SSPN Test Site

Author: froberholzer

  • Allies beëindig Gimmies se onoorwonne status

    FOTO: Jorrie Jordaan

    Dit is die lekkerte van skolerugby; ‘n span kan enigiemand anders klop op enige gegewe dag.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Dit is presies wat Dinsdagaand in Alberton gebeur het toe Hoërskool Alberton, danksy ‘n strafdoel deur Jaydon Mostert, die knoop met 18-17 teen Potchefstroom Gimnasium kon deurhak.

    Daarmee het die Allies vir Gimmies hul eerste nederlaag in die SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling vanjaar toegedien. ‘n Uitmuntende tweede helfte deur die tuisspan het die onoorwonne besoekers heeltemal onkant betrap.

    Gimnasium, wat ‘n gerieflike voorsprong van 17-0 teen rustyd geniet het, het egter ietwat lusteloos in die tweede 35 minute voorgekom. Dit kon waarskynlik te wyte gewees het aan hul taai stryd teen Hoërskool Eldoraigne die afgelope naweek.

    Dit neem egter geensins weg van die feit dat die Allies die oorhand geniet het na die omdraaislag nie. Slot, Kay-C Nel, was aan die spits van die aanslag, met sy kragtige dryfspel wat stelselmatig die momentum in die tuispan se guns geswaai.

    Nel se onvermoeide werkverrigting het die res van die pak aangesteek met die gevolg dat hulle die afbreekpunte begin oordonder het, met steelkantflank, Luke Joubert, ‘n absolute doring in die vlees van die besoekers. Skrumskakel, Ayanda Ndaane, het agterlangs uitgeblink met sy dinamiese diens, terwyl hy die Gimmies ook deurentyd aan die raai gehou het om die losskrums, en dit het aan hom ‘n welverdiende drie besorg.

    Vir die besoekers het heelagter, David Ndala, en haker, Jaco Nel, soos verwag uitgestaan. Ndala het oudergewoonte teenaanvalle geloods waarmee hy telkens die eerste twee verdedigers kon klop, terwyl Nel die oog gevang het met sy lopies in gebroke spel. Hulle het elkeen ‘n drie gedruk, maar is na rustyd vervang – waarskynlik met die oog op Gimmies se halfeindstryd wat wag.

    Daarmee het Gimnasium heelwat woema ingeboet, en hoewel skrumskakel, Dian Smith, sy bes probeer het om momentum vir sy span te herwin, was die oormag in die tweede skof, vernaam voorlangs, nét teveel.

    Puntemakers: 

    Hoërskool Alberton 18 (0) – Drieë: Luke Joubert, Ayanda Ndaane, Kay-C Nel. Strafdoel: Jaydon Mostert. Potchefstroom Gimnasium 17 (17) – Drieë: David Ndala, Jaco Nel, Bart du Plooy. Doelskop: Ndala.

    Ander spanne: 

    o.16: Potchefstroom Gimnasium 17, Alberton 10.

    o.15: Potchefstroom Gimnasium 12, Alberton 10.

    o.14: Potchefstroom Gimnasium 69, Alberton 0.

  • David, Gimmies stoom voort in Bowl

    FOTO: Verskaf deur Potchefstroom Gimnasium se Facebook blad.

    Met slegs ‘n enkele rondomtalie-wedstryd oor om te speel kon nog niemand in die SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling die Prinse van Potch stuit nie.

    Herleef al die Noordvaal Cup se Bowl-aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Potchefstroom Gimnasium het sy onoorwonne segetog in dié afdeling voortgesit deur vir Hoërskool Eldoraigne se Drake in ‘n taai stryd in Centurion met 44-37 te troef. Dié twee spanne het voor die afgelope naweek se aksie ook die eerste en tweede plekke op die Bowl-puntelys beklee.

    Dit het as geen verrassing gekom dat die Gimmies se heelagter en Cravenweek-verteenwoordiger, David Ndala, in ‘n wedstryd waar hardlooprugby hoogty gevier het, uitgeblink het nie. Hoewel Ndala die doellyn self net eenkeer oorgesteek, het hy ‘n noemenswaardige aandeel in die ander ses drieë gehad.

    Binnesenter, Elrich Bosch, het ook sy fisieke baldravermoë tentoongestel, dikwels die voordeellyn met mening aangeval en oorgebars vir ‘n indrukwekkende tweekuns. Voorlangs het Gimmies se slotpaar, Tobias van Dyk en Bart du Plooy, uitgetroon, vernaam op die verdediging.

    Die Drake se vaskopstut en grootste uitblinker, Jaco Fourie, het nietemin sy man deeglik gestaan en die Potchefstroomse pak vir die volle 70 minute besig gehou met sy dryfspel, wat vir hom ook twee drieë besorg het. Agsteman en kaptein, Jayden Niehaus, het sy terugkeer laat geld om, nes Fourie, dikwels inbreuk te maak op die verdediging.

    Met dié twee se vurige vertoning voorlangs, asook binnesenter, Kevin Earle, se kragspel in die middeveld het Eldoraigne, in antwoord op hul rustydagterstand van 10-24, daarin geslaag om 27 punte in die tweede helfte op te stapel wat amper genoeg was om die wa deur die drif te trek, maar Gimmies was uiteindelik nét te sterk.

    Merensky Landbou Akademie se senterpaar, Maritz Meintjies en Jens Bezuidenhout, het albei teruggekeer van beserings en ‘n onmiddelike impak gemaak in die Plasies se sege van 27-24 oor Hoërskool Piet Retief.

    Om die besoekers van Mpumalanga te tem was egter allermins ‘n maklike taak vir die ligbloues. Selfs met slegs 14 man op die veld het die Pieties se agterlyn deurgaans gevaarlik gelyk, met die grondslag daarvoor wat deur, Sfundo Mayisa, wat van stut na agsteman moes skuif, gelê was.

    Die Plasies se skrumskakel, JD Boshoff, het sy imponerende spelpeil voortgesit en nie alleen beïndruk met sy flink diens aan die agterlyn nie, maar was ook in die kol met drie doelskoppe en twee strafdoele vir 12 uiters waardevolle punte. Die Pieties se loskakel, Owethu Shabalala, het self met ál drie doelskoppe en ‘n strafdoel geslaag.

    Potchefstroom Volkskool het in Meyerton vasgebyt om ‘n begeesterde Dr. Malan met 33-28 te klop. Volkies se binnesenter, Christoff Nel, en Dokkies-losskakel, Dian van den Berg, het elk ‘n driekuns behaal. Laasgenoemde het ook drie doelskoppe oorgesit vir ‘n persoonlike bydrae van 21 punte.

    Nel en sy Volkies-sentermaat, Hennie Pretorius, was in ‘n klas van hul eie, met Pretorius wat oorgegaan het vir ‘n kritieke vyfpunter, wat waarskynlik die verskil tussen die twee spanne beteken het.

    In Randburg was ‘n strafdoel deur buitesenter, Quintin Fillies, die deurslaggewende faktor tussen Hoërskool Randburg en Hoërskool Alberton. Die Randburgers, met agsteman en kaptein, Duncan Beaven, wat van voor gelei het, het uiteindelik met 18-17 deurgeskuur.

    Die Allies het hardnekkig geweier om te gaan lê en meedoënloos bly aanval, met vernaam hul agterlyn wat uiters gevaarlik vertoon het en buitsenter, Nathan Reichardt, wat dikwels moeilik was om plat te trek.

    Puntemakers: 

    Potchefstroom Gimnasium 44 (24) – Drieë: Elrich Bosch (2), David Ndala, Bart du Plooy, Toks Becker, Tobias van Dyk, Tiardt Vorster. Doelskoppe: David Ndala (2), Elrich Bosch. Strafdoel: Bosch. Eldoraigne 37 (10) – Drieë: Jaco Fourie (2), Kevin Earle, Darren Bruwer, Jayden Niehaus. Doelskoppe: JP Meyer (3). Strafdoele: Meyer (2).

