SSPN Test Site

Author: froberholzer

  • Marais Viljoen durf 2025 aan met nuwe rugbyhoof en ywer

    Marais Viljoen durf 2025 aan met nuwe rugbyhoof en ywer

    FOTO: Marius Nortjé

    Die onlangse gewoeker en nuwe aanstellings om Hoërskool Marais Viljoen se rugby na nuwe hoogtes te neem het heelwat opgewondendheid by die skool se ondersteuners aangewakker.

    Volg al die Marais Viljoen-aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die aanstellings van die gesoute Hans Coetzee, vanaf 1 September as rugbyhoof, en Corneel van Dyk, voorheen direkteur van rugby by Hoërskool Die Anker in Brakpan, as sporthoof, lewer bewys daarvan dat Marais Viljoen beplan om konstruktief te herbou.

    Die span van Alberton het die afgelope paar jaar harde klippe gekou tussen die groot honde in die SDC Noordval Cup en moes noodgedwonge afskuif van die Beker- na die Plaat-afdeling. Die 2025-seisoen bied egter ‘n gulde geleentheid om te herbou aan die skool se trotse rugbyprogram, en hy kan beslis nie vanjaar gering geskat word nie.

    Hoewel nóg Coetzee, nóg Van Dyk direk by die eerste span betrokke sal wees, is die span vanjaar in die bekwame hande van Henco Saaiman, wat as hoofafriger inskakel, met Migael Pretorius wat hom as hulpafrigter bystaan. Marco Pretorius, Marais Viljoen se gesoute sportwetenskaplike, sal as geneesheer diens verrig.

    ‘n Addisionele rede vir optimisme is die feit dat Saaiman en sy afrigtingspan oor nie minder nie as 12 oorblywende spelers beskik wat reeds in 2024 deel van die senior groep uitgemaak het. Dit sluit in die blitsige en venynige senter, Claude de Couto.

    Voorlangs kan daar uitgesien word na nog ‘n reuse seisoen deur die span se agsteman, Rio Tshimbalanga, wat reeds ‘n jaar vantevore rugbyvelde regoor die Noordvaal aan die brand gespeel het. Sy losvoorspelermaat,  Loyd Shoko-Schenk, en haker, Sifiso Shongwe maak ook weer hul terugkeer om die pak verder te versterk.

    Die span van Alberton se seisoen skop op 1 Maart teen Hoërskool Transvalia in Alberton af. Daarna wag die strawwe NWU Prestige-reeks en twee uitdagende wedstryde, teen Worchester Gimnasium en Brackenfell, by die jaarlikse NMI Toyota Noord/Suid-toernooi in Stellenbosch.

    “Ons glo ons staan ‘n goeie kans om hoog in die NWU se Prestige-reeks te eindig,” meen Saaiman. “Wat die SDC Noordvaal Cup betref, wil ons elke week op sy eie meriete benader en seker maak dat ons spanne bes moontlik voorbereid is vir dit wat wag.”

    Soos die gesegde lui, “The underdog bites the hardest”, so skuif julle reg in 2025; Marais Viljoen is op pad met nuwe ywer en is oorgehaal om weer sy plek onder die grootstes in die Noordvaal in te neem.

    Bepalings vir 2025:

    [ninja_tables id=”64949″]

  • Klofies beëindig Ysbere-segetog

    Klofies beëindig Ysbere-segetog

    FOTO: Hoërskool Nelspruit op Facebook.

    Hoërskool Garsfontein, wat die huidige seisoen met ‘n stormloop van seges afgeskop het, het uiteindelik sy rieme styfgeloop teen sy tradisionele vyande, Hoërskool Waterkloof.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die Ysbere, wat die seisoen met meestal T20-kragmetings afgeskop het, se oorwinnings het een na die ander ingerol. Dit het aan hulle die titel besorg by die onlangse streek-uitspele van die Schools SA20-kompetisie vir spanne van Noord-Gauteng, Limpopo en Easterns, in Benoni, waar die Garsies gemaklik met selfs ‘n sterk Afrikaanse Hoër Seunskool Skool (Affies) in die eindstryd afgereken het.

    Garsfontein is Dinsdagmiddag egter deur die Klofie-golf getref om hul eerste nederlaag van 2025, boonop op tuisbodem, te ly. Die grondslag vir Waterkloof se sege is deur sy giftige boulaanval, en spesifiek Darius Maritz en Ricardo Crous, gelê. Die twee Klofie-boulers was nie alleen uiters ekonomies nie, maar het gekapitaliseer op die druk om elkeen drie paaltjies op te raap.

