SSPN Test Site

Author: froberholzer

  • Nóg ‘n bielie van ‘n stryd wag op Boksburg

    Zaide-Leigh Rippenaar van Dr. EG Jansen in aksie teen Ligbron Akademie. PHOTO: Tap Light Edits

    Hoërskool Waterkloof staan ‘n kans om vir die Jansies se Arende ‘n tweede keer vanjaar in Boksburg te klop.

    Geniet al die aksie regstreeks op SuperSportSchools – (www.supersportschools.com)

    Die Klofies het Hoërskool Dr. EG Jansen se eerste span reeds op 13 April, in die NWU-sportreeks, met ‘n telling van 45-38 getroef.

    Dit is nog onduidelik of ‘n Klofie-span, in die skool se geskiedenis, al twee keer in Boksburg kon seëvier. Dit dra verder by tot die groeiende opwinding onder die twee spanne se ondersteuners.

    Daar het egter, sedert die laaste ontmoeting, heelwat water in die see geloop, wat beteken dat Saterdag se kragmeting, in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling, beloof om ‘n bielie van ‘n stryd af te gee.

    Albei spanne is steeds onoorwonne in vanjaar se kompetisie én is waarskynlik, op hierdie stadium, die groot gunstelinge om weer in dié afdeling se eindstryd te ontmoet.

    Die span van Pretoria het nog nét eenkeer vanjaar hul rieme styfgeloop, teen die toonaangewende span in Suid-Afrikaanse skolerugby, Paul Roos Gimnasium (24-47), terwyl die Jansies slegs twee keer die knie gebuig het, waarvan die nederlaag teen die Klofies die seerste sou gemaak het.

    “Ons doel hierdie naweek is om op óns te fokus en óns plan uit te voer, met so min as moontlik foute,” het Cobus van Dyk, die Klofies se hoofafrigter vandeesweek gesê.

    Dit is ‘n benadering wat tot dusver vanjaar goed vir die Pretorianers gewerk het. Hulle het verál beïndruk in die eerste helfte van hul wedstryde, máár soms die voet van die pedaal afgehaal na rustyd. Dit sal hulle nie teen die Arende kan bekostig nie.

    Die Jansies, daarenteen, het dikwels gelyk asof hulle afdraande speel in die tweede 35 minute van ‘n wedstryd en dit is dan ook waar hulle gereeld die knoop deurhak.

    Die Arende se buitsenter, Jeandre Jacobs, het verlede naweek in ‘n taai tweestryd met Noordheuwel se Cheswill Jooste daarin geslaag om die oorhand te geniet en was ook verantwoordelik vir die wendrie.

    Die Jansie-sneller behoort egter sy hande vol te hê met Klofies se buitesenter en kaptein, Riwan van Aswegen. Van Aswegen beleef ‘n seisoen wat hy vir lank sal onthou en dit was juis hý wat in April die Arende se harte gebreek het, met ‘n drie vanuit sy eie halfgebied.

    Daar wag ook ‘n liplekker-stryd onder die losvoorspelers. Dit is veral EG Jansen se oopkantflank, Zaide-Leigh Rippenaar, wat ‘n groot impak kan maak met sy doeltreffendheid by die afbreekpunte.

    Hoërskool Marais Viljoen se strewe na hul eerste oorwinning word nie makliker wanneer hulle vir Hoërskool Monument Saterdag in Alberton verwelkom nie.

    Die span van Alberton het verlede naweek met 15-33 teen Hoërskool Nelspruit, in Nelspruit, vasgeval, in ‘n kragmeting wat waarskynlik hul beste kans was om die pyp te rook. Die Krugersdorpers lek ook hul wonde na die dragslae van 19-85 wat hulle teen Grey College in Bloemfontein op die lyf geloop het, en sal so spoedig moontlik wil terugekeer na die wenpad toe.

    Die Wit Bulle se slot, Jacques Botha, sal sy span oor die voordeellyn wil kry met sy kragtige dryfspel. Botha het vandeesweek ook bevestiging ontvang dat hy opgeneem is in die Leeus se Cravenweekspan, wat volgende maand op Monnas se tuisveld in aksie sal wees. Die twee Cravenweek-flanke, RJ Barnard en Jamaal Feldman, wag ook op Marais Viloen se pak.

    Die tuisspan sal sonder hul kaptein en spelskepper, Recce Gerber, se dienste moet klaarkom. Gerber, ongetwyfeld die span se grootste uitblinker vanjaar, word deur die uiters bevoegde Claude do Couto op losskakel vervang, dus rus heelwat verantwoordelikheid op binnesenter, Brandon Els, se skouers om die agterlyn aan die gang te help kry.

    Die spanne: 

    Hoërskool Dr. EG Jansen t. Hoërskool Waterkloof om 12:30 in Boksburg

    EG Jansen (moontlik): 15 Ntokozo Ngobese, 14 Jean-Dre Claassen, 13 Jeandre Jacobs, 12 Steven Williams, 11 Keanu van Loggerenberg, 10 Matthew Bergman, 9 Riekus van der Merwe, 8 Storm Labuschagne, 7 Divan Francis, 6 Zaide-Leigh Rippenaar, 5 Zandre Naudé, 4 Gerhard van Aswegen, 3 Duwan Potgieter, 2 Danre Pike, 1 Zian Marais.

    Waterkloof: 15 Ronan Bastiaanse, 14 Malcolm George, 13 Riwan van Aswegen, 12 Happy Makate, 11 Jaiden Badenhorst, 10 Dennis Obi, 9 Migael Prinsloo, 8 Marko Kok, 7 Lendrey Janse van Vuuren, 6 Divan botha, 5 Alrich Uys, 4 Stephan de Beer, 3 Jedri Swart, 2 Ruan Jacobs, 1 Juan Gouws.

    Hoërskool Marais Viljoen t. Hoërskool Monument om 12:20 in Alberton

    Marais Viljoen: 15 Tyron Bouw, 14 Devin Raubenheimer, 13 Tiaan Joubert, 12 Brandon Els, 11 Ethan Weideman, 10 Claude do Couto, 9 Weon van der Vyver, 8 Rio Tshimbalanga, 7 Dian Scheepers, 6 Lloyd Shoko-Schenck, 5 JD Labuschagne, 4 Bjorn Pieterse, 3 Sifiso Shongwe, 2 Liam Catlow, 1 Clayton Gagiano.

    Monument (moontlik): 15 Hanu Fourie, 14 Kealan Milton, 13 Jason Joubert, 12 Theuns du Plooy, 11 Ernesto Oersen, 10 Cruz La Moer, 9 Hanno du Toit, 8 Vincent Robberts, 7 RJ Barnard, 6 Jamaal Feldman, 5 Nathan Erasmus, 4 Jacques Botha, 3 Juandre Marais, 2 Keenan Myners, 1 Wikus Meyer.