    Merensky 27 (17) – Drieë: Maritz Meintjies, Jens Bezuidenhout, Rico Pietersen. Doelskoppe: JD Boshoff (3). Strafdoel: Boshoff (2). Hoërskool Piet Retief 24 (17) – Sfundo Mayisa (2), Sinakonke Zwane. Doelskoppe: Owethu Shabalala (3). Strafdoel: Shabalala.

    Potchefstroom Volkskool 33 (21) – Drieë: Christoff Nel (3), Dewald Groenewald, Hennie Pretorius. Doelskoppe: Johandre Maree (4). Dr. Malan 28 (16) – Drieë: Dian van den Berg (3), Andreas Botha. Doelskoppe: Van den Berg (3), Luka Pretorius.

    Hoërskool Randburg 18 (5) – Drieë: Duncan Beaven, Josh Wiggett, Francois Groenewald. Strafdoel: Quinten Fillies. Hoërskool Alberton 17 (5).

    Ander spanne: 

    o.16: Potch Gimmies 27, Eldoraigne 8; Randburg 58, Alberton 8; Merensky 26, Piet Retief 21.

    o.15: Eldoraigne 19, Potch Gimmies 7; Randburg 33, Alberton 26; Piet Retief 15, Merensky 0; Potch Volkies 35, Dr. Malan 5.

    o.14: Eldoraigne 12, Potch Gimmies 7; Randburg 45, Alberton 0; Piet Retief 53, Merensky 0; Dr. Malan 29, Potch Volkies 3.

  • Van Heerden se stewel sink Secunda

    FOTO: Verskaf deur Hoërskool Wesvalia se Facebook blad

    Rieckard van Heerden laat Klerksdorp jubel, breek Secunda se harte.

    Herleef al die Noordvaal Skild-aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die heelagter van Hoërskool Wesvalia het sy reputasie gestand gedoen as een van die dodelikste skerpskutters in die Noordvaal Cup se Skild-afdeling toe hy, met speeltyd verstreke, koel en kalm ‘n strafdoel oorgeklits het om die kastaiings teen Hoërskool Secunda met 32-31 uit die vuur te krap.

    Met dié naelskraapse sege het die onoorwonne Wessies hul greep op die Skild-afdeling verder versterk.

    Dit neem egter niks weg van die span van Secunda, wat self uitstekend gevaar het in die tweede helfte om ‘n agterstand van 14-22 uit te wis en teen die einde die voortou te neem, nie. Die besoekers se verdediging was uit die boonste rakke en het deurentyd vir die Wessies verhoed om aan die gang te kom.

    Dit was eers in die laaste vyf minute van die stryd dat die Klerksdorpers weer deurkomkans kon kry. Skrumskakel, Chad Hofmeyer, het oorgewals vir sy tweede drie en Van Heerden het verdoel vir ‘n skrale voorsprong van 29-28.

    Die daaropvolgende strafdoel deur Secunda se heelagter, Damian de Beer, het geblyk of dit dit doodskoot kon wees, maar Van Heerden het kort daarna die kans aangegryp om die voortou vir die derde keer in vyf minute te verwissel, en sodoende die sege te beklink.

    Die Secunda-pak was oudergewoonte uiters fisiek, met agsteman en kaptein, Bakkies Bezuidenhout, aan die spits en losskop, Nathan Erasmus, wat goed hand bygesit het.

    Hoërskool Die Anker het sy anker gelig om Hoërskool Hugenote van Springs met 33-19, op sy tuisveld in Brakpan, te verslaan.

    Afrigter, Corneel van Dyk, sou ook in sy noppies gewees het met die fisiekheid van sy agttal, met die voorrymanne prominent en vaskopstut, Damian Boshoff, wat oorgebars het vir ‘n puik tweekuns.

    Haker, Sifiso Shongwe, het egter die meeste skade voorlangs aangerig met sy fenomenale werkverrigting en fisieke teenwoordigheid by die afbreekpunte, en is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.

    Die tuisspan se regtervleuel, Ruan Smith, het self ‘n goeie dag beleef met die skopskoen en vier van Die Anker se vyf drieë met gemak verdoel.

    Hoërskool Pietersburg het einde ten laaste sy eerste oorwinning in vanjaar se reeks behaal deur vir ‘n gedugte Heidelberg Volkskool, in Heidelberg, met 41-38 te troef.

    Dit was ‘n ware drieëfees, met 11 drieë wat tussen die twee spanne gedruk is. Die Pieties se Cravenweek-skrumskakel, Divan Brown, het sy skitterende spelpeil voortgesit om die Volkies dikwels met ratse breekslae om die afbreekpunte te toets en het só twee keer agter die doellyn gaan draai.

    Sy goeie diens aan losskakel, Vincent Luckhoff, het voorts gehelp om die Pietie-agterlyn op die voorvoet te plaas. Die woelwater-haker, Dewald de Beer, het ook mou opgerol en was ‘n doring in die vlees op sowel die verdediging as aanval.

    Die Volkies se Munro-duo, Joshua Munro (agsteman) en Daniel Munro (steelkantflank), was weer uiters prominent met hul dryfspel wat beslis ‘n paar seer lywe vir die Pietie-verdedigers sou beteken het. Buitesenter, Marco Botha het ook beïndruk deur met al vyf doelskoppe, asook ‘n strafdoel, te slaag.

    Puntemakers: 

    Wesvalia 32 (22) – Drieë: Chad Hofmeyer (2), Philip Janse van Rensburg, Justin Adams. Doelskoppe: Rieckard van Heerden (3). Strafdoele: Van Heerden (2). Hoërskool Secunda 31 (14) – Drieë: Bakkies Bezuidenhoud, Nathan Erasmus, Bismarck Jansen, Brink La Grange. Doelskoppe: Damian de Beer (4). Strafdoel: De Beer.

    Die Anker 33 (19) – Drieë: Damian Boshoff (2), Zander Fraser, Troy Joubert, Brendan van Lutterveld. Doelskoppe: Ruan Smith (4). Hugenote (Springs) 19 (14).

    Hoërskool Pietersburg 41 (20) – Drieë: Divan Brown (2), Dewald de Beer, Juan Jansen van Vuuren, Keegan Baker, David Stander. Doelskoppe: Vincent Luckhoff (3), Divan Brown. Heidelberg Volskool 38 (17) – Drieë: Daniel Munro, Hein Oelofse, Joshua Munro, Christopher Makgongoane, Janco Coetzer. Doelskoppe: Marco Botha (5). Strafdoel: Botha.

    Ander spanne: 

    o.16: Die Anker 33, Hugenote 10; Heidelberg Volkies 29, Pietersburg 14; Wesvalia 34, Secunda 5.

    o.15: Die Anker 45, Hugenote 7; Pietersburg 19, Heidelberg Volkies 12; Wesvalia 26, Secunda 21.

    o.14: Die Anker 22, Hugenote 0; Pietersburg 62, Heidelberg Volkies 7; Wesvalia 40, Secunda 7.

  • Middies, Oosies nogmaals ewe goed

    Middies, Oosies nogmaals ewe goed

    FOTO: Frans Lombard

    ‘n Wedstryd van twee helftes, maar steeds niks wat die Middies en Oosies skei nie.

    Herleef al die Noordvaal Cup se Plaat-aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    In hul langverwagte herontmoeting kon Hoërskool Middelburg en Hoërskool Oos-Moot steeds nie die dooiepunt tussen hulle breek nie.

