SSPN Test Site

Author: froberholzer

  • Tuishalfeind wink vir Transvalia

    FOTO: Riaan de Bruyn

    Hoërskool Transvalia kan reeds hierdie naweek ‘n plek in die uitspeelrondes van die SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling bespreek.

    Beleef al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die span vanuit Vanderbijlpark bevind hulself tans boaan die Plaat-afdeling se puntelys, maar sal momentum moet behou wanneer hulle Saterdag teen Hoërskool Montana in Pretoria te staan kom.

    Dit is die besoekers se eerste kragmeting, na die skoolvakansie, wat kan beteken dat hulle moontlik effens verroes is.

    In teenstelling hiermee, het die Monties reeds hul wedloop voortgesit met ‘n naelskraapse tuissege van 15-14 oor Hoërskool Zwartkop verlede naweek.

    Die besoekers betree die kragmeting met bykans al hul staatmakers. Die Cravenweek-binnesenter, Brandonlee Smit, neem sy plek in die middeveld in, terwyl die gevaarlike heelagter, Siyabonge Khambule, ook vir die Montie-agterlyn inwag.

    Voorlangs moes hoofafrigter, AJ le Roux, noodgedwonge ‘n verandering op slot maak met die staatmaker, Christiaan Liebenberg, wat tydens die voorbereiding vir die Akademieweek ‘n enkelbesering opgedoen het. Dit gee aan Vincent Brits die geleentheid om die Monties voor aan te vat.

    Die boodskap uit die Monties se kamp is dat daar die afgelope week hard aan verdediging gewerk is, iets wat van kardinale belang teen Transvalia sal wees.

    Die puntemasjien op linkervleuel, Sam Schoeman, bevind homself steeds op die krukkelys, wat beteken dat Dirk Coetzee weer ‘n geleentheid kry om sy stempel af te druk. Die losskakel-generaal, Ruwald Goosen, is ook steeds buite aksie, met Tyron van Rooyen wat by hom oorneem op nr. 10.

    In Klerksdorp verwelkom Hoërskool Klerksdorp vir die gevaarlike Ligbron Akademie. Albei hierdie spanne het in die afdeling se vorige ronde gesorg vir opskuddings.

    Die Klerksdorpers het verras met ‘n uitstaande vertoning om die Rooi Bulle van Middelburg met ‘n telling van 23-14 te gaffel, terwyl die Liggies in ‘n drieëfees met 50-41 teen Hoërskool Oos-Moot geseëvier het.

    Die span van Ermelo se afrigtingspan het vertroue in die suksevolle span behou en durf die besoekers van Klerksdorp met ‘n onveranderde span aan.

    Aan die kant van die tuisspan maak die sneller, Tyron Masango, sy terugkeer op regtervleuel, wat beteken dat Winton Abrahams weer sy gunstelingplek op heelagter inneem en Cohen Witbooi op losskakel diens doen.

    Hoërskool Zwartkop het ‘n reuse taak op hande wanneer hy teen ‘n sterk en goed afgerigte span van Hoërskool Middelburg te staan kom. Om sake te bemoeilik, het die beseringspook ook in Centurion kom draai.

    Die Zwarries moes noodgedwonge ‘n aantal veranderinge aanbring met vleuel, Denilson Metcalfe, en steelkantflank, Leonard Lotriet, wat se seisoene kortgeknip is. Boonop gaan slot, Logan Knott, ook hierdie wedstryd misloop weens griep, met Justin Herbst wat hom vervang.

    Hoërskool Kempton Park is oorgehaal om tuisveldvoordeel optimaal te benut wanneer hulle Saterdag gasheer speel vir ‘n gekweste Rooi Bul-span van HTS Middelburg. Albei spanne het nederlae gely in die vorige ronde, en die Kempies is steeds opsoek na ‘n eerste sege in vanjaar se kompetisie.

    Dit is ook ‘n uiters belangrike kragmeting vir die Rooi Bulle, met die oog op ‘n plek in die uitspeelrondes en ‘n moontlike halfeindstryd op tuisbodem.

    Die spanne:

    Hoërskool Montana t. Hoërskool Transvalia om 12:25 in Pretoria

    Montana: 15 Marq de Villiers, 14 Ryan Nel, 13 Hendrew Schoeman, 12 JF Venter, 11 Dirk Coetzee, 10 Tyron van Rooyen, 9 Daelin Ludick, 8 Devan van der Merwe, 7 Kyle Bronkhorst, 6 Dieter Scheepers, 5 Justin Herbst, 4 Martin Venter, 3 Marcell Gouws, 2 Luhan Theunissen, 1 Marinus Oberholzer.

    Transvalia: 15 Siyabonga Khambule, 14 Dihan Crause, 13 Tshepo Molakeng, 12 Brandonlee Smit, 11 Tumi Moloi, 10 Dylan Steynman, 9 Anro Nagel, 8 Wynand Stols, 7 Daniel Kazambu, 6 Juan Bishoff, 5 Breyton Kruger, 4 Vincent Brits, 3 Arne Botes, 2 Jayden McPearson, 1 Dylan Booth.

    Hoërskool Klerksdorp t. Ligbron Akademie om 12:30 in Klerksdorp

    Hoërskool Klerksdorp: 15 Winton Abrahams, 14 Tyron Masasngo, 13 Asif Sumara, 12 Diwan Labuschagne, 11 Louis Vorster, 10 Cohan Witbooi, 9 Jared van Staden, 8 GJ Steenberg, 7 Bokamoso Mabeleng, 6 Tiaan Koen, 5 Heinrich Hovener, 4 Abrie Esterhuizen, 3 Liam Pretorius, 2 Janu du Wet, 1 De Wet le Roux.

    Ligbron Akademie: 15 Anele Ngwenya, 14 Neo Zwane, 13 Siyanda Dennison, 12 Lethi Ngwenya, 11 Bandile Thanjekwayo, 10 Divan van Jaarsveld, 9 Renier van Staden, 8 Janco Claasen, 7 Jurgens Bezuidenhout, 6 Tiaan Botha, 5 Jaco van Wyk, 4 Thamisanqa Lamula, 3 Devan Scheepers, 2 Marnus Marx, 1 Sabelo Nhlapo.

    Hoërskool Zwartkop t. Hoërskool Middelburg in Centurion

    Zwartkop: 15 Justin Julies, 14 Milton Naude, 13 Kyle Blinaut, 12 Luan Williams, 11 Zulu Mona, 10 Luhardt Booyens, 9 Neil Gous, 8 Brian Smith, 7 Cj Barnard, 6 Adriaan Janse van Vuuren, 5 Bradley Cronje, 4 Ettiene van Niekerk, 3 Brogan Ackerman, 2 Migael Kindeque, 1 Julian Lubbe.

    Hoërskool Middelburg (moontlik): 15 Andile Mahlangu, 14 Kefilwe Phamotse, 13 Eckard Marx, 12 Lungelo Maseko, 11 Sihle Mkhatshwa, 10 Matthew Abbey, 9 Keabetswe Nkgadema, 8 Jabu Mathebule, 7 Khensani Buthelezi, 6 CW Hanekom, 5 Enrico Thompsom, 4 Rogan van der Walt, 3 Wandisa Mthombeni, 2 Roux Grobler, 1 Wian Olwagen.

