SSPN Test Site

Author: chmerwe

  • Duineveld bewus van die sterk kompetisie by DStv Schools Challenge

    Duineveld bewus van die sterk kompetisie by DStv Schools Challenge

    Die opgewondenheid is tasbaar soos netbal-entoesiaste gereed maak vir die hoogs verwagte DStv Schools Challenge, wat van 21 tot 23 Julie by Hoërskool Florida in Roodepoort, plaasvind.

    Die toernooi is bekend vir sy intense kompetisie, wat die beste netbalspanne van regoor die land bymekaar bring. Onder hulle staan Hoërskool Duineveld, die heersende kampioene van die netballiga in die Noord-Kaap.

    Nadat Duineveld die gesogte titel verwerf het, is Duineveld deeglik bewus daarvan dat die DStv Schools Challenge ‘n heel nuwe balspel is.

    Duineveld se grootste uitdaging is die gedugte opponente, die Afrikaanse Hoër Meisieskool van Pretoria.

    Nie te min, spog Duineveld met besonderse talent, die sterspeler Joané Visser wat uitstaan as ‘n krag om mee rekening te hou.

    Joané se insluiting in die Telkom Netball Championship 0/18 Top 35 oefengroep, demonstreer haar bekwaamheid op die baan.

    Sy sal ook ‘n ongelooflike mylpaal bereik tydens die DStv Schools Challenge, wanneer sy haar 100ste wedstryd vir Duineveld se 1ste span speel.

    Aan die hoof van stuur is hul bekwame hoofafrigter, Madré Steyn en die ervare afrigter, Riana Becker, staan haar by.

    In die poelfases bevind Duineveld hulself in poel F saam met mededingers, insluitend Bainsvlei, Makgafe, Afrikaans Hoër Meisieskool, Nelspruit en Khanyo.

    Duineveld skop Vrydag hul eerste wedstryd  af teen Bainsvlei om 10:00, gevolg deur ‘n kragmeting teen Khanyo om 13:20 en  Makgofe om 17:20.

    Saterdag se hoogtepunt vir Duineveld is ongetwyfeld hul ontmoeting teen die gedugte Affies om 11:20.

     

     

  • Oranje Meisieskool: Die span om dop te hou, die heersende kampioene

    Oranje Meisieskool: Die span om dop te hou, die heersende kampioene

    Met die DStv School Netball Challenge om die draai, is alle oë is op die merkwaardige Oranje Meisieskool, die heersende kampioene van verlede jaar.

    Die  toernooi, wat van 21 tot 23 Julie by Hoërskool Florida plaasvind, is hul laaste geleentheid om hul uitsonderlike netbalvernuf hierdie seisoen ten toon te stel.

    Oranje wat met twee graad 10-spelers, vyf graad 11-spelers en drie graad 12-spelers spog, is ook as kampioene van die Motheo-netballiga gekroon, nadat hul buurskool, Sentraal uit die finaal onttrek het.

    Die span mik om op ‘n hoë noot te eindig, veral vir hul drie matriekspelers: die toegewyde senter en kaptein, Karla Victor, Roline Louw, die vaardige hulpdoel, en Minke Delport, ‘n bedrewe doelspeler.

    ‘n Ongelooflike mylpaal is op 16 Junie deur Minke en Roline behaal toe hulle hul 100ste wedstryd saam vir die span gespeel het.

    Terwyl hulle die vermoëns van hul teenstanders erken, word elke wedstryd wat hulle speel met die grootste erns benader, aangesien hulle mik na oorwinning in elke ontmoeting. Hierdie vurige vasberadenheid en honger na triomf maak die kompetisie beide aangenaam en uitdagend.

    Om spesifieke spelers uit te sonder raak moeilik weens die algehele sterkte van die span. Oranje spog met ‘n paar uitsonderlike talente, soos Karla Victor, wat reeds op 16-jarige ouderdom die SA o/20-span verteenwoordig het en nou in Julie die SA-Fast 5-span gaan verteenwoordig. Sy is ook kaptein van die span.

    Roline Louw het haar plek in die top 35 o/18-span verdien, terwyl haar suster, die anvallende vleuel, Mariaan Louw, deel was van die top 12 o/16-span in Suid-Afrika. Die talentvolle Minke Delport bring haar merkwaardige vaardighede doelpaal toe.