    Die twee spanne, wat vroeër vanjaar met 33-33 gelykop gespeel het in die NWU Sportreeks, het Saterdag op dieselfde veld, in die SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling, wéér die louere met 29-29 gedeel.

    Dit was beslis ‘n wedstryd van twee helftes, met die Middies wat die eerste 35 minute oorheers het om teen rustyd met 19-10 voor te loop.

    Slot, Enrico Thompson, het, in ‘n wedstryd waar die Middies se voorspelers hand moes opsteek, kop en skouers bo die res uitgestaan. Nie alleen het hy die Oosie-verdedigers deurgaans besig gehou met sy begeesterde dryfspel nie, maar ook oor die doellyn gebars vir ‘n welverdiende tweekuns.

    Binnesenter, Lungelo Maseko, het met sy kragspel in die middeveld verder bygedra tot die Middelburgers se oorheersing voor die omdraaislag.

    Aan Oos-Moot se kant het Dewron Aford duidelik sy gunstelingposisie gevind met sy spelpeil wat dramaties gelig het sedert sy skuif van heelagter na losskakel. Sy dinamiese dartellopies het juis die tuisspan se terugvegpoging na rustyd geloods.

    Flank en kaptein, Wade Williams, wat ‘n stillerige seisoen beleef het, het ook hand opgesteek en waarskynlik sy beste wedstryd van die seisoen gelewer met sy vernuf om gapings aan te val.

    ‘n Uitstaande vertoning deur Hoërskool Klerksdorp se buitesenter, Winton Abrahams, het bygedra daartoe die Klerksdorpers hul laaste wedstryd op tuisbodem met 26-10 kon wen teen die voorlopers in die afdeling, Hoërskool Transvalia. Die span van Klerksdorp is steeds onoorwonne op hul tuisveld.

    Voorrymanne, De Wet Le Roux (loskopstut) en Liam Pretorius (vaskopstut), het ‘n soliede fondasie daargestel, met ‘n kragtige vertoning in die vaste fasette en woelige spel in die vastelos. Dit het vir Abrahams en sy fisieke sentermaat, Asif Sumara, in staat gestel om die Valia-agterhoede gas te gee.

    Die besoekers se indrukwekkende haker, Jayden McPearson, het moedig probeer om die span van Vanderbijlpark in die wedloop te hou en was, tesame met skrumskakel, Anro Nagel, die span in ligblou se groot uitblinkers in Klerksdorp.

    Ligbron Akademie se twee sterre, linkervleuel, Bandile Thanjekwayo, en heelagter, Anele Ngwenya, het in die tweede helfte na hoogste versnelling oorgeskakel om elk twee keer te druk in ‘n oortuigende oorwinning van 47-22 oor Hoërskool Kempton Park. Die Kempies, wat nie vanjaar volgens potentiaal presteer het nie, het nietemin in die eerste helfte uitstekend vertoon op die verdediging.

    Binnesenter, Tiaan Delport, het uitgetroon met 17 van sy span se 22 punte, danksy vyf strafdoele en ‘n doelskop, om sy span in die kragmeting te probeer hou.

    Dit het Thanjekwayo en Ngwenya egter nie lank ná die omdraaislag geneem om die Kempies  se verdediging uiteindelik uit te oorlê nie. Tiaan Botha, wat van oopkantflank na slot geskuif het, was ondergewoonte bedrywig voorlangs.

    Hoër Tegniese Skool Middelburg het sy kanse om ‘n tuishalfeindstryd te verseker vergroot. Met die Middies se gelykopuitslag, wat ook hul laaste rondomtallie-wedstryd was, is die Rooi Bulle se bonuspuntsege van 36-7 oor Hoërskool Zwartkop ‘n uiters belangrike een. Hiervoor verdien die agttal ‘n klop op die skouer .

    Die Rooi Bulle se dieselenjin het van meet af die botoon gevoer onder leiding van agsteman, Tercius Bezuidenhout, en haker, Hanru Terblanche. Bezuidenhout het twee keer gedruk, terwyl Terblanche ook met ‘n vyfpunter beloon is.

    Puntemakers: 

    Oos-Moot 29 (10) – Drieë: Tapiwa Rwafa, David Joubert, Wade Williams, Dewron Aford. Doelskoppe: Ruwan Allen (3). Strafdoel: Allen. Hoërskool Middelburg 29 (19) – Drieë: Enrico Thompson (2), Lungelo Maseko, Sihle Mkhatshwa, Jacques Greyling. Doelskoppe: Crawford Joubert (2).

    Hoërskool Klerksdorp 26 (19) – Drieë: Winton Abrahams (2), Heinrich Hovener, Tyron Masango. Doelskoppe: Deacon Loots (2), Liam Pretorius. Transvalia 10 (5) – Drieë: Jayden McPearson, Anro Nagel.

    Ligbron Akademie 47 (14) – Drieë: Bandile Thanjekwayo (2), Anele Ngwenya (2), Siyanda Dennison, Janco Claasen, Tiaan Botha. Doelskoppe: Renier van Staden (5), Divan van Jaarsveld. Hoërskool Kempton Park 22 (15) – Drie: Tian Aucamp. Doelskop: Tiaan Delport. Strafdoele: Delport (5).

    HTS Middelburg 36 (17) – Drieë: Tercius Bezuidenhout (2), Hanru Terblanche, Ethan Kock, Anthoni Smuts, WJ Enslin. Doelskoppe: Jaque Stassen (2), WJ Enslin. Zwartkop 7 (0) – Drie: Zulu Mona. Doelskop: Luhardt Booyens.

    Ander spanne: 

    o.16: Kempton Park 16, Ligbron 15; Transvalia 60, Klerksdorp 7; Middelburg 27, Oos-Moot 22; HTS Middelburg 14, Zwartkop 12.

    o.15: Kempton Park 19, Ligbron 17; Klerksdorp 34, Transvalia 13; Middelburg 7, Oos-Moot 3; Zwartkop 15, HTS Middelburg 12.

    o.14: Kempton Park 28, Ligbron 5; Klerksdorp 10, Transvalia 10; Middelburg 17, Oos-Moot 13; HTS Middelburg 15, Zwartkop 8.

  • Welkom terug Monnas!

    FOTO: Andrew Campbell

    KRUGERSDORP – Theuns du Plooy jou doring!

    Herleef al die Noordvaal Beker aksie op SuperSport Schools(www.supersporschools.com) 

    Du Plooy, Hoërskool Monument se heelagter het vier keer agter die besoekende Hoërskool Rustenburg se doellyn gaan kuier in die Wit Bulle se reuse oorwinning van 87-8 in die twee spanne se voorlaaste rondomtalie-stryd in die Noordvaal Cup se Beker-afdeling.

    Die heelagter se vierkuns het deel uitgemaak van ‘n uitmuntende vertoning op die aanval, met die span van Krugersdorp wat nie minder nie as 12 keer die Rustenburgers se doellyn kon oorsteek.

    Haker, Keenan Myners, een van dié wat sy hand vir man van die wedstryd opgesteek het, en die indrukwekkende steelkantflank, RJ Barnard, het elk twee keer oorgeduik vir dubbele driedruk-genot.

    Dit was vanuit die staanspoor duidelik dat die Wit Bulle daarop uit was om ‘n reuse punt te bewys. Dié wedstryd was ook ‘n belangrike een in terme van hul Beker-aspirasies. Na dié wegholsege bevind Monnas hulself noú in die vierde plek op die puntelys en is hul plek in die halfeindrondes bespreek.

    Die Monnas-agttal het soos dié van ouds gelyk. Met Myners en Barnard wat deurgaans gewoeker het en die momentum wat bewerk is deur kaptein Jacques Botha en Kie se kragtige dryfspel, is ‘n stewige grondslag gelê om die agterlyn los te laat. Dit het die tuisspan uitstekend vermag.

