SSPN Test Site

Author: froberholzer

  • Nories kraai weer koning, máár Wesvalia beïndruk

    FOTO: Marius Nortje

    Hoërskool Noordheuwel is vir die tweede agtereenvolgende jaar as die NWU Prestige-reeks se kampioen gekroon.

    Herleef al die aksie op Supersport Schools. (www.supersportschools.com).

    Die span van Krugersdorp moes egter hard spook om uiteindelik, met 15-11, die knoop deur te hak in die eindstryd teen ‘n begeesterde Wesvalia-span.

    Die twee pakke voorspelers het mekaar behoorlik opgekeil, met die Nories wat uiteindelik net-net genoeg van ‘n oorhand kon verkry. Die ligbloues het, namate die stryd gevorder het, verál in die skrums hulself laat geld.

    Hul kragtige dryfmale het op die ou end ook hul tol geëis, en dit was hoe hulle vir ‘n tweede keer, deur middel van haker, Brendan Naudé, die Wessies se doellyn kon oorsteek.

    Noordheuwel se eerste vyfpunter is deur hul drieëvraat op linkervleuel, Lindsay Jansen, gedruk. Jansen moes hoog strek om ‘n steekskoppie deur losskakel, Jeandre Uithaler, uit die lug te pluk. Uithaler het een drie verdoel en ook met ‘n kritieke doelskop geslaag vir sy span om teen rustyd met 15-8 voor te loop.

    Die Nories moes egter vir ‘n vale verdedig in die tweede helfte, met die Wessies wat die een aanval na die ander geloods het. Die enigste punte na die omdraaislag was ‘n tweede strafdoel deur die Klerksdorpers se binnesenter, Rickardt van Heerden, wat in die eerste helfte misluk het met die doelskop van oopkantflank, Francois Dumond, se drie.

    Hoërskool Marais Viljoen het hul reeks met ‘n puik oorwinning van 37-9 oor Hoërskool Pietersburg afgesluit. Die span van Alberton se agsteman, Rio Tshimbalanga, het die span van Limpopo deurgaans met sy kragtige barslopies geteister, en dit het aan hom ‘n driekuns besorg.

    Hoërskool Rustenburg se staatmakers, Christiaan van der Bergh en Lorenzo Snyers, het uitgeblink in die Rusties se sege van 36-10 oor Hoërskool Hugenote (Springs). Albei was uitstekend op die aanval en is met twee drieë elk beloon, terwyl Snyers ook met ‘n strafdoel geslaag het. Dié duo het gesamentlik 23 punte aangeteken.

    Hoërskool Lichtenburg het aangedui dat hulle gevaarlik kan wees in die Skild-afdeling van vanjaar se SDC Noordvaal Cup. Die Liggies het hul eweknie in dié afdeling, Hoerskool Jeugland, met ‘n telling van 22-5 verslaan, met vaskopstut, JJ Jonker, en die ervare agtsteman, Abrie Coetzee, wat die Liggies se aanslag gelei en elkeen ‘n drie gedruk het.

    Puntemakers: 

    Noordheuwel 15 (15) – Drieë: Lindsay Jansen, Brendan Naudé. Doelskop: Jeandre Uithaler. Strafdoel: Uithaler. Wesvalia 11 (8) – Drie: Francois Dumond. Strafdoele: Rickardt van Heerden (2).

    Marais Viljoen 37 (17) – Drieë: Rio Tshimbalanga (3), Stefan Basson, Dian Scheepers, Tiaan Joubert. Doelskoppe: Rekkie Gerber (2). Skepskop: Gerber. Pietersburg 9 (6) – Strafdoele: Divan Brown (3).

    Rustenburg 36 (24) – Drieë: Christiaan van der Bergh (2), Lorenzo Snyers (2), Jonre Jefthas. Doelskoppe: Jayden Meyer (4). Strafdoel: Snyers. Hugenote (Springs) – 10 (10) – Drie: Luhan Pretorius. Doelskop: Corné Pretorius. Strafdoel: Corné Pretorius.

    Lichtenburg 22 – Drieë: JJ Jonker, John Kleynhans, Abrie Coetzee, Willem van Niekerk. Doelskop: Albert Joubert. Jeugland 5.

  • Eldo-Drake herwin wengevoel

    FOTO: Frans Lombard

    Hoërskool Eldoraigne se Drake het hul weg na oorwinning teruggevind.

    Die span van Centurion het in hul eerste wedstryd van die SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling naelskraaps met 17-15 teen Hoërskool Alberton, in Alberton, geseëvier.

    Die Drake se agtsteman, Jaydon Niehaus, het vroeg reeds toegeslaan om ‘n drie te druk, maar die tuisspan het deurgaans gespook om die lewe vir die besoekers van Centurion moeilik te maak.

    Selfs toe Eldoraigne se ander losvoorspeler, oopkantflank, Rikus Rheeder, ook oorgebars vir ‘n tweede drie, het Alberton steeds geweier om die handdoek in te gooi en het hul losskakel en generaal, Dewald de Jager, kort voor rustyd die Eldo’s se doellyn oorgesteek.

    Die tweede helfte het die toeskouers, en verál die tuisspan se ondersteuners, laat regop sit. Alberton se hardwerkende slot, Kay-C Nel, en regtervleuel, Nathen Reicherdt, het albei vir die Drake onverhoeds betrap om elk ‘n drie te druk.

    Eldo’s se staatmaker, JP Meyer, wat weer in sy gunstelingposisie van losskakel diens verrig het, het in dié naelbytstryd uiteindelik die verskil tussen die twee spanne bewerkstellig met twee doelskoppe en ‘n uiters belangrike strafdoel om slegs Eldoraigne se tweede sege van die jaar te beklink.