    Maritz het na drie beurte, met syfers van 3/11 gespog, terwyl Crous 18 leë balle in sy kwota van vier beurte geboul het. Sy drie paaltjies het slegs 13 lopies gekos, wat uiteindelik beteken het dat die tuisspan vir slegs 94 uitgeboender kon word.

    Die besoekers het nietemin ietwat gestamel in hul tog om die klein teiken te jaag. Echard Struwig (1/6) en Ruan Coetzee (1/16) het albei binne die eerste vyf beurte toegeslaan. Dit het vir Riley Miller, die besoekers se kaptein, en Franco Schmidt klaarblyklik min geskeel, met eersgenoemde wat oudergewoonte volgens sy sterkpunte gespeel het om ‘n onoorwonne 25 lopies aan te teken.

    Schmidt het sy deel gedoen met ‘n aggresiewe beurt wat 23 lopies van slegs 14 aflewerings, wat drie sesse ingesluit het. Dié vennootskap van 44 lopies was belangrik, aangesien dit die besoekers op die voorvoet geplaas het toe die gure weer, wat die einde van die wedstryd sou beteken, inbeweeg het.

    Die twee spanne moes uiteindelik noodgedwonge bladskud met die Klofies wat met agt paaltjies, volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode, koning gekraai het.

    Beknopte telkaart: 

    Garsfontein 94 (Wikus du Preez 20*; Darius Maritz 3/11, Ricardo Crous 3/13); Waterkloof 68/2 (Riley Miller 25*, Franco Schmidt 23*; Echard Struwig 1/6). Waterkloof wen met agt paaltjies volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode.

  • Groot honde in Finsbury se B-afdeling pak mekaar

    Groot honde in Finsbury se B-afdeling pak mekaar

    FOTO: Hoërskool Kempton Park op Facebook.

    Dit beloof om ’n woeste geveg af te gee wanneer die twee groot honde in die B-afdeling van die Finsbury-reeks mekaar Saterdag in Kempton Park takel.

    Volg al die aksie regstreeks op Supersport Schools(www.supersportschools.com)

    Hoërskool Hans Moore, tans die gunsteling om deur te dring na die promosie-relegasie-wedstryd ten einde volgende jaar deel uit te maak van die A-afdeling, verwelkom Saterdag ‘n gevaarlike Hoërskool Kempton Park in sy agterplaas.

    Die kolfstryd is verál een om na uit te sien. Die Kempies se toporde het deur die loop van die reeks skoonskip gemaak, terwyl die Moories reeds twee keer in die kompetisie met 10 paaltjies koning gekraai het.

    Die tuisspan se twee gevaarmanne, aanvangskolwer, Sheldon Kruger, en die veelsydige Wian Pieters, se paaltjies sal hoog op prys gestel word. Die uitdaging vir die boulers Saterdag is dat albei spanne taamlik diep kolf.

    Benewens die gevestigde openingsvennootskap van die besoekers se Zander Swart en Stefan Vermaak, wag Xavier Coetzee en die Shaw-broers, Kenan en Aiden Shaw, ook op die Kempies se aanval. Op hul beurt, beskik die Kempies oor die linkerhandse paaltjiewagter/kolwer, Stian de Villiers, en kaptein, Marko Richter, se vernuf in die middelorde.

    Hoërskool Marais Viljoen reis na die noorde van Pretoria waar hy teen Hoërskool Montana te staan kom. Albei spanne lek steeds wonde na behoorlike loesings die week vantevore. Die span van Alberton het met agt paaltjies die onderspit gedelf teen die Kempies, terwyl die Monties nie hond haar-af kon maak teen Potchefstroom Gimnasium nie.

    Albei spanne sal dus vasberade wees om die Finsbury-reeks op ‘n hoë noot af te sluit. Die besoekers se Abdullah Tadwala is mooi op dreef geoordeel aan sy spogvertoning teen die Kempies en sal dus vierkantig in die tuisspan se visier wees.

    Potchefstroom Gimnasium heet die sukkelende Hoërskool Centurion welkom in Potch, en sy kolwers, vernaam Ulrich Botha, sal oorgehaal wees vir die laaste geleentheid om op tuisbodem te kolf en die somersportseisoen met mening af te sluit..

    Bepalings:

    Week 5:
    Hoërskool Kempton Park t. Hans Moore
    Montana t. Marais Viljoen
    Potchefstroom Gimnasium t. Hoërskool Centurion

  • Nuwe seisoen, nuwe Monnas

    Nuwe seisoen, nuwe Monnas

    FOTO: Marius Nortjé.

