SSPN Test Site

Author: froberholzer

  • Gekweste Kloof soek silwerrandjie teen Nories

    FOTO: Marius Nortjé

    Beter uitvoering en kalmte sal aan die orde van die dag wees wanneer Klofies hul veldtog in SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling hervat.

    Beleef al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Hoërskool Waterkloof wil terugkeer na dit wat hom só suksesvol vanjaar gemaak het wanneer hy Saterdag op tuisbodem teen Hoërskool Noordheuwel in die “Kloof” te staan kom.

    Die Blou Tornado se nederlaag van 28-43 teen die Afrikaanse Hoër Seunskool was slegs sy tweede vir die seisoen en hy is steeds onoorwonne in die SDC Noordvaal Cup.

    Die Pretorianers se fisiekheid teen Affies was uit die boonste rakke en afrigter, Cobus van Dyk, vereis meer van dieselfde hierdie Saterdag.

    “Ons was tevrede met hoe fisiek ons teen Affies was,” het Van Dyk gesê. “Daar was heelwat dinge wat buite karakter was; die plan was reg, maar ons uitvoering daarvan nie op standaard nie.”

    Die tuispan sou ook hard aan hul lynstane geskaaf het, aangesien dit hul grootste tekortkoming teen die Wit Bulle was, en ‘n area waar die Nories, danksy voorspelerafrigter, Ian Joubert, uiters gevaarlik is. Die span van Krugersdorp het in hul vorige rondomtalie-wedstryd teen Hoërskool Garsfontein se Bere puik vertoon, maar moes uiteindelik met 37-44 die knie buig.

    Losskakel, Juandre Uithaler, het uitgestaan met sy korrelwerk pale toe om deurgaans sy span in die wedloop te hou. Hy het in besonder ‘n waarskuwing gerig met die aantal strafdoele wat hy vanuit uit sy eie helfte oorgeklits het, dus sal die Klofies moet let op hul dissipline.

    Cheswill Jooste, wat vir die grootste gedeelte van die seisoen op buitensenter in aksie was, keer uiteindelik terug na sy gunstelingposisie op heelagter. Jooste, wat vanjaar weer vir die SA Skolespan verteenwoordig het, het verlede jaar sy merk in die nr. 15-trui gemaak.

    Die tuisspan sal sonder hul harde man op slot, Stefan de Beer, wat ‘n ligte besering in die stryd teen Affies opgedoen, moet klaarkom. Hy sal deur Leander van der Westhuizen of Codi Binneman in die beginspan vervang word.

    Die Nories moet die tuisspan se middeveld fyn dophou, met verál die binnesenter, Happy Makate, wat die besoekers se verdedigers sal besig hou. Makate het van krag tot krag gegaan vanjaar as een van sy span se grootste wapens op sowel die aanval as verdediging.

    ‘n Gekweste Helpmekaar Kollege wil sy laaste twee wedstryde op tuisbodem op ‘n hoë noot afsluit, met ‘n oorwinning Saterdag oor Hoërskool Marais Viljoen eerste op die agenda.

    Volg die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die Helpies lek nog wonde na hul skoknederlaag teen Hoërskool Rustenburg verlede naweek. Om verdere sout in die Johannesburgers se wonde te vryf hang daar vraagtekens oor van hul groot name, soos binnesenter, Clinton Cloete, en vaskopstut, Ulrich van der Merwe, wat moontlik Saterdag se stryd kan misloop

    Van der Merwe het verlede naweek sy terugkeer vanaf die bank gemaak, maar dit was dalk té gou.

    In teenstelling hiermee sal die span van Marais Viljoen oorgehaal wees vir die stryd, na ‘n belowende vertoning teen Hoërskool Menlopark in die vorige ronde. Hulle is wel steeds op soek na ‘n eerste oorwinning in die reeks en sal wil jag maak op die gekweste Helpies.

    Dit was verál buitesenter, Brandon Els, wat na hoogste versnelling oorgeskakel het, en met sy bedrieglike vaart en uitstekende voetwerk behoort hy die tuisspan vir die volle 70 minute besig te hou.

    Die spanne: 

    Hoërskool Waterkloof t. Hoërskool Noordheuwel om 12:30 in Pretoria

    Waterkloof: 15 Ronan Bastiaanse, 14 Malcolm George, 13 Riwan van Aswegen, 12 Happy Makate, 11 Jaiden Badenhorst, 10 Dennis Obi, 9 Migael Prinsloo, 8 Dawid Prinsloo, 7 Lendrey Janse van Vuuren, 6 Divan Botha, 5 Alrich Uys, 4 Stephan de Beer, 3 Jedri Swart, 2 Ruan Jacobs, 1 Juan Gouws.

    Noordheuwel: 15 Cheswill Jooste, 14 Jeremo Luiters, 13 Francois Venter, 12 Jared Coetzee, 11 Lindsey Jansen, 10 Jeandre Uithaler, 9 Ignatius Jantjies, 8 Juandre de Villiers, 7 Andrew Lambert, 6 Meyer Opperman, 5 Xander Buitendag, 4 Alex Greeff, 3 Martin Nel, 2 Clinton Agu, 1 Ruben Botes.

    Skeidsregter: Hanru van Rooyen

    Helpmekaar Kollege t. Hoërskool Marais Viljoen om 12:30 in Johannesburg

    Helpmekaar Kollege: 15 Tiaan le Roux, 14 Delano Maritz, 13 Ty Ax, 12 Clinton Cloete, 11 Pieter Moller, 10 Michael Benzien, 9 Tristan van Niekerk, 8 Motlatsi Moloi, 7 Darius Haasbroek, 6 Zaiden Krige, 5 JP Lombaard, 4 Christiaan Tonkin, 3 Ulrich van der Merwe, 2 Gustav Grotius, 1 Liam Devenier.

    Marais Viljoen: 15 Tyron Bouw, 14 Tiaan Joubert, 13 Brandon Els, 12 Claude de Couto, 11 Ethan Weideman, 10 Recce Gerber, 9 Weon van der Vyver, 8 Rio Tshimalanga, 7 Dian Scheepers, 6 Bjorn Pieterse, 5 JD Labuschagne, 4 Beyers van Nieker, 3 Ruben Mans, 2 Sifiso Shongwe, 1 Clayton Gagiano.

    Skeidsregter: Ruan Benadie

  • Jansies, ná loslootjie, op hul hoede vir gevaarlike Rusties

    Zaide-Leigh Rippenaar van EG Jansen teen Ligbron Akademie. PHOTO: Tap Light Edits

    Hoërskool Dr. EG Jansen se terugkeer gaan gepaard met ‘n gevaarlike uitdaging.

    Beleef al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die Arende, na verlede week se welverdiende loslootjie, hervat hul veldtog in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling met ‘n kragmeting teen die gevaarlike Hoërskool Rustenburg.

    Die Rusties het verlede naweek gewys dat hulle nie te versmaai is in dié afdeling nie met ‘n uitmuntende tuissege van 31-19 oor Helpmekaar Kollege.

    “Ons fokus bly dieselfde,” het Naas Olivier, Hoërskool Rustenburg se afrigter gesê.

    “Verlede week was ‘n uiters fisieke stryd, dus het ons vandeesweek meer klem gelê op rus en herstel. Dit is vir ons belangrik, verál aangesien ons hierdie naweek teen een van Suid-Afrika se beste skolespanne te staan kom.”

    Die Rustenburgers het ‘n paar taai weke agter die blad maar dit lyk asof hulle die stryd met hul eerstekeuse-vyftiental kan aanpak.

    Dit is vernaam Lorenzo Snyers vir wie die Rusties se ondersteuners in watte sou wou toe draai. Snyers, die span van Rustenburg grootste uitblinker regdeur die huidige seisoen, hou groot gevaar vir die Arende in, verál wanneer hy homself in spasie bevind.

