ALICIA KHUNOU van Hoërskool Menlopark, het die skare by die skool se tartanbaan-opening betower met ‘n merkwaardige diskusgooi van 53.82m. Foto: Marius Nortje
Alicia Khunou, die 17-jarige steratleet van Hoërskool Menlopark, het die skare by die skool se tartanbaan-opening betower met ‘n merkwaardige diskusgooi van 53.82 m.
Dié gooi het nie alleen vir haar 1000 punte op die Atletiek Suid-Afrika (ASA)-tabel besorