SSPN Test Site

Author: chmerwe

  • Upington durf nuwe seisoen met jong span aan

    Hoërskool Upington: Kayla du Plessis, Liebe Karsten, Lané Esterhuizen, Anria Oberholzer, Jenique Matthys, Raquel Raman, Cara Fourie, Lida Louw, Mari-Alet van Zyl en Amé Kotzé.

    Hoërskool Upington word beskou as een van die voorste netbalskole in die Noord-Kaap.

    Met ‘n rekord wat boekdele spreek, het die skool se eerstespan deurgaans opslae gemaak op sowel provinsiale as nasionale vlak.

    Verlede seisoen was geen uitsondering nie. Die eerstespan het ‘n tweede plek in die provinsie behaal. Dit het vir hulle deelname verseker in die Nasionale Kampioenskappe, waar hulle in die 22ste posisie geëindig het.

    Ten spyte van die uitdagings van ‘n jong span, onder leiding van afrigters Christine Esterhuizen en Marlize Botha, strek die span se primêre doelwit verder as bloot om oorwinnings te behaal. Met slegs een matriekleerder in die span, fokus hulle daarop om die potensiaal van elke speler te verwesenlik en ‘n stewige grondslag vir toekomstige sukses te lê.

    Uppies sien Hoërskole Duineveld en Diamantveld as hul twee vernaamste teenstanders binne die streek, in hul strewe om vanjaar die top-posisie in die provinsie te behaal.

    Die span spog met talentvolle spelers, waaronder Liebe Karsten wat verlede die Top-35 o. 16-spelerslys gehaal het.

    .

     

     

     

     

  • Aksiebelaaide Wesgrow-naweek lê voor

    Aksiebelaaide Wesgrow-naweek lê voor

    WesgrowLiga‘n Aksiebelaaide sportnaweek, met spanne van agt verskillende skole wat gereed maak om teen mekaar mee te ding as deel van die Wesgrow Sentrale Sportreeks, lê voor.

    Die wedstryde, wat agt skole van die Vrystaat en Noord-Kaap betrek, vind op verskeie dorpe in die onderskeie streke plaas.

    Die Wesgrow-reeks dien as ‘n platform vir jong atlete om hul talente ten toon te stel, sowel as om kameraadskap onder skole te bevorder

    Hoërskool Sentraal pak Hoërskool Witteberg om 12:20 in Bethlehem op Baan 1, terwyl Hoërskool Jim Fouché om 11:10 teen Goudveld-Hoërskool in Welkom, ook op Baan 1, te staan kom.

    Hoërskool Diamantveld meet met Hoërskool Trio kragte om 11:10 op Baan 1 in Kroonstad, terwyl Voortrekker Hoërskool en Hoërskool Fichardtpark mekaar die stryd aansê in Bethlehem om 13:30 op Baan 1.

    Elkeen van hierdie kragmetings beloof om hope opwinding en mededinging op te lewer, namate die onderskeie spanne streef na baasskap op die netbalbaan.

    Benewens die kompetisie, bevorder die Wesgrow Sentrale Sportreeks die gees van eenheid en samewerking, wat gemeenskappe bymekaar bring deur die gedeelde liefde vir sport.

  • JF en Witteberg pak mekaar op netbalbaan

    Hoërskool Jim Fouche: Lesedi Sebiloane, Elri Pieters, Zandria Bastone, Lindsey Neveling, Jenilee Kotze, Ansune Humphries, Dimpo Totola, Jana Rossouw, Roechelle van der Merwe.

    Hoërskool Jim Fouche (JF) en Hoërskool Witteberg sê mekaar môre die stryd aan op die netbalbaan, as deel van die Wesgrow Sentrale Sportbyeenkoms.

    Die wedstryd vind Dinsdag 12 Maart om 12:30 by JF se sportterrein in Bloemfontein plaas.

    Volgens Roechelle van der Merwe, kaptein van JF, is haar span vasberade om vanjaar uiters mededingend te wees, en verál oorgehaal om moremiddag alles in die stryd te werp.

    Dit beloof nietemin om ‘n titaniese netbalwedstryd af te gee.

    Witteberg se afrigters, Carin Ackerman en Olga du Toit, het ‘n absolute passie vir sowel netbal as kinders, en hul vernaamste doel is om terug ploeg na die jonger generasie toe.