    Voorlangs wag die ervare slot en kaptein, Pedrie Human, op die Jansies se agttal. Human is nie alleen ‘n voortreflike leier nie, maar ook ‘n klipharde werker in die vastelos  en behoort met slotmaat, Erich Potgieter, te verseker dat hul agterhoede goeie en vinnige balbesit geniet.

    Die Arende behoort hul SA Skole “A”-flank, Zaide-Leigh Rippenaar, wat ‘n welverdiende blaaskans na ‘n bedrywige Junie en Julie geniet het, terug te verwelkom, wat beteken dat die Jansies se pak op volsterkte sal wees.

    Dit is juis voorlangs waar die span van Boksburg meeste van hul teenstanders geknou het, en hul vaste fasette, waarskynlik die beste in die kompetisie, is ‘n aspek waarvoor Olivier en die res van die Rusties se afrigtingspan noukeurig sou beplan.

    Dit maak van losskakel, Matthew Bergman, met sy vermoë om spel te lees, buitesenter, Jeandre Jacobs, en linkervleuel, Keanu van Loggerenberg, ‘n uiters gevaarlike proposisie agterlangs. Van Loggerenberg, wat selde die erkenning kry wat hy verdien, is een van die Arende se grootste aanvalswapens met sy bedrieglike vaart en venynige voetwerk.

    Hoërskool Menlopark se moraal sou ietwat gelig het nadat hy verlede naweek die wa vir die eerste keer in vanjaar se reeks deur die drif kon trek. Die Parkies het in ‘n drieëfees in Alberton met 40-33 teen Hoërskool Marais Viljoen koning gekraai.

    Hierdie naweek se nuwe uitdaging bied egter meer van ‘n opdraande stryd.

    Volg die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com).

    Die Pretorianers moet Saterdag na Nelspruit reis, waar hulle vir Hoërskool Nelspruit se Rhinos aandurf. Dit is hul tweede tog na Mbombela vanjaar, nadat hulle reeds vroeër in die seisoen, tydens die NWU Sportreeks, teen die Rhinos op hul tuisveld te staan gekom het. Menlopark het met 31-14 geseëvier, maar daar het sedertdien heelwat water in die see geloop.

    Ian Wood en sy Rhinos het in die kwessie van twee weke as een van die grootste bedreigings in die reeks ontpop en sal slaggereed wees om die bordjies te verhang. Die Rhinos spog met seges oor Hoërskool Garsfontein (30-29) en Hoërskool Monument (21-12) in Mpumalanga se hoofstad.

    Laim Pringle, die tuisspan se skrumskakel, was uitstaande in die laaste twee kragmetings en het ook ‘n sleutelrol in die Pumas se sukses by die Stadio Cravenweek gespeel, met sy flink diens en uitstekende taktiese skoppe.

    Hy sal wel daarteen moet waak om té veel op die Parkies se Divan Nel te skop. Nel, wat die vorige keer die Rhinos se verdedigers onkant betrap het sal, saam met die woelwater-agsteman, Rocco Myburgh, vir die tuisspan taamlik besig hou.

    Die spanne: 

    Hoërskool Dr. EG Jansen t. Hoërskool Rustenburg om 12:25 in Boksburg

    EG Jansen (moontlik): 15 Ntokozo Ngobese, 14 Jean-Dre Claasen, 13 Juandre Jacobs 12 Steven Williams, 11 Keanu van Loggerenberg, 10 Matthew Bergman, 9 Riekus van der Merwe, 8 Storm Labuschagne, 7 Divan Francis, 6 Zade-Leigh Rippenaar, 5 Zandre Naudé, 4 Gerhard van Aswegen, 3 Duwan Potgieter, 2 Danre Pike, 1 Zian Marais.

    Hoërskool Rustenburg: 15 Lorenzo Snyers, 14 Christiaan van der Berg, 13 John-Re Jefthas, 12 Hendre Robinson, 11 Wesley van Loggerenberg, 10 Awie Engelbrecht, 9 Adriano George, 8 Coenraad Koetzer, 7 Dirk Huisamen, 6 Wickus Jacobs, 5 Pedrie Human, 4 Erich Potgieter, 3 Ockert Grobler, 2 Xavier Steenkamp, 1 Divan Welgemoed.

    Hoërskool Nelspruit t. Hoërskool Menlopark om 13:20 in Mbombela

    Hoërskool Nelspruit: 15 Jean Erasmus, 14 Jordan Pretorius, 13 Ruben Greeff, 12 Ian Wood, 11 Tinyiko Shilubane, 10 Theuns Meyer, 9 Liam Pringle, 8 Vaughn van Zyl, 7 Prosper Chillione, 6 Banele Ngwenya, 5 Ronaldo van Rensburg, 4 Ethan Esterhuizen, 3 Gert Cloete, 2 Regardt Vermaak, 1 Lindani Ndlela.

    Menlopark (moontlik): 15 Divan Nel, 14 Anwill Prins, 13 Ruben Fourie, 12 Wynand van Wyk, 11 Handre Joubert, 10 Logan Botha, 9 Phillipus de Bruyn, 8 Rocco Myburg, 7 JN van Wyk, 6 Nathan du Plessis, 5 Xander Roets, 4 Hein Schoeman, 3 Ruwan van Aardt, 2 Huga Brand, 1 Mattheus Prinsloo.

  • Liggies nóg onoorwonne in hul agterplaas

    “Lichtenburg is ‘n uitstekende span, goed afgerig en het heelwat momentum”

    Beleef al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com

    So het Hoërskool Secunda se afrigter, JJ Hennop, vandeesweek sy span se uitdaging, wanneer hulle Saterdag kragte meet met Hoërskool Lichtenburg, beskryf.

    Dit beloof inderdaad om ‘n taai stryd vir die besoekers van Mpumalanga af te gee. Die Liggies is boonop nog onoorwonne op hul tuisveld, het beslis goeie momentum opgebou met seges in die vorige twee rondes van die SDC Noordvaal Cup se Skild-afdeling en sal moeilik gestuit word.

    Die tuisspan het ná verlede naweek se oorwinning oor Hoërskool Die Anker (37-26) die voortou geneem op dié afdeling se puntelys.

    “Ons sien hierdie as ‘n laaste hekkie voor ons ‘n afnaweek het en dan op die pad sal wees vir twee agtereenvolgende wedstryde daarna,” het die Liggies se breier, Michael Bondesio, gesê.

    Die skote behoort voorlangs te klap, met die Lichtenburgers se agttal wat sover die grootste rede vir hul sukses was. Dit is vernaam vaskopstut, JJ Jonker, wat die vuur onder die grootmanne kan aansteek, terwyl hy ook geen vreemdeling vir die opposisie-doellyn is nie.

    Hul ervare agsteman, Abrie Coetzee, is mooi op dreef en behoort met sy fisieke teenwoordigheid en hoë werkverrigting saam met Jonker, en sy barslopies, die span in blou op die voorvoet te plaas.

    Die manne van Mpumalanga het ‘n taamlike taak wat voorlê indien hulle hoop om ‘n plek in die uitspeelrondes los te speel. Hulle het voor hul loslootjie verlede naweek hul rieme met 20-25 teen Hoërskool Ben Vorster in Secunda styfgeloop en dus is hul oorblywende drie wedstryde kritiek.

    Agtsteman en kaptein, Bakkies Bezuidenhout, een van Secunda se staatmakers met die bal in hand, sal alles in die stryd werp om vir Coetzee en Kie te probeer tem en aanvalsgeleenthede te skep vir buitesenter, Ryan Erasmus, en die res van die besoekers se gevaarlike agterlyn.

    Hoërskool Wesvalia is oorgehaal om sy Skild-veldtog op tuisbodem te hervat wanneer hy vir Hoërskool Ben Vorster in Klerksdorp verwelkom. Die Buffels het onlangs netjiese momentum  begin bou en spog met drie opeenvolgende seges, waarvan twee weg van die huis was.