    Monnas sien vanjaar uit na ‘n splinternuwe hoofstuk in dié rugbyskool se trotse geskiedenis.

    ‘n Leë doek en nuwe bestuurspan voorspel groot opwinding vir die Wit Bulle van Hoërskool Monument in 2025.

    Volg al die Monument-aksie regstreeks op SuperSport Schools (www.supersportschools.com)

    Die Wit Bulle het einde verlede jaar taamlike opslae in die media gemaak met hul herstrukturering en, meer spesifiek, die aanstellings van oud-Wit Bul, Reinhard Gerber, en die voormalige Springbok-stut, dr. Jannie du Plessis, as die eerste span se afrigters, met die oog daarop om Monnas weer na die kruin van die golf te neem.

    Monument het kort daarna ook ‘n vennootskap met die Franse klubspan, Stade Français, gesluit, om sy rugbyprogram verder te ontwikkel en meer geleenthede te skep vir spelers in die toekoms.

    Die 2024-seisoen was ‘n moeilike een vir die Wit Bulle en hul getroue ondersteuners, wat onder andere hul grootste nederlaag nóg op die rugbyveld ingesluit het. Die situasie kan vanjaar heel anders daar uitsien met bogenoemde twee rugbybreine wat hulle by die trotse rugbyskool in Krugersdorp aangesluit het.

    Du Plessis neem die leisels oor as hoofafriger, terwyl Gerber sy ondersteuning as hulpafrigter bied. Riaan de Jager word ingespan om die Wit Bulle wedstrydfiks te kry in sy hoedanigheid kondisioneringsafrigter, met Morné Venter wat sake agter die skerms behartig as spanbestuurder en dr. Jano de Beer wat as spandokter dien.

    Die Wit Bulle kry reeds vroeg vanjaar ‘n kans om dáái reuse nederlaag van verlede seisoen teen Grey Kollege reg te stel. Monnas verwelkom die rugbyreus uit Bloemfontein die 21ste Maart op hul tuisveld, die Ras van Rooyen. Hul seisoen skop egter reeds ‘n week vroeër af met ‘n strawwe wegwedstryd teen Welkom Gimnasium.

    Daarna volg die jaarlikse NMI Toyota Noord/Suid-toernooi en Kearnsey Easter Festival. By die Noord/Suid-toernooi, wat vanjaar by Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch aangebied word, kom hulle teen nóg een van die land se groot honde, Paarl Gimnasium, te staan, wat uitstekende voorbereiding sal te bied vir nogmaals ‘n klipharde seisoen wat wag in die Beker-afdeling van die SDC Noordvaal Cup.

    Die Wit Bulle het laas in 2022 met die loure as Noordvaal-kampioen weggestap.

    Du Plessis en Gerber het vanjaar heelwat talent om mee te werk. Die Wit Bulle beskik steeds oor 11 spelers wat reeds in 2024 vir die eerste span uitgedraf het. Dit sluit Viandré van Loggerenberg en Dean Hartman, wat onderskeidelik vyfde- en derde-generasie Wit Bulle is, in. Vooryman, Juandré Marais, en die blitsige skrumskakel, Evan Berhardi, is ook weer terug in die kraal.

    Vir die nuwe afrigtingskorps gaan dit egter oor veel meer as net rugby.

    “Ons doelwitte is om alle Monumentare, huidiglik en ‘Old Boys’, trots te maak, en die seuns soveel as moontlik te ontwikkel vir hul pad voorentoe,” het Gerber gesê.

    Die nuwe seisoen beloof om alles behalwe vervelig te wees by een van Suid-Afrika se grootste skolerugbykragte.

    Bepalings vir 2025:

    [ninja_tables id=”64053″]

  • Verdedigende kampioen se diepte sal die naweek getoets word

    Verdedigende kampioen se diepte sal die naweek getoets word

    FOTO: Hoërskool Rustenburg op Facebook.

    Die verdedigende kampioen in die A-afdeling van die Finsbury-reeks, Hoërskool Waterkloof, kom hierdie week voor ‘n taamlike toets te staan in sy laaste rondomtaliewedstryd.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die Klofies, huidiglik steeds eerste op dié afdeling se puntelys, se diepte sal behoorlik getoets word wanneer hulle Saterdag teen Hoërskool Rustenburg, op hul tuisveld, die André van der Walt-ovaal in Pretoria, te staan kom.

    Die span van Pretoria moet sonder van sy groot staatmakers klaarkom aangesien hy ook ‘n span na die Clifton T20-toernooi in die Middeland van KwaZulu-Natal stuur. Dit is egter welbekend dat die Klofies oor ‘n gesonde pyplyn van kriekettalent beskik.