    Die hope spasie en uitstekende vaardighede onder die snellers agterlangs het waarskynlik die Monnas-agterlyn se beste algehele vertoning van die seisoen tot gevolg gehad. Hulle het die bal soos ‘n goed geoliede masjien geskuif, wat aan Du Plooy en die res van die agterste driehoek, Ernesto Oersen (linkervleuel) en Caylum Schooney (regtervleuel), geleenthede gebied het om keer op keer wyd toe te slaan.

    Shooney was ook uitstekend met sy korrelwerk pale toe en het ses doelskoppe deur die pale gejaag, terwyl plaasvervanger-losskakel, Justin Viljoen, ook met vyf doelskoppe kon slaag.

    In Pretoria het Helpmekaar Kollege en Hoërskool Garsfontein baljaar in ‘n drieëfees op Berepark. Die Bere kon die wipplankstryd uiteindelik, te danke aan twee laat drieë deur vaskopstut, Luan van den Berg, en plaasvervanger-vleuel, Junaide Stuart, met 54-40 beklink.

    Dit was voorwaar ‘n geval van “een vir jou, een vir my”, met albei spanne wat geweier het om die aftog te blaas.

    Die Bere het met meedoënlose rolmaalbewegings die oorhand verkry in die tweede 35 minute en dit het vir haker, Justin Blom, in staat gestel om twee keer oor te duik en sy span stewig in die saal te plaas.

    Dit neem egter niks van die Helpies se agttal weg nie. Hul Cravenweek-slot en kaptein, JP Lombard, was vir die soveelste, en laaste, keer uitstaande. Sy fisieke spel, gekenmerk deur sterk barslopies, het die tuisspan voor gekasty. Agsteman, Motlatsi Moloi, het oudergewoonte stewig hand bygesit en, nes Lombard, die bal hard gedra.

    Linkervleuel, Pieter Moller, het egter die kollig gesteel. Moller was deurentyd dodelik met die bal in hand en het by twee geleenthede onkeerbaar deur ‘n aantal duikslae gebreek om agter die Garsies se doellyn te gaan kuier.

    Die stryd tussen die twee skerpskutters sou enige skopafrigter tevrede gestel het. Die Helpies se loskakel, Michael Benzien, het slegs met twee pogings pale toe misluk en vyf van sy span se sewe drieë verdoel, terwyl Handré Maree, die Pretorianers se heelagter, met sewe uit agt pogings geslaag het om 14 punte, wat uiteindelik die verskil beteken het, by te dra.

    Puntemakers:

    Monument 87 (24) – Drieë: Theuns du Plooy (4), Keenan Myners (2), RJ Barnard (2), Evan Bernhardi, Jamaal Feldman, Hugo van der Merwe, Cameron Swartz. Doelskoppe: Caylum Schooney (6), Justin Viljoen (5), Theuns du Plooy. Hoërskool Rustenburg 8 (8) – Drie: Coenraad Coetzer. Strafdoel: Lorenzo Snyers.

    Garsfontein 54 (28) – Drieë: Justin Blom (2), Junade Pasensie, Stephan Pretorius, Derrick Kuhn, James Schnetler, Luan van den Berg, Junaide Stuart. Doelskoppe: Handre Maree (7). Helpmekaar Kollege 40 (21) – Drieë: Pieter Moller (2), JP Lombard, Ty Ax, Darius Haasbroek, Vaughn la Grange. Doelskoppe: Michael Benzien (5).

    Ander spanne: 

    o.16: Helpmekaar 15, Garsfontein 13; Monument 27, Rustenburg 19.

    o.15: Garsfontein 19, Helpmekaar 5; Monument 19, Rustenburg 7.

    o.14: Garsfontein 36, Helpmekaar 24; Rustenburg 6, Monument 5.

  • Nories se halfeind-hoop sneuwel in Pretoria

    Nories se halfeind-hoop sneuwel in Pretoria

    FOTO: Frans Lombard

    PRETORIA – Die Norie Blues het die einde van die pad in die SDC Noordvaal Cup se Beker-wedloop bereik, na die opskudding wat Hoërskool Menlopark Saterdag in Pretoria veroorsaak het.

    Herleef al die Noordvaal Beker-aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die Parkies het die besoekende Hoërskool Noordheuwel met ‘n telling van 26-19 verslaan.

    Die vier spanne wat deurgedring het na die halfeindronde is Dr. EG Jansen, Waterkloof, Garsfontein en Monument.

    Die Nories se nederlaag het vir heelwat mense as ‘n verrassing gekom, verál na die span van Krugersdorp vir een van die voorlopers in die reeks, Hoërskool Waterkloof, skaars ‘n week vantevore gemaklik met 52-32 omgedop het.

    Hul vertoning hierdie week kan egter nie met dié van die vorige week vergelyk nie. Dit was aangesien die Parkies deurgaans maniere gevind het om die besoekers onder druk te plaas en dit het daartoe gelei dat ongedwonge foute kop uitgesteek het.

    Die Pretorianers se verdediging was boonop rotsvas. Onder leiding van die indrukwekkende  Rocco Myburgh op agsteman, asook die slotte, Mattheus Prinsloo en Xander Roets, het die Parkies voorlangs behoorlik die septer geswaai.

    Dit het die grondslag gelê vir die agterlyn om aanskoulike, aanvalsrugby te speel en gevolglik is ál vier hul drieë deur agterspelers aangeteken. Die veelsydige Divan Nel het vir die soveelste keer vanjaar geskitter en heel gepas die driedruk-vertoning ingelei.

    Nories se flank en kaptein, Meyer Opperman, en losskopstut, Ruben Botes, het moedig probeer om voorwaartse momentum te bewerkstellig, maar hul span het eenvoudig nie van rat verwissel nie. Agterlangs het Cheswill Jooste en Lindsey Jansen soms vir die Parkies hoofbrekens gesorg, maar selfs hulle was nie so giftig soos teen die Klofies verlede naweek nie.

    Hoërskool Dr. EG Jansen het sy stempel selfs verder afgedruk deur, met slegs 14 man, sjampanje-rugby op te dis waarmee hy vir die Rhinos van Hoërskool Nelspruit met 50-7 afgestof het. Oopkantflank, Zaide-Leigh Rippenaar, was uitmuntend en het een van sy beste vertonings van die seisoen gelewer.

    Die Boksburgers se agterhoede het ook ‘n duidelike waarskuwing gerig dat hulle nie enige spasie gegun moet word nie. Losskakel, Matthew Bergman, het spel van die hoogste gehalte gelewer om sy senters, Steven Williams en Jeandre Jacobs, telkens in gapings te plaas.

    Die Jansies het met dié bonuspuntsege ‘n tuishalfeindstryd oor twee weke verseker. Dit is ‘n vooruitsig wat Helpmekaar Kollege of Monument se handpalms sal laat sweet.

    Die Blou Tornado, Hoërskool Waterkloof, het, na twee uitdagende weke, na die wenpad teruggekeer en, danksy ‘n dominante vertoning in die tweede helfte, met 47-14 oor Hoërskool Marais Viljoen in Alberton koning gekraai. Dié bonuspuntsege kan beteken dat hy, nes die Jansies, tuisveldvoordeel vir die semi-finale geniet.

    Losskopstut, Juan Gouws, het soos ‘n wafferse losvoorspeler in die vastelos gewoel om die lewe ondraaglik vir die tuisspan te maak, en sy kort maar kragtige barslopies het herhaaldelik  vir die besoekers oor die voordeellyn gedryf. Dit het ‘n groot aandeel gehad daarin dat die besoekers 35 punte in die tweede helfte aangeteken het.

