SSPN Test Site

Author: froberholzer

  • Marais Viljoen té sterk vir Pieties, Volkies skok Montana

    Marais Viljoen té sterk vir Pieties, Volkies skok Montana

    FOTO: Hoërskool Marais Viljoen op Facebook.

    Hoërskool Marais Viljoen was Vrydagmiddag in Alberton té sterk vir die besoekende Hoërskool Pietersburg in die kwarteindronde van die NWU Prestige-reeks.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Alhoewel die Pieties hul man gestaan het teen die “groter hond”, was dit duidelik dat die span van Alberton oor meer ondervinding beskik vir die groot oomblikke en weet hoe om te wen wanneer dit saak maak. Hy het uiteindelik, na ‘n fisieke stryd teen die Pieties, met 27-23 koning gekraai.

    Losskakel, Claude de Couto, was sy gevaarlike self en het nie geskroom om die Pieties se verdediging aan te vat nie, waarvoor hy met een van sy span se vier drieë beloon is. Hy het verder uitstekende diens aan sy agterlyn gelewer, wat gelei het tot drieë deur linkervleuel, Kabelo Tlhoaele, en binnesenter, Jonno Morkol, wat uiteindelik die uitklophou toegedien het.

    Zhian Lombaard, die span van Polokwane se haker, was nietemin voorlangs ‘n doring in die vlees van die tuisspan, terwyl heelagter, Ryno Mienie, in die kol was met twee doelskoppe en twee strafdoele.

    Potchefstroom Volkskool het vir die tweede agtereenvolgende week met ‘n sege van een punt huiswaarts gekeer, om vir die gevaarlike Hoërskool Montana met 20-19 te skok Die Volkies se heelagter, Anro Nel, was, nes verlede week, die groot uitblinker met sy venynige teenaanvalle en het dikwels die Montie-verdediging gefnuik.

    Alhoewel die Monties die onderspit gedelf het, het haker, Aiden Vorster, steeds uithalerspel gelewer. Dit is altyd spesiaal as ‘n voorspeler, en meer spesifiek ‘n voorryman, ‘n driekuns aan drieë behaal, en dit is presies wat Vorster vermag het.

    Bergsig Akademie se geluk het einde ten laaste gedraai, met die span van Rustenburg wat uiteindelik sy rekening geopen het met ‘n oorwinning van 26-25 oor Hoërskool Lichtenburg. Losskakel, Carlo de Jager, was grootliks verantwoordelik vir dié sege met ‘n drie en drie strafdoele vir ‘n peroonlike bydrae van 14 punte .

    Puntemakers: 

    Marais Viljoen 27 (13) – Drieë: Claude de Couto, Juan van den Heever, Kabelo Tlhoaele, Jonno Morkol. Doelskoppe: Raynhardt Kruger (2). Strafdoel Kruger. Hoërskool Pietersburg 23 (11) – Drieë: Zhian Lombaard, Elardus Erasmus, Andru de Beer. Doelskoppe: Ryno Mienie (2). Strafdoele: Mienie (2)

    Potchefstroom Volkskool 20 (12) – Drieë: Hennie Pretorius, Anro Nel, Lorenzo Louw. Doelskop: Juhan Redelinghuys. Strafdoel: Redelinghuys. Montana 19 (12) – Drieë: Aiden Vorster (3). Doelskoppe: Hendrew Schoeman (2).

    Bergsig Akademie 26 (13) – Drieë: Carlo de Jager, Heinrich Krugel, Garth Hofsta. Doelskop: Bradley Stonehouse. Strafdoele: Carlo de Jager (3), Bradley Stonehouse (2). Hoërskool Lichtenburg 25 (15) – Drieë: Darius Lombaard (2), Aidan Stimie. Doelskoppe: Luan Snyman (2). Strafdoele: Snyman (2).

  • Bastiaanse Klofies se halfeind-held

    Bastiaanse Klofies se halfeind-held

    Hoërskool Waterkloof se heelagter en kaptein, Ronan Bastiaanse, druk die wendrie in sy span se halfeindstryd teen HTS Middelburg. FOTO: Tap Light Edits.

    Klofies se kaptein, Ronan Bastiaanse, het die kastaiings uit die vuur gekrap om sy span se plek in die eindstryd van die NWU Sportreeks te bespreek. Wie dan anders?

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Hoërskool Waterkloof het Vrydag in Middelburg bewys gelewer dat hy ‘n span is wat weet hoe om te wen deur vir Hoër Tegniese Skool Middelburg met 26-22 te troef in ‘n naelbytstryd, danksy Bastiaanse se drie in die doodsnikke. Dit was ook die Rooi Bulle se eerste nederlaag vanjaar.

    Die Klofies se heelagter het, met minder as vyf minute oor, oorgeduik  vir die wendrie, nadat sy span vir ‘n geruime tyd met die rug teen die muur was. Bastiaanse was ook weer ‘n staatmaker vanaf die skopkegel en sy drie doelskoppe was van deurslaggewende belang.

    Vir die tuisspan, het buitesenter, Jacques Greyling, in dié beslissende stryd selfs nóg beter vertoon as gewoonlik, terwyl agsteman, Tercuis Bezuidenhout, die Klofies voorlangs geroer het.

    Die Pretorianers se pak het stelselmatig, deur middel van slot, Heinrich Naudé, en steelkantflank, Phillip Mans, die oorhand begin bewerk voorlangs. Hulle was altwee ongenaakbaar met bal in hand en het ook massiewe duikslae uitgevoer.

    Hoërskool Nelspruit en Hoërskool Oos-Moot het vir ‘n aanskoulike stryd gesorg, waarin die twee pakke voorspelers mekaar opdraande gegee het. Die Nellies se agsteman, Vaughn van Zyl, was sy besielende self en is met twee drieë beloon, terwyl stut, Gert Cloete, sy indrukwekkendste vertoning van die jaar gelewer het.

    Die Oosies se Clayton du Bruyn en David Joubert het ook elk twee keer die doellyn oorgesteek om hul span in die wedloop te hou.

    Hoërskool Dr EG Jansen se regtervleuel en puntemasjien, Jaydon du Preez, het Hoërskool Ben Vorster laat les opsê met sy vermoë om die spasie aan die buitekant uit te buit en het sodoende ‘n skitterende driekuns behaal.

