SSPN Test Site

Author: froberholzer

  • Rooi Bulle bespreek tuishalfeind, Ligbron is Zwarries se baas

    FOTO: Frans Lombard

    Die Hoër Tegniese Skool Middelburg het dubbel soveel drieë (agt) as Hoërskool Transvalia aangeteken om ‘n tuishalfeindstryd in die SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling te verseker.

    Herleef al die Noordvaal Plaat-aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die Rooi Bulle het een van hul beste vertonings vanjaar opgedis om die afdeling se voorlopers met 49-24 pak te gee in Middelburg.

    Met dié bonuspuntsege het HTS vir Hoërskool Middelburg verbygesteek om in die tweede plek op die puntelys te eindig, met nóg ‘n Middelburg-derby wat in die halfeindstryd wag. In die ander semi-finaal gaan Transvalia sake met Ligbron Akademie in Vanderbijlpark uitspook.

    Rooi Bul-agsteman, Tercius Bezuidenhout, het uitgestaan met sy fisieke spel, maar ook uitstekende voorgevoel aan die dag gelê om twee keer die besoekers se doellyn oor te steek. Flank en kaptein, Toy Engelbrecht, en haker, Hanru Terblanche, het kort op Bezuidenhout se hakke gevolg.

    Gary Gendall, die Middelburgers se losskakel, het agterlangs die toutjies meesterlik getrek en gesorg dat sy senters, Anthoni Smuts en Johnny dos Santos, gereeld goeie voorvoetbal ontvang.

    Transvalia is onkant betrap deur die hoë tempo wat die Rooi Bulle van meet af gehandhaaf het. Hy het met rukke en stote soos die topspan in die afdeling gelyk, maar gesukkel om sy weg terug in die wedstryd te vind.

    Regtervleuel, Dihan Crause, was nietemin in ‘n liga van sy eie met sy verbysterende lopies teen die kantlyn af, wat aan hom ‘n welverdiende tweekuns besorg het. Voorlangs het die veelsydige, Daniel Kazambu, en loskopstut, Timothy Matthews, uitgehaal om die momentum te probeer swaai met hul fisieke spel op die aanval en verdediging, maar dit was nie genoeg om ‘n begeesterde Rooi Bul-pak te stuit nie.

    Ligbron Akademie het met ‘n asemrowende vertoning, vernaam agterlangs, in die tweede helfte daarin geslaag om ‘n dooiepunt van 17-17 teen rustyd te breek en uiteindelik vir Hoërskool Zwartkop met 45-20 te verslaan.

    Skrumskakel, Renier van Staden, se flink diens en taktiese skopwerk het die besoekers op die voorvoet gehou, terwyl agsteman, Janco Classen, voorlangs die grondslag gelê het met sy energieke benadering en kragtige dryfspel.

    Op die Oosrand het Hoërskool Kempton Park ook uitstekend gevaar om vir Hoërskool Oos-Moot met 44-40 te troef in ‘n drieëfees, wat ‘n mens laat wonder het hoekom die Kempies nie heel jaar lank sulke puik spel kon lewer nie.

    Oopkantflank, JP Barnard, het ‘n barshou gelewer in die vastelos wat ook aan hom twee drieë besorg het, terwyl binnesenter, Tiaan Delport, die kollig gesteel het met sy stewel. Delport het vyf doelskoppe en drie strafdoele deur die pale gejaag, wat, tesame met sy drie, sy persoonlike bydrae op 24 punte te staan gebring het.

    Hoërskool Montana het beïndruk om vir Hoërskool Klerksdorp uit te skakel, deur met 26-14 op sy tuisveld in Pretoria te seëvier. Loskopstut, Marinus Oberholzer, het die vuur voorlangs gestook en self weer die doellyn oorgesteek om die seisoen as een van die Monties se voorste driedrukkers af te sluit.

    Puntemakers: 

    HTS Middelburg 49 (19) – Drieë: Tercius Bezuidenhout (2), Toy Engelbrecht, Ethan Kock, Hanru Terblanche, Alex Pretorius, Anthoni Smuts, Gerry Gendall. Doelskoppe: WJ Enslin (2), Gendall. Strafdoel: Gendall. Transvalia 24 (10) – Drieë: Dihan Crause (2), Daniel Kazambu. Timothy Matthews. Doelskoppe: Dylan Steynman (2).

    Ligbron Akademie 45 (17) – Drieë: Tiaan Botha, Janco Classen, Jurgens Bezuidenhout, Thamsanga Lamula, Neo Zwane, Bandile Thanjekwayo. Doelskoppe: Renier van Staden (6). Strafdoel: Van Staden. Zwartkop 20 (17) – Drieë: Zulu Mona, Milton Naude. DoelskoppeL Luhardt Booyens (2). Strafdoel: Booyens.

    Hoërskool Kempton Park 44 (20) – Drieë: JP Barnard (2), Tian Aucamp, Tiaan Delport, Eric Steele. Doelskoppe: Tiaan Delport (5). Strafdoele: Delport (3). Oos-Moot 40 (28) – Drieë: Mike Notnagel, Bertus van Dyk, David Joubert, Jandre de Beer, Tapiwa Rwafa, Doelskoppe: Ruwan Allen (5).

    Montana 26 (11) – Drieë: Tyron van Rooyen, Marq de Villiers, Marinus Oberholzer. Doelskop: Devan van der Merwe. Strafdoele: Van der Merwe (3). Hoërskool Klerksdorp 14 (7) – Drieë: Heinrich Hovener, Brandon Botha. Doelskoppe: Deacon Loots (2)

    Ander spanne: 

    o.16: Transvalia 22, HTS Middelburg 3; Zwartkop 49, Ligbron Akademie 11; Kempton Park 38, Oos-Moot 0; Montana 17, Klerksdorp 7.

    o.15: Transvalia 36, HTS Middelburg 3; Ligbron Akademie 31, Zwartkop 17; Oos-Moot 24, Kempton Park 19; Klerksdorp 28, Montana 21.

    o.14: Transvalia 29, HTS Middelburg 7; Zwartkop 31, Ligbron Akademie 12; Oos-Moot 11. Kempton Park 10; Klerskdorp 26, Montana 11.

    Halfeindstryde: 

    Transvalia t. Ligbron Akademie in Vanderbijlpark

    HTS Middelburg t. Hoërskool Middelburg by HTS Middelburg, in Middelburg.

  • Meesterlike Makate maak Monnas mak

    Meesterlike Makate maak Monnas mak

    FOTO: Marius Nortje

    Klofies se Happy Makate het Saterdag sy reputasie as een van die beste senters in die Noordvaal Cup (drie)dubbeld en dwars gestand gedoen.

    Herleef al die Noordvaal Cup Beker-aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die meester van Hoërskool Waterkloof se middeveld het drie keer deurgewals vir ‘n gedenkwaardige driekuns in sy span se sege van 53-45 oor Hoërskool Monument.

    Met dié bonuspuntsege het die Klofies die Beker-afdeling se rondomtalie-fase as die nr. 1-span op die puntelys afgesluit en geniet hulle derhalwe eerskommende naweek tuisveldvoordeel in die halfeindronde, wéér teen Monument.

