SSPN Test Site

Author: froberholzer

  • Die Anker-agttal gereed vir Hand en Hugies

    “Die vaste fasette en basiese aspekte gaan deurslaggewend wees.”

    Aldus Hoërskool Die Anker se breier, Corneel van Dyk, op die vooraand van sy span se groot stryd in die SDC Noordvaal Cup se Skild-afdeling teen aartsvyande, Hoërskool Hugenote van Springs, in Brakpan.

    Volg al die Noordvaal Skild aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com) 

    Die Hugies wil die bordjies verhang met Die Anker wat met 36-0 koning gekraai het in die vorige kragmeting tussen dié twee spanne tydens verlede jaar se NWU Prestige-reeks, óók in Brakpan. Vanjaar ontmoet die twee Oos-Randse spanne in ‘n kritieke stryd wat die Skild-wedloop betref.

    Vir die Hugies is dit ‘n moet-wen indien hulle enigsins hoop om by die agterdeur in te glip. Die span van Springs bevind hulself tans in die sewende plek op die puntelys, maar is slegs twee punte agter Hoërskool Ben Vorster, wat vierde lê.

    Die span van Brakpan wil die wedstryd gebruik om die voorsprong tussen hulle en die Buffels te vergroot en broodnodige ritme te herwin voor die uitspeelrondes. Hulle beklee die derde plek, twee punte voor die Tzaneeners.

    Die Anker in Brakpan is nooit maklik nie en die Hugies is voorbreid op ‘n strawwe stryd voorlangs. Die tuisspan sal uiteraard probeer om voorlangs te oorheers, maar die besoekers beskik oor ‘n formidabele wapen in die vorm van flank en kaptein, Tyron Hand, en sy lostrio-makkers.

    Hand, in samewerking met agsteman, Hendrik Eybers, en oopkantflank, Arne Marais, het reeds menige agttalle vanjaar laat sneuwel. Nie net beskik die drietal oor ‘n intimiderende fisieke teenwoordigheid nie, maar ook die nodige vaardighede om soos driekwarte met die bal op loop te sit.

    Dit is nietemin ‘n uitdaging waarvoor die tuisspan se agsteman en kaptein, Ruben Herbst, sy lippe sal aflek. Herbst is ewe fisiek, vernaam op die aanval en sy driedruk-rekord getuig daarvan.

    Slot, Gerhard Oosthuizen, maak ook op die regte tyd sy terugkeer nadat hy vir ‘n geruime tyd op die krukkelys was en is, nes Herbst, ‘n belangrike pyl in Die Anker se koker, verál wat verdediging betref.

    Die onoorwonne Hoërskool Wesvalia verwelkom vir die verdedigende kampioen, Hoërskool Secunda, in Klerksdorp. Die span van Secunda loop egter die risiko om vanjaar reeds voor die uitspeelrondes uitgeskakel te word, indien hulle nie Saterdag die wa deur die drif kan trek nie.

    Hulle beskik nietemin oor die nodige skietgoed om die Wessies te troef, vernaam as die agttal aan die gevaarlike agterlyn, en spesifiek senters, Bismarck Jansen en Ryan Erasmus, genoegsame balbesit kan verskaf.

    Secunda sal nie maklik die oorhand voorlangs verkry nie, met die Wessies se Dumond-duo wat hulle inwag. Die werkverrigting van Francois Dumond, die tuisspan se Cravenweek-flank, en slot Franco Dumond, gaan die lewe moeilik te maak vir die span van Mpumalanga.

    Wesvalia-heelagter, Rieckardt van Heerden, behoort ook ‘n taamlike sê in die stryd hê, met sowel sy stewel as gevaarlike aanvalswerk van agter.

    Hoërskool Pietersburg, wat steeds soek na ‘n eerste oorwinning in vanjaar se Skild, reis na Heidelberg waar Heidelberg Volkskool op hom wag. Die Pieties het pynlik naby gekom verlede naweek, maar moes met 21-24 in Springs die knie buig. Die flinkvoetige binnesenter, Siya Mahlangu, se tweestryd met Volkies se Dean Last, met sy rotsvaste verdediging, beloof om ‘n hoogtepunt te wees wees.

    Die spanne:

    Hoërskool Die Anker t. Hoërskool Hugenote van Springs om 12:20 in Brakpan

    Die Anker: 15 Paul Schutte, 14 Ruan Smith, 13 Sean Schoeman, 12 Branden Crous, 11 Jonathan Jordaan, 10 Danie Smit, 9 Troy Joubert, 8 Ruben Herbst, 7 Xander Fraser, 6 Duvan Booyens, 5 Brendan van Lutterveld, 4 Gerhard Oosthuizen, 3 Damian Boshoff, 2 Siya Shongwe, 1 Zander Nell.

    Hugenote (Springs) (moontlik): 15 George Lucas, 14 Ruan van Biljon, 13 Vian van Dyk, 12 Dylan Nel, 11 Musa Mahlangu, 10 Corne Pretorius, 9 Thanyani Mokiri, 8 Hendrik Eybers, 7 Tyron Hand, 6 Arne Marais, 5 Xavier Ungerer, 4 Anthony Smith, 3 Henre Oosthuizen, 2 Luan Pretorius, 1 Franko Neuhoff.

    Hoërskool Wesvalia t. Hoërskool Secunda om 12:30 in Klerksdorp

    Wesvalia: 15 Rieckardt van Heerden, 14 Justin Adams, 13 Xander Smit, 12 Philip Janse van Rensburg, 11 Fafa Calitz, 10 Eduard Dreyer, 9 Chad Hofmeyer, 8 Hanre Venter, 7 Francois Dumond, 6 Joshua Pieters, 5 Aiden Jacobz, 4 Franco Dumond, 3 Bernard Swanepoel, 2 Junior Kuhn, 1 Ulrigh du Preez

    Hoërskool Secunda: 15 Damian de Beer, 14 Martin Pretorius, 13 Ryan Erasmus, 12 Bismarck Jansen, 11 Brink La Grange, 10 EJ Venter, 9 Jarno Haarhoff, 8 Bakkies Bezuidenhout, 7 Zander Scheepers, 6 Zander van der Merwe, 5 Renier Combrink, 4 Zac Loock, 3 Stefan Bezuidenhout, 2 Rico Schoeman, 1 Nathan Erasmus.

    Heidelberg Volkskool t. Hoërskool Pietersburg om 12:30 in Heidelberg

    Heidelberg Volkskool: 15 Kevin Oormeyer, 14 Theuns van der Merwe, 13 Marco Botha, 12 Dean Last, 11 Tiaan Holloway, 10 Kayle Venter, 9 Hein Oelofse, 8 Joshua Munro, 7 Daniel Monro, 6 Pedrie Roets, 5 Christopher Makgongoane, 4 Fourie Jacobs, 3 Botshelo Motsepe, 2 Janco Coetzer, 1 Samukelo Mgwenya.

    Hoërskool Pietersburg: 15 Celliers van der Merwe, 14 Brydan Retief, 13 Hanno van Zyl, 12 Siya Mahlangu, 11 Zuhan Labuschagne, 10 Vincent Luckhoff, 9 Divan Brown, 8 Hardus Otto, 7 Tiaan Vermeulen, 6 Keegan Baker , 5 Juan Jansen van Vuuren, 4 Etienne van Jaarsveldt, 3 Floris Venter, 2 Dewald de Beer, 1 Hendro Moulder.

  • Volkies-sege skommel Bowl deurmekaar, Alberton skok Pieties

    Potchefstroom Volkskool kan tereg nóú sy visier op ‘n plek in die uitspeelrondes van die SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling rig.