    Volgens Ackerman is Witteberg vreeslik opgewonde oor alles wat die span vanjaar wil bereik, en kan hulle nie wag vir die seisoen om te begin nie.

    “Juis daarom sien ons geweldig uit na more se kragmeting,” voeg Du Toit by.

    “Ons besef dat dit ‘n taai stryd sal wees, teen sterk opposisie soos JF, maar ons sal ons bes gee tot die einde. Ons sien uit na die uitdaging.”

    Hoërskool Witteberg se span: Ina-Marie Pierce, Jane de Villiers, Jaylene Douglas, Leoze Lottering, Sharmell Nkomo, Jade Adams, Kathelo Mokhina, Lesedi Motaung, Tharina O’Connor en Kaylin Stoffberg.

     

     

  • Goudveld wil weer stof in Fichies se oë skop

    Fichardtpark. Agter (vlnr): Karla Pretorius (afrigter), Etna Pottas (spanbestuurder) Joanize Herbst, Lana Ronne, Inge Jacobs, Giselle Shehab, Anja Fourie, Rochelle Matthee.
    Voor: Gilden Valentine, Maroné Coetzee, Leilani Gertenbach, Meruscke Mostert.

    Goudveld-Hoërskool en Hoërskool Fichardtpark pak mekaar môre in ‘n netbalwedstryd as deel van die Wesgrow Sentrale Sportbyeenkoms.

    Die wedstryd is geskeduleer vir 13:40 op Baan 1 by Goudveld in Welkom.

    Goudveld het in verlede jaar se reeks met 39-32 teen Fichardtpark geseëvier en hoop om vanjaar weer met die louere weg te stap.

    Karla Pretorius, afrigter van die Fichies, glo dat haar span ‘n uiters vrugtevolle voorseisoen gehad het, en hulle kan nie wag vir die eerste wedstyd vir die jaar nie.

    Fichardtpark is nietemin al te bewus daarvan dat Gouties ‘n kwalitietspan is, maar die Fichies fokus op hulself en wat hulle te doen staan. Hulle wil verseker dat hulle konstant tot die beste van hul vermoëns speel, op sowel die aanval as verdediging.

    Nadia Olivier en Melissa Oosthuizen, afrigters van Goudveld, durf die nuwe seisoen aan met ‘n relatiewe jong span. Nadia, wat voorheen die eerstespan gelei het, maar moes terugstaan weens familieverpligtinge, is nou weer in aksie saam met mev. Oosthuizen, ‘n gerekende netbalkenner. Albei afrigters is optimisties oor die komende seisoen.

    Goudveld-span: Nigella Siebert, Carli Taljaard, Jayrin Deerling, Levi Oehley, Lara Badenhorst, Michelle Van der Westhuizen, Elandre Venter, Nyrette Steenkamp, Elre Bothma, Lele Xalabile.

  • Affies steeds onoorwonne teen Diamonds

    Die Afrikaanse Hoër Meisieskool (Affies) het hul segetog voortgesit deur Hoërskool Diamantveld vir die tweede agtereenvolgende jaar op Diamonds se sportdag in Kimberley te klop.

    Affies het verlede jaar oortuigend met ‘n telling van 37-15 geseëvier.

    In die afgelope naweek se kragmeting met Diamonds, het Affies in die eerste kwart met 11-4 voorgeloop en mooi momentum behou om die tweede kwart met ‘n telling van 20-10 af te sluit.

    Die derde kwart was heelwat meer mededingend, met albei spanne wat elk nege doele aangeteken het, maar Affies het hul voorsprong met 29-19 behou.

    In die laaste kwart het Affies weer beheer oorgeneem om ‘n oorwinning van 35-25 te verseker.

    Affies het ook in hul ander drie wedstryde by die sportdag as oorwinnaars uit die stryd getree, deur vir Hoërskool Duineveld (37-26), Hoërskool Upington (40-12) en Eunice High School (80-43) te verslaan.

    Diamonds, daarenteen, het gemengde resultate behaal, deur met 16-16 gelykop te speel teen Eunice, maar te verloor teen Upington (21-26) en Duineveld (26-31).

