SSPN Test Site

Author: froberholzer

  • Beker-Bere!

    RUAN ENSLIN, buitesenter van Garsfontein, op pad om oor te duik vir sy drie teen Waterkloof in Saterdag se Beker-eindstryd van die SDC Noordvaal Cup. FOTO: Marius Nortjé

    PRETORIA – Hoërskool Garsfontein se Bere is ongetwyfeld ‘n span vir die groot oomblik.

    Herleef al die Noordvaal Beker-aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com) 

    Nadat hulle hul rieme in ses van hul eerste sewe wedstryde styfgeloop het, het die Bere ‘n totale gedaanteverwisseling in die tweede helfte van die seisoen beleef en dit met ‘n kersie op die koek in die “Kloof” afgesluit.

    Die Garsies het Saterdag hul Beker-titel in die SDC Noordvaal Cup suksesvol verdedig deur vir die tuisspan, Hoërskool Waterkloof, met 36-30 te troef. Daarmee het die Bere hul vierde titel in die reeks beklink. Garsfontein is in 2015 en 2016 ook as kampioen gekroon.

    Hierdie sege het ook aan hoofafrigter, Johan du Plessis, sy vierde titel besorg sedert hy in 2014 die leisels by die Pretorianers oorgeneem het. Hy skryf egter die sukses aan die seuns toe.

    Soos Du Plessis vroeër vandeesweek genoem het, was dit nie slegs die 23-tal op die dag nie, maar die hele groep van 40 spelers wat deur die loop van die jaar alles ingesit het om die Beker terug te bring Berepark toe.

    Saterdag se kragmeting was ‘n eindstryd duisend, met albei spanne wat alles in die stryd gewerp het. Uiteindelik was dit waarskynlik die Garsies se ondervinding wat die deurslag gegee het.

    Dit was vernaam die Bere se senterpaar wat in dié opsig leiding geneem het. Buitesenter, Ruan Enslin, het gewys hoekom hy reeds voor die eindstryd met sewe drieë gespog het en ook verlede jaar een van die voorste driedrukkers in die reeks was. Enslin se fenomenale vaart het die Klofies oorhoeks gehad en hy het gereeld spasie aan die buitekant gevind vir hom en die o.18 “A”-vleuels, Junaide Stuart en Brooklyn Newman, om te baljaar op die teenaanval.

    Binnesenter en kaptein, Luann Olivier, was self dikwels ‘n doring in die vlees van die Blou Tornado. Olivier, oorspronklik ‘n flank, het ook nie geskroom om in die los te woel nie en is as die speler van die wedstryd aangewys.

    Die Garsies se skrumdokter, Kevin Buys, sou vir Luan “Proppie” van den Berg, en die res van die Garsie-pak ‘n stewige klop op die skouer gegee het. Van den Berg was die hoeksteen van ‘n uitstaande skrumvertoning deur die Bere, wat die grondslag gelê het vir losskakel, Junade Pasensie, en Kie agterlangs.

    Migael Prinsloo, die Klofies se skrumskakel, het ‘n vertoning gelewer wat nog lank deur die tuisspan se ondersteuners onthou sal word. Prinsloo, wat reeds uitstaande teen Hoërskool Monument in die halfeindronde was, het sy spelpeil nog ‘n trappie gelig en was waarskynlik wéér die Klofies se beste speler.

    Buitesenter en kaptein, Riwan van Aswegen, en binnesenter, Happy Makate, het hul Kloof-loopbaan op ‘n hoë noot afgesluit. Albei was uitstekend op die aanval, met Makate oudergewoonte ook uitstaande op die verdediging.

    Voorlangs sal haker, Ruan Jacobs, tevrede wees met sy vertoning. Hy was weer ‘n doring met die bal in hand en het, soos verlede week, puik ondersteuning ontvang van sy flanke, Divan Botha en Lendrey Janse van Vuuren.

    Puntemakers: 

    Garsfontein 36 (14) – Drieë: Luan van den Berg, Ruan Enslin, Stefan Pretorius, Junaide Stuart, Junade Pasensie, Luann Olivier. Doelskoppe: Handre Maree (3). Waterkloof 30 (20) – Drieë: Riwan van Aswegen, Ruan Jacobs, Strafdrie. Doelskoppe: Ronan Bastiaanse (2). Strafdoel: Bastiaanse (3).

    Ander spanne:

    o.16

    Helpmekaar Kollege 32 (10) – Drieë: Daniel van der Linden (3), Jeandre van der Merwe, Ruben Coetzee, Ethan Lourens. Doelskop: Shaye Lourens. Noordheuwel 6 (6) – Strafdoele: Tidi Moeketsane (2)

    o.15

    Monument 13 (3) – Drie: Ray-Nathin van Kolver. Doelskop: Jaydon Whitfield. Strafdoel: Whitfield. Noordheuwel 12 (12) – Drieë: Heinrich Smith, Jaydon Piennaar. Doelskop: Ronaldo October.

    o.14

    Hoerskool Rustenburg 22 (6) – Drie: Reinhardt Enthoven. Doelskop: Ryan Pheiffer. Strafdoele: Pheiffer (5). Monument 10 (0) – Drie: Clayton Snyman. Doelskop: Snyman. Strafdoel: Snyman.

  • Jong Helpies hou vanjaar trofee omhoog

    DANIEL VAN DER LINDEN, steelkantflank van Helmekaar se o.16-span, op die aanval in die eindstryd teen Noordheuwel. FOTO: Marius Nortjé

    Helpies se o.16-span het die bordjies vanjaar verhang om as die beste span in hul ouderdomsgroep in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling te eindig.