    Herleef al die aksie op SuperSportSchools(www.supersportschools.com)

    Die Volkies se sege van 28-13 oor Hoërskool Randburg Saterdag het hul kanse om die Bowl-afdeling se uitspeelrondes te haal ‘n broodnodige hupstoot gegee. Met slegs twee rondes van rondomtalie-wedstryde oor is die Volkies tans slegs een punt agter die Randburgers op die puntelys.

    Die span van Potchefstroom het weereens ‘n uitmuntende vertoning gelewer en sake agterlangs oorheers, danksy hul staatmaker, Christoff Nel, wat op binnesenter nuwe lewe in die middeveld geblaas het. Nel se kombinasie met buitesenter, Hennie Pretorius, wat net betyds van ‘n besering teen Hoërskool Piet Retief herstel het, gaan weekliks van krag tot krag en hulle het deurgaans daarin geslaag om die besoekers op die voorvoet te plaas met hul kragtige spel in die middeveld.

    Voorlangs het die ander Nel, oopkantflank, Henre Nel, en haker, Louis Fourie, wat waarskynlik sy beste wedstryd van die seisoen beleef het, se gewoeker in die vastelos ook die lewe vir Randburg moeilik gemaak.

    Die Randburgers het gesukkel om die ritme te herwin wat hulle oor die vorige twee weke geniet het, met ongedwonge foute wat hul Achillieshiel was en hulle telkens verhoed het om af te rond. Oopkantflank, Herman Goosen, een van sy span se harde werkers, het  moedig probeer maar ‘n verlore stryd teen die Volkies gevoer.

    In Alberton het Hoërskool Alberton vir die besoekers van Mpumalanga, Hoërskool Piet Retief, ietwat verras deur met 22-19 koning te kraai.

    Die tuisspan se agterlyn was uitstekend op die aanval en het floreer met heelwat spasie wat aan hulle gebied is.

    Heelagter, Jaydon Mostert, was een van dié spelers wat die verdediging geroer het, maar uiteindelik het binnesenter, Ewald Muller, die kollig gesteel. Muller, ‘n groot en fisieke baldraer, het telkens gapings oopgeforseer met verwoestende lopies, vernaam in die eerste helfte, en het oor die doellyn gebars vir ‘n deurslaggewende tweekuns.

    Die besoekers se indrukwekkende buitesenter, Siphosetu Sibisi, het sy bes probeer om die Pieties in die kragmeting te hou en met uitstekende vaartversnelling en ratse voetwerk, nes Muller, twee keer agter die doellyn gaan draai.

    Alberton se verdediging was op die einde van die dag nét goed genoeg om te kon vasklou vir waardevolle oorwinning.

    Merensky Landbou Akademie is na ‘n rits moeilike kragmetings terug op die wenpad. Die Tzaneeners het al die pad na Meyerton gereis om vir Hoërskool Dr. Malan, in sy agterplaas, met 40-31 te klop.

    Die besoekers se JD Boshoff, vir die tweede agtereenvolgende week sy span se beste speler en eintlik ‘n skrumskakel, moes die laaste ruk noodgedwonge buitesenter speel, maar het hom uitstekend van sy taak gekwyt en die Dokkies se flaters op verdediging gelooi.

    Dokkies se Luka Pretorius het nietemin amok onder die besoekers se verdedigers gesaai met sy kenmerkende dartellopies om ‘n indrukwekkende driekuns te behaal.

    Potchefstroom Gimnasium het geen twyfel gelaat dat hy die reeks se voorste span is nie deur vir Hoërskool Wagpos met 80-7 af te ransel. Dit is Wagpos se tweede agtereenvolgende nederlaag met 80 punte.

    Die Gimmies het baljaar in hope spasie om 14 drieë in te ryg, met nie minder nie as vier spelers wat elk ‘n tweekuns aangeteken het. Jaco Nel, die Gimmies se haker, het sy puik seisoen voortgesit en was een van dié wat twee keer agter die doellyn gaan kuier het.

    Die Gimmies se fokus verskuif nou na Hoërskool Eldoraigne se Drake. Die Drake het stil-stil hul pad na tweede op die puntelys oopgebeur, wat beteken dat eerskomende Saterdag ‘n stryd tussen die top-twee in die groep sal afgee.

    Puntemakers:

    Potchefstroom Volkskool 28 (6) – Drieë: Louis Fourie, Lourenzo Louw, Christoff Nel, Wickus van Aswegen. Doelskoppe: Johandre Maree. Hoërskool Randburg 13 (0) – Drie: Herman Goosen. Doelskop: Quitin Fillies. Strafdoel: Fillies.

    Hoërskool Alberton 22 (15) – Drieë: Ewald Muller (2), Jaydon Moster, Sinclair Davis. Doelskop: Mostert. Hoërskool Piet Retief 19 (7) – Drieë: Siphosetu Sibisi (2), Sfundo Mayisa. Doelskoppe: Olwethu Shabalala (2).

    Merensky 40 (14) – Drieë: Ethan Maritz, JJ Goosen, Byron Hendricks, Hardus Terblanche, Mukhtwa Masundwa, Tirelo Mashapa. Doelskoppe: JD Boshoff (5). Dr Malan 31 (17) – Drieë: Luka Pretorius (3), Bernard Benson. Doelskoppe: Pretorius (2), Dian van den Berg (2).

    Potchefstroom Gimnasium 80 (28) – Drieë: Jaco Nel (2), Dian Smith (2), Tiardt Vorster (2), Lourens Jacobs (2), David Ndala, Tobias van Dyk, Elrich Bosch, Oarabile Koena. Doelskoppe: David Ndala (5), Jandre Oosthuizen (4), Dian Smith. Wagpos 7 (0).

    Ander spanne: 

    o.16: Potch Gimmies 17, Wagpos 13; Randburg 26, Potch Volkies 26; Alberton 14, Piet Retief 12; Merensky 28, Dr. Malan 17.

    o.15: Wagpos 33, Potch Gimmies 3; Potch Volkies 22, Randburg 19; Piet Retief 70, Alberton 3; Merensky 35, Dr. Malan 10.

    o.14: Potch Volkies 13, Randburg 7; Piet Retief 65, Alberton 0; Dr. Malan 38, Merensky 5.

  • Liggies skitter na rustyd, Wessies terug met ‘n knal

    LICHTENBERG – Die Liggies het vir die soveelste keer vanjaar hul staal op tuisbodem getoon.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com) 

    Hoërskool Lichtenburg het met ‘n skitterende vertoning in die tweede helfte sy onoorwonne status behou in sy agterplaas.

    Die tuisspan het 35 punte in die tweede skof aangeteken om die besoekende Hoërskool Secunda, wat teen rustyd met 17-10 voor was, uiteindelik met 45-27 kaf te draf.

    Die besoekers het inderdaad belowend afgeskop en dit was nie lank voor hul venynige vennootskap in die middeveld vir die Liggies agter die pale laat hergroeppeer het nie. Buitesenter, Ryan Erasmus, het, na ‘n sterk individuele lopie, deurgebreek om die bal agter die doellyn te plant en sy sentermaat, Brink la Grange, het kort daarna dieselfde gedoen om die besoekers se voorsprong te vergroot.

    Die span van Mpumanalanga het vir die meerderheid van die eerste helfte die oorhand geniet en verdien om met die omdraaislag met sewe punte voor te loop.