    Die afrigtingspan speel ‘n belangrike rol in die koestering van die span se talente.

    Corné Marais en Burta de Kock is sedert 2021 aan die stuur en het hul kundigheid uit vorige afrigtingsrolle gebring. Hulle was vir baie jare onderskeidelik spanbestuurder en afrigter van die Vrystaat en Kovsies se senior spanne.

    Karlien Jansen van Vuuren sorg as spanbestuurder dat alles op en van die baan goed verloop, terwyl Marelise Wilcon, die fisioterapeut,  ‘n deurslaggewende rol speel om die spelers fiks en gereed te hou vir die uitdagings wat voorlê.

    Oranje bevind hulself in poel B, saam met Shayamoya, Joe Slovo, Tsosoloso, Secunda en Mamzomtombo.

    Die bepalings vir die naweek is vasgestel, met wedstryde Vrydag teen Secunda om 08:00, Shayamoya om 13:20 en Joe Slovo om 15:20.

    Saterdag pak hulle Tsosoloso om 10:00.

     

     

  • Eunice wil hul merk los by DStv Schools Challenge

    Eunice wil hul merk los by DStv Schools Challenge

    Hoërskool Eunice van Bloemfontein staan hoog as een van die land se top netbalspanne. Hierdie naweek, vanaf die 21ste tot die 23ste Julie, is hulle gereed om deel te neem aan die hoogs verwagte DStv Schools Challenge by Hoërskool Florida in Roodepoort, wat ‘n opwindende drie dae van intense kompetisie sal wees.

    Terwyl hulle voorberei vir die toernooi, weet die span van Bloemfontein dat hulle teen van die beste netbaltalent in die land te staan sal kom en hulle gaan die toernooi in sonder spesifieke verwagtinge rakende die uitslae.

    Elke wedstryd wat hulle speel, sal hanteer word asof dit die belangrikste wedstryd van die toernooi is. Hulle doelwit is nie net om te wen nie, maar ook om hul merk op die toernooi te los.

    Hul grootse kompetisie tydens die toernooi is verlede jaar se kampioene, Oranje Meisies Skool, ook van die Rosestad, asook die skole van Gauteng.

    Uitblinkers in die span en verseker spelers om dop te hou, is die doel, Tarien van der Linde, wat onlangs ‘n plek in die gesogte Top 12, o/17-SA groep verwerf het. Annemé Kruger, die hoofverdediger, is nog ‘n kragpilaar vir Eunice, wat die Mangaung O19-span tydens die Telkom Netball Championship verteenwoordig het.

    Khanyisa Chawane, ‘n vooraanstaande figuur in netbalkringe en afrigter van Eunice, sal egter nie die span na die toernooi vergesel weens haar verpligtinge by die Spar Protea-netbalspan tydens die Wêreldbekertoernooi.

    Assistent-afrigter, Kgoboso Monyobo, sal die span van die kantlyn ondersteun en met jare se ondervinding as die Vrystaat-afrigter vir verskeie spanne sal sy goeie waarde toe die span toevoeg.

    Die hoof van die span se bestuur is Natasha Jansen van Vuuren, die toegewyde hoof van Eunice-netbal, wat sorg dat alles glad van die baan af verloop.

    Hoërskool Eunice bevind hom in poel A, saam met ander topskole soos Gelofte, Potchefstroom Gimnasium, Vosloorus, Oasis en Friersdale.

    Die poel is ongetwyfeld ‘n uitdagende een, maar die span is gereed om elke teenstander met vasberadenheid aan te durf.

    Die toernooi skop Vrydag om 08:00 af, met Eunice wat in die eerste wedstryd teen Friersdale te staan kom. Later die dag het hulle hul kragmetings teen Gelofte om 14:00 en Potchefstroom Gimnasium om 16:40. Saterdag ontmoet hulle Oasis om 8:40, wat hul laaste poelwedstryd sal wees.

     

     

  • Hoër Meisieskool Paarl onderskat geen span by die DStv Schools Challenge

    Hoër Meisieskool Paarl onderskat geen span by die DStv Schools Challenge

    Paarl GH

    Die DStv Schools Challenge skop hierdie naweek van 21 tot 23 Julie by Hoërskool Florida af, en een span wat die netbalkringe beindruk het, is die Hoër Meisieskool Paarl-span.