     

  • Volkies stuit Brahmane in Potch

    POTCHEFSTROOM – Potchefstroom Volkskool het daarin geslaag om Merensky in hul spore te stuit.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)

    Die Potchefstromers het vergoed vir hul nederlaag teen Potchefstroom Gimnasium verlede week, met ‘n naelskraapse oorwinning van 24-22 oor een van die gunstelinge in SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling, Merensky Landbou Akademie.

    Volkies se sege het nié alleen hul kanse om die afdeling se uitspeelrondes te haal lewendig gehou nie, maar ook die res van die wedloop in die Bowl-afdeling wawyd oopgeblaas.

    Die Potchefstromers het hul tuisvoordeel ten volle benut om te kapitaliseer daarop dat die Brahmane van Tzaneen vir die tweede agtereenvolgende week ver moes reis.

    Volkies se beweeglike pak, met die lostrio bestaande uit Dewald Groenewald, Christoff Nel en Henre Nel, aan die spits, het gewoeker in die los én vastelos.

    Christoff Nel, wat reeds sy hand die week vantevore teen die Gimmies opgesteek het, was nogmaals uitstaande. Sy hoë werkverrigting en energieke lopies met die bal het sy span deurgaans op die voorvoet geplaas en ook aan hom ‘n tweekuns besorg.

    Losskakel, Johandré Maree, se korrelwerk pale toe was uit die boonste rakke. Maree het ál drie sy span se drieë verdoel en ook met ‘n strafdoel geslaag.

    Sy Merensky-eweknie, Byron Hendricks, het egter gewys hoekom die Limpopo Blou Bulle-keurders weer hul vertroue in hom gestel het as losskakel van die Cravenweekspan. Hendricks se vermoë om spel te lees en dikteer laat dit altyd lyk asof hy oor hope tyd op die bal beskik.

    Dit stel ook sy vlugvoetige binnesenter, Maritz Meintjies, in staat om bal op die voorvoet te ontvang, en die Volkies moes dikwels bontstaan wanneer Meintjies op loop gesit het.

    In Centurion het Hoërskool Eldoraigne se Drake daarin geslaag om hul derde sege vanjaar te behaal. Die Drake moes nietemin hard spook teen ‘n begeesterde Hoërskool Randburg om met telling van 23-17 as oorwinnaars uit die stryd te tree.

    Die besoekers se pak was uiters fisiek, en het die Eldos se pak onder taamlike druk geplaas in die eerste helfte. Met ‘n rustydagterstand van 9-14 wat hulle in die gesig gestaar het, het die tuisspan se skakelpaar, bestaande uit JP Meyer en Darren Bruwer, besluit om die besoekers met taktiese skopwerk te laat omdraai en in hul gebied vas te pen.

    Oopkantflank, Cameron Killian, het ook meer prominent in die vastelos begin vertoon en dikwels, soos ‘n wafferse Heinrich Brüssow van ouds, omgekeerde balbesit begin bewerkstellig om die momentum in die Drake se guns te help swaai.

    Potchefstroom Gimnasium het na nóg ‘n dominante vertoning koning gekraai teen Hoërskool Piet Retief in Potchefstroom.

    Die tuisspan het van meet af die toon aangegee voorlangs, wat aan die agterlyn meer as genoeg geleenthede gegee het om die bal lug te gee. Gimmies se Cravenweek-vleuel, David Ndlala, het die situasie, en spasie, uitgebuit om twee keer agter die besoekers se doellyn te gaan kuier.

    Hoërskool Dr. Malan het na ‘n rotsvaste vertoning op verdediging daarin geslaag om die besoekers van Brits, Hoërskool Wagpos, met 19-0 te verslaan.

    Puntemakers: 

    Potchefstroom Volkskool 24 (10) – Drieë: Christoff Nel (2), Juhan Geldenhuys. Doelskoppe: Johandré Maree (3). Strafdoel: Maree. Merensky 22 (8) – Drieë: Ethan Maritz, Heinrich Lubbe, Maritz Meintjies. Doelskoppe: Byron Hendricks (2). Strafdoel: Hendricks.

    Eldoraigne 23 (9) – Drieë: Darren Bruwer, Tristan Lee. Doelskoppe: JP Meyer (2). Strafdoele: Meyer (3). Randburg 17 (14) – Drieë: Herman Goosen, Duncan Beavan. Doelskoppe: Hendri Oosthuizen (2). Strafdoel: Oosthuizen.

    Potchefstroom Gimnasium 41 (17) – Drieë: David Ndlala (2), Elrich Bosch, Jaco Nel, Toks Gerber, Jhanco de Beer, Louerens Jacobs. Doelskoppe: Jhanco de Beer (3). Piet Retief 24 (3) – Drieë: Siphosethu Sibisi, Vuyani Tshabalala, Langelihle Ntuli. Doelskoppe: Owethu Tshabalala (3). Strafdoel: Tshabalala.

    Dr. Malan 19 – Drieë: Willem Taylor, Luka Pretorius, Anthony Botes. Doelskoppe: Luka Pretorius (2). Wagpos 0.

    Ander spanne: 

    o.16: Potchefstroom Volkskool 32, Merensky 18; Randburg 36, Eldoraigne 12; Potchefstroom Gimnasium 33, Piet Retief 19; Wagpos 52, Dr. Malan 7.

    o.15: Merensky 15, Potchefstroom Volkskool 8; Eldoraigne 26, Randburg 0; Piet Retief 55, Potchefstroom Gimnasium 5; Dr. Malan 14, Wagpos 3.

    o.14: Potchefstroom Volkskool 20, Merensky 12; Eldoraigne 8, Randburg 5; Piet Retief 21, Potchefstroom Gimnasium 14; Dr. Malan 17, Wagpos 5.

  • Player Profile – Jeandre Jacobs (EG Jansen)

    PHOTO: Tap Light Edits

    “It was a scrum on the halfway line against Outeniqua. The call was made, and we did the move. I broke through and beat the fullback to score the try. Everybody was so happy, and I kissed the badge on my jersey. It was something I’d never experienced in my life.”

    Those were the words of Hoërskool Dr EG Jansen’s Jeandre Jacobs, as he recalled his favourite memory in the famous Jansie-Arende jersey.

    Possessing the ability to spot the smallest of spaces in the blink of an eye, Jacobs has worn the number 13 jersey in EG Jansen’s first team over the last two years and has become known for his ability to score eye-catching long-range tries.

    His deft footwork and acceleration have instilled fear in many backlines, and they have seen him become a prolific asset in the sevens format, too. With the Blitzboks rebuilding and seeking a return to the top of the sevens mountain, Jacobs could become a household name in the shorter, faster format of the game.

    Born in Vredenburg in the Western Cape, he grew up idolizing one of South Africa’s first legends of the sevens game, Rhyno Benjamin, and later, World Cup-winning fullback Damian Willlemse.