    Die Rusties, met nog slegs een oorwinning in die reeks agter hul naam, sal dus met heelwat hoop en ywer die tog na Pretoria onderneem en taamlik staatmaak op ‘n uitblinker soos Callie Fryer. Fryer, blitsig met die bal en aanvallend met die kolf, spog reeds met internasionale ervaring nadat hy deel uitgemaak het van Krieket Suid-Afrika se o. 19-groep wat vroeër vanjaar teen Engeland meegeding het.

    Verdere verantwoordelikheid rus op die skouers van die Rusties se aanvangskolwers, Thian Labuschagne en Hendré Robinson. Albei is netjies op dreef en het gedreig om behoorlik los te trek in die span van Noordwes se vorige wedstryde.

    Hoërskool Eldoraigne, met die vooruitsig van ‘n plek in die reeks se eindstryd, sal Hoërskool Nelspruit versigtig benader wanneer die span van die Laeveld in Centurion kom besoek aflê. Die Nellies het verlede naweek verras met ‘n spogsege oor Hoërskool Menlopark, wat grotendeels te danke was aan die heldedade van Vaugh van Zyl.

    Sy honderdtal, asook die vier paaltjies wat hy laat kantel, sou beslis deur Abré Volgraaff en die res van die Eldos se afrigtingspan ontleed geword het. Van Zyl sal nietemin op topvorm moet wees indien hy die intimiderende toporde van die Eldos se kolflys wil stuit.

    Hoërskool Menlopark het steeds ‘n wiskundige buitekans om om die einstryd te haal. Die Pretorianers het, ná hul nederlaag in Nelspruit, van tweede tot derde op die puntelys afgeskuif.

    Hulle sal egter hoop dat die Nellies hul ‘n guns bewys deur die Eldos te troef, en dan self met ‘n bonuspunt teen ‘n onvoorspelbare Potchefstroom Volkskool moet wen. Dit sal voorop staan vir die Parkies se kaptein en lopievraat, Dian van Zyl, en as nodige motivering dien vir nóg een groot kolfbeurt.

    Bepalings:

    Week 5:
    Waterkloof t. Hoërskool Rustenburg
    Eldoraigne t. Hoërskool Nelspruit
    Menlopark t. Potchefstroom Volkskool

  • Klerksdorp-kolwers karnuffel Linden

    Klerksdorp-kolwers karnuffel Linden

    FOTO: Hoërskool Klerksdorp op Facebook.

    Hoërskool Klerksdorp se twee aanvangskolwers het ‘n yslike vertoning opgedis vir hul span om Hoërskool Linden met nege paaltjies te looi.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Dit was nadat Linden se nr. 4-kolwer, Thomas Muller, die skare vermaak het. Muller het, met sy span in die knyp, losgetrek om die Klerksdorp-boulers ore aan te sit. In die 98 aflewerings wat hy trotseer het, het Muller agt sesse en ses viere grens toe gejaag, voordat hy deur Tiaan Koen (1/59) terug pawiljoen toe gestuur is.

    Dié blitzkrieg het Koen duidelik effens omgekrap. Koen, wat gewoonlik op vyf kolf, en sy aanvangsvennoot, TD Gruyvenstein, het van meet af uitstekend saamgekolf om ‘n vennootskap van 214 om die eerste paaltjie aanmekaar te slaan.

    Van dié 214 lopies het Koen 136 gemoker. Sy pragbeurt was ewe aanvallend en het nege sesse en vyf viere bevat, voordat hy uitgehardloop is. Koen se paaltjie was die enigste deurbraak wat die Johannesburgers kon maak, met Gruyvenstein wat voortgekolf het om die beurt met ‘n onoorwonne 87 lopies, en ‘n indrukwekkende oorwinning, af te sluit.

    Merensky Landbou Akademie, oftewel, Rinaldo Bornman, het sy stempel verder op die E-afdeling van die Finsbury-reeks afgedruk. Bornman was weer die sleutel tot sy span se sukses, hierdie keer met die kolf. Sy onoorwonne 78 lopies het  die span van Tzaneen tot ‘n sewe-paaltjie sege oor Hoërskool Secunda aangevuur.

    Merensy se kaptein, Luka Heinlein, was nie ver agter nie. Hy was nie alleen ‘n doring met sy swaaiboulwerk, wat syfers van 2/24 opgelewer het, nie, maar het vir Bornman, in hul onaanvegbare vennootskap van 110 lopies, puik ondersteun met ‘n aanskoulike 54.