    Hulle het hulself by die Wildeklawer-toernooi bewys toe hulle van aangesig tot aangesig met die gedugte Affies-span in die finaal te staan gekom het, en as die naaswenners geëindig het. Ten spyte hiervan het hul uitmuntende vertoning op die baan ‘n blywende indruk op toeskouers en mededingers gelaat.

    Die span is dankbaar vir die geleentheid om aan hierdie gesogte toernooi deel te neem en verstaan die belangrikheid van elke wedstryd, met erkenning van die strawwe kompetisie wat hulle in die gesig staar en hulle besef om enige span te onderskat ‘n ernstige fout sal wees.

    Van die sterspelers om dop te hou tydens die toernooi is Kyla Dames en Emma Swan, wat albei ook vir die o/18-SA-groep gekies is.

    Kyla Dames, in die besonder, is erken vir haar uitstekende prestasie as die beste senterbaanspeler by die Telkom Netball Challenge-toernooi en sy is ook as die beste speler by Wildeklawer aangewys.

    Marli Visagie, afrigter van die span, speel ‘n deurslaggewende rol in die span se sukses. Carine Schultheiss tree op as spanbestuurder en Christille Blom, die span se fisioterapeut, is verantwoordelik om die spelers deur die veeleisende toernooi in top fisiese toestand te hou.

    Hoër Meisieskool PaarL bevind hulle in poel D, saam met mededingers soos Thakamiso, Pietersburg, Iketletso, Curro Shoshunguve en Framesby.

    Hul eerste wedstryd teen Framesby sal Vrydag om 9:20 wees. Daarna het hulle nog twee wedstryde vir die dag teen Curro Shoshunguve om 11:20 en Thakamiso om 14:40.

    Saterdag is hul laaste wedstryd van die poelfases teen Iketletso om 10:40.

     

  • Beserings sal Hoërskool Despatch nie onderkry nie

    Beserings sal Hoërskool Despatch nie onderkry nie

    Soos die DStv School Netball Challenge van die naweek nader kom, is netbalgeesdriftiges vol opgewondenheid.

    Onder die skole wat gereed maak vir die die toernooi, is Hoërskool Despatch vasbeslote om hul beste vertoning te lewer ten spyte van uitdagings, insluitend beserings.

    Die toernooi, wat van 21 tot 23 Julie plaasvind, word by Hoërskool Florida in Roodepoort aangebied, wat drie dae van opwindende netbalaksie beloof.

    Despatch beskou elke wedstryd as ‘n trappie wat hulle nader aan die toppunt van sukses bring. Paarl Gimnasium is hul grootste teenstander, maar hul hoop om ‘n plek onder die Top 10-skole in die land te behaal na die toernooi.

    Despatch spog met drie uitsonderlike spelers wat die potensiaal het om te skitter in die toernooi.

    Anke Britz, die doelskieter, is bekend vir haar merkwaardige akkuraatheid, veral wanneer sy doele van ‘n afstand af doel. Haar vaardigheid en akkuraatheid maak haar ‘n aanwins vir die span.

    Elke Erasmus, die veelsydige vleuelverdedigingsspeler, is een van die skool se beste spelers nog. Haar vermoë om by verskeie posisies aan te pas en sterk ondersteuning as ‘n hulpdoel te bied, versterk die span verder.

    In die senterposisie skitter Nicole Snyman as ‘n uitstaande middelveldspeler. Haar lengte en spoed is waardevolle eienskappe wat aansienlik bydra tot die span se algehele prestasie.

    Die hoofafrigter, Theresa Prince, is ‘n gerespekteerde internasionale skeidsregter met ‘n indrukwekkende meer as 100 internasionale wedstryde wat sy al geblaas het. Carmen Barnard, wat ook die plaaslike klub afrig, staan haar by en bied haar kennis en ervaring om die span te help uitblink.

    Op die poelfase sal Despatch teen teenstanders soos Sentraal, Kgapamadi, Sempapa, Phahama en Paarl Gimnasium meeding.

    Hulle sal Vryda, op die eerste dag van die toernooi, teen Paarl Gimnasium om 08:40 en Phahama om 14:40 speel. Hulle pak Saterdag om 10:00 Sempapa en hul laaste poelwedstryd sal om 12:00 teen Sentraal wees.