    Die afgelope naweek se kragmeting het in die tweede helfte behoorlik vlamgevat, maar die tuisspan het, soos verwag, vir die volle 70 minute aanhou baklei vir daardie tuishalfeind.

    Die Krugersdorpers het ‘n agterstand van 19-31 teen rustyd in die gesig gestaar, maar hul ritme skitterend herwin en die wipplankstryd wat hom in die tweede 35 minute afgespeel het is deur die Monumentare se binnesenter, Hugo van der Merwe, en skrumskakel, Evan Bernhardi, met ‘n tweekuns elk ingelei.

    Die Klofie-pak het vir die eerste keer sedert die besering aan Marko Kok weer op alle silinders gevuur, met slot, Mikhal Odendaal, wat die aanslag gelei en die besoekers van Pretoria se rekening met sy tweede drie in soveel wedstryde geopen het. Nóg goeie nuus vir die Blou Tornado is dat hul Cravenweek-senter en kaptein, Riwan van Aswegen, suksesvol teruggekeer het van sy skouerbesering en in die tweede helfte opgekom het om een van sy span se ses drieë te druk.

    In die ander kragmeting in Krugersdorp, het Hoërskool Noordheuwel en Hoërskool Nelspruit Vrydagmiddag hul ondersteuners vergas op een van die aanskoulikste wedstryde in vanjaar se afdeling.

    Die Nories en Rhinos het alles uitgehaal in hul laaste wedstryd van die seisoen en, met letterlik niks te kies tussen die twee spanne nie, was die uiteindelike telling van 40-40 waarskynlik die getrouste weergawe van die tweestryd.

    Die skote het behoorlik geklap voorlangs, met die Nellies se agsteman, Vaughn van Zyl, en haker, Regardt Vermaak, oudergewoonte in die middel van die spervuur. Nories se kaptein. Meyer Opperman, in sy laaste wedstryd vir die Blues, was ewe vurig en het vanjaar in ‘n uitstekende oopkantflank ontwikkel.

    Agterlangs het Jenemo Luiters, Noordheuwel se regtervleuel, deurentyd ‘n bedreiging ingehou met sy bedrieglike vaart en aanvalsvernuf, terwyl Nellies se senter en kaptein, Ian Wood, se rotsvaste verdediging en netjiese aanvalslyne kenmerkend was en ‘n beduidende rol in die uitslag gespeel het.

    Puntemakers:

    Waterkloof 53 (31) – Drieë: Happy Makate (3), Mikhal Odendaal, Dennis Obi, Riwan van Aswegen. Doelskoppe: Ronan Bastiaanse (4). Strafdoele: Bastiaanse, Makate. Monument 45 (19) – Drieë: Hugo van der Merwe (2), Evan Bernhardi (2), Ewan van der Walt, Justin Viljoen, Jamaal Feldman. Doelskoppe: Hugo van der Merwe (3), Justin Viljoen (3).

    Noordheuwel 40 (28) – Drieë: Lindsey Jansen, Jenemo Luiters, Clinton Agu, Francois Venter, Meyer Opperman, Ethan Smith. Doelskoppe: Jeandre Uithaler (5). Hoërskool Nelspruit 40 (14) – Drieë: Jordan Pretorius (2), Prosper Chillione, Vaughn van Zyl, Ian Wood, Tinyiko Shilubane. Doelskoppe: Theuns Meyer (5).

    Ander spanne:

    o.16: Monument 44, Waterkloof 22; Noordheuwel 35, Nelspruit 19.

    o.15: Monument 52, Waterkloof 17; Noordheuwel 29, Nelspruit 7.

    o.14: Monument 14, Waterkloof 10; Noordheuwel 24, Nelspruit 19.

  • Berepark weer ‘n brug te ver vir Jansies

    FOTO: Monya Lombard

    Hoërskool Garsfontein, op sy tuisveld, was weer nét te goed vir Hoërskool Dr. EG Jansen.

    Herleef al die Noordvaal Cup se Beker-aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com) 

    Die Pretorianers was blitsig uit die blokke om ‘n groot genoeg voorsprong op te bou en vir die Arende met 39-15 af te stof.

    Dit was boonop die Jansies se eerste nederlaag in vanjaar se reeks en die feit dat hulle van voorloper tot derde op die puntelys gesak het, weerspieël die strawwe aard van die kompetisie. Die Arende het derhalwe ‘n tuishalfeind prysgegee en moet hierdie week terugkeer Berepark toe vir hul halfeindstryd.

    Die Bere se buitesenter, Ruan Enslin, het gewys hoekom hy in 2023, toe hy nog op vleuel diens verrig het, een van die kompetisie se voorste driedrukkers was. Enslin en regtervleuel, Xian Erasmus, het die Jansies agterlangs gelooi en elk twee drieë gedruk.

    Die grondslag vir die Bere se voortreflike vertoning agterlangs is deur die voorrymanne, Justin Blom en Luan van den Berg, gelê. Blom, die Bere se haker, was oudergewoonte ‘n yster in die vastelos, terwyl Van den Berg met sy barslopies vir die verdedigers van Boksburg al hul dae gegee het.

    Die Arende het ietwat lusteloos voorgekom en kon eenvoudig nie hul ritme vind nie.

    Slot, Gerhard van Aswegen, het nietemin voortgebou op sy belowende seisoen en vir die soveelste keer vanjaar oorgebars vir ‘n welverdiende tweekuns. Hy is moedig ondersteun deur steelkantflank, Divan Francis, maar hulle kon net nie genoeg voorwaartse momentum bewerk om die oorhand the verkry nie.

    Hoërskool Rustenburg het sy eerste seisoen in die Beker-afdeling op die hoogste noot moontlik afgesluit en die loesing van 8-87 teen Monument duidelik afgeskud om die besoekende Hoërskool Menlopark met 46-31 kaf te draf.

    Albei skole se ondersteuners was bederf met hardlooprugby uit die boonste rakke, met elke span wat binne die eerste 10 minute reeds agter die opponente se doellyn gaan draai het.

    Die Parkies se Leskin Samuels het gewys hoekom hy vir die Blou Bulle by vanjaar se Cravenweek verteenwoordig het en het nie alleen die Rusties deurgaans met sy dartellopies aan die raai gehou nie, maar ook twee van sy span se vyf drieë gedruk. Hy het goeie ondersteuning op die aanval van regtervleuel, Gustav Schaffner en heelagter, Reinardt Herbst, ontvang.

    Dit was egter die tuisspan se indrukwekkende duo bestaande uit heelagter, Lorenzo Snyers, en buitesenter, John-Re Jefthas, wat die momentum in die guns van die Rusties geswaai het met hul vermoë om die tuisspan keer op keer oor die voordeellyn te kry.

    Agsteman, Coenraad Coetzer, het ook beïndruk met sy kragtige dryfspel, terwyl skrumskakel, Adriano George, laat in die wedstryd vir Menlopark die finale nekslag toegedien het met ‘n puik tweekuns.