    Hulle sal weer heelwat staatmaak op die stewel van buitesenter, Tihandre Reyneke, wat die Buffels se sege van 24-23 in Pieterburg in die vorige ronde met sy skopskoen beklink het.

    Die tuisspan betree die stryd met ‘n volsterkte span. Hul puntemasjien, Rieckardt van Heerden, maak sy langverwagte terugkeer, nadat hy, voor die vakansie op die krukkelys was, maar wél op heelagter. Willem van der Sandt, die Wessies se afrigter, het waarskynlik hierdie verandering aangebring met die hoop dat Van Heerden ‘n teenvoeter kan bied vir die Buffels se gevaarlike heelagter, Pothso Selowa.

    Eduard Dreyer behoort nietemin Van Heerden se skoene op losskakel mooi vol te staan, ná ‘n klompie puik vertonings in die eerste helfte van die kompetisie.

    Voorlangs behoort Francois Dumond, die Wessies se steelkantflank, en die Vossies se agsteman en kaptein, Ewald Kirstein, mekaar goed op te dreun met hul vermoë om oor die voordeellyn te kom.

    In Brakpan verwelkom Hoërskool Die Anker vir die onvoorspelbare Hoërskool Jeugland. Die Brakpanse span is nog ietwat gekwes na hul nederlaag in Lichtenburg die week vantevore, maar ‘n sege hierdie naweek sal hulle weer stewig terugplaas in die wedloop vir plekke in die uitspeelrondes, met nog heelwat rugby om te speel.

    Hulle verwelkom ook ‘n groot staatmaker onder die voorspelers, Gerhard Oosthuizen, terug, nadat hy die laaste twee uitstappies van die kantlyn moes aanskou weens ‘n besering.

    Saterdag het Hoërskool Hugenote van Springs ‘n gulde geleentheid om terug te keer na die wenpad wanneer hulle met Hoërskool Pietersburg swaarde kruis. Die Pieties bevind hulself tans laaste op die puntelys, terwyl die Hugies ook effens momentum ingeboet het die afgelope ruk. Hul naelskraapse nederlaag met 29-30 teen Heidelberg Volkskool was verál ‘n gevoelige knou.

    Om verdere sout in die wonde te smeer, bestaan daar ‘n moontlikheid dat hul binnesenter, Dylan Nel, die stryd teen die Pieties kan misloop nadat hy ‘n besering teen die Volkies in die eerste “Gatskop Derby” opgedoen het.

    Die spanne: 

    Hoërskool Lichtenburg t. Hoërskool Secunda om 12:30 in Lichtenburg

    Hoërskool Lichtenburg: 15 Rea Motsusi, 14 Lukie Benson, 13 Dundre Dempers, 12 Oratile Sekoto, 11 Omphile Gaboutloeloe, 10 Luan Snyman, 9 Willem van Niekerk, 8 Abrie Coetzee, 7 Tiaan Booysen, 6 Kgolagano Legodi, 5 John Kleynhans, 4 GJ Malan, 3 JJ Jonker, 2 Juan van Rhyn, 1 Donovan Rosato.

    Hoërskool Secunda: 15 Damian de Beer, 14 Martin Pretorius, 13 Ryan Erasmus, 12 Bismarck Jansen, 11 Brink La Grange, 10 EJ Venter, 9 Jarno Haarhoff, 8 Bakkies Bezuidenhout, 7 Zander Scheepers, 6 Zander van der Merwe, 5 Renier Combrink, 4 Zac Loock, 3 Stefan Bezuidenhout, 2 Rico Schoeman, 1 Nathan Erasmus.

    Hoërskool Wesvalia t. Ben Vorster om 12:30 in Klerksdorp

    Wesvalia: 15 Rieckardt van Heerden, 14 Justin Adams, 13 Xander Smit, 12 Philip Janse van Rensburg, 11 Fafa Calitz, 10 Eduard Dreyer, 9 Chad Hofmeyer, 8 Hanre Venter, 7 Francois Dumond, 6 Joshua Pieters, 5 Aiden Jacobz, 4 Franco Dumond, 3 Bernard Swanepoel, 2 Junior Kuhn, 1 Ulrigh du Preez

    Ben Vorster (moontlik): 15 Potsho Selowa, 14 Migel Makhubipetsi, 13 Tihandre Reyneke, 12 Aza Mabe, 11 Damian Bye, 10 Nkateko Ngoveni, 9 Stiaan du Randt, 8 Ewald Kirstein, 7 Joshua van der Mescht, 6 Chifu Banda, 5 Lourens Harmse, 4 Raluano Ramano, 3 Makondolele Musekene, 2 Christopher Janse van Vuuren, 1 Thabang Nkuna.

    Die Anker t. Jeugland in Brakpan

    Die Anker: 15 Paul Schutte, 14 Ruan Smith, 13 Sean Schoeman, 12 Branden Crous, 11 Jonathan Jordaan, 10 Danie Smit, 9 Troy Joubert, 8 Ruben Herbst, 7 Xander Fraser, 6 Duvan Booyens, 5 Brendan van Lutterveld, 4 Gerhard Oosthuizen, 3 Damian Boshoff, 2 Siya Shongwe, 1 Zander Nell.

    Jeugland: 15 Thando Ngomane, 14 Lehlonolo Somo, 13 Sinenhlanhla Ndlovu, 12 Alec Mohlala, 11 Oregopotse Shilubane, 10 King Agbonzo, 9 Kenneth Morka, 8 Jaden Kleyn, 7 Joseph Ngomo-Ngomo, 6 Letlala Relebohile, 5 Shamma Nsenda, 4 Sharon Nsenda, 3 Khumo Maime, 2 Siyanda Mbanjwa, 1 Lesego Moitse.

    Hugenote (Springs) t. Hoërskool Pietersburg om 13:30 in Springs

    Hugenote (moontlik): 15 George Lucas, 14 Ruan van Biljon, 13 Vian van Dyk, 12 Dylan Nel, 11 Musa Mahlangu, 10 Corne Pretorius, 9 Thanyani Mokiri, 8 Hendrik Eybers, 7 Tyron Hand, 6 Arne Marais, 5 Xavier Ungerer, 4 Anthony Smith, 3 Henre Oosthuizen, 2 Luan Pretorius, 1 Franko Neuhoff.

    Hoërskool Pietersburg: 15 Celliers van der Merwe, 14 Brydan Retief, 13 Hanno van Zyl, 12 Siya Mahlangu, 11 Zuhan Labuschagne, 10 Vincent Luckhoff, 9 Divan Brown, 8 Hardus Otto, 7 Tiaan Vermeulen, 6 David Stander, 5 Juan Jansen van Vuuren, 4 Etienne van Jaarsveldt, 3 Elardus Erasmus, 2 JP Moster, 1 Floris Venter.

  • Volkies vier fees in Piet Retief

    Potchefstroom Volkskool se sege in Piet Retief het die Potchefstromers weer in ‘n stewige posisie geplaas wat die wedloop in die SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling betref.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschool.com)

    Potchefstroom Volkskool het die tuisspan, Hoërskool Piet Retief, redelik maklik met 27-10 op die Jack Botes-stadion verslaan.

    Daarmee het die Volkies hul kanse om ‘n plek in die uitspeelrondes los te slaan ‘n beduidende hupstoot gegee.

    Agsteman en kaptein, Dewald Groenewald, het van voor gelei in ‘n kragtige vertoning deur die besoekers se voorspelers. Hy het die Volkies deurgaans met sterk en begeesterde lopies op die voorvoet geplaas en die grondslag help lê vir die agterlyn, en vernaam die senterpaar, om hul stempel af te druk.