     

     

  • Hoërskool Framesby mik vir Top 10 by DStv School Netball Challenge

    Hoërskool Framesby mik vir Top 10 by DStv School Netball Challenge

    Die hoogs verwagte DStv School Netball Challenge skop hierdie naweek vanaf 21ste tot die 23ste Julie by Hoërskool Florida in Roodepoort af – ‘n opwindende kompetisie tussen van die beste netbalspanne in die land.

    Onder die skole wat meeding om glorie in die DStv School Netball Challenge, staan Hoërskool Framesby, van die Oos-Kaap, hoog op as ‘n aanspraakmaker in hierdie gesogte toernooi.

    Met hul visier daarop om onder die top 10 te eindig, is die span van Framesby gretig om hul talent ten toon te stel en sal hul grootste uitdaging sal na verwating Paarl Girls High wees.

    ‘n Uitblinker in die Framesby-span en verseker ‘n speler om dop te hou, is die doel, Leila Nel, wat gedurende die vakansie as die tweede beste doel op Telkom Netball Championship aangewys is.

    Agter die skerms speel Carina O’Niell ‘n deurslaggewende rol as die span se bionetikus en Charmaine Beetge as die span se afrigter wat die spelers lei en motiveer om op hul beste te presteer.

    Framesby is deel van Poel D vir die nasionale eindronde, waar hulle teen formidabele teenstanders te staan kom. Die poel sluit in Thakamiso van die Vrystaat, Hoërskool Pietersburg van Limpopo, Iketletso van die Noordwes-provinsie, Curro Shoshunguve van Gauteng en Paarl Girls’ High van die Wes-Kaap.

    Framesby sal Vrydag om 09:20 in ‘n uitdagende ontmoeting teen Paarl Girls’ High te staan kom asook teen Thakamiso om 12:40 en Curro Shoshungu om 14:40.

    Saterdag sal hulle Iketletso om 10:00 op die baan pak en hul laaste poelwedstryd sal om 13:20 teen Pieterburg wees.

    Die kompetisie beloof om intens te wees, met elke span wat meeding vir ‘n kans om hul plek in die uitklopfases te verseker.

  • Diamantveld se Du Raan ‘n ware diamant vanuit Douglas op die netbalbaan

    Diamantveld se Du Raan ‘n ware diamant vanuit Douglas op die netbalbaan

    Mari du Raan

    Mari du Raan (17) van Hoërskool Diamantveld in Kimberley, is gekies om deel te wees van Suid-Afrika se o.18A Fast 5-netbalspan by die komende Statebondspele.

    Hierdie plattelandse meisie kom uit ‘n klein boeregemeenskap, Douglas, en het nog altyd besonderse talent op die netbalbaan getoon.

    Nadat Du Raan vir die eerste keer op die ouderdom van ses ‘n netbalbal opgetel het, het sy nog altyd ‘n plek in haar skool se eerstespan verseker, en haar vasberadenheid het daartoe gelei dat sy ‘n deurslaggewende speler in die span geword het.

    Gedurende haar gr. 10-jaar is sy as die hoofdoel van die skool se eerstepan gekies.

    Fast 5-netbal, ‘n opwindende variant van die sport, wyk af van die tradisionele formaat deur die aanvallende vleuel en die verdedigende vleuel van die baan uit te sluit.

    Slegs vyf posisies is op die baan, en die unieke reëls en puntestelsel maak dit ook opwindend.

    In Fast-5 tel doele vanaf verdere afstande meer punte, met een punt toegeken vir doele binne die doelsirkel en drie punte vir doele wat buite die sirkel gedoel word.

    Du Raan is opgewonde oor haar eerste oorsese ervaring en sien uit om haar land op ‘n internasionale vlak te verteenwoordig.

    Sy beskou dit as ‘n geweldige eer en ‘n droom wat waar geword het.

    Du Raan se netbalreis is reeds merkwaardig, en sy was ook in 2022 in Suid-Afrika se o.17A-span ingesluit.

    ‘n Span van twaalf spelers is uit die SA o/17- en o/18-spanne gekies gevolg deur verdere proewe, na ‘n oefenkamp, om die finale groep te bepaal.

    Du Raan was onder die tien uitsonderlike spelers wat gekies is om hul land met trots oorsee te verteenwoordig.