    Puntemakers:

    Waterkloof 26 (14) – Drieë: Ruan Jacobs, Phillip Mans, Heinrich Naudé, Ronan Bastiaanse. Doelskoppe: Bastiaanse (3). HTS Middelburg 22 (12) – Drieë: Jacques Greyling, Tercius Bezuidenhout, ongeïdentifiseerd. Doelskoppe: WJ Enslin (2). Strafdoel: Enslin.

    Hoërskool Nelspruit 40 (21) – Drieë: Vaughn van Zyl (2), Tinyiko Silubane, Gert Cloete, Kamo Monkwe. Doelskoppe: John Duncan (5). Oos-Moot 32 (8) – Drieë: Clayton du Bruyn (2), David Joubert (2), Jaydon Botha. Doelskoppe: Royston Arendse (2). Strafdoel: David Joubert.

    EG Jansen 43 (19) – Drieë: Jaydon du Preez (2), Deshean Pietersen, Christopher Combrink, Otlatleng Zulu, Jacques van Tonder, Marco Ventura. Doelskoppe: Ziain Uekermann (4). Ben Vorster 25 (13) – Drieë: Ruben Pohl, Joshua vsn der Mescht, Lethabo Sejake. Doelskoppe: Shelton Primo (2). Strafdoele: Shelton Primo (2).

  • Pelser, Parkies bespreek nóg ‘n eindstryd teen Klofies

    Pelser, Parkies bespreek nóg ‘n eindstryd teen Klofies

    FOTO: Frans Lombard

    Die Hoërskool Menlopark se haker, Declan Pelser, het twee keer oor die doellyn gebars om vir sy span ‘n tweede agtereenvolgende jaar ‘n plek in die eindstryd van die NWU Sportreeks teen Hoërskool Waterkloof te bespreek.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools(ww.supersportschools.com)

    Pelser se tweekuns het die Pretorianers tot ‘n puik oorwinning van 29-17 oor ‘n sterk Hoërskool Transvalia aangevuur.

    Die Parkies se dryfmaalbeweging was oudergewoonte een van hul vernaamste wapens en het die grondslag vir die sege reeds in die eerste helfte gelê. Buiten Pelser was loskopstut, Mattheus Prinsloo, ook ‘n doring in die stryd tussen die voorspelers.

    Agterlangs het losskakel en kaptein, Andru Keun, met sy voorbeeld gelei. Hy was hy oudergewoonte koel en kalm onder druk, en het met fyn voorgevoel Parkies se agterlyn op die voorvoet gehou.

    Valia se pak het nietemin in die tweede helfte meer ritme begin vind en vir die Parkies ‘n paar keer van hul eie medisyne gegee met ‘n paar kragtige dryfmale, wat twee drieë meegebring het. Flank en kaptein, Juan Bisschof, en sy flankmaat, Daniel Kazambo, het vuurgemaak onder die tuisspan se pak, maar die rustydagterstand van 14 punte was uiteindelik net té veel.

    Hoewel die telling dit nie weergee nie, het Hoërskool Eldoraigne vir Hoërskool Middelburg laat sweet vir sy sege van 45-24. Teen halftyd was daar nog niks te kies tussen die twee spanne nie en, met die telling 24-24, het ‘n reuse opskudding moontlik gelyk. Die Middies het in die tweede skof egter gewys waarom hulle vanjaar ‘n groot bedreiging in die SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling inhou.

    Haker, Roux Grobler, klop hard aan vanjaar se Cravenweek-deur, is ‘n yster in die vastelos en het in elke wedstryd tot dusver vanjaar ten minste een keer agter die doellyn gaan kuier.

    Hoërskool Kempton Park het sy stem dik gemaak met ‘n oorwinning van 23-10 oor Hoërskool Piet Retief, tuis in Kempton Park. Regtervleuel, Guilaume Botha, het die kollig gesteel met sy vaart en vermoë om af te rond wanneer hy spasie gebied word, terwyl steelkantflank, Marko van der Walt, deurgaans daarin geslaag het om sy span oor die voordeellyn te kry.

    Puntemakers:

    Menlopark 29 (14) – Drieë: Declan Pelser (2), Mattheus Prinsloo, Lucian Read. Doelskoppe: Anru Keun (3). Strafdoel: Keun. Transvalia 17 (0) – Drieë: Juan Bisschof, Kyle Maartens, Daniel Kazambo. Doelskop: Jayden van Eden.

    Hoërskool Middelburg 45 (24) – Drieë: Roux Grobler, Siya Matgoajana, Jaco Truter, Dewald du Toit, Choek Jansen van Rensburg, Zanempilo Mahlangu. Doelskoppe: Matthew Abbey (6). Strafdoel: Abbey. Eldoraigne 24 (24) – Drieë: Tristan Lee, Justin Meintjies, Chase Wessels, Hanno Jacobs. Doelskoppe: Damian Elferink (2).

    Hoërskool Kempton Park 23 (10) – Drieë: Juan Olivier, Guillaume Botha, Ettiene Stroebel, Ethan Botha. Strafdoel: Stian de Villiers. Hoërskool Piet Retief 10 (3) – Drieë: Sfundo Mayisa. Doelskop: Gilles van der Meulen. Strafdoel: Van der Meulen.

    Ander spanne:

    o.16: Menlopark 20, Transvalia 13; Hoërskool Middelburg 22, Hoërskool Piet Retief 7;

    o.15: Menlopark 16, Transvalia 13; Hoërskool Piet Retief 12, Hoërskool Kempton Park 12;

    o.14: Hoërskool Middelburg 10, Menlopark 3; Hoërskool Kempton Park 12, Hoërskool Piet Retief 7;

  • First shots to be fired between KES and Jeppe

    First shots to be fired between KES and Jeppe

    King Edward VII School’s lock, Michael Bownes playing his part in a successful lineout against St John’s College. Photo: King Edward VII School on Facebook.

    Johannesburg is abuzz on the eve of the first of two derbies between King Edward VII School (KES) and Jeppe High School for Boys.

    Follow all the action live on SuperSport Schools(www.supersportschools.com) or Channel 216.

