2), Stefan McDonald, Luan Potgieter, Joshua Gouws. Doelskoppe: Ruben Groenewald (3). Strafdoel: Groenewald. Garsfontein 25 (6) – Drieë: Joshua Gouws, Junaide Stewart, Drewyn Baron. Doelskoppe: Gouws (2). Strafdoel: Gouws (2).

    Ander spanne: 

    o.16: Affies 43, Garsfontein 24.

    o.15: Affies 19, Garsfontein 17.

    o.14: Affies 43, Garsfontein 17.

  • Vonke verwag in herontmoeting tussen Middies en Buffels

    Vonke verwag in herontmoeting tussen Middies en Buffels

    FOTO: Lunchbox Photography

    Die vorige keer toe Hoërskool Ben Vorster en Hoërskool Middelburg se paaie gekruis het, was dit die Buffels wat met 34-25 koning gekraai het. Nou, sewe jaar later, kry die Middies vir die eerste keer kans om die bordjies te verhang.

    Kry al die nuus oor dié stryd op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Dié twee sal Saterdag om 14:40 op die Piet Swart Stadion, die Buffels se tuisveld, in Tzaneen, swaarde kruis.

    In die 2018-stryd tussen die twee spanne, óók in Tzaneen, het die Buffels se sege vir hulle die baan geweg na die eindstryd in die Skild-afdeling van die destydse Virsekerbeker-reeks.

    In die daaropvolgende jare was die twee spanne geskeduleer om nóg drie keer teen mekaar te speel, maar die Covid-19-pandemie het ‘n stokkie daarvoor gesteek. Met 2022 se kragmeting wat ook uiteindelik gekanselleer is, beloof eerskomende Saterdag se herontmoeting 70 minute van ‘n aksiebelaaide rugby.

    Die Middies, tans een van die top spanne in Mpumalanga, sal slaggereed wees om hul stempel kort voor die aanvang van hul aanslag in die SDC Noordvaal se Plaat-afdeling af te druk. Die Middelburgers beskik oor ‘n gebalanseerde span, met brute krag in die pak en flair in die agterhoede, waar Cravenweek-losskakel, Matthew Abbey, die toutjies trek.

    Voorlangs gaan die Buffels nietemin hul hande volhê met die besoekers se haker, Roux Grobler, wat uitstekend op dreef is en reeds vanjaar met ‘n aantal dryfmaaldrieë spog. Sy tweestryd met die Vossies se Ruben Pohl, wat nog in Graad 11 is maar die veld aan die brand speel in die Buffels se nr. 2-trui, kan een van die hoogtepunte van die kragmeting oplewer.

    Die tuisspan beskik voorts oor ‘n uiters bekwame binnesenter in Gehan Hendriks en, indien die Buffels se pak die nodige momentum kan bewerkstellig, sal Hendriks ‘n beduidende rol speel met sy venynige aanvalslyne.

    Die spanne: 

    Ben Vorster t. Hoërskool Middelburg om 14:40 in Tzaneen

    Ben Vorster: 15 Phetogo Shubane, 14 Miguel Makhubupetsi, 13 Chifu Banda, 12 Gihan Hendriks, 11 Lethabo Sejake, 10 Shelton-Ray Primo, 9 Stiaan du Rand, 8 Tumi Ramohlale, 7 Joshua van der Mescht, 6 Kobus de Beer, 5 Lourens Harmse, 4 Lesedi Motseki, 3 Randy Magabe, 2 Ruben Pohl, 1 Thabang Nkuna.

    Hoërskool Middelburg: 15 Buhle Mphahlaza, 14 Lesego Rakale, 13 Jaco Truter, 12 Lungelo Maseko, 11 Siboniso Mahlangu, 10 Matthew Abbey, 9 Keabetswe Nkgadima, 8 Henco Jansen van Rensburg, 7 Wihan Jordaan, 6 CW Hanekom, 5 Zanempilo Mahlangu, 4 Jabu Mathebula, 3 Dewald du Toit, 2 Roux Grobler, 1 Carlo Joubert.

  • Eendeweer het laaste sê in NWU Prestige-reeks

    Eendeweer het laaste sê in NWU Prestige-reeks

    Een van die betrokke velde van die NWU Prestige-reeks, deurdrenk met water na die aanhoudende reën in Potchefstroom. FOTO: Verskaf deur Potchefstroom Gimnasium.