    Hoërskool Kempton Park t. HTS Middelburg om 12:25 in Kempton Park

    Hoërskool Kempton Park (moontlik): 15 Joshua Meyer, 14 Ettienne Stroebel, 13 Tian Aucamp, 12 Tiaan Delport, 11 Christiaan Kloppers, 10 Stian de Villiers, 9 Ryan Smith, 8 Armand le Roux, 7 JP Barnard, 6 Eric Steele, 5 Lourens van der Merwe, 4 Louis Mouton, 3 Zander Luckay, 2 Deon Mulligan, 1 Aiden Nepgen.

    HTS Middelburg: 15 Jaque Stassen, 14 WJ Enslin, 13 Luhan Graaf, 12 Johnny dos Santos, 11 CJ Muller, 10 Gerry Gendall, 9 Ruben Erasmus, 8 Tertius Bezuidenhout, 7 Kayden Wessels, 6 Toy Engelbrecht, 5 Sam Ndwandwe, 4 Janco Aucamp, 3 Kagiso Gumbi, 2 Hanru Terblanche, 1 Dirk du Plooy.

     

  • Smeulende Limpopo-derby vat weer vlam

    Limpopo se hoofstad skuif vir die eerste keer in drie jaar weer reg om gasheer te speel vir die tradisionele vyand van anderkant die berg.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Hoërskool Pietersburg verwelkom Hoërskool Ben Vorster se Buffels vir die eerste keer sedert 2021 in Polokwane, wanneer die twee spanne in die SDC Noordvaal Cup se Skild-afdeling ontmoet.

    Hulle het in 2022 laas kragte gemeet toe die Pietersburgers met een punt die oorhand (24-23) op die Buffels se tuisveld geniet het.

    Die Buffels se wipplankseisoen het onlangs ‘n opwaartse kurwe begin toon en die Tzaneeners spog na hul laaste twee uitstappies in die afdeling met twee seges, waarvan die indrukwekkendste verlede naweek toe die bloktruie ietwat verras het deur Hoërskool Secunda in Secunda met 25-20 te klop.

    In teenstelling hiermee was die Pieties in albei hul vorige twee wedstryde in die kompetisie aan die verloorkant. Tradisioneel kan die derby tussen hierdie twee spanne egter enige kant toe gaan. Die Pieties sal verál ‘n oorwinning agter die blad wil kry, terwyl ‘n sege vir die Buffels kan beteken dat hulle na vierde op die afdeling se puntelys opskuif.

    Met die kragmetings in die verlede wat uiters fisiek was, beloof Saterdag se wedstryd om dieselfde op te lewer en vernaam die tweestryd tussen die agstemanne kan gerus fyn dopgehou word.

    Dit was die Buffels se kaptein, Ewald Kirstein, wat met sy fisiekheid die vuur onder die bloktruie se pak aangesteek het om die manne van Secunda ore aan te sit. Sy teenstander, Hardus Otto, geniet dit meer om met die bal te hardloop en kan uiters gevaarlik wees wanneer hy spasie gegun word.

    Agterlangs wag daar ‘n liplekker-stryd tussen die ervare buitesenters. Die Pieties se Hanno van Zyl het reeds twee jaar se Cravenweek-ervaring agter die rug en was ook vanjaar een van die provinsie se uitblinkers in Krugersdorp. Oorkant hom wag Tihandre Reyneke, wat vir die tweede jaar die Buffels se nr. 13-trui oor die kop trek.

    In Springs skop daar ‘n nuwe hoofstuk tussen Hoërskool Hugenote van Springs en Heidelberg Volkskool af, nadat dié twee skole besluit het om die ontmoeting ‘n jaarlikse instelling te maak.

    Die Hugies sal egter nie té veel fokus op enigiets anders as om ‘n oorwinning te verseker nie. Die span van Springs was tot onlangs nog een van die twee voorlopers in die afdeling, maar na twee opeenvolgende nederlae is hulle nou ietwat onder druk. Heidelberg Volkskool sal oorgehaal wees om hieruit munt te slaan.

    Die Volkies het reeds bewys dat hulle genadeloos is om die geringste swakpunte en ongedwonge foute uit te buit, en beskik oor die vermoë om van enige plek op die veld toe te slaan. Dit is juis hoekom breier, Louwtjie Dalhouzie, besluit het om vir Kevin Oormeyer van buitesenter na heelagter te skuif, met Marco Botha wat oorneem by Oormeyer in die middeveld.

    Hoërskool Die Anker moet ligloop vir die gevaarlike Hoërskool Lichtenburg, nadat die Liggies in hul vorige kragmeting met Hugenote uitstaande aanvallende rugby gespeel om met ‘n sege van 27-12 te spog. Hulle moet egter sonder staatmaker-loskakel, Albert Joubert, klaarkom, wat aan Luan Snyman die geleentheid bied om die toutjies agterlangs te trek.

    Die spanne:

    Hoërskool Pietersburg t. Ben Vorster om 12:20 in Polokwane

    Hoërskool Pietersburg: 15 Celliers van der Merwe, 14 Brydan Retief, 13 Hanno van Zyl, 12 Siya Mahlangu, 11 Aj Loots, 10 Vincent Luckhoff, 9 Divan Brown, 8 Hardus Otto, 7 Tiaan Vermeulen, 6 Keegan Baker, 5 Juan Jansen van Vuuren, 4 Etienne van Jaarsveldt, 3 Elardus Erasmus, 2 JP Moster, 1 Floris Venter.

    Ben Vorster: 15 Potsho Selowa, 14 Migel Makhubipetsi, 13 Tihandre Reyneke, 12 Aza Mabe, 11 Damian Bye, 10 Nkateko Ngoveni, 9 Stiaan du Randt, 8 Ewald Kirstein, 7 Joshua van der Mescht, 6 Chifu Banda, 5 Lourens Harmse, 4 Raluano Ramano, 3 Makondolele Musekene, 2 Christopher Janse van Vuuren, 1 Thabang Nkuna.

    Hoërskool Hugenote (Springs) t. Heidelberg Volkskool om 12:30 in Springs

    Hugenote (Springs): 15 George Lucas, 14 Ruan van Biljon, 13 Vian van Dyk, 12 Dylan Nel, 11 Musa Mahlangu, 10 Corne Pretorius, 9 Thanyani Mokiri, 8 Hendrik Eybers, 7 Tyron Hand, 6 Arne Marais, 5 Xavier Ungerer, 4 Anthony Smith, 3 Henre Oosthuizen, 2 Luan Pretorius, 1 Franko Neuhoff.

    Heidelberg Volkskool: 15 Kevin Oormeyer, 14 Theuns van der Merwe, 13 Marco Botha, 12 Dean Last, 11 Tiaan Holloway, 10 Kayle Venter, 9 Hein Oelofse, 8 Joshua Munro, 7 Daniel Monro, 6 Pedrie Roets, 5 Christopher Makgongoane, 4 Fourie Jacobs, 3 Botshelo Motsepe, 2 Janco Coetzer, 1 Samukelo Mgwenya.

    Hoërskool Lichtenburg t. Die Anker om 12:20 in Lichtenburg

    Hoërskool Lichtenburg: 15 Rea Motsusi, 14 Lukie Benson, 13 Dundre Dempers, 12 Oratile Sekoto, 11 Omphile Gaboutloeloe, 10 Luan Snyman, 9 Willem van Niekerk, 8 Abrie Coetzee, 7 Tiaan Booysen, 6 Kgolagano Legodi, 5 John Kleynhans, 4 GJ Malan, 3 JJ Jonker, 2 Juan van Rhyn, 1 Donovan Rosato.

