SSPN Test Site

Author: froberholzer

  • Bethlehem skuif reg vir Rusties se besoek

    Bethlehem skuif reg vir Rusties se besoek

    FOTO: Marius Nortjé

    ‘n Stryd tussen twee avontuurlustige agterlyne beloof om Saterdag aanskoulike hardlooprugby op Hoërskool Witteberg se tuisveld op te lewer.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die span van Bethlehem verwelkom die gevaarlike groen golf, naamlik Hoërskool Rustenburg, vir ‘n vriendskaplike ontmoeting ter voorbereiding van die onderskeie ligas wat eersdaags afskop.

    Witteberg het reeds beïndruk deur Hoërskool Wesvalia verlede naweek, in gietende reën en op ‘n modderbad in Klerksdorp, met 22-7 te tem. Die kliniese vertoning deur vernaam sy agttal, onder leiding van slot en kaptein, Pieter Nel, sou die Rusties se afrigtingspan laat regop sit het, maar die vertoning deur Witteberg se twee senters het verál die wenkbroue laat lig.

    Sedwin Gysman en JC van Rhyn het deurentyd met fisieke barslopies hul span oor die voordeellyn gekry en dit beloof om Saterdag ‘n liplekker-stryd met die Rusties se senterpaar, Hendré Robinson en Jonré Jefthas, af te gee.

    Vernaam Jefthas sal fyn dopgehou moet word deur die tuisspan se verdediging, aangesien hy nie alleen ‘n kragtige baldraer is nie, maar ook oor heelwat vaart beskik. Sy venynige voetwerk het dikwels vir Hoërskool Trio, in die Rusties se sege van 17-14 sege in Rustenburg, onverhoeds betrap.

    Daar rus ook heelwat verantwoordelikheid op die besoekers se heelagter, Lorenzo Snyers, wat, nes Jefthas, bedrieglik is met bal in hand en ‘n groot gevaar inhou met sy teenaanvalle van agter.

    Merensky Landbou Akademie loods sy 2025-veldtog op die plaas in Tzaneen teen Hoërskool Nylstroom, wat ‘n gedugte begin-vyftiental in die veld stoot. Die veelsydige Maritz Meinjies voer die Ligbloues uit die agterlyn aan en, hoewel hy verlede jaar naam gemaak het op heelagter, is hy vanjaar op binnesenter in aksie. Aan Meintjies se buitekant wag die blitsige Jens Bezuidenhout op die besoekers van Nylstroom.

    Voorlangs sal haker, Carel Volschenk, Meintjies se onderkaptein en ook hoofseun van die trotse Landbouskool, die aanslag lei, met bystand van die breker-slot, Craig Walker, wat die Nylies deurlopend besig behoort te hou.

    Die spanne:

    Witteberg t. Hoërskool Rustenburg om 13:30 in Bethlehem:

    Witteberg: 15 Qlin Booyse, 14 Donay Williams, 13 JC van Rhyn, 12 Sedwin Gysman, 11 Kenyon Morat, 10 Tshepo Motloang, 9 Christiaan de Boer, 8 Daniel Meintjies, 7 JP Cronje, 6 Divan Marais, 5 Jacques Jordaan, 4 Pieter Nel, 3 Mila Oersen, 2 Rico van Vuuren, 1 Cobus Labuschagne.

    Hoërskool Rustenburg: 15 Lorenzo Snyers, 14 Raqiel Jaftha, 13 Jonré Jefthas, 12 Hendré Robinson, 11 Wes van Loggerenberg, 10 Wade Daivey, 9 Adriano George, 8 Donnie Moster, 7 Dirk Huisamen, 6 Pieta Niemandt, 5 Evan van Heerden, 4 Tristan Myburgh, 3 Ockert Grobler, 2 Xavier Steenkamp, 1 Carel Schoonraad

    Merensky t. Hoërskool Nylstroom in Tzaneen:

    Merensky: 15 George Steenkamp, 14 Armand Eloff, 13 Jens Bezuidenhout, 12 Maritz Meintjies, 11 Christo Venter, 10 JD Boshoff, 9 Muis Tolken, 8 Mukhetwa Musundwa, 7 PG Botes, 6 Jan Pretorius, 5 Craig Walker, 4 Blessing Mathebula, 3 Leander Burger, 2 Carel Volschenk, 1 Otto Muller.

    Nylstroom: TBC

  • Nuwe generasie Hugies oorgehaal om Klerksdorp op horings te neem

    Nuwe generasie Hugies oorgehaal om Klerksdorp op horings te neem

    FOTO: Marius Nortjé.

    Na twee jaar waarin name soos dié van Hennie Eybers en Tyron Hand op almal se lippe was wanneer daar van Hoërskool Hugenote van Springs gepraat is, is dit nou tyd vir die jonger generasie Hugie-sterre om hul merk te maak.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die span van die Oos-Rand skop Saterdag sy veldtog in die NWU Prestige-reeks af teen ‘n gedugte Hoërskool Klerksdorp, op laasgenoemde se tuisveld – met slegs drie oorblywende spelers van verlede jaar se eerste span.

    Die Klerksdorpers beskik op hul beurt oor ‘n paar gevaarmanne, waarvan een Winton Abrahams. Abrahams het in 2024 die veld aan die brand gespeel op buitesenter, maar skuif vanjaar na binnesenter om nader aan die aksie te wees. Marques Jantjies sluit hom by Abrahams in die middeveld aan en is vasberade om die nr. 13-trui sy eie te maak.

    Voorlangs is die klipharde en betroubare agsteman, Tiaan Koen, terug op sy pos aan die agterkant van die skrum .

    George Lucas moet spel op losskakel dikteer vir die Hugies en het verlede jaar reeds ‘n vername rol gespeel met sy uitstekende visie en neus vir die kleinste van gapings. Voorlangs bied oopkantflank, Arné Marais, en losskopstut, Franko Neuhoff, verdere ondervinding om die Hugie-pak op die voorvoet te kry.