    ‘n Druppel déjà vu het vandeesweek oor die NWU Prestige-reeks gespoel nadat die geskeduleerde eindstryde van dié reeks ook deur die onophoudelike reën en uiters nat toestande in Potchefstroom gesink is.

    Die eindstryde was geskeduleer om Saterdag, 26 April, op Olënpark, tuiste van die Luiperds Rugbyunie, asook die velde van Potchefstroom Gimnasium en Potchefstroom Volkskool, plaas te vind.

    Die sopnat speeloppervlaktes het die bestuur van die reeks egter vir ‘n tweede keer genoodsaak om ál die aksie af te las weens kommer oor spelers se veiligheid, asook die skade wat die hoeveelheid rugby aan die betrokke oppervlaktes kan aanrig.

    “Weens onvoorsiene omstandighede buite ons beheer, is ons ongelukkig genoodsaak om die eindstryd-ronde se rugbywedstryde vir die komende naweek te kanselleer,” lui ‘n verklaring deur die Prestige-reeks se voorsitter, Fielies Coetzee.

    “Verskeie alternatiewe is oorweeg soos met die halfeindrondes en ons het die finale besluit so laat as moontlik uitgestel. Ongelukkig kan ons nie nog langer wag nie, want skole moet hul ouers inlig sodat die nodige verblyf en vervoerreëlings getref kan word. Skole moet ook vroegtydig vervoermaatskappye in kennis stel van die besluit.”

    Die bestuur het ook lank gekoukus om uiteindelik die regverdigste bepaling van posies te bereik. Daar is op die volgende besluit:

    “Die halfeindronde se bepalings word oorgedra na die eindstryde. Die spanne in die posisies 1-4, 5-8, 9-12 en 13-15 sal die hoogste posisie en punte deel. Sodoende kan ons by ‘n regverdige en werkbare uitslag uitkom.

    “Die hokkie-, netbal- en tenniswedstryde sal soos beplan hierdie naweek voortgaan. Alle uitslae, insluitende dié van hierdie sportsoorte, sal ingereken word om die algehele wenners en rangorde te bepaal soos in die verlede,” het Coetzee bygevoeg.

  • King Price Derby set to ignite as Candies, College collide

    King Price Derby set to ignite as Candies, College collide

    After a tight first half, Maritzburg College pulled away in the second half to record their first win of the season. Photo: Maritzburg College on Facebook.
    Photo: Maritzburg College on Facebook.

    A scintillating King Price Derby Series clash awaits this weekend as Maritzburg College heads north, just a week after competing at the annual St John’s College Easter Festival in Johannesburg, to face traditional rivals, Pretoria Boys High School.

    Follow all the action live on SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) or Channel 216.

    The Candies also took to the field at St John’s over the Easter weekend and, like College, walked away with one win from their two fixtures.

    However, their 43–29 victory over Hoërskool Diamantveld was particularly impressive and served as a warning shot to their future opponents.

    College’s 13–22 loss to Hoërskool Nelspruit raised a few eyebrows, but there were flashes of their trademark attacking flair in their opening-day win over the Lions XV. With both sides coming off recent defeats, Saturday’s match-up promises to be a fierce contest as each looks to return to winning ways.

    A key subplot will be the kicking duel between Boys High’s fullback, Blake Mager, and College’s wing, Adam Cahill. Both players possess match-winning boots, and their precision could prove decisive.

    Much of the spotlight will fall on the forwards, where physicality and possession will dictate the tempo. Since switching from lock to No. 8 in place of the injured Aking Akingbula, Queenton Mncube has been instrumental in generating front-foot ball for the Candies.

    Standing in his way will be Maritzburg College captain and fellow eighthman, Vusi Vyambwera, who will aim to neutralise Mncube’s impact with a commanding performance of his own.

    Meanwhile, in Johannesburg, King Edward VII School (KES) welcomes Parktown Boys’ High School to the home of the Reds.

    Parktown’s last outing at KES yielded a gutsy 25–15 win over Hudson Park during the KES Easter Festival, while the Reds’ clash with Northwood was abandoned due to lightning, with the Knights holding onto a narrow 12-7 lead.

    In their first match of the festival, KES produced arguably the upset of the year when they stunned Rondebosch Boys’ High 20–17. Since then, the Reds have appeared to be rejuvenated, and they looked sharp against a strong Northwood team before the weather intervened. Left-wing Joshua Wilkinson looked especially dangerous with the ball in hand and he will be a key threat if given space out wide.