    Puntemakers:

    Eldoraigne 17 (14) – Drieë: Rikus Rheeder, SW Liebenberg. Doelskoppe: JP Meyer (2). Strafdoel: Meyer. Alberton 15 (5) – Drieë: Dewald de Jager, Kay-C Nel, Nathen Reicherdt.

    Ander spanne:

    o. 16: Alberton 31, Eldoraigne 26.

    o. 15: Eldoraigne 33, Alberton 0.

    o. 14: Eldoraigne 41, Alberton 0.

  • Jansies wéér Wit Bulle se baas

    FOTO: Tap Light Edits

    Hoërskool Dr. EG Jansen het meer as waarskuwingskote laat klap in hul eerste SDC Noordvaal Beker-kragmeting van die jaar.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools. (www.supersportschools.com)

    Die Jansies het, nes verlede jaar, die Wit Bulle van Hoërskool Monument die loef afgesteek met ‘n telling van 32-15 in Boksburg. Die Boksburgers het verlede jaar óók in Krugersdorp geseëvier.

    Die twee tradisionele vyande het mekaar soos boksers uitgevoel vroeg in die eerste helfte, maar Monnas se linkervleuel, Ernesto Oersen, en buitsenter, Jason Joubert, het daarna vir die besoekers uit die blokke gekry met twee vinnige drieë.

    In teenstelling hiermee het die tuisspan ‘n rukkie geneem om aan die gang te kom, en dit was uiteindelik hul woelwaterflank, Divan Francis, wat met sy terugkeer die ys vir die Jansies kon breek. Gerhard van Aswegen, die Arende se slot, het kort daarna ook oorgebars om sake gelyk te laat trek met 10-10 teen rustyd.

    Die tweede 35 minute het geheel en al aan die tuisspan behoort. Die Arende het daarin geslaag om die wedstryd te dikteer en weereens gewys dat hulle op hul gemaklikste, en gevaarlikste, is wanneer die spel oopgemaak word.

    Daardeur het hulle vir die Wit Bulle deurentyd onder druk geplaas, in die besoekers se helfte geboer en nóg drie keer agter die span van Krugersdorp se doellyn gaan kuier. Die laaste hiervan was Van Aswegen se welverdiende drie, bykans vanuit sy eie halfgebied.

    Helpmekaar Kollege was ook té sterk vir hul gashere, Hoërskool Menlopark, in Pretoria. Die Johannesburgers het uiteindelik met ‘n telling van 31-19 vergoed vir hul nederlaag van verlede naweek.

    Die Helpies se agterlyn was vir die eerste keer vanjaar op hul stukke, met Michael Benzien op losskakel en die twee jongelinge, Clinton Cloete en Ty Ax, aan sy buitekant. Voorlangs het die vaskopstut, Ulrich van der Merwe, sy aanspraak op die nr. 3-trui van die Leeus se Cravenweekspan verder versterk.

    Divan Nel, wat vandeesweek op linkervleuel in plaas van heelagter vir die Parkies diens gedoen het, was ongetwyfeld die span Pretoria se uitblinker, en is beloon met een van sy span se twee drieë.

    Verder af met die N1 het ‘n goed afgeronde spanvertoning deur Hoërskool Waterkloof aan hulle ‘n wegholoorwinning van 61-17 oor Hoërskool Nelspruit besorg.

    Agtsteman, Marko Kok, en buitsenter, Riwan van Aswegen, het vir die soveelste keer vanjaar uitgeblink. Van Aswegen was verál genadeloos om swakplekke in die Nellies se verdediging uit te buit en het twee keer die doellyn oorgesteek.

    Losskakel, Franco Cronje, het weer beïndruk met sy korrelwerk pale toe en agt van sy span se nege drieë met gemak verdoel.

    Puntemakers:

    Dr. EG Jansen 32 (10) – Drieë: Gerhard van Aswegen (2), Divan Francis, Duwan Potgieter, Juandre Jacobs. Doelskop: Matthew Bergman. Strafdoel: Bergman. Monument 15 (10) – Drieë: Ernesto Oersen, Jason Joubert, Taslien Guyan.

    Helpmekaar 31 (19) – Drieë: Ula van der Merwe, Molatsi Moloi, Tiaan le Roux, Pieter Moller, Zaiden Krige. Doelskoppe: Michael Benzien (3). Menlopark 19 (5) – Drieë: Divan Nel, Declan Pleser. Doelskoppe: Reinhardt Herbst, Logan Botha.

    Waterkloof 61 (35) – Drieë: Riwan van Aswegen (2), Ruan Jacobs (2) Marko Kok, Divan Botha, Migael Prinsloo, Franco Cronje. Doelskoppe: Franco Cronje (8). Nelspruit 17 (12) – Drieë: Regard Vermaak, Ronaldo van Rensburg, Lindane Ndela. Doelskoppe: Theuns Meyer.

    Ander spanne:

    o. 16: Monument 45, EG Jansen 31; Menlopark 11, Helpmekaar 10; Nelspruit 24, Waterkloof 18.

    o. 15: Monument 21, EG Jansen 12; Menlopark 24, Helpmekaar 19; Waterkloof 18, Nelspruit 15.

    o. 14: Monument 17, EG Jansen 7; Helpmekaar 46, Menlopark; Waterkloof 15, Nelspruit 11.

  • Moeilike taak wag op Eldo-Drake in Alberton

    Hoërskool Eldoraigne se Drake het beslis nie ‘n maklike taak wat wag wanneer hulle Saterdag in die SDC Noordvaal Cup se Bowl-afdeling weg teen Hoërskool Alberton te staan kom nie.

    Die span van Centurion beleef tot dusver ‘n strawwe seisoen en kon nog slegs een keer wen, met 17-12 teen Hoërskool Ben Vorster.