    Die naaswenners in die SDC Noordvaal Cup se Skild-afdeling, Hoërskool Lichtenburg, kry sy reeks op tuisbodem onderweg teen Hoërskool Montana. Die Monties het verlede week reeds ‘n oefenlopie teen Hoërskool Kempton Park geniet en is geensins nie te versmaai nie. Oopkantflank, Dieter Scheepers, se tweestryd met die venynige Liggie-agsteman, KG Legodi, beloof om vir groot opwinding by die afbreekpunte te sorg.

    Hoërskool Pietersburg het twee veranderinge aangebring aan die span wat verlede naweek vir Potchefstroom Volkskool met 13-6 geklop het. Die Pietersburgers verwelkom Bergsig Akademie in Limpopo se hoofstad. Ludke Pienaar skuif van agsteman na die middel van die skrum om op slot diens te doen, terwyl FC Smith sy plek in die nr. 8-trui inneem.

    Die Pieties sal hul keer moet ken met die Arende wat verlede naweek baie belowend op die aanval voorgekom het teen Heidelberg Volkskool in Rustenburg.

    Die einste Heidelberg Volkskool is weer op reis, dié keer na Potchefstroom waar hy teen Potchefstroom Volkskool te staan sal kom. Die besoekers het nie heeltemal hul beste voet voorgesit verlede naweek nie, wat hoofafrigter, Louwtjie Dalhouzie, genoop het om ‘n paar veranderinge aan te bring.

    Tristan Munro skuif van losskakel na binnesenter, met Marco Botha wat van heelagter inkom om die nr. 10-trui aan te trek. Dit bied vir Theuns van der Merwe geleentheid om sy staal op heelagter te wys.

    Die spanne:

    Hoërskool Klerksdorp t. Hoërskool Hugenote (Springs) in Klerksdorp:

    Hoërskool Klerksdorp: 15 Dorian Isaacs, 14 Tyran Masango, 13 Marques Jantjies, 12 Winton Abrahams, 11 D-Jee Treunich, 10 Brendin Mathyse, 9 Jarred van Staden, 8 Tiaan Koen, 7 Marnus van der Merwe, 6 Karabelo Maseka, 5 SG de Klerk, 4 Abrie Esterhuizen, 3 Zander Nienaber, 2 Rionaldao Joubert, 1 De Wet le Roux.

    Hugenote: 15 Christaan Basson, 14 Andile Dhlamini, 13 Yovan Prinsloo, 12 Dylan Nel, 11 Kyle de Klerk, 10 George Lucas, 9 Thanyani Mokiri, 8 Euan Venter, 7 Luan Pretorius, 6 Arné Marais, 5 André Coetzee. 4 Tristan de Beer, 3 Wian Rudolph, 2 Luan Smit, 1 Franko Neuhoff.

    Hoërskool Lichtenburg t. Montana in Lichtenburg:

    Hoërskool Lichtenburg: 15 Xander Blom, 14 Tehan Potgieter 13 Ruan Kroëse, 12 Oratile Sekoto, 11 Kuzi Mupudzi, 10 Luan Snyman, 9 Rea Motsusi, 8 KG Legodi, 7 Tiaan Booysen, 6 MC Shanahan, 5 Elje Kleynhans, 4 George Bingudza, 3 Duan Kruger, 2 Juan van Rhyn, 1 Armandt Pienaar.

    Montana: 15 Marq de Villiers, 14 Keagan van der Merwe, 13 Luan Barnard, 12 Hendrew Schoeman, 11 Sam Schoeman, 10 Rubel Bester, 9 Braam Schutte, 8 Ulrich van Biljon, 7 LJ Fourie, 6 Dieter Scheepers, 5 Kyle Bronkhorst, 4 Louan Erasmus, 3 Xandré le Roux, 2 Aiden Vorster, 1 Aiden van der Made.

    Hoërskool Pietersburg t. Bergsig Akademie in Polokwane:

    Hoërskool Pietersburg: 15 Ryno Mienie, 14 Armandt Venter, 13 Basson Wolmarans, 12 Siya Manhlangu, 11 Keanu Potgieter, 10 Juan Randell, 9 Celliers van der Merwe, 8 FC Smith, 7 Juan Janse van Vuuren, 6 Andru de Beer, 5 Ludke Pienaar, 4 Brent Vorster, 3 Stephan Jansen van Rensburg, 2 Zihan Lombaard, 1 Kyle Swanepoel.

    Bergsig Akademie (moontlik): 15 Alzandro Dos Santos, 14 Keabetswe Daile, 13 Bradley Stonehous, 12 Dan Bogopane, 11 Heinrich Krugel, 10 Carlo de Jager, 9 Paulo Dos Santos, 8 Stephan Harmse, 7 Thatano Bagwase, 6 Christiaan de Abreu, 5 Martin Pieterse, 4 Jacques Viviers, 3 Dylan Smith, 2 Marnus Dercksen, 1 Thabang Machubene.

    Potchefstroom Volkskool t. Heidelberg Volkskool in Potchefstroom:

    Potchefstroom Volkskool (moontlik): 15 Anro Nel, 14 Theunis Nel, 13 Hennie Pretorius, 12 River Samuals, 11 Juan Fourie, 10 Lorenzo Louw, 9 Juhan Geldenhuys, 8 Johannes Lombaard, 7 Marlu du Preez, 6 Wian Victor, 5 Stef Schoeman, 4 Joshua van der Westhuizen, 3 De Waal Coetzer, 2 Louis Fourie, 1 AB Brink

    Heidelberg Volkskool: 15 Theuns van der Merwe, 14 Jason Brits, 13 Jeandré Pretorius, 12 Tristan Munro, 11 JV Badella, 10 Marco Botha, 9 Hein Oelofse, 8 Jaco Botha, 7 Eduard Roets, 6 Klaas Venter, 5 Juan de Villiers, 4 Jano Dietrechsen, 3 Werner Grobler, 2 Henru Coetzer, 1 Dean Last.

  • Wessies wil tuis Die Anker ‘lig’

    Wessies wil tuis Die Anker ‘lig’

    Wesvalia se Franco Dumond beur oor die lyn teen Hoërskool Noordheuwel in die eindstryd van verlede jaar se NWU Prestige-reeks. FOTO: Marius Nortjé.