    Parktown’s strength lies in the side’s industrious loose trio. Led by their openside flanker, Lethabo Sikhudo, the back row will seek to impose themselves both on attack and defence, aiming to disrupt KES’s rhythm and turn the contest into a physical battle.

    TEAMS

    Pretoria Boys High School vs Maritzburg College at 13:30 in Pretoria

    Pretoria Boys High School: 15 Blake Mager, 14 Callum Nel, 13 Ofentse Matlebjane, 12 Tyler Mason, 11 Neo Matlaletsa, 10 Reinier Kruger, 9 Michael Fourie, 8 Queenton Mncube, 7 Pieter Lindeboom, 6 Tristin Heinz, 5 Nils Pabst, 4 FC Furtstenburg, 3 Mufuna Masibigiri, 2 Marnus Wessels, 1 Jeffrey Singo.

    Maritzburg College: 15 Caleb Scheepers, 14 Adam Cahill, 13 Amahle Hadebe, 12 Olwethu Kosani, 11 Ntsika Mkhize, 10 Liyema Tsoko, 9 Dom du Toit, 8 Vusi Vyambwera, 7 Connor Mountfort, 6 David Colenbrander, 5 Jayden Smit, 4 Elethu Mabanga, 3 Lina Mabanga, 2 Theo Boshoff, 1 Indi Mlotshwa.

    King Edward VII Schools vs Parktown Boys’ High School at 13:00 in Johannesburg

    King Edward VII School (possible): 15 Indibabale Mboniswa, 14 Christopher White, 13 Sky Segal, 12 Ntsako Shivuri, 11 Joshua Wilkinson, 10 Andrew Jackson, 9 Regan McGurk, 8 Chinedu Amadi, 7 Michael Bownes, 6 Sam Bruwer, 5 Ashton Vreugdenburg, 4 Tyron Smith, 3 Dylan Budler, 2 Tristan Randall, 1 Kenneth Prins.

    Parktown Boys’ High School: 15 Enrico van Coller, 14 Oyisa Mjiwu, 13 Kgotso Tumahole, 12 Usanda Yejanye, 11 Owami Phambuka, 10 Kelvin Kotey, 9 Siphesihle Mpofu, 8 Siya Masinga, 7 Kingsley Okonkwo, 6 Lethabo Sikhudo, 5 Disema Mofokeng, 4 Subu Jiyane, 3 Emeraude Ndombasi, 2 Lethoko Malane, 1 Manuel Motsi.

  • Pelser, Parkies wil bordjies in Johannesburg verhang

    Pelser, Parkies wil bordjies in Johannesburg verhang

    FOTO: Martin Ashworth.

    Die Hoërskool Menlopark het ‘n sakie of wat om reg te stel wanneer hy Saterdag in Johannesburg teen Helpmekaar Kollege in sy eerste SDC Noordvaal Cup-uitstappie te staan kom.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)

    Verlede jaar het die Parkies, op hul tuisveld in Pretoria, met 19-31 die onderspit gedelf teen die Helpies. Die span van Pretoria het ‘n aantal spelers wat dié nederlaag goed sal onthou en oorgehaal behoort te wees om die bordjies hierdie naweek te verhang.

    Een só ‘n speler is haker, Declan Pelser, ‘n giftige pyl in die Parkies se aanvalskoker wat tot dusver ‘n uitstaande seisoen beleef. Pelser behoort kragtige ondersteuning te ontvang van oopkantflank, Nathen du Plessis, en die ervare slot, Keagen Pretorius, wat ook deel uitgemaak het van die Parkie-span wat verlede jaar die knie moes buig teen Helpies.

    Die algemene gevoel is dat die span van die Jakarandastad vanjaar na ‘n “nuwe” span daar uitsien, met indrukwekkende seges oor Hoërskool Outeniqua (34-24) en HTS Drostdy (43-29). Boonop was sy vertoning teen Hoërskool Waterkloof in die onlangse eindstryd van van NWU Sportreeks ook bemoedigend.

    Die Helpies is egter geensins ‘n maklike perd om te tem nie, vernaam in hul agterplaas in Johannesburg. Die Bruintruie spog self met onlangse seges oor Diocesian College en Wynberg Boys’ High by St Stithians College se Paastoernooi.