    Die Anker (moontlik): 15 Paul Schutte, 14 Xavier Erasmus, 13 Sean Schoeman, 12 Brandon Crous, 11 Jonathan Jordaan, 10 Danie Smit, 9 Troy Joubert, 8 Ruben Herbst, 7 Xander Fraser, 6 Duvan Booyens, 5 Brendan van Lutterveld, 4 Branden Sauerman, 3 Damian Boshoff, 2 Siya Shongwe, 1 Zander Nell.

     

  • Helpies betree onbekende grond in Rustenburg

    FOTO: Tap Light Edits

    Helpmekaar Kollege sal die druk toenemend voel namate die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling besigheidskant toe staan.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.superpsportschools.com)

    Die Helpies reis na Rustenburg waar hulle die onvoorspelbare Hoërskool Rustenburg aandurf. Dit is onbekende grond vir die manne van Johannesburg aangesien die huidige groep spelers nog nooit teen die Rusties in Rustenburg te staan gekom het nie.

    Om die druk so ietwat te verhoog is dit ‘n móét-wen vir die Johannesburgers indien hulle hoop om in die wedloop vir ‘n plek in die uitspeelrondes te bly. Die Helpies se paadjie het moeiliker geraak na ‘n naelskraapse nederlaag van 29-31 teen Hoërskool Waterkloof in Pretoria verlede naweek.

    Dit verander wel nie aan die feit dat hulle uitstaande rugby gespeel het nie.

    Hul Cravenweek-slot en kaptein, JP Lombard, het stem dik gemaak met ‘n dominante vertoning en die Helpie-ondersteuners sal hoop dat hy daarop voortbou. Dit was verál sy kragtige lopies met die bal wat die besoekers van Johannesburg deurentyd op die voorvoet kan hou.

    Lombard se Cravenweek-kollega, Tiaan le Roux, se spelpeil het ook dramaties gelig en sy behendigheid om aansluiting by die agterlyn te vind is ‘n kenmerk wat die Rusties vir die volle 70 minute op hul tone sal hou.

    Die tuisspan sien uit daarna om hul eerste wedstryd na die skoolvakansie tuis af te skop.

    “Dis ons eerste jaar in die Beker-afdeling, so daar is heelwat lesse wat ons geleer het,” het Naas Olivier, Rusties se hoofafrigter gesê.

    “Die aanpassing van die Plaat na die Beker is groot, maar tot dusver het ons redelik goed meegeding. Die groot uitdaging is om vir die hele wedstryd in die geveg te bly.”

    Olivier het egter nog ‘n aanvalswapen verloor, met vleuel, Zulu Khumalo, wat ‘n besering by die Cravenweek opgedoen het wat hom vir die res van die seisoen op die krukkelys geplaas het. Wesley van Loggerenberg kry sy’n geleentheid om te wys wat in hom steek.

    Die planmaker op heelagter, Lorenzo Snyers, het ongedeerd van die Cravenweek teruggekeer en is, nes Le Roux, uitstekend met die bal in hand. Dit gaan beslis ‘n armdruk tussen dié twee afgee.

    Hoërskool Noordheuwel bevind homself in dieselfde posisie as Helpmekaar. Die span van Krugersdorp móét wen wanneer hulle Saterdag teen Hoërskool Garsfontein op Bere-park te staan kom.

    Die Norie Blues gaan steeds gebuk onder die beserings, maar sal verlig wees dat dit lyk of hul SA Skole-ster, Cheswill Jooste, sy terugkeer op vleuel teen die Bere kan maak. Jooste moes die aksie van die kantlyn aanskou weens harsingskudding wat hy op die Cravenweek opgedoen het.

    Die hardwerkende Andrew Lambert, en vaskopstut, Martin Nel, keer ook terug om die Blues effens meer oemf te gee. Daar hang steeds ‘n vraagteken oor agtsteman, Brad Brown, wat las van sy knie ondervind.

    Vir die gewonde Bere kan die slot, James Schnetler, moontlik sy terugkeer maak. Schnetler het ook deurgeloop onder die harsingskudding-pandemie die afgelope paar weke, maar dit klink of hy betyds die groenlig sal ontvang om die Blues se agttal te terroriseer.

    Die Bere sou moes opskerp na hul nederlaag van 29-30 teen die Rhinos verlede naweek, maar het steeds ‘n goeie kans om ‘n plek in die uitspeelrondes los te speel.

    Die spanne: 

    Hoërskool Rustenburg t. Helpmekaar Kollege om 13:30 in Rustenburg

    Hoërskool Rustenburg: 15 Lorenzo Snyers, 14 Christiaan van der Berg, 13 John-Re Jefthas, 12 Hendre Robinson, 11 Wesley van Loggerenberg, 10 Awie Engelbrecht, 9 Adriano George, 8 Coenraad Koetzer, 7 Dirk Huisamen, 6 Wickus Jacobs, 5 Pedrie Human, 4 Erich Potgieter, 3 Ockert Grobler, 2 Xavier Steenkamp, 1 Divan Welgemoed.

    Helpmekaar Kollege: 15 Tiaan le Roux, 14 Delano Maritz, 13 Ty Ax, 12 Clinton Cloete, 11 Pieter Moller, 10 Michael Benzien, 9 Tristan van Niekerk, 8 Motlatsi Moloi, 7 Darius Haasbroek, 6 Zaiden Krige, 5 JP Lombaard, 4 Christiaan Tonkin, 3 Dylan Engelbrecht, 2 Gustav Grotius, 1 Liam Devenier.

    Hoërskool Garsfontein t. Hoërskool Noordheuwel om 13:20 in Pretoria

    Garsfontein (moontlik): 15 Handre Maree, 14 Xian Erasmus, 13 Ruan Enslin, 12 Luann Olivier, 11 Junaide Stuart, 10 Junade Pasensie, 9 Luan Ferreira, 8 Aiden King, 7 Thinus Oosthuizen, 6 Stephan Pretorius, 5 Jacques Swarts, 4 James Schnetler, 3 Luan van der Berg, 2 Justin Blom, 1 Ethan van Wyk.

    Noordheuwel (moontlik): 15 Francois Venter, 14 Cheswill Jooste, 13 Ethan Smith, 12 Jared Coetzee, 11 Lindsey Jansen, 10 Andy Maarman, 9 Ignatius Jantjies, 8 Juandre de Villiers, 7 Donovan Breedt, 6 Meyer Opperman, 5 Roehan Hoogendyk, 4 Alex Greeff, 3 Martin Nel, 2 Clinton Agu, 1 Ruben Botes.

  • Nellies rig visier op nog ‘n groot Noordvaal-kanon

    FOTO: Frans Lombard

    “Ons is waar ons verlede week was, behalwe dat ons die intensiteit nóg gaan lig”

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com

    Dit is die waarskuwing wat uit Hoërskool Nelspruit se kamp kom in die aanloop tot sy stryd, in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling, teen Hoërskool Monument Saterdag in Mbombela.