    Puntemakers:

    Garsfontein 39 (31) – Drieë: Ruan Enslin (2), Xian Erasmus (2), Justin Blom, Luan van der Berg. Doelskoppe: Handre Maree (3). Strafdoel: Maree. EG Jansen 15 (10) – Drieë: Gerhard van Aswegen (2), Divan Francis.

    Hoërskool Rustenburg 46 (29) – Drieë: Adriano George (2), Coenraad Coetzer, Xavier Steenkamp, Christiaan van der Bergh, Lorenzo Snyers, John-Re Jefthas. Doelskoppe: Awie Alberts (2). Menlopark 31 (19) – Drieë: Leskin Samuels (2), Anru Keun, Gustav Schaffner, Chrisjan Brits. Doelskoppe: Phillipus de Bruyn.

    Ander spanne: 

    o.16: Garsfontein 54, Dr. EG Jansen 17; Rustenburg 22, Menlopark 20.

    o.15: Garsfontein 29, Dr. EG Jansen 6; Menlopark 14, Rustenburg 12.

    o.14: Garsfontein 52, Dr. EG Jansen 5; Rustenburg 61, Menlopark 0.

  • Oakdale bobaas in die Paarl, Waterkloof kraai koning in halfeind kleed repetisie

    HAPPY MAKATE (met bal), buitesenter van Waterkloof, hou Monument se losskakel, Hanno du Toit, op sy tone met een van sy vele dartel lopies.

    Nie eers die gure weer en sterk wind was genoeg om die Bulle van Oakdale Landbou in ‘n modderige Agter-Paarl te stuit nie.

    Die span van Riversdal het die bordjies teen Boland Landbou met 21-13 verhang. Die besoekers kon in gierige weer die beste tot die omstandighede aanpas.

    Interresant is dat albei spanne, elk nou twee keer, as besoekers in die laaste vier kragmetings kon seëvier.

    Die wenspan se regtervleuel, Duraan Janse van Rensburg, het in die eerste minuut reeds sy span se rekening geopen. Ondanks ‘n sterk wind agter die blaaie kon Boland Landbou slegs ‘n voorsprong van 13-12 teen rustyd opbou.

    Janse van Rensburg het sy skopvernuf, met vier suksesvolle strafdoele, ten toon gestel. Dit het die telbord in die tweede helfte aan die rol gehou.

    Oakdale se oopkantflank, Erick Steyn, is na die strawwe stryd, welverdiend as Speler van die Wedstryd aangewys.

    Steyn het behoorlik gewoeker in die vastelos. Die kantman het veral tuis gelyk by die afbreekpunte, wat deurslaggewend tydens die Kaapse wintersdag was.

    Die tuisspan se heelagter, Retagan van Rooi, was oudergewoonte een van die groot uitblinkers. Sy vermoë op die aanval, selfs in uitdagende toestande, het die besoekers se verdedigers deurgans laat kop krap.

    Sy skrumskakel, Jayden Brits, het hand bygesit met goeie diens en slim taktiese skopwerk om die Bulle keer op keer te laat omdraai.

    Die SDC Noordvaal Cup se Beker afdeling sal twee heruitsendings in die halfeindrondes beleef.

    Dit blyk of Berepark steeds EG Jansen se doolhof is. Garsfontein het soos die Bere van ouds gelyk om die Boksburgers hul eerste nederlaag van 39-15 in die afdeling toe te dien.

    Sy buitesenter, Ruan Enslin, en regtervleuel, Xian Erasmus, het elk twee keer agter die doellyn gaan kuier om tot die Turkoois Bere se oorwinning by te dra. Die Garsies sal weer eerskomende Saterdag teen die Arende te staan kom.

    Waterkloof blyk of hy weer sy ritme herwin het. Die Blou Tornado het vir homself ‘n tuishalfeindstryd, met ‘n oorwinning van 53-45 oor Monument bespreek.

    Die bonuspuntsege op die Ras van Rooyen in Krugersdorp beteken dat hy die groepwedstryde as die voorste span in die Beker-afdeling, afsluit.

    Hy sal die einste Monnas Saterdag in die Jakarandastad verwelkom.

    Sy uitstaande senter Happy Makate sou met ‘n glimlag na Pretoria terugkeer. Dit was immers hy wat die span van Krugersdorp, met sy vindingrykheid en individuele vaardighede, in die middelveld gelooi het.

    Tydens die grootste interskole in die Paarl het Klein Nederburg vir die eerste keer in vyf jaar daarin geslaag om New Orleans in die Faurestraat-stadion te klop. Klein Nederburg het met 5-0 as oorwinnaars van die veld gestap.

  • Rooi Bul-sege kan nóg ‘n Middelburg-derby beteken

    FOTO: Frans Lombard

    Nóg ‘n Middelburg-derby is moontlik.

    Volg al die Noordvaal Plaat-aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Indien Hoër Tegniese Skool Middelburg Saterdagmiddag kan seëvier teen Hoërskool Transvalia in die SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling, sal die twee buurskole in Middelburg vir die tweede keer vanjaar in ‘n halfeindronde kragte meet.

    Hierdie slag sal dit op die Rooi Bulle se tuisveld plaasvind.

    Die span van Middelburg was, voor Ligbron Akademie se bonuspuntsege Donderdagmiddag in Centurion, derde op die afdeling se puntelys met 25 ligapunte. Die Liggies was ‘n kortkop agter hulle met 22, maar het verbygeskuif en lê tans op 27 punte. Dit is egter steeds een punt agter Hoërskool Middelburg, wat tweede is met 28 punte.

    Die Rooi Bulle kan dus met slegs ‘n sege verby albei skuif om die tweede posisie in te neem en ‘n tuishalfeind teen die Middies te verseker. Dit gaan egter nie ‘n maklike taak wees om Valia, wat die voorloper in die reeks is, ore aan te sit nie. Die tweestryd in die middeveld kan  deurslaggewend wees.

    Die Middelburgers se Cravenweek-senter, Johnny dos Santos, is oorgehaal vir sy tweestryd met die besoekers van Vanderbijlpark se Tshepo Molakeng, wat op heelagter vir die Valke se Cravenweekspan verteenwoordig het, met heelagter, Siyabonga Khambule, wat in dieselfde span op buitesenter in aksie was. Anthoni Smuts en Brandonlee Smit sal mekaar die stryd in die nr. 12-truie aansê.

    Voorlangs rus daar ‘n groot verantwoordelikheid op die skouers van die Rooi Bulle se Cravenweek-flank en kaptein, Toy Engelbrecht, wat saam met agsteman, Tertius Bezuidenhout, ‘n gedugte kombinasie vorm in die los en ‘n besliste uitdaging bied vir Valia se woelige Daniel Kazambu en Kie. Kazambu, wat gewoontlik steelkantflank speel, skuif hierdie week na slot, met JP Fourie wat sy plek aan die kant van die skrum inneem.