    Dit was verál die oortuigende sege van 38-12 oor Diocesian wat wenkbroue laat lig het en die Johannesburgers se vaardighede uitgestal het. Wanneer hulle jel, kan Wian Storm (losskakel), Clinton Cloete (buitesenter) en die res van die agterhoede groot gevaar inhou. Cloete, een van die beste verdedigers in die middeveld, se tweestryd met die Parkies se spelskepper, Leskin Samuels, behoort die skare vir die volle 70-minute te vermaak.

    Helpies se agsteman, Llewellyn Vermaak, sal leiding neem van die pak en dit is juis in die stryd voorlangs waar die tuisspan straks die uitklophou kan plant, met sy agttal wat week na week met meer ritme en doeltreffendheid speel. Steelkantflank, Eben van Buuren, sit egter hierdie week uit, met die bekwame en belowende Sydney Nicholson wat hom vervang.

    Die spanne: 

    Helpmekaar Kollege t. Die Hoërskool Menlopark om 12:45 in Johannesburg

    Helpmekaar Kollege (moontlik): 15 Ty Ax, 14 Francois Tonkin, 13 Clinton Cloete, 12 Ethan Lourens, 11 John-Higgs Venter, 10 Wian Storm, 9 Shaye Lourens, 8 Llewellyn Vermaak, 7 Zaiden Krige, 6 Eben van Buuren, 5 Zian Smith, 4 Eugene de Lange, 3 Dylan Engelbrecht, 2 Keenan Combrink, 1 Liam Devinier.

    Menlopark: 15 Reinhardt Herbst, 14 Bladen Petersen, 13 Leskin Samuels, 12 Dylan Stumke, 11 Juan Joubert, 10 Andru Keun, 9 Gustav Schäffner, 8 JN van Wyk, 7 Ruan Strydom, 6 Nathen du Plessis, 5 Xander Roets, 4 Keagen Pretorius, 3 Ruvan van Aardt, 2 Declan Pelser, 1 Mattheus Prinsloo.

  • Oosies seëvier net-net in weerlig-stryd

    Oosies seëvier net-net in weerlig-stryd

    Oos-Moot vs Waterkloof
    FOTO: Hoërskool Oos-Moot op Facebook/Winter Photography.

    Weerlig en gure weer het vir die soveelste keer vanjaar die laaste sê in ‘n wedstryd op die Hoëveld gehad, maar nie voordat Hoërskool Oos-Moot by die agterdeur kon inglip nie.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Die span van Pretoria het in sy eerste wedstryd in die Plaat-afdeling van vanjaar se SDC Noordvaal Cup naelskraaps oor Hoër Tegniese Skool Middelburg in die Moot koning gekraai.

    Die wedstryd is sowat sewe minute voor die eindfluitjie sou blaas, met die telling op 23-21 in die guns van die tuisspan, weens swaar weer gestaak. Die Rooi Bulle was ietwat ongelukkig aangesien die momentum dikwels deur die loop van die kragmeting geswaai het.

    ‘n Tweekuns aan drieë deur die Oosies se woelige skrumskakel, David Joubert, het ‘n beduidende rol in die sege gespeel, maar was dit ‘n oorstootdrie deur loskopstut, Divan du Preez, wat die momentum in sy span se guns geswaai het met die aanvang van rustyd, terwyl Joubert se tweede kort na die omdraaislag die Oosies se greep ietwat verstewig het.

    Buiten die 10 punte wat die skrumskakel bygedra het, was sy diens agter die skrum ook uitstaande, wat vir losskakel, Dewron Aford, toegelaat het om te doen wat hy die beste doen, naamlik om sy agterlyn op die voorvoet te plaas.

    Die Rooi Bulle het nietemin teruggeslaan met drieë deur Marinus Oberholzer (stut) en Kwanile Mkhize (vleuel) wat hulle in die tweede skof met 21-20 weer laat voorloop het.

    Jeandré Venter, Oos-Moot se binnesenter en stelskopper, het egter ‘n geleentheid gekry om ‘n strafskop van vlak voor die pale koel en kalm oor te klits en sodoende die sege van twee punte te beklink.

    Puntemakers: 

    Oos- Moot 23 (15) – Drieë: David Joubert (2), Divan du Preez. Doelskop: Jeandré Venter. Strafdoel: Venter. HTS Middelburg 21 (11) – Drieë: Jacques Greyling, Kwanile Mkhize, Marinus Oberholzer. Strafdoele: Dirk du Plooy (2).