    Hoërskool Wesvalia het so hittete op ‘n piesangskil gegly teen Hoërskool Dr EG Jansen. Die Wessies het die hef in die hand gehad, nadat Ethan Walker (4/25), Henco Greyling (3/12) en Juanré Greyling (3/13) die Jansies vir net 84 uitgeboender het.

    Jayden van Wyk het die span van Boksburg egter teruggeboul in die kragmeting met vier paaltjies vir slegs 29 lopies. Greyling, nog vol selfvertroue na sy boulskof, het tot die span van Klerksdorp se redding gekom. Alhoewel hy net 22 lopies aangeteken het, was dit presies wat sy span nodig gehad het om uiteindelik met vier paaltjies te wen.

    Beknopte telkaarte:

    Hoërskool Linden 258/8 (Thomas Muller 137, Ekstras 47, Liam Malan 24*, Xandre Caetano 22; Marnus van der Merwe 2/8, Gerrit Koen 2/40); Hoërskool Klerksdorp 261/1 (Tiaan Koen 136, TD Gruyvenstein 87*; Thomas Muller 0/11). Hoërskool Klerksdorp wen met nege paaltjies.

    Hoërskool Secunda 167 (Luan Swart 42, Ceejay Web 29*; Timothy Baker 3/35, Wean Kruger 2/14, Luka Heinlen 2/24); Merensky 171/3 (Rinaldo Bornman 78*, Luka Heinlein 54; Luan Swart 1/32). Merensky wen met sewe paaltjies.

    EG Jansen 84 (Jayden Barns 24; Ethan Walker 4/25, Henco Greyling 3/12, Juanre Greyling 3/13); Wesvalia 85/6 (Juanre Greyling 22; Jayden van Wyk 4/29). Wesvalia wen met vier paaltjies.

  • Kempies se Kruger koning met die kolf, Moories weer baas met 10 paaltjies

    Kempies se Kruger koning met die kolf, Moories weer baas met 10 paaltjies

    Foto: Hoërskool Kempton Park op Facebook.

    Hoërskool Kempton Park se Sheldon Kruger het Hoërskool Marais Viljoen gelooi met die wilgerlat om sy span tot ‘n reuse oorwinning met agt paaltjies te lei.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Kruger het koning gekraai vir die Kempie-kolwers met ‘n meesterlike 73 lopies, wat van 86 balle gekom en agt viere en ‘n ses ingesluit het.

    Wian Pieters het netjiese ondersteuning gebied met 47 lopies, net drie kort van wat ‘n welverdiende vyftigtal sou wees, in sy en Kruger se vennootskap van 113. Stian de Villiers het ook goed gevaar vir sy bydrae van 26, nie uit nie.

    Dit was egter die boulers, en, meer spesifiek, die blitsige Kristian du Plessis, wat die sege verseker het. Du Plessis het in sy kwota van 10 beurte slegs 36 lopies afgestaan en ook vier paaltjies opgeraap. Pieters (2/27) was ook nie te versmaai met die bal nie, om Marais Viljoen tot net 175 te beperk.

    Die Kempies het hul aanslag om promosie te verwerf aansienlik verstewig, maar die voorste perd in dié resies, Hoërskool Hans Moore, het self weer ‘n uitmuntende vertoning aanmekaargeslaan. Die Moories het vir die tweede keer in vanjaar se reeks met 10 paaltjies geseëvier, dié slag oor Hoërskool Centurion.

    Kyle Wratten en Kearen Weyers het die Woerie-kolwers vir ‘n skamele 82 uitgeboender. Wratten, die Moories se uitstaande bouler op die dag, het met syfers van 4/18 gespog, terwyl, Weyers, kort op sy hakke, met 4/22 afgesluit het.

    Dit het vir Zander Swart (41*) en Stephan Vermaak (37*) ‘n teiken gestel wat hulle weer met gemak, en ‘n paar uithalerhoue, na net 10 beurte kon bereik.

    ‘n Skitterende spanpoging deur Potchefstroom Gimnasium het ‘n wegholoorwinning met 112 lopies oor Hoërskool Montana tot gevolg gehad. Ulrich Botha, soos telkmale vantevore, het uitgeblink met die kolf. Sy 67 lopies, tesame met Divan van Eldik (34) en Caiden Seleka (32) se bydraes, het die Potchefstromers tot 229/9 in die toegelate 20 beurte gehelp.

    Bennet Keet en Kie het daarna die Montie-kolwers laat bontstaan met die bal en Keet, met 3/9 in net 3.5 beurte, asook Henré Cronje (2/33) en Ruhann Steenkamp (2/18), het gesorg dat die laaste Montie-paaltjie op 117 val.