    Dit gee tradisioneel ‘n titaniese stryd af wanneer Hoërskool Wesvalia en Hoërskool Die Anker se paaie kruis, en hierdie naweek behoort geen uitsondering te wees nie.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Dié twee spanne pak mekaar Saterdag op die Wessies se tuisveld in Klerksdorp.

    Dit is boonop die span van Klerksdorp se eerste verskyning in vanjaar se NWU Prestige-reeks, terwyl Die Anker reeds verlede naweek ‘n wegholsege van 69-7 oor Hoërskool Wagpos behaal het in dié reeks.

    Die Klerksdorpers, wat in hul eerste amptelike wedstryd van die jaar met 7-22 teen Hoërskool Witteberg in ‘n sopnat Klerksdorp vasgeval het, is vasberade om na die wenpad terug te keer. Een van hul doelwitte is om vanjaar as kampioen van die Prestige-reeks gekroon te word en, met dit in gedagte, het hoofafrigter, Willem van der Sandt, besluit op ‘n paar taktiese skuiwe.

    Die blitsige Fafa Calitz skuif van binnesenter na heelagter, waar Wilson Letholi vir hom plek maak, terwyl Wian du Preez die nr. 12-trui oor die kop trek vir ‘n interessante tweestryd met Die Anker se gevaarlike Edrick Pienaar. Stephan Pelzer skuif op regtervleuel in, met Kea Bereng wat uitmis.

    Die span van Brakpan betree die stryd onveranderd, wat beteken dat twee grootname, die tuispan se Franco Dumond en die besoekers se kaptein, Ruben Herbst, mekaar op agsteman die stryd aansê.

    Potchefstroom Gimnasium se held in die SDC Noordvaal Cup se Bowl-eindstryd verlede jaar, Elrich Bosch, is weer op sy pos in die middeveld vir Gimmies se eerste wedstryd teen Hoërskool Wagpos, in Potchefstroom. Die Gimmies skop ‘n nuwe era af met hul nuutaangestelde rugbydirekteur en eerstespan-breier, Regardt Kleingeld, aan die stuur van sake.

    Die span van Potchefstroom bestaan in totaal uit nege matrieks en ses Graad 11-spelers, wat ‘n opwindende mengsel van ondervinding en jong bloed bied.

    Daar wag ook ‘n nuwe begin op Hoërskool Marais Viljoen wat sy reeks teen die onvoorspelbare Hoërskool Jeugland in Kempton Park afskop. Die span van Alberton het reeds ‘n kleedrepetisie teen Hoërskool Transvalia verlede naweek agter die rug, en, hoewel slegs ‘n oefenwedstryd, het Marais Viljoen vier pragdrieë ingeryg.

    Agsteman en kaptein, Rio Tshimbalanga, is ‘n sleutelfiguur vir Marais Viljoen, terwyl die woelige oopkantflank, Lloyd Shoko-Shenck, ook die tuisspan kan laat les opsê by die afbreekpunte.

    Die spanne:

    Wesvalia t. Die Anker om 12:30 in Klerksdorp:

    Wesvalia: 15 Fafa Calitz, 14 Stephan Pelser, 13 Jeandré Snyman, 12 Wian du Preez, 11 Martin Bierman, 10 Eduard Dreyer, 9 Barry Nieman, 8 Franco Dumond, 7 Tiaan de Kock, 6 Quewen Fourie, 5 JP Hattingh, 4 Deacon Kath, 3 Charl du Preez, 2 Fanie Linde, 1 Ulrigh du Preez.

    Die Anker: 15 Paul Schutte, 14 Dullon le Roux, 13 Arno Krugel, 12 Edrick Pienaar, 11 Jonothan Jordaan, 10 Danie Smit, 9 Jean Blignaut, 8 Ruben Herbst, 7 Jaydon Steenkamp, 6 Markus Herbst, 5 Brenden van Luuterverld, 4 Gerhard Oosthuizen, 3 Xavier Momberg, 2 Rico Goosen, 1 Branden Sauerman

    Potchefstroom Gimnasium t. Wagpos om 12:40 in Potchefstroom:

    Potchefstroom Gimnasium: 15 Joshua Pretorius, 14 MJ Potgieter, 13 Jandré Oosthuizen, 12 Elrich Bosch, 11 Rebaone Moalosi, 10 Zandré Da Silva, 9 MJ Viljoen, 8 De Wet Grobler, 7 Rynel Rautenbach, 6 Reuel Potgieter, 5 AP Muller, 4 Dirk Stear, 3 Matt Redelinghuys, 2 Kobus Grobbelaar, 1 Juandré Barends.

    Wagpos (moontlik): 15 AJ Nieman, 14 Franco Dippenaar, 13 Pieter Steenkamp, 12 Heinrich Wiehanh, 11 Arrie Joubert, 10 JG Olckens, 9 Myburg Henning, 8 Hendrik de Jager, 7 David van Breda, 6 Dian Coetzee, 5 Dilan Strauss, 4 Wian Botha, 3 Markus Schramm, 2 Adriaan Venter, 1 Armant Botha

    Jeugland t. Marais Viljoen om 12:30 in Kempton Park:

    Jeugland: 15 Kokets Maphopa, 14 Beya Nyathi, 13 Andrew Khoza, 12 Innocent Vilakazi, 11 Thando Ngomane, 10 King Agbanzo, 9 Zaydene Adams, 8 Jaden Kleyn, 8 Jaden Kleyn, 7 Alec Mohlala, 6 Joseph Ngoma-Ngoma, 5 Nivan Duvenhage, 4 Daniel Wawina, 3 Khumo Maimane, 2 Lesego Moitse, 1 Phenyo Nkoana.

    Marais Viljoen: 15 Raynhardt Kruger, 14 Marco Kunz, 13 Juan van den Heever, 12 Jonno Morkol, 11 Kabelo Tlhoaele, 10 Claude do Couto, 9 Ethan Weideman, 8 Rio Tshimbalanga, 7 Tiaan van Huysteen, 6 Lloyd Shoko-Schenk, 5 Clayton Gagiano, 4 Steffan Basson, 3 Sifiso Shongwe, 2 Ondisa Njili, 1 Juan Cooper.