    Die Drake se breiers, Naas Botha en Deon Anderson, is egter positief dat die moeilike pad tot nou, nog vrugte in vanjaar se reeks sal afwerp.

    Die span van Alberton het self ‘n moeilike reeks in 2023 beleef en was selde aan die wenkant. Hulle sal egter onder leiding van die nuwe en ervare breier, Bobby McLeod, glad nie te versmaai wees nie en verál daarop uit wees om die lewe by die afbreekpunte moeilik te maak vir die Drake.

    Agsteman, Jay-Cee Nienaber, en die woelige steelkantflank, Luke Joubert, sal aan die spits van hul aanslag wees, met die twee wat sal wil voortbou op hul effektiewe spelpeil tot op hede. Agterlangs sal alle oë op heelagter, Ayanda Madekane, en die gevaarman in die middeveld, Sipho Sibanyoni, wees, met die hoop dat hulle die nodige vonk vir Alberton kan verskaf.

    Die Eldo’s sal heel verlig wees dat hul staatmaker op binnesenter, Ian Bosch, sy terugkeer maak na ‘n ligte besering wat hy vroeër in die NWU Sportreeks opgedoen het. Dit beteken dat die generaal en skerpskutter, JP Meyer, sy gunstelingposisie op losskakel kan ineem.

    Voorlangs maak die hardwerkende, SW Liebenberg, ook sy terugkeer aan die steelkant van die skrum, terwyl Jaydon Niehaus, wat nog aan die begin van die jaar op loskopstut diens verrig het, die nr. 8-trui sal aantrek.

    Die spanne: 

    Hoërskool Alberton t. Hoërskool Eldoraigne om 12:20 in Alberton

    Alberton: 15 Ayanda Madekane, 14 Nathen Reicherdt, 13 Sipho Sibanyoni, 12 Ewan Muller, 11 Carlos Madjiet, 10 Dewald de Jager, 9 Thando Baloi, 8 Jay-Cee Nienaber, 7 Luke Joubert, 6 Amogelang Tokwe, 5 Herman du Preez, 4 Kay C Nel, 3 Marre, 2 Xander Schoeman, 1 Levi Louw.

    Eldoraigne: 15 Manie Buitendag, 14 Hendru van Zyl, 13 Ivan Vermeulen 12 Ian Bosch, 11 Tristan lee, 10 JP Meyer, 9 Darren Bruwer, 8 Jaydon Niehaus, 7 SW Liebenberg, 6 Rikus Rheeder, 5 Zander Engels, 4 MC Scheepers, 3 Jaco Fourie, 2 Marnus Prinsloo, 1 Wihan White.

  • Nories jag opeenvolgende NWU Prestige-titels

    FOTO: Frans Lombard

    Dit gaan ‘n Dawid-teen-Goliat-stryd afgee in die eindstryd van vanjaar se NWU Prestige-reeks, wanneer Hoërskool Noordheuwel Saterdag poog om hul titel teen Hoërskool Wesvalia in Potchefstroom te verdedig.

    Die span van Krugersdorp is verlede jaar as die kampioen gekroon nadat hulle vir Hoërskool Oos-Moot, wat vanjaar in die NWU se Sportreeks deelgeneem het, met ‘n telling van 27-17 in die eindstryd verslaan het.

    Noordheuwel is na ‘n nederlaag teen Hugenote (Springs) in die eerste ronde, verder onoorwonne, en die afrigtingspan, bestaande uit Stefan Lourens en Ian Joubert, sal hoop dat hul span nie oor die laaste hekkie struikel nie. Dit sal egter ‘n reuse poging van die span van Klerksdorp verg om die Krugersdorpers te stuit.

    Dit is verál die ligbloues se agterlyn wat vir Wesvalia op hul tone sal hou. Die gedugte duo van buitesenter, Cheswill Jooste, en linkervleuel, Lindsay Jansen, sal fyn dopgehou moet word.

    Daar is egter nog ‘n gevaar wat stil-stil besig is om sy merk te maak. Die Nories se regtervleuel, Kean Steyn-Shaw, beleef tot dusver ‘n skitterende seisoen en sal Saterdag daarop wil voortbou.

    Voorlangs sal die slot, Xander Buytendach, en woelige agtsteman, Brad Brown, weer onder die grootmanne woel. Buytendach het goeie ritme begin vind in die laaste paar wedstryde en sal met sy fisiekheid die vuur stook, terwyl Brown se barslopies in gebroke spel een van Nories se vernaamste wapens is om op die voorvoet te kom.

    Daar sal van Wesvalia se ster op steelkantflank, Francois Dumond, verwag word om die twee te probeer tem. Dumond se uithouvermoë en werkverrigting herinner aan Kwagga Smith, maar hy sal nie op eie houtjie die Norie-pak aandurf nie. Haker, Junior Kuhn, sal hom met groot ywer bystaan.

    Agterlangs sal heelwat staatgemaak word op die spelskepper en skerpskutter, Rickardt van Heerden, om enige swakplekke in die Norie-verdedeging uit te buit. Van Heerden kan ook met sy skopskoen die telbord aan die rol hou.

    Hoërskool Pietersburg het self ‘n Goliat om te verslaan, wanneer hulle in die uitspeelwedstryd vir die derde plek teen Hoërskool Marais Viljoen te staan kom. Die span van Limpopo sal versigtig wees vir die manne van Alberton, aangesien ‘n gekweste Marais Viljoen uiters gevaarlik kan wees.

    Die Pieties is egter nie te versmaai nie en beskik oor die vermoë om op die dag teen enigiemand ‘n opskudding te veroorsaak.