    Beknopte telkaarte:

    Marais Viljoen 175 (Abdullah Tadwala 31, Stiaan Jansen van Vuuren 30, Ekstras 27, Raynhardt Kruger 24; Kristian du Plessis 4/36, Wian Pieters 2/27); Hoërskool Kempton Park 177/2 (Sheldon Kruger 73*, Wian Pieters 47, Stian de Villiers 26*, Ekstras 23; Tristan Thom 1/22). Hoërskool Kempton Park wen met agt paaltjies.

    Hoërskool Centurion 82 (Morné Prinsloo 19; Kyle Wratten 4/18, Kearan Weyers 4/22); Hans Moore 83/0 (Zander Swart 41*, Stephan Vermaak 37). Hans Moore wen met 10 paaltjies.

    Potchefstroom Gimnasium 229/9 (Ulrich Botha 67, Divan van Eldik 34, Caiden Seleka 32, Christivan Coetzer 25, Nico Jordaan 21; Juan Theunissen 3/37, Du Preez Prinsloo 2/19, Jaco Lundall 2/30); Montana 117 (Juan Theunissen 32; Bennet Keet 3/9, Ruhann Steenkamp 2/18, Henre Cronje 2/33). Potchefstroom Gimnasium wen met 112 lopies.

  • Zwarries swoeg en sweet, maar steeds onoorwonne

    Zwarries swoeg en sweet, maar steeds onoorwonne

    Die kragmeting tussen die enigste twee onoorwonne spanne in die C-afdeling van die Finsbury-reeks het nie teleurgestel nie.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Hoërskool Zwartkop moes kliphard swoeg, maar het, soos in die res van die seisoen tot dusver, eenvoudig ‘n manier gevind om die wa deur die drif te trek.

    Vandeesweek was dit die beurt van Nicholas Conradie om sy hand op te steek en uiteindelik die tuispan na ‘n swaarverdiende sewe-paaltjie sege oor Hoërskool Monument te lei.

    Dinge kon heelwat anders vir die besoekers uitgewerk het as die nie was vir ‘n taamlike kolfineenstorting nie. Aanvangskolwer, Antonie van Niekerk (70) en Logan Weetman (36) het met hul vennootskap van 54 lopies ‘n stewige grondslag gelê, maar moes daarna toekyk hoe die paaltjies een na die ander val.

    Die Zwarries se Botha Geldenhuys het die meeste skade aangerig met sy drie paaltjies vir net nege lopies. Dit het die pas vir die res van die Zwarrie-boulers aangegee en die Monumentare het daarna agt paaltjies vir net 34 lopies verloor. Dit het die besoekers met slegs 157 lopies gelos om te verdedig.

    Die Zwarries het dit egter self nie maklik gehad met die kolf nie en as dit nie was vir die uitstaande beurt van 89, nie uit nie, deur Conradie nie, sou die prentjie heel anders gelyk het. Conradie was egter in ‘n klas van sy eie en het, onder moeilike omstandighede, sewe sesse en drie viere gemoker om sy span oor die wenstreep te sleep.

    Hoërskool Pietersburg se Willem Viljoen het die besoekende Hoërskool Dinamika se kolwers ore aangesit met ‘n uitstaande boulvertoning. In die ses beurte wat Viljoen afgevuur het, was altesaam 31 balle leeg en het die volgehoue druk aan hom vyf paaltjies vir net 20 lopies besorg. Stephan Swanepoel (2/13) en Ignus Ferreira (2/28) het verder bygedra daartoe om die besoekers tot slegs 94 te beperk.

    Swanepoel was ook voor in die koor met die kolf. Die hotklou het die wedstryd op 31 nie uit nie afgesluit. Dit was egter Cilliers van der Merwe wat die kollig met die kolf gesteel het. Hy was duidelik haastig op pad êrens heen en het 49 onoorwonne lopies van net 23 aflewerings gemoker om die teiken in die 11de beurt te bereik vir ‘n oorwinning met agt paaltjies.

    Jonathan Wiseman (4/18) het sy ervaring gebruik om skoonskip te maak teen Hoërskool Lichtenburg en vir Midstream College tot oorwinning te lei in Centurion. Wiseman en sy aanvangsvennoot, Wian de Bruin (2/12), het blitsig van die Liggies se kolwers ontslae geraak om die span van Noordwes tot net 122 te beperk.

    Ryan Strauss, steeds goed op dreef en vol selfvertroue, het sake verder gevoer met die kolf en ‘n afgeronde 43 lopies aangeteken, wat genoeg was om sy span met ses paaltjies te laat seëvier.