    Christoff Nel se skuif van steelkantflank na binnesenter het duidelik vrugte afgewerp, met sy fisieke benadering wat die tuisspan se middeveld onkant betrap het. Nel het ook die nodige spasie vir sy sentermaat, Hennie Pretorius, geskep om die span van Piet Retief met venynige aanvalslyne te looi.

    Piet Retief se agsteman, Christiaan Pienaar, het moedig probeer om sy span in die wedloop te hou. Pienaar, tot dusver hierdie seisoen een van sy span se staatmakers op die aanval, het na hoogste versnelling oorgeskakel en was verantwoordelik vir die Pieties se enigste twee drieë.

    Hoërskool Dr. Malan het tuisveldvoordeel uitstekend benut om vir Hoërskool Alberton met 20-7 ore aan te sit in Meyerton. Die voorspelers het hier ook ‘n reuse aandeel in die Dokkies se sege gehad het, met loskopstut, Devan Fouche, en steelkantflank, Anthony Botes, wat uitgetroon het op onderskeidelik die aanval en verdediging.

    Die besoekers se losskakel, Dewald de Jager, het sy rol as generaal goed vertolk en moedig probeer om sy agterlyn aan die gang te kry met die hoop dat dit sy span terug in die wedloop kon kry.

    Hoërskool Randburg het die Bulkraal in Tzaneen op horings geneem deur vir Merensky Landbou Akademie se Brahmane met 43-31 te troef.

    Heelagter, Francois Groenewald, het die tuisspan se verdediging geteister met sy gevaarlike teenaanvalle en sy vermoë om effektief by die agterlyn aansluiting te vind het Randburg telkens oor die voordeellyn gekry het. Hy was ook verantwoordelik vir twee van sy span se sewe drieë.

    Dit en oënskynlike tekortkominge in die Plasies se verdediging het beteken dat die besoekers aan die stuur van sake was teen halftyd.

    Die tuisspan het egter in die tweede 35 minute ietwat beter op die aanval vertoon met losskakel, Byron Hendricks, wat beter geleenthede vir sy agterlyn geskep het. Dit het vir buitesenter, Ulrich Mare, in staat gestel om vir die tweede agtereenvolgende week ‘n tweekuns te behaal.

    Dit was egter nie genoeg om die besoekers van Randburg se meedoënlose aanvalsgolf af te weer nie. Die fisieke stryd tussen die twee pakke het sy tol begin eis, die gapings het groter geraak en die Randburgers het dit behoorlik uitgebuit.

    Hoërskool Eldoraigne het vir Hoërskool Wagpos ‘n reuse rugby les geleer. Die Drake het straks hul beste vertoning van 2024 opgedis om Wagpos ‘n loesing van 88-13 toe te dien.

    Dit was grotendeels te danke aan nog ‘n uitmuntende vertoning deur skrumskakel, Darren Bruwer. Bruwer het verseker dat sy span struktuur behou toe die sluise oopgemaak het, terwyl heelagter, Divan-Michael van Rooyen, uiteindelik die kollig gesteel het.

    Van Rooyen was haas onkeerbaar en het self ook agter die doellyn ‘n draai gaan maak. Boonop het hy, na skerpskutter, JP Meyer, die veld moes verlaat, met ses doelskoppe geslaag om sy persoonlike bydrae op 17 punte te staan te bring.

    Puntemakers: 

    Potchefstroom Volkskool 27 (5) – Drieë: Dewald Groenewald (2), Christoff Nel, Hennie Pretorius. Doelskoppe: Johandre Maree (2). Strafdoel: Maree. Hoërskool Piet Retief 10 (5) – Drieë: Christiaan Pienaar (2).

    Dr. Malan 20 (10) – Drieë: Andreas Botha, Enrico van Zyl. Doelskoppe: Luka Pretorius (2). Strafdoele: Pretorius (2). Hoërskool Alberton 7 (0) – Drie: Sipho Sibonye. Doelskop: Jayden Mostert.

    Hoërskool Randburg 43 (26) – Drieë: Francois Groenewald (2), Malan van Heerden, Reuben Botha, Curwin Hill, Shandre Vermaak, Henré Breedt. Doelskoppe: Quitin Fillies (4). Merensky 31 (14) – Drieë: Ulrich Mare (2), Corne Swanepoel, Andreas Honniball, Craig Walker. Doelskoppe: Byron Hendricks (3).

    Eldoraigne 88 (29) – Driee: Justin Meintjies (2), Hendru van Zyl (2), Wihan White, Marnes Prinsloo, Rikus Rheeder, Cameron Killian, Darren Bruwer, Kevin Earle, Ivan Vermeulen, Divan Michael van Rooyen, Evan Fivas, Juan Gerhard. Doelskoppe: Divan Michael (6), JP Meyer, Darren Bruwer, Ivan Vermeulen. Wagpos 13 (10).

    Ander spanne: 

    o.16: Potchefstroom Volkies 22, Hoërskool Piet Retief 5; Hoërskool Alberton 59, Dr. Malan 5; Hoërskool Randburg 29, Merensky 19; Wagpos 58, Eldoraigne 22.

    o.15: Hoërskool Piet Retief 38, Potchefstroom Volkies 18; Dr. Malan 41, Hoërskool Alberton 19; Merensky 57, Hoërskool Randburg 0; Wagpos 17, Eldoraigne 10.

    o.14: Hoërskool Piet Retief 27, Potchefstroom Volkies 7; Dr. Malan 54, Hoërskool Alberton 0; Hoërskool Randburg 34, Merensky 0; Eldoraigne 17, Wagpos 3.

  • Valia se neus steeds voor na goeie sege in Pretoria

    FOTO: Frans Lombard

    Hoërskool Transvalia se neus is nog verder voor na hy sy stempel die afgelope naweek in die Jakarandastad gaan afdruk het.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die besoekers van Vanderbijlpark het hul veldtog in die SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling hervat met ‘n oortuigende oorwinning van 45-24 oor Hoërskool Montana.

    Die span in die rooi- en ligbloutruie het ‘n verlengde blaaskans, danksy ‘n loslootjie, in die eerste ronde na die skoolvakansie geniet, maar dit het hul momentum duidelik nie veel geaffekteer nie.

    Valia se gevaarlike agterlyn was weer hul sterkpunt, maar die oorwinning sou nie moontlik gewees het sonder ‘n dominerende vertoning deur die voorspelers nie.

    Die besoekers het vanuit die staanspoor nie gehuiwer om die bal lug te gee nie, en sodoende kon hul sneller op linkervleuel, Tumi Moloi, vroeg reeds sy span se rekening met ‘n praglopie teen die kantlyn af oopmaak. Die Cravenweek-senters, Brandonlee Smit en Tshepo Molakeng, het ook uitgeblink aan die buitekant van losskakel, Dylan Steynman.

    Vir die tuisspan het loskopstut, Marinus Oberholzer, hand opgesteek, met sy begeesterde barslopies waardevolle meters vir die Monties gewen en twee drieë gedruk. Hy het goeie ondersteuning ontvang van oopkantflank, Dieter Scheepers, wat verál in die vastelos uitgeblink het.

    In Klerksdorp het Hoërskool Klerksdorp ‘n derde agtereenvolgende sege behaal deur vir Ligbron Akademie, van Ermelo, met 38-31 te troef.

    Die tuisspan het reeds binne die eerste 10 minute drie keer agter Ligbron se doellyn gaan kuier. Agtsteman en kaptein, GJ Steenberg, gaan van krag tot krag en is met ‘n tweekuns beloon vir sy kragtige vertoning. Agterlangs het heelagter, Winton Abrahams, en binnesenter, Diwan Labuschagne, die besoekers se gevaarlike agterlyn grootliks in toom gehou.