    This year, the long-standing rivalry between two of Johannesburg’s proudest rugby schools will form part of the new King Price Derby Series, adding to the excitement of a massive day.

    The Reds will have the luxury of home-ground advantage in the first meeting with the Zebras. Last weekend, KES sneaked a 17-15 victory over St John’s College, thanks to the accurate boot of fullback, Indi Mbonsiswa.

    His battle from the tee with Nehemia Hollenbach, Jeppe’s general and flyhalf, could be the deciding factor between the rivals on Saturday. Hollenbach has also impressed with his accurate kicking in Jeppe’s two matches, which included a 28-17 victory over Pretoria Boys High last week.

    Alongside Mbonsiswa, in the back three for the Reds, wings, Jarrel Mbuyi and Luyanda Mbandama, will need to be watched closely by the visitor’s defence. Both are good finishers when afforded opportunities and space on the outside.

    Up front, Jeppe’s blindside flanker, Grady Ngui, will have a massive role to play in getting his side onto the front foot. His physical presence, especially with his abrasive runs will surely keep the home side busy.

    He will look to SA Schools A prop, André Poulton for support to set the tone for the Jeppe pack.

    TEAMS

    King Edward VII Schools vs Jeppe High School for Boys at 13:15 in Johannesburg

    King Edward VII: 15 Indi Mbonsiswa, 14 Jarrel Mbuyi, 13 Skye Segal, 12 Sam Smith, 11 Luyanda Mbandama, 10 Andrew Jackson, 9 Reegan McGurk, 8 Chinedu Amadi, 7 Sam Bruwer, 6 Nkos’enhle Mafu, 5 Michael Bownes, 4 Tryon Smith, 3 Dylan Budler, 2 Tristan Randall, 1 Kenny Prins.

    Jeppe: 15 Joel Akilo, 14 Ndimphiwe Mjiji, 13, Lindelani Nkambule, 12 Phano Letsie, 11 Kamva Mvinjela, 10 Nehemia Hollenbach, 9 Talent Sithole, 8 Mihle Dykala, 7 Grady Ngui, 6 Kuhle Shitlhangu, 5 Glodi Tsipamba, 4 Lagan Leisher, 3 André Poulton, 2 Ayanda Funeka, 1 Joshua Hamman.

  • Die koring van die kaf geskei in NWU Prestige-reeks

    Die koring van die kaf geskei in NWU Prestige-reeks

    FOTO: Hoërskool Pietersburg op Facebook.

    Hoërskool Pietersburg se grootste toets tot dusver vanjaar wag Vrydag op hom in die kwarteindronde van die NWU Prestige-reeks in Alberton.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die span van die hoofstad van Limpopo kom teen Hoërskool Marais Viljoen op sy tuisveld te staan om sake vir ‘n plek in die Prestige-reeks se halfeindronde uit te spook.

    Die Pieties het tot dusver beïndruk met seges oor Potchefstroom Volkskool, Bergsig Akademie en, verál, Heidelberg Volkskool, waarvan die laaste twee taamlike karaktertoetse was.

    Marais Viljoen beskik vanjaar egter oor ‘n reuse pak voorspelers, met agsteman, Rio Tshimbalanga, en slot, Clayton Gagiano, wat die aanslag voorlangs lei. Boonop moet die Pieties noodgedwonge klaarkom sonder hul staatmakerstut, Stephan Jansen van Rensburg, wat die wedstryd weens ‘n besering misloop. Dit bied aan Elardus Erasmus die geleentheid om sy staal in die voorry te wys.

    Hoërskool Montana moet die onvoorspelbare Potchefstroom Volkskool tem om sy plek in die halfeind te bepreek. Die Wit Bulle is nietemin netjies op dreef, met drie agtereenvolgende seges in slegs 10 dae. Vernaam die Monties se lostrio, gelei deur agsteman, Eric Potgieter, bied ‘n taamlike uidaging vir die Volkies se pak.

    Die span van Potchefstroom het egter reeds gewys dat hy die kastaiings uit die vuur kan krap, soos wat die geval was in verlede naweek se naelskraapse oorwinning met een punt oor Bergsig Akademie. Heelagter, Anro Nel, beskik oor die vermoë om van enige plek op die veld dodelike teenaanvalle te loods en sal met ‘n valkoog dopgehou moet word.

    Bergsig Akademie is oorgehaal om hierdie week sy eerste sege van die 2025-seisoen te behaal, en dit teen verlede jaar se naaswenners van die SDC Noordvaal Cup se Skild-afdeling, Hoërskool Lichtenburg. Die Arende het in hul laaste drie wedstryde met twee of minder punte in die stof gebyt.

    Die Liggies, daarenteen, het hul rondomtalie-ronde met ‘n oortuigende sege van 41-17 oor Hoërskool Jeugland afgesluit en sal verál voorlangs die pap dik aanmaak, met die veelsydige Juan van Rhyn aan die spits.

    Marais Viljoen t. Hoërskool Pietersburg om 15:15 in Alberton:

    Marais Viljoen: 15 Raynhardt Kruger, 14 Tristan Thom, 13 Juan van den Heever, 12 Jonno Morkel, 11 Kabelo Tlhoaele, 10 Claude do Couto, 9 Ethan Weideman, 8 Rio Tshimbalanga, 7 Tiaan van Huysteen, 6 Junior Mwengehya, 5 Clayton Gagiano, 4 Jermaine Crous, 3 Sifiso Shongwe, 2 Ondisa Njili, 1 Juan Cooper.

    Hoërskool Pietersburg: 15 Ryno Mienie, 14 Armandt Venter, 13 Basson Wolmarans, 12 Siya Manhlangu, 11 Keanu Potgieter, 10 Juan Randell, 9 Celliers van der Merwe, 8 Ludke Pienaar, 7 Juan Janse van Vuuren, 6 Andru de Beer, 5 FC Smith, 4 Brent Vorster, 3 Elardus Erasmus, 2 Ziahn Lombaard, 1 Kyle Swanepoel.