     

  • Frikkie Meyer klop Wilgies op hul tuisveld

    Agter (vlnr): Dimion Visser, Laurinda Smit, Carla Coetzee, Dalzell Botha, Lara Denton, me Anmarie Möller (afrigter), Chanel Parsons (spanbestuurder).
    Voor: Thuto Mano, Olwethu Qoyi, Chanel van Niekerk, Boitsepo Thlabadira.

    In die langverwagte herontmoeting tussen Hoërskool Frikkie Meyer en Hoërskool Die Wilgers, was dit eersgenoemde wat met die louere weggestap het nadat hulle Wilgies Saterdag op hul tuisbaan met ‘n telling van 28-18 geklop het.

    Frikkie Meyer het vanaf die openingsfluitjie ‘n groot vasberadenheid getoon om beheer te neem van die wedstryd en, hoewel die hele span hul bes gelewer het, was daar besliste uitblinkers.

    Thuto Mano se verdediging was uitstekend in die opposisie se derde, terwyl Niche Rohrs puik beheer oor die sentergooie getoon het, wat die bal effektief na suksesvolle doele gerig het.

    In ‘n vinnige eerste kwart, het Frikkie Meyer blitsig hul oorheersing laat geld om ‘n indrukwekkende 10 doele aan te teken en Wilgers tot net ses te beperk . Die momentum het voortgeduur tot in die tweede kwart, met Frikkie Meyer wat hul voorsprong na 18-10 vergroot het teen rustyd.

    Ondanks Wilgers se dapper pogings om die gaping te verklein, het Frikkie Meyer vasbeslote gebly in hul strewe na oorwinning.

    Die derde kwart het nietemin in ‘n hewige stryd ontwikkel, maar Frikkie Meyer kon steeds hul voorsprong teen die einde van die tydperk na 24-15 vergroot.

    Frikkie Meyer, wat hulle nie deur die toenemende druk laat afskrik het nie, het in die vierde kwart ‘n meesterlike vertoning gelewer om uiteindelik welverdiend met 28-18 as oorwinnaars uit die stryd te tree.

  • Wilgies, Frikkie Meyer eerste keer slaags in jare

    Mbali Magagula, Lizene Labuschagne, Mikyla Joubert, Lienke Joubert, Monya Schlebush, Hayden Mathers, Simone Marais, Klara Wimmers (o/k), Sky van Kraayenburg, Janke van Zyl, Angelique van den Bergh, Sunelle Kuhn (k)

    Hoërskool Die Wilgers se netbalspan, beter bekend as die White Eagles, sê Saterdag vir Hoërskool Frikkie Meyer, van Thabazimbi, die stryd aan op hul tuisbaan.

    Dit is die eerste ontmoeting tussen dié twee skole in etlike jare.

    Mariëtte Keyter, afrigter van die White Eagles, is vasbeslote dat haar span hul volle potensiaal sal verwesenlik ten einde ‘n oorwinning op eie bodem te behaal.

    Hoërskool Frikkie Meyer, met slegs 850 leerders, is egter deurgaans onder die top-drie in hul streek.

    Volgens Anmarie Möller, die netbalafrigter, is haar spelers geweldig opgewonde oor die seisoen wat voorlê, en verwag sy ‘n geïnspireerde vertoning deur haar span, wat staatmakers soos Dimion Visser en Niché Röhrs insluit. Sy is vol vertroue dat die span, gelei deur die talentvolle HV, Thuto Mano, oorgehaal is vir sukses vanjaar.

    Die hoogs verwagte kragmeting vind om 10:00 plaas op Baan 3.

  • Paarl Girls mik na nóg ‘n onoorwonne liga-seisoen

    AngelinaCook, Janie Visser, Jenna Haywood, Miné van der Walt, Keisha September, Sophia Wium, Elzahn Nel, Anke Stofberg, Cara Els, Isabella Cook en Kyla Sabbagha.

    Paarl Girls’ High het verlede jaar ‘n stewige reputasie in netbal opgebou.

    Hulle was naaswenners by die Absa Wildeklawer-sporttoernooi; derde in die SA Topskole-netbaltoernooi; wenners van die Interskole-kompetisie en onoorwonne in al hul plaaslike ligawedstryde.

    Vanjaar se span wil hierop voortbou, en bestaan uit Sophia Wium, Anke Stofberg, Cara Els, Kyla Sabbagha, Isabella Cook, Angeline Cook, Elzahn Nel, Jenna Haywood, Mine van der Walt, Janie Visser en Keisha September, wat reeds die SA o. 16-oefengroep gehaal het.