    Ander spanne: 

    o.16: Oos-Moot 15, HTS Middelburg 7.

    o.15: Oos-Moot 17, HTS Middelburg 12.

    o.14: HTS Middelburg 18, Oos-Moot 11.

  • Van Zyl, Kok se agtsteman-stryd kan bepalend wees in Mbombela

    Van Zyl, Kok se agtsteman-stryd kan bepalend wees in Mbombela

    Waterkloof vs Menlopark
    FOTO: Frans Lombard/Actionpix.

    In 2024 was dit hierdie kragmeting wat Hoërskool Waterkloof se Blou-golf van stapel gestuur en uitgeloop het op ‘n uitmuntende SDC Noordvaal Cup-veldtog, waarin hy tot in die eindstryd onoorwonne was.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

    Eerskomende Saterdag kom die Klofies weer teen ‘n gedugte Hoërskool Nelspruit te staan in hul openingstryd van die reeks. Vanjaar pak hulle egter die tog Laeveld toe aan om die Rhinos in Mbombela die stryd aan te sê. Die Nellies het verlede seisoen gewys dat hulle ‘n harde neut is om te kraak in hul agterplaas.

    Vanjaar se kaptein, Vaughn van Zyl, het deel uitgemaak van twee soet seges, oor die verdedigende kampioen, Hoërskool Garsfontein (30-29), en Hoërskool Monument (21-12), in verlede jaar se reeks wat aangedui het hoe gedug die Nellies op Rhino-park kan wees. Van Zyl (agtsteman) het tot dusver vanjaar van voor gelei, vernaam in die onlangse seges oor Welkom Gimnasium (34-31) en Maritzburg College (22-13) by die St John’s College Easter Festival.

    Skrumskakel, Liam Pringle, het egter die kollig oor die Paasnaweek met sy stewel gesteel. Pringle se visier is duidelik ingestel op die vooraand van Nelspruit se eerste Noordvaal-kragmeting, en kan waarskynlik ‘n deurslaggewende faktor wees. Boonop beleef sy skakelmaat op losskakel, John Duncan, ‘n uithalerseisoen tot dusver, wat vir ‘n opwindende stryd tussen die twee agterhoedes kan sorg.

    Die Klofies se laaste wedstryd was in die eindstryd van die NWU Sportreeks waar hulle met ‘n gelykopuitslag van 23-23 teen Hoërskool Menlopark tevrede moes wees. Daarna het hulle kans gehad om te herstel, ná onder andere ‘n reeks strawwe kragmetings by die jaarlikse Noord/Suid-toernooi.

    Waterkloof-agtsteman, Marko Kok, se terugkeer na die beginspan het die Pretorianers ‘n beduidende hupstoot gegee en sy tweestryd met Van Zyl, op sowel die aanval as verdediging, kan straks die hoogtepunt van die naweek se kragmeting wees.

    Agterlangs behoort losskakel en kaptein, Ronan Bastiaanse, weer die kitaar vir die Klofies te slaan. Hy sal egter op Kok en slot, Heinrich Naudé, staatmaak om genoegsame voorvoetbal te verseker, waarmee hy vir die snellers op vleuel, Jaiden Badenhorst en Gustav Mienie, die nodige aanvalsgeleenthede kan skep.

    Die spanne: 

    Hoërskool Nelspruit t. Waterkloof om 12:30 in Mbombela

    Hoërskool Nelspruit: 15 Jean Erasmus, 14 Jordan Pretorius, 13 Ruben Greeff, 12 Rian Botha, 11 Tinyiko Silubane, 10 John Duncan, 9 Liam Pringle, 8 Vaughn van Zyl, 7 Werno Heyns, 6 Prosper Chiloane, 5 André Smit, 4 Ethan Esterhuyzen, 3 Gert Cloete, 2 D’Angelo Roberts, 1 Lindani Ndlela.

    Waterkloof (moontlik): 15 Meyer Pretorius, 14 Jaiden Badenhorst, 13 Danré Tustin, 12 Aiden Bester, 11 Gustav Mienie, 10 Ronan Bastiaanse, 9 Zack Jordaan, 8 Marko Kok, 7 Dawid Prinsloo, 6 Divan Botha, 5 Heinrich Naudé, 4 Phillip Mans, 3 Jedri Swart, 2 Ruan Jacobs, 1 Alexander Elliot.

  • Rugbykoors loop hoog op vooraand van stryd tussen Affies en Garsies

    Rugbykoors loop hoog op vooraand van stryd tussen Affies en Garsies

    Affies vs Garsfontein
    FOTO: Frans Lombard/Actionpix.