    Boonop het Ronan Bastiaanse, wat vandeesweek op losskakel uitgedraf het, sy ritme gevind in die tweede 35 minute om die agterlyn aan die gang te kry.

    Devin Raubenheimer, die tuisspan se linkervleuel, het soos die week vantevore, deurentyd gevaarlik gelyk en met sy bedrieglike vaart en flink voetwerk die Klofies op hul tone gehou.

    Puntemakers: 

    Menlopark 26 (12) – Drieë: Gustav Schaffner, Wynand van Wyk, Leskin Samuels, Divan Nel. Doelskoppe: Phillipus de Bruyn (3). Noordheuwel 19 (5) – Drieë: Jeremo Luiters, Ruben Botes, Meyer Opperman. Doelskoppe: Lindsey Jansen (2).

    Dr. EG Jansen 50 (31) – Drieë: Steven Williams, Zade-Leigh Rippenaar, Duwan Potgieter, Jeandre Jacobs, Gerhard van Aswegen, Divan Francis, Ettienne Smit, Jeandre Reynders. Doelskoppe: Jean-Dré Claasen (5), Jeandre Reynders. Hoërskool Nelspruit 7 (0) – Drie: Vaughn van Zyl. Doelskop: Theuns Meyer.

    Waterkloof 47 (12) – Drieë: Ronan Bastiaanse, Juan Gouws, Mikhal Odendaal, Happy Makate, Dennis Obi, Migael Prinsloo, Ruan Jacobz. Doelskop: Bastiaanse. Marais Viljoen 14 (7) – Drieë: Claude de Couto, Devin Raubenheimer. Doelskoppe: Tyron Bouw (2).

    Ander spanne: 

    o.16: Noordheuwel 24, Menlopark 18; Nelspruit 24, Dr. EG Jansen 19; Waterkloof 67, Marais Viljoen 0.

    o.15: Noordheuwel 41, Menlopark 0; Nelspruit 26, Dr. EG Jansen 19; Waterkloof 28, Marais Viljoen 21.

    o.14: Noordheuwel 23, Menlopark 6; Nelspruit 21, Dr. EG Jansen 17; Waterkloof 52, Marais Viljoen 7.

  • Helpies kan Bere kopsere besorg

    FOTO: Frans Lombard

    Helpmekaar Kollege is bekend daarvoor dat hy die Bere van Garsfontein meer pyn as enige ander skool kan besorg.

    Volg al die Noordvaal Cup se Beker-aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die span van Johannesburg sal dit beslis nie maklik maak vir Hoërskool Garsfontein op Berepark nie.

    Dit is boonop die Helpies se laaste groepwedstryd en kan hul heel laaste van die seisoen wees indien hulle nie in Pretoria die wa deur die drif kan trek nie.

    Albei spanne het goeie oorwinnings verlede naweek behaal, met die Johannesburgers wat hul ritme in die laaste 20 minute teen Hoërskool Marais Viljoen skitterend herwin het om met 62-24 in Johannesburg te wen, terwyl die Garsies met ‘n oorwinning van 31-29 op die Ras van Rooyen, Hoërskool Monument se tuisveld, kon spog.

    Die Helpies sit steeds sonder die dienste van hul inspirerende vaskopstut, Ulrich van der Merwe, met heelagter Tiaan le Roux wat die rol oorgeneem het om vuur onder die span te maak, terwyl slot, JP Lombard, en agsteman, Motlatsi Moloi, ook vir die Bere vir die volle 70 minute op hul tone sal hou met hul kragtige dryfspel.

    Garsies beskik wel oor die nodige skietgoed om Lombard en Kie te neutraliseer. Hul SA Skole-slot, James Schnetler, is sedert sy terugkeer van besering uitstaande voorlangs, terwyl losskakel, Junade Pasensie, ook met ‘n valkoog dopgehou moet word.

    Verlede naweek se held, Junaide Stuart, is een van die groot name wat gemis word hierdie week weens ‘n besering, met Derrick Kuhn wat hom op linkervleuel vervang.

    In Krugersdorp pak die oorlogswolke saam met Hoërskool Monument se Wit Bulle wat die onvoorspelbare Hoërskool Rustenburg op die Ras van Rooyen verwelkom. Dit is maak of breek vir albei spanne, met ‘n nederlaag wat die einde van die pad kan beteken.

    Monnas se breier, Tjaart van der Walt, het ‘n paar taktiese skuiwe gemaak met die hoop dat die agterlyn op alle silinders sal vuur. Theuns du Plooy neem sy plek op heelagter in, met die gevaarlike Caylum Schooney wat na regtervleuel skuif. Goeie nuus vir die Wit Bulle se ondersteuners is dat gevaarman, Ernesto Oersen, steeds op linkervleuel in aksie sal wees.

    Die tweestryd tussen die twee pakke beloof om titanies te wees, met die Rusties wat vasberade sal wees die oorhand voorlangs te kry ten einde die gevaarmanne, Lorenzo Snyers (heelagter) en John-ré Jefthas (buitesenter), genoegsame geleenthede op die aanval te bied.

    Die spanne: 

    Garsfontein t. Helpmekaar Kollege om 14:00 in Pretoria

    Garsfontein: 15 Handre Maree, 14 Xian Erasmus, 13 Ruan Enslin, 12 Luann Olivier, 11 Derrick Kuhn, 10 Junade Pasensie, 9 Luan Ferreira, 8 Stephan Pretorius, 7 Thinus Oosthuizen, 6 JP Pieterse, 5 Jacques Swarts, 4 James Schnetler, 3 Luan van der Berg, 2 Justin Blom, 1 Ethan van Wyk.

    Helpmekaar Kollege (moontlik): 15 Tiaan le Roux, 14 Delano Maritz, 13 Ty Ax, 12 Vernon Beyer, 11 Pieter Moller, 10 Michael Benzien, 9 Tristan van Niekerk, 8 Motlatsi Moloi, 7 Darius Haasbroek, 6 Zaiden Krige, 5 JP Lombaard, 4 Christiaan Tonkin, 3 Ulrich van der Merwe, 2 Gustav Grotius, 1 Liam Devenier.

    Monument t. Hoërskool Rustenburg om 13:30 in Krugersdorp

    Monument: 15 Theuns du Plooy, 14 Caylum Schooney, 13 Viandré van Loggerenberg, 12 Hugo van der Merwe, 11 Ernesto Oersen, 10 Hanno du Toit, 9 Evan Bernhardi, 8 Vincent Roberts, 7 RJ Barnard, 6 Jamaal Feldman, 5 Nathan Erasmus, 4 Jacques Botha, 3 Juandre Marais, 2 Keenan Myners, 1 Bernard Delport.

    Hoërskool Rustenburg: 15 Lorenzo Snyers, 14 Christiaan van der Berg, 13 John-Re Jefthas, 12 Hendre Robinson, 11 Wesley van Loggerenberg, 10 Awie Engelbrecht, 9 Adriano George, 8 Coenraad Koetzer, 7 Dirk Huisamen, 6 Wickus Jacobs, 5 Pedrie Human, 4 Erich Potgieter, 3 Ockert Grobler, 2 Xavier Steenkamp, 1 Divan Welgemoed.

  • Naelbyttyd vir Nories

    Janet van der Merwe/Photography by Janet

    Hierdie naweek kan maak of breek beteken vir die Norie Blues.

    Volg al die Noordvaal Beker op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Hoërskool Noordheuwel móét sy kragmeting met Hoërskool Menlopark Saterdag in Pretoria wen om ‘n plek in die halfeindrondes van die Noordvaal Cup se Beker-afdeling te bespreek.

    Die Blues beklee huidiglik die sesde plek op die puntelys, met 19 ligapunte.

    Hul bonuspuntsege oor Hoërskool Waterkloof verlede naweek het hul veldtog ‘n beduidende hupstoot gegee en ‘n herhaling hierdie week kan hul kanse verder verbeter.