    Potchefstroom Volkskool t. Montana om 13:50 in Alberton:

    Potchefstroom Volkskool: 15 Anro Nel, 14 Theunis Nel, 13 Hennie Pretorius, 12 River Samuals, 11 Juan Fourie, 10 Lorenzo Louw, 9 Juhan Geldenhuys, 8 Johannes Lombaard, 7 Marlu du Preez, 6 Wian Victor, 5 Stef Schoeman, 4 Joshua van der Westhuizen, 3 De Waal Coetzer, 2 Louis Fourie, 1 AB Brink

    Montana: 15 Marq de Villiers, 14 Keagan van der Merwe, 13 Luan Barnard, 12 Hendrew Schoeman, 11 Juan Alexander, 10 Rubel Bester, 9 Braam Schutte, 8 Eric Potgieter, 7 Ulrich van Biljon, 6 Dieter Scheepers, 5 Kyle Bronkhorst, 4 Victor Carr, 3 Xandré le Roux, 2 Aiden Vorster, 1 Aiden van der Made.

    Bergsig Akademie t. Hoërskool Lichtenburg om 11:10 in Alberton:

    Bergsig Akademie: 15 Alzandro Dos Santos, 14 Keabetswe Daile, 13 Bradley Stonehous, 12 Dan Bogopane, 11 Heinrich Krugel, 10 Carlo de Jager, 9 Paulo Dos Santos, 8 Stephan Harmse, 7 Thatano Bagwase, 6 Christiaan de Abreu, 5 Martin Pieterse, 4 Jacques Viviers, 3 Dylan Smith, 2 Marnus Dercksen, 1 Thabang Machubene.

    Hoërskool Lichtenburg: 15 Xander Blom, 14 Tehan Potgieter 13 Ruan Kroëse, 12 Oratile Sekoto, 11 Kuzi Mupudzi, 10 Luan Snyman, 9 Rea Motsusi, 8 KG Legodi, 7 Tiaan Booysen, 6 MC Shanahan, 5 Elje Kleynhans, 4 George Bingudza, 3 Duan Kruger, 2 Juan van Rhyn, 1 Armandt Pienaar.

  • Groot Klerksdorp-derby vroeër as verwag

    Groot Klerksdorp-derby vroeër as verwag

    Eduard Dreyer, losskakel van Hoërskool Wesvalia, lê aan pale toe. FOTO: Hoërskool Wesvalia op Facebook.

    Klerksdorp hoef nie meer tot 10 Mei te wag om ‘n kragmeting tussen Hoërskool Wesvalia en Hoërskool Klerksdorp te aanskou nie.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Dié twee plaaslike spanne kom hierdie naweek reeds by Wesvalia in ‘n reuse kragmeting, in die NWU Prestige-reeks se kwarteindronde, teen mekaar te staan.

    In die nr. 10-trui wag ‘n tweestryd soos min tussen die tuisspan se Eduard Dreyer en Brendin Mathyse van Klerksdorp, met albei dié generale wat oor hope ervaring en ondernemingsgees beskik. Boonop kan hul akkurate korrelwerk pale toe vir ‘n stryd binne ‘n stryd sorg en uiteindelik die verskil tussen wen en verloor beteken.

    In die agterste ry van die skrum gaan twee van die sterkste aanspraakmakers op die nr. 8-trui van die Luiperds se Cravenweekspan, Tiaan Koen (Klerksdorp) en Franco Dumond (Wesvalia), fisies sake uitspook op sowel die aanval as verdediging. Benewens die bedreiging wat Mathyse en Koen op die aanval inhou, sal die Wessie-agterlyn ook op hul hoede moet wees vir Klerksdorp se gevaarman in die middeveld, Winton Abrahams, wat op binnesenter teen Wian du Preez te staan kom.

    Hoërskool Zwartkop en die gevaarlike Hoërskool Die Anker durf mekaar reeds voor die Klerksdorp-derby in nóg ‘n fisieke stryd aan.

    Die Zwarries is steeds onoorwonne in vanjaar se reeks nadat hulle verlede naweek met die einste Klerksdorp en, Dinsdagaand in die reën, Hoërskool Hugenote van Springs afgereken het. Die Anker is self nie te versmaai nie en spog met ‘n indrukwekkende sege van 50-10 oor Potchefstroom Gimnasium, wat die ander spanne in die reeks laat reggop sit het. Die verskillende speelstyle van dié twee spanne behoort vir ‘n aangrypende 70 minute te sorg.

    Die pak van Brakpan sal sy stempel vroeg wil afdruk deur slot, Brendan van Lutterveld, en losskopstut, Branden Sauerman, terwyl die Zwarries die bal soveel en vinnig as moontlik by sy gevaarlike agterlyn, en spesifiek die snellers op die punte, Luan Isaacs en Zulu Mona, sal wil uitkry. In die middelveld kan die stryd tussen die Zwarries se vlugvoetige Justin Julies en die ewe ratse Edrick Pienaar van Die Anker ook vir vuurwerke sorg.

    Die spanne:

    Wesvalia t. Hoërskool Klerksdorp om 15:30 in Klerksdorp

    Wesvalia: 15 Henco Greyling, 14 Stephan Pelser, 13 Jeandré Snyman, 12 Wian du Preez, 11 Fafa Calitz, 10 Eduard Dreyer, 9 Barry Niemand, 8 Franco Dumond, 7 Christiaan Swanepoel, 6 Quewen Fourie, 5 JP Hatting, 4 Deacon Kath, 3 Charl du Preez, 2 Fanie Linde, 1 Ignus Nel.

    Hoërskool Klerksdorp: 15 Dorian Isaacs, 14 Tyran Masango, 13 Marco Symington, 12 Winton Abrahams , 11 Jayden Turner, 10 Brendin Mathyse, 9 Jarred van Staden, 8 Tiaan Koen, 7 Marnus van der Merwe, 6 Karabelo Maseka, 5 Juan Hills, 4 Abrie Esterhuizen, 3 Zander Nienaber, 2 Rionaldao Joubert, 1 De Wet le Roux.

    Zwartkop t. Die Anker om 12:40 in Klerksdorp:

    Zwartkop: 15 Stiaan Botha, 14 Luan Isaacs, 13 Justin Julies, 12 David van Jaarsveld, 11 Zulu Mona, 10 Tilon Baron, 9 Luan Janse van Rensburg, 8 Wihan Roux, 7 Luan Wepener, 6 Brian Smith, 5 Jethro le Roux, 4 Ettienne van Nieker, 3 AJ Hendrick, 2 Reagan Blignaut, 1 Matthew Smith.