    Beknopte telkaarte:

    Monument 157 (Antonie van Niekerk 70, Logan Weetman 36; Botha Geldenhuys 3/9, Liam van Wyk 2/14, Zander van Staden 2/32, Rowan McLaren 2/42); Zwartkop 162/7 (Nicholas Conradie 89*, Ekstras 22; Rieghardt Prinsloo 3/18). Zwartkop wen met drie paaltjies.

    Dinamika 94 (Branko Steenberg 20; Willem Viljoen 5/20, Stephan Swanepoel 2/13, Ignus Ferreira 2/28); Hoërskool Pietersburg 95/2 (Cilliers van der Merwe 49*, Stephan Swanepoel 31*; Branko Steenberg 2/18). Hoërskool Pietersburg wen met agt paaltjies.

    Hoërskool Lichtenburg 122 (Jurgen Hesse 37, Douw Jacobs 27; Jonathan Wiseman 4/18, Wian de Bruin 2/12); Midstream College 125/4 (Ryan Strauss 43, Eckhardt du Toit 20; Raiyaan Pathan 2/36). Midstream College wen met ses paaltjies.

  • Van Zyl kook vir Nellies teen Parkies

    Van Zyl kook vir Nellies teen Parkies

    Vaughn van Zyl maak gereed om te boul. FOTO: Hoërskool Nelspruit op Facebook.

    Vaughn van Zyl het die afgelope naweek ‘n vertoning, met sowel die kolf as bal, opgedis, wat Hoërskool Nelspruit en Hoërskool Menlopark, hoewel om verskillende redes, lank sal onthou.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die Nellies se kranige en veelsydige sportster, wat ook reeds opslae in rugbykringe gemaak het, het die Parkies bykans eiehandig omgedop in sy span se oorwinning met 32 lopies tuis in Nelspruit. Van Zyl, wat welbekend is vir sy vernietigende boulwerk met die nuwe bal, het ook gewys dat hy die wilgerlat ewe effektief kan inspan.

    Die nederlaag het die Pretorianers se hoop om vanjaar se eindstryd te haal ‘n gevoelige knou toegedien. Voor die naweek se aksie was dit steeds ‘n drieperdewedren om te bepaal wie oor twee naweke sake sal uitspook om die titel in die A-afdeling van die Finsbury-reeks.

    Die Parkies het die loot gewen en besluit om die tuisspan eerste in te stuur om te kolf, wat, danksy Tiaan Serfontein (2/53) se vinnige twee paaltjies, vroeg reeds vrugte afgewerp het. Matt van der Westhuizen was die besoekers se groot uitblinker met 4/21.

    Die tuisspan se aanvangskolwer, Waldemar Graham, het aanvanklik teruggeveg met ‘n blitsige 44, maar die chaos het behoorlik ontvou toe Van Zyl op nommer vyf instap om te kolf. Dit het inderwaarheid gelyk asof hy op ‘n totaal ander blad kolf.

    In net 89 aflewerings het Van Zyl sewe viere en agt sesse gemoker om, in ‘n oogwink, 116 lopies by te dra en sy span tot ‘n totaal van 228 te help.

    Hy was duidelik honger vir nóg aksie en het vervolgens met die bal ook groot skade aangerig, en dit nogal nié met die nuwe bal nie. In sy boulskof van ses beurte het hy slegs 18 lopies afgestaan, terwyl sy vier paaltjies, insluitende dié van die Parkie-kaptein, Dian van Zyl (97), deurslaggewend was.

    Gherdu van Eeden se drie paaltjies vir slegs 33 lopies het verder bygedra om die besoekers se moed te breek en uiteindelik vir 196 uit te boender.

    Hoërskool Waterkloof se ster met die kolf, Rico van der Walt, het weer van voor gelei in sy span se oorwinning met vyf paaltjies oor Potchefstroom Volkskool. Met sy onoorwonne 50 lopies, tesame met 31 van Franco Schmidt en 28 deur kaptein, Riley Miller, het hy die teiken van 161 in ‘n japtrap bereik.

    Eduan van der Merwe was weer die Potchefstromers se uitblinker. Hy het nog ‘n vyftigtal op sy reeds indrukwekkende kerfstok vanjaar geplaas, maar dit was nie genoeg om die verdedigende kampioen te stuit nie.

    Hoërskool Eldoraigne beïndruk steeds, met aanvangsbouler, Matthew Sampson, wat weer in ‘n verwoestende bui was om Hoërskool Rustenburg se toporde te verwoes met merkwaardige syfers van 6/32 in sy toegelate 10 beurte. Dit het die span van Centurion met slegs 150 gelaat om te jaag.