    At the age of 12, Jacobs started playing rugby. It would soon become an important part of his young life. That same year, incredibly, he claimed a place in the Boland u12 provincial side. The following year, after having quickly grown in the game, he cracked the nod for both the Boland u13 Craven Week and the Boland Sevens sides.

    His remarkable performances at such a young age caught the attention of the men from Boksburg. He would end up at Dr EG Jansen the following year.

    Photo: Tap Light Edits

    “I played in a tournament in Jeffrey’s Bay, and I think that’s where Jansen saw me. It was a great opportunity to link up with them. That is what I wanted at that stage,” Jacobs said.

    The young outside centre has continued to go from strength to strength ever since, climbing the ladder and earning a spot in the Valke u18 Craven Week side, as a 17-year-old, in 2023, while also being selected for the u18 sevens squad.

    He has once again been selected to cause havoc for the Valke at this year’s Craven Week, which will be hosted in Krugersdorp.

    When asked about the person who has played the biggest role in his career thus far, Jacobs replied without hesitation: “Coach Rudy Dames has always been the one who has supported me the most. He has always pushed me to stay motivated and be better than I was yesterday.

    Questioned about his plans for the future, Jacobs said: “I would like to play for either the Blue Bulls or the Sharks, but my main focus will be on playing for the Blitzboks, hopefully soon.”

    With a humble approach and a natural feel for the game, Jacobs has the attributes to make his dream of international rugby come true. He’s hoping to run out wearing the green and gold in the prestigious HSBC SEVENS Series in the near future.

  • Venter-tweekuns: Kersie op die koek in Klerksdorp

    Hendre Venter se naam sal nog lank by Hoërskool Hugenote van Springs se eerste span spook.

    Die agsteman van Hoërskool Wesvalia was die groot doring in die Hugies se vlees, met sy twee kuiers agter die doellyn wat uitgestaan het in die Wessies se wegholoorwinning van 36-7 oor Hugenote in Springs.

    Dit beteken voorts dat die span van Klerksdorp nou die enigste onoorwonne span in die SDC Noordvaal Cup se Skild-afdeling is. Die besoekers het nie geskroom om die Hugies voorlangs aan te vat nie – iets wat nog selde vanjaar gebeur het.

    “Ons was by tye uiters klinies,” het Willem van der Sandt, die Wessies se voorspelerafrigter gesê. “Ons het foute beperk wat beteken het dat ons hulle voor kon oordonder met skrums en dryfmaalbewegings.”

    Venter was nie alleen verantwoordelik vir die reuse aanslag voorlangs nie. Die Wessies se Cravenweek-duo, Junior Kuhn (haker) en Francois Dumond (steelkantflank), het ook spiere gebult, was saam met Venter vernietigend op die aanval en het elkeen ook gedruk.

    Linkervleuel, Xander Smit, was die enigste Wessie-agterspeler wat daarin kon slaag om die doellyn oor te steek, nadat hy op ‘n kans wat deur sy voorspelers geskep is, toegeslaan het.

    In Heidelberg het Hoërskool Lichtenburg ‘n kritieke sege, weg van die huis, in hul Noordvaal-veldtog behaal deur vir Heidelberg Volkskool met 24-17 te verslaan.

    Die oorwinning was te danke aan ‘n uitstekende vertoning in die eerste helfte, toe Liggies reeds 19 punte opgestapel het. Na ‘n verbete terugvegpoging in die tweede helfte deur die Volkies, was dit net-net genoeg vir die span van Noordwes om met glimlagte huiswaarts te kon keer.

    Vaskopstut, Juan van Rhyn, het geweldig hard gewerk in sowel die skrums as lynstane, maar het ook indrukwekkend vertoon met die bal in hand en is met een van sy span se vier drieë beloon.

    Hoërskool Secunda se twee stutte was ook genadeloos in die verdedigende kampioen se oortuigende sege van 44-14 oor Hoërskool Pietersburg. Loskopstut, Nathan Erasmus, het ‘n besielende vertoning afgerond met ‘n welverdiende tweekuns, terwyl sy makker aan die vaskopkant, Stefan Bezuidenhout, self ook oor die doellyn kon bars vir ‘n vyfpunter.

    Daar is waarskynlik nie meer naels oor om te kou na Hoërskool Ben Vorster by die agterdeur ingeglip het teen Hoërskool Jeugland nie. Die Buffels het 19 punte teenoor Jeugland se vyf aangeteken, basies in die laaste 15 minute, om ‘n rustydagterstand van 10-21 uit te wis en met 29-26 in Tzaneen as oorwinnaars uit die stryd te tree.

    Die Buffels se steelkantflank, Joshua van der Mescht, was uitstaande, vernaam met sy rotsvaste verdediging in die vastelos. Linkervleuel, Damian Bye, het, met slegs sekondes oor op die horlosie, in die hoekie oorgeduik om die wendrie te druk.

    Jeugland se linkervleuel, Oregopotse Shilubane, was self verwoestend op die aanval en het, met sy bedrieglike systappe, vir die Vossie-verdedigers gereeld laat gras proe.

    Puntemakers:

    Wesvalia 36 (17) – Drieë: Hanre Venter (2), Junior Kuhn, Franco Dumond, Francois Dumond, Xander Smit. Doelskoppe: Eduard Dreyer (3). Hugenote (Springs) – Drie: Tyron Hand. Doelskop: Corne Pretorius.

    Lichtenburg 24 (19) – Drieë: Juan van Rhyn, Kgolagano Legodi, Rea Motsusi, Dandre Dempers. Doelskoppe: Albert Joubert (2). Heidelberg Volkskool 17 (0) – Drieë: Janco Coetzer (2). Doelskoppe: Hein Oelofse (2). Strafdoel: Oelofse.

    Hoërskool Secunda 44 (23) – Drieë: Nathan Erasmus (2), Stefan Bezuidenhout, Franko Rossouw, Brink la Grange, Damian de Beer. Doelskoppe: De Beer (4). Strafdoel: De Beer. Hoërskool Pietersburg 14 (0) – Drieë: Etienne van Jaarsveldt (2). Doelskoppe: Hanno van Zyl (2).

    Ben Vorster 29 (10) – Drieë: Joshua van der Mescht, Christopher Janse van Vuuren, Tihandre Reyneke, Damian Bye. Doelskoppe: Shelton Primo (3). Strafdoel: Primo. Jeugland 26 (21) – Drieë: Oregopotse Shilubane (2), Letlala Relebohile, Thando Ngomane. Doelskoppe: Sinennhlanhla Ndlovu (3).

    Ander spanne:

    o.16: Heidelberg Volkskool 89, Lichtenburg 0; Pietersburg 45, Secunda 0; Ben Vorster 29, Jeugland 17.

    o.15: Heidelberg Volkskool 22, Lichtenburg 12; Pietersburg 19, Secunda 15; Ben Vorster 41, Jeugland 0.

    o.14: Lichtenburg 26, Heidelberg Volkskool 5; Pietersburg 34, Secunda 0; Ben Vorster 41, Jeugland 0.

     

  • Allen, Oosies-agttal stoomroller Zwarries in Centurion

    “Ons het uiteindelik die regte rat voorlangs geslaan”

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)

    So het Braam Pretorius, Hoërskool Oos-Moot se hoofafrigter, sy span se oorwinning van 56-14 oor Hoërskool Zwartkop, in die laaste ronde groepwedstryde van die kwartaal in die SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling, opgesom.

    “Ons het voorlangs oorheers, wat dit vir ons agterlyn moontlik gemaak het om ‘n bietjie te hardloop,” het Pretorius bygevoeg.

    Dit het daartoe gelei dat die Oosies nie minder nie as agt keer agter die Zwarries se doellyn gaan kuier het. Die Oosies se agttal het inderdaad in alle fasette van die kragmeting die botoon gevoer.

    Dit het vir losskakel, Ruwan Allen, die geleentheid gebied om sy gevaarlike agterlyn aan die gang te kry. Allen het boonop sy beste vertoning vanjaar vanaf die skopkegel beleef.

    Hy het ál agt sy span se drieë, waarvan hy self een gedruk het, verdoel, wat beteken het dat hy persoonlik vir 21 punte verantwoordelik was.

    Die span van die Moot se slotpaar, Jaydon Botha en Connor de Jager, was ook uitstaande, uiters fisiek op sowel die aanval as verdediging en is met ‘n vyfpunter elk beloon.

    Die Zwarries behoort verheug te wees dat hul puntemasjien, Denlison Metcalf, lyk asof hy ten volle van sy dyspierbesering herstel het. Metcalf het met slegs 30 sekondes verstreke ‘n blaps van die opposisie uitgebuit om oor te duik vir die eerste van die tuisspan se twee drieë.

    In Vanderbijlpark was ‘n dominante tweede helfte deur die tuisspan, Hoërskool Transvalia, genoeg om ‘n oorwinning van 31-24 oor Hoërskool Middelburg te verseker.

    Transvalia het in die laaste 35 minute voet in die hoek gesit om 24 punte aan te teken, met vernaam die voorspelers wat ‘n reuse verskil gemaak het. Die tuisspan se plaasvervangerslot, Vincent Brits, het, met tyd bykans verstreke, deurgestorm om seker te maak dat die Middies nie in die doodsnikke vir ‘n opskudding kon sorg nie.

    Hoërskool Klerksdorp het beïndruk in hul tuissege van 24-20 oor Hoërskool Kempton Park. Hul Cravenweek-agtsteman en kaptein, GJ Steenberg, het van voor gelei met sy kragspel, terwyl die Suid Afrikaanse o.19 Statebond-spiesgooikampioen, Ewald Jansen, sy terugkeer op binnesenter met ‘n uitstaande vertoning op die aanval gevier het.

    Hoër Tegniese Skool Middelburg het nóg ‘n indrukwekkende sege van 35-7 oor Hoërskool Montana op tuisbodem behaal.

    HTS se nuwe losskakel, Gerry Gendall, het indrukwekkend vertoon en vir die Monties deurgaans aan die raai gehou met sy dartellopies. Dit het die gevaarlike Johnny dos Santos, wat op buitesenter diens verrig het, die nodige spasie gebied om skade aan te rig, en albei het ‘n tweekuns behaal.

    Puntemakers: 

    Oos-Moot 56 (35) – Drieë: Franco O’Neal, Connor de Jager, Bertus van Dyk, Tapiwa Rwafa, Ruwan Allen, Jaydon Botha, Jandre de Beer, Nick Venter. Doelskoppe: Ruwan Allen (8). Zwartkop 14 (14) – Drieë: Denilson Metcalfe, Brian Smith. Doelskoppe: Kyle Kooman (2).

    Transvalia 31 (7) – Drieë: Wynand Stols, Siyabonga Khambule, Dylan Booth, Brandonlee Smit, Vincent Brits. Doelskoppe: Dylan Steynman (3). Hoërskool Middelburg 23 (13) – Drieë: CW Hanekom, Matthew Abbey, Sihle Mkatswa. Doelskop: Abbey. Strafdoele: Abbey.

    Klerksdorp 24 (10) – Drieë: Abrie Esterhuizen (2), Janu de Wet. Doelskoppe: Deacon Loots (3). Strafdoel: Loots. Kempton Park 20 (12) – Drieë: Ettienne Stroebel (2), Deon Mullign. Doelskop: Tiaan Delport. Strafdoel: Delport.

    HTS Middelburg 35 (14) – Drieë: Gerry Gendall (2), Johnny dos Santos (2), Jayden Knoesen. Doelskoppe: Jaque Stassen, Knoesen, Gendall. Montana 7 (0) – Drie: Marq de Villier. Doelskop: Daelin Ludick.

    Ander spanne:

    o.16: Zwartkop 33, Oos-Moot 3; Transvalia 41, Hoerskool Middelburg 5; Kempton Park 62, Klerksdorp 0; HTS Middelburg 18, Montana 17.

    o.15: Oos-Moot 24, Zwartkop 13; Middelburg 19, Transvalia 15; Klerksdorp 26, Kempton Park 19; HTS Middelburg 3, Montana 0.

    o.14: Oos-Moot 31, Zwartkop 0; Transvalia 13, Middelburg 12; Kempton Park 19, Klerksdorp 10; HTS Middelburg 17, Montana 12.

  • Jacobs sorg vir Jansie-jolyt op die Heuwel

    FOTO: Tap Lights Edits

    KRUGERSDORP – Wie anders as die Arende se Juandre Jacobs om die wa deur die drif te trek?

    Herleef al die aksie en opwinding op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com

    Die buitesenter van Hoërskool Dr. EG Jansen se drie was genoeg om ‘n sege van 34-30 oor Hoërskool Noordheuwel in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling, in Krugersdorp, te verseker.

    Jacobs het met sowat 10 minute speeltyd oor deurgebars en veld af gepyl vir die beslissende vyfpunter in die wedstryd.

    Die kragmeting het aan al die verwagtinge van ‘n uiters fisieke stryd voldoen, met die twee spanne wat mekaar kapoet geduik het, maar daar was ook deurbrake bewerkstellig met kragtige lopies.

    Die tweestryd tussen die kapteins, Duwan Potgieter (EG Jansen) en Meyer Opperman (Noordheuwel), het op sigself vir hope opwinding hesorg. Hulle het behoorlik arm gedruk in die skrums, met Potgieter wat hier net-net die oorhand geniet en ‘n stewige platform help skep het vir die Arende se agterlyn om aanvalle te loods.

    Die Blues se steelkantflank, Donovan Breedt, het uitgetroon in die lynstane om die lewe moeilik te maak vir die besoekers, terwyl die indrukwekkende Lindsey Jansen sy goeie spelpeil agterlangs voortgesit en twee van die Norie-Blues se vier drieë gedruk het.