    Die twee pakke sal mekaar behoorlik toets, maar dis agterlangs waar die stryd gewen of verloor kan word. Marais Viljoen se kaptein en losskakel, Rekkie Gerber, sal graag sy span terug na die wenpad toe wil lei, maar sal lugtig wees vir die Pieties se generaal, Celliers van der Merwe, wat sedert hy by die beseerde Vincent Luckoff oorgevat het, van krag tot krag gegaan het.

    Die spanne: 

    Hoërskool Noordheuwel t. Hoërskool Wesvalia om 15:30 in Potchefstroom

    Noordheuwel: 15 Jade Muller, 14 Kean Steyn-Shawe, 13 Cheswill Jooste, 12 Jared Coetzee, 11 Lindsey Jansen, 10 Jeandre Uithaler, 9 Gideon Diederichs, 8 Brad Brown, 7 Christiaan Delport, 6 Mpho Madisasaotsile, 5 Xander Buytendach, 4 Donovan Breedt, 3 Martin Nel, 2 Brendan Naudé, 1 Meyer Opperman.

    Wesvalia: 15 Fafa Calitz, 14 Justin Adams, 13 Jeandre Snyman, 12 Rickardt van Heerden, 11 Kyle Botes, 10 Eduard Dreyer, 9 Chad Homeyer, 8 Hanre Venter, 7 Francois Dumond, 6 Joshua Pieters, 5 Alden Jacobz, 4 Franco Dumond, 3 Bernard Swanepoel, 2 Junior Kuhn, 1 Ulrigh du Preez.

    Hoërskool Marais Viljoen t. Hoërskool Pietersburg om 14:00 in Potchefstroom

    Marais Viljoen: 15 Tyron Bouw, 14 Tiaan Joubert, 13 Brandon Els, 12 Claudo do Couto, 11 Devin Raubenheimer, 10 Rekkie Gerber, 9 Weon van der Vyver, 8 Rio Tshimbalanga, 7 Dian Scheepers, 6 Stefan Basson, 5 Bjorn Pieterse, 4 JD Labuschagne, 3 Sifiso Shongwe, 2 Rynier Welgemoed, 1 Clayton Gagiano.

    Pietersburg: 15 Brydan Retief, 14 Lerich Duba, 13 Siya Mahlangu, 12 Zuan Langman, 11 AJ Loots, 10 Celliers van der Merwe, 9 Divan Brown, 8 Hardus Otto, 7 Tiaan Vermeulen, 6 Juan Jansen van Vuuren, 5 AJ de Beer, 4 Etienne van Jaarsveldt, 3 Elardus Erasmus, 2 JP Mostert, 1 Floris Venter.

    Hoërskool Rustenburg t. Hoërskool Hugenote (Springs) om 12:30 in Potchefstroom

    Rustenburg (moontlik): 15 Tiano Combrink, 14 Christiaan van der Berg, 13 Lorenzo Snyers, 12 Hendre Robinson, 11 Zulu Khumalo, 10 Jayden Meyer, 9 Adriano George, 8 Coenraad Coetzer, 7 Wicus Jacobs, 6 MC Smit, 5 Pedrie Human, 4 Erich Potgieter, 3 Xander Benedetti, 2 Xavier Steenkamp, 1 Janco Pretorius.

    Hugenote (Springs) (moontlik): 15 George Loucas, 14 Musa Mahlangu, 13 Ruan van Biljon, 12 Dylan Nel, 11 Thanyani Mokiri, 10 Corné Pretorius, 9 Tiaan Smit, 8 Hendrik Eybers, 7 Tyron Hand, 6 Arne Marais, 5 Xavier Ungerer, 4 Anthony SMith, 3 Diaan Pretorius, 2 Luan Pretorius, 1 Henré Oosthuizen.

    Hoërskool Jeugland t. Hoërskool Lichtenburg om 11:00 in Potchefstroom

    Jeugland (moontlik): 15 Thando Ngomane, 14 Jetao Jooste, 13 Sinenhlanhla Ndlovu, 12 Ruan Steenkamp, 11 Oregopots Shilubane, 10 King Aganzo, 9 Ruan Worst, 8 Alec Mohlala, 7 Jose Ngoma-Ngoma, 6 Lebo Letlala, 5 Sharon Nsenda, 4 Shammah Nsenda, 3 Khumo Maimane, 2 Siyanda Mbwanwa, 1 Lesego Moitse.

    Lichtenburg: 15 Luan Snyman, 14 Tyrell Schalkwyk, 13 Dundre Dempers, 12 Oratile Sekoto, 11 Rea Motsusi, 10 Albert Joubert, 9 Willem van Niekerk, 8 Abrie Coetzee, 7 Tiaan Booysen, 6 Kgolagano Legodi, 5 John Kleynhans, 4 GJ Malan, 3 JJ Jonker, 2 Eddie du Preez, 1 Donovan Rosato.

  • Wit Bulle wil bordjies in Boksburg verhang

    FOTO: Marius Nortje

    Die amptelike Wit Bulle van Krugersdorp is oorgehaal om hierdie naweek die bordjies in Boksburg te verhang.

    Volg al die aksie reegstreeks op SuperSport Schools. (www.supersportschools.com).

    Hoërskool Monument lek hul lippe af om vir Hoërskool Dr. EG Jansen van hul eie medisyne uit te deel, wanneer die twee spanne Saterdag in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling in Boksburg swaarde kruis.

    Monnas moes verlede jaar, teen alle verwagtinge in, die knie op tuisbodem buig met ‘n telling van 17-41. Die Jansies het met aanskoulike hardlooprugby geseëvier en ‘n mens kan verwag dat die Boksburgers vanjaar dieselfde resep sal wil volg.