    Herleef al die Noordvaal Beker-aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Helpmekaar Kollege se o.16’s het vergoed vir die teleurstelling van 2023 se o.15-eindstryd deur vanjaar as die kampioen gekroon te word. Die span van Johannesburg het verlede jaar met 8-17 teen Hoërskool Monument se o.15’s vasgeval.

    Vanjaar was dit ‘n ander storie en het hulle vir ‘n uitstaande vertoning gesorg om vir nóg ‘n span van Krugersdorp, Hoërskool Noordheuwel, gemaklik met 32-6 kaf te draf.

    Hierdie sege was grotendeels te danke aan steelkantflank, Daniel van der Linden, se merkwaardige vertoning. Van der Linden het het gereeld met bal in hand vorentoe gebars en kon uiteindelik met ‘n briljante driekuns spog.

    Haker, Jeandré van der Merwe, was ewe goed. Van der Merwe, het saam met Van der Linden, deurgaans hoofbrekens besorg vir die Nories se verdedigers en is welverdiend as speler van die wedstryd aangewys.

    In die o.15 eindstryd was dit so hittete of daar was ‘n nuwe kampioen gekroon. Hoërskool Monument moes hard swoeg in die tweede helfte om sy bure, Hoërskool Noordheuwel, met ‘n enkele punt (13-12) die loef af te steek.

    Danksy heelagter, Ray-Nathin van Kolver, se uitstekende afronding en losskakel, Jaydon Whitfield, se skopstewel, kon die Monumentare 13 onbeantwoorde punte in die tweede helfte aanteken.

    Die Nories het die eerste helfte oorheers, met drieë deur linkervleuel, Jaydon Piennaar, en binnesenter, Heinrich Smith, wat aan hulle ‘n voorsprong van 12-3 met die omdraaislag besorg het. Hulle het egter nie ‘n antwoord gehad op die Monumentare se aanslag daarna nie.

    Hoërskool Rustenburg se o.14-span het vir die grootste verrassing gesorg deur vir Monument met 22-10 om te dop.

    Die Rusties se heelagter, Ryan Pheiffer, se naam sal vir lank nog by die Krugersdorpers spook. Die heelagter het sy span tot dié geskiedkundige sege gesool met ‘n doelskop en nie minder nie as vyf strafdoele vir ‘n persoonlike bydrae van 17 punte. Hy was ook vroeër vanjaar die beslissende faktor in die twee spanne se groepswedstryd toe hy ‘n strafdoel kort voor die eindfluitjie deur die pale gejaag het.

    Puntemakers: 

    o.16

    Helpmekaar Kollege 32 (10) – Drieë: Daniel van der Linden (3), Jeandre van der Merwe, Ruben Coetzee, Ethan Lourens. Doelskop: Shaye Lourens. Noordheuwel 6 (6) – Strafdoele: Tidi Moeketsane (2)

    o.15

    Monument 13 (3) – Drie: Ray-Nathin van Kolver. Doelskop: Jaydon Whitfield. Strafdoel: Whitfield. Noordheuwel 12 (12) – Drieë: Heinrich Smith, Jaydon Piennaar. Doelskop: Ronaldo October.

    o.14

    Hoërskool Rustenburg 22 (6) – Drie: Reinhardt Enthoven. Doelskop: Ryan Pheiffer. Strafdoele: Pheiffer (5). Monument 10 (0) – Drie: Clayton Snyman. Doelskop: Snyman. Strafdoel: Snyman.

  • Bowl-trofee op soek na nuwe staanplek

    FOTO: Verskaf deur Potchefstroom Gimnasium se Facebook-blad.

    Die SDC Noordvaal Cup se Bowl-trofee sal na hierdie naweek ‘n nuwe staanplek hê.

    Beleef al die Noordvaal Bowl-aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Met albei verlede jaar se finaliste, Hoërskool Die Anker en Hoërskool Wesvalia, wat na die kompetisie se Skild-afdeling opgeskuif het, sal ‘n nuwe Bowl-kampioen Saterdag gekroon word.

    Die vraag is, wie gaan dit wees? Potchefstroom Gimnasium of Hoërskool Eldoraigne?

    Dit is vir albei hierdie spanne ietwat onbekende terrein. Die Gimmies kon nog slegs drie keer na die eindstryd, waarvan hy twee gewen het, deurdring.

    Die laaste keer wat die skool van Potchefstroom met ‘n Noordvaal-trofee kon spog was nadat hy vir Hoërskool Brandwag, van Benoni, in 2004 in die destydse mediumskole-afdeling van die Beeldtrofee met 22-15 geklop het.

    Die Eldo’s het in 2018 laas oorwinning gesmaak in ‘n finaal toe hulle vir Hoërskool Noordheuwel met 40-29 in die Virsekerbeker se Plaat-afdeling omgedop het. Hulle het wel die daaropvolgende jaar weer die eindstryd gehaal, maar moes die knie met 36-37 teen Hoërskool Ben Vorster van Tzaneen buig. Dit was die enigste twee kere wat die Drake in ‘n eindstryd te siene was.

    Hierdie week het die Gimmies hul beste kans om weer ‘n titel te verower. Die span van Potchefstroom was tot skuins voor die einde van die reeks se rondomtalie-wedstryde steeds onoorwonne.

    Hulle het wel hul rieme met 17-18 styfgeloop teen Hoërskool Alberton in die laaste ronde, maar het weer die waarskuwingskote laat klap met ‘n ‘n sege van 50-32 oor Merensky Landbou Akademie in die halfeindronde.