    Die Jansies se flankpaar, Divan Francis  en Zade-Leigh Rippenaar, was oudergewoonte genadeloos op die verdediging en in gebroke spel, met Francis, in besonder, wat een van sy beste vertonings vanjaar opgedis het.

    Albei spanne het die bal lekker lug begin gee in die tweede helfte en het dit gesorg vir aanskoulike hardlooprugby. Dit is ook waar die Blues se onvoorspelbare agterlyn kans gekry het om ‘n terugvegpoging te loods en hulle het kort voor die eindfluitjie nog moedig gestoei om by die agterdeur in te glip.

    FOTO: Marius Nortje

    In Rustenburg moes die ander gunstelinge in die afdeling, Hoërskool Waterkloof, hard spook om met 45-35 teen Hoërskool Rustenburg te wen.

    Die Klofies se slot, Stephan de Beer, het weer moue opgerol om voorlangs sy stempel af te druk met ‘n uiters fisieke vertoning. De Beer het tot dusver vanjaar in elke wedstryd sy lyf op die spel geplaas, maar hierdie vertoning in Rustenburg was ongetwyfeld sy beste nóg.

    Die Klofies se middeveld-duo, Happy Makate en Riwan van Aswegen, het oudergewoonte kopsere vir die Rusties se verdedigers besorg. Dit sal ook ‘n dag wees wat die Pretorianers se loskopstut, Jean Gouws, nie gou sal vergeet nie, aangesien hy oorgebars het vir sy eerste drie vir die eerste span .

    Die tuisspan se buitesenter, Hendre Robinson, het op sy beurt ook die Klofies se agterlyn laat bontstaan en met sy skerp aanvalslyne twee keer bresse in die verdediging geslaan. Rusties se slotpaar, Pedri Human en Edrich Potgieter, was ook uitstaande, met hul hoë werkverrigting en fisieke teenwoordigheid wat dikwels die momentum in die tuisspan se guns geswaai het.

    Puntemakers: 

    Dr. EG Jansen 34 (20) – Drieë: Jeandre Jacobs, Keanu van Loggerenberg, Divan Francis, Zaide-Leigh Rippenaar, Zian Marais. Doelskoppe: Matthew Bergman (3). Strafdoel: Bergman. Noordheuwel 30 (11) – Drieë: Lindsey Jansen (2), Juandre de Villiers, Meyer Opperman. Doelskoppe: Jeandre Uithaler (2). Strafdoel: Uithaler. Skepskop: Uithaler.

    Waterkloof 45 (24) – Drieë: Happy Makate, Dennis Obi, Marko Kok, Ronan Bastiaanse, Riwan van Aswegen, Ruan Jacobs, Juan Gouws. Doelskoppe: Bastiaanse (5). Hoërskool Rustenburg 35 (18) – Drieë: Hendre Robinson (2), Jayden Meyer, Edrich Potgieter, Xander Bennedetti. Doelskoppe Lorenzo Snyers (2). Strafdoele: Snyers (2).

    Ander spanne:

    o.16: Noordheuwel 50, EG Jansen 5; Waterkloof 19, Hoerskool Rustenburg 15.

    o.15: Noordheuwel 33, EG Jansen 12; Waterkloof 14, Hoerskool Rustenburg 10.

    o.14: Noordheuwel 38, EG Jansen 5; Hoerskool Rustenburg 20, Waterkloof 5.

  • Voluit Pasensie, voluit beheer, en die Bere triomfeer

    FOTO: Frans Lombard

    PRETORIA – Die Garsie-Bere het Saterdag 30 redes verskaf dat hulle uiteindelik die regte losskakel opgespoor het.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)

    Hoërskool Garsfontein se Junade Pasensie was aan die spits van die Bere se aanslag toe hulle vir Hoërskool Menlopark, in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling, met ‘n reuse telling van 90-14 afgeransel het.

    Pasensie se vertoning sou vir die Garsie-afrigters, Johan du Plessis en Sylvester Booysen, bevestiging gegee het dat hul besluit, om hom van heelagter na losskakel te skuif, die korrekte een was. Pasensie het reeds verlede naweek in die Bere se tweede sege van die seisoen, teen Marais Viljoen (31-19), ‘n daadwerklike verskil gemaak, maar hierdie naweek se vertoning was eenvoudig uit die boonste rakke.

    Dit was verál die hotklou se korrelwerk pale toe wat beïndruk het. Hy het tien van sy span se 14 drieë met gemak verdoel, terwyl hy persoonlik ook verantwoordelik was vir twee drieë om sy persoonlike bydrae vir die wedstryd op 30 punte te staan te bring.

    Die Bere was in in alle aspekte van die wedstryd baas, in wat beslis as hul beste vertoning vanjaar beskou kan word.

    Linkervleuel, Junaide Stuart, Garsies se voorste driedrukker vanjaar, het sy puik seisoen voortgesit met ‘n aanskoulike driekuns, terwyl haker, Stephan Pretorius, self uitstekend op dreef was in sowel die vastelos as gebroke spel, en ook twee keer deurgebars het om te gaan druk.

    In Nelspruit het Hoërskool Nelspruit se Rhinos ietwat ratte verwissel om met ‘n telling van 33-15 oor die besoekende Hoërskool Marais Viljoen te seëvier.

    Die Rhinos het die spogsege beklink met ‘n blink vertoning in die tweede helfte, wat 23 punte opgelewer het. Die tuisspan se losskakel, John Duncan, het met sy skopskoen gesorg dat die telbord deurgaans aan die rol bly en met twee doelskoppe en drie strafdoele geslaag vir 13 van sy span se 33 punte.

    Dit was egter die slot, Ronaldo van Rensburg, wat die kollig gesteel het met sy begeesterde barslopies, waarvan een op ‘n drie uitgeloop het, en bereidwilligheid om die donkiewerk te doen. Dit het grootliks gesorg dat die tuisspan momentum behou.

    Nellies se twee vleuels, Tinyiko Silubane en Jordan Pretorius, het gewys wat hulle het met spasie aan die buitekant kan vermag en het elk ook ‘n vyfpunter bygedra.

    Aan die kant van die besoekers het slot, Bjorn Pieterse, en steelkantflank en onderkaptein, Dian Scheepers, moedig probeer om Marais Viljoen op die voorvoet te kry, en ook duikslag na duikslag uitgevoer om die Rhinos te probeer stuit.

    Agterlangs het die span van Alberton se groot gevaar in die middeveld gelê. Losskakel en kaptein, Recce Gerber, het die verdedigers oudergewoonte op hul tone gehou, terwyl binnesenter, Brandon Els, dikwels die kleinste van spasies met sy bedrieglike vaart en uitstekende voetwerk uitgebuit het.

    Puntemakers:

    Garsfontein 90 (36) – Drieë: Junaide Stuart (3), Junade Pasensie (2), Aiden King (2), Stephan Pretorius (2), James Schnetler, Jacques Swarts, Luann Olivier, Aiden Holtzhausen, Wian van den Berg. Doelskoppe: Junade Pasensie (10). Menlopark 14 (7) – Drieë: Ruan Strydom, Logan Botha. Doelskoppe: Andru Kuhn (2).