  • Affies benader eerste hekkie van die jaar in Kimberley

    Affies benader eerste hekkie van die jaar in Kimberley

    Albert Smit voer ‘n stukkie rotsvaste verdediging uit in Affies se 2024-derby teen Hoërskool Garsfontein. FOTO: Frans Lombard

    Daar heers groot afwagting om te sien wat die Afrikaanse Hoër Seunskool vanjaar kan vermag, en Saterdagmiddag in Kimberley behoort reeds ‘n vroeë aanduiding te bied.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die span van Pretoria kom op gebruiklike wyse teen Hoërskool Diamantveld van Kimberley te staan in sy eerste wedstryd van die seisoen.

    In die vorige 11 kragmetings tussen dié twee spanne, waarvan die eerste in 1985, kon die Kimberliete nog nooit die oorhand oor die Wit Bulle kry nie.

    Affies het in dié eerste kragmeting, 40 jaar gelede, met 29-0 koning gekraai. Sedertdien het die Pretorianers deurentyd die hef in die hand gehad.

    Die tuisspan se selfvertroue het nietemin ‘n hupstoot ontvang met die dat hy reeds sy eerste twee wedstryde vanjaar gewen en die pak voorspelers wat belowend vertoon het.

    Diamantveld se eerste slagoffer was Hoërskool Fichardtpark wat met 25-7 verslaan is in Bloemfontein tydens die jaarlikse Fichardtpark-sportdag, en die afgelope Woensdag het Hoërskool Upington ook in die stof gebyt met die Diamonds wat met 36-27 die botoon gevoer het op die Uppies se tuisveld.

    Benewens die woelwater-flanke, Jayden de Klerk en Louis Fourie, beskik die Diamonds ook oor die dienste van binnesenter, Jonathan Harding, en die giftige heelagter, Clinton Brits, wat ‘n gaping ver oor die vlaktes van die Kalahari kan raaksien.

    Op papier het die Wit Bulle ‘n uitstaande begin-vyftiental. Ruben Groenewald, wat verlede jaar op heelagter diens gedoen het, draf in sy gunstelingposisie as losskakel op en voer ook vanjaar die Wit Bulle aan. Dit het ‘n reunie teweeggebring met skrumskakel, Zirk Meyer, met wie hy in die junior ouderdomsgroepe die wêreld aan die brand gespeel het.

    Dié skakelpaar neem stelling in agter ‘n gedugte agttal wat deur steenkantflank, Albert Smit, en agsteman, Stefan McDonald, se ondervinding gelei word. Vernaam Smit het verlede jaar reeds kookwaterspel vir die span van Pretoria opgedis en behoort oudergewoonte die vuur onder die Affie-pak aan te steek.

    Die spanne: 

    Diamantveld t. Afrikaanse Hoër Seunskool om 16:15 in Kimberly:

    Diamantveld: 15 Clinton Brits, 14 John-Leighton Fortuin, 13 Jaco Beukes, 12 Jonathan Harding, 11 Driaan Jacobs, 10 Duran Makoni, 9 Ruben van der Linde, 8 Enrique Boshoff, 7 Jayden de Klerk, 6 Louis Fourie, 5 Zuan Rautenbach, 4 MG van Greuning, 3 Dian Ellis, 2 Jaydrian Jacobs, 1 Bernard Daniels.

    Affies: 15 Lamont Baaidjies, 14 Rikus Strydom, 13 Nicolaas Grobler, 12 Divan Fourie, 11 Hugo Snyman, 10 Ruben Groenewald, 9 Zirk Meyer, 8 Stefan McDonald, 7 Albert Smit, 6 Lohan Potgieter, 5 Christiaan de Wet, 4 Elwin Janse van Vuuren, 3 Deon Botes, 2 Bauke Swart, 1 Roal Kruger.

  • Parkies betree onbekende terrein op Jack Botes, nuwe hoofstuk vir Kempies in Middelburg

    Parkies betree onbekende terrein op Jack Botes, nuwe hoofstuk vir Kempies in Middelburg

    FOTO: Riaan de Bruyn (RDB Photography).

    Die Hoërskool Menlopark betree relatief onbekende terrein Saterdag in Piet Retief wanneer hy Hoërskool Piet Retief op sy bekende Jack Botes-stadion aandurf.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die Parkies se huidige groep spelers het nog nie baie, indien enigsins, in Piet Retief gespeel nie, wat ‘n uitdaging op sigself bied.

    Hulle het nietemin vandeesweek reeds ‘n oortuigende oorwinning van 52-13 oor Hoërskool Eldoraigne agter die blad, wat genoegsame selfvertroue behoort te bied, maar Piet Retief is altyd ‘n gedugte teenstander op tuisbodem.

    Piet Retief sal Menlopark se kookwater-senter, Leskin Samuels, fyn moet dophou. Samuels het Dinsdag reeds aangedui dat hy vanjaar ‘n groot gevaarman in die Pretorianers se agterlyn sal wees, met ‘n uitstekende driekuns, asook rotsvaste verdediging in die middeveld.

    Sy sentermaat en kanonvoet, Dylan Stumke, in sy debuutjaar van eerstespan-rugby, vertoon ook reeds uiters gemaklik op dié hoër vlak van spel. Samuels en Stumke sal wel hul hande volhê met die tuisspan wat bekend is vir aanvallende rugby, verál wat die agterlyn betref.

    Die ervare losskakel, Owethu Shabalala, wat vir ‘n tweede jaar van eerstespan-rugby terugkeer, behoort die toutjies behendig  te trek vir Piet Retief, terwyl die fisieke steelkantflank, Melo Xulu, oorgehaal sal wees om die Parkies se intimiderende agttal aan te vat.

    Hoërskool Kempton Park se nuwe hoofstuk onder die nuutaangestelde rugbydirekteur, Henno Coetzee, skop dié naweek amptelik af in Middelburg, waar die Kempies met ‘n omgekrapte Hoërskool Middelburg te doen kry. Die span van Kempton Park het reeds verlede week ‘n oefenlopie teen Hoërskool Montana gehad om sy diepte te toets en dié oefenwedstryd met 33-27 gewen.