    Dit is die Nellie Rhinos se tweede agtereenvolgende tuiswedstryd en dit behoort weer in hul guns te kan tel. Die Rhinos het verlede week gewys dat dit ‘n uitdagende taak is om hulle op hul tuisveld aan te durf, toe hulle vir Hoërskool Garsfontein, teen verwagtinge in, vir die eerste keer sedert 2014 se eindstryd vir die Beeld-trofee, met 30-29 getroef het.

    Hoofbreier, Hennie Skorbinski, en die res van sy afrigtingspan het, soos verwag, besluit om die Wit Bulle van Krugersdorp met ‘n onveranderde span aan te pak.

    Die indrukwekkende Ian Wood voer weer die span vanaf binnesenter aan, terwyl losskakel, Theuns Meyer, waarskynlik oorloop van die selfvertroue na sy 15 punte in verlede naweek se kragmeting.

    Agsteman, Vaughn van Zyl, sal weer oorgehaal wees om, nes verlede naweek, sy tuisveld op horings te neem. Van Zyl lewer van sy beste rugby sedert hy vir die eerste keer vir die Pumas by vanjaar se Cravenweek uitgedraf het, en sy fisiekheid en vreeslose verdediging sal weer ‘n reuse faktor in Mbombela wees.

    Die tuisspan besef nietemin dat ‘n gewonde Monument ‘n perd van ‘n ander kleur is. Die Wit Bulle het verlede naweek hul rieme met 31-47 styfgeloop teen ‘n uitstekende Jeppe High School for Boys. Breier, Tjaart van der Walt, sou vandeesweek egter hard aan sy span se tekorkomings gewerk het.

    Dit was vernaam op die verdediging agterlangs waar die manne van die Wesrand gefaal het. In teenstelling daarmee was hulle uitstekend op die aanval en dis verál wanneer die veelsydige vleuel, Kealan Milton, die nodige spasie gegun word om sy flink voetwerk en groot vaart ten toon te stel, dat die Krugersdorpers giftig is.

    Met groot en sterk baldraers soos slot en kaptein, Jacques Botha, sal dit geensins as ‘n verrassing kom as die Monnas-agttal besluit om ‘n meer direkte roete op die aanval te volg nie. Botha het met sy barslopies keer op keer vir die Jeppe verdedigers laat spartel en hy sal hierdie week dieselfde wil tafel toe bring.

    In Alberton kruis Hoërskool Marais Viljoen en Hoërskool Menlopark ook swaarde. Die wedstryd word regstreeks op SuperSport Schools, Kanaal 216, uitgesaai.

    Albei hierdie spanne is steeds op soek na ‘n eerste oorwinning in vanjaar se kompetisie en oorgehaal vir ‘n sege. Marais Viljoen het verlede naweek teen Hoërskool Noorheuwel, in Krugersdorp, beïndruk maar moes steeds met 24-31 die knie buig.

    Dit blyk asof albei spanne se leemtes in die tweede helfte lê. Altwee was heel seisoen deurgaans in die wedloop tydens die eerste 35 minute, maar kon na rustyd eenvoudig nie die nodige tempo handhaaf nie.

    Dit tel in die tuisspan se guns dat hulle relatief ongedeerd uit die kragmeting met die Nories gekom het. Slegs haker, Nathan Bailey, sal die wedstryd weens harsingskudding misloop. Liam Catlow sal hom waarskynlik in die voorry vervang.

    Die beseringspook het vir die soveelste keer vanjaar by die Pretorianers kom draai, met haker en staatmaker, Declan Pelser, wat vir ‘n onbepaalde tyd op die krukkelys is. Pelser het die veld met ‘n ontwrigte skouer in die kragmeting met Hoërskool Dr. EG Jansen verlaat.

    Nes Bailey, sal die Cravenweek-senter, Leskin Samuels, ook hierdie week buite aksie wees weens ‘n hou teen die kop. Ruben Fourie skuif van regtervleuel na buitesenter om hom te vervang, terwyl Anwill Prins Fourie se plek op regtervleuel inneem.

    Die spanne: 

    Hoërskool Nelspruit t. Hoërskool Monument om 12:40 in Mbombela

    Hoërskool Nelspruit: 15 Jean Erasmus, 14 Jordan Pretorius, 13 Ruben Greeff, 12 Ian Wood, 11 Tinyiko Shilubane, 10 Theuns Meyer, 9 Liam Pringle, 8 Vaughn van Zyl, 7 Prosper Chillione, 6 Banele Ngwenya, 5 Ronaldo van Rensburg, 4 Ethan Esterhuizen, 3 Gert Cloete, 2 Regardt Vermaak, 1 Lindani Ndlela.

    Monument (moontlik): 15 Hanu Fourie, 14 Kealan Milton, 13 Jason Joubert, 12 Theuns du Plooy, 11 Ernesto Oersen, 10 Justin Viljoen, 9 Hanno du Toit, 8 Vincent Roberts, 7 RJ Barnard, 6 Jamaal Feldman, 5 Luhan Swart, 4 Jacques Botha, 3 JC Oosthuizen, 2 Keenan Myners, 1 Wikus Meyer.

    Hoërskool Marais Viljoen t. Hoërskool Menlopark om 12:30 in Alberton

    Marais Viljoen: 15 Tyron Bouw, 14 Devin Raubenheimer, 13 Tiaan Joubert, 12 Brandon Els, 11 Ethan Weideman, 10 Recce Gerber, 9 Weon van der Vyver, 8 Rio Tshimbalanga, 7 Dian Scheepers, 6 Lloyd Shoko-Schenk, 5 JD Labuschagne, 4 Bjorn Pieterse, 3 Sifiso Shongwe, 2 Laim Catlow, 1 Clayton Gagiano.

    Menlopark: 15 Divan Nel, 14 Anwill Prins, 13 Ruben Fourie, 12 Wynand van Wyk, 11 Handre Joubert, 10 Logan Botha, 9 Phillipus de Bruyn, 8 Rocco Myburg, 7 JN van Wyk, 6 Nathan du Plessis, 5 Xander Roets, 4 Hein Schoeman, 3 Ruwan van Aardt, 2 Huga Brand, 1 Mattheus Prinsloo.

  • Kok-lose Kloof wil Wit Bulle tuis plattrek

    RUBEN PIENAAR, losskakel van Affies, duik hier oor vir een van sy span se drieë in hul sege van 43-21 oor Boishaai. FOTO: Marnus Prinsloo

    Alle paaie lei Saterdag na Hoërskool Waterkloof waar die titel as Pretoria se beste eerste span beslis sal word.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)

    Die Klofies is vasberade om die Wit Bulle van die Afrikaanse Hoër Seunskool Saterdagmiddag op hul tuisveld in die ooste van Pretoria die stryd aan te sê, al moet hulle sonder kookwater-agsteman, Marko Kok, klaarkom.

    Die tuisspan kon die Wit Bulle laas in 2017 met ‘n telling van 24-15 troef. Wat dié sege nóg soeter gemaak het is die feit dat dit op Affies se tuisveld behaal was.

    ‘n Oorwinning vanjaar sal dus beteken dat die Blou Tornado ‘n wendroogte van sewe jaar kan beëindig.

    Voor dit het die Klofies in 2014 ook met 38-21 koning gekraai. Dit is vanjaar straks die span in blou se beste kans om wéér hul Pretoriaanse eweknie te klop.