    Nories se drieëvraat op linkervleuel, Lindsey Jansen, was uitmuntend teen die Klofies, in waarskynlik sy beste vertoning vanjaar, en het ‘n driekuns behaal in die oorwinning van 52-32. Hy hou uiteraard ‘n groot bedreiging in vir die Parkies.

    Cheswill Jooste se skuif na heelagter kan ook bepalend wees vir die Blues se sukses. Die SA Skole-heelagter, wat heel seisoen puik gevaar het op buitesenter, kan amok saai indien hy spasie gegun word om te hardloop en ook meer aanvalsgeleenthede vir Jansen skep.

    Voorlangs het nog ‘n skuif die beste uit kaptein en nóú oopkantflank, Meyer Opperman, gebring. Opperman, wat vroeër vanjaar die Blues van loskopstut aangevoer het, moes weens beserings na die kant van die skrum skuif en het spoedig ‘n vreesaanjaende vennootskap met steelkantflank, Andrew Lambert, gevorm.

    Die twee behoort wel hul hande vol te hê met die Parkies se indrukwekkende agtsteman, Rocco Myburgh. Myburgh, moontlik die Parkies se beste voorspeler deur die loop van die seisoen, sal weer die bal hard dra om die span van Pretoria oor die voordeellyn te kry.

    Agterlangs sal die teenwoordigheid van linkervleuel, Divan Nel, sorg vir ‘n liplekker-stryd met Jansen en Jooste. Nel se vernuf op die teenaanval en uitstekende visie om die kleinste van spasies uit te buit behoort die Nories se puik verdediging behoorlik toets.

    In Boksburg kom Hoërskool Nelspruit voor sy grootste toets nóg te staan wanneer hy die voorlopers in die kompetisie, Hoërskool Dr. EG Jansen, weg aandurf. Die Nellies, wat die laaste, paar weke ‘n paar groot honde in Mbombela gebyt het, sal daarop uit wees om die Jansies se partytjie te bederf.

    Dit is egter geensins ‘n maklike taak nie, vernaam met die veelsydige, Gerhard van Aswegen, wat skitterend op dreef is. Van Aswegen, wat normaalweg op slot sak, het verlede naweek teen Hoërskool Rustenburg op steelkantflank uitgeblink en die Rusties se verdedigers deurgaans geterroriseer. Nellies se agtsteman, Vaughn van Zyl, en haker, Regardt Vermaak, het vanjaar van krag to krag gegaan en sal dus oudergewoonte ‘n vreeslose vertoning op verdediging moet lewer.

    Hoërskool Waterkloof is vasberade om met ‘n bonuspunt terug te keer van Alberton, waar hulle teen Hoërskool Marais Viljoen te staan kom.

    Die Klofies beleef sedert die verlies van agtesteman, Marko Kok, ietwat van ‘n insinking met twee opeenvolgende nederlae. Dit ly egter geen twyfel nie dat die Klofies steeds ‘n gedugte span is, verál met ‘n buitesenter soos die gevaarlike Happy Makate. Makate neem sy plek in die 13-trui in die plek van Riwan van Aswegen op. Van Aswegen sal vandeesweek misloop weens ‘n ligte skouer besering.

    Dit gee aan Ricardo Crause die geleentheid om die Klofie afrigtinting span te wys in hom steek op binnesenter.

    Die span van Alberton se steelkantflank, Dian Scheepers, en losskakel-generaal, Recce Gerber, sal nietemin ander planne hê, en sal, saam met vleuel, Weon van der Vyver, alles uithaal om die Klofies in Alberton te probeer roer.

    Die spanne: 

    Hoërskool Menlopark t. Noordheuwel om 12:30 in Pretoria

    Menlopark: 15 Reinhardt Herbst, 14 Gustav Schaffner, 13 Leskin Samuels, 12 Wynand van Wyk, 11 Divan Nel, 10 Anru Kuhn, 9 Phillipus de Bruyn, 8 Rocco Myburg, 7 JN van Wyk, 6 Nathan du Plessis, 5 Xander Roets, 4 Mattheus Prinsloo, 3 Ruwan van Aardt, 2 Zander van Staden, 1 Chrisjan Brits.

    Noordheuwel: 15 Cheswill Jooste, 14 Jeremo Luiters, 13 Francois Venter, 12 Jared Coetzee, 11 Lindsey Jansen, 10 Jeandre Uithaler, 9 Ignatius Jantjies, 8 Juandre de Villiers, 7 Andrew Lambert, 6 Meyer Opperman, 5 Xander Buitendag, 4 Alex Greeff, 3 Martin Nel, 2 Clinton Agu, 1 Ruben Botes.

    Hoërskool Dr. EG Jansen t. Hoërskool Nelspruit om 12:30 in Boksburg

    Dr. EG Jansen: 15 Ntokozo Ngobese, 14 Jean-Dre Claasen, 13 Juandre Jacobs 12 Steven Williams, 11 Keanu van Loggerenberg, 10 Matthew Bergman, 9 Riekus van der Merwe, 8 Storm Labuschagne, 7 Gerhard van Aswegen, 6 Zade-Leigh Rippenaar, 5 Zandre Naudé, 4 Ettienne Smit, 3 Duwan Potgieter, 2 Danre Pike, 1 Zian Marais.

    Hoërskool Nelspruit: 15 Jean Erasmus, 14 Jordan Pretorius, 13 Ruben Greeff, 12 Ian Wood, 11 Tinyiko Shilubane, 10 Theuns Meyer, 9 Liam Pringle, 8 Vaughn van Zyl, 7 Prosper Chillione, 6 Banele Ngwenya, 5 Ronaldo van Rensburg, 4 Ethan Esterhuizen, 3 Gert Cloete, 2 Regardt Vermaak, 1 Lindani Ndlela.

    Hoërskool Marais Viljoen t. Hoërskool Waterkloof om 12:30 in Alberton

    Marais Viljoen: 15 Tyron Bouw, 14 Weon van der Vyver, 13 Brandon Els, 12 Claude de Couto, 11 Devin Raubenheimer, 10 Recce Gerber, 9 Ethan Weideman, 8 Rio Tshimalanga, 7 Dian Scheepers, 6 Lloyd Shoko-Schenk, 5 JD Labuschagne, 4 Bjorn Pieterse, 3 Ruben Mans, 2 Sifiso Shongwe, 1 Clayton Gagiano.

    Waterkloof (moontlik): 15 Dennis Obi, 14 Malcolm George, 13 Happy Makate, 12 Ricardo Crouse, 11 Dylan Botha, 10 Ronan Bastiaanse, 9 Migael Prinsloo, 8 Dawid Prinsloo, 7 Ruben Cox, 6 Divan Botha, 5 Alrich Uys, 4 Mikhal Odendaal, 3 Jedri Swart, 2 Ruan Jacobs, 1 Juan Gouws.

  • Bowl se bestes reg om Centurion op horings te neem

    Bowl se bestes reg om Centurion op horings te neem

    FOTO: Eldoraigne Facebook-blad

    Dis een teen twee in die agste ronde van die SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling.

    Beleef al die Bowl-aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Huidiglik die twee beste spanne in vanjaar se Bowl-afdeling, Potchefstroom Gimnasium en Hoërskool Eldoraigne, meet uiteindelik Saterdag kragte op die Drake se tuisveld in Centurion.

    Albei spanne het in hul laaste wedstryde wegholseges met 80 punte en uitmuntende hardlooprugby behaal.

    Die Drake het intussen ook ‘n loslootjie gehad, wat heelwat van hul beseerde spelers geleentheid gebied het om te herstel.