    Dit is verál die Arende se agterlyn wat ‘n groot gevaar vir die besoekers inhou. Heelagter, R-Jay Petersen, maak sy terugkeer nadat hy verlede naweek ‘n blaaskans in die Jansies se wedstryd teen Oos-Moot geniet het. Sy teenwoordigheid, tesame met dié van hul puntemasjien op buitesenter, Juandre Jacobs, behoort die Wit Bulle vir die volle 70 minute besig te hou.

    Voorlangs maak die Arende se hardwerkende steelkantflank, Divan Francis, ook sy terugkeer. Francis en sy losvoorspelermaats, Zaide-Leigh Rippenaar (oopkantflank) en Storm Labuschagne (agtsteman), sal die lewe vir die besoekers by die afbreekpunte wil moeilik maak.

    Daar wag egter ‘n taamlike taak op die trio en die res van die Jansies se pak aangesien dit voorlangs is waar Monnas se krag lê. In hul sege van 31-25 oor Helpmekaar Kollege verlede naweek in Johannesburg was niemand meer indrukwekkend as slotte, Luhan Swart en Jacques Botha, met hul reuse duikslae en begeesterde barslopies nie.

    Monument sal voorts hoop dat hul losskakel, Justin Viljoen, weer sy skopstewels inpak. Viljoen se akkurate korrelwerk pale toe het ‘n groot aandeel in sy span se oorwinning oor die Helpies gehad en kan weer Saterdag deurslaggewend wees.

    Viljoen beskik voorts oor die vermoë om vir die gevaarmanne aan sy buitekant, vernaam linkervleuel, Ernesto Oersen, spasie te skep.

    Hoërskool Menlopark ontvang in hul eerste wedstryd van die jaar se SDC Noordvaal Cup vir Helpmekaar Kollege in Pretoria. Die Parkies lek nog wonde na hul nederlaag met 8-23 teen Hoërskool Waterkloof in die NWU Sportreeks-eindstryd, maar sal vasberade wees om op hul vertoning in verlede jaar se Beker-afdeling te verbeter.

    Die besoekers moes noodgedwonge ‘n hele paar veranderinge aan die span, wat teen Monument verloor het, aanbring. Losskakel en skerpskutter, Wian Storm, loop hierdie naweek se kragmeting mis. Michael Benzien skuif van binnesenter na losskakel, met Clinton Cloete wat op binnesenter inval.

    Voorlangs vervang Eugene de Lange vir die beseerde Christiaan Tonkin op slot, terwyl Liam Devenier geleentheid kry op loskopstut in die plek van Dylan Engelbrecht.

    Hoërskool Waterkloof skop sy reeks af teen die gevaarlike Hoërskool Nelspruit. Albei spanne, veral die Klofies, het reeds vanjaar beïndruk met hul ondernemende spel.

    Die tweestryd in die middeveld tussen Klofies se Happy Makate (binnesenter) en Riwan van Aswegen (buitesenter) en Nellies se Divan de Kock (binnesenter) en Ian Wood (buitesenter) is beslis een om na uit te sien, vernaam indien dié senterpare daarin kan slaag om spasie aan die buitekant te bewerkstellig.

    Die spanne: 

    Hoërskool Dr. EG Jansen t. Hoërskool Monument om 12:25 in Boksburg 

    EG Jansen: 15 R-Jay Peterson, 14 Jean-dre Claassen, 13 Juandre Jacobs, 12 Steven Williams, 11 Keanu van Loggerenberg, 10 Matthew Bergman, 9 Riekus van der Merwe, 8 Storm Labuschagne, 7 Divan Francis, 6 Zaide-Lee Rippenaar, 5 Zandre Naudé, 4 Gerhard van Aswegen, 3 Duwan Potgieter, 2 Danre Pike, 1 Zian Marais.

    Monument (moontlik): 15 Hanu Fourie, 14 Kealan Milton, 13 Jason Joubert, 12 Theuns du Plooy, 11 Ernesto Oersen, 10 Justin Viljoen, 9 Hanno du Toit, 8 Vincent Roberts, 7 RJ Barnard, 6 Jamaal Feldman, 5 Luhan Swart, 4 Jacques Botha, 3 Juandre Marais, 2 Keenean Myners, 1 Wikus Meyer.

    Hoërskool Menlopark t. Helpmekaar Kollege om 12:30 in Pretoria

    Menlopark (moontlik): 15 Divan Nel, 14 Reinhardt Herbst, 13 Ruben Fourie, 12 Leskin Samuels, 11 Stefan van Nieker, 10 Andru Kuhn, 9 Gustav Schaffner, 8 Rocco Myburgh, 7 JN van Wyk, 6 Nathen du Plessis, 5 Xander Roets, 4 Keagan Pretorius, 3 Phillip du Plessis, 2 Declan Pelser, 1 Mattheus Prinsloo.

    Helpmekaar: 15 Tiaan le Roux, 14 Delano Maritz, 13 Ty Ax, 12 Clinton Cloete, 11 Pieter Moller, 10 Michael Benzien, 9 Tristan van Nieker, 8 Motlatsi Moloi, 7 Darius Haasbroek, 6 Ziaden Krige, 5 Juan-Pierre Lombaard, 4 Eugene de Lange, 3 Ulrich van der Merwe, 2 Gustav Grotius, 1 Liam Devenier.

    Hoërskool Waterkloof t. Hoërskool Nelspruit om 12:30 in Pretoria 

    Waterkloof: 15 Ronan Bastiaanse, 14 Malcolm George, 13 Riwan van Aswegen, 12 Happy Makate, 11 Dennis Obi, 10 Franco Cronje, 9 Migael Prinsloo, 8 Marko Kok, 7 Lendrey Janse van Vuuren, 6 Divan Botha, 5 Alrich Uys, 4 Stephan de Beer, 3 Jedri Swart, 2 Ruan Jacobs, 1 Juan Gouws.