    Dié stryd, tussen straks die twee top-rugbyskole Saterdag in die Jakarandastad, het oor die afgelope vier seisoene in een van die groot trekpleisters op die jaarlikse rugbykalender in Pretoria ontwikkel.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com) of Kanaal 216.

    Die liplekker-stryd tussen Afrikaanse Hoër Seunskool en Hoërskool Garsfontein keer vanjaar terug na die veld waar die Garsies die laaste keer koning gekraai het, naamlik die Wit Bulle se tuiste.

    Die Bere het in 2023 met 45-38 koning gekraai met ‘n uithalervertoning weg van die huis, maar die Wit Bulle het verlede jaar dit gewreek deur die Garsies naelskraaps met 33-31 te troef op Berepark.

    In 2022, die eerste van die jaarlikse derbies, was dit ook die Bere wat in ‘n naelbytstryd met 20-19 vir die eerste keer ooit oor die Wit Bulle koning gekraai het.

    Voor 2022 was dié twee spanne net vyf keer slaags, waarvan vier gedurende die ’90’s in die Blou Bulle-skoleliga met Affies wat ‘n paar reuse oorwinnings, insluitende ‘n wegholsege van 62-7 in 1996, behaal het.

    Albei spanne is tans uitstekend op dreef en vertoon hoog op verskeie skolerugby-ranglyste in Suid-Afrika. Die Wit Bulle was oor die Paasnaweek in ‘n verwoede bui op die jaarlikse King Edward VII Easter Festival, waar hulle gemaklik met Hoërskool Noordheuwel (45-27) en Selborne College (57-19) afgereken het.

    Die Bere het ‘n blaaskans geniet, nadat hulle die vorige week die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling met ‘n oorwinning van 47-29 oor Helpmekaar Kollege in Johannesburg afgeskop het. Garsies is die afgelope twee jaar as dié reeks se kampioen gekroon.

    Die stryd voorlangs sal Saterdag ongetwyfeld deurslaggewend wees. Albei spanne beskik oor van die grootste pakke in die land, met vernaam die skrumstryd tussen Affies se Roal Kruger en die Bere se Luan van den Berg wat vir vuurwerke kan sorg. Dié twee stutte is albei sterk aanspraakmakers om later vanjaar vir die Blou Bulle se Cravenweekspan uit te draf, en selfs die SA Skolespan te haal.

    Die Wit Bulle het onlangs egter ‘n taamlike terugslag beleef met steelkanflank, Albert Smit, wat die res van die seisoen misloop vanweë ‘n ernstige kniebesering . Elwin Janse van Vuuren neem sy plek langs die skrum in, met die indrukwekkende Martin van Niekerk wat op slot diens doen.

    Agterlangs is die Bere dalk net-net beter daaraan toe. Die giftige Junade Pasensie skuif weer van losskakel na heelagter, waarskynlik om die uitstaande taktiese skopwerk van die Wit Bulle se losskakel, Ruben Groenwald, teen te werk. Dit beteken ook dat Pasensie meer geleentheid gegun sal word om saam met sy naamgenoot, Junaide Stewart, venynige teenaanvalle te loods.

    Die spanne:

    Afrikaanse Hoër Seunskool t. Hoërskool Garsfontein om 13:30 in Pretoria:

    Affies: 15 Lamond Baaidjies, 14 Joshua Gouws, 13 Estiaan Marx, 12 Petrus Rautenbach, 11 Divan Fourie, 10 Ruben Groenewald, 9 Fourie Roberts, 8 Stefan McDonald, 7 Elwin Janse van Vuuren, 6 Luhan Potgieter, 5 Christiaan de Wet, 4 Martin van Niekerk, 3 Deon Botes, 2 Bauke Swart, 1 Roal Kruger.

    Garsfontein: 15 Junade Pasensie, 14 Junaide Stuart, 13 Xian Erasmus, 12 Keagan Knighton, 11 Yuvrah George, 10 Joshua Gouws, 9 Derrick Kuhn, 8 Lourenz de Jager, 7 Stefan van der Vyver, 6 JP Pieterse, 5 Wihan Bezuidenhout, 4 JJ Fourie, 3 Luan van den Berg, 2 Justin Blom, 1 Henré Prinsloo.

    Skeidsregter: Regardt O’Neill
    Afskop: 13:30