    Die momentum het egter dramaties geswaai na rustyd, met die tuisspan  se pak wat op al agt silinders begin vuur en die besoekers onder toenemende druk geplaas het. Die meedoënlose en fisiese aanslag het spoedig aan Lichtenburg die voortou besorg en daar het hulle gebly.

    Hierdie slag was dit loskopstut, Donovan Rosato, se beurt om die leiding voorlangs te neem, met sy kragtige dryfspel wat die Liggies keer op keer oor die voordeellyn laat kom het. Oopkantflank, KG Legodi, het ook ‘n barshou gespeel om, nes Rosato, een van sy span se ses drieë te druk.

    Hoërskool Wesvalia het in Klerksdorp ook sy gehalte tentoongestel deur, in sy eerste wedstryd na ‘n verlenge breek, die besoekers van Tzaneen, Hoërskool Ben Vorster, met ‘n telling van 48-8 ore aan te sit.

    Die Wessies was vanuit die staanspoor in beheer van sake, met hul pak wat vroeg reeds voorlangs die oorhand verkry en die besoekers geboelie het. Dit was vernaam in die vaste fasette waar die Klerksdorpers beïndruk het.

    “Die voorspelers het oorheers,” het Willem van der Sandt, die tuisspan se afrigter gesê.

    “Ons vaste fasette was uitstekend en ons het die fisieke stryd gewen, wat ‘n stewige grondslag gelê het.”

    Haker, Junior Kuhn, en steelkantflank, Francois Dumond, het verál uitgeblink met hul hoë werkverrigting in die vastelos en só die vuur onder die Wessies se agttal aangesteek. Agterlangs het die terugkeer van staatmaker, Rieckardt van Heerden, ook ‘n beduidende rol gespeel en het die heelagter 18 van sy span se 48 punte aangeteken met ‘n drie, vyf doelskoppe en ‘n strafdoel.

    Hoërskool Hugenote van Springs is uiteindelik weer terug in die sirkel van wenners na ‘n swaarverdiende oorwinning van 24-21, danksy ‘n strafdoel deur Corné Pretorius, oor Hoërskool Pietersburg in Springs. Die losskakel het ook ál drie sy span se drieë verdoel.

    Oopkantflank, Arne Pretorius, was stil-stil ‘n staatmaker vir die Hugies regdeur die seisoen en Saterdag weer op sy stukke.

    In Brakpan was daar niks te kies tussen Hoërskool Die Anker en Hoërskool Jeugland wat met 33-33 gelykop gespeel het nie. Die tuisspan se agsteman en kaptein, Ruben Herbst, het vir die tweede agtereenvolgende naweek oorgebars vir ‘n indrukwekkende tweekuns.

    Puntemakers: 

    Hoërskool Lichtenburg 45 (10) – Drieë: Donovan Rosato, GJ Malan, KG Legodi, Tiaan Booysen, Willem van Niekerk, Oratile Sekoto. Doelskoppe: Luan Snyman (5). Strafdoel: Albert Joubert. Hoërskool Secunda 27 (17) – Drieë: Ryan Erasmus, Bismark Jansen, Stefan Bezuidenhout, Brink la Grange. Doelskoppe: Damian de Beer (3). Strafdoel: De Beer.

    Wesvalia 48 (29) – Drieë: Junior Kuhn, Francois Dumond, Joshua Pieters, Hanre Venter, Chad Hofmeyer, Justin Adams, Rieckardt van Heerden. Doelskoppe: Rieckardt van Heerden (5). Strafdoele: Van Heerden. Ben Vorster 8 (3) – Drie: Makondolele Musekene. Strafdoel: Tihandre Reyneke.

    Hugenote (Springs) 24 (14) – Drieë: Arne Pretorius, JJ Lewis, Musa Mahlangu. Doelskoppe: Corné Pretorius (3). Strafdoel: Pretorius. Hoërskool Pietersburg 21 (7) – Drieë: Hardus Otto, Zuhan Labuschagne, Siya Mhlangu. Doelskoppe: Vincent Luckoff (2). Divan Brown.

    Die Anker 33 – Drieë: Ruben Herbst (2), Ruan Smith, Paul Schutte, Xander Fraser. Doelskoppe: Ruan Smith (4). Jeugland 33.

    Ander spanne: 

    o.16: Die Anker 31, Jeugland 28; Secunda 53, Lichtenburg 14; Wesvalia 29, Ben Vorster 20; Pietersburg 43, Hugenote 15.

    o.15: Die Anker 24, Jeugland 5; Secunda 26, Lichtenburg 12; Ben Vorster 19, Wesvalia 14; Pietersburg 31, Hugenote 5.

    o.14: Die Anker 12, Jeugland 0; Lichtenburg 14, Secunda 5; Wesvalia 25, Ben Vorster 14; Pietersburg 48, Hugenote 5.

  • Jansies verder voor na nóg ‘n voortreflike vertoning

    FOTO: Tap Light Edits

    Die kenmerk van ‘n uitstaande span is dat hulle, selfs na ‘n loslootjie, steeds soos ‘n goed geoliede masjien funksioneer.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools(wwwsupersportsportschools.com)

    Hoërskool Dr. EG Jansen het dié toets met vlieënde vaandels geslaag na sy loslootjie in die vorige ronde van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling.

    Die Jansies het ‘n voortreflike vertoning van hardlooprugby opgedis om Hoërskool Rustenburg met 48-21 in Boksburg te karnuffel.

    Die Jansies se gevaarmanne agterlangs kon, danksy ‘n stewige grondslag deur die voorspelers, 24 punte in elk van die twee helftes aanteken.

    Die Arende se voorry het hul stempel deeglik afgedruk, met vaskopstut en kaptein, Duwan Potgieter, wat oudergewoonte van voor gelei het. Sy kollegas, Danré Pike (haker) en Zian Marais (loskopstut), het nie alleen soos tiere verdedig nie, maar ook ‘n keer of wat, met die bal in hand, die Rusties laat bontstaan.

    Oopkantflank, Zaide-Leigh Rippenaar, het sy terugkeer aangekondig met ‘n aantal begeesterde lopies in gebroke spel en beïndruk met sy bedrieglike systap, terwyl die Jansies se linkervleuel, Keanu van Loggerenberg, weer sy vaart en venynige voetwerk tentoongestel het.

    Dit was egter steelkantflank en een van die Jansies se voorste driedrukkers in vanjaar se seisoen, Gerhad van Aswegen, wat uiteindelik die kollig gesteel het. Die veelsydige Van Aswegen, wat sy staal op slot en agtsteman ook al gewys het, het drie keer oorgebars vir ‘n indrukwekkende driekuns aan drieë.

    Die Rusties se indrukwekkende heelagter, Lorenzo Snyers, was nietemin meer as opgewasse om die Jansies ‘n paar keer in die stof te laat byt met sy teenaanvalle, terwyl oopkantflank, Wickus Jacobs, waarskynlik sy beste vertoning van die jaar gelewer en dit gevier het met ‘n uitmuntende tweekuns.

    In Johannesburg, het Helpmekaar Kollege kwaai beïndruk na twee teleurstellende wedstryde oor die laaste paar weke. Die Helpies het vir die besoekende Hoërskool Marais Viljoen ‘n behoorlike loesing van 62-24 toegedien.

    Heelagter, Tiaan le Roux, het weer die veld aan die brand gespeel, met sy teenaanvalle, wat ‘n mens laat dink het aan dié van sy Sprinkbok-naamgenoot, Willie le Roux, vroeër in sy loopbaan. Le Roux is met twee besoeke agter die doellyn beloon.