    Die Anker (moontlik): 15 Paul Schutte, 14 Dullon le Roux, 13 Arno Krugel, 12 Edrick Pienaar, 11 Jonothan Jordaan, 10 Danie Smit, 9 Jean Blignaut, 8 Jaydon Steenkamp, 7 Markus Herbst, 6 Byron van Zyl, 5 Brendan van Lutterverld, 4 Gerhard Oosthuizen, 3 Xavier Momberg, 2 Rico Goosen, 1 Branden Sauerman

    Ander wedstryde:

    Heidelberg Volkskool t. Jeugland om 12:30 in Klerksdorp:

    Heidelberg Volkskool: 15 Theuns van der Merwe, 14 Jason Brits, 13 Jeandré Pretorius, 12 Tristan Munro, 11 JV Badella, 10 Marco Botha, 9 Hein Oelofse, 8 Jaco Botha, 7 Eduard Roets, 6 Klaas Venter, 5 Juan de Villiers, 4 Jano Dietrechsen, 3 Werner Grobler, 2 Henru Coetzer, 1 Dean Last.

    Jeugland: 15 Kokets Maphopa, 14 Beya Nyathi, 13 Andrew Khoza, 12 Innocent Vilakazi, 11 Thando Ngomane, 10 King Agbanzo, 9 Zaydene Adams, 8 Jaden Kleyn, 8 Jaden Kleyn, 7 Alec Mohlala, 6 Joseph Ngoma-Ngoma, 5 Nivan Duvenhage, 4 Daniel Wawina, 3 Khumo Maimane, 2 Lesego Moitse, 1 Phenyo Nkoana.

    Hugenote van Springs t. Wagpos om 14:00 in Klerksdorp:

    Hugenote (Springs): 15 Christaan Basson, 14 Andile Dhlamini, 13 Yovan Prinsloo, 12 Dylan Nel, 11 Kyle de Klerk, 10 George Lucas, 9 Thanyani Mokiri, 8 Euan Venter, 7 Luan Pretorius, 6 Arné Marais, 5 André Coetzee. 4 Tristan de Beer, 3 Wian Rudolph, 2 Luan Smit, 1 Franko Neuhoff.

    Wagpos: 15 AJ Nieman, 14 Franco Dippenaar, 13 Pieter Steenkamp, 12 Heinrich Wiehanh, 11 Arrie Joubert, 10 JG Olckens, 9 Myburg Henning, 8 Hendrik de Jager, 7 David van Breda, 6 Dian Coetzee, 5 Dilan Strauss, 4 Wian Botha, 3 Markus Schramm, 2 Adriaan Venter, 1 Armant Botha

  • Parkies weer gunsteling vir eindstryd

    Parkies weer gunsteling vir eindstryd

    FOTO: Frans Lombard/Actionpix

    Die streeptruie van Die Hoërskool Menlopark se eerste span kan vanjaar weer prominent vertoon in die NWU Sportreeks se eindstryd.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die Parkies het verlede jaar se reeks as naaswenners afgesluit, nadat hulle teen Hoërskool Waterkloof in die eindstryd die aftog moes blaas, maar is steeds as die Sportreeks se voorste rugbyskool gekroon danksy die junior spanne se resultate wat saam met dié van die eerste span in berekening gebring is.

    In vanjaar se reeks, het Menlopark nog nie een keer minder as 50 punte in ‘n wedstryd aangeteken nie, wat hom ‘n taamlike sterk aanspraakmaker op die titel maak.

    Die Parkies sal nietemin verby ‘n gedugte teenstander in Hoërskool Transvalia moet kom vir ‘n tweede hap van die kersiekoek.

    Hoewel die span van Vanderbijlpark nog slegs een keer vanjaar in aksie was, teen Hoërskool Middelburg, het hy nietemin beïndruk deur ‘n sterk Middies-span met 28-21 te troef.

    Die kragmeting voorlangs behoort oudergewoonte die momentum van die wedstryd te bepaal, met vernaam die die slotstryd tussen Parkies se Keagen Pretorius en Christiaan Liebenberg van Valia wat vir vuurwerke kan sorg. Valia se steelkantflank, Daniel Kazambo, is ook witwarm en sal met ‘n valkoog dopgehou moet word.

    Nuus uit Middelburg is dat Cravenweek-loskakel en puntemasjien, Matthew Abbey, weer terugkeer vir die Hoërskool Middelburg se beginspan teen Hoërskool Eldoraigne. Benewens sy akkurate korrelwerk pale toe, bring Abbey heelwat slaankrag op die aanval.

    Die Drake het geen veranderinge gemaak aan die span wat vir Hoërskool Piet Retief met 40-34 geklop het nie, dus sal loskopstut, Marnes Prinsloo, en steelkantflank, Justin Meintjies, weer die pap dik aanmaak voorlangs.

    Hoërskool Kempton Park is vir die eerste vanjaar uiteindleik voor sy tuisskare in aksie wees, wanneer hy die onvoorspelbare Hoërskool Piet Retief op die Oos-Rand verwelkom. Losskakel, Stian de Villiers, het nie alleen ‘n kritieke rol om te vertolk met sy instinktiewe visie op die aanval nie, maar ook met die stewel, terwyl heelagter, Ben Steyn, groot gevaar inhou vir die span van Mpumalanga met sy teenaanvalle.

    Die spanne:

    Hoërskool Menlopark t. Hoërskool Transvalia om 17:30 in Kempton Park:

    Menlopark: 15 Reinhardt Herbst, 14 Bladen Petersen, 13 Leskin Samuels, 12 Dylan Stumke, 11 Lucian Read, 10 Andru Keun, 9 Gustav Shäffner, 8 Jannes Eksteen, 7 Ruan Strydom, 6 Nathen du Plessis, 5 Xander Roets, 4 Keagen Pretorius, 3 Ruvan van Aardt, 2 Declen Pelser, 1 Mattheus Prinsloo.