    Heelagter, David Ndala, is een van die voorste puntemakers in die reeks, met sy aanvalsvernuf wat menige teenstander na grashalms laat gryp, terwyl hy ook gereeld die verantwoordelikheid as stelskopper waarneem. Regtervleuel, Toks Becker, komplementeer Ndala uitstekend en is ‘n doring in die vlees wanneer hy spasie aan die buitekant gegun word.

    Haker, Jaco Nel, is een van die Gimmies se groot uitblinkers voorlangs, met sy woelige spelpeil wat ‘n mens soms laat wonder of die nommer op sy rug nie verkeerd is nie.

    Die Drake beskik self oor ‘n gevaarlike wapen in JP Meyer, wat die seisoen op losskakel begin het maar noodgedwonge moes terugskuif na heelagter, waar hy in 2023 ook uitgedraf het. Sy skopstewel het reeds vir meer as 100 punte in die reeks gesorg en is iets waarvoor die Gimmies op hul hoede moet wees.

    Boonop kan Meyer en skrumskakel, Darren Bruwer, se taktiese skopwerk die Gimmies laat omdraai, terwyl Bruwer ook ‘n bedreiging inhou met sy breekslae om die afbreekpunte.

    Voorlangs is vaskopstut, Jaco Fourie, dalk die ideale teenvoeter vir Nel. Fourie se kragtige dryfspel en skrumwerk gaan gepaard met klipharde verdediging, wat die momentum in die Drake se guns kan help swaai.

    Die spanne: 

    Potchefstroom Gimnasium t. Hoërskool Eldoraigne om 13:00 in Potchefstroom

    Potchefstroom Gimnasium: 15 David Ndala, 14 Toks Becker, 13 Lourens Jacobs, 12 Elrich Bosh, 11 Jaap van der Westhuizen, 10 Justin Oosthuizen, 9 Dian Smith, 8 Morné van Aswegen, 7 Wian Botha, 6 Tiardt Vorster, 5 Tobias van Dyk, 4 Bart du Plooy, 3 Jayden Stoffberg, 2 Jaco Nel, 1 Cobus van Rooyen.

    Eldoraigne: 15 JP Meyer, 14 Manie Buitendag, 13 Ivan Vermeulen, 12 Kevin Earle, 11 Hendru van Zyl, 10 Elmar Olivier, 9 Darren Bruwer, 8 Jayden Niehaus, 7 Justin Meintjies, 6 Cameron Killian, 5 Rikus Rheeder, 4 MC Scheepers, 3 Jaco Fourie, 2 Victor Koopmans, 1 Marnus Prinsloo

    Skeidsregter:

    Ander spanne: 

    o.16

    11:30 – Randburg t. Wagpos

    o.15

    10:15 – Piet Retief t. Merensky

    o.14

    09:00 – Eldoraigne t. Piet Retief

  • Garsie-agttal: Hoe later, hoe kwater

    JAMES SCHNETLER, slot van Garsfontein, op pad om te gaan druk teen Monument. FOTO: Marius Nortje

    Daar is ‘n rede hoekom die verdedigende kampioen van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling weer in die eindstryd is.

    Beleef al die Noordvaal Beker-aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Hoërskool Garsfontein se dieselenjin voorlangs is oorgehaal om vir die soveelste keer vanjaar die grondslag vir ‘n sege te lê. Hierdie slag is dit in sy grootste stryd van die jaar, teen Hoërskool Waterkloof in die eindstryd van die Beker-afdeling.

    Dit is verál in die skrums, waar die Bere, onder leiding van vaskopstut, Luan van den Berg, hul stempel sal wil afdruk.

    Van den Berg, wat nog in Graad 11 is, het die Blou Bulle by vanjaar se Cravenweek in Krugersdorp verteenwoordig. ‘n Kragtige vertoning in vanjaar se eindstryd kan beslis vir die SA o.18-skrumafrigter en Klofies se hoofbreier, Cobus van Dyk, oorreed om sy naam ook in die hoed te gooi vir volgende jaar.

    Die Bere is in hul laaste vier wedstryde onoorwonne, met dié segetog wat verseker het dat hulle in ‘n derde agtereenvolgende eindstryd verskyn en die kans staan om hul 2023-titel te verdedig.

    Daarenteen is dit die Klofies se eerste eindstryd in 13 jaar. Hulle het in die eindstryd van 2011 met ‘n telling van 41-21 teen Hoërskool Florida as oorwinnaars uit die stryd getree. Dit word allerweë beskou as die Klofies se droomspan en het verskeie groot name, onder andere Springbok-senter, Rohan Janse van Rensburg, opgelewer.

    In die eerste ontmoeting tussen die twee spanne vroeër vanjaar was dit die Blou Tornado wat, na ‘n puik vertoning in die eerste helfte, daarin geslaag het om met 47-36 koning te kraai.

    “Ons weet wat om te verwag en ons weet hoe Garsfontein die spel benader. Ons sien uit om hulle vir ‘n tweede keer vanjaar op ons tuisveld te verwelkom,” het Van Dyk gesê.

    Waterkloof kom hierdie keer egter teen ‘n Berespan te staan wat taamlik anders daar uitsien. Junade Passensie, wat in die vorige kragmeting op heelagter uitgedraf het, het sedertdien na losskakel geskuif, waar hy ‘n reuse verskil gemaak het.