    Nelspruit: 15 Theuns Meyer, 14 Jordan Pretorius, 13 Ian Wood, 12 Divan de Kock, 11 Tinyiko Silubane, 10 John Duncan, 9 Liam Pringle, 8 Vaughn van Zyl, 7 Banele Ngwenya, 6 Prosper Chillione, 5 Ronaldo van Rensburg, 4 Andre Smit, 3 Gert Cloete, 2 Regard Vermaak, 1 Lindane Ndlela.

  • Rolyn Bergsig-aksie het Rustenburg aan die gons

    Die Rolyn Bergsig-sportfees beloof om vanjaar weer twee dae van aksiebelaaide rugby op te lewer. Die jaarlikse fees skop op Maandag, 29 April, in Rustenburg af.

    Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools. (www.supersportschools.com).

    Daar is vanjaar heelwat nuwe gesigte wat hul verskyning by die fees maak. Hoërskool Koster, Hoërskool Overkruin en Hoërskool Centurion is drie van die nuwelinge wat aan die toernooi deelneem.

    Afrikaanse Hoër Seunskool se Rooiharte en Geelkobras, onderskeidelik die Pretorianers se derde en vierde spanne, sal ook in aksie wees.

    Die Rooiharte kom in hul eerste wedstryd teen verlede jaar se suksesvolste span, Hoërskool Ben Vorster, van Tzaneen, in die hoofwedstryd op dag een te staan. Die span van Tzaneen was in 2023 onkeerbaar en het die week onoorwonne afgesluit met seges oor Jim Fouché (38-31), Hoërskool Randburg (22-16) en Parel Vallei (20-8).

    Hoërskool Koster skop die week teen Bergsig se tweede span, beter bekend as die Hawks, af, terwyl Hoërskool Overkruin deur Hoërskool Die Wilgers getoets sal word en die span van Centurion met Hoërskool Rob Ferreira swaarde kruis.

    Die gashere se eerstespan sal eers op dag twee vir die eerste keer in aksie wees, aangesien die Eagles ‘n blaaskans geniet na hul kragmeting Vrydag teen Hoër Tegniese Skool John Vorster.

    Hulle sal in die toernooi se laaste wedstryd teen Rob Ferreira te staan kom. Die twee spanne het mekaar verlede jaar ook gepak, met die Rustenburgers wat uiteindelik, na ‘n titaniese stryd, met 12-10 as oorwinnaars uit die stryd getree het.

    Nog ‘n nuwe gesig, Hoërskool Wonderboom, sal uitsien om hul strukture verder te toets teen Affies se vierde span, die Geelslange, op die eerste dag .

    Dag 1 bepalings: Maandag, 29 April, 2024

    A-Veld

    11:25 – Bergsig Hawks t. Koster
    12:45 – Overkruin t. Die Wilgers
    14:10 – Wonderboom t. Affies (Geelkobras)
    15:35 – Rob Ferreira t. Centurion
    18:00 – Ben Vorster t. Affies (Rooiharte)

    B-Veld

    12:00 – o. 15 – Bergsig B t. Koster A
    13:00 – o. 14 – Die Wilgers t. Affies E
    14:00 – o. 15 – Ben Vorster t. Affies C
    15:00 – o. 16 – Centurion t. Affies C
    16:00 – o. 16 – Bergsig t. Affies D

    C-Veld

    13:00 – o. 14 – Affies C t. Ben Vorster
    14:00 – o. 14 – Affies D t. Bergsig
    15:00 – o. 14 – Noordheuwel Charlies t. Centurion
    16:00 – o. 15 – Affies D t. Centurion

    Dag 2 bepalings: Woensdag, 1 Mei, 2024

    A-Veld

    08:30 – Bergsig Hawks t. Rustenburg Rugby Akademie
    10:00 – Affies (Geelkobras) t. Die Wilgers
    11:30 – Ben Vorster t. Centurion
    13:00 – Wonderboom t. Linden
    14:30 – Overkruin t. Affies (Rooiharte)
    16:00 – Bergsig Eagles t. Rob Ferreira

    B-Veld

    09:00 – o. 14 – Linden t. Affies E
    10:00 – o. 14 – Ben Vorster t. Centurion
    11:00 – o. 15 – Affies D t. Die Wilgers
    12:15 – o. 16 – Affies C t. Overkruin
    13:30 – o. 16 – Die Wilgers t. Affies D
    14:50 – o. 16 – Centurion t. Linden

    C-Veld 

    09:00 – o. 15 – Ben Vorster t. Centurion
    10:00 – o. 14 – Noordheuwel Charlies t. Die Wilgers
    11:00 – o. 14 – Affies D t. Linden
    12:00 – o. 14 – Bergsig t. Affies C
    13:00 – o. 15 – Affies C t. Bergsig

  • Nories en Wesvalia in NWU Prestige-eindstryd

    FOTO: Frans Lombard

    Hoërskool Noordheuwel en Hoërskool Wesvalia sê mekaar vanjaar die stryd aan in die eindstryd van die NWU Prestige-reeks.

    Noordheuwel het uithalerspel gelewer om hul eweknie in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling, Hoërskool Marais Viljoen, met 44-13 pak te gee in die Prestige-reeks se een halfeindstryd.

    Nories se agtsteman, “Big Brad” Brown, het die aanslag gelei en, soos hy dikwels deur die loop van die seisoen gedoen het, die span van Alberton se verdedigers knaend op die agtervoet gedruk met sy genadelose dryfspel.

    Brown, wat hand opsteek om later vanjaar die Goue Leeus by die Cravenweek te verteenwoordig, is met twee drieë beloon.