    Transvalia: 15 Dave Mtizi, 14 Dihan Crause, 13 Brandon Matthews, 12 Declan Hattingh, 11 Tumi Moloi, 10 Jayden van Eden, 9 Johan Smit, 8 Caylan McLaughlin, 7 Daniel Kazambo, 6 Juan Bischoff, 5 Christiaan Liebenberg, 4 Kyle Maartens, 3 Damian van Heerden, 2 Wihandré Kruger, 1 Vusi Morathi.

    Hoërskool Middelburg t. Hoërskool Eldoraigne om 15:50 in Kempton Park:

    Hoërskool Middelburg: 15 Lesego Rakale, 14 Bulelani Mcira, 13 Jaco Truter, 12 Lungelo Maseko, 11 Hlapo Sebapu, 10 Matthew Abbey, 9 Keabetswe Nkgadima, 8 Henco Jansen van Rensburg, 7 Wihan Jordaan, 6 Rico van Niekerk, 5 Zanemphilo Mahlangu, 4 Jabu Mathebula, 3 Dewald du Toit, 2 Roux Grobler, 1 Wian Olwagen

    Eldoraigne: 15 MJ Buitendag, 14 Tristan Lee, 13 Hanno Jacobs, 12 Ethan Beyer, 11 Hugo Theron, 10 Damian Elferink, 9 Darren Bruwer, 8 Esdee Kotze, Justin Meintjies, 6 Cameron Killian, 5 MC Scheepers, 4 Jadon van Rooyen, 3 Chase Wessels, 2 Jean de Villiers, 1 Marnes Prinsloo.

    Hoërskool Kempton Park t. Hoërskool Piet Retief om 14:10 in Kempton Park:

    Hoërskool Kempton Park: 15 Ben Steyn, 14 Guillaume Botha, 13 Ethan Botha, 12 Jethro Williams, 11 Ettiene Stroebel, 10 Stian de Villiers, 9 Ferdi Smit, 8 Ruan Mostert, 7 Marko van der Walt, 6 Matthew Vermaak, 5 Reinhardt Pretorius, 4 Louis Mouton, 3 Juan Olivier, 2 Damian Slabbert, 1 Piet van der Heever.

    Hoërskool Piet Retief: 15 Buhle Ngubane, 14 Spephelo Phakathi, 13 Siphosethu Sibisi, 12 Gilles van der Meulen, 11 Vuyani Tshabalala, 10 Owethu Shabalala, 9 Kyle Stock, 8 Fiso Methula, 7 Melo Xulu, 6 Lethu Hlope, 5 Prince Mahlangu, 4 Avongwe Maduna, 3 Aza Phakathi, 2 Wayne Mitchell, 1 Sfundo Mayisa.

  • Rooi Bulle het verdedigende kampioen in visier

    Rooi Bulle het verdedigende kampioen in visier

    FOTO: Sone Rowe Photography.

    Hoër Tegniese Skool Middelburg durf hierdie week die verdedigende kampioen van die NWU Sportreeks, Hoërskool Waterkloof, aan in een halfeindstryd.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die Rooi Bulle, wat vanjaar reeds twee van die Noordvaal se groothonde, Hoërskool Dr. EG Jansen en Hoërskool Nelspruit, stert tussen die bene huis toe gestuur het, het na vore getree as ‘n sterk aanspraakmaker op vanjaar se Sportreeks-titel.

    Boonop geniet hulle tuisveldvoordeel in Vrydag se halfeindronde wat in Middelburg aangebied word.

    Die Klofies gaan egter nie ‘n maklike hekkie wees om oor te kom nie en is self steeds onoorwonne, met seges oor Hoërskool Ben Vorster, in Tzaneen, en Hoërskool Oos-Moot – laasgenoemde ‘n naelskraapse tuisoorwinning van 24-21. Die Rooi Bulle bied hul grootste toets tot dusver vanjaar.

    Die vernaamste uitdaging vir die besoekers uit die Jakarandastad is om die Middelburgers se pak te probeer tem. Indien hulle voorlangs die septer kan swaai, sal dit die druk na die Rooi Bulle se agterlyn verplaas.

    Die voorspelerstryd sal ongetwyfeld deur die tuisspan se agsteman, Tercuis Bezuidenhout, en Waterkloof-haker, Ruan Jacobs, aangevuur geword. Albei is uiters ervare en het verlede jaar reeds sleutelrolle in hul onderskeie spanne se suksesverhale vertolk. In die skrums kan die vonke spat tussen Jedri Swart, die Pretorianers se vaskopstut, en Janco Botha, wat op loskop vir die tuisspan sak.

    Voorts kan die tweestryd tussen die stelskoppers, Klofies se kaptein, Ronan Bastiaanse, en WJ Enslin van Middelburg, bepalend wees. Dit is op stuk van sake uitkloprugby, met elke punt wat goud werd is.

    Hoërskool Oos-Moot kom teen die krag van Hoërskool Nelspruit te staan. Die Rhinos het gewys waartoe hulle in staat is verlede naweek teen EG Jansen, deur ‘n naelbytstryd met 24-22 deur te trek danksy ‘n uitstaande vertoning deur losskakel, John Duncan. Duncan sal weereens ‘n gevaarman op die aanval wees.

    Goeie nuus uit Oos-Moot se kamp is dat sy Cravenweek-senter, Dewron Afford, op die plaasvervanger bank is. Afford, ‘n sleutelfiguur vir die span van die Moot, sal straks vroeër eerder as later deur die Pretorianers se afrigtingspan betrek word.

    EG Jansen is steeds soekende na ‘n eerste oorwinning in vanjaar se reeks. Hy sal egter moet uithaal en wys indien hy hoop om Hoërskool Ben Vorster die loef af te steek. Die Buffels het teen verwagtinge in beïndruk as een van die minder bekende spanne in die liga en ‘n sege oor die Boksburgers sal nóg ‘n reuse pluimpie in die hoed van die span van Tzaneen wees.

    Die spanne:

    HTS Middelburg t. Hoërskool Waterkloof om 16:10 in Middelburg:

    HTS Middelburg: 15 WJ Enslin, 14 Kwanele Mkhize, 13 Jacques Greyling, 12 Johnny Dos Santos, 11 CJ Muller, 10 Nathan Janse van Vuuren, 9 Reece Botha, 8 Tercius Bezuidenhout, 7 Ethan de Kock, 6 Dewan Coetzee, 5 Griffin Devonish, 4 Janco Aucamp, 3 Marinus Oberholzer, 2 Hanro Terblanche, 1 Janco Botha.