    Nelspruit 33 (10) – Drieë: Ronaldo van Rensburg, Vaughn van Zyl, Lindani Ndlela, Jordan Pretorius. Doelskoppe: John Duncan (2). Strafdoele: Duncan (3). Marais Viljoen 15 (5) – Drieë: Brandon Els, Tyron Bouw, Weon van der Vyver.

    Ander spanne:

    o.16: Menlopark 25, Garsontein 12; Nelspruit 59, Marais Viljoen 0.

    o.15: Menlopark 21, Garsfontein 19; Nelspruit 21, Marais Viljoen 19.

    o.14: Garsfontein 57, Menlopark 7; Nelspruit 80, Marais Viljoen 0.

  • Zwarries, Oosies wil kwartaal op wennoot afsluit

    FOTO: Marius Nortjé

    Oorwinning is ononderhandelbaar hierdie naweek.

    Geniet al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)

    Hoërskool Zwartkop en Hoërskool Oos-Moot is albei daarop uit om voor die vakansie ‘n kritieke oorwinning te behaal in die SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling. Die twee Pretoriaanse spanne kruis Saterdagmiddag swaarde op die Zwarries se tuisveld in Centurion.

    Zwartkop sou vandeesweek nog op die golf van ‘n eerste oorwinning in agt jaar oor hul tradisionele aartsvyand, Hoërskool Eldoraigne, gery het, maar die fokus skuif nou terug na hierdie uiters belangrike stryd teen die manne van die Moot. Albei spanne staan steeds ‘n kans om die afdeling se uitspeelrondes te haal indien ‘n oorwinning Saterdag behaal kan word.

    Die Zwarries moet egter klaarkom sonder hul staatmaker op losskakel, Luhardt Booyens, wat ‘n rooi kaart in die vorige Plaat-kragmeting met Hoërskool Kempton Park ontvang het. Volgens die Noordvaal-kompitiese se regulasies word ‘n rooi kaart gestraf met ‘n skorsing van een wedstryd.

    Dit bied ‘n gulde geleentheid vir sy plaasvervanger, Kyle Koopman, om die leisels as generaal van die agterlyn op te neem en vir die Zwarrie-breiers te wys wat in hom steek.

    Aan sy buitekant wag die groot senterpaar van Luan Williams en Kyle Blignaut op die Oosies se middeveld, terwyl die puntemasjien, Denlison Metclafe, sy langverwagte terugkeer tot die beginspan maak op regtervleuel.

    Die beseringspook het behoorlik kom draai in die Moot. Die Oosies se regtervleuel, Jayden Pretorius, sal vir ‘n geruime tyd op die krukkelys wees nadat hy sy enkel verlede naweek teen HTS Middelburg gebreek het, met Nick Venter wat hom vervang.

    Voorlangs sit die span van die Moot ook sonder die dienste van haker, Clayton de Bruin, wat sukkel met ‘n enkelbesering, terwyl loskopstut, Jandre de Beer, deur griep platgetrek is. Jadrian Jacobs neem De Bruin se plek op haker in, terwyl Henry Meiring geleentheid kry op loskop.

    “Dit is ‘n moet-wen vir ons. Die seuns besef dit. Ons doelwit was van die begin af om die uitspeelrondes te haal,” het die Oosies se afrigter, Braam Pretorius, gesê.

    In Vanderbijlpark wag daar ook ‘n interessante stryd wanneer Hoërskool Transvalia vir die opwindende Hoërskool Middelburg-span verwelkom.

    Die span van Vanderbijl is mooi op dreef en het verlede naweek gewys dat hulle steeds een van die groot aanspraakmakers op die titel is nadat hulle vir Hoërskool Kempton Park met 50-33 verslaan het. Dit het ook beteken dat Transvalia steeds onoorwonne is in vanjaar se reeks.

    Die Middies het na die wenpad teruggekeer met ‘n puik sege van 22-9 oor Hoërskool Klerksdorp in Middelburg. Middelburg is, saam met Transvalia, een van die gunstelinge om dit tot in die uitspeelrondes te maak. Hulle het nog nét een keer verloor, teen HTS Middelburg (24-31).

    Die spanne:

    Hoërskool Zwartkop t. Hoërskool Oos-Moot om 12:30 in Centurion

    Zwartkop: 15 Justin Julies, 14 Denilson Metcalfe, 13 Kyle Blignaut, 12 Luan Williams, 11 Milton Naudé, 10 Kyle Koopman, 9 Neil Gous, 8 Brian Smith, 7 Leonard Lotriet, 6 Adriaan Janse van Vuuren, 5 Logan Knott, 4 Ettiene van Niekerk, 3 Brogan Ackerman, 2 Dirco la Marque, 1 Julian Lubbe.

    Oos-Moot: 15 Naylan Albertus, 14 Nick Venter, 13 Drew Williams, 12 Dewron Aford, 11 Tapiwa Rwafa, 10 Ruwan Allen, 9 David Joubert, 8 Deon Badenhorst, 7 Wade Williams, 6 Berus van Dyk, 5 Jaydon Botha, 4 Connor de Jager, 3 Christian Smith, 2 Jadrian Jacobs, 1 Henry Meiring.

    Hoërskool Transvalia t. Hoërskool Middelburg om 13:45 in Vanderbijlpark

    Transvalia: 15 Siyabonga Khambule, 14 Dihan Crause, 13 Tshepo Molakeng, 12 Brandonlee Smit, 11 Tumi Moloi, 10 Dylan Steynman, 9 Anro Nagel, 8 Wynand Stols, 7 Daniel Kazambu, 6 Juan Bishoff, 5 Breyton Kruger, 4 Christian Liebenberg, 3 Stiaan Breedt, 2 Jayden McPearson, 1 Arne Botes.

    Hoërskool Middelburg: 15 Andile Mahlangu, 14 Kefilwe Phamotse, 13 Eckard Marx, 12 Lungelo Maseko, 11 Sihle Mkhatswa, 10 Matthew Abbey, 9 Keabetswe Nkgadema, 8 Jabu Mathebula, 7 Khensani Buthelezi, 6 CW Hanekom, 5 Enrico Thompson, 4 Rogan van der Walt, 3 Wandisa Mthombeni, 2 Roux Grobler, 1 Wian Olwagen.

    Hoërskool Klerksdorp t. Hoërskool Kempton Park in Klerksdorp

    Hoërskool Klerksdorp: 15 Winton Abrahams, 14 Louis Vorster, 13 Asif Sumara, 12 Ewald Jansen, 11 Tyran Masango, 10 Deacon Loots, 9 Jared van Staden, 8 GJ Steenberg, 7 Bokamoso Mabeleng, 6 Tiaan Koen, 5 Heinrich Hovener, 4 Abrie Esterhuizen, 3 Liam Pretorius, 2 Janu de Wet, 1 De Wet le Roux.