    Vuurvreter-agtsteman, Jayden Niehaus, keer terug nadat hy die reuse oorwinning oor Hoërskool Wagpos van die kantlyn moes aanskou, terwyl staatmaker, JP Meyer, die groenlig gekry het om weer te speel nadat hy die veld in Brits weens ‘n hou teen die kop moes verlaat. Meyer keer egter terug op heelagter in plek van Divan Michael, wat klaarblyklik vir die res van die seisoen op die krukkelys sal wees, met Elmar Olivier wat Meyer op losskakel vervang.

    Die onoorwonne Gimmies het self ‘n paar interessante skuiwe vir die rit na Centurion aangebring, met die vernaamste hiervan Elrich Bosh se skuif van agsteman na binnesenter. Morné van Aswegen beweeg oor van steelkantflank na agsteman, met Wian Botha wat kans kry op flank.

    Merensky Lanbou Akademie verwelkom ook vir senters, Jens Bezuidenhout en Maritz Meintjies, terug na beserings. Die Plasies ontvang die onvoorspelbare Hoërskool Piet Retief in die Bulkraal in Tzaneen. Benewens die versterking in die middeveld, maak heelagter, Ashten Demos, en Hardus Terblanche, die Tzaneeners se Cravenweek-agsteman, ook hul terugkeer.

    Die besoekers van Mpumalanga se breier, Pieter de Waal, moes noodgedwonge weer veranderinge maak, maar een daarvan kan moeilikheid vir die Plasies beteken. Christiaan Pienaar keer terug na die beginspan, maar wel op binnesenter en nie agsteman nie.

    Die span van Piet Retief beskik oor ‘n uitstekende agterlyn, verál wanneer heelagter, Lagelihle Ntuli, aan die gang kom. Hulle moet egter klaarkom sonder die ander gevaarman, Siphosethu Sibisi, wat deur Aphiwe Khumalo op senter vervang word.

    Potchefstroom Volkskool reis na Meyerton om Hoërskool Dr. Malan die stryd aan te sê en moet  ligloop ná die Dokkies se puik vertoning teen Merensky. Heelagter en puntemasjien, Luka Pretorius, is uitstekend op dreef en het verlede naweek ‘n skitterende driekuns behaal.

    Die Volkies het hul laaste drie uitstappies gewen met Losskakel, Johandre Maree, wat die Volkie-agterlyn deurgaans op die voorvoet kry.

    Hoërskool Randburg sal hul keer moet ken wanneer Hoërskool Alberton in Randburg ‘n draai maak. Die Allies het verlede naweek ‘n indrukwekkende sege van 22-19 oor Piet Retief behaal, wat grotendeels te danke was aan binnesenter, Ewan Muller, en heelagter, Jaydon Moster, wat daarop uit sal wees om die Randburgers se verdediging ook te fnuik.

    Die spanne: 

    Eldoraigne t. Potchefstroom Gimnasium om 12:00 in Centurion

    Eldoraigne: 15 JP Meyer, 14 Manie Buitendag, 13 Ivan Vermeulen, 12 Kevin Earle, 11 Hendru van Zyl, 10 Elmar Olivier, 9 Darren Bruwer, 8 Jayden Niehaus, 7 Justin Meintjies, 6 Cameron Killian, 5 Rikus Rheeder, 4 SW Liebenberg, 3 Jaco Fourie, 2 Marnus Prinsloo, 1 Wihan White.

    Potchefstroom Gimmies: 15 David Ndala, 14 Toks Becker, 13 Lourens Jacobs, 12 Elrich Bosh, 11 Itumeleng Pheto, 10 Justin Oosthuizen, 9 Dian Smith, 8 Morné van Aswegen, 7 Wian Botha, 6 Tiardt Vorster, 5 Tobias van Dyk, 4 Bart du Plooy, 3 Jayden Stoffberg, 2 Jaco Nel, 1 Cobus van Rooyen.

    Merensky Landbou Akademie t. Hoërskool Piet Retief om in Tzaneen

    Merensky: 15 Ashten Demos, 14 Andreas Honiball, 13 Jens Bezuidenhout, 12 Maritz Meintjies, 11 Heinrich Lubbe, 10 Byron Hendricks, 9 JD Boshoff, 8 Hardus Terblanche, 7 PG Botes, 6 Corne Swanpoel, 5 Lukas Pieterse, 4 Ruan Marcos, 3 Tirelo Mashapa, 2 JJ Goosen, 1 Ethan Maritz.

    Piet Retief: 15 Langelihle Ntuli, 14 Mashilo Kgathla, 13 Aphiwe Khumalo, 12 Christiaan Pienaar, 11 Vuyani Tshabalala, 10 Owethu Shabalala, 9 Thomas Ferreira, 8 Sfundo Mayisa, 7 Melo Xulu, 6 SJ Van Barneveld, 5 Jaco Klopper, 4 Vusi Nhleko, 3 Louis Grobler, 2 Jandre van Deventer, 1 Uwe Meyer.

    Dr. Malan t. Potchefstroom Volkskool om 12:20 in Meyerton

    Dr. Malan: 15 Luka Pretorius, 14 Flippie Blignaut, 13 Andreas Botha, 12 Dillon Gouws, 11 Khamohelo Legae, 10 Dian van den Berg, 9 Herman du Plessis, 8 Juan Jardin, 7 JJ Bester, 6 JT Swart, 5 Anthoni Botes, 4 Enrico van Zyl, 3 Franco Barns, 2 Bernard Benson, 1 Devan Fouché.

    Potchefstroom Volkies: 15 Diaan van der Merwe, 14 Wikus van Aswegen, 13 Hennie Pretorius, 12 Christoff Nel, 11 Lorenzo Louw, 10 Johandre Maree, 9 Juhan Geldenhuys, 8 Dewald Groenewald, 7 Marlu du Preez, 6 Henre Nel, 5 Caden Kruger, 4 Altus de Jager, 3 Jaco van der Merwe, 2 Louis Fourie, 1 Konrad Pretorius.

    Hoërskool Randburg t. Hoërskool Alberton in Randburg

    Hoërskool Randburg (moontlik): 15 Francois Groenewald, 14 Josh Wigget, 13 Hendre Breedt, 12 Zandre Breedt, 11 Shandre Vermaak, 10 Quintin Fillies, 9 Jayden Todd, 8 Curwin Hill, 7 Herman Goosen, 6 Victor van Blerk, 5 Tristen Nel, 4 Willie Lindeque, 3 Waldo Deysel, 2 Diedelof Fourie, 1 Malan van Heerden.

    Hoërskool Alberton: 15 Jaydon Mostert, 14 Siwe Dube, 13 Nathan Reichardt, 12 Ewan Muller, 11 Sipjo Sibonye, 10 Dewald de Jager, 9 Ayanda Madekane, 8 Jay-Cee Nienaber, 7 Luke Matthews, 6 Jason Nel, 5 Herman du Preez, 4 Kay-C Nel, 3 Zander Maree, 2 Xander Schoeman, 1 Levi Louw

  • Middies mik vir tweede hap van die kersiekoek teen Oos-Moot

    FOTO: Frans Lombard

    Kan Hoërskool Middelburg, in sy tweede kragmeting met die Oosies vanjaar, die dooiepunt in die Moot breek?

    Volg al die Noordvaal Cup se Plaat-aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die Middies en Hoërskool Oos-Moot het reeds vroeër vanjaar sake uitgespook in die NWU Sportreeks. By daardie geleentheid was daar niks te kies tussen die spanne nie en moes daar uiteindelik op ‘n gelykopuitslag van 33-33 blad geskud word.

    Die Middies was gelukkig in dié sin dat hulle die grootste gedeelte van die seisoen met dieselfde span, en dus, dieselfde kombinasies, kon deurgaan.