    Vyftigtalle deur Vince Lotz (50*) en Marinus Langerman (50) het die Eldos tot nóg ‘n oortuigende sege, met sewe paaltjies, in hul eerste jaar in die A-afdeling gelei.

    Beknopte telkaarte:

    Hoërskool Nelspruit 228 (Vaughn van Zyl 116, Waldemar Graham 44; Matt van der Westhuizen 4/21, Tiaan Serfontein 2/53); Menlopark 196 (Dian van Zyl 97, Matt van der Westhuizen 24; Vaughn van Zyl 4/18, Gherdu van Eeden 3/53). Hoërskool Nelspruit wen met 32 lopies.

    Potchefstroom Volkskool 160 (Eduan van der Merwe 50, Handre de Beer 44, Juan van Niekerk 20; Jaydon Blom 3/19, Darius Maritz 2/18, Jaco van der Walt 2/22, Rivan Booysen 2/25); Waterkloof 161/5 (Rico van der Walt 50, Franco Schmidt 31, Riley Miller 28; Johandre Jacobs 3/47). Waterkloof wen met vyf paaltjies.

    Hoërskool Rustenburg 149 (Dehan Jacobs 38, Ekstras 25; Matthew Sampson 6/32, Kyle de Bruin 2/30, Jabu Mangena 2/30); Eldoraigne 150/3 (Vince Lotz 50*, Marinus Langerman 50; Callie Fryer 2/19). Eldoraigne wen met sewe paaltjies.

  • Onoorwonne Zwarries, Monnas kan vonke laat spat in Centurion

    Onoorwonne Zwarries, Monnas kan vonke laat spat in Centurion

    FOTO: Midstream College op Facebook.

    Die stryd tussen die enigste twee onoorwonne spanne in die Finsbury-reeks se C-afdeling, Hoërskool Zwartkop en Hoërskool Monument, beloof om kookwater-krieket op te lewer.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Daar blyk geen keer aan die twee spanne te wees in dié afdeling vanjaar nie, maar Saterdag sal  die einde van een van hulle se segetog beteken met die Monumentare wat die 50 km noord op die N14 aandurf om die Zwarries in hul agterplaas die stryd aan te sê.

    Monnas se Ibrahim Haffejee, ‘n staatmaker met die bal sedert die begin van 2025, sal ‘n sleutelrol hê om te vervul indien die besoekers hoop om die Zwarries se appelkar om te gooi. Die ervare voorslagkolwer, Logan Weetman, hou ook groot gevaar in vir die tuisspan, met die vinnige tempo waarteen hy kolf en daar word moeilik van hom onstlae geraak as hy eers aan die gang kom.

    Die Zwarries se toporde kan egter hoofbrekens vir die besoekers besorg, soos onder andere kaptein, Zandre van Staden, en voorslagkolwer, WJ Esterhuizen. Van Staden het reeds vanjaar, met ‘n reuse honderdtal van 148 nie uit nie, teen Lichtenburg, gewys wat in hom steek.

    Hoërskool Lichtenburg verwelkom Midstream College in Lichtenburg. Midstream lek nog wonde na sy nederlaag teen die Zwarries verlede naweek en die ineenstorting wat die span van Centurion met die kolf beleef het sou in diepte die afgelope week bespreek gewees het.

    In die bouldepartement het Midstream nog heel seisoen goed gevaar, met Dian de Villiers wat vyf paaltjies in die vorige wedstryd laat kantel het en op daardie vertoning sal wil voortbou om die Liggies te verdoof. Hy sal wel eers verby die kolf van die tuisspan se Douw Jacobs moet kom.

    Hoërskool Pietersburg, wat vir die tweede agtereenvolgende week tuisveldvoordeel geniet, sal hoop dat die gure weer hierdie week wegbly. Hy het nie ‘n maklike taak op hande met Hoërskool Dinamika wat in Limpopo besoek aflê nie en die twee spanne, wat oor hope veelsydigheid beskik, behoort uitstekend op te weeg teen mekaar.

    Die Pieties se blad is tradisioneel ten gunste van die kolwers, iets wat Dinamika se Jadin Schlebusch en Trent Shrives sal laat glimlag. Albei het hul ritme gevind in die span van Alberton se stryd teen Monument verlede naweek. Aan die kant van die Pieties kan daar weer vuurwerke verwag word as die veelsydige AJ Galloway, soos verlede naweek, die langsteel inlê.

    Bepalings:

    Week 4:
    Zwartkop t. Monument
    Hoërskool Lichtenburg t. Midstream College
    Hoërskool Pietersburg t. Dinamika