    Hoërskool Kempton Park (moontlik): 15 Joshua Meyer, 14 Christiaan Kloppers, 13 Tian Aucamp, 12 Tiaan Delport, 11 Ettienne Stroebel, 10 Stian de Villiers, 9 Ryan Smith, 8 Preston Smith, 7 JP Barnard, 6 Armant Botha, 5 Lourens van der Merwe, 4 Louis Mouton, 3 Zander Luckay, 2 Deon Mulligan, 1 Aiden Nepgen.

    Hoër Tegniese Skool Middelburg t. Hoërskool Montana om 13:40 in Middelburg 

    HTS Middelburg: 15 Jaque Stassen, 14 Alex Pretorius, 13 Johnny dos Santos, 12 Anthoni Smuts, 11 CJ Muller, 10 Gerry Gendall, 9 Darius Buytendach, 8 Tercius Bezuidenhout, 7 Johandre Engelbrecht, 6 Toy Engelbrecht, 5 Sam Ndwandwe, 4 Janco Aucamp, 3 Kagiso Gumbi, 2 Jannie Neetling, 1 C-Jay Potgieter.

    Montana: 15 Marq de Villiers, 14 Ryan Nel, 13 Hendrew Schoeman, 12 JF Venter, 11 Sam Schoeman, 10 Daelin Ludick, 9 Braam Schutte, 8 Devan van der Merwe, 7 Richard Botha, 6 Dieter Scheepers, 5 Justin Herbst, 4 Reuben van Hamersveld, 3 Ruan Louw, 2 Luhan Theunissen, 1 Marinus Oberholzer.

  • Arende wil hoog vlieg op die Heuwel

    FOTO: Tap Light Edits

    Die Arende wil hul posisie in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling verstewig voor die Junie-vakansie.

    Geniet al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)

    Daar heers groot opwinding in Krugersdorp in afwagting op die stryd tussen Hoërskool Noordheuwel se Blues en Hoërskool Dr EG Jansen se Arende wat mekaar Saterdagmiddag op die Heuwel pak.

    Die Blues het verlede naweek beïndruk deur hul tradisionele aartsvyand, Hoërskool Monument, al die pad te druk in die jaarlikse Krugersdorp-derby. Hoewel hulle uiteindelik teverede moes wees met ‘n nederlaag van 33-36, kon Nories heelwat positiewes uit die wedstryd neem.

    Een hiervan sou wees dat die pak voorspelers gewys het dat hulle ongetwyfeld met die groter pakke in die afdeling kan meeding. Die Blues se agttal het met rukke en stote hul stempel stewig afgedruk in die skrum en by ‘n paar geleenthede die Witbulle se dieselenjin laat hoes.

    Dit is inderdaad hier waar ‘n titaniese tweestryd Saterdag op die skare in Krugersdorp wag.

    Meyer Opperman, die Blues se loskopstut en kaptein, gaan met sy Arende-eweknie en vaskop, Duwan Potgieter, voorlangs koppe stamp en dit behoort ‘n massiewe armdruk tussen die twee kapteins af te gee. Opperman sal nie op eie houtjie die Jansies se vreesaanjaende voorhoede aanvat nie, met die veelsydige Donovan Breedt, wat ewe tuis op slot of flank is, wat uiters waardevol is met sy hoë werkverrigting.

    Wat die agsteman-stryd betref, sal Nories se Brad Brown, wat in die Goue Leeus se Akademieweekspan opgeneem is, oudergewoonte ‘n prominente figuur in kontaksituasies wees, terwyl Jansies se Storm Labuschagne meer tuis voel in gebroke spel waar hy sy bedrieglike vaart in spasie kan tentoonstel.

    Agterlangs wag ‘n nóg hoogs opwindende duel tussen die buitesenters, met die Nories se SA Skole-verteenwoordiger, Cheswill Jooste, wat teen die Jansies se sewesster, Jeandre Jacobs, te staan kom. Albei is uitstekend op die aanval, met hope vaart en bedrieglike voetwerk, en dus behoort verdediging deurslaggewend te wees in dié tweestryd.

    “Dit is ‘n wedstryd om na uit te sien, en beslis een wat die ander Bekerspanne behoort dop te hou,” het Ian Joubert, die Blues se voorspelerafrigter, gesê.

    “Dit is vernaam belangrik vir ons, asook vir Jansen, om ‘n stewige posisie te probeer vestig voor die breuk. Ons is absoluut buiteperde op hierdie die staduim, maar dis lekker!”

    In Pretoria is die groot vraag of Hoërskool Menlopark moontlik vir Hoërskool Garsfontein kan skok, óf kan die Bere broodnodige ritme herwin?

    Die Garsies het beslis nog nie op alle silinders gevuur nie, hoewel daar belowende tekens was verlede naweek in die tweede helfte teen Hoërskool Marais Viljoen. Daar kort egter nog heelwat skaafwerk indien Garsies hoop om die reeks se uitspeelrondes te haal.

    Die Parkies is nog segeloos en dus sal ‘n oorwinning op Berepark nie alleen ‘n reuse opskudding veroorsaak nie, maar kan dit ook moontlik die keerpunt in hul Noordvaal-veldtog beteken.

    Die spanne:

    Hoërskool Noordheuwel t. Hoërskool Dr EG Jansen om 13:10 in Krugersdorp

    Noordheuwel: 15 Jade Muller, 14 Jenemo Luiters, 13 Cheswil Jooste, 12 Jared Coetzee, 11 Lindsey Jansen, 10 Jeandre Uithaler, 9 Ignatius Jantjies, 8 Brad Brown, 7 Donovan Breedt, 6 Juandré de Villiers, 5 Xander Buytendach, 4 Alex Greeff, 3 Martin Nel, 2 Brendan Naude, 1 Meyer Opperman.

    Dr. EG Jansen (moontlik): 15 Ntokozo Ngobese, 14 Jean-Dre Claassen, 13 Jeandre Jacobs, 12 Steven Williams, 11 Keanu van Loggerenberg, 10 Matthew Bergman, 9 Riekus van der Merwe, 8 Storm Labuschagne, 7 Divan Francis, 6 Zaide-Leigh Rippenaar, 5 Zandre Naudé, 4 Gerhard van Aswegen, 3 Duwan Potgieter, 2 Danre Pike, 1 Zian Marais.

    Hoërskool Garsfontein t. Hoërskool Menlopark om 13:20 in Pretoria

    Garsfontein: 15 Handre Maree, 14 Xian Erasmus, 13 Ruan Enslin, 12 Luann Olivier, 11 Junaide Stuart, 10 Junade Pasensie, 9 Luan Ferreira, 8 Aiden King, 7 Thinus Oosthuizen, 6 JP Pieterse, 5 Jacques Swarts, 4 James Schnetler, 3 Luan van der Berg, 2 Stephan Pretorius, 1 Ethan van Dyk.