    Die Bere se kaptein, Luann Olivier, het van oopkantflank na senter geskuif, waar hy ook dikwels hoofbrekens besorg vir teenstanders met sy bedrieglike lopies, terwyl die gevaarlike duo bestaande uit Junaide Stuart en Brooklyn Newman ook hul terugkeer tot die beginspan maak.

    Voorlangs behoort die SA o.18-slot, James Schnetler, vir die Bere se pak verder te versterk, nadat hy die laaste paar kragmetings weens harsingskudding moes misloop.

    Dit maak inderdaad die stryd voorlangs meer interessant. Die Klofie-pak het verlede week ietwat lusteloos voorgekom in die sege oor Hoërskool Monument (35-34) en sal hierdie week teen die Bere op alle silinders moet vuur.

    Haker, Ruan Jacobs, en oopkantflank, Divan Botha, het uitgeblink teen die Wit Bulle en sal die dosis wil herhaal, met Stephan de Beer, wat verlede naweek teruggekeer het op slot, kort op hul hakke.

    Skrumskakel, Migael Prinsloo, was uitstaande  as speler van die wedstryd in die halfeindstryd en sal met ‘n valkoog dopgehou moet word, terwyl die senterpaar van Happy Makate en Riwan van Aswegen (kaptein) vir vuurwerke kan sorg in hul laaste uitstappie vir die Klofies.

    Heelagter, Ronan Bastiaanse, is die top-puntemaker in vanjaar se kompetisie en sal oudergewoonte met elke geleentheid wat hy kry die telbord laat aanrol. Bastiaanse het reeds 124 punte vanjaar aangeteken.

    Die spanne: 

    Hoërskool Waterkloof t. Hoërskool Garsfontein om 12:30 in Pretoria

    Waterkloof: 15 Ronan Bastiaanse, 14 Malcolm George, 13 Riwan van Aswegen, 12 Happy Makate, 11 Dylan Botha, 10 Dennis Obi, 9 Migael Prinsloo, 8 Dawid Prinsloo, 7 Lendrey Janse van Vuuren, 6 Divan Botha, 5 Alrich Uys, 4 Stephan de Beer, 3 Jedri Swart, 2 Ruan Jacobs, 1 Juan Gouws.

    Garsfontein : 15 Handre Maree, 14 Brooklyn Newman, 13 Ruan Enslin, 12 Luann Olivier, 11 Junaide Stuart, 10 Junade Pasensie, 9 Luan Ferreira, 8 Stephan Pretorius, 7 Thinus Oosthuizen, 6 JP Pieterse, 5 Jacques Swarts, 4 James Schnetler, 3 Luan van der Berg, 2 Justin Blom, 1 Ethan van Wyk.

    Skeidsregter: Hanru van Rooyen (Blou Bulle)

    Ander spanne: 

    o.16

    11:00 – Noordheuwel t. Helpmekaar

    o.15

    09:30 – Noordheuwel t. Monument

    o.14

    08:00 – Monument t. Rustenburg

  • Wesvalia op drumpel van Noordvaal-geskiedenis

    FOTO: Verskaf deur Wesvalia se Facebook blad.

    Klerksdorp gons op die vooraand van Hoërskool Wesvalia se eerste verskyning in die eindstryd van die SDC Noordvaal Cup se Skild-afdeling.

    Volg al die Noordvaal Skild-aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die Wessies kom as nuweling in dié afdeling op hul tuisveld teen Hoërskool Lichtenburg te staan.

    Dit is die tweede agtereenvolgende jaar wat die span van Klerksdorp in ‘n eindstryd te siene is. Hulle het verlede jaar in die Bowl-afdeling se eindstryd teen Hoërskool Die Anker met 28-37 vasgeval.

    Indien hulle Saterdag as oorwinnaar uit die stryd tree sal dit die eerste Noordvaal-titel in Wesvalia se geskiedenis wees, wat taamlike vet op die vuur gooi.

    Die Lichtenburgers beleef self ‘n lang droogte, met hul laaste titel in 1988 toe hulle vir Hoërskool Merensky met 14-7 verslaan het in die eindstryd van die destydse Direkteurstrofee.

    In dié opsig is Saterdag ‘n uiters spesiale dag vir die Dempers-gesin, aangesien Dundre Dempers, die Liggies se buitesenter, se pa, Christo Dempers, in 1988 vir Lichtenburg op haker diens gedoen het en ook onderkaptein van die span was.

    Die Lichtenburgers het sedertdien in ‘n verdere drie eindstryde teen onderskeidelik Hoërskool Randburg (1990), Potchefstroom Volkskool (2011) en Helpmekaar Kollege (2016) te staan gekom, maar elke slag die knie gebuig.

    Soos enige rugbywedstryd behoort hierdie een ook voor te begin en te eindig, met albei pakke wat uitgehonger is vir die stryd. Die Lichtenburgers se vaskopstut, JJ Jonker, een van sy span se voorste driedrukkers, sal moeilik in toom gehou word naby die doellyn terwyl sy skrumwerk ook van hoë gehalte is.

    Slot en kaptein, John Kleynhans, het verlede naweek in die halfeindronde, met speeltyd verstreke, oorgebars om sy span in die eindstryd te kry en sal weer van voor lei.

    “Ons fokus net op ons prosesse, wat ons tot hier gebring het,” het Willem van der Sandt, Wesvalia se afrigter gesê. “Ons glo die resultate sal kom as ons die basiese aspekte baie goed uitvoer.”

    Hy skryf ook die span se onoorwonne status in vanjaar se reeks aan die senior spelers in sy span toe. “Ons twee kapteins, agsteman, Hanre Venter, en skrumskakel, Chad Hofmeyer, het ‘n groot rol in ons sukses gespeel.”