    Haar droom is om eendag vir die Protea-netbalspan te speel, asook ook om ‘n rolmodel vir aspirant-netbalspelers te word. Sy hoop om ander te inspireer om hul drome na te streef en te wys dat wanneer jy in jouself glo, enigiets moontlik is.

    In Du Raan se opkoms na sukses het die onwrikbare ondersteuning van haar ouers, Leonrad en Mariaan, ‘n belangrike rol gespeel. Hulle staan trots op die kantlyn en skree vir hul dogter se prestasies. Du Raan erken sonder hul liefde en aanmoediging sou sy nie die groot hoogtes in haar netballoopbaan bereik het nie.

    Magda Myburg, Du Raan se netbalafrigter by Hoërskool Diamantveld, was sedert sy by Diamantveld begin het, ‘n ware rolmodel vir haar.

    Boonop erken Du Raan die onskatbare bydrae van haar kondisioneringsafrigter, Leon van Blerk. Danksy sy leiding en harde werk kan Du Raan ten alle tye op haar beste op die baan presteer.

  • Oranje sal veg om hul titel as Vrystaat-kampioene te behou

    Oranje sal veg om hul titel as Vrystaat-kampioene te behou

    FOTO: Oranje Facebook-blad

    Die Hoër Meisieskool Oranje van Bloemfontein sal Vrydag hul kampioen-titel verdedig wanneer hul Hoopstad in hul eerste wedstyd vir die Vrystaatbeker 2023 speel.

    Die kampioenskappe word op 16 en 17 Junie in Odendaalsrus aangebied.

    Oranje is as die 2022-kampioene gekroon nadat hulle Sentraal in die eindstryd gewen het.

    Oranje, wat ook teen Eunice, Witteberg en Wilgevrivier sal speel, het hul plek in die kampioenskappe verseker nadat hulle as die Motheo-ligawenners gekroon is.

    In ’n onverwagse wending was die finaal van die Motheo-liga weens onvoorsiene omstandighede gekanselleer.

    Oranje het as die kampioene uit die stryd getree nadat Sentraal, hul gedugte opponente, weens siekte en beserings onder hul spanlede aan die eindstryd moes onttrek.

    Tralies, wat hierdie jaar as die FNB Classic Clashes-wenners gekroon is nadat hul Jim Fouche 35-28 gewen het, sal ook tydens die kampioenskappe in aksie wees en in hul poelwedstryde Goudveld, Teto, Voortekker en Sasolburg die styd aan sê.

    Die halfeindstryde sal Saterdag 10:30 plaasvind waarna die eindstryd om 14:10 sal wees.

    Die voorste twee spanne per ouderdomsgroep tydens die uitspele dring deur tot die DStv Schools Challenge.

    Die vyf spanne wat dit sal uitveg in Poel A is Wilgerivier, Hoopstad, Oranje, Witteberg en Eunice.

    In Poel B sal Sasolburg, Goudveld, Sentraal, Voortrekker en Teto teen mekaar meeding.

    Die spanne is:

    Motheo-streek

    Oranje: Mari Nortje, Roline Louw, Cara Smith, Marianne Louw, Karla Victor (kaptein), Minke Delport, Amy Fröhlich, Marguerite Cronje, Jessica Barnard, Marilet Blom.

    Hoërskool Sentraal: Nicola van der Wath, Wilmie Rust, Chene de Villiers, Marli van der Merwe, Danita du Plessis, Izanne van Aswegen, Chareze van der Merwe, Dani Nienaber, Keevy-Ann Fourie, Elbé van der Merwe.

    Eunice: Lee-Ann Usher, Keren Usher, Carmen du Plessis (kaptein), Carli de Jager, Kgoboso Monyobo, Busisiwe Zulu, Tarien van der Linde, Annemè Kruger, Daniella Hugo, Irene Struwig en Mienke Esterhuyse

    Fezile Dabi-streek

    Hoërskool Wilgerivier: Lana Smit, Anieke Fritz, Marli Loggenberg, Elsabè Claasen, Tianè Steyn (kaptein), Susan Fourie, Danicia Groenewald, Su-mari Erasmus

    Hoërskool Sasolburg: Cindy Nhlapo, Bokamoso Khota, Hope Mabilu, Anzel Ferreira, Khanyi Phehlukwayo, Lize Meyer, Shané Pretorius, Martha Banutelo.