    Ligbron is egter ‘n span wat weier om weg te gaan en het, nes verlede naweek, ‘n verbete terugvegpoging geloods. Hul Cravenweek-heelagter, Anele Ngwenya, was aan die spits daarvan, maar skrumskakel, Renier van Staden, het uiteindelik die kollig gesteel deur 16 van sy span se 31 punte aan te teken.

    Hoërskool Middelburg het nóg ‘n oortuigende sege op sy kerfskop geplaas. Die span van Mpumalanga het in Centurion vir Hoërskool Zwartkop oortuigend met 34-17 verslaan.

    ‘n Tweekuns deur vaskopstut en kaptein, Wandisa Mtombeni, het die grondslag vir die sege gelê en ook die vuur onder sy pak aangesteek. Mtombeni het goeie ondersteuning van slot, Enrico Thompson, ontvang.

    Hoër Tegniese Skool Middelburg se kaptein, Toy Engelbrecht, was op sy beurt aan die voorpunt van HTS se oorwinning van 42-12 oor Hoërskool Kempton Park op die Oos-Rand, en het twee van sy span se vyf drieë gedruk.

    Heelagter, WJ Enslin, wat gewoonlik op linkervleuel diens doen, het ‘n puik dag vanaf die skopkegel beleef. Enslin het ‘n 100% slaagsyfer met sy skopwerk pale toe behaal en ál vyf die Rooi Bulle se drieë verdoel.

    Puntemakers: 

    Transvalia 45 (19) – Drieë: Dihan Crause (2), Arné Botes, Tumi Moloi, Brandonlee Smit, Tsepho Molakeng, Siya Khambule. Doelskoppe: Dylan Steynman (5). Montana 24 (3) – Drieë: Marinus Oberholzer (2), Dieter Scheepers. Doelskoppe: Devan van der Merwe (3). Strafdoel: Van der Merwe.

    Hoërskool Klerksdorp 38 (28) – Drieë: GJ Steenberg (2), Diwan Labuschagne, Bokamoso Mabeleng, Louis Vorster, Tyran Masango. Doelskoppe: Cohan Witbooi (4). Ligbron Akademie 31 (17) – Drieë: Renier van Staden, Neo Zwane, Anele Ngwenya, Zakithi Zwane. Doelskoppe: Van Staden (4). Strafdoel: Van Staden.

    Hoërskool Middelburg 34 (17) – Drieë: Wandisa Mtombeni (2), Enrico Thompson, Matthew Abbey, Kefilwe Phamotse. Doelskoppe: Abbey (2). Zwartkop 17 (3) – Drieë: Brian Smith (2). Doelskoppe: Luhardt Booyens (2). Strafdoel: Booyens.

    HTS Middelburg 42 (21) – Drieë: Toy Engelbrecht (2), Luhan Graaff, WJ Enslin, Jaque Stassen. Doelskoppe: Enslin (5). Hoërskool Kempton Park 12 (5) – Drieë: Ryan Smith, Tian Aucamp. Doelskop: Tiaan Delport.

    Ander spanne: 

    o.16: Transvalia 31, Montana 11; Ligbrona Akademie 31, Hoërskool Klerksdorp 5; Zwartkop 60, Hoërskool Middelburg 10; Hoërskool Kempton Park 31, HTS Middelburg 7.

    o.15: Transvalia 13, Montana 8; Hoërskool Klerksdorp 34, Ligbron Akademie 19; Hoërskool Middelburg 38, Zwartkop 0; Hoërskool Kempton Park 38, HTS Middelburg 3.

    o.14: Transvalia 62, Montana 0; Hoërskool Klerksdorp 26, Ligbron Akademie 0; Hoërskool Middelburg 14, Zwartkop 12; Hoërskool Kempton Park 19, HTS Middelburg 7.

  • Koel en kalm Reyneke breek Pietie-harte

    Koel en kalm Reyneke breek Pietie-harte

    FOTO: Marius Nortje

    Dit was ‘n derby soos van ouds tussen twee van Limpopo se groot honde.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com

    Hoërskool Ben Vorster het in Pietersburg die bordjies verhang teen hul tradisionele aartsvyand, Hoërskool Pietersburg, in hul rondomtalie-stryd in die SDC Noordvaal Cup se Skild-afdeling.

    Die Buffels het met ‘n strafdoel kort voor die eindfluitjie hul derde agtereenvolgende sege met 25-23 in die kompetisie beklink.

    Die man van die oomblik was die Buffels se buitesenter, Tihandre Reyneke, wat koel en kalm die bal tussen die pale deur gestuur het vir die oorwinning. Dit was Reyneke se tweede strafdoel en, tesame met twee suksesvolle doelskoppe en ‘n uitstekende drie, het hy 15 van sy span se 25 punte aangeteken.

    Die besoekers het dit egter geensins maklik gehad in Polokwane nie. Die Pieties was aanvanklik in beheer en het rustyd binnegegaan met ‘n gerieflike voorsprong van 12-3. Binnesenter, Siya Mahlangu, het verál beïndruk in die eerste helfte met sy bedrieglike dartellopies .

    Die Cravenweek-skrumskakel, Divan Brown, het verseker dat Mahlangu en die res van die agterlyn uitstaande diens ontvang en op die voorvoet kon bly, terwyl agtsteman, Hardus Otto, se gewoel voorlangs die Buffels ook deurgaans aan die raai gehou het.

    Die Buffels het eers met sowat 20 minute oor hul ritme begin vind en moes hard werk om ‘n agterstand van 12 punte uit te wis. Met die telling op 20-8 in die guns van die tuisspan, het Reyneke deurgebreek het om tussen die pale oor te duik en oopkantflank, Chifu Banda, het kort daarna dieselfde gedoen om sake gelyk te laat trek.

    Met die voorsprong wat nog een keer weerskante toe gewissel het, was dit Reyeneke se stewel wat die Vossies se sege in Polokwane verseker het.

    In Springs was daar ook naels gekou onder die ondersteuners en afrigters, totdat Heidelberg Volkskool se Janco Coetzer, nes Reyneke, sy teenstanders se harte in die doodsnikke gebreek het.

    Die haker het, met drie minute speeltyd oor, die doellyn oorgesteek om te verseker dat die Volkies vir Hoërskool Hugenote van Springs met 30-29 troef in die eerste “Gatskop Derby” tussen die twee spanne. Dit was ook Coetzer se tweede drie.

    Die sege het ook ‘n yslike terugvegpoging geverg, met die Volkies wat ‘n agterstand van 13 punte moes omswaai danksy die akkurate korrelwerk pale toe deur hul Cravenweek-losskakel, Kayle Venter, wat ‘n 100% treftempo gehandhaaf het op die dag.

    Die tuisspan se losskakel, Corne Pretorius, was nie net op sy stukke met die stewel nie, om aan sy span die voortou te bied nie, maar het ook sake soos ‘n gesoute losskakel gedikteer om sy agterlyn op die voorvoet te plaas.

    Hoërskool Lichtenburg was die enigste tuisspan wat in vandeesweek se rondomtalie-kragmetings as oorwinninaars uit die stryd kon tree, deur die besoekende Hoërskool Die Anker met 37-26 in Lichtenburg te klop.

    Die Liggie-voorhoede het behoorlik baljaar, met ál ses die tuisspan se drieë wat deur voorspelers aangeteken is. Haker, Juan van Rhyn, en vaskopstut, JJ Jonker, het, vir die soveelste keer vanjaar die kollig gesteel en elk ‘n tweekuns behaal.

    Vir die besoekers was dit agsteman en kaptein, Ruben Herbst, wat weer ‘n besielende vertoning gelewer het. Nie alleen het hy ook twee keer agter die Liggies se doellyn gaan kuier nie, maar hy het ook onophoudelik sy lyf op die spel gesit om die momentum in die guns van sy span te probeer swaai.