    Afrigter, Marli Visagie, beklemtoon dat hul primêre doelwit vir hierdie seisoen is om as ‘n eenheid te ontwikkel en hul volle potensiaal te bereik.

    Die meisies van die Paarl se aspirasies sluit in om onder die top-4 by die Absa Wildklawer-toernooi te eindig, om vir die Nasionale Topskole-toernooi te kwalifiseer en om goed te presteer in al hul ligawedstryde.

    Hul vernaamste teenstanders sluit in Paarl Gimnasium, in die Interskole-wedstryd, asook die Hoër Meisieskole, La Rochelle en Bloemhof, in die liga.

    Die spanbestuur bestaan verder uit Janke Visagie, en fisioterapeute Hanke Storm en Christille Blom.

  • Sentraal stel visier op Stadsliga

    Chené de Villiers, Nicola van der Wath, Elbé van der Merwe, Keevy-Ann Fourie, Marli van der Merwe, Izanne van Aswegen, Ceinwin Lindeque, Caitlyn Maddocks en Anri Kachelhoffer.

    Hoërskool Sentraal het ‘n uiters gedugte netbalspan vir die komende seisoen aangekondig.

    Met ‘n hele rits talentvolle spelers, insluitende Chené de Villiers, Nicola van der Wath, Elbé van der Merwe, Keevy-Ann Fourie, Marli van der Merwe, Izanne van Aswegen, Ceinwin Lindeque, Caitlyn Maddocks en Anri Kachelhoffer, is die Tralies slaggereed om vanjaar hul merk te maak.

    Onder leiding van hoofafrigter, Sune Grobler, het die span ambisieuse doelwitte gestel vir die seisoen wat voorlê. Benewens daarvan om soveel as moontlik oorwinnings te behaal, is hul primêre doel om elke speler se potensiaal tot sy volle te help ontwikkel en ‘n samehorige spandinamiek te bevorder.

    Grobler beklemtoon die belangrikheid van eenheid op die baan, wat ‘n gevoel van kameraadskap en passie vir die spel by die spelers kweek.

    Hoewel elke stryd teen ‘n mededingende skool ‘n opwindende vooruitsig bied, is Sentraal se visier gestel op die Stadsliga, waar hulle hulself kan voorberei op intense kragmetings met formidabele teenstanders.

  • Affies en Diamonds pak mekaar in Kimberley

    Die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria (Affies) en Hoërskool Diamantveld gaan hierdie naweek vir die eerste keer vanjaar kragte meet by Diamantveld se sportdag in Kimberley.

    Die wedstryd vind Vrydag, 8 Maart, om 17:40 plaas.

    Hoewel Affies verlede jaar oortuigend ‘n telling van 37-15 oor Diamantveld geseëvier het, waarborg vorige prestasies hoegenaamd nie toekomstige uitslae nie, en is albei spanne oorgehaal om alles in die stryd te werp vir ‘n oorwinning.

    Beide spanne beskik oor heelwat talent. Affies spog byvoorbeeld met Izelle Grabe, wat Suid-Afrika reeds op sowel o. 16- as o. 17-vlak verteenwoordig het, terwyl Diamantveld ook ‘n SA-speler, Mari du Raan, in hul geledere het.

    Toeskouers kan hulself regskuif vir ‘n opwindende sportdag, met spanne van Hoërskool Upington, Wildeklawer, Kimberley Boys’ High School, HTS Kimberley, Hoërskool Duineveld, Eunice High School, Hoërskool Kalahari en Christian Brothers College (CBC), wat almal saam met Affies en Diamantveld in aksie sal wees.

    Spanne:

    Hoërskool Diamantveld: Mari du Raan, Johandri de Wet, Izeldi Jacobs, Valmari Faber, Carmen Louw, Lara van Niekerk, Klarissa Taljaard, Brithe Honiball, Zandri Starke, Timney Greyling.

    Afrikaanse Hoër Meisieskool: Izelle Grabe, Jaime Matfield, Bianca Lubbe, Anouk Janse van Rensburg, Kristi Koekemoer, Emma Strydom, Nina Hay, Arette Burger, Amia Roux, Liane van Lochem.