    Senter, Vernon Beyer, het sy geleentheid in die beginspan, weens beserings, aangegryp, die bal met mening opgeneem en, nes Le Roux, die besoekers se verdediging twee keer deurgedring vir drieë.

    Michael Benzien, die Helpies se staatmaker in die nr. 10-trui, was dodelik akkuraat met sy korrelwerk pale toe en het ses doelskoppe, asook ‘n drie, aangeteken vir ‘n persoonlike bydrae van 17 punte.

    Op sy beurt, was Recce Gerber, die besoekers se loskakel, weer uitstekend. Gerber, waarskynlik die span van Alberton se beste speler vanjaar en een van die top-losskakels in die kompetisie, het met sy goeie visie en uitstaande taktiese skopwerk hard probeer om sy span in die wedloop te hou.

    Dit was juis een van sy slinkse steekskoppies wat aan linkervleuel, Weon van der Vyver, een van sy twee drieë besorg het. Van der Vyver was deurgaans ‘n gevaar aan die buitekant, terwyl Devin Raubenheimer uitgeblink het in die middeveld. Van der Vyver en Raubenheimer is elk met ‘n tweekuns beloon.

    Puntemakers:

    Dr. EG Jansen 48 (24) – Drieë: Gerhardt vs Aswegen (3), Keanu van Loggerenberg, Matthew Bergman, Danre Pike, Zade-Leigh Rippenaar, TK Ngobese. Doelskoppe: Matthew Bergman (5). Jean-Dre Claasen. Hoërskool Rustenburg 21 (7) – Drieë: Wickus Jacobs (2), Lorenzo Snyers. Doelskoppe: Snyers, Awie Alberts.

    Helpmekaar Kollege 62 (24) – Drieë: Tiaan le Roux (2), Vernon Beyer (2), Delano Maritz, Pieter Moller, Michael Benzien, Molatsi Moloi, Zandre van der Westhuizen, Darius Haasbroek. Doelskoppe: Michael Benzien (6). Marais Viljoen 24 (7) – Drieë: Weon van der Vyver (2), Devind Raubenheimer (2). Doelskoppe: Recce Gerber (2).

    Ander spanne:

    o.16: Rustenburg 15, EG Jansen 5; Helpmekaar 93, Marais Viljoen 0.

    o.15: Rustenburg 20, EG Jansen 19; Helpmekaar 54, Marais Viljoen 14.

    o.14: Rustenburg 26, EG Jansen 0; Helpmekaar 106, Marais Viljoen 5

  • Oosies agttal lê grondslag, Valia nou loshande voor

    Hoërskool Oos-Moot het weer bewys dat die Moot nié ‘n maklike plek is om te gaan wen nie.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die Oosies het ‘n puik plan uitstekend uitgevoer om Hoërskool Klerksdorp, wat kookwater-rugby opdis deesdae, met 29-19, in Pretoria te verslaan in die Noordvaal Cup se Plaat-afdeling. Dit is die Klerksdorpers se eerste nederlaag na die vakansie.

    Die tuisspan se pak voorspelers was die geheime bestandeel in die afrigtingspan se wenresep. Dit was inderdaad voorlangs waar hulle die gevaarlike besoekers van Noordwes geneutraliseer het.

    Hul bereidwilligheid om Klerksdorp se heelwat groter pak fisies aan te vat het vrugte afgewerp en verhoed dat die besoekers noemenswaardige momentum kon bewerkstellig. Dit het nietemin harde werk geverg maar mettertyd die gewenste uitwerking gehad en toenemend geleenthede geskep vir Oos-Moot om die bal agterlangs lug te gee.

    Dewron Aford se oorskakeling van binnesenter na losskakel was ‘n meesterskuif deur Oosies se ervare breier, Braam Pretorius. Dit het Aford meer tyd met die bal in hand gebied en terselftertyd vir Ruwan Allen, wat normaalweg in die nr. 10-trui uitdraf, geïnspireer om dikwels swakplekke in die besoekers se middeveld uit te buit.

    Vir Klerksdorp het buitesenter, Asif Sumara, die kollig gesteel en in die tweede helfte deurgebreek vir twee van sy span se drie drieë.

    Die onvoorspelbare Ligbron Akademie het nogmaals ‘n duidelike waarskuwing aan toekomstige teenstanders gerig deur tuis in Ermelo vir Hoër Tegniese Skool Middelburg se Rooi Bulle met 25-20 te troef.

    Die besoekers was soos ‘n wafferse 100 m-atleet uit die blokke om binne die eerste vyf minute reeds twee drieë, deur haker, Hanru Terblanche, en binnesenter, Anthoni Smuts, te druk en het die eerste helfte oorheers deur die meerderheid van die rugby te speel.

    Ligbron was teen rustyd nietemin nog stewig in die wedloop met 19-20, danksy die Ngwenya-duo, Lethi Ngwenya en Anele Ngwenya, wat weer op hul stukke was en elk agter die Rooi Bulle se doellyn gaan draai het in die eerste skof.

    Die Liggies het stadig maar seker die oorhand begin verkry na halftyd, met skrumskakel, Renier van Staden, se akkurate skopskoen die deurslaggewende faktor. Van Staden se twee strafdoele was die enigste punte in die tweede helfte, vanweë rotsvaste verdediging aan albei kante, en op die ou end die enigste verskil in ‘n titaniese kragmeting.

    Hoërskool Transvalia het met nóg ‘n sege hul voorsprong in die Plaat-afdeling vergroot. Die span van Vanderbijlpark het op ‘n drafstap met 40-12 teen Hoërskool Zwartkop geseëvier.

    Steelkantfalnk, Daniel Kazambu, het gewys hoekom hy as een van die voorste losvoorspelers in die reeks beskou word met sy konstante teenwoordigheid by die afbreekpunte en vermoë om soos ‘n agterspeler aan te val. Kazambu het by twee geleenthede vanuit sy eie halfgebied deurgebars vir ‘n briljante tweekuns.

    Losskakel, Dylan Steynman, het sy beste spelpeil ook herwin om die toutjies ordentlik te trek en vir binnesenter, Brandonlee Smit, en die res van sy agterlyn op die voorvoet te hou.

    In Pretoria moes Hoërskool Middelburg spook om ‘n begeesterde Hoërskool Montana onder te kry.

    Die Middies het, danksy ‘n tweekuns deur hul fisieke slot, Enrico Thompson, met ‘n swaarverdiende sege van 24-17 na Mpumalanga terugkeer. Thompson het puik ondersteuning ontvang van die woelige oopkantflank, CW Hanekom, wat ook met ‘n drie beloon is.

    Die Monties se pak het nietemin die Middelburgers se voorspelers dikwels ore aangesit, met staatmakerstut, Marinus Oberholzer, en oopkantflank, Dieter Scheepers, wat op die aanval én verdediging uitgeblink het. Agsteman, Devan van der Merwe, het die Monties se stelskopwerk behartig en gewys dat hy nie alleen ‘n doring in die los is nie maar ook geslaag met drie doelskoppe en ‘n strafdoel.

    Puntemakers: 

    Oos-Moot 29 (3) – Drieë: Piri, Ruwan Allen, Wade Williams, Dewron Aford. Doelskoppe: Allen (3). Strafdoel: Allen. Hoërskool Klerksdorp 19 (7) – Drieë: Asif Sumara (2), Janu de Wet. Doelskoppe: Cohan Witbooi (2).