    Haker, Junior Kuhn, en oopkantflank, Francois Dumond, het ook ‘n reuse bydrae gelewer. Kuhn se driekuns in die halfeindstryd teen Hoërskool Secunda het sy seisoen uitstekend opgesom, terwyl Dumond se blote teenwoordigheid koue rillings langs heelparty opponente se ruggrate afstuur.

    Die spanne: 

    Hoërskool Wesvalia t. Hoërskool Lichtenburg om 12:45 in Klerksdorp

    Wesvalia: 15 Rickardt van Heerden, 14 Justin Adams, 13 Jeandre Snyman, 12 Philip Janse van Rensburg, 11 Fafa Calitz, 10 Eduard Dreyer, 9 Chad Hofmeyer, 8 Hanre Venter, 7 Francois Dumond, 6 Franco Dumond, 5 Aiden Jacobz, 4 Wessel Sewenster, 3 Bernard Swanepoel, 2 Junior Kuhn, 1 Ulrigh du Preez

    Lichtenburg: 15 Rea Motsusi, 14 Lukie Benson, 13 Dundre Dempers, 12 Oratile Sekoto, 11 Tyrell Schalkwyk, 10 Luan Snyman, 9 Willem van Niekerk, 8 Abrie Coetzee, 7 Tiaan Booysen, 6 Kgolagano Legodi, 5 John Kleynhans, 4 GJ Malan, 3 JJ Jonker, 2 Juan van Rhyn, 1 Donovan Rosato.

    Skeidsregter: Johann Steyn (Luiperds)

    Ander spanne:

    o.16

    11:20 – Heidelberg Volkskool vs Hoërskool Pietersburg

    o.15

    10:10 – Wesvalia vs Ben Vorster

    o.14

    09:00 – Wesvalia vs Ben Vorster

  • Derde keer skeepsreg vir Valia?

    FOTO: Frans Lombard

    Saterdag se eindstryd in die SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling bied vir Hoërskool Transvalia hul derde en ook belangrikste geleentheid om die Rooi Bulle vanjaar te probeer troef.

    Beleef al die Noordvaal Plaat-aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die Plaat-afdeling sal Saterdagmiddag ‘n nuwe kampioen kroon na afloop van die stryd wat wag tussen Valia en Hoër Tegniese Skool Middelburg.

    Die span van Vanderbijlpark het reeds twee keer vanjaar, met 19-20 en 24-49, sy rieme teen die Rooi Bulle styfgeloop.

    Dit is die eerste keer, sedert die ontstaan van die Plaat-afdeling in 2018, dat hierdie twee spanne in die eindstryd verskyn.

    Die Ligbloues het laas ‘n Noordvaal-titel verower in 2013 toe hulle vir Hoërskool Ermelo in die destydse grootskole-liga van die Beeldtrofee met 16-12 verslaan het.

    Die Rooi Bulle moes aansienlik langer wag met hul laaste titel wat sover terug strek as 1991, toe hulle vir Hoërskool Menlopark in die Direkteurstrofee-eindstryd met 18-10 geklop het. Hulle het wel vier jaar later die titel gedeel met ‘n gelykopuitslag van 24-24 teen die Afrikaanse Hoër Seunskool.

    “Alles wat tot op hede gebeur het is irrelevant,” het AJ le Roux, Valia se hoofafrigter gesê. “Ons sien uit daarna om vir een laaste keer in ons Ligblou alles op die veld te los.

    “Vir ons om ‘n eindstryd te kan aanbied is fantasties vir die gemeenskap en dit gee die jong seuns van die omgewing die geleentheid om groot te droom.”

    Valia het deur die loop van die seisoen gewys dat hy ‘n uiters moeilike span is om tuis te klop en die ervare losskakel, Dylan Steyman, het ‘n groot aandeel hieraan gehad.

    Nie alleen het hy vir besoekers met die stewel gelooi nie, maar hy beskik oor uitstekende visie om sy agterlyn op die voorvoet te plaas. Dit bied aan die Cravenweek-senterpaar, Brandonlee Smit en Tshepo Molakeng, die geleentheid om amok agterlangs te saai.

    Voorlangs kan die skare in Vanderbijl uitsien na ‘n enorme tweestryd tussen Valia se Daniel Kazambu en die Rooi Bulle se Sam Ndwandwe. Kazambu, wat in die latere stadium van die seisoen na slot geskuif het, se fisieke spel is een van die Ligbloues se grootste wapens, terwyl Ndwandwe, een van die onbesonge helde in die Rooi Bul-span, se hoë werkverrigting vir oulaas hoog op prys gestel sal word.

    Die Rooi Bulle moet egter sonder hul grootste staatmaker in die agterhoede, senter, Johnny dos Santos, klaarkom. Dos Santos se leemte word wel gevul met die terugkeer van Luhan Graaff, wat ‘n groot gedeelte van die seisoen weens beserings misgeloop het en oorgehaal sal wees om sy stempel in die eindstryd af te druk.

    Skrumskakel, Reece Botha, vervang vir Theunis Anthony, wat in verlede week se halfeindstryd in die nr. 9-trui diens gedoen het, terwyl die Middelburgers se flank en kaptein, Toy Engelbrecht, weer ‘n handvol behoort te wees.