    Puntemakers:

    Ben Vorster 25 (3) – Drieë: Damian Bye, Tihandre Reyneke, Chifu Banda. Doelskoppe: Reyneke (2). Strafdoele: Reyneke (2). Hoërskool Pietersburg 23 (12) – Drieë: Dewald de Beer, Hardus Otto, Vincent Luckhoff. Doelskop: Hanno van Zyl. Strafdoele: Luckhoff (2).

    Heidelberg Volkskool 30 (16) – Drieë: Janco Coetzer (2), Kayle Venter. Doelskoppe: Venter (3), Strafdoele: Venter (3). Hugenote (Springs) 29 (22) – Drieë: Luan Pretorius, Ruan van Biljon, Vian van Dyk, Hendrik Eybers. Doelskoppe: Corne Pretorius (3). Strafdoel: Pretorius.

    Hoërskool Lichtenburg 37 – Drieë: Juan van Rhyn (2), JJ Jonker (2), KG Legodi, Abrie Coetzee. Doelskoppe: Luan Snyman (2). Strafdoel: Snyman. Die Anker 26 – Drieë: Ruben Herbst (2), Gerhard Oosthuizen, Brandon Crous. Doelskoppe: Ruan Smith (3).

    Ander spanne:

    o.16: Hoërskool Pieterburg 24, Ben Vorster 8; Die Anker 40, Hoërskool Lichtenburg 0; Heidelberg Volkskool 31, Hugenote (Springs) 14.

    o.15: Hoërskool Pietersburg 8, Ben Vorster 7; Die Anker 26, Hoërskool Lichtenburg 8; Heidelberg Volkskool 36, Hugenote (Springs) 12.

    o.14: Ben Vorster 25, Hoërskool Pietersburg 20; Die Anker 17, Hoërskool Lichtenburg 10; Heidelberg Volkskool 18, Hugenote (Springs) 5.

  • Rhinos gaffel Wit Bulle in Mbombela

    FOTO: Dirk Kotze/HH Photograpy & Design

    Nóg ‘n reuse vertoning, nóg ‘n reuse oorwinning vir die Rhinos.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com

    Mpumalanga se hoofstad, Mbombela, het vir ‘n tweede agtereenvolgende naweek gejubel nadat Hoërskool Nelspruit Saterdag vir die Wit Bulle van Hoërskool Monument met 21-12 die loef afgesteek het.

    Dit was nogmaals ‘n geskiedkundige sege vir die span van Mpumalanga aangesien hul vorige oorwinning oor die Wit Bulle (24-19) 10 jaar gelede was in die halfeindstryd van die Beeld-trofee in 2014.

    Dit was dus ook die tweede agtereenvolgende naweek wat die tuisspan ‘n opponent vir die eerste keer sedert 2014 kon klop. Hul sege oor Hoërskool Garsfontein in die vorige ronde van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling was ook die eerste sedert hulle die Bere in die eindstryd van die Beeld-trofee in 2014 gegaffel het.

    Die Rhinos-agterlyn, onder aanvoering van hul indrukwekkende binnesenter en kaptein, Ian Wood, het keer op keer houe geland wat die Monumentare laat terugsteier het. Loskakel, Theuns Meyer, en Wood, kon danksy skrumskakel, Liam Pringle, se flink diens, die toutjies na hartelus getrek om sy span op die voorvoet te plaas. , terwyl Pringle se akkurate skopwerk rondom die breekpunte ook die besoekers se groot pak gereeld laat omdraai het.

    Vaughn van Zyl, die Rhinos se agtsteman wat sy stempel vanjaar behoorlik afdruk, was ‘n rots op die verdediging. Sy fisieke teenwoordigheid het oudergewoonte ‘n reuse rol gespeel om die besoekers se momentum te stuit.

    Haker, Regardt Vermaak, het self weer sy normale barshou gespeel en in die vastelos gewoeker. Vermaak was gereeld aan die voorpunt met die bal in hand, en het ook nie geskroom om kop in te druk en omgekeerde balbesit te bewerkstellig nie.

    Die Wit Bulle se verdediging was ‘n rapsie beter in vergeleke met hul vertoning teen Jeppe High School for Boys, maar sou steeds nie na wense gewees het vir afrigter, Tjaart van der Walt, en die res van sy span nie. ‘n Gebrek aan behoorlike balbesit het die besoekers ook geknou en beteken dat die gevaarmanne agterlangs selde geleentheid gekry het om die Rhinos op die punte te toets.

    Ernesto Oersen, die Wit Bulle se linkervleuel en driedrukmasjien het wel by twee geleenthede gewys wat op die voorvoet vermag kan word deur sy span se enigste twee drieë te druk.

    FOTO: Andrew Campbell

    Hoërskool Menlopark het einde ten laaste ‘n eerste oorwinning in die reeks behaal. Die Parkies moes uithaal om die tuisspan, Hoërskool Marais Viljoen, met ‘n 40-33 te troef.

    Die besoekers se heelagter, Divan Nel, en agtsteman en kaptein, Rocco Myburgh, was aan die voorpunt van die drieëfees met twee elk. Nel was oudergewoonte ‘n doring in die vlees wanneer hy spasie gegun is, terwyl Myburgh se barslopies die besoekers op die voorvoet kon hou.

    Dit het as geen verrassing gekom dat die buitesenter, Brandon Els, een van die tuisspan se uitblinkers was nie. Els het vir die soveelste keer vanjaar gewys dat hy die kleinste van spasies kan uitbuit en het self die besoekers se doellyn twee keer oorgesteek.

    Voorlangs was dit steelkantflank, Divan Scheepers, wat die Parkies besig gehou het met sy fisieke benadering op die aanval en verdediging.

    Puntemakers:

    Hoërskool Nelspruit 21 (7) – Drieë: Vaughn van Zyl, Ian Wood, Ruben Greeff. Doelskoppe: Theuns Meyer (3). Monument 12 (5) – Drieë: Ernesto Oersen (2). Doelskop: Caylem Schooney.

    Menlopark 40 (7) – Drieë: Divan Nel (2), Rocco Myburgh (2), Nathen du Plessis, Mattheus Prinsloo. Doelskoppe: Phillipus de Bruyn (5). Marais Viljoen 33 (14) – Drieë: Brandon Els (2), Rio Tshimbalanga, Bjorn Pieterse, Dian Scheepers. Doelskoppe: Recce Gerber (3).

    Ander spanne: 

    o.16: Monument 36, Hoërskool Nelspruit 17; Menlopark 49, Marais Viljoen 3.

    o.15: Monument 48, Hoërskool Nelspruit 14; Menlopark 40, Marais Viljoen 12.

    o.14: Monument 22, Hoërskool Nelspruit 19; Menlopark 29, Marais Viljoen 10.

  • Snyers sool Rusties tot sege oor Helpies

    FOTO: Anton de Villiers

    Helpmekaar Kollege besef terdeë na Saterdag dat Rustenburg nie ‘n maklike plek is om ‘n oorwinning te behaal nie.

    Herleef die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)

    Lorenzo Snyers, Hoërskool Rustenburg se Cravenweek-heelagter, het met sy akkurate korrelwerk pale toe 16 waardevolle punte aangeteken wat die tuisspan gehelp het om met 31-19 oor die Helpies koning te kraai.

    Die drieë-telling was 3-3, met Snyers se twee doelskoppe en vier strafdoele wat die groot verskil gemaak het.

    Snyers was boonop nie slegs uitmuntend vanaf die skopkegel nie, maar het ook deurgaans kopsere vir die besoekers van Johannesburg met sy venynige teenaanvalle besorg. Sy visie, vaart en aanvoeling vir die spel het gelei tot twee belangrike drieë vir Rustenburg.

    Buitesenter, John-Ré Jefthas, was ook genadeloos om munt te slaan uit enige tekortkominge in die Helpie-verdediging en het een van sy span se vyfpunters aangeteken.