    Albei spanne beleef tot dusver vanjaar ‘n goeie seisoen, met die Klofies wat op grond van wenpersentasie die botoon geniet. Hulle het nog slegs een keer vanjaar hul rieme styfgeloop, met 24-47 teen die voorste eerste span in Suid Afrika, Paul Roos Gimnasium, tydens die jaarlikse NMI Toyota Noord/Suid-toernooi.

    “Ons fokus op dit wat ons wil doen,” het Cobus van Dyk, die Klofies se afrigter gesê. “Die doel is om meer klinies te wees en minder foute te maak.

    “Affies is ‘n kwaliteitspan en ons weet wat ons van hulle te wagte kan wees. Ek dink die span wat dit die meeste wil hê op die dag sal seëvier.”

    RONAN BASTIAANSE (met bal), heelagter van Waterkloof, trek hier ‘n toon doellyn toe terwyl hy ook ‘n duikslag van die Hoërskool Rustenburg se losskakel, Jayden Meyer, probeer afweer. FOTO: Marius Nortjé

    Dit neem egter niks weg van die Wit Bulle, wat vanjaar weer teen ietwat strawwer kompitiese te staan moes kom, nie.

    Hul naelskraapse nederlae teen Paarl Gimnasium (19-20) en in die doodsnikke teen hul tradisionele aartsvyand van Bloemfontein, Grey Kollege (27-29), altwee in Pretoria, het gewys dat vanjaar se Affie-span oor meer as genoeg skietgoed beskik.

    Die Wit Bulle se losskakel, Ruben Pienaar, is tot dusver uitstekend op dreef. Sy vermoë om die toutjies agterlangs te trek, asook sy bereidwilligheid om enige verdedigingslinie aan te vat, het ‘n groot aandeel gehad in sy span se sukses tot dusver.

    Dit help natuurlik dat hy ‘n ervare Janco Purchase aan sy buitekant het. Die SA Skole-binnesenter het vanjaar van krag tot krag gegaan en sy intimiderende lopies in die middeveld en akkurate aangeewerk hou ‘n daadwerklike bedreiging in vir die Klofies.

    Voorlangs kan ‘n titaniese stryd tussen die twee agttalle verwag word. Dit is immers hier waar meeste kenners voel ‘n kragmeting gewen of verloor word.

    Die Wit Bulle se lostrio en spesifiek hul steelkantflank, Albert Smit, sal die Klofies behoorlik toets.

    Die tuisspan moet daarenteen sonder hul staatmaker op agtsteman, Marko Kok, die stryd aandurf. Kok se seisoen is kortgeknip nadat hy ‘n ernstige kniebesering teen Helpmekaar Kollege opgedoen het.

    Dawid Prinsloo, wat in dieselfde wedstryd op steelkantflank in aksie was, vervang vir Kok op agsteman.

    Die goeie nuus vir die tuisspan is dat die hardwerkende steelkantflank, Lendrey Janse van Vuuren, sy terugkeer maak. Van Vuuren se tweestryd met Smit behoort verdere vet op die vuur te gooi.

    Die spanne:

    Hoërskool Waterkloof t. Afrikaanse Hoër Seunskool om 13:30 in Pretoria

    Waterkloof: 15 Llwelyn Steenberg, 14 Ronan Bastiaanse, 13 Malcolm George, 12 Riwan van Aswegen, 11 Jayden Badenhorst, 10 Dennis Obi, 9 Migael Prinsloo, 8 Dawid Prinsloo, 7 Lendrey Janse van Vuuren, 6 Divan Botha, 5 Alrich Uys, 4 Stephan de Beer, 3 Jedri Swart, 2 Ruan Jacobs, 1 Juan Gouws.

    Affies: 15 Ruben Groenewald, 14 Nicolaas Grobler, 13 Hendre Schoeman, 12 Janco Purchase, 11 Eagan Roux, 10 Ruben Pienaar, 9 Zirk Meyer, 8 Ruan Lippoldt, 7 Albert Smit, 6 Lohan Potgieter, 5 Christiaan de Wet, 4 Munting Hattingh, 3 Deon Botes, 2 Christiaan Potgieter, 1 Werner Vrey.

    Skeidsregter: Reghardt O’Neill.

  • Klofies gaps sege met George se drie in doodsnikke

    Helpmekaar Kollege het vir Klofies met mag en mening aangeval in die doodsnikke, maar ‘n onderskepdrie deur die tuisspan se Malcolm George het ‘n naelbytsege beklink.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)

    Die besoekers van Johannesburg het alles in die stryd gewerp om die onoorwonne Hoërskool Waterkloof op sy tuisveld in Pretoria te klop, maar die Klofies het koel en kalm gebly om by die agterdeur in te glip met ‘n telling van 31-29.

    Dit nadat die voorsprong nie minder nie as drie keer in die laaste kwart verwissel het nie.

    Helpmekaar het teen rustyd hul neuse met 10-6 voorgehad, grootliks danksy kaptein, JP Lombaard, se uitstekende spel. Die Goue Leeus se Cravenweek-slot het beïndruk met sy barslopies, wat herinner het aan ‘n jong Eben Etzebeth, en dit het aan sy span ‘n effense oorhand voorlangs verleen.

    Die Klofies moes boonop na 20 minute ook sonder twee sleutelspelers, agtsteman, Marko Kok, en buitesenter en kaptein, Riwan van Aswegen, klaarkom, nadat hulle die veld met beserings verlaat het.

    Die Pretorianers het hulle egter nie daardeur laat onderkry nie, met een van hul ander groot staatmakers, binnesenter, Happy Makate, wat hand opgesteek het. Makate het soos ‘n tier verdedig en ‘n paar reuse duikslae uitgevoer.

    Heelagter, Ronan Bastiaanse, het self gewys dat hy ‘n man vir die groot oomblik is en waarskynlik sy beste aanvallende wedstryd tot op hede beleef. Bastiaanse se tweestryd met sy Helpmekaar-eweknie, Tiaan le Roux, was iets om te aanskou soos hulle mekaar se verdediging op die proef gestel het.

    Die Klofies se oopkantflank, Divan Botha, het byna ongemerk sy stempel afgedruk en gewoeker in die vaste los om dikwels Helpies se balbesit te ontwrig. Teenoor hom het Helpie-agsteman, Motlatsi Moloi, sy ritme in die tweede helfte gevind om, nes Lombaard, gereeld oor die voordeellyn te storm.

    In Krugersdorp het die uitgedunde Norie Blues, Hoërskool Noordheuwel se eerste span, ‘n belangrike sege van 31-24 oor Hoërskool Marais Viljoen behaal. Die Blues is deur die beseringspook geteister na die skoolvakansie, en moes staatmaak op heelparty van hul jong manne om die wa deur die drif te trek.

    Die tuisspan se heelagter, Francois Venter, het ‘n goeie dag op kantoor beleef en sy twee drieë was waarskynlik die deurslagewende faktor. Linkervleuel en drieëvraat, Lindsey Jansen, het ook vir die soveelste keer agter die opposisie se doellyn gaan kuier en is loshande vanjaar die Nories se voorste driedrukker.