    Die Nories-pak het as ‘n eenheid die grondslag gelê vir skrumskakel, Ignathius Jantjies, om die gevaarlike agterlyn, waaroor die Krugersdorpers beskik, los te laat. Hul twee drieëvrate, Lindsay Jansen (linkervleuel) en Cheswill Jooste (buitesenter), het elk ‘n verdere vyfpunter op hul onderskeie kerfstokke geplaas, terwyl Jantjies self ook gedruk het.

    Hoërskool Wesvalia het hul plek in die eindstryd teen die Nories met ‘n oortuigende sege van 30-17 oor Hoërskool Pietersburg verseker. Die Pieties was teen rustyd nog aan die stuur van sake en het ‘n voorsprong van 12-6, te danke aan drieë deur skrumskakel, Divan Brown, en linkervleuel, Dustin Terblanche, geniet.

    ‘n Driekuns aan drieë deur die span van Klerksdorp se steelkantflank, Francois Dumond, het egter ‘n ommeswaai in momentum bewerkstellig, met Wesvalia wat vir die span van Pietersburg daarna deurentyd onder knaende druk geplaas het. Binnesenter, Rickardt van Heerden, se skopskoen het oudergewoonte ook ‘n rol gespeel, en hy het met twee doelskoppe en twee strafdoele die telbord laat aanhou rol.

    Hoërskool Hugenote van Springs se agtsteman, Hendrik Eybers, en haker, Luan Pretorius, het elk ‘n tweekuns behaal in hul span se oorwinning van 45-26 oor Hoërskool Jeugland. Die tuisspan se voorspelers het die oorhand voorlangs geniet, met ál vyf drieë, insluitende een, deur slot, Xavier Ungerer, wat deur die grootmanne voor aangeteken is.

    Hoërskool Rustenburg het met slegs ‘n enkele punt oor Hoërskool Lichtenburg geseëvier, met losskakel, Jayden Meyer, se skopstewel die enigste verskil tussen die spanne van Noordwes. Dié uitslag sou egter heelwat vertroue vir die Liggies ingeboesem het, in die aanloop tot hul veldtog in die Noordvaal se Skild-afdeling wat voorlê.

    Puntemakers: 

    Noorheuwel 44 (33) – Drieë: Brad Brown (2), Jared Coetzee, Cheswill Jooste, Ignathius Jantjies, Lindsay Jansen, Jeandé Uithaler. Doelskoppe: Uithaler, Jade Muller. Stafdoel: Uithaler. Marais Viljoen 13 (3).

    Wesvalia 30 (6) – Drieë: Francois Dumond (3), Justin Adams. Doelskoppe: Ricardy van Heerden (2). Strafdoele: Van Heerden (2). Hoërskool Pietersburg 17 (12) – Drieë: Divan Brown, Dustin Terblanche, Hanno van Zyl. Doelskop: Divan Brown.

    Hugenote (Spings) 45 (30) – Drieë: Hendrik Eybers (2), Luan Pretoius (2), Xavier Ungerer. Doelskoppe: Corne Prinsloo (4). Strafdoele: Prinsloo (4). Jeugland 26 (21).

    Rustenburg 31 – Drieë: Jayden Meyer, Dirk Huisamen, Hendre Robinson, Janre Jefthas, Zulu Khumalo. Doelskoppe: Jayden Meyer (3). Lichtenburg 30 – Drieë: Eddie du Preez (2), Tiaan Booysen, JJ Jonker.

  • Die Anker herwin ritme, Potch Gimmies roer Monties

    ‘n Kapteinsbeurt deur Die Anker se kaptein, Ruben Herbst, het gehelp dat die span van Brakpan stadig maar seker momentum begin opbou vir die res van die seisoen.

    Herbst, wat reeds vir die tweede jaar op agsteman vir die span van Brakpan diens doen en ook die span vanjaar aanvoer, het sy stempel met sy kragtige lopies op die aanval afgedruk.

    Hy het gewoeker in sy span se sege van 32-10 oor Hoërskool Zwartkop, in die voorlaaste ronde van die NWU Prestige-reeks.

    Herbst en slot, Gerhard Oosthuizen, het elk ‘n tweekuns behaal, terwyl haker, Siya Shongwe, die heerskappy voorlangs voortgesit en verseker het dat al vyf Die Anker se drieë, met ‘n vyfpunter van sy eie, deur die groot manne voor gedruk is.

    Potchefstroom Gimnasium se linkervleuel, Toks Becker, het, met die hope spasie wat vir hom aan die buitekant geskep is, ook met ‘n tweekuns uitgeblink in sy span se spogsege van 39-22 oor Hoërskool Montana.

    Dit was egter ‘n goed afgeronde spanpoging deur die Gimmies, wat na ‘n  splinternuwe span gelyk het namate hulle verdere sout in die Monties se wonde gevryf het met nóg vyf drieë.

    Deacon Loots, Hoërskool Klerksdorp se losskakel, het persoonlik 20 van sy span se punte, wat twee drieë ingesluit het, aangeteken in dié se wegholoorwinning van 52-13 oor Hoërskool Oosterlig. Regtervleuel, Yuran Malete, was ewe indrukwekkend het, nes Loots, ‘n tweekuns behaal.

    Heidelberg Volkskool se Kayle Venter het oudergewoonte ‘n sleutelrol gespeel om ‘n naelskraapse oorwinning van 19-15 oor Potchefstroom Volkskool te verseker. Venter het ‘n drie en twee doelskoppe bygedra, wat op die ou end die verskil tussen die twee spanne beteken het.

    Puntemakers: 

    Die Anker 32 (17) – Drieë: Ruben Herbst (2), Gerhard Oosthuizen (2), Siya Shongwe. Doelskoppe: Ruan Smith (2). Strafdoel: Smith. Zwartkop 10 (10).