    Voorlangs het die agttalle mekaar opgedreun in ‘n uiters fisieke 70 minute. Rusties se slot en kaptein, Pedrie Human, het van voor gelei met ‘n energieke vertoning in die vastelos, terwyl sy Helpies-eweknie, JP Lombard, voortgebou het op die goeie momentum teen Hoërskool Waterkloof in die vorige ronde. Lombard was verál weer prominent met die bal in die hand en het enduit probeer om die momentum in die guns van sy span te swaai.

    Helpmekaar se afrigtingspan sou egter wou gehad het dat die agterlyn ‘n rapsie meer balbesit kon kry, aangesien dit agterlangs was waar die besoekers se sterkpunte gelê het. Buitesenter, Ty Ax, en linkervleuel, Pieter Moller, het dikwels vir die Rusties laat bontstaan met hul dartellopies en is elk met ‘n kuier agter die doellyn beloon.

    Hoërskool Garsfontein se Bere het tuisveldvoordeel ten volle benut om terug te keer na die wenpad. Die Bere moes nietemin sweet om Hoërskool Noordheuwel se Blues uiteindelik met 44-37 te tem.

    Die Blues se losskakel, Jeandre Uithaler, het beslis sy skopskoen ingepak om met twee doelskoppe en nie minder nie as ses strafdoele te slaag, en 22 van sy span 37 punte aan te teken. Dit was ook die hoofrede vir die Blues se voorsprong van 19-13 teen rustyd.

    Die tuisspan het egter in die tweede 35 minute hul agterlyn aan die gang gekry vir losskakel, Junade Pasensie, en buitesenter, Ruan Enslin, om spasie te begin vind en uit te buit. Hulle het elkeen ‘n tweekuns behaal, met Enslin se tweede drie wat die laaste spyker in die doodskis was om ‘n kritieke sege vir die tuisspan te verseker.

    Voorlangs het die Bere vir hul SA Skole-slot, James Schnetler, terugverwelkom, en hy het ‘n reuse verskil voorlangs gemaak met sy vurige dryfspel wat die tuisspan deurentyd op die voorvoet geplaas het.

    Puntemakers: 

    Hoërskool Rustenburg 31 (8) – Drieë: Xavier Steenkamp, John-Ré Jefthas, Jaden Meyer. Doelskoppe: Lorenzo Snyers (2). Strafdoele: Snyers (4). Helpmekaar Kollege 19 (5) – Drieë: Eugene de Lange, Pieter Muller, Ty Ax. Doelskoppe: Michael Benzien (2).

    Garsfontein 44 (13) – Drieë: Junade Pasensie (2), Ruan Enslin (2), Aiden King, Luan van der berg, JP Pieterse. Doelskoppe: Handré Maree (2). Strafdoel: Maree. Noordheuwel 37 (19) – Drieë: Lindsay Jansen (2), Ignatius Jantjies. Doelskoppe: Jeandre Uithaler (2). Strafdoele: Uithaler (6).

    Ander spanne:

    o.16: Helpmekaar Kollege 38, Hoërskool Rustenburg 12; Garsfontein 30, Noordheuwel 27.

    o.15: Hoërskool Rustenburg 11, Helpmekaar Kollege 8; Noordheuwel 21, Garsfontein 0.

    o.14: Helpmekaar Kollege 25, Hoërskool Rustenburg 20; Noordheuwel 24, Garsfontein 22.

  • Jakarandastad vir nóg ‘n jaar wit, rooi en groen

    FOTO: Riaan de Bruyn

    PRETORIA – Die Wit Bulle dra vir nóg ‘n jaar die kroon as die beste eerste span in Pretoria.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)

    Die eerste span van die Afrikaanse Hoër Seunskool het ‘n uitstekend afgeronde vertoning aanmekaargesit om Hoërskool Waterkloof met 43-28 op die Klofies se tuisveld om te dop.

    Die Wit Bulle se ervaring, wanneer dit by groot geleenthede kom, was duidelik sigbaar. Hulle het van meet af nie geskroom om die Blou Tornado onder groot druk te plaas nie.

    Die Affie-agterlyn se vermoë om die platform, wat deur ‘n goed geoliede pak geskep is, optimaal te benut het geleentheid gebied vir die indrukwekkende linkervleuel, Eagan Roux, om vroeg-vroeg agter die tuisspan se doellyn te gaan kuier.

    Dit het die Klofies reeds laat steier en vandaar het die Wit Bulle eenvoudig die tempo aanhou lig om die tuisspan vir die grootste gedeelte van die eerste helfte onder meedoënlose druk te plaas.

    Die Affie-pak was uitmuntend en het met hul kragtige dryfmale by twee geleenthede die Klofies se doellyn oorgesteek. Die skote het ook voorlangs geklap wat verdediging betref.

    Klofies se steelkantflank, Lendrey Janse van Vuuren, het, met sy terugkeer na ‘n besering, weer hand opgesteek met sy lakwerk, en sy lyf deurentyd op die spel geplaas.

    Affies se Cravenweek-agsteman, Ruan Lippold, was ‘n doring in die tuisspan se vlees en het, saam met flank, Albert Smit, hul Pretoriaanse eweknieë deurgaans met sterk barslopies, getoets. Die duo se hoë werkverrigting van die bal af het ook telkens die momentum in die guns van die besoekers geswaai.

    Die Klofies het meer ritme in die tweede helfte begin vind danksy binnesenter, Happy Makate, wat die lewe moeilik gemaak het vir die besoekers se agterlyn. Makate, wat heel seisoen reeds ‘n uitblinker op sowel die aanval as die verdediging was, het sy beste vertoning van die jaar gelewer en met sy rotsvaste verdediging die SA Skole-binnesenter en Affie-kaptein, Janco Purchase, goed in toom gehou.

    Makate was nie Klofies se enigste uitblinker op die aanval nie. Haker, Ruan Jacobs, het nes Makate, heel moontlik sy beste 70 minute vanjaar beleef. Jacobs was prominent met die bal in hand en naby die doellyn haas onkeerbaar. Dit het aan hom ‘n gedenkwaardige tweekuns besorg.

    Die Wit Bulle was op die einde van die dag egter nét te klinies en het hul kanse beter benut om die sege, en die Klofies se tweede nederlaag in 2024, te verseker.

    Puntemakers: 

    Affies 43 (22) – Drieë: Nicolaas Grobler (2), Eagan Roux, Luan Potgieter, Albert Smit, Theuns Maritz, Strafdrie. Doelskoppe: Ruben Pienaar (3). Waterkloof 28 (7) – Drieë: Ruan Jacobs (2), Juan Gouws, Ronan Bastiaanse. Doelskoppe: Bastiaanse (4)

    Ander spanne: 

    o.16: Affies 38, Waterkloof 21.

    o.15: Affies 64, Waterkloof 13.

    o.14: Affies 26, Waterkloof 10.

  • Piet Retief hervat Bowl-veldtog op tuisbodem

    Die Jack Botes-stadion, tuisveld van Hoërskool Piet Retief, is aan die gons in afwagting vir die hervatting van sy veldtog in die SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die span van Mpumalanga pak die gekweste Potchefstroom Volkskool, Saterdag op hul tuisveld. Die Volkies lek nog hul wonde nadat hulle verlede naweek, na ‘n kragtige vertoning in die tweede helfte deur Hoërskool Eldoraigne, die onderspit met 27-44 moes delf.

    Dit het ook teen ‘n prys vir die besoekers gekom aangesien hulle die tog na Piet Retief sonder hul staatmaker op binnesenter, Ethan Leggat, moet aanpak. Leggat se besering het ‘n paar interessante skuiwe in die Potchefstroomers se beginspan tot gevolg gehad.