    Ligbron Akademie 25 (19) – Drieë: Bandile Thanjekwayo, Lethi Ngwenya, Anele Ngwenya. Doelskoppe: Renier van Staden (2). Strafdoele: Van Staden (2). HTS Middelburg 20 (20) – Drieë: Hanru Terblanche, Anthoni Smuts, Tercius Bezuidenhout. Doelskop: WJ Enslin. Strafdoel: Enslin.

    Transvalia 40 (21) – Drieë: Daniel Kazambu (2), Jayden McPearson, Dylan Steynman, Brandonlee Smit, Siyabongo Khambule. Doelskoppe: Dylan Steynman (5). Zwartkop 12 (0) – Drieë: Luan Williams (2). Doelskop: Luhardt Booyens.

    Hoërskool Middelburg 24 (12) – Drieë: Enrico Thompson (2), CW Hanekom, Keabetswe Nkgadema. Doelskop: Matthew Abbey (3), Crawdord Joubert. Montana 17 (12) – Drieë: Marinus Oberholzer, Dieter Scheepers, Dirk Coetzee. Doelskoppe: Devan van der Berg (3). Strafdoel: Van der Berg.

    Ander spanne: 

    o.16: Oos-Moot 45, Klerksdorp 0; HTS Middelburg 22, Ligbron 14; Transvalia 21, Zwartkop 18; Hoërskool Middelburg 31, Montana 19.

    o.15: Oos-Moot 18, Klerksdorp 7; Ligbron 21, HTS Middelburg 14; Tranvalia 27, Zwartkop 0; Hoërskool Middelburg 21, Montana 7.

    o.14: Oos-Moot 34, Klerksdorp 8; Ligbron 10 HTS Middelburg 5; Transvalia 14; Zwartkop 0; Hoërskool Middelburg 24, Montana 14.

  • Jansen, Jooste hol Klofies dronk

    FOTO: Janet van der Merwe/Photography by Janet

    Vyf drieë tussen twee van die Nories se uitblinkers het die Klofies se ondergang bewerkstellig in Pretoria.

    Herleef die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)

    Hoërskool Noordheuwel het verras met ‘n uitmuntende vertoning om een van die onoorwonne spanne in die Noordvaal Cup se Beker-afdeling, Hoërskool Waterkloof, ‘n les in hardlooprugby te leer. Die Krugersdorpers het ‘n wegholoorwinning van 53-32 in die Jakarandastad behaal.

    Die Norie Blues se ster, Cheswill Jooste, het gewys hoekom hy as een van die beste heelagters in Suid-Afrikaanse skolerugby beskou word. Sy skuif van buitesenter na agter het die nodige X-faktor vir die besoekers gebied en hy het elke gaping met oorgawe aangeval om twee keer te gaan druk.

    Dit het die Nories se gevaarlike linkervleuel, Lindsey Jansen, duidelik aangesteek en Jansen het die kollig gesteel met ‘n indrukwekkende driekuns aan drieë.

    Die tuisspan se haker, Ruan Jacobs, was weer uitstaande en het beslis na hoogste versnelling oorgeskakel na die skoolvakansie om met sy sterk barslopies telkens oor die voordeellyn te kom. Oopkantflank, Divan Botha, het waarskynlik sy beste vertoning van die jaar gelewer. Botha was prominent op die aanval en is, nes Jacobs, met twee drieë beloon.

    In Mbombela het Hoërskool Nelpruit se Rhinos dit drie uit drie gemaak deur vir Hoërskool Menlopark met 33-28 te klop. Haker, Regardt Vermaak, was hier ook aan die spits, het ‘n barshou gespeel in die vastelos en ook ‘n tweekuns behaal.

    Vermaak het oudergewoonte puik ondersteuning van sy hardwerkende agsteman, Vaughn van Zyl, ontvang. Van Zyl het die Parkies vanuit die staanspoor gelooi met kragtige lopies en rotsvaste verdediging.

    Die besoekers se agsteman, Rocco Myburgh, was ewe goed en, ten spyte van ‘n swaar seisoen vir die Pretorianers, ‘n reuse uitblinker. Hy het sy lyf op die spel gesit om Menlopark oor die voordeellyn te kry, terwyl linkervleuel, Divan Nel, oudergewoonte na ‘n praglopie oorgeglip het vir ‘n drie.

    Dit was helaas net-net nie genoeg nie en die span van Pretoria moes met die kous oor die kop huiswaarts keer.

    Puntemakers:

    Noordheuwel 53 (19) – Drieë: Lindsey Jansen (3), Cheswill Jooste (2), Jarred Coetzee (2), Ignatius Jantjies. Doelskoppe: Jeandre Uithaler (5). Strafdoel: Uithaler. Waterkloof 32 (15) – Drieë: Ruan Jacobs (2), Divan Botha (2), Happy Makate. Doelskoppe: Ronan Bastiaanse (2). Strafdoel: Batiaanse.

    Hoërskool Nelspruit 33 (12) – Drieë: Regardt Vermaak (2), Vaughn van Zyl, Liam Pringle. Doelskop: Theuns Meyer. Strafdoele: Meyer.  Menlopark 28 (7) – Drieë: Divan Nel, Rocco Myburgh, Gustav Schäffner, Nathen du Plessis. Doelskoppe: Phillipus de Bruyn (4).

    Ander spanne: 

    o.16: Noordheuwel 28, Waterkloof 19; Menlopark 24, Nelspruit 0.

    o.15: Noordheuwel 46, Waterkloof 10; Menlopark 43, Nelspruit 7.

    o.14: Noordheuwel 39, Waterkloof 20; Nelspruit 15, Menlopark.

  • Stuart steel eerste sege in ses jaar vir Bere op Ras van Rooyen

    FOTO: Marias Nortjé

    Die Bere het Saterdag ‘n wendroogte van ses jaar op die Ras van Rooyen-veld beëindig.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Hoërskool Garsfontein het vir die eerste keer sedert 2018 ‘n sege oor sy tradisionele aartsvyand, Hoërskool Monument, op Monnas se tuisveld in Krugersdorp behaal. Die Bere het vir die Wit Bulle met 31-28 getroef, danksy ‘n drie deur Junaide Stuart in die doodsnikke.

    Dit het ‘n wipplankstryd afgegee tussen twee spanne wat albei desperaat was vir ‘n oorwinning in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling.

    Die Garsies was blitsig uit die blokke met oopkantflank, Stephan Pretorius, wat binne die eerste paar minute uit gebroke spel losgebreek het om sy span se rekening te open met ‘n drie. Dit het die vonk verskaf vir die besoekers om die oorhand te geniet vir die grootste gedeelte van die kragmeting.

    Hul voorspelers het die Wit Bulle se reuse pak deurgaans oor die veld rondgeskuif, wat mettertyd gapings vir die Pretorianers laat oopgaan het. Die Bere het teruggekeer na dit wat hulle tradisioneel gevaarlik maak en die bal lekker lug gegee agterlangs.

    Pretorius was deurentyd prominent met die bal in hand en het saam met Garsies se SA Skole-slot, James Schnetler, die Wit Bulle se verdediging met mening aangevat.

    Die tuisspan se uitstaande linkervleuel, Ernesto Oersen, het egter nog ‘n drie op sy reeds indrukwekkende kerfstok vanjaar geplaas. Oersen se vermoë om verdedigers te klop het ‘n groot aandeel in sy span sukses agterlangs gehad en sy vennootskap met heelagter, Caylum Shooney, het die Bere se verdediging dikwels getoets.

    Die besoekers het die toets egter met vlieënde vaandels geslaag – letterlik en figuurlik. Hul verdediging het die Wit Bulle se meedoënlose aanslag afgeweer en uiteindelik, danksy Stuart se drie, ‘n allerbelangrike uitslag in hul Beker-veldtog verseker.