    Waterkloof: 15 Ronan Bastiaanse, 14 Jaiden Badenhorst, 13 Danré Tustin, 12 Rico van der Walt, 11 Dylan Botha, 10 Meyer Pretorius, 9 Zack Jordaan, 8 Dawid Prinsloo, 7 Phillip Mans, 6 Divan Botha, 5 Heinrich Naudé, 4 JJ Brits, 3 Jedri Swart, 2 Ruan Jacobs, 1 Alexander Elliot.

    Hoërskool Oos-Moot t. Hoërskool Nelspruit om 14:30 in Middelburg:

    Oos-Moot: 15 Jayden Pretorius, 14 Dino Collinson, 13 Drew Williams, 12 Jaydon Botha, 11 LJ Vaughan, 10 Royston Arendse, 9 David Fourie, 8 Owen Basson, 7 Pema Bramley, 6 Clayton du Bruyn, 5 Riyaan Wilson, 4 Stian van der Venter, 3 Jandré de Beer, 2 Thando Telelo, 1 Divan du Preez.

    Hoërskool Nelspruit (moontlik): 15 Jean Erasmus, 14 Jordan Pretorius, 13 Ruben Greeff, 12 Gideon Gilliland, 11 Tinyiko Silubane, 10 John Duncan, 9 Kamo Monkwe, 8 Vaughn van Zyl, 7 Vian Louw, 6 Prosper Chillione, 5 Werno Heyns, 4 Ethan Esterhuizen, 3 Gert Cloete, 2 Dhandré van Wyk, 1 Lindani Ndlela.

    Hoërskool Dr. EG Jansen t. Hoërskool Ben Vorster om 12:50 in Middelburg:

    EG Jansen: 15 Deshean Pietersen, 14 Jayden du Preez, 13 Christopher Combrink, 12 Nathan Delport, 11 Zulu Otlatleng, 10 Zain Ueckermann, 9 JP Jooste, 8 Breyton Kruger, 7 Jacques van Tonder, 6 Craig Lightfoot, 5 Breyton Kruger, 4 Clayton du Buisson, 3 Deveraux Weideman, 2 Marco Ventura, 1 Ruan Russouw.

    Ben Vorster: 15 Phetogo Shubane, 14 Miguel Makhubupetsi, 13 Chifu Banda, 12 Gehan Hendriks, 11 Lethabo Sejake, 10 Shelton Primo, 9 Stiaan du Randt, 8 Tumi Ramohlale, 7 Joshua van der Mescht, 6 Kobus de Beer, 5 Lourens Harmse, 4 Lesedi Motseki, 3 Randy Magabe, 2 Ruben Pohl, 1 Thabang Nkuna.

  • Monnas begin nuwe hoofstuk op wennoot in Welkom

    Monnas begin nuwe hoofstuk op wennoot in Welkom

    FOTO: Marius Nortjé.

    Hoërskool Monument het ‘n nuwe era Saterdag op ‘n wennoot ingelui teen Welkom Gimnasium, in Welkom.

    Herleef al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die Monumentare het uiteindelik, in ‘n kragmeting wat aanvanklik gesukkel het om die gang te kom, met 38-27 oor die Gimmies van Welkom geseëvier.

    Die ervare Vince Roberts het op agsteman die leiding geneem en was oudergewoonte uiters fisiek met bal in hand en ‘n moeilike kalant om grond toe te bring.

    Robberts en losskakel, Jaydon Viljoen, wat spel netjies dikteer het agterlangs, het elkeen ‘n tweekuns aan drieë behaal. Viljoen het ook uitstekende diens van skrumskakel, Evan Bernhardi, ontvang.

    Die Gimmies se vaskopstut, Julius Makhanda, het egter nie teruggedeins vir die Monumentare se fisieke aanslag nie. Hy het floreer in kontak, het die bal met mening gedra en oorgebars vir een van sy span se drie drieë.

    Agterlangs het binnesenter, Dylan Titus, die Wit Bulle se middeveld dikwels getoets, terwyl linkervleuel, Vusi Ndayi, die verdediging laat bontstaan het met blitsige lopies langs die kantlyn af.

    Hoërskool Secunda se agtsteman, Renier Combrick, het ‘n driekuns aan drieë behaal om sy span tot ‘n spogsege van 34-12 oor Merensky Landbou Akademie aan te vuur. Die span van Secunda se pak het op al agt silinders gevuur om die Plasies voorlangs te karnuffel, met nóg twee drieë wat deur voorspelers, Nathan Erasmus (loskopstut) en Rico Fourie (haker), gedruk is.

    Die Plasies se losskakel en stelskopper JD Boshoff, het nietemin die tuisspan laat boet vir swak dissipline en was verantwoordelik vir al die Plasies se punte met vier strafdoele.

    Dit is duidelik hoekom daar vanjaar opgewondenheid heers by Hoërskool Noordheuwel oor sy eerste rugbyspan. Die Blues het in hul eerste wedstryd, tuis op die “Heuwel”, ‘n taamlike stelling gemaak deur vir Hoërskool Rustenburg met 40-14 die loef af te steek.

    Noordheuwel se agttal dwing groot gesag af, terwyl teenstanders ook hul keer agterlangs sal moet ken met Jeandré Uithaler wat ‘n spelskepper van formaat is.

    Dié wedstryd se puntemakers volg kortliks.

    Puntemakers:

    Monument 38 (14) – Drieë: Jaydon Viljoen (2), Vince Roberts (2), Kamogelo Katisa, Juandré Ehlers. Doelskoppe: Viljoen (3), Caylum Schooney. Welkom Gimnasium 27 (7) – Drieë: Julius Makhanda, Dillon Titus, Vusi Nday, Strafdrie. Doelskop: Jaydewin Solomons. Strafdoel: Solomons.

    Hoërskool Secunda 34 (17) – Drieë: Renier Combrink (3), Nathan Erasmus, Rico Fourie, Zander van der Merwe. Doelskoppe: Alonzo Blackenberg (2). Merensky 12 (12) – Strafdoele: JD Boshoff (4).