    Die spanne: 

    Hoërskool Transvalia t. Hoër Tegniese Skool Middelburg om 12:15 in Vanderbijlpark

    Transvalia: 15 Siyabonga Khambule, 14 Dihan Crause, 13 Tshepo Molakeng, 12 Brandonlee Smit, 11 Tumi Moloi, 10 Dylan Steynman, 9 Anro Nagel, 8 Wynand Stolz, 7 JP Fourie, 6 Juan Bishoff, 5 Breyton Kruger, 4 Daniel Kazambu, 3 Ferreire Bekker, 2 Jayden McPearson, 1 Timothy Matthews.

    HTS Middelburg: 15 WJ Enslin, 14 Alex Pretorius, 13 Luhan Graaff, 12 Anthoni Smuts, 11 CJ Muller, 10 Gerry Gendall, 9 Reece Botha, 8 Tertius Bezuidenhout, 7 Eathan Kock, 6 Toy Engelbrecht, 5 Sam Ndwandwe, 4 Janco Aucamp, 3 Kagiso Gumbi, 2 Hanru Terblanche, 1 Dirk du Plooy.

    Skeidsregter: Francois van Staden (Luiperds)

    Ander spanne:

    o.16

    11:00 – Hoërskool Kempton Park t. Zwartkop

    o.15

    09:20 – Transvalia t. Hoërskool Middelburg

    o.14

    08:00 – Transvalia t. Oos-Moot

  • It’s raining runs in the Titans League

    It’s raining runs in the Titans League

    Menlopark opening batsman Steve Stolk.
    Menlopark opening batsman Steve Stolk.

    Seeing runs flow early in the season makes one very excited about what the schools’ cricket season has in store for the remainder of 2024.

    Relive all the action on SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    On Sunday, Hoërskool Garsfontein kicked off their Titans League challenge with a hugely impressive victory over Prestige College in Hammanskraal.

    The Ysbere powered their way to a mammoth 296/6 in their 50 overs. What made their effort impressive, however, was the fact that the side from Pretoria didn’t register a century, which meant all of their batsmen contributed significantly.

    Charl van Staden led the way. Batting at five, he played a nicely paced, mature innings, finishing with 83 runs from just 78 deliveries, which included smashing seven fours and two sixes. Righardt Joubert provided strong support, making an unbeaten 48 runs in a 113-run partnership between the pair.

    Their success would not have been possible, however, without Ettienne du Toit, who laid a sound platform for Garsfontein with an innings of 61 runs, which came from only 54 balls. He, too, found the boundary regularly, blasting six fours and two sixes.

    Then, Eckardt Struwig capped off a wonderful all-round performance from the Ysbere with a superb bowling performance. He benefitted from a good foundation, which was laid by the Garsies’ opening bowlers, Stefan van Staden (3/26) and Nayleo Sanna (2/25), who shared five wickets between them. Struwig captured the remaining five wickets for only 12 runs and, for good measure, also claimed a hattrick as Garsfontein cruised to an emphatic 207-run victory.

    Hoërskool Waterkloof passed their first big test in the league with flying colours. The Klofies put in an impressive shift with the willow to beat their old rivals, Hoërskool Menlopark, by seven wickets.

    This time around it was Marcus Bakker‘s turn to take charge. The all-rounder’s experience shone through as he expertly made his way to an unbeaten 106 runs from 100 balls.

    Rico van der Walt ensured the scoreboard kept ticking, contributing 55 runs in a 101-run partnership with Bakker. Riley Miller then wasted no time in seeing Waterkloof to victory as he smashed five sixes in an unbeaten 46.

    With Menlopark winning the toss and electing to bat first, it came as no surprise that SA u19 opening batsman, Steve Stolk, led the way for visitors. He looked dangerous, cracking 63 runs from just 40 balls, which included seven fours and four sixes.

    Matt van der Westhuizen (42) and Morné Koekemoer (40) provided good support as the Parkies’ put up a decent first innings score. Unfortunately for them, though, it wasn’t enough to faze the extremely experienced and classy Klofie lineup, which chased down the 251 they required for victory in the 39th over.

    Summarised scorecards:

    Garsfontein 296/6 (Charl van Staden 83, Ettienne du Toit 61, Righardt Joubert 48*, Extras 29, Wikus du Preez 27, Jared Carr 26; Koketso Jonas 2/57). Prestige College 89 (Thabang Kutumela 26, Keamogetswe Semenya 20; Eckard Struwig 5/12, Stefan van Staden 3/26, Nayleo Sanna 2/25). Garsfontein won by 207 runs.

    Menlopark 251 (Steve Stolk 63, Matt van der Westhuizen 42, Morné Koekemoer 40, Extras 28; Marcus Bakker 3/31, Marno Pienaar 3/54, Wian Ruthven 2/31). Waterkloof 256/3 (Marcus Bakker 106*, Rico van der Walt 55, Riley Miller 46*, Divan Behrens 26; Dian van Zyl 1/25). Waterkloof won by seven wickets.

  • Nel, Ndala sink Merensky; Meyer breek Volkies-harte

    FOTO: Verskaf deur Potchefstroom Gimnasium se Facebook-blad.

    Potchefstroom Gimnasium is steeds die gunsteling om vanjaar as kampioen van die SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling gekroon te word.

    Herleef al die Noordvaal Bowl-aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die Potchefstromers het hul staal en vernuf tentoongestel deur 50 punte op te stapel in hul halfeindstryd teen Merensky Landbou Akademie. Die Gimmies het met 50-32 geseëvier, met staatmakers Jaco Nel en David Ndala wat oudergewoonte die aanslag gelei het.

    Nel, een van die beste hakers in die kompetisie, het vir die soveelste keer vanjaar verdedigers op hul neuse laat kyk en was haas onstuitbaar om ‘n briljante driekuns aan te teken.