    Dit is vernaam die verstandhouding tussen die skakelpaar van Keabetswe Nkgadema en Matthew Abbey wat ‘n noemenswaardige aandeel in die Middies se sukses tot dusver gehad het.

    Abbey trek die toutjies meesterlik op losskakel danksy Nkgadema se flink diens, maar was die afgelope paar weke ietwat van stryk. Die reuse stryd in die Moot bied dalk nét die regte doepa om hom weer op dreef te kry.

    Oos-Moot het op sy beurt onder die beseringspook deurgeloop en betree die stryd met ‘n span wat taamlik anders daar uitsien.

    Hierdie slag kom Abbey teen die giftige Dewron Aford, in plaas van Ruwan Allen, te staan. Aford, wat verlede naweek teen Hoërskool Klerksdorp ook in die nr. 10-trui uitgedraf het, sal die Middies met sy breekslae toets, terwyl Allen op heelagter diens verrig.

    Die stryd kan oudergewoonte weer voor gewen of verloor word, met die Oosies wat hul man deeglik gestaan het teen die groot pak van Klerksdorp.

    Die Middies se steelkantflank, Khensani Buthelezi, bied egter ‘n nuwe uitdaging hierdie week. Buthelezi kan soos ‘n wafferse senter met die bal hol en sy tweestryd met Wade Williams behoort vir heelwat opwinding te sorg.

    In Klerksdorp wag daar ‘n bitter fisieke stryd wanneer Hoërskool Klerksdorp se paaie met dié van Hoërskool Transvalia kruis. Valia, die gunsteling in vanjaar se afdeling en voorloper op die puntelys, sal graag sy voorsprong wil vergroot.

    Die Klerksdorpers sal op hul beurt na die wenpad wil terugkeer en hul goeie rekord wil behou tuis, waar hulle reeds ‘n paar opponente in die stof laat byt het. Hulle sal egter die besoekers se steelkantflank, Daniel Kazambu, wat verlede week twee keer vanuit sy eie halfgebied gedruk het, met ‘n valkoog moet dophou.

    Indien die tuisspan voorlangs die oorhand kan bewerk, kan daar agterlangs pêrre wees – vernaam met ‘n gedugte senter-kombinasie soos Asif Sumara en Winton Abrahams wat vir die besoekers inwag.

    Ligbron Akademie wil voortbou op sy uitstekende sege van 25-20 oor HTS Middelburg verlede week. Die Liggies geniet hierdie week weer tuisveldvoordeel wanneer Hoërskool Kempton Park in Ermelo besoek aflê. Afrigter, Herman Schlebusch, moes vandeesweek ‘n paar veranderinge weens beserings aanbring met die woelwater oopkanflank, Tiaan Botha, wat slot toe skuif in die plek van die beseerde Thamisnaqa Lamula, terwyl Lusanda Nkosi aan die kant van skrum inkom.

    ‘n Bonuspuntsege vir Hoër Tegniese Skool se Rooi Bulle sal hul kanse vir ‘n tuishalfeindstryd verbeter, indien Oos-Moot hom ‘n guns kan bewys in Pretoria. HTS sal egter meer klinies in sy stryd met Hoërskool Zwartkop moet wees, aangesien ongedwonge foute grotendeels verantwoordelik was vir die Rooi Bulle se nederlaag teen Ligbron.

    Die senterpaar bestaande uit Johnny dos Santos en Anthoni Smuts sal ‘n sleutelrol vervul in hul strewe om die Zwarries met ‘n bonuspunt te klop.

    Die spanne: 

    Oos-Moot t. Hoërskool Middelburg om 12:30 in Pretoria

    Oos-Moot: 15 Ruwan Allen, 14 Nick Venter, 13 Ivan van Wyk, 12 Jeandre Venter, 11 Tapiwa Rwafa, 10 Dewron Aford, 9 David Joubert, 8 Clayton de Bruyn, 7 Wade Williams, 6 Bertus van Dyk, 5 Jaydon Botha, 4 Connor de Jager, 3 Christian Smith, 2 Brydon Jordaan, 1 Mike Notnagel.

    Hoërskool Middelburg (moontlik): 15 Andile Mahlangu, 14 Kefilwe Phamotse, 13 Eckard Marx, 12 Lungelo Maseko, 11 Sihle Mkhatshwa, 10 Matthew Abbey, 9 Keabetswe Nkgadema, 8 Jabu Mathebule, 7 Khensani Buthelezi, 6 CW Hanekom, 5 Enrico Thompsom, 4 Rogan van der Walt, 3 Wandisa Mthombeni, 2 Roux Grobler, 1 Wian Olwagen.

    Hoërskool Klerksdorp t. Transvalia om 12:30 in Klerksdorp

    Hoërskool Klerksdorp: 15 Cohen Witbooi, 14 Tyron Masango, 13 Winton Abrahams, 12 Asif Sumara, 11 Louis Vorster, 10 Deacon Loots, 9 Jared van Staden, 8 GJ Steenberg, 7 Divan Labuschagne, 6 Tiaan Koen, 5 Heinrich Hovener, 4 Abrie Esterhuizen, 3 Liam Pretorius, 2 Janu du Wet, 1 De Wet le Roux.

    Transvalia: 15 Siyabonga Khambule, 14 Dihan Crause, 13 Tshepo Molakeng, 12 Brandonlee Smit, 11 Nkanyiso McCamel, 10 Dylan Steynman, 9 Anro Nagel, 8 Wynand Stols, 7 Daniel Kazambu, 6 Juan Bishoff, 5 Breyton Kruger, 4 Vincent Brits, 3 Arne Botes, 2 Jayden McPearson, 1 Dylan Booth.

    Ligbron Akademie t. Hoërskool Kempton Park in Ermelo 

    Ligbron Akademie: 15 Anele Ngwenya, 14 Neo Zwane, 13 Siyanda Dennison, 12 Lethi Ngwenya, 11 Bandile Thanjekwayo, 10 Divan van Jaarsveld, 9 Renier van Staden, 8 Janco Claasen, 7 Jurgens Bezuidenhout, 6 Lusanda Nkosi, 5 Jaco van Wyk, 4 Tiaan Botha, 3 Devan Scheepers, 2 Marnus Marx, 1 Sabelo Nhlapo.

    Hoërskool Kempton Park (moontlik): 15 Stian de Villiers, 14 Christiaan Kloppers, 13 Tian Aucamp, 12 Tiaan Delport, 11 Ettienne Stroebel, 10 Marko Opperman, 9 Ryan Smith, 8 Armand le Roux, 7 Eric Steele, 6 JP Barnard, 5 Louis Mutton, 4 Lourens van der Merwe, 3 Zander Luckay, 2 Deon Mulligan, 1 JP Coetzee.

    Hoër Tegniese Skool Middelburg t. Zwartkop in Middelburg

    HTS Middelburg: 15 WJ Enslin, 14 Alex Pretorius, 13 Johnny dos Santos, 12 Anthoni Smuts, 11 CJ Muller, 10 Gerry Gendall, 9 Theunis Anthony, 8 Tertius Bezuidenhout, 7 Eathan Kock, 6 Toy Engelbrecht, 5 Sam Ndwandwe, 4 Janco Aucamp, 3 Kagiso Gumbi, 2 Hanru Terblanche, 1 Dirk du Plooy.

    Zwartkop: 15 Justin Julies, 14 Luan Isaacs, 13 Milton Naudé, 12 Luan Williams, 11 Zulu Mona, 10 Luhardt Booyens, 9 Kyle Koopman, 8 Brian Smith, 7 Logan Knott, 6 Adriaan Janse van Vuuren, 5 Abri Visser, 4 Ettiene van Niekerk, 3 Brogan Ackerman, 2 Migael Lindeque, 1 Julian Lubbe.