    Ander Eerstespan-uitslae:

    Krugersdorp – Noordheuwel 40, Hoërskool Rustenburg 14.

    Ander spanne:

    o.16: Monument 62, Welkom Gimnasium 0; Hoërskool Secunda 29, Merensky 21; Noordheuwel 20, Hoërskool Rustenburg 6.

    o.15: Monument 48, Welkom Gimnasium 0; Hoërskool Secunda 34, Merensky 17; Noordheuwel 17, Hoërskool Rustenburg 7.

    o.14: Monument 64, Welkom Gimnasium 5; Hoërskool Secunda 29, Merensky 0; Noordheuwel 12, Hoërskool Rustenburg 0.

  • Zwarries kraai koning met hardlooprugby

    Zwarries kraai koning met hardlooprugby

    FOTO: Marius Nortjé.

    Hoërskool Zwartkop het Saterdag voet in die hoek gesit ná rustyd om die besoekende Hoërskool Klerksdorp ore aan te sit in sy eerste uitstappie in vanjaar se NWU Prestige-reeks, tuis in Centurion.

    Herleef al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die Zwarries, wat met die omdraaislag met slegs 17-15 voorgeloop het, het daarna 19 punte, teenoor die vyf van Klerksdorp, aangeteken om met 39-20 as oorwinnaars uit die stryd te tree.

    Die eerste 35 minute het ‘n fisieke stryd afgegee, vernaam tussen die twee pakke voorspelers, maar die Zwarries het stelselmatig hul ritme agterlangs begin vind.

    Met haker, Reagan Blignaut, aan die spits, het die pak die nodige grondslag gelê, wat die skakelpaar van Tilon Baron en Luan Janse van Rensburg toegelaat het om die agterlyn op die voorvoet te plaas. Baron se visier vanaf die skopkegel was ook ingestel en hy was in die kol met vier doelskoppe en twee strafdoele.

    Baron se losskakel-eweknie, Brendin Matthyse, was ewe indrukwekkend met sy korrelwerk pale toe, en het sy span se enigste twee drieë verdoel en met twee uitdagende strafskoppe geslaag om die telbord aan die rol te hou.

    Bergsig Akademie het vir die derde agtereenvolgende keer met twee punte of minder in die stof gebyt. Hierdie keer was dit Potchefstroom Volkskool wat die Rustenburgers se harte in die doodsnikke gebreek het.

    Die Volkies, wat met 31-30 die pyp gerook het, het kanse om foute deur die tuisspan uit te buit aangegryp, soos toe heelagter, Anro Nel, ‘n afgestormde bal opgepik het om deur te dartel vir ‘n vyfpunter. Die Arende se regtervleuel, Keabetswe Diale en vaskopstut, Dylan Smith het nietemin hand opgesteek vir Bergsig en is elk met ‘n tweekuns beloon.

    Die Volkies se toekomstige teenstanders sal egter moet ligloop vir die skopskoen van skrumskakel, Juhan Redelinghuys. Redelinghuys het met ál vier doelskoppe geslaag en met ‘n strafdoel die laaste spyker in die Arende se kis gemoker.

    Die stryd tussen Hoërskool Pietersburg en Heidelberg Volkskool het duidelik vir ‘n drieëfees gesorg, met die Pieties wat met 43-34 die botoon gevoer het. Die Pieties het in die vaste fasette die oorhand geniet, danksy kragtige vertonings deur die stutte, Krissie Swanepoel en Stephan Janse van Rensburg, wat grotendeels verantwoordelik was vir die besoekers se formidabele dryfmaalbewegings waarvoor die Volkies nie ‘n teenvoeter gehad het nie.

    Hoërskool Die Anker het weereens sy stem dik gemaak op sy tuisveld in Brakpan en sewe keer agter Potchefstroom Gimnasium se doellyn gaan kuier om die besoekers ‘n loesing van 50-10 toe te dien. Dié wedstryd se puntemakers volg kortliks.

    Puntemakers:

    Zwartkop 39 (17) – Drieë: Jethro le Roux, Luan Janse van Rensburg, Reagan Blignout, Luan Isaacs, Shayden Botha. Doelskoppe: Tilon Baron (4). Strafdoele: Baron (2). Hoërskool Klerksdorp 20 (15) – Drieë: Tiaan Koen, Jarred van Staden. Doelskoppe: Brendin Matthyse (2). Strafdoele: Matthyse (2).

    Potchefstroom Volkskool 31 (14) – Drieë: Lethabo Riet, Lorenzo Louw, Anro Nel, Stef Schoeman. Doelskoppe: Juhan Geldenhuys (4). Strafdoel: Geldenhuys. Bergsig Akademie 30 (15) – Drieë: Kia Diale (2), Dylan Smit (2), Bradley Stonehouse. Doelskop: Carlo de Jager. Strafdoel: De Jager.

     Hoërskool Pietersburg 43 (24) – Drieë: Ziahn Lomaard, Stephan Jansen van Renburg, Basson Wolmarans, Armand Venter, Ryno Mienie, Strafdrie. Doelskoppe: Mienie (3), Keanu Potgieter. Strafdoel: Mienie. Heidelberg Volkskool 34 (12).

    Ander Eerstespan-uitslae:

    Brakpan – Die Anker 50, Potchefstroom Gimnasium 10. 

    Ander spanne:

    o.16: Hoërskool Klerksdorp 44, Zwartkop 34; Heidelberg Volkskool 14, Hoërskool Pietersburg 13; Potchefstroom Volkskool 27, Bergsig Akademie 12.

    o.15: Zwartkop 20, Hoërskool Klerksdorp 17; Die Anker 31, Potchefstroom Gimnasium 18; Hoërskool Pietersburg 41, Heidelberg Volkskool 5; Bergsig Akademie 31, Potchefstroom Volkskool 7.

    o.14: Zwartkop 13, Hoërskool Klerksdorp 12; Potchefstroom Gimnasium 15, Die Anker 10; Heidelberg Volkskool 5, Hoërskool Pietersburg 0; Bergsig Akademie 54, Potchefstroom Volkskool 0.