    Dihlabeng-streek

    Voortrekker: Chloe Opperman, Elizbe Heyns, Anke Heyns, Jasmine Liebenberg, Heili Pretorius, Siba Booi, Lykie Jonck, Celri Botha, Karli van Niekerk

    Witteberg: Tharina O’Connor, Katleho Mokhina, Ziané Lottering, Querida Ackeer, Lesedi Motaung, Sharmell Nkomo, Zinathi Matshotyana, Leozé Lottering, Jané de Villiers

    Lejweleputswa-streek

    Goudveld-Hoërskool: Atli Molaoa, Ruane Jansen van Vuuren, Nonnie Mjaliswa, Ilke de Klerk, Nadia Myburg, Levi Oehley, Britney Wasyliszyn, Hailey Harker, Ashley Wasyliszyn

     

     

     

  • Hier is die Noord-Kaap-uitspele in die DStv Schools Challenge se rolspelers

    Hier is die Noord-Kaap-uitspele in die DStv Schools Challenge se rolspelers

    Hoërskool Diamantveld is vanjaar die gunsteling om weer as die nommer een netbalspan by die Noord-Kaap netballiga uitspele gekroon te word.

    Hul sal egter eers ‘n paar aanslae van hul mededingers moet afweer wanneer die top netbalskole in die Noord-Kaap op 16 en 17 Junie aan die uitspele in Upington deelneem.

    Kyk regstreeks na die aksie op SuperSport Schools www.supersportschools.com.

    Diamantveld is in 2022 as die kampioen gekroon nadat hulle Duineveld met 25-22 in die eindstryd geklop het.

    Diamantveld het ‘n uitstekende netbalseisoenv tot dusver beleef en vroeër vanjaar vir die vyfde agtereenvolgende jaar vir Hoërskool Noord-Kaap by die Classic Clashes met ‘n telling van 33-28 geklop.

    Diamantveld het ook vir Hartswater 44-11 verslaan, terwyl Hartswater op hul beurt vir Noord-Kaap met 22-12 gewen. Hierdie oorwinning plaas Hartswater in die tweede possie en Noord-Kaap in die derde possie van die Frances Baard-streek wat aan die uitspele gaan deelneem.

    In die ZF Mgcawu-streek het Duineveld, Upington en Hoërskool Martin Oosthuizen (HMO) van Kakamas tot die uitspele deurgedring.

    Duineveld het vanjaar skoonskip teen Upington met ‘n telling van 42-25 gemaak tydens die FNB Classic Clashes.

    Duineveld was in sy laaste vier van sy vyf Clashes-kragmetings teen Uppies aan die wenkant nadat die twee spanne in 2019 gelykop gespeel.

    Duineveld het HMO, wat die streek in die derde plek verteenwoordig, 49-8 pak gegee.

    Uit die John Taolo Gaetsewe-streek sal Kalahari en Kathu hul staal tydens die uitspele ten toon stel terwyl Douglas en Prieska die Pixley-streek verteenwoordig.

    Die voorste twee spanne per ouderdomsgroep tydens die uitspele dring deur tot die DStv Schools Challenge.

    Frances Baard-streek:

    Hoërskool Diamantveld: Mari du Raan, Anushka Hugo (onderkaptein), Valmari Faber, Carmen Louw, Anliné Brunette (kaptein), Lara van Niekerk, Alexa Cox, Amoré Rosant, Elé Kruis, Timney Greyling.

    Hoërskool Noord-Kaap: Jayden Mapanka, Sasha Oliver, Jenna Lee le Roux, Tayla-Anne Abrahams, Megan de Villiers (kaptein), Charnique Faarland (onderkaptein), Theetso Peme, Kganya Molefe, Tlotla Seretse

    Hoërskool Hartswater: Tezlyn Blom, Anjelle Carroll, Liancke de la Rey, Miallse du Toit, Anchen Duvenhage, Liza Engelbrecht, Demunke Fourie, Lana McKenzie, Nina Snyman, Rene van Niekerk

    ZF Mgcawu-streek:

    Hoërskool Duineveld: Chane Steyn, Sylene Terblanche (kaptein), Joane Visser, Sumarie van Deventer, Tersian Oberholzer, Rone van Zyl, Janie Visser, Abrielle de Witt, Zanelle Brink, Carmi Liebenberg