    Die Middelburgers het gewys wat in hulle steek deur Hoërskool Nelspruit, in Nelspruit, kwaai opdraande te gee. Haker, Roux Grobler, het die Middies se agttal met sy fisieke teenwoordigheid aangespoor, terwyl skrumskakel, Keabetswe Nkgadima, woelig was agter die pak en met ‘n valkoog dopgehou moet word.

    Die spanne:

    Hoërskool Piet Retief t. Menlopark om 13:30 in Piet Retief:

    Hoërskool Piet Retief: 15 Buhle Ngubane, 14 Spephelo Phakathi, 13 Siphosethu Sibisi, 12 Gilles van der Meulen, 11 Vuyani Tshabalala, 10 Owethu Shabalala, 9 Kyle Stock, 8 Fiso Methula, 7 Melo Xulu, 6 Lethu Hlope, 5 Prince Mahlangu, 4 Avongwe Maduna, 3 Aza Phakathi, 2 Wayne Mitchell, 1 Sfundo Mayisa.

    Menlopark: 15 Reinhardt Herbst, 14 Bladen Petersen, 13 Leskin Samuels, 12 Dylan Stumke, 11 Lucian Read, 10 Andru Keun, 9 Gustav Shäffner, 8 Jannes Eksteen, 7 Ruan Strydom, 6 Nathen du Plessis, 5 Xander Roets, 4 Keagen Pretorius, 3 Ruvan van Aardt, 2 Declen Pelser, 1 Mattheus Prinsloo.

    Hoërskool Middelburg t. Hoërskool Kempton Park om 12:30 in Middelbrug:

    Hoërskool Middelburg: 15 Lesego Karale, 14 Mcira Bulelani, 13 Jaco Truter, 12 Lungelo Maseko, 11 Zanempilo Mahlangu, 10 Buhle Mphanhlaza, 9 Keabetswe Nkgadima, 8 Henco Jansen van Rensburg, 7 Khensani Buthelezi, 6 CW Hanekom, 5 André Roberts, 4 Wihan Jordaan, 3 Dewald du Toit, 2 Roux Grobler, 1 Wian Olwagen

    Hoërskool Kempton Park (moontlik): 15 Ben Steyn, 14 Guillaume Botha, 13 Wian Riekert, 12 Jethro Williams, 11 Ettiene Stroebel, 10 Stian de Villiers, 9 Ferdi Smit, 8 Ruan Mostert, 7 Marko van der Walt, 6 Matthew Vermaak, 5 Reinhard Pretorius, 4 Louis Mouton, 3 Juan Olivier, 2 Damian Slabbert, 1 Piet van der Heever.

  • Klofies skop verdediging van Sportreeks-titel af in Tzaneen

    Klofies skop verdediging van Sportreeks-titel af in Tzaneen

    Ruan Jacobs, Waterkloof se woelige haker, op die aanval in die rondomtalie-stryd van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling teen Hoërskool Rustenburg in 2024. FOTO: Marius Nortjé.

    Die verdedigende kampioen van die NWU Sportreeks is hierdie naweek in Tzaneen vir die eerste vanjaar in aksie.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Hoërskool Waterkloof, wat verlede jaar se reeks onoorwonne afgesluit het, loods hul seisoen teen Hoërskool Ben Vorster op die Buffels se tuisveld, die Piet Swart-stadion.

    Die Klofies, wat nie alleen die Sportreeks op horings geneem het nie, maar ook naaswenners was in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling, stoot weer vanjaar ‘n gedugte span in die veld.

    Staatmakers wat terugkeer vir die 2025-seisoen sluit in die gevaarlike heelagter, Ronan Bastiaanse, en haker, Ruan Jacobs. Albei het sleutelrolle vertolk in die Klofies se suksesverhaal verlede jaar, met Jacobs wat dié span se grootste uitblinker in die Noordvaal-eindstryd teen Hoërskool Garsfontein was.

    Die Buffels, wat twee afdelings onder die Klofies in die Skild-afdeling van die Noordvaal-liga meeding, spog self met ‘n goeie begin-vyftiental. Die ervaring van losskakel, Shelton Primo, sal handig te pas kom, vernaam met die giftige senterpaar aan sy buitekant. Gehan Hendriks se tweestryd met Rico van der Walt in die nr. 12-trui behoort vir ‘n skouspelagtige 70 minute te sorg.

    Voorlangs kan die tweeling en slotpaar, Lourens en Barend Harmse, die Klofies se pak opdraande gee en opmaak vir die afwesigheid van die Klofies se vuurvreter-agsteman, Marco Kok. Kok het ‘n ernstige kniebesering verlede seisoen opgedoen en sal eers teen die einde van die maand, by die Noord/Suid-toernooi, weer beskikbaar wees.

    Hoër Tegniese Skool Middelburg pak Hoërskool Nelspruit in laasgenoemde se Mbombela-kolosseum. Albei spanne spog reeds met ‘n belowende sege, met die Rhinos wat hul rekening verlede naweek met 18-13 geopen het teen Hoërskool Middelburg en die Rooi Bulle wat vir EG Jansen met 30-12 in Middelburg verslaan het.

    Daar is wel ‘n paar veranderinge aan die Middelburgers se span wat na Mbombela reis. Binnesenter en kaptein, Johnny Dos Santos, sukkel met ‘n ligte enkelbesering, met agsteman, Tercius Bezuidenhout, wat oorneem as kaptein en die ervare Anthonie Smuts wat Dos Santos vervang in die nr. 12 trui.

    Die Rhinos se losskakel, John Duncan, is reeds mooi op dreef en sy flink diens sal beslis die span van Middelburg se verdediging toets, vernaam met buitesenter, Ruben Greeff, wat na een van die Nellies se gevaarmanne lyk. Greeff het ‘n nuwe sentermaat, met Gideon Gilliland wat die jong Rian Botha in die middeveld vervang.

    Agsteman en kaptein, Vaughn van Zyl, en oopkantflank, Prosper Chilohane, sal van meet af probeer om hul stempel af te druk teen Bezuidenhout en sy gedugte agttal.