    Die spanne: 

    Hoër Tegniese Skool Middelburg t. Transvalia om 14:00 in Middelburg

    HTS Middelburg: 15 WJ Enslin, 14 Alex Pretorius, 13 Johnny dos Santos, 12 Anthoni Smuts, 11 CJ Muller, 10 Gerry Gendall, 9 Theunis Anthony, 8 Tertius Bezuidenhout, 7 Eathan Kock, 6 Toy Engelbrecht, 5 Sam Ndwandwe, 4 Janco Aucamp, 3 Kagiso Gumbi, 2 Hanru Terblanche, 1 Dirk du Plooy.

    Transvalia: 15 Siyabonga Khambule, 14 Dihan Crause, 13 Tshepo Molakeng, 12 Brandonlee Smit, 11 Tumi Moloi, 10 Dylan Steynman, 9 Anro Nagel, 8 Wihandre Kruger, 7 JP Fourie, 6 Juan Bishoff, 5 Breyton Kruger, 4 Daniel Kazambu, 3 Dylan Booth, 2 Jayden McPearson, 1 Timothy Matthews.

  • Arende kan hoogste vlieg na laaste groepswedstryde

    FOTO: Frans Lombard

    Dit voel byna soos ‘n heruitsending van die 2023 SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling.

    Volg al die Noordvaal Beker-aksie op Supersport Schools(www.supersportschools.com)

    Die enigste verskil is dat die rolle tussen Hoërskool Garsfontein en Hoërskool Dr. EG Jansen vanjaar omgeruil is. Hierdie keer is dit die Arende wat met die aanbreek van die laaste rondomtalie-wedstryde steeds onoorwonne in die afdeling is.

    Die Jansies sal oorgehaal wees om die bordjies op Berepark te verhang en sodoende die hoogste te vlieg na voltooiing van die groepswedstryde.

    Die Arende het by twee geleenthede in 2023 daarin gefaal om die Bere te klop en het met onderskeidelik 36-42 en 22-41, waarvan die laaste in die afdeling se eindstryd op die Garsies se tuisveld, vageval.

    Dit is iets wat vars in die geheue van verál vaskopstut en kaptein, Duwan Potgieter, wat op slot in die 2023 eindstryd uitgedraf het, en buitesenter, Juandre Jacobs, sal wees. Hulle is vanjaar ook twee van die Jansies se grootste uitblinkers, met Potgieter se aanvalslopies wat beslis ‘n onderwerp van bespreking tydens die Garsies se spanpraatjies sou wees.

    Oopkantflank, Zaide-Leigh Rippenaar, en slot, Gerhard van Aswegen, se energieke spel in die vastelos sou ook gesprek ontlok het. Van Aswegen, wat die afgelope paar weke op steelkantflank uitgedraf het, skuif terug slot toe, met nóg ‘n groot naam, Divan Francis, wat terugkeer aan die kant van die skrum.

    Die Bere, daarenteen, moet klaarkom sonder staatmakers, slot, James Schnetler, en linkervleuel, Junaide Stuart, wat die res van die seisoen misloop aangesien hulle gekies is om die SA o.18-spanne in die reeks teen Engeland, Frankryk, Ierland en Georgië te verteenwoordig.

    Stuart word vervang deur Derrick Kuhn, wat reeds met sy vertoning in die sege van 54-40 oor Helpmekaar Kollege beïndruk het. Schnetler se skoene word deur die bekwame Thinus Oosthuizen volgestaan.

    Die Jansies sou verder opgelet het dat heelagter, Handre Maree, se skopskoen ‘n taamlike bedreiging inhou, nadat hy teen Helpmekaar Kollege uitgeblink het vanaf die skopkegel.

    In Rustenburg wag daar ‘n liplekker-stryd tussen Hoërskool Rustenburg en Hoërskool Menlopark. Die Parkies sou vandeesweek oorgeloop het van selfvertroue, nadat hulle vir Hoërskool Noordheuwel met ‘n uitstekende oorwinning van 26-19 uitgeskakel het.

    Dit het egter teen ‘n prys gekom en die Parkies moes vir die soveelste keer vanjaar veranderinge aanbring vanweë beserings. Die woelige oopkantflank, Nathen du Plessis, se seisoen is verby nadat hy ‘n skouerbesering opgedoen het, terwyl JN van Wyk, die Pretorianers se steelkanflank, ook ter elfder ure moes onttrek weens griep.

    Anwill Prins, wat gereeld op senter uitdraf, skuif na oopkantflank, met Mattheus Prinsloo wat van slot na steelkantflank skuif. Francois Cilliers vervang vir Prinsloo in die enjinkamer.

    Die Rusties, wat wonde lek nadat hulle onder Monument se Wit Bulle deurgeloop het, sal vinnig moet regruk indien hulle hul eerste seisoen in dié afdeling op ‘n hoë noot wil afsluit. Die Rusties het deurgaans vanjaar beïndruk en selfs ‘n paar groot honde op hul neus laat kyk.

    Heelagter, Lorenzo Snyers, sal verál met ‘n valkoog dopgehou moet word, terwyl afrigter, Naas Olivier, voorlangs ‘n paar veranderinge aangebring het. Dirk Huisamen speel oopkantflank in die plek van Wickus Jacobs, terwyl Divan Welgemoed vir Erich Potgieter vervang op slot.

    Die spanne: 

    Garsfontein t. EG Jansen om 14:00 in Pretoria

    Garsfontein: 15 Handre Maree, 14 Xian Erasmus, 13 Ruan Enslin, 12 Luann Olivier, 11 Derrick Kuhn, 10 Junade Pasensie, 9 Luan Ferreira, 8 Stephan Pretorius, 7 Henre Prinsloo, 6 JP Pieterse, 5 Jacques Swarts, 4 Thinus Oosthuizen, 3 Luan van der Berg, 2 Justin Blom, 1 Ethan van Wyk.

    EG Jansen: 15 Ntokozo Ngobese, 14 Jean-Dre Claasen, 13 Juandre Jacobs 12 Steven Williams, 11 Keanu van Loggerenberg, 10 Matthew Bergman, 9 Riekus van der Merwe, 8 Storm Labuschagne, 7 Divan Francis, 6 Zade-Leigh Rippenaar, 5 Zandre Naudé, 4 Gerhard van Aswegen, 3 Duwan Potgieter, 2 Danre Pike, 1 Ettienne Smit.

    Hoërskool Rustenburg t. Menlopark om 12:30 in Rustenburg

    Hoërskool Rustenburg: 15 Lorenzo Snyers, 14 Christiaan van der Berg, 13 John-Re Jefthas, 12 Awie Alberts, 11 Wesley van Loggerenberg, 10 Tiano Combrinck, 9 Adriano George, 8 Coenraad Koetzer, 7 Dirk Huisamen, 6 Rickus Grobelaar, 5 Pedrie Human, 4 Divan Welgemoed, 3 Ockert Grobler, 2 Xavier Steenkamp, 1 Xander Benedetti.