    Potchefstroom Gimnasium 39 (10) – Drieë: Toks Becker (2), Dian Smith, Jhanco de Beer, David Ndlala, Lourens Jacobs, PC Schutte. Doelskoppe: Jean Groenwald (2). Montana 22 (3) – Drieë: Daelin Ludick, Martin Venter, JF Venter. Doelskoppe: Ruwald Goosen (2). Strafdoel: Goosen.

    Klerksdorp 52 (21) – Drieë: Deacon Loots (2), Yuran Malete (2), Tiaan Swanepoel, Leonard van Rhyn, Strafdrie. Doelskoppe: Deacon Loots (5). Oosterlig 13 (13) – Drie: Joel Jordaan. Doelskop Jaydon Bouwer. Strafdoel: Bouwer.

    Heidelberg Volkskool 19 (7) – Drieë: Kayle Venter, Stefan Botha, Christopher Makgongoane. Doelskoppe: Kayle Venter (2). Potchefstroom Volkskool 15 (10) – Drieë: Juhan Geldenhuys, Wikus van Aswegen, Lorenzo Louw.

     

  • Nellies met twee punte, danksy Tinyiko-tweekuns

    FOTO: Frans Lombard

    Die Nellies en Rooibulle het gesorg vir hope opwinding in Centurion.

    Herleef al die aksie op SuperSport Schools. (www.supersportschools.com).

    Hoërskool Nelspruit se Rhinos en Hoër Tegniese Skool Middelburg het albei die krane oopgedraai in die laaste ronde van die NWU Sportreeks, met die span van die Laeveld wat uiteindelik die smaak van ‘n naelbyt- dog soet sege van 36-34 oor die Rooibulle kon smaak.

    Nellies se linkervleuel, Tinyiko Silubane, het weer bewys dat hy nie ‘n vreemdeling vir die doellyn is nie. Die sneller het nóg twee drieë op sy reeds indrukwekkende kerfstok vanjaar geplaas.

    Agtsteman, Vaughn van Zyl, het sy aanspraak op die nr. 8-trui van die Pumas by vanjaar se Cravenweek verder verstewig, en het uitgeblink met verál sy kragtige dryfspel.

    Dit was egter ‘n wedstryd van twee helftes. Nadat hulle ‘n agterstand van 15-26 met die omdraaislag in die gesig gestaar het, het die Rooibulle daarin geslaag om in die tweede skof die momentum in hul guns te laat swaai.

    Die span van Middelburg het, nes ‘n paar weke gelede teen EG Jansen, die bal agterlangs begin lug gee en 19 punte aangeteken om die Nellies die skrik op die lyf te jaag.

    Binnesenter, Johnny dos Santos, losvoorspeler, Toy Engelbrecht en haker, Hanro Terblanche, het uitgeblink. Die trio het die Nellies dikwels met doelgerigte lopies onkant betrap en is elk met ‘n drie beloon.

    Hoërskool Transvalia het die gashere van die dag, Hoërskool Eldoraigne, ‘n loesing van 76-7 toegedien. Die span van Vanderbijlpark het nie minder nie as 12 keer die Eldo-Drake se doelgebied geplunder.

    Binnesenter, Brandonlee Smit, was aan die spits van die aanslag met ‘n driekuns, terwyl Tumi Moloi (linkervleuel), Wynand Stols (agtsteman) en Dihan Crouse (regtervleuel) elk ook dubbele driedruk-genot geniet het.

    Hoërskool Middelburg het ‘n waarskuwing aan toekomstige teenstanders in vanjaar se SDC Noordvaal Cup se Plaat-afdeling gerig, deur met verlede jaar se finaliste van die NWU Sportreeks, Hoërskool Kemptonpark, met 40-12 af te reken.

    Puntemakers:

    Nelspruit 36 (26) – Drieë: Tinyiko Silubane (2), Divan de Kock, Ian Wood, Theuns Meyer, Vaughn van Zyl. Conversions: Divan de Kock (3). HTS Middelburg 34 (15) – Drieë: WJ Enslin, Hanro Terblanche, Johnny dos Santos, Toy Engelbrecht, Strafdrie. Doelskoppe: Jaque Stassen (3). Strafdoel: Stassen.

    Transvalia 76 (43) – Drieë: Brandon Lee Smit (3), Tumi Moloi (2), Wynand Stols (2), Dihan Crause (2), Jayden McPearson, Anro Nagel, Siyabonga Khambule. Doelskoppe: Dylan Steyman (5), Bernardt van Wyk (3). Eldoraigne 7 (0) – Drie: Ian Bosh. Doelskop: JP Meyer.

    Hoerskool Middelburg 40 – Drieë: Sihle Mkhatshwa, Lungelo Maseko, Jacques Greyling, CW Hanekom, Jabu Mathebula, Keabetswe Nkgadema. Doelskoppe: Matthew Abbey (5). Kempton Park 12 – Drieë: Deon Mulligan (2). Doelskop: Tiaan Delport.

    Ander uitslae: 

    o.16: Menlopark 17, Kempton Park 16 (eindstryd); EG Jansen 24, Nelspruit 17; Middelburg 16, Transvalia 9; Waterkloof 39, Oos-Moot 25; Eldoraigne 19, HTS Middelburg 15.

    o.15: Middelburg 20, EG Jansen 12 (eindstryd); Menlopark 28, Waterkloof 21; Oos-Moot 29, Transvalia 17; Nelspruit 28, Kempton Park 14; Eldoraigne 18, HTS Middelburg 17.

    o.14: Kempton Park 17, Middelburg 15 (eindstryd); Transvalia 11, Nelspruit 8; Oos-Moot 16, EG Jansen 10; Waterkloof 17, Menlopark 5; Eldoraigne 10, HTS Middelburg 3.