    Die spanne:

    Hoërskool Ben Vorster t. Hoërskool Waterkloof om 12:40 in Tzaneen:

    Ben Vorster: 15 Freddie Pinto, 14 Miguel Makhubupetsi, 13 Chifu Banda, 12 Gehan Hendriks, 11 Lethabo Sejake, 10 Shelton Primo, 9 Stiaan du Randt, 8 Tumi Ramohlale, 7 Joshua van der Mescht, 6 Kobus de Beer, 5 Lourens Harmse, 4 Barend Harmse, 3 Randy Magabe, 2 Ruben Pohl, 1 Thabang Nkuna.

    Waterkloof: 15 Ronan Bastiaanse, 14 Jaiden Badenhorst, 13 Danré Tustin, 12 Rico van der Walt, 11 Dylan Botha, 10 Meyer Pretorius, 9 Zack Jordaan, 8 Dawid Prinsloo, 7 JJ Brits, 6 Divan Botha, 5 Heinrich Naudé, 4 Leander van der Westhuizen, 3 Jedri Swart, 2 Ruan Jacobs, 1 Alexander Elliot.

    Hoërskool Nelspruit t HTS Middelburg om 13:20 in Mbombela:

    Hoërskool Nelspruit: 15 Jean Erasmus, 14 Jordan Pretorius, 13 Ruben Greeff, 12 Gideon Gilliland, 11 Tinyiko Silubane, 10 John Duncan, 9 Liam Pringle, 8 Vaughn van Zyl, 7 Vian Louw, 6 Prosper Chilohane, 5 André Smit, 4 Ethan Esterhuizen, 3 Gert Coetzee, 2 D’Angelo Roberts, 1 Lindani Ndlela.

    HTS Middelburg: 15 WJ Enslin, 14 Kwanele Mkhize, 13 Jacques Greyling, 12 Anthonie Smuts, 11 CJ Muller, 10 Nathan Janse van Vuuren, 9 Reece Botha, 8 Tercius Bezuidenhout, 7 Ethan de Kock, 6 Dewan Coetzee, 5 Griffin Devonish, 4 Janco Aucamp, 3 Marinus Oberholzer, 2 Hanro Terbalnche, 1 Janco Botha.

  • Parkies gee Eldos pak, Samuels skitter met driekuns

    Parkies gee Eldos pak, Samuels skitter met driekuns

    Leskin Samuels, Die Hoërskool Menlopark se buitesenter, was reeds in 2024 ‘n angel vir die Parkies. Hier duik hy oor in die kragmeting met Nelspruit in verlede jaar se NWU Sportreeks. FOTO: Johan Orton

    ‘n Driekuns deur Die Hoërskool Menlopark se buitesenter, Leskin Samuels, het die Parkies gehelp om ‘n vyftigtal reeds in hul eerste wedstryd van die 2025-seisoen te behaal.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Hoewel dit geensins ‘n foutlose begin was nie, het Menlo nietemin goed genoeg vertoon om agt drieë in te ryg en Hoërskool Eldoraigne gemaklik tuis met 52-13 die loef af te steek.

    Samuels, wat weer een van Menlopark se gevaarmanne vanjaar behoort te wees, het gewys hoekom hy reeds verlede jaar vir die Blou Bulle op die Cravenweek uitgedraf het. Met goeie visie en bedrieglike voetwerk het hy die besoekers se middeveld gereeld oorhoeks betrap, terwyl hy ewe uitmuntend op die verdediging was en ‘n paar reuse duikslae uitgevoer het.

    Die grondslag vir die groot sege is voorlangs gelê, waar die ervare Declan Pelser, wat vir ‘n tweede seisoen in die Parkies se eerste span op haker uitdraf, die tuis-agttal begeesterd gelei het om die Drake se vuur te blus. Die slotpaar van Xander Roets en Keagen Pretorius het ook beïndruk met hul fisieke teenwoordigheid.

    Dit het die nodige platform gebied vanwaar skrumskakel, Gustav Schäffner, en losskakel en kaptein, Andru Keun, vir Samuels en Kie op die voorvoet kon plaas. Die skakelpaar is ook terug vir ‘n tweede jaar van eerstespan-rugby. Keun het boonop met ses doelskoppe geslaag.

    Die Drake, wat goed afgeskop het, is deur skrumskakel, Darren Bruwer, gelei. Bruwer, wat verlede jaar reeds uitgeblink het vir die Eldos, het die Parkies se verdedigers dikwels om die afbreekpunte getoets, en sy taktiese skopwerk kan ook vorentoe vir teenstanders hoofbrekens besorg.

    Puntemakers:

    Menlopark 52 (31) – Drieë: Leskin Samuels (3), Dylan Stumke, Gustav Schaffner, Lucian Read, Declan Pelser, Reinhardt Herbst. Doelskoppe: Andru Keun (6). Eldoraigne 13 (6) – Drie: Marnes Prinsloo. Doelskop: MJ Buitendag. Strafdoele: Buitendag (2).

    Ander spanne:

    o .16: Menlopark 64, Eldoraigne 0.

    o .15: Menlopark 40, Eldoraigne 7.

    o .14: Menlopark 41, Eldoraigne 0.

  • Rhinos ontwaak na rustyd, Witteberg oorwin Wesvalia en die weer

    Rhinos ontwaak na rustyd, Witteberg oorwin Wesvalia en die weer

    Hoërskool Nelspruit se losskakel, John Duncan, op die aanval in die Rhinos se sege van 18-13 oor Hoërskool Middelburg. FOTO: Johan Orton.

    Hoërskool Nelspruit het, na ‘n effense somerslaap in die eerste helfte, as oorwinnaars uit die Mbombela-stryd getree om hul 2025-seisoen van stapel te stuur.

    Herleef al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die Rhinos het tuis vir Hoërskool Middelburg, in ‘n kragmeting wat aanvanklik gesukkel het om aan die gang te kom, met 18-13 verslaan.