    Menlopark: 15 Reinhardt Herbst, 14 Gustav Schaffner, 13 Leskin Samuels, 12 Wynand van Wyk, 11 Divan Nel, 10 Anru Kuhn, 9 Phillipus de Bruyn, 8 Rocco Myburg, 7 Mattheus Prinsloo, 6 Anwill Prins, 5 Xander Roets, 4 Francois Cilliers, 3 Ruwan van Aardt, 2 Zander van Staden, 1 Chrisjan Brits.

  • Tuishalfeind in die weegskaal vir Klofies in Krugersdorp

    Tuishalfeind in die weegskaal vir Klofies in Krugersdorp

    RONAN BASTIAANSE (met bal), heelagter van Waterkloof, trek hier ‘n toon doellyn toe terwyl hy ook ‘n duikslag van die Hoërskool Rustenburg se losskakel, Jayden Meyer, probeer afweer. FOTO: Marius Nortjé

    Hoewel die Blou Tornado reeds na die halfeindronde van SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling deurgedring het is Saterdag se stryd steeds van kardinale belang vir hulle.

    Beleef al die Noordvaal Beker-aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Hoërskool Waterkloof moet sy kragmeting met Hoërskool Monument in Krugersdorp wen indien hy tuisveldvoordeel in die semi-finaal ‘n week later wil geniet.

    Die span van Pretoria lê tans tweede op die puntelys met 34 ligapunte, maar voel die druk met Hoërskool Garsfontein wat met 33 punte in hul nek blaas.

    Nederlae teen die Afrikaanse Hoër Seunskool (28-43) en Hoërskool Noordheuwel (24-53) ‘n week later het hul veldtog ‘n knou toegedien. Die sege van 47-14 oor Hoërskool Marais Viljoen het hulle egter in staat gestel om ritme te herwin in die aanloop tot hierdie groot stryd Saterdag op die Ras van Rooyen.

    Die Klofie-afrigter, Cobus van Dyk, het weer ‘n paar taktiese skuiwe gemaak. Ronan Bastiaanse, wat verlede week in Alberton op losskakel uitgedraf het, ruil plekke met Dennis Obi om weer op heelagter in te val, terwyl Danre Dustin vir Dylan Botha op linkervleuel vervang.

    Monument het ook reeds sy plek in die halfeindrondes bespreek. Die span van Krugersdorp het egter, nes die Klofies, ‘n paar wedstryde agtereenvolgens verloor, wat ook hul momentum aan bande gelê het. Daar is egter min dinge wat momentum herstel soos ‘n wegholoorwinning van 87-8 soos dié verlede naweek oor Hoërskool Rustenburg.

    Hulle durf die stryd teen die Blou Tornado aan met ‘n span wat grotendeels dieselfde lyk. Breier, Tjaart van der Walt, het slegs een verandering aangebring met Ewan van der Walt wat vir Caylum Shooney op regtervleuel vervang.

    Die ding waaroor die Wit Bulle se ondersteuners meeste opgewonde sal wees is dat die “dieselenjin” onveranderd bly, met die dinamiese Cravenweek-losvoorspelers, RJ Barnard en kaptein, Jamaal Feldman, wat op die besoekers van Pretoria wag.

    Hoërskool Noordheuwel sluit sy seisoen teen die onvoorspelbare Hoërskool Nelspruit op die “heuwel” af. Die Nories het na ‘n teleurstellende nederlaag van 19-26 teen Hoërskool Menlopark verlede naweek uit die wedloop geval, maar sal die meeste van ‘n laaste tuiswedstryd wil maak.

    Hul ster, Cheswill Jooste, loop hierdie wedstryd mis, asgevolg van sy betrokkenheid by die SA o.18 span, met Jade Muller wat hom op heelagter vervang. Voorlangs skuif die immergroen en onvermoeide Andrew Lambert na agsteman, met Raheem Shiefer, wat sy plek op steelkantflank inneem.

    Hulle kom egter teen ‘n gedugte Nellies-lostrio te staan, met Banele Ngwenya en Prosper Chillione wat onderskeidelik op steelkant- en oopkantflank uitdraf, terwyl die indrukwekkende Vaughn van Zyl vir die soveelste keer vanjaar in die nr. 8-trui te siene sal wees. Die Nellies se staatmaker op skrumskakel, Liam Pringle, is beseer en word vervang deur Krige Slabber.

    Die spanne:

    Monument t. Waterkloof om 13:30 in Krugersdorp

    Monument: 15 Theuns du Plooy, 14 Ewan van der Walt, 13 Viandré van Loggerenberg, 12 Hugo van der Merwe, 11 Ernesto Oersen, 10 Hanno du Toit, 9 Evan Bernhardi, 8 Vincent Roberts, 7 RJ Barnard, 6 Jamaal Feldman, 5 Nathan Erasmus, 4 Jacques Botha, 3 Juandre Marais, 2 Keenan Myners, 1 Bernard Delport.

    Waterkloof: 15 Ronan Bastiaanse, 14 Malcolm George, 13 Happy Makate, 12 Dylan Botha, 11 Danre Tustin, 10 Dennis Obi, 9 Migael Prinsloo, 8 Dawid Prinsloo, 7 Ruben Cox, 6 Divan Botha, 5 Alrich Uys, 4 Mikhal Odendaal, 3 Jedri Swart, 2 Ruan Jacobs, 1 Juan Gouws.

    Vrydag:

    Noordheuwel t. Hoërskool Nelspruit om 13:15 in Krugersdorp

    Noordheuwel: 15 Jade Muller, 14 Jeremo Luiters, 13 Francois Venter, 12 Jared Coetzee, 11 Lindsey Jansen, 10 Jeandre Uithaler, 9 Ignatius Jantjies, 8 Andrew Lambert, 7 Raheem Shiefer, 6 Meyer Opperman, 5 Xander Buitendag, 4 Alex Greeff, 3 Martin Nel, 2 Clinton Agu, 1 Ruben Botes.

    Hoërskool Nelspruit: 15 Jean Erasmus, 14 Jordan Pretorius, 13 Ruben Greeff, 12 Ian Wood, 11 Tinyiko Shilubane, 10 Theuns Meyer, 9 Krige Slabber, 8 Vaughn van Zyl, 7 Banele Ngwenya, 6 Prosper Chillione, 5 Ronaldo van Rensburg, 4 Ethan Esterhuizen, 3 Gert Cloete, 2 Regardt Vermaak, 1 Lindani Ndlela.

  • Laaste hekkie vir Ligbron

    FOTO: Verskaf deur Ligbron Akademie se Facebook-blad.

    Nog nét een oorwinning.

    Dit is al wat Ligbron Akademie nodig het om sy plek in die halfeindrondes van die SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling te bespreek.

    Volg al die Noordvaal Plaat-aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die span van Ermelo beklee tans die vierde plek, met 22 ligapunte, twee punte voor Hoërskool Oos-Moot (20) in die vyfde plek.

    Die Liggies, wat ietwat van ‘n wipplankseisoen beleef het, kom Donderdagmiddag teen Hoërskool Zwartkop in Centurion te staan – ‘n moeilike uitdaging aangesien dit die Zwarries se laaste wedstryd vir die seisoen, en boonop tuis, is. Daarbenewens verwelkom die Woeries van hul staatmakers terug van besering.