    Ndala het die kere wat die bal in sy rigting gekom het met albei hande aangegryp om self twee keer agter die doellyn te gaan kuier. Hy het boonop die stelskopwerk behartig en met vier doelskoppe en twee strafdoele geslaag, om sy persoonlike bydrae op 24 punte te staan te bring.

    Skrumskakel, Dian Smith, was sy energieke self en het met sy flinke balverspreiding help sorg dat die Gimmies momentum behou.

    Die Plasies, wat bekend is as ‘n span wat nie tou opgooi nie, het tot die bittereinde bly veg en selfs die laaste drie van die wedstryd gedruk. Buitesenter, Ulrich Maree, het vir hulle uitgeblink met ‘n tweekuns van sy eie, terwyl sy sentermaat, Maritz Meintjies, self na ‘n uitstekende lopie onder die pale gaan druk het.

    Hoërskool Eldoraigne se JP Meyer het Potchefstroom Volkskool se harte in die doodsnikke gebreek met sy derde doelskop wat verseker het dat die Drake met ‘n naelbytsege van 24-23 na die eindstryd teen die Gimmies kon deurdring. Met daardie skop het Meyer ook die 100-punt-kerf in die Noordvaal-reeks bereik.

    Die Drake het die oorhand in die skrums geniet, met vaskopstut, Jaco Fourie, wat weer op sy stukke was en soliede ondersteuning van die staatmakerslot, Rikus Rheeder, ontvang het.

    Die Volkies hoef egter nie kop onderstebo te loop nie. Haker, Louis Fourie, was uitstaande en het saam met regtervleuel, Wikus van Aswegen, bykans al die Volkies se punte aangeteken met ‘n tweekuns elk.

    Puntemakers: 

    Potchefstroom Gimnasium 50 (24) – Drieë: Jaco Nel (3), David Ndala (2), Lourens Jacobs, Dian Smith. Doelskoppe: Ndala (4). Strafdoele: Ndala (2). Merenksy 32 (13) – Drieë: Ulrich Maree (2). Maritz Meintjies, Heinrich Lubbe. Doelskoppe: JD Boshoff (2), Byron Hendricks. Strafdoele: Boshoff (2).

    Eldoraigne 24 (14) – Drieë: Jaco Fourie, Rikus Rheeder, Darren Bruwer. Doelskoppe: JP Meyer (3). Strafdoel: Meyer. Potchefstroom Volkskool 23 (10) – Drieë: Louis Fourie (2), Wikus van Aswegen (2). Strafdoel: Johandre Maree.

    Ander spanne: 

    o.16: Randburg 27, Potchefstroom Gimnasium 17; Wagpos 35, Potchefstroom Volkskool 10.

    o.15: Piet Retief 40, Eldoraigne 5; Merensky 19, Potchefstroom Volkskool 17.

    o.14: Piet Retief 46, Potchefstroom Gimnasium 0; Eldoraigne 10, Dr. Malan 0.

  • Kuhn, Venter skitter in Wessies-sprokie

    FOTO: Verskaf deur Wesvalia se Facebook blad.

    Om as ‘n nuweling in een van die Noordvaal-afdelings die eindstryd te haal sit nie in enige span se broek nie.

    Herleef al die Noordvaal Skild-aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Dit is presies wat Hoërskool Wesvalia, in sy eerste jaar in die SDC Noordvaal Cup se Skild-afdeling, vermag het. Die span van Klerksdorp het die verdedigende kampioen, Hoërskool Secunda, Saterdag met 33-21 geklop om ‘n plek in die eindstryd te bespreek.

    Die Wessies kom volgende week in Klerksdorp teen Hoërskool Lichtenburg in die finaal te staan.

    Secunda was blitsig uit die blokke, danksy twee onderskepdrieë en ‘n afstorm-drie deur onderskeidelik haker, Stefan Bezuidenhout, losskakel, EJ Venter, en regtervleuel, Nathan Burhman. Dit het aan die besoekers ‘n voorsprong van 21-0 binne die eerste 10 minute besorg.

    Dié terugslag het die tuisspan, wat reeds vanjaar in ‘n eindstryd gespeel het, egter nie ondergekry nie. Afrigter, Willem van der Sandt, het die terugvegpoging aan die kalmte van sy span toegeskryf.

    “Die seuns het rustig gebly en by ons strukture gehou,” het Van der Sandt gesê.

    Haker, Junior Kuhn, en agsteman, Hanre Venter, was aan die spits van die terugvegpoging met ál vyf die Klerksdorpers se drieë. Kuhn is vir sy uitstaande seisoen tot dusver uiteindelik met ‘n driekuns beloon, terwyl Venter self twee keer oorgebars het vir drieë.

    Hoërskool Lichtenburg het tuisveldvoordeel weer optimaal benut om vir Hoërskool Die Anker te troef in die halfeind en hul onoorwonne status in Lichtenburg te behou. Die Liggies het in die derde kragmeting tussen dié twee spanne vanjaar met 32-29 as oorwinnaars uit die stryd getree, danksy ‘n drie in die doodsnikke deur slot en kaptein, John Kleynhans.

    Dit was ‘n yslike vertoning deur albei agttalle. JJ Jonker, Lichtenburg se vaskopstut, het vir die soveelste keer vanjaar ‘n uiters fisieke vertoning gelewer, terwyl Die Anker se agsteman en invloedryke kaptein, Ruben Herbst, oudergewoonte van voor gelei en ‘n tweekuns bygedra het.