    Die tuisspan het met die omdraaislag ‘n agterstand van sewe punte in die gesig gestaar, met die Middies se haker, Roux Grobler, wat in die eerste skof oorgeduik het vir sy span se eerste en enigste drie, wat deur losskakel, Buhle Mphahlaza, verdoel is. Ná rustyd het dit egter gelyk asof die tuisspan skielik afdraand speel – iets waaraan Nellies se ondersteuners die afgelope paar jaar gewoond geraak het.

    Liam Pringle, die tuisspan se Cravenweek-skrumskakel, was oudergewoonte uitstekend met vernaam sy diens agter die Nellies se makropak wat uit die boonste rakke was. Boonop was Pringle sekuur met sy korrelwerk pale toe om met twee doelskoppe en ‘n strafdoel te slaag.

    Buitesenter, Ruben Greeff, het dikwels gevaarlik vertoon op die aanval en is met een van die Rhinos se twee drieë beloon.

    Lorenzo Snyers, Hoërskool Rustenburg, se heelagter klop sy man in die Rusties se 17-14 sege oor Trio. FOTO: Marius Nortjé.

    Hoërskool Rustenburg, wat moes swoeg en sweet om Hoërskool Trio met ‘n telling van 17-14 baas te raak, se drie drieë is aldrie deur sy giftige agterlyn gedruk.

    Soos verwag het heelagter, Lorenzo Snyers, deurgaans ‘n gevaar ingehou met die bal in hand. Hy het eenvoudig floreer met loskakel, Wade Daivey, wat agterlangs die toutjies meesterlik getrek het.

    Vir die span van Kroonstad het haker, Myburgh Jacobs, en losskakel, Jaydon Windvogel, uitgetroon. Nes Daivey, was Windvogel uitsonderlik met die skep van spel in die agterhoede, en het hy ook ‘n drie en twee doelskoppe bygedra.

    Hoërskool Witteberg het, in sopnat toestande in Klerksdorp, met 22-7 oor Hoërskool Wesvalia koning gekraai. Die weersomstandighede het die fokus van die stryd na die grootmanne voor verskuif, waar die besoekers van Bethlehem uiters klinies was. Hulle het balbesit uitstekend behou om die Wessies voorlangs ore aan te sit.

    Die senterpaar van Sedwin Gysman en JC van Rhyn het ook nie geskroom om fisies betrokke te raak in die middeveld nie, en het elk welverdiend oorgebars vir ‘n drie.

    Puntemakers:

    Hoërskool Nelspruit 18 (3) – Drieë: Ruben Greeff, André Smit. Doelskop: Liam Pringle. Strafdoele: Pringle (2). Hoërskool Middelburg 13 (10) – Drie: Roux Grobler. Doelskop: Buhle Mphahlaza. Strafdoele: Mphahlaza (2).

    Hoërskool Rustenburg 17 – Drieë: Wade Daivey, Lorenzo Snyers, Johnré Jefthas. Doelskop: Wade Daivey. Hoërskool Trio 14 – Drieë: Myburgh Jacobs, Jayden Windvogal. Doelskoppe: Windvogel (2).

    Witteberg 22 (7) – Drieë: Pieter Nel, Sedwin Gysman, JC van Rhyn. Doelskop: Tshepo Motloung. Strafdoele: Motloung (2). Wesvalia 7 (7) – Drie: Strafdrie.

    Ander spanne:

    o .16: Hoërskool Middelburg 33, Hoërskool Nelspruit 17; Trio 22, Hoërskool Rustenburg 20; Witteberg 14, Wesvalia 5.

    o .15: Hoërskool Nelspruit 31, Hoërskool Middelburg 0; Trio 16, Hoërskool Rustenburg 14; Wesvalia 21, Witteberg 5.

    o .14: Hoërskool Middelburg 22, Hoërskool Nelspruit 7; Trio 19, Hoërskool Rustenburg 16; Wesvalia 14, Witterberg 0.

    Ander eerstespan-uitslae:

    Marais Viljoen 24, Transvalia 15.
    Kempton Park 33, Montana 27.

  • Heidelberg Volkies troef begeesterde Bergsig, Die Anker sink Wagpos

    Heidelberg Volkies troef begeesterde Bergsig, Die Anker sink Wagpos

    FOTO: Heidelberg Volkskool op Facebook.

    Dit het bloedsweet gekos vir Heidelberg Volkskool om sy eerste sege van 2025, in die NWU Prestige-reeks, te behaal.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die Volkies het met ‘n naelskraapse sege van 14-12 oor Bergsig Akademie in Rustenburg die pyp gerook.

    Dit was beslis nie Volkskool se aanskoulikste vertoning nie, met hanteerfoute wat die besoekers se momentum geknou het. Daardeur het hulle bykans 20 punte verlore laat gaan, maar dit is iets wat ‘n mens te wagte kan wees in die openingswedstryd van ‘n seisoen.

    Dit neem egter niks weg van Bergsig se veggees nie. Die tuisspan het soos tiere verdedig, wat aanleiding gegee het tot die besoekers se oorgretigheid op die aanval en ongedwonge foute naby die doellyn. Indien Bergsig op dié begeesterde vertoning kan voortbou, sal hy beslis talle teenstanders nog hoofbrekens besorg.

    Die besoekers se vurige agsteman, Jaco Botha, het ‘n barshou gespeel en nie geskroom om by die fisieke stryd voorlangs betrokke te raak nie. Hy het oral op die veld opgeduik om bewegings verder te voer en dit het ook aan hom ‘n welverdiende drie besorg.

    Buitesenter, Juandré Pretorius, was ewe effektief op die aanval en het oorgeduik vir die drie wat uiteindelik die oorwinning vir die Volkies beklink het.

    Benewens die Arende se rotsvaste verdediging, was hul aanvallende spel ook prysenswaardig. Die tuisspan se vermoeë om die bal in kontak af te laai is uit die boonste rakke, met die Dos Santos-duo, Paulo Dos Santos (skrumskakel) en Alzandro Dos Santos (heelagter), wat dit uitstekend benut het om elk agter die Volkies se doellyn te gaan kuier.