    Puntemakers: 

    Waterkloof 31 (6) – Drieë: Ronan Barstiaanse, Divan Botha, Happy Makate, Malcolm George. Doelskop: Ronan Bastiaanse. Strafdoele: Bastiaanse (3). Helpmekaar Kollege 29 (10) – Drieë: Tiaan le Roux, Clinton Cloete, Motlatsi Moloi, JP Lombaard, Zian Smith. Doelskoppe: Michael Benzien (2).

    Noordheuwel 31 (21) – Drieë: Francois Venter (2), Lindsey Jansen, Jeremo Luiters. Doelskoppe: Ethan Smith (4). Strafdoel: Smith. Marais Viljoen 24 (5) – Drieë: Rio Tshimbalanga (2), Brandon Els, Strafdrie. Doelskop: Recce Gerber.

    Ander spanne:

    o.16: Helpmekaar Kollege 36, Waterkloof 3; Noordheuwel 43, Marais Viljoen 3.

    o.15: Helpmekaar Kollege 34, Waterkloof 15; Noordheuwel 41, Marais Viljoen 10.

    o.14: Helpmekaar Kollege 24, Waterkloof 12; Noordheuwel 54, Marais Viljoen 9.

  • Liggies skok Hugenote, Buffels baas in Secunda

    Die senuwees is omtrent gaar na ál die aksie in die SDC Noordvaal Cup se Skild-afdeling die afgelope naweek.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)

    Dié afdeling het vir ‘n paar naelbytstryde gesorg, met slegs één van die vier eerstespankragmetings wat met meer as vyf punte gewen is.

    Hoërskool Lichtenburg het een van die afdeling se voorlopers, Hoërskool Hugenote van Springs, op tuisbodem met 27-12 verras.

    Dit is die Hugies se tweede agtereenvolgende nederlaag nadat hulle voor die vakansie met 7-36 ook teen Hoërskool Wesvalia vasgeval het.

    Die Liggies se buitesenter, Dundre Dempers, het nóg lekker momentum opgebou wat sy persoonlike spelpeil betref en die Hugie-verdedigers ‘n aantal keer gefnuik met sy bedrieglike lopies, wat op twee drieë uitgeloop het.

    Voorlangs het die tuisspan se vaskopstut, JJ Jonker, ook gedruk en was sy skrumwerk ook uit die boonste rakke.

    Die Hugie-pak het hard gespook om die besoekers op die voorvoet te probeer kry, met verál die twee voorrymanne, Franco Neuhoff (loskopstut) en Luan Pretorius (haker), wat hand opgesteek het. Albei was uiters fisies op sowel die aanval as verdediging en is elk met ‘n drie beloon.

    In Secunda het die Buffels van Hoërskool Ben Vorster ook vir ‘n opskudding gesorg deur teen meeste verwagtinge in met ‘n sege van 25-20 oor Hoërskool Secunda huiswaardts te keer.

    Die Vossies se voorspelers het vroeg reeds hul stempel afgedruk. Onder leiding van die veelsydige, Ewald Kirstein, het die Tzaneeners ‘n meedoënloos fisiese vertoning gelewer. Dit het die span van Secunda onkant betrap en hulle kon eenvoudig nie weer terugkom in die wedstryd nie.

    Potsho Selowa, die Vossies se veelsydige Cravenweek-verteenwoordiger, het gefloreer danksy die momentum wat voorlangs bewerkstellig en die tuisspan deurgaans aan die raai gehou met sy flink voetwerk.

    Vir die span van Secunda het linkervleuel, Brink la Grange, vroeg toegeslaan en uiteindelik ‘n welverdiende tweekuns behaal.

    In Heidelberg moes die besoekers van Brakpan, Hoërskool Die Anker, alles in die stryd werp om Heidelberg Volkskool met 32-29 te troef. Dit was grootliks danksy linkervleuel, Jonathan Jordaan, en voskopstut, Damian Boshoff, wat elk twee keer gaan druk het.

    Die tuisspan se Cravenweek-losskakel, Kayle Venter, het oudergewoonte die toutjies agterlangs meesterlik getrek , terwyl agsteman, Joshua Munro, die vuur voorlangs aangesteek het met sy fisieke spel.

    Hoërskool Jeugland het in ‘n wiplankstryd in Polokwane naelskraaps met 27-24 teen Hoërskool Pietersburg geseëvier. Die besoekers se heelagter, Thando Ngomane, wat regdeur die seisoen hand opsteek het, was weer uitstaande en het ‘n briljante driekuns behaal.

    Puntemakers: 

    Hoërskool Lichtenburg 27 (12) – Drieë: Dundre Dempers (2), Willem van Niekerk, JJ Jonker. Doelskoppe: Luan Snyman (2). Strafdoel: Snyman. Hugenote (Springs) – Drieë: Franco Neuhoff, Luan Pretorius. Doelskoppe: Corne Pretorius (2).

    Ben Vorster 25 (7) – Drieë: Makondelele Musekene, Potsho Selowa, Stiaan du Randt. Doelskop: Tihandre Reynecke. Strafdoele: Reynecke (3). Hoërskool Secunda 20 (17) – Drieë: Brink la Grange (2), Bakkies Bezuidenhout. Doelskop: Damian de Beer. Strafdoel: De Beer.

    Die Anker 32 (10) – Drieë: Jonathan Jordaan (2), Damian Boshoff (2), Siya Shongwe, Ruan Smith. Doelskop: Ruan Smith. Heidelberg Volkskool 29 (8) – Drieë: Kayle Venter, Joshua Munro, Tiaan Holloway, Marco Botha. Doelskoppe: Kayle Venter (3). Strafdoel: Venter.

    Jeugland 27 (14) – Drieë: Thando Ngomane (3). Doelskop: Sinennhlanhla Ndlovu. Strafdoele: Ndlovu (2). Pietersburg 24 (12).

    Ander spanne: 

    o.16: Hugenote (Springs) 21, Hoërskool Lichtenburg 3; Hoërskool Secunda 24, Ben Vorster 22; Heidelberg Volkskool 67, Die Anker 0; Hoërskool Pietersburg 61, Jeugland 26.

    o.15: Hoërskool Lichtenburg 15, Hugenote (Springs) 0; Hoërskool Secunda 21, Ben Vorster 17; Heidelberg Volkskool 29 Die Anker 12; Hoërskool Pietersburg 40, Jeugland 5.

    o.14: Hoërskool Lichtenburg 42, Hugenote (Springs) 7; Ben Vorster 31, Hoërskool Secunda 7; Heidelberg Volkskool 18, Die Anker 12; Hoërskool Pietersburg 34, Jeugland 5.

     

  • Prinse van Potch baas in die Bulkraal

    Die heen-en-weer rit van bykans nege uur wat Potchefstroom Gimnasium na Tzaneen moes aanpak was die moeite werd.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)

    Die Prinse van Potch het die tuisspan, Merensky Landbou Akademie, met ‘n telling van 29-24 in die Bulkraal verslaan.

    Dit is die Plasies se tweede agtereenvolgende nederlaag teen ‘n span van Potchefstroom, nadat hulle kort voor die skoolvakansie met 22-24 teen Potchefstroom Volkskool vasgeval het.

    Die tuisspan het nietemin ‘n effense oorhand geniet in die eerste helfte om met 14-10 voor te loop teen rustyd. In die tweede helfte het die besoekers egter hul ritme gevind.