    Regtervleuel, Ruan Smith, het vyf strafdoele en twee doelskoppe oorgeklits vir ‘n persoonlike bydrae van 19 punte.

    Puntemakers:

    Wesvalia 33 (21) – Drieë: Junior Kuhn (3), Hanre Venter (2). Doelskoppe: Rickardt van Heerden (4). Hoërskool Secunda 21 (21) – Driee: Stefan Bezuidenhout, EJ Venter, Nathan Burhman. Doelskoppe: Damian de Beer (3).

    Hoërskool Lichtenburg 32 (15) – Drieë: JJ Jonker, John Kleynhans, Dundre Dempers, Rea Motsusi. Doelskoppe: Luan Snyman (2). Strafdoel: Snyman (2). Die Anker 29 (12) – Driee: Ruben Herbst (2). Doelskoppe: Ruan Smith (2). Strafdoele: Smith (5).

    Ander spanne: 

    o.16: Hoërskool Pietersburg 22, Wesvalia 10; Heidelberg Volkskool 42, Ben Vorster 12.

    o.15: Ben Vorster 16, Heidelberg Volkskool 12; Hoërskool Pietersburg 12, Wesvalia 12 (Wesvalia dring deur na hul eerste drie druk).

    o.14: Ben Vorster 14, Hoërskool Pietersburg 13; Wesvalia 60, Lichtenburg 5.

  • Hoe rooier, Middelburg mooier; Valia doof Liggies uit

    FOTO: Verskaf deur HTS Middelburg se Facebook-blad.

    Die reaksie van Hoër Tegniese Skool Middelburg se kaptein, Toy Engelbrecht, het gewys presies hoeveel die Rooi Bulle se oorwinning oor Hoërskool Middelburg in die halfeindronde van die SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling beteken het.

    Herleef al die Noordvaal Plaat-aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Dit het soos verwag ‘n klipharde stryd tussen die twee buurskole van Middelburg afgegee, met die uitslag wat tot die bittereinde nog in die weegskaal was. Dit was die span in rooi se verdediging wat uiteindelik die deurslag gegee het vir hul oorwinning van 22-17.

    Die Rooi Bulle se groot name het oudergewoonte hand opgesteek, met hul Cravenweek-senter, Johnny dos Santos, wat sy reputasie gestand gedoen het met sy rotsvaste verdediging en ook oorgewals het vir twee van sy span se drie drieë.

    Engelbrecht, wat in die eerste kragmeting tussen dié twee spanne uitstaande was, het weer sy gehalte tentoongestel. Die oopkantflank het die veld volgespeel en dikwels by die agterlyn aangesluit om soos ‘n wafferse senter die verdediging aan te vat.

    Vir die Middies het linkervleuel, Sihle Mkhatshwa, uitgeblink en die meeste hoofbrekens vir die Rooi Bulle besorg met skitterende individuele lopies. Matthew Abbey se visier was ook weer reg ingestel. Die losskakel het albei sy span se drieë verdoel en ook met ‘n strafdoel geslaag.

    Dit was uiteindelik die Rooi Bulle se Jacques Roestoff wat die uitklophou geplant het. Die veelsydige plaasvervanger het op die regte oomblik deurgebreek vir die vyfpunter wat die Rooies se kaartjie na die eindstryd bespreek het.

    In Vanderbijlpark het ‘n kragtige vertoning in die tweede helfte vir die tuisspan, Hoërskool Transvalia, in staat gestel om op die ou end gemaklik met 31-18 koning te kraai oor Ligbron Akdemie.

    Die eerste helfte het nietemin ‘n taamlike gestoei afgegee, met die span van die Vaaldriehoek wat tevrede moes wees met ‘n skamele voorsprong van 14-13. Die tuisveldvoordeel het in die tweede 35 minute egter na vore gekom met haker, Jayden McPearson, en Cravenweek-heelagter, Siya Khambuhle, wat hul staal gewys het deur elkeen ‘n tweekuns te behaal.

    Dylan Steynman het met sy ervaring ‘n koel en kalm skopvertoning gelewer deur met vier doelskoppe te slaag.

    Ligbron het geensins stert tussen die bene huiswaarts gekeer nie. Die span van Ermelo het deurgaans probeer in die stryd bly, met agsteman, Janco Classen, en oopkantflank, Tiaan Botha, wat enduit alles in die stryd gewerp het op sowel die aanval en verdediging, en elk met ‘n drie beloon is.

    Puntemakers: 

    HTS Middelburg 22 (10) – Drieë: Johnny dos Santos (2), Jacques Roestof. Doelskoppe: Gerry Gendall (2). Strafdoel: Gendall. Hoërskool Middelburg 17 (7) – Drieë: Sihle Mkhatshwa, Strafdrie. Doelskoppe: Matthew Abbey (2). Strafdoel: Abbey.

    Transvalia 31 (14) – Drieë: Jayden McPearson (2), Siya Khambuhle (2), Kyle Maartens. Doelskoppe: Dylan Steynman (4). Ligbron Akademie 18 (13) – Drieë: Janco Classen, Tiaan Botha. Doelskop: Renier van Staden. Strafdoele: Divan van Jaarsveld (2).

    Ander spanne: 

    o.16: Kempton Park 16, HTS Middelburg 14; Zwartkop 26, Transvalia 24.

    o.15: Transvalia 17, Hoërskool Klerksdorp 7; Hoërskool Middelburg 21, Oos-Moot 12.

    o.14: Oos-Moot 20, Hoërskool Middelburg 12; Transvalia 17, Kempton Park 13.