    Die ywerige steelkantflank, Leonard Lotriet, keer terug, met die harde Logan Knott wat terugskuif van flank na sy gunstelingposisie op slot om die Zwarrie-skrum te versterk. Agterlangs draf Andre Marx op regtervleuel uit in die plek van Luan Isaacs.

    Die Liggies pak die tog aan met ‘n onveranderde span. Die gevaarlike duo van Anele Ngwenya (heelagter) en Neo Zwane (regtervleuel) sal dus weer in Centurion in aksie sal wees om die Zwarries met hul venynige teenvalle te teister.

    Hoërskool Oos-Moot moet sy kragmeting met Hoërskool Kempton Park Donderdagmiddag in Kempton Park wen en hoop dat die Zwarries hom ‘n guns in Centurion bewys. Indien dit die geval is, sal die span van die Moot na die halfeindronde deurdring.

    Dit sal egter ook nie maklik wees om in Kempton Park te seëvier nie. Soos Hoërskool Montana vroeër vandeesweek weer gewys het, speel tuisveldvoordeel, asook die emosie van ‘n laaste wedstryd vir die seisoen, ‘n reuse rol. Boonop is die span van Pretoria dikwels deur die beseringspook geteister.

    Na ‘n paar taktiese skuiwe het hulle egter hul ritme herwin en bly die Oosies steeds ‘n gedugte span. Dewron Aford, wat die nr. 15-trui vir 10 verruil het, se spelpeil het sedertdien opgetel, terwyl Ruwan Allen, wat truie met Aford geruil het, self gevaarliker lyk op heelagter.

    Voorlangs het flank en kaptein, Wade Williams, sy beste vorm herwin en sy aanvalsvernuf komplementeer die fisieke teenwoordigheid van agsteman, Deon Badenhorst.

    Die Kempies se agsteman, Preston Smith, staan egter nie ‘n duit terug nie en beskik, nes Williams, oor die nodige ervaring ná ‘n tweede seisoen op eerstespanvlak. Hy sal brand om sy skoolloopbaan vir die Kempies op ‘n hoë noot af te sluit.

    Die besoekers sal uiters gedissiplineerde spel moet lewer met Kempton-senter, Tiaan Delport, se visier wat heel seisoen reg ingestel is. Delport kan enige oortreding in die opposisie se halfgebied in punte omskep.

    Die spanne:

    Donderdag: 

    Zwartkop t. Ligbron Akademie om 16:30 in Centurion

    Zwartkop: 15 Justin Julies, 14 Andre Marx, 13 Milton Naudé, 12 Luan Williams, 11 Zulu Mona, 10 Luhardt Booyens, 9 Kyle Koopman, 8 Brian Smith, 7 Leonard Lotriet, 6 Adriaan Janse van Vuuren, 5 Logan Knott, 4 Abri Visser, 3 Brogan Ackerman, 2 Migael Lindeque, 1 Julian Lubbe.

    Ligbron Akademie: 15 Anele Ngwenya, 14 Neo Zwane, 13 Siyanda Dennison, 12 Lethi Ngwenya, 11 Bandile Thanjekwayo, 10 Divan van Jaarsveld, 9 Renier van Staden, 8 Janco Claasen, 7 Jurgens Bezuidenhout, 6 Lusanda Nkosi, 5 Jaco van Wyk, 4 Tiaan Botha, 3 Devan Scheepers, 2 Marnus Marx, 1 Sabelo Nhlapo.

    Hoërskool Kempton Park t. Oos-Moot om 17:50 in Kempton Park

    Kempton Park: 15 Stian de Villiers, 14 Christiaan Kloppers, 13 Tian Aucamp, 12 Tiaan Delport, 11 Ettienne Stroebel, 10 Marko Opperman, 9 Ryan Smith, 8 Preston Smith, 7 Eric Steele, 6 JP Barnard, 5 Luan Schreuder, 4 Louis Mouton, 3 Zander Luckay, 2 Deon Mulligan, 1 JP Coetzee.

    Oos-Moot: 15 Ruwan Allen, 14 Drew Williams, 13 Ivan van Wyk, 12 Jeandre Venter, 11 Tapiwa Rwafa, 10 Dewron Aford, 9 David Joubert, 8 Deon Badenhorst, 7 Wade Williams, 6 Bertus van Dyk, 5 Jaydon Botha, 4 Connor de Jager, 3 Christian Smith, 2 Brydon Jordaan, 1 Mike Notnagel.

  • Skild-wedloop steeds wawyd oop

    FOTO: Verskaf deur Hoërskool Wesvalia se Facebook blad

    Die SDC Noordvaal Cup se Skild-afdeling wag steeds in spanning om te sien wie ná hierdie week se aksie die vierde posisie op die puntelys sal beklee.

    Volg al die Noordvaal Skild-aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Daar is steeds drie spanne wat die vierde posisie, en sodoende ‘n plek in die halfeindrondes, kan behaal.

    Die stryd tussen Hoërskool Secunda en Heidelberg Volkskool Saterdagmiddag in Secunda is straks die belangrikste in hierdie wedloop. Die span van Mpumalanga beklee tans die vierde posisie met 19 ligapunte, terwyl die Volkies twee posisies verder af in die sesde plek lê.

    Die tuisspan benodig dus slegs ‘n sege terwyl die Volkies maksimum ligapunte uit die wedstryd sal wil kry, aangesien Hoërskool Ben Vorster in die vyfde posisie bokant hulle is.

    Die afrigtingspan van Secunda het twee veranderinge aan die span, wat in die doodsnikke met 31-32 teen Hoërskool Wesvalia vasgeval het, aangebring. Martin Pretorius mis uit met Nathan Berman wat sy plek op regtervleuel inneem, terwyl MC Vosloo vir Stefan Bezuidenhout op vaskopstut vervang.

    Die Volkies, wat verlede naweek naelskraaps met 38-41 teen Hoërskool Pietersburg vasgeval het, het slegs een verandering gemaak, met Theuns van der Merwe wat terugkeer op regtervleuel in die plek van Stefan Botha. Voorlangs wag daar ‘n klipharde tweestryd tussen die agstemanne, Joshua Munro van Volkies en Secunda se kaptein, Bakkies Bezuidenhout.

    Hoërskool Lichtenburg staar ‘n enorme uitdaging in die gesig. Die span van Noordwes reis Donderdag na Limpopo om Hoërskool Pietersburg die stryd aan te sê, voor hulle Saterdag oor die berg koers kies na Tzaneen, waar Hoërskool Ben Vorster vir hulle inwag.

    Die Liggies, danksy ‘n onoorwonne seisoen op tuisbodem, lê tweede op die puntelys en sal ten minste een van hul twee oorblywende wedstryde wil wen om sodoende ‘n tuishalfeind te verseker.