    Die hardwerkende steelkantflank, Christoff Nel, gaan sy veelsydigeheid Saterdag tentoonstel wanneer hy die pak vir die agterlyn verruil. Nel trek die nr. 12-trui oor sy kop, in die plek van Leggat, wat kopsere vir die tuisspan kan besorg aangesien hy ‘n uitstekende baldraer is.

    Marlu du Preez skuif van haker na steelkantflank, terwyl Louis Fourie ‘n geleentheid in die middel van die voorry kry.

    Die tuisspan is gretig om na ‘n ekstra afnaweek hul Bowl-veldtog te hervat.

    “Ons het die tyd gebruik om aan ons afskoppe en afbreekpunte te werk. Dit is waar daar ‘n bietjie skaafwerk nodig was,” het Pieter de Waal, die tuisspan se hoofafrigter gesê.

    Die span van Piet Retief beskik oor ‘n uiters gevaarlike agterlyn en ‘n stewige platform voorlangs kan pêrre vir die besoekers beteken. Daarvoor sal die slotpaar, Jaco Klopper en Tiaan Korff, hul stempel deeglik moet afdruk.

    Agterlangs moet die woelige skrumskakel, Kyle Stock, en heelagter, Langelihle Ntuli, fyn dopgehou word. Stock is lief daarvoor om die verdediging om die afbreekpunte te toets, terwyl Ntuli se teenaanvalle beduidende gevaar inhou.

    Meyerton kan ook uitsien na ‘n uiters fisiese kragmeting wanneer die tuisspan, Hoërskool Dr Malan, vir Hoërskool Alberton verwelkom. Die span van Alberton soek ‘n tweede agtereenvolgende oorwinning.

    Hulle het verlede naweek beïndruk met ‘n uitmuntende vertoning waarmee hulle vir Hoërskool Wagpos met 29-19 kon omdop, en dit nógal sonder hul staatmaker en kaptein, Carlos Madjiet, wat vir die res van die seisoen op die krukkelys is. Sy plaasvervanger, Jaydon Moster, het egter puik gevaar op heelagter.

    Die Dokkies moes huistoe keer na ‘n naelskraapse nederlaag van 18-21 teen Hoërskool Randburg in die vorige ronde. Tuisveldvoordeel en ‘n tikkie towerkuns deur heelagter, Luka Pretorius, kan ‘n broodnodige oorwinning vir die span van Meyerton verseker.

    Merensky Landbou Akademie se breier, Steve Kruger, en die res van sy span het heelwat gehad om oor kop te krap. Die span van Tzaneen kom Saterdag teen die onvoorspelbare Hoërskool Randburg te staan, met beserings wat verdere sout in die Plasies se wonde gesmeer het na hulle met 24-29 teen Potchefstroom Gimnasium vasgeval het.

    Hul Akademieweek-skrumskakel, JD Boshoff, moes noodgedwonge na heelagter skuif, nadat Ashten Demos ‘n besering teen Gimmies opgedoen het. Steelkantflank, PG Botes, het sy hand teen die Potchefstroomers beseer en word deur Blessing Mathebula vervang.

    Hoërskool Eldoraigne se Drake wil voortbou op die briljante momentum van die vorige ronde wanneer hulle Saterdag na Brits reis om met Hoërskool Wagpos swaarde te kruis. Die Eldos het waarskynlik hul beste vertoning van die jaar teen die Volkies in Potchefstroom gelewer.

    Die span van Brits sal verál die Drake se skrumskakel, Darren Bruwer, moet dophou. Bruwer het herinner aan ‘n Faf de Klerk teen die Volkies en kan met sy energieke spel en slim taktiese skopwerk heelwat druk op die manne van Brits plaas.

    Die spanne:

    Hoërskool Piet Retief t. Potchefstroom Volkskool om 12:20 in Piet Retief

    Hoërskool Piet Retief: 15 Langelighle Ntuli, 14 Masshilo Kgathla, 13 Siphosethu Sibisi, 12 Gilles van der Meulen, 11 Vuyani Tshabalala, 10 Aphiwe Khumalo, 9 Kyle Stock, 8 Christiaan Pienaar, 7 Melo Xulu, 6 SJ van Barneveld, 5 Jaco Klopper, 4 Tiaan Korff, 3 Louis Grobler, 2 Jandre van Deventer, 1 Sfundo Mayisa.

    Potchefstroom Volkskool: 15 Diaan van der Merwe, 14 Wikus van Aswegen, 13 Hennie Pretorius, 12 Christoff Nel, 11 Lorenzo Louw, 10 Johandre Maree, 9 Juhan Geldenhuys, 8 Dewald Groenewald, 7 Marlu du Preez, 6 Henre Nel, 5 Stef Schoeman, 4 Altus de Jager, 3 Jaco van der Merwe, 2 Louis Fourie, 1 Konrad Pretorius.

    Hoërskool Dr. Malan t. Hoërskool Alberton om 12:20 in Meyerton

    Dr. Malan: 15 Luka Pretorius, 14 Flippie Blignaut, 13 Willem Taylor, 12 Dillon Gouws, 11 Dewald Erasmus, 10 Dian van den Berg, 9 Herman du Plessis, 8 Juan Jardin, 7 Anthony Botes, 6 JT Swart, 5 Liam Giacomozzi, 4 Enrico van Zyl, 3 Franco Barns, 2 Bernard Benson, 1 Devan Fouché.

    Hoërskool Alberton: 15 Ayanda Madebane, 14 Nathen Reicherdt, 13 Sipho Sibanyoni, 12 Ewan Muller, 11 Carlos Majier, 10 Dewald de Jager, 9 Thando Baloi, 8 Jay-Cee Nienaber, 7 Amogelang Tokwe, 6 Luke Joubert, 5 Herman du Preez, 4 Kay-C Nel, 3 Xander Maree, 2 Xander Schoeman, 1 Levi Louw

    Merensky Landbou Akademie t. Hoërskool Randburg om 12:30 in Tzaneen

    Merensky: 15 JD Boshoff, 14 Andreas Honiball, 13 Ulrich Mare, 12 Hardus Terblanche, 11 Leon de Lange, 10 Byron Hendricks, 9 Hendre Theron, 8 Lukas Pieterse, 7 Blessing Mathebula, 6 Corne Swanepoel, 5 Franco Badenhorst, 4 Craig Walker, 3 Ruan Marcos, 2 JJ Goosen, 1 Ethan Maritz.

    Hoërskool Randburg (moontlik): 15 Francois Groenewald, 14 Shandre Vermaak, 13 Quinten Fillies, 12 Hendre Breedt, 11 Charl le Roux, 10 Hendri Oosthuizen, 9 Jayden Todd, 8 Duncan Beaven, 7 Jean Venter, 6 Victor van Blerk, 5 Willie Lindeque, 4 Herman Goosen, 3 Malan van Heerden, 2 Diedelof Fourie, 1 Gustave Vorster.

    Wagpos t. Eldoraigne in Brits.

    Wagpos (moontlik): 15 JG Olckers, 14 Christiaan du Plessis, 13 Frans Burger, 12 Dian Coetzee, 11 Franco Dippenaar, 10 AJ Nieman, 9 Arrie Joubert, 8 David van Breda, 7 Antonio Galvan, 6 Du Toit van Deventer, 5 Nathan Louw, 4 Jean Senekal, 3 Marcelle Gruidelingh, 2 Tristan van der Westhuizen, 1 Armant Botha.

    Eldoraigne: 15 Divan van Rooyen, 14 Tristan Lee, 13 Ivan Vermeulen, 12 Kevin Earle, 11 Manie Buitendagh, 10 JP Meyer, 9 Darren Bruwer, 8 SW Liebenberg, 7 Justin Meintjies, 6 Cameron Killian, 5 Rikus Rheeder, 4 MC Scheepers, 3 Jaco Fourie, 2 Marnus Prinsloo, 1 Wihan White.