    Hoërskool Upington: Riana Oberholzer, Cameron Gilbert, Ipeleng Molokwane, Yonta de Koker, Gilly-Ann Titus, Elizna Scheepers, Lee-Chandré van Wyk, Vivi Mbiza, Kayla du Plessis, Mischa Geldenhuys

    Hoërskool Martin Oosthuizen: Joré Wessels, Brigitte Wessels, Connie Springbok, Gracelen Matthys, Jazzlynn Louw, Ilene van Niekerk, Lizmari Kruger, Mauneeze Cloete, Jassleen Kavula, Karin Penny, Erin Kordom, Frans-Janien Jansen van Rensburg

    John Taolo Gaetsewe-streek:

    Hoërskool Kalahari: Zethè Jospeh, Marilie Kotzé (kaptein), Lieze Rossouw, Keila Fourie, Shanay Kriek, Kaitlin Hoops (onderkaptein), Beate Lubbe, Lené Slabbert, Nadene Kasper, Ansheila Oosthuizen.

    Hoërskool Kathu: Tseko Bonokwane, Leago Mokomele, Lemogang Tsinyane, Ashlynn Majola, Olorato Dipone, Kaylim Ebrahim, Sharike Rossouw, Matlogonolo Molomo en Gontle Tsinyane

    Pixley-streek:

    Douglas: Chanè Steenkamp, Caretha Nel, Anke Taljaard, Mila Visser, Lanthe Jansen (kaptein), Celine Scholtz, Nicci le Roux, Minè de Winnaar, Cailin Nel, Johandri Visser.

    Prieska: La-Rochelle Kruger, Merice Smith, Maurique Nyl, Caylene Van Wyk, Kris-Mari Zeelie, Zaricia Badenhorst, Andrea Booisen, Emma Hescock, Mariam Williams.

  • Amper al die rolspelers vir vanjaar se Vrystaatbeker bekend

    Amper al die rolspelers vir vanjaar se Vrystaatbeker bekend

    Amper al die rolspelers van vir vanjaar se Vrystaatbeker is bekend.

    Die Hoër Meisieskool van Oranje is die vroeë gunsteling om die kroon te dra, maar sal eers op 16 en 17 Junie in Odendaalsrus ‘n hele paar aanslae van die ander voorste netbalskole in die provinsie moet afweer. Oranje is boonop ook die verdedigende kampioen en het ook vanjaar die kroon as kampioen van die Motheo-liga gedra.

    Oranje is egter as kampioen gekroon na die Hoërskool Sentraal se eerstespan weens siekte nie sy plek in die Motheo-liga se eindstryd kon inneem nie. Die Tralies is sedert die onstaan van die Vrystaatbeker in 1984 die mees suksesvolste span in die kompetisie. Oranje was in sy laaste vier kragmetings teen die Tralies aan die wenkant.

    Die verdedigende kampioen het vroeër vanjaar vir Sentraal in hul Motheo-ligawedstryd met 40-29 geklop. Eunice se eerstespan sal ook vanjaar in die Vrystaatbeker in aksie as Motheo se derde kwalifiseerder wees.

    In die Fezile Dabi-streek het Wilgerivier van Frankfort en die Hoërskool Sasolburg tot die Vrystaatbeker deurgedring. Die Wilgies het vanjaar in die Fezile Dabi vir die Hoërskool Trio (48-17) en Hoërskool Sasolburg (38-30) verslaan.

    Die uitspele vir die Lejweleputswa-streek vind op 9 en 10 Junie plaas. Hier is Goudveld-Hoërskool, Welkom Gimnasium en Teto High in ‘n stryd gewikkel vir die twee plekke vir die Vrystaatbeker-uitspele. Gouties het vroeër vanjaar tydens hul jaarlikse interskole teen Welkom Gimnasium met 50-22 as oorwinnaars uit die stryd getree.

    Uit die Dihlabeng-streek sal die twee kragte van Bethlehem – Voortrekker en Witteberg hul staal tydens die Vrystaatbeker toon.

    Xhariep se verteenwoordiger op die Vrystaatbeker sal waarskynlik Landboudal van Jacobsdal wees.

    Die voorste twee spanne per ouderdomsgroep tydens die Vrystaatbeker dring deur tot die SA Topskole-kampioenskap.