    Puntemakers: 

    Garsfontein 31 (24) – Drieë: Stephan Pretorious, Ruan Enslin, James Schnetler, Junaide Stuart. Doelskoppe: Handre Maree (4). Strafdoel: Maree. Monument 29 (14) – Drieë: Evan Bernhardi, Ernesto Oersen, Caylum Schooney, Ewan van der Walt. Doelskoppe: Caylem Schooney (3) Strafdoel: Cruz La Moer.

    Ander spanne: 

    o.16: Monument 23, Garsfontein 20.

    o.15: Garsfontein 17, Monument 15.

    o.14: Monument 16, Garsfontein 13.

  • Randburg, ‘n perd van ‘n ander kleur op tuisbodem

    Met die vooruitsig om moontlik in hul eerste jaar in die SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling reeds vir die halfeindstryd te kwalifiseer, sal dit nie maklik wees om die Randburgers op tuisbodem te stuit nie.

    Beleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Potchefstroom Volkskool sal beslis sy hande vol hê Saterdag in Randburg teen die omgekrapte Hoërskool Randburg.

    Die Volkies het beïndruk met ‘n belangrike sege van 27-10 oor Hoërskool Piet Retief, in Piet Retief, verlede naweek.

    Dié oorwinning het egter teen ‘n prys gekom. Die Volkies het die week vantevore hul binnesenter, Ethan Leggat, weens ‘n besering verloor en nou lyk dit of hulle heel moontlik ook sonder buitesenter, Hennie Pretorius, wat teen die Pieties die veld in taamlike pyn verlaat het, sal moet klaarkom. Derhalwe sal heelwat van die verantwoordelikheid agterlangs op staatmaker, Christoff Nel, se skouers rus.

    Nel het verlede week die skuif van steelkantflank na binnesenter gemaak om die beseerde Leggat te vervang. Hy was uitstaande, vernaam op die aanval, en sal hierdie naweek na hoogste versnelling wil oorskakel.

    Die tuisspan het ook nie ongedeerd daarvan afgekom nie, met hul staatmaker op agsteman en kaptein, Duncan Beaven, wat beseer is en deur Curwin Hill vervang word. Die span van Randburg sal nietemin steeds fokus op dit wat vir hulle gewerk het in hul sege oor Merensky Landbou Akdemie (43-31) verlede naweek.

    In Potchefstroom wil Hoërskool Wagpos graag sy naam in ere herstel na die loesing van 13-88 wat hy teen Hoërskool Eldoraigne op die lyf geloop het. Dit sal egter geensins maklik wees teen die afdeling se top span, Potchefstroom Gimnasium, op sy tuisveld nie.

    Die Gimmies moes, weens die afwesigheid van spelers wat aan die Noordvaal Hokkie-kampioenskap deelneem, ‘n paar taktiese skuiwe aanbring. Die grootste is dié van die gevaarlike David Ndala, wat van linkervleuel na heelagter skuif en heelwat hoofbrekens vir die besoekers kan besorg.

    Heelagter, PC Scutte, skuif na losskakel om Justin Oosthuizen te vervang en dra verder by tot die bedreiging, aangesien hy dit ook geniet om die opposisie se verdedigingslinie aan te vat.

    Hoërskool Piet Retief pak die tog Alberton aan om Saterdag vir Hoërskool Alberton aan te durf.

    Die span van Piet Retief, wat verlede naweek met 10-27 die knie gebuig het teen Volkies, moes ook noodgedwonge hul loskopstut, Sfundo Mayisa, na agtsteman skuif, weens ‘n besering aan staatmaker, Chrsitiaan Pienaar.

    Die Pieties se afrigter, Pieter de Waal, sou heelwat aandag aan sy span se verdediging geskenk het, nadat hulle onderpresteer het teen die Volkies in die vorige ronde. Hulle sal verál Alberton se heelagter, Ayanda Madebane, aan bande moet lê.

    Madebane was gevaarlik op die teenaanval en in gebroke spel in sy span se nederlaag met 7-20 teen Hoërskool Dr. Malan in die vorige ronde, terwyl buitesenter, Sipho Sibonye, met sy kragspel in die middeveld, ook die Pietie-verdedigers vir die volle 70 minute op hul tone sal hou.

    Merensky Landbou Akademie, wat steeds gebuk gaan onder ‘n string beserings, het in al drie sy vorige uitstappies tweede gekom en sal daarvoor wil vergoed wanneer hulle na Meyerton reis om die onvoorspelbare Hoërskool Dr. Malan aan te durf.

    Die silwerrandjie vir die ligbloues is dat hul steelkantflank, PG Botes, terugkeer na ‘n handbesering, maar hulle sal egter sonder oopkantflank, Corne Swanepoel, moet klaarkom. Dit beteken dat Blessing Mathebula, wat verlede week Botes se plek op steelkantflank ingeneem het, nou na oopkantflank skuif.

    Die grootste terugslag vir die Plasies is egter die afwesigheid van die indrukwekkende Ruan Marcos. Die haker sal vir ‘n ondbepaalde tydperk die aksie vanaf die kantlyn dophou weens ‘n besering en laat ‘n taamlike leemte in die Plasies se arsenaal.

    Die spanne: 

    Hoërskool Randburg t. Potchefstroom Volkskool om 11:30 in Randburg

    Hoërskool Randburg: 15 Francois Groenewald, 14 Josh Wigget, 13 Hendre Breedt, 12 Zandre Breedt, 11 Shandre Vermaak, 10 Quintin Fillies, 9 Jayden Todd, 8 Curwin Hill, 7 Herman Goosen, 6 Victor van Blerk, 5 Tristen Nel, 4 Willie Lindeque, 3 Waldo Deysel, 2 Diedelof Fourie, 1 Malan van Heerden.

    Potchefstroom Volkies (moontlik): 15 Diaan van der Merwe, 14 Wikus van Aswegen, 13 Hennie Pretorius, 12 Christoff Nel, 11 Lorenzo Louw, 10 Johandre Maree, 9 Juhan Geldenhuys, 8 Dewald Groenewald, 7 Marlu du Preez, 6 Henre Nel, 5 Stef Schoeman, 4 Altus de Jager, 3 Jaco van der Merwe, 2 Louis Fourie, 1 Konrad Pretorius.

    Potchefstroom Gimnasium t. Wagpos om 12:00 in Potchefstroom

    Potchefstroom Gimmies: 15 David Ndala, 14 Toks Becker, 13 Lourens Jacobs, 12 Jaap van der Westhuizen, 11 Itumeleng Pheto, 10 PC Schutte, 9 Dian Smith, 8 Elrich Bosch, 7 Morné van Aswegen, 6 Tiardt Vorster, 5 Tobias van Dyk, 4 Bart du Plooy, 3 Jayden Stoffberg, 2 Jaco Nel, 1 Cobus van Rooyen.

    Wagpos (moontlik): 15 JG Olckers, 14 Christiaan du Plessis, 13 Frans Burger, 12 Dian Coetzee, 11 Franco Dippenaar, 10 AJ Nieman, 9 Arrie Joubert, 8 David van Breda, 7 Antonio Galvan, 6 Du Toit van Deventer, 5 Nathan Louw, 4 Jean Senekal, 3 Marcelle Gruidelingh, 2 Tristan van der Westhuizen, 1 Armant Botha.