    Haker, Jaco Nel, was oudergewoonte woelig in die vastelos en gebroke spel, en het die bal met mening gedra om die ligbloues deurgaans besig te hou. Die Gimmies het agterlangs ook spasie begin vind en heelagter, PC Schutte, en linkervleuel, David Ndlala, het die geleenthede aangegryp om elk agter die Plasies se doellyn te gaan kuier.

    Die tuisspan se buitesenter, Ulrich Mare, het sy terugkeer tot die speelveld gevier deur twee keer deur te bars vir drieë, terwyl Franco Badenhorst voorlangs uitstaande was vir die tuisspan. Die oopkanflank het dikwels die lewe moeilik gemaak vir die besoekers en in kritieke stadiums omgekeerde balbesit bewerkstellig.

    Negentien punte deur die besoekers in die tweede helfte was egter net té veel vir die Plasies om in te haal, en die Tzaneeners keer terug na die tekenbord voor hul volgende drie belangrike wedstryde.

    Hoërskool Eldoraigne se Drake het uiteindelik die spelpeil bereik waaroor almal gepraat het aan die begin van die seisoen. Die Pretorianers het ‘n reuse tweede helfte aanmekaargeslaan om Potchefstroom Volkskool met 44-27 af te stof.

    Die Drake se skrumskakel, Darren Bruwer, is besig om van krag tot krag te gaan. Die graad 11-knaap het ‘n uiters behendige vertoning vir iemand van sy jong ouderdom gelewer, en sy taktiese skopwerk en breekslae om die afbreekpunte maak van hom ‘n reuse bate.

    Sy skakelmaat, JP Meyer, was oudergewoonte in beheer van sake agterlangs en beskik eenvoudig oor hope tyd om sy snellers telkens op die voorvoet te plaas. Meyer se stelskopwerk was weer uit die boonste rakke en hy het met vier doelskoppe en twee strafdoele geslaag om by sy drie te voeg.

    In Randburg was twee belangrike doelskoppe deur die tuisspan se buitesenter, Quintin Fillies, genoeg om aan Hoërskool Randburg ‘n naelskraapse sege van 21-18 oor Hoërskool Dr. Malan te verseker. Die Randburgers se oorwinning hou hulle beslis in die wedloop vir ‘n plek in die uitspeelrondes.

    Hoërskool Alberton het waarskynlik sy beste vertoning van die kompetisie gelewer om Hoërskool Wagpos in Brits met 29-19 te troef. Heelagter, Jaydon Mostert, was die span van Alberton se uitblinker met ‘n drie en twee doelskoppe.

    Puntemakers: 

    Potchefstroom Gimnasium 29 (10) – Drieë: Jaco Nel, David Ndlala, Morne van Aswegen, PC Schutte, Jaap van der Westhuizen. Doelskoppe: Justin Oosthuizen, David Ndlala. Merensky 24 (14) – Drieë: Ulrich Mare (2), Byron Hendricks. Doelskoppe: Byron Hendricks (3). Strafdoel: Hendricks.

    Eldoraigne 44 (11) – Drieë: Darren Bruwer (2), Manie Buitendagh, Tristan Lee, Rikus Rheeder, JP Meyer. Doelskoppe: JP Meyer (4). Strafdoele: Meyer (2). Potchefstroom Volkskool 27 (17) – Drieë: Christoff Nel (2), Henre Nel, Diaan van der Merwe. Doelskoppe: Johandre Maree (2). Strafdoel: Maree.

    Hoërskool Randburg 21 (21) – Drieë: Curwin Hill, Duncan Beaven, Diedlof Fourie. Doelskoppe: Quintin Fillies (2). Dr. Malan 18 (13).

    Hoërskool Alberton 29 – Drieë: Dewald de Jager, Ewan Muller, Sipho Sibonye, Jaydon Mostert. Doelskoppe: Jaydon Moster (2). Wagpos 19.

    Ander spanne: 

    o.16: Potchefstroom Gimnasium 39, Merensky 27; Potchefstroom Volkskool 47, Eldoraigne 7; Hoërskool Randburg 50, Dr Malan 11; Wagpos 24, Hoërskool Alberton 8.

    o.15: Merensky 57, Potchefstroom Gimnasium 7; Potchefstroom Volkskool 33, Eldoraigne 5; Dr Malan 14, Hoërskool Randburg 0; Wagpos 25, Hoërskool Alberton 7.

    o.14: Potchefstroom Gimnasium 26, Merensky 20; Eldoraigne 25, Potchefstroom Volkskool 17; Dr Malan 21, Hoërskool Randburg 5; Wagpos 24, Hoërskool Alberton 10.

  • Ligbron lag laaste in die Moot danksy Zwane-tweekuns

    Ligbron Akademie se busrit terug na Ermelo sou effens korter gevoel het nadat hy die laaste lag kon inkry in Pretoria.

    Herleef al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die Liggies het in ‘n drieëfees daarin geslaag om met ‘n telling van 50-41 as oorwinnaars uit die stryd te tree in hul kragmeting met Hoërskool Oos-Moot in die SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling.

    Die besoekers se gevaarlike agterlyn was soos verwag die deurslaggewende faktor.

    Die snellers agterlangs het die tuisspan deurgaans laat bontstaan met flink voetwerk en hope vaart. Regtervleuel, Neo Zwane, was voor in die koor en het deurgebars vir ‘n indrukwekkende tweekuns.

    Cravenweek-heelagter, Anele Ngwenya, het sy reputasie gestand gedoen deur telkens ekstra spasie te skep vir Zwane en sy vleuelmaat, Bandile Thanjekwayo, met sy innoverende teenaanvalle.

    Die Oosies het egter die oorhand voorlangs geniet. Hul kragtige dryfmale en fisieke teenwoordigheid by die afbreekpunte, asook twee drieë deur agtsteman, Deon Badenhorst, het hulle in die wedloop gehou. Dit het geleentheid geskep vir Dewron Aford, die ligbloues en Blou Bulle se Cravenweek-senter, om sy vaardighede skitterend ten toon te stel met ‘n briljante driekuns.

    In Klerksdorp het Hoër Tegniese Skool Middelburg se onoorwonne segetog in die afdeling teen Hoërskool Klerksdorp tot ‘n einde gekom. Die tuisspan het die Rooi Bulle met 23-14 geskok.

    Klerksdorp-skrumskakel, Jarred van Staden, was uitstaande met sy taktiese skopwerk. Van Staden se akurate steekskoppies het die Middelburgers deurentyd laat omdraai en selfs tot twee van die tuisspan se drieë gelei. Agtsteman en kaptein, GJ Steenberg, was genadeloos op die aanval en het die besoekers se verdediging knaend op hul tone gehou.

    Die Rooi Bulle se slot, Janco Aucamp, verdien ‘n klop op die skouer vir sy vertoning. Aucamp het uitgetroon in die lynstane en vir die tuisspan talle hoofbrekens besorg op hul ingooi.

    Hoërskool Middelburg het sy stempel as een van die groot aanspraakmakers op ‘n plek in die halfeindstryd afgedruk met nóg ‘n puik tuissege, dié slag oor Kempton Park met ‘n telling van 40-7.

    Die tuisspan se regtervleuel, Kefilwe Phamotse, het met sy vaart en beweeglikheid die kanse aangegryp om twee keer agter die Kempies se doellyn te gaan kuier. Losskakel, Matthew Abbey, het weer die toutjies agterlangs behendig getrek om sy span op die voorvoet te plaas en ook vyf van sy span se ses drieë verdoel.