    Menlopark: 15 Divan Nel, 14 Reinhardt Herbst, 13 Leskin Samuels, 12 Wynand van Wyk, 11 Ruben Fourie, 10 Andru Kuhn, 9 Gustav Schaffner, 8 JN van Wyk, 7 Justin Lottering, 6 Ruan Strydom, 5 Xander Roets, 4 Keegan Pretorius, 3 Chrisjan Brits, 2 Zander van Staden, 1 Mattheus Prinsloo.

  • Plasies wil Bowl-momentum behou

    Plasies wil Bowl-momentum behou

    Potchefstroom Volkskool is oorgehaal om te vergoed vir hul nederlaag teen Gimmies die afgelope naweek.

    Geniet al die aksie regstreek op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com

    Die Volkies het met 13-30 die aftog geblaas teen hul tradisionele aartsvyande, Potchefstroom Gimnasium, maar is vasberade om hul veldtog in die SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling ‘n hupstoot te gee wanneer hulle vir Merensky Landbou Akademie in Potchefstroom verwelkom.

    Die tuispan het, ongeag die uitslag verlede naweek, aanskoulike hardlooprugby gespeel, maar ongedwonge foute het verhoed dat hulle kon afrond. Dit is iets wat hierdie naweek reggestel moet word.

    Volkies sal inderdaad hul beste voet moet voorsit indien hulle hoop om die span van Tzaneen te troef. Die Ligbloues is na hul eerste twee wedstryde in vanjaar se reeks nog onoorwonne en het gemaklik met Hoërskool Alberton (43-17) en Hoërskool Wagpos (48-18) afgereken.

    Die stryd tussen die twee pakke beloof om sowel aanskoulik as deurslaggewend te wees. Die Plasies se agttal het tot dusver floreer wat die fisieke aspek van die spel betref en sal vroeg reeds, vernaam in die vaste fasette, hul stempel wil afdruk.

    Die Cravenweek-flank, Hardus Terblanche, wat op agtsteman vir die Ligbloues diens doen, sal die aanslag voorlangs lei, terwyl losskakel, Byron Hendricks, wat, nes Terblanche, vir ‘n tweede agtereenvolgende jaar Cravenweek toe gaan, die leisels as generaal in die agterlyn neem.

    In teenstelling met die Plasies se groot pak, beskik die Volkies oor ‘n uiters beweeglike agttal. Agsteman, Dewald Groenewald, het ‘n barshou teen Gimmies gespeel en sal vir Terblanche op sy tone hou. Groenewald sal die nodige ondersteuning ontvang van oopkantflank, Henré Nel, wat baie bedrywig is by die afbreekpunte en in gebroke spel.

    Agterlangs sal die Plasies se middeveld moet bontstaan wanneer Volkies se binnesenter, Ethan Leggat, geleentheid kry om met die bal op loop te sit.

    Hoërskool Eldoraigne sal hul eerste nederlaag in agt jaar teen Hoërskool Zwartkop, in verlede naweek se FNB Classic Clashes-stryd, vinnig moet afskud wanneer hulle een van die gevaarlike nuwelinge in vanjaar se reeks, Hoërskool Randburg, in Centurion die stryd aansê.

    Die span van Centurion het nog nét een van hul drie wedstryde in die reeks, teen Hoërskool Alberton (17-15), gewen, terwyl die span van Randburg reeds in twee uit drie, teen Hoërskool Wagpos (23-14) en Hoërskool Piet Retief (23-18), koning gekraai het.

    Hoërskool Dr. Malan en Hoërskool Wagpos het sake reeds Donderdagmiddag in Meyerton uitgespook. Uitslae volg binnekort.

    Die spanne: 

    Potchefstroom Volkskool t. Merensky Landbou Akademie om 12:20 in Potchefstroom

    Potchefstroom Volkskool: 15 Lourenzo Louw, 14 Wikus van Aswegen, 13 Hennie Pretorius, 12 Ethan Leggat, 11 Berno de Klerk, 10 Johandre Meyer, 9 Juhan Geldenhuys, 8 Dewald Groenewald, 7 Marlu du Preez, 6 Henre Nel, 5 Konrad Pretorius, 4 Altus de Jager, 3 Jaco van der Merwe, 2 Christoff Nel, 1 Daniel Strydom.

    Merensky: 15 Ashten Demons, 14 Andreas Honiball, 13 Jens Bezuidenhout, 12 Maritz Meintjies, 10 Byron Hendricks, 9 JD Boshoff, 8 Hardus Terblanche, 7 PG Botes, 6 Corné Swanepoel, 5 Lukas Pieterse, 4 Craig Walker, 3 Tirelo Mashapa, 2 Ruan Marcos, 1 Ethan Maritz.

    Hoërskool Eldoraigne t. Hoërskool Randburg om 13:20 in Centurion

    Eldoraigne: 15 Manie Buitendag, 14 Hendru van Zyl, 13 Divan van Rooyen, 12 Kevin Earle, 11 Tristan Lee, 10 JP Meyer, 9 Darren Bruwer, 8 Jayden Niehaus, 7 Justin Meintjies, 6 Cameron Killian, 5 Rikus Rheeder, 4 Zander Engels, 3 Jaco Fourie, 2 Marnus Prinsloo, 1 Wian White.

    Randburg: 15 Francois Groenewald, 14 Shandre Vermaak, 13 Quinten Fillies, 12 Hendre Breedt, 11 Charl le Roux, 10 Hendri Oosthuizen, 9 Jayden Todd, 8 Duncan Beaven, 7 Jean Venter, 6 Victor van Blerk, 5 Willie Lindeque, 4 Herman Goosen, 3 Malan van Heerden, 2 Diedelof Fourie, 1 Gastave Vorster.

    Potchefstroom Gimnasium t. Hoërskool Piet Retief om 13:20 in Potchefstroom

    Potchefstroom Gimnasium: 15 PC Schutte, 14 Toks Becker, 13 Lourens Jacobs, 12 Jhanco de Beer, 11 David Ndlala, 10 Justin Oosthuizen, 9 Dian Smith, 8 Elrich Bosch, 7 Morné van Aswegen, 6 Tiardt Vorster, 5 Tobias van Dyk, 4 Bart du Plooy, 3 Jayden Stofberg, 2 Jaco Nel, 1 Cobus van Rooyen.

    Piet Retief: 15 Langelihle Ntuli, 14 Siphosethu Sibisi, 13 Aphiwe Khumalo, 12 Gilles van der Meulen, 11 Vuyani Tshabalala, 10 Owethu Shabalala, 9 Kyle Stock, 8 Christiaan Pienaar, 7 Melo Xulu, 6 SJ van Barendveld, 5 Jaco Klopper, 4 Vusi Nhleko, 3 Louis Grobler, 2 Jandré van Deventer, 1 Sfundo Mayisa.