    Hoërskool Pietersburg se heelagter, Ryno Mienie, het in nat toestande met twee strafdoele en ‘n doelskop geslaag om vir sy span ‘n oorwinning van 13-6 oor Potchefstroom Volkskool, in Potch, te verseker. Steelkantflank, Juan Janse van Rensburg, en vasskopstut, Stephan Jansen van Rensburg, het voorlangs hand opgesteek om die Potchefstromers te laat les opsê.

    Die tuisspan se skrumskakel, Juan Geldenhuys, het ál ses sy span punte met ‘n paar strafdoele aangeteken.

    Hoërskool Die Anker het sy stem dik gemaak met ‘n wegholsege van 69-7 oor Hoërskool Wagpos. Die span van Brakpan het nie minder nie as 11 drieë op sy tuisveld ingeryg om die besoekers van Brits stert tussen die bene huis toe te stuur.

    Dit was ‘n familie-affêre met oopkantflank, Markus Herbst, wat twee keer gaan druk het, terwyl sy neef, binnesenter, Edrick Pienaar, ook een keer agter die doellyn gaan draai het. Pienaar het boonop die verantwoordelikhede vanaf die skopkegel behartig en sewe van sy span se drieë verdoel om sy persoonlike bydrae op 19 punte te staan te bring.

    Puntemakers:

    Heidelberg Volkskool 14 (14) – Drieë: Jaco Botha, Juandré Pretorius. Doelskoppe: Marco Botha (2). Bergsig Akademie 12 (12) – Drieë: Alzandro Dos Santos, Paulo Dos Santos. Doelskop: Bradley Stonehous.

    Hoërskool Pietersburg 13 (0) – Drie: Andru de Beer. Doelskop: Ryno Mienie. Strafdoele: Mienie (2). Potchefstroom Volkskool 6 (3) – Strafdoele: Juan Geldenhuys.

    Die Anker 69 (31) – Drieë: Markus Herbst (2), Xavier Momberg, Jaydon Steenkamp, Jean Blignaut, Jonathan Jordaan, Edrick Pienaar, Arno Krugel, Paul Schutte, Ethan van Heerden, Zandré Luus. Doelskoppe: Pienaar (7). Wagpos 7 (7) – Drie: Wian Botha. Doelskop: JG Olckers.

    Ander spanne: 

    o. 16: Heidelberg Volkskool 39, Bergsig Akademie 0; Hoërskool Pietersburg 27. Potchefstroom Volkskool 5; Die Anker 34, Wagpos 0.

    o. 15: Heidelberg Volkskool 17, Bergsig Akademie 5; Hoërskool Pieterburg 31, Potchefstroom Volkskool 7; Die Anker 45, Wagpos 3.

    o. 14: Heidelberg Volkskool 26, Bergsig Akademie 5; Hoërskool Pietersburg 27, Potchefstroom Volkskool 0; Die Anker 5, Wagpos 5.

  • Rooi Bulle slaag toets teen Arende met vlieënde vaandels

    Rooi Bulle slaag toets teen Arende met vlieënde vaandels

    Johnny Dos Santos, HTS Middelburg se kaptein, rank hoog onder ‘n hoë bal in sy span se sege van 30-12 oor EG Jansen. FOTO: Tap Light Edits.

    Indien die Rooi Bulle se vertoning teen die Arende ‘n voorsmakie was van wat wag in 2025, kan dit ‘n lang jaar vir toekomstige teenstanders beteken.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools (www.supersportschools.com)

    Hoewel Hoër Tegniese Skool Middelburg se Rooi Bulle nie in hul kenmerkende rooi truie uitgedraf het nie, het hulle steeds hul stempel deeglik afgedruk tuis teen Hoërskool Dr EG Jansen met ‘n oortuigende sege van 30-12.

    Die eerste helfte het ‘n uiters fisieke stryd afgegee, vernaam voorlangs waar die skote geklap het. Albei spanne sal deur die loop van die seisoen met ‘n valkoog dopgehou moet word by die afbreekpunte. Jansies se haker en kaptein, Marco Ventura, en oopkantflank, Craig Lightfoot, het gewoel in die los om die Rooi Bulle se balbesit te bederf.

    Vir die Middelburgers was dit senter en kaptein, Johnny Dos Santos, wat soos ‘n wafferse wegbreker-flank dikwels omgekeerde balbesit bewerkstellig het. Dos Santos se verdediging was ook weer uit die boonste rakke.

    Losskakel, Nathan Jansen van Vuuren, het egter by hierdie geleentheid die Rooi Bul-kollig gesteel. Van Vuuren se balversrpreiding was nie net uiters flink nie, maar het hy die aandag uitstekend van Dos Santos afgetrek deur self die Jansies ‘n paar keer omkant te betrap op die aanval. Sy taktiese visie behoort ‘n deurslagewende faktor vanjaar te wees.

    WJ Enslin, die Rooi Bulle se heelagter wat ook vanjaar die stelskoppe behartig, was in die kol met ál ses sy pogings pale toe, en het met sy drie doelskoppe en drie strafdoele die helfte van sy span se punte aangeteken. Sy taktiese skopwerk was ook uitstaande, veral die steekskoppie, vanaf ‘n strafskop om vir buitesenter, Jacques Greyling, die geleentheid te skep om suurlik oor die doelyn te duik.

    Ten spyte daarvan dat hulle met 18 punte die onderspit gedelf het, was daar nietemin ‘n aantal positiewes vir die span van Boksburg. Die voorspelers was uitmuntend, met die Jansie-pak wat die oorhand geniet het in die skrums, en het dikwels skade aangerig het met hul kragtige dryfmale. Die agterlyn is ook blitsig en het gevaarlik gelyk wanneer hulle spasie gebied word.

    Puntemakers:

    HTS Middelburg 30 (6) – Drieë: Janco Botha, Jacques Greyling, CJ Muller. Doelskoppe: WJ Enslin (3). Strafdoele: Enslin (3). EG Jansen 12 (7) – Drieë: Craig Lightfoot, Dian Botha. Doelskop: Juandré Reynders.

    Ander spanne:

    o. 16: EG Jansen 24, HTS Middelburg 19.

    o. 15: EG Jansen 19, HTS Middelburg 15.

    o. 14: HTS Middelburg 6, EG Jansen 5.