    Hoërskool Alberton t. Hoërskool Piet Retief om 12:20 in Alberton

    Hoërskool Alberton: 15 Ayanda Madebane, 14 Nathen Reicherdt, 13 Sipho Sibanyoni, 12 Ewan Muller, 11 Carlos Majiet, 10 Dewald de Jager, 9 Thando Baloi, 8 Jay-Cee Nienaber, 7 Amogelang Tokwe, 6 Luke Joubert, 5 Herman du Preez, 4 Kay-C Nel, 3 Xander Maree, 2 Xander Schoeman, 1 Levi Louw

    Hoërskool Piet Retief: 15 Langelighle Ntuli, 14 Masshilo Kgathla, 13 Siphosethu Sibisi, 12 Gilles van der Meulen, 11 Vuyani Tshabalala, 10 Aphiwe Khumalo, 9 Kyle Stock, 8 Sfundo Mayisa, 7 Melo Xulu, 6 SJ van Barneveld, 5 Jaco Klopper, 4 Vusi Nhleko, 3 Louis Grobler, 2 Jandre van Deventer, 1 Uwe Meyer.

    Dr. Malan t. Merensky Landbou Akademie om 12:20 in Meyerton

    Dr. Malan: 15 Luka Pretorius, 14 Flippie Blignaut, 13 Willem Taylor, 12 Dillon Gouws, 11 Dewald Erasmus, 10 Dian van den Berg, 9 Herman du Plessis, 8 Juan Jardin, 7 Anthony Botes, 6 JT Swart, 5 Liam Giacomozzi, 4 Enrico van Zyl, 3 Franco Barns, 2 Bernard Benson, 1 Devan Fouché.

    Merensky: 15 JD Boshoff, 14 Andreas Honiball, 13 Ulrich Mare, 12 Hardus Terblanche, 11 Leon de Lange, 10 Byron Hendricks, 9 Hendre Theron, 8 Lukas Pieterse, 7 PG Botes, 6 Blessing Mathebula, 5 Franco Badenhorst, 4 Craig Walker, 3 Tirelo Mashapa, 2 JJ Goosen, 1 Ethan Maritz.

  • Bere se beste kans in ses jaar vir sege op Ras van Rooyen

    FOTO: Monya Lombard/Actionpix

    Luann Olivier en die Bere-span trek op na Krugersdorp met een doelwit voor oë, en dit is om vir die eerste keer in ses jaar daar oorwinning te proe.

    Beleef al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com) of Kanaal 216

    Hoërskool Garsfontein meet Saterdag op die Ras van Rooyen in Krugersdorp kragte met Hoërskool Monument se Wit Bulle in ‘n belangrike bepaling van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling.

    Hierdie tradisionele derby het oor die jare gesorg vir uitstekende rugby en naelbyt-stryde, met die slag van 2015, in Pretoria, sekerlik die beste. In daardie kragmeting het die Garsies ‘n  agterstand van 26 punte in die laaste 10 minute uitgewis om die Monumentare te troef.

    Toe was Monnas se huidige direkteur van rugby, Tjaart van der Walt, nog aan die stuur van Garsfontein se rugbyprogram.

    Vanjaar is die Garsies se beste kans in ses jaar om die Krugersdorpers wéér op hul tuisveld te verslaan. In 2018 het dié spanne drie keer kragte gemeet, met Monnas se Wit Bulle wat twee keer, met 68-31 en 45-14, koning gekraai het, en die Bere wat met 49-39 die pyp gerook het in Krugersdorp.

    Daarna kon die Bere eers vyf jaar later, in 2023, vir die Wit Bulle onderkry, toe hulle met 39-31 tuis geseëvier het.

    ‘n Sege hierdie Saterdag sal ook super spesiaal wees vir Bere-breier, Johan du Plessis, wat Saterdag vir die 102de keer die leisels as afrigter opneem.

    Albei spanne beleef tot dusver vanjaar ‘n strawwe seisoen, met die Pretorianers wat nog slegs vyf van hul 12 wedstryde kon wen en die span van Krugersdorp wat die wa agt uit 14 keer deur die drif kon trek. Hulle is albei ook Hoërskool Nelspruit se mees onlangse slagoffers.

    Met die Monumentare se verdediging wat tot dusver ietwat tekort geskiet het en die Bere se agterhoede wat hul ritme begin herwin, beloof Saterdag se stryd om een vir die boeke te wees.

    Die Bere se losskakel, Junade Pasensie, is ‘n sleutelfiguur met sy vermoë om die spel te dikteer en die gevaarmanne op linkervleuel, Junaide Stuart, en buitesenter, Ruan Enslin, weg te stuur. Stuart sal in ‘n taai tweestryd met die Wit Bulle se puntemasjien, Ernesto Oersen, gewikkel wees.

    Voorlangs kan daar uitgesien word na ‘n armdrukstryd tussen die oopkantflanke. Die tuisspan se Jamaal Feldman is bekend is vir sy  begeesterde barslopies, terwyl die besoekers se Stephan Pretorius, nes Feldman, ‘n bedreiging inhou met die bal in hand, veral in gebroke spel.

    Die tuispan sal ook hul keer moet ken wanneer die besoekers se agttal hul dryfmale aan die gang kry. Dit is waar Garsies se krag lê en waarmee hulle menige teenstander al gekasty het.

    Die spanne:

    Hoërskool Monument t. Hoërskool Garsfontein om 13:45 in Krugersdorp

    Monument (moontlik): 15 Caylum Schooney, 14 Kealan Milton, 13 Jason Joubert, 12 Theuns du Plooy, 11 Ernesto Oersen, 10 Cruz La Moer, 9 Hanno du Toit, 8 Vincent Roberts, 7 RJ Barnard, 6 Jamaal Feldman, 5 Luhan Swart, 4 Jacques Botha, 3 Jeandre Marais, 2 Keenan Myners, 1 Wikus Meyer.

    Garsfontein: 15 Handre Maree, 14 Brooklyn Newman, 13 Ruan Enslin, 12 Luann Olivier, 11 Junaide Stuart, 10 Junade Pasensie, 9 Luan Ferreira, 8 Aiden King, 7 Thinus Oosthuizen, 6 Stephan Pretorius, 5 Jacques Swarts, 4 James Schnetler, 3 Luan van der Berg, 2 Justin Blom, 1 Ethan van Wyk.

    Skeidsregter: Hernus Coetzee

  • Kookwater Klerksdorp oorgehaal om halfeind te haal

    Kookwater Klerksdorp oorgehaal om halfeind te haal

    FOTO: Marius Nortjé

    ‘n Sege in die Moot sal Hoërskool Klerksdorp se kanse om die halfeindstryd van die SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling te haal ‘n beduidende hupstoot gee.

    Beleef al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die span van Klerksdorp kruis Saterdagmiddag swaarde met Hoërskool Oos-Moot in hul agterplaas, met ‘n sege vir die besoekers wat vir hulle ‘n plek in die halfeindstryd kan verseker.

    Vir die Oosies is dit ook steeds moontlik, maar hulle sal ál drie hul oorblywende rondomtalie-wedstryde moet wen.

    Die Klerksdorpers is netjies op dreef, verál na die skoolvakansie. Hulle het onlangs twee reuse tuisseges oor Hoër Tegniese Skool (23-14) en Ligbron Akdemie (38-31) behaal, maar die Noordvaal-kompetisie het gewys dat dit uiters moeilik is om wegwedstryde te wen, dus bied die Oosies ‘n groot uitdaging vir die span van Noordwes.