    Hoërskool Montana het ‘n goeie vertoning opgedis om sy eweknie van Centurion, Hoërskool Zwartkop, naelskraaps met 15-14 te verslaan. Die Monties moes spook in die doodsnikke om die begeesterde Zwarries in toom te hou en slegs ‘n mislukte doelskop het die verskil beteken tussen die twee spanne.

    Puntemakers:

    Ligbron Akademie 50 (26) – Drieë: Neo Zwane (2), Janco Claasen, Divan van Jaarsveld, Bandile Thanjekwayo, Siyanda Dennison, Anele Ngwenya. Doelskoppe: Renier van Staden (5), Divan van Jaarsveld. Strafdoel: Van Staden. Oos-Moot 41 (26) – Drieë: Dewron Aford (3), Deon Bandenhorst (2), Drew Williams, Tapiwa Rwafa. Doelskoppe: Ruwan Allen (3).

    Hoërskool Klerksdorp 23 (11) – Drieë: Liam Pretorius, Tiaan Koen, Winton Abrahams. Doelskop: Cohen Witbooi. Strafdoele: Cohen Witbooi, Deacon Loots. HTS Middelburg 14 (0) – Drieë: Janco Aucamp, Gerry Gendall. Doelskoppe: Gendall (2).

    Hoërskool Middelburg 40 (26) – Drieë: Kefilwe Phamotse (2), CW Hanekom, Khensani Bhutelezi, Lungelo Maseku, Eckardt Marx. Doelskoppe: Matthew Abbey (5). Hoërskool Kempton Park 7 (0) – Drie: Piet van der Heever. Doelskop: Tiaan Delport.

    Montana 15 (12) – Drieë: JF Venter, Dieter Scheepers. Doelskop: Jacques Greyling. Strafdoel: Greyling. Zwartkop 14 (6) – Drie: Zulu Mona. Strafdoele: Luhardt Booyens (3).

    Ander spanne: 

    o.16: Oos-Moot 21, Ligbron Akademie 17; HTS Middelburg 27, Hoërskool Klerksdorp 17; Hoërskool Kempton Park 50, Hoërskool Middelburg 3.

    o.15: Oos-Moot 35, Ligbron Akademie 12; Hoërskool Klerksdorp 26, HTS Middelburg 7; Hoërskool Middelburg 21, Hoërskool Kempton Park 13.

    o.14: Oos-Moot 20, Ligbron Akademie 13; Hoërskool Klerksdorp 20, HTS Middelburg 0; Hoërskool Kempton Park 21, Hoërskool Middelburg 5.

     

  • Manjifieke Meyer Mbombela se held

    FOTO: Riaan de Bruyn

    NELSPRUIT – Theuns Meyer het Mbombela aan die brand geskop om Hoërskool Nelspruit na ‘n geskiedkundige sege oor Hoërskool Garsfontein te lei.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

    Die Nellie Rhino’s se losskakel het sy staal getoon deur 15 punte vanaf die skopkegel aan te teken in sy span se sege van 30-29 oor die Bere. Meyer het drie doelskoppe en drie strafdoele deur die pale geklits vir die helfte van sy span se totaal.

    Die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling is besig om in ‘n uiters interessante wedloop te ontwikkel, verál na die Bere se nederlaag. Die Nellies se groot name het hand opgesteek, met senter en kaptein, Ian Wood, uitstaande in die middeveld. Wood se bedrieglike voetwerk en vaart het die Bere se binnesenter en kaptein, Luann Olivier, deurgaans aan die raai gehou.

    Olivier was op sy beurt een van die besoekers se uitblinkers, met sy bereidwilligheid om reguit te maak op die aanval wat telkemale vrugte afgewerp en die Bere oor die voordeellyn help kry het.

    Dit was egter voorlangs waar die Rhinos die meeste beïndruk het. Dit was ‘n wonder dat agtsteman, Vaughn van Zyl, self nog van die veld kon loop, aangesien hy, soos op die Cravenweek, sy lyf op die spel geplaas het. Sy verdediging was uit die boonste rakke en hy het die Garsies deurentyd gekasty met kragtige dryfspel, wat ook aan hom ‘n drie besorg het.

    Oopkantflank, Banele Ngwenya, was ‘n doring by die afbreekpunte en het keer op keer die Garsies se bal ontwrig om hul momentum te stuit.

    Die Bere het egter nie gaan lê nie. Die besoekers het in die tweede helfte goeie ritme bewerk deur klipharde voorspelerspel wat die Rhinos effens onkant betrap het. Oopkantflank, Stephan Pretorius, was vernaam genadeloos op die aanval en verantwoordelik vir een van sy span se vyfpunters.

    FOTO: Tap Light Edits

    In Pretoria het Hoërskool Dr. Eg Jansen sy stempel verder afgedruk deur vir die tuisspan, Hoërskool Menlopark, met 62-22 af te ransel.

    Innoverende spel tussen voor- en agterspelers het gelei tot 13 drieë aan die kant van die Arende, waarvan die Jansies se slot, Gerhard van Aswegen, vir die soveelste keer vanjaar twee gedruk het.

    Losskakel, Matthew Bergman, en buitesenter, Juandre Jacobs, het deeglik gebruik gemaak van dié stewige grondslag, en het ‘n aandeel in ‘n hele paar drieë gehad.

    Die Parkies se treurmare het in die tweede helfte toegeneem. Nadat hulle teen rustyd slegs 11 punte agter was, is die krane oopgedraai in die laaste 35 minute en het die Jansies nóg 36 punte teen sewe aangeteken.

    Die Parkies het in die eerste helfte soms aanskoulike hardlooprugby gespeel en die Jansies dikwels laat omdraai met netjiese aanvalslyne en taktiese skopwerk deur losskakel, Logan Botha, en skrumskakel, Gustav Schaffner. Heelagter, Reinhardt Herbst, se strafdoel van sowat 50 meter was ook ‘n hoogtepunt vir die tuisskare.

    Puntemakers: 

    Hoërskool Nelspruit 30 (29) – Drieë: Banele Ngwenya, Vaughn van Zyl, Ian Wood. Doelskoppe: Theuns Meyer (3). Strafdoele: Meyer (3). Garsfontein 29 (0) – Drieë: Ethan van Wyk, Stephan Pretorius, Ruan Enslin, Thinus Oosthuizen, Brooklyn Newman. Doelskoppe: Junade Pasensie (2).

    Dr. EG Jansen 62 (26) – Drieë: Gerhard van Aswegen (2), Divan Francis (2), Marco Ventura (2), Duwan Potgieter, Matthew Bergman, Jean-dre Claasen, Zandre Naude. Menlopark 22 (15) – Drieë: Gustav Schaffner, Wynand van Wyk, Divan Nel. Doelskoppe: Logan Botha, Reinhardt Herbst. Strafdoel: Herbst.

    Ander spanne: 

    o.16: Garsfontein 32, Hoërskool Nelspruit 17; Menlopark 37, Dr. EG Jansen 17.

    o.15: Garsfontein 33, Hoërskool Nelspruit 8; Menlopark 29, Dr. EG Jansen 19.

    o.14: Garsfontein 19, Hoërskool Nelspruit 6; Menlopark 24, Dr. EG Jansen 13.