    Die Buffels, daarenteen, moet met ‘n bonuspunt wen en verder hoop dat Volkies sonder ‘n bonuspunt in Secunda wen, indien hulle vierde wil eindig. Die tweestryd tussen die Liggies se uitstaande buitesenter, Dundre Dempers, en die Buffels se staatmaker in die nr. 13-trui, Tihandre Reyneke, behoort deurslaggewend te wees, terwyl vaskopstut, JJ Jonker, een van die Liggies se voorste driedrukkers, moeilik gestuit word naby die doellyn.

    Verlede jaar se Bowl-finaliste, Hoërskool Wesvalia en Hoërskool Die Anker, kruis vir die eerste keer sedert laasjaar se eindstryd weer swaarde. By daardie geleentheid het die span van Brakpan met 37-28 koning gekraai, maar die Klerksdorpers is vanjaar gunstelinge om Donderdagaand die pyp te rook. Albei spanne het reeds vir die halfeindronde gekwalifiseer.

    Die Wessies se Franco Dumond skuif weens ‘n besering van slot na oopkantflank om by die ander Dumond, Francois Dumond, aan die kant van die skrum aan te sluit. Hulle is uitstekend op dreef, maar Ruben Herbst, die span van Brakpan se agsteman en kaptein, staan vierkantig in hul pad met sy klipharde dryfspel en dodelike duikslae.

    Tyron Hand en Hoërskool Hugenote van Springs wil graag hul seisoen op ‘n hoë noot afsluit teen die onvoorspelbare Hoërskool Jeugland in Kempton Park. Die Hugies het ‘n teleurstellende tweede helfte van die seisoen beleef en gevolglik van voorlopers in die reeks na sewende gedaal.

    Die spanne: 

    Saterdag: 

    Hoërskool Secunda t. Heidelberg Volkskool Saterdag om 12:20 in Secunda

    Secunda: 15 Damian de Beer, 14 Nathan Burham, 13 Ryan Erasmus, 12 Bismarck Jansen, 11 Brink la Grange, 10 EJ Venter, 9 Jarno Haarhoff, 8 Bakkies Bezuidenhout, 7 Zander Scheepers, 6 Divan Mulder, 5 Renier Combrink, 4 Zac Loock, 3 MC Vosloo, 2 Rico Schoeman, 1 Nathan Erasmus.

    Heidelberg Volkskool: 15 Kevin Oormeyer, 14 Theuns van der Merwe, 13 Marco Botha, 12 Dean Last, 11 Tiaan Holloway, 10 Kayle Venter, 9 Hein Oelofse, 8 Joshua Munro, 7 Daniel Monro, 6 Pedrie Roets, 5 Christopher Makgongoane, 4 Fourie Jacobs, 3 Botshelo Motsepe, 2 Janco Coetzer, 1 Samukelo Mgwenya.

    Ben Vorster t. Hoërskool Lichtenburg om 12:20 in Tzaneen

    Ben Vorster (moontlik): 15 Potsho Selowa, 14 Migel Makhubipetsi, 13 Tihandre Reyneke, 12 Aza Mabe, 11 Damian Bye, 10 Nkateko Ngoveni, 9 Stiaan du Randt, 8 Ewald Kirstein, 7 Joshua van der Mescht, 6 Chifu Banda, 5 Lourens Harmse, 4 Raluano Ramano, 3 Makondolele Musekene, 2 Christopher Janse van Vuuren, 1 Thabang Nkuna.

    Lichtenburg: 15 Rea Motsusi, 14 Lukie Benson, 13 Dundre Dempers, 12 Oratile Sekoto, 11 Tirell Schalkwyk, 10 Luan Snyman, 9 Willem van Niekerk, 8 Abrie Coetzee, 7 Tiaan Booysen, 6 Kgolagano Legodi, 5 John Kleynhans, 4 GJ Malan, 3 JJ Jonker, 2 Juan van Rhyn, 1 Donovan Rosato.

    Jeugland t. Hugenote (Springs) in Kempton Park

    Jeugland: 15 Thando Ngomane, 14 Lehlonolo Somo, 13 Sinenhlanhla Ndlovu, 12 Alec Mohlala, 11 Oregopotse Shilubane, 10 King Agbonzo, 9 Kenneth Morka, 8 Jaden Kleyn, 7 Joseph Ngomo-Ngomo, 6 Letlala Relebohile, 5 Shamma Nsenda, 4 Sharon Nsenda, 3 Khumo Maime, 2 Siyanda Mbanjwa, 1 Lesego Moitse.

    Hugenote (Springs) (moontlik): 15 George Lucas, 14 Ruan van Biljon, 13 Vian van Dyk, 12 Dylan Nel, 11 Musa Mahlangu, 10 Corne Pretorius, 9 Thanyani Mokiri, 8 Hendrik Eybers, 7 Tyron Hand, 6 Arne Marais, 5 Xavier Ungerer, 4 Anthony Smith, 3 Henre Oosthuizen, 2 Luan Pretorius, 1 Franko Neuhoff.

    Donderdag:

    Wesvalia t. Die Anker Donderdag om 18:30 in Klerksdorp

    Wesvalia: 15 Rickardt van Heerden, 14 Justin Adams, 13 Xander Smit, 12 Philip Janse van Rensburg, 11 Fafa Calitz, 10 Eduard Dreyer, 9 Chad Hofmeyer, 8 Hanre Venter, 7 Francois Dumond, 6 Franco Dumond, 5 Aiden Jacobz, 4 Wessel Sewenster, 3 Bernard Swanepoel, 2 Junior Kuhn, 1 Ulrigh du Preez

    Die Anker: 15 Paul Schutte, 14 Ruan Smith, 13 Sean Schoeman, 12 Branden Crous, 11 Jonathan Jordaan, 10 Danie Smit, 9 Troy Joubert, 8 Ruben Herbst, 7 Xander Fraser, 6 Duvan Booyens, 5 Brendan van Lutterveld, 4 Gerhard Oosthuizen, 3 Damian Boshoff, 2 Siya Shongwe, 1 Zander Nell.

    Hoërskool Pietersburg t. Hoërskool Lichtenburg om 17:30 in Polokwane

    Pietersburg: 15 Celliers van der Merwe, 14 Brydan Retief, 13 Hanno van Zyl, 12 Siya Mahlangu, 11 Zuhan Labuschagne, 10 Vincent Luckhoff, 9 Divan Brown, 8 Hardus Otto, 7 Tiaan Vermeulen, 6 Keegan Baker , 5 Juan Jansen van Vuuren, 4 Etienne van Jaarsveldt, 3 Floris Venter, 2 Dewald de Beer, 1 Will Hawken.

    Lichtenburg: 15 Rea Motsusi, 14 Lukie Benson, 13 Dundre Dempers, 12 Oratile Sekoto, 11 Tyrell Schalkwyk, 10 Luan Snyman, 9 Willem van Niekerk, 8 Abrie Coetzee, 7 Tiaan Booysen, 6 Kgolagano Legodi, 5 John Kleynhans, 4 GJ Malan, 3 JJ Jonker, 2 Juan van Rhyn, 1 Donovan Rosato.

  • Bowl-wedloop in die pylvak

    Bowl-wedloop in die pylvak

    FOTO: Verskaf deur Hoërskool Eldoraigne se Facebook blad.

    Die strewe na tuishalfeindstryde in die SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling behoort van Donderdag af ‘n verbete armdruk af te gee.

    Volg al die Noordvaal Bowl-aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Hoërskool Eldoraigne, Merensky Landbou Akademie en Potchefstroom Volkskool staan ál drie nog ‘n kans om met seges hierdie week ‘n tuishalfeind te verseker en het ál drie reeds, saam met Potchefstroom Gimnasium, tot die semi-finale deurgedring.

    Die Ligbloues van Tzaneen reis Saterdag na Centurion waar hulle vir die Drake op hul tuisveld moet aandurf. Die Drake bevind hulself tans tweede op die puntelys met 24 ligapunte, terwyl die Plasies derde lê met 22 punte.

    ‘n Sege is derhalwe vir elkeen van die allergrootste belang.

    Die twee spanne het onderskeidelik slegs een verandering elk aangebring vir die groot stryd. Die Plasies se staatmaker, Ulrich Mare, maak sy terugkeer op buitesenter en vervang vir Jens Bezuidenhout, wat na een week terug in die beginspan homself weer op die krukkelys bevind.

    Die Drake verwelkom die geharde MC Scheepers terug op slot. Scheepers, wat verlede naweek se stryd teen die Gimmies van die bank af moes waarneem, ruil plekke met SW Liebenberg, wat ‘n impak van die bank sal wil maak.

    Die tweestryd tussen die skrumskakels beloof om heelwat aksie op te lewer. Die Plasies se JD Boshoff, wat vanjaar by die Akademieweek in aksie was, is goed op dreef en hou ‘n taamlike bedreiging in vir die Drake om die afbreekpunte. Die Drake se Darren Bruwer sal oudergewoonte sy agterlyn van uitstekende diens voorsien en ook die besoekers se agterste driehoek op hul tone hou met sy uitgeslape skopwerk.

    Potchefstroom Volkskool, in die vierdie plek op die puntlys met 22 ligapunte, moet tuisveldvoordeel optimaal benut om sy kragmeting met Hoërskool Wagpos met ‘n bonuspunt probeer wen, ten einde ‘n buitekans te staan vir ‘n tuishalfeind.

    Sedert sy skuif van flank na senter het Volkies se staatmaker, Christoff Nel, die veld nog verder aan die brand gespeel en in sy laaste twee wedstryde vier drieë, waarvan drie verlede naweek teen Hoërskool Dr. Malan, gedruk. ‘n Soortgelyke vertoning hierdie slag kan deurslaggewend vir sy span wees.

    Hoërskool Piet Retief is oorgehaal om sy eerste seisoen in die Bowl-afdeling op ‘n hoogtepunt af te sluit wanneer hy Vrydagmiddag teen Hoërskool Dr. Malan op die Jack Botes-stadion in Piet Retief te staan kom, hoewel albei spanne reeds uit die wedloop is om die uitspeelrondes te haal.

    Die klipharde Christiaan Pienaar keer terug na sy gunstelingposisie op agesteman nadat hy, as gevolg van ‘n besering, op binnesenter moes uithelp in sy span se nederlaag van 24-27 teen Merensky. Aphiwe Khumalo skuif van buite- na binnesenter om plek te maak vir Owethu Nkosi, wat in die nr. 13-trui sal uitdraf.

    Om die Dokkies te klop sal geen maklike taak wees nie, met die span van Meyerton wat die laaste twee weke gewys wat in hulle steek, en dit teen sterk kompetisie. Hulle het tot die bittereinde geveg teen Merensky (28-38) en Potch Volkies (28-33).

    Dit is verál die gevaarlike duo, Luka Pretorius (heelagter) en Dian van den Berg (losskakel), wat groot gevaar inhou, met Van den Berg wat waarskynlik oorloop van selfvertroue ná sy driekuns teen die Volkies verlede naweek.

    Die spanne: 

    Vrydag:

    Eldoraigne t. Merensky om 13:00 in Centurion

    Eldoraigne: 15 JP Meyer, 14 Manie Buitendag, 13 Ivan Vermeulen, 12 Kevin Earle, 11 Hendru van Zyl, 10 Elmar Olivier, 9 Darren Bruwer, 8 Jayden Niehaus, 7 Justin Meintjies, 6 Cameron Killian, 5 Rikus Rheeder, 4 MC Liebenberg, 3 Jaco Fourie, 2 Marnus Prinsloo, 1 Wihan White

    Merensky: 15 Ashten Demos, 14 Andreas Honiball, 13 Ulrich Mare, 12 Maritz Meintjies, 11 Heinrich Lubbe, 10 Byron Hendricks, 9 JD Boshoff, 8 Hardus Terblanche, 7 PG Botes, 6 Corne Swanpoel, 5 Lukas Pieterse, 4 Ruan Marcos, 3 Tirelo Mashapa, 2 JJ Goosen, 1 Ethan Maritz.

    Donderdag:

    Potchefstroom Volkskool t. Wagpos om 15:30 in Potchefstroom

    Potchefstroom Volkies: 15 Diaan van der Merwe, 14 Wikus van Aswegen, 13 Hennie Pretorius, 12 Christoff Nel, 11 Lorenzo Louw, 10 Johandre Maree, 9 Juhan Geldenhuys, 8 Dewald Groenewald, 7 Marlu du Preez, 6 Henre Nel, 5 Konrad Pretorius, 4 Altus de Jager, 3 Danie Strydom, 2 Louis Fourie, 1 Jaco van der Merwe.

    Wagpos (moontlik): 15 JG Olckers, 14 Christiaan du Plessis, 13 Frans Burger, 12 Dian Coetzee, 11 Franco Dippenaar, 10 AJ Nieman, 9 Arrie Joubert, 8 David van Breda, 7 Antonio Galvan, 6 Du Toit van Deventer, 5 Nathan Louw, 4 Jean Senekal, 3 Marcelle Gruidelingh, 2 Tristan van der Westhuizen, 1 Armant Botha.

    Vrydag: 

    Hoërskool Piet Retief t. Dr. Malan om 12:40 in Piet Retief

    Piet Retief: 15 Langelihle Ntuli, 14 Mashilo Kgathla, 13 Owethu Nkosi, 12 Aphiwe Khumalo, 11 Vuyani Tshabalala, 10 Owethu Shabalala, 9 Thomas Ferreira, 8 Christiaan Pienaar, 7 Melo Xulu, 6 SJ van Barneveld, 5 Tiaan Korff, 4 Vusi Nhleko, 3 Louis Grobler, 2 Jandre van Deventer, 1 Sfundo Mayisa.

    Dr. Malan: 15 Luka Pretorius, 14 Flippie Blignaut, 13 Andreas Botha, 12 Dillon Gouws, 11 Khamohelo Legae, 10 Dian van den Berg, 9 Herman du Plessis, 8 Juan Jardin, 7 JJ Bester, 6 JT Swart, 5 Anthoni Botes, 4 Enrico van Zyl, 3 Franco Barns, 2 Bernard Benson, 1 Devan Fouché.