    Oos-Moot moes weens die beseringspook ‘n aantal veranderinge aan die span, wat teen Ligbron Akademie (41-50) vasgeval het, maak. Losskakel, Ruwan Allen, skuif na heelagter met die nr. 10-trui wat aan die gevaarlike Dewron Aford oorgegee word.

    Die Oosies se breier het ook besluit op ‘n groter pak vir Saterdag se stryd, met haker Brydon Jordaan wat kans kry in die voorry met sy fisieke teenwoordigheid en hoë werkverrigting.

    Klerksdorp behou die volsterkte span wat oor die afgelope paar rondes sukses behaal het. Agsteman en kaptein, GJ Steenberg, het regdeur die seisoen van voor gelei en ook ‘n susksesvolle Cravenweek in Krugersdorp geniet.

    Heelagter, Winton Abrahams, moet ook fyn dopgehou word, aangesien sy vaart en dartellopies heelwat kopsere vir die tuisspan kan besorg. Losskakel, Cohan Witbooi, se stewel is ook iets waarvoor die Oosies moet ligloop.

    Ligbron Akademie het self ‘n belangrike wedstryd wat op hom wag wanneer hy Hoër Tegniese Skool Middelburg se Rooi Bulle in Ermelo verwelkom. Die Liggies is slegs een punt agter die Klerksdorpers op die puntelys en ‘n goeie sege op tuisbodem kan hulle weer stewig in die wedloop plaas.

    Die Liggies het egter ‘n wisselvallige seisoen beleef. Hul vertoning in die eerste helfte van die seisoen teen die einste Klerksdorp was buite karakter en afrigter, Herman Schlebusch, sal hoop vir meer konsekwentheid hierdie slag.

    Hulle betree wel die stryd sonder enige beserings, wat beteken dat die gevaarmanne, Anele Ngwenya (heelagter) en Bandile Thanjekwayo (linkervleuel), weer in aksie is.

    Die Rooi Bulle het slegs een verandering aangebring aan die span wat vir Hoërskool Kempton Park met 42-12 omgedop het. Staatmaker, Jaque Stassen, maak sy terugkeer nadat hy teen die Kempies, van die reserwebank af gespeel het, maar wél op regtervleuel in plaas van heelagter, met WJ Enslin wat, nes verlede week, in die nr. 15-trui uitdraf.

    Die voorloper in vanjaar se reeks, Hoërskool Transvalia, wil sy greep op die kompetisie verder versterk. Die span van Vanderbijlpark verwelkom die gewonde Hoërskool Zwartkop in hul agterplaas, nadat hulle verlede naweek hul veldtog met ‘n kragtige vertoning teen Hoërskool Montana (45-24) hervat het.

    Die terugkeer van vaskopstut, Stiaan Breedt, met sy stewige skrumwerk en fisieke teenwoordigheid in die vastelos, versterk die Valia-pak en dus kan die Zwarries ‘n klipharde stryd voorlangs verwag.

    Vir Hoërskool Montana raak die pad vorentoe nie makliker nie met Hoërskool Middelburg wat in Pretoria besoek aflé.

    Die Middelburgers is, nes Transvalia, mooi op dreef en sal nie maklik gestuit word nie. Die Monties sal hul keer verál moet ken wanneer regtervleuel, Kefilwe Photmse, aan die buitekant geleentheid gebied word om aan te val, aangesien hy oor hope vaart en flink voetwerk beskik.

    Die spanne: 

    Hoërskool Oos-Moot t. Hoërskool Klerksdorp on 12:30 in Pretoria

    Oos-Moot: 15 Ruwan Allen, 14 Nick Venter, 13 Ivan van Wyk, 12 Jeandre Venter, 11 Tapiwa Rwafa, 10 Dewron Aford, 9 David Joubert, 8 Clayton de Bruyn, 7 Wade Williams, 6 Bertus van Dyk, 5 Jaydon Botha, 4 Connor de Jager, 3 Christian Smith, 2 Brydon Jordaan, 1 Mike Notnagel.

    Hoërskool Klerksdorp: 15 Winton Abrahams, 14 Tyron Masasngo, 13 Asif Sumara, 12 Diwan Labuschagne, 11 Louis Vorster, 10 Cohan Witbooi, 9 Jared van Staden, 8 GJ Steenberg, 7 Bokamoso Mabeleng, 6 Tiaan Koen, 5 Heinrich Hovener, 4 Abrie Esterhuizen, 3 Liam Pretorius, 2 Janu du Wet, 1 De Wet le Roux.

    Ligbron Akademie t. Hoër Tegniese Skool Middelburg om 12:00 in Ermelo

    Ligbron Akademie: 15 Anele Ngwenya, 14 Neo Zwane, 13 Siyanda Dennison, 12 Lethi Ngwenya, 11 Bandile Thanjekwayo, 10 Divan van Jaarsveld, 9 Renier van Staden, 8 Janco Claasen, 7 Jurgens Bezuidenhout, 6 Tiaan Botha, 5 Jaco van Wyk, 4 Thamisanqa Lamula, 3 Devan Scheepers, 2 Marnus Marx, 1 Sabelo Nhlapo.

    HTS Middelburg: 15 Jaque Stassen, 14 WJ Enslin, 13 Luhan Graaf, 12 Johnny dos Santos, 11 CJ Muller, 10 Gerry Gendall, 9 Ruben Erasmus, 8 Tertius Bezuidenhout, 7 Kayden Wessels, 6 Toy Engelbrecht, 5 Sam Ndwandwe, 4 Janco Aucamp, 3 Kagiso Gumbi, 2 Hanru Terblanche, 1 Dirk du Plooy.

    Transvalia t. Zwartkop om 13:45 in Vanderbijl Park

    Transvalia: 15 Siyabonga Khambule, 14 Dihan Crause, 13 Tshepo Molakeng, 12 Brandonlee Smit, 11 Tumi Moloi, 10 Dylan Steynman, 9 Anro Nagel, 8 Wynand Stols, 7 Daniel Kazambu, 6 Juan Bishoff, 5 Breyton Kruger, 4 Vincent Brits, 3 Arne Botes, 2 Jayden McPearson, 1 Dylan Booth.

    Zwartkop: 15 Justin Julies, 14 Milton Naude, 13 Kyle Blinaut, 12 Luan Williams, 11 Zulu Mona, 10 Luhardt Booyens, 9 Neil Gous, 8 Brian Smith, 7 Cj Barnard, 6 Adriaan Janse van Vuuren, 5 Bradley Cronje, 4 Ettiene van Niekerk, 3 Brogan Ackerman, 2 Migael Kindeque, 1 Julian Lubbe.

    Montana t. Hoërskool Middelburg om 12:35 in Pretoria

    Montana: 15 Marq de Villiers, 14 Ryan Nel, 13 Hendrew Schoeman, 12 JF Venter, 11 Dirk Coetzee, 10 Leon Deysel, 9 Daelin Ludick, 8 Devan van der Merwe, 7 Justin Herbst, 6 Dieter Scheepers, 5 Kyle Brokhorst, 4 Martin Venter, 3 Ruan Louw, 2 Luhan Theunissen, 1 Marinus Oberholzer.

    Hoërskool Middelburg: 15 Andile Mahlangu, 14 Kefilwe Phamotse, 13 Eckard Marx, 12 Lungelo Maseko, 11 Sihle Mkhatshwa, 10 Matthew Abbey, 9 Keabetswe Nkgadema, 8 Jabu Mathebule, 7 Khensani Buthelezi, 6 CW Hanekom, 5 Enrico Thompsom, 4 Rogan van der Walt, 3 Wandisa Mthombeni, 2 Roux Grobler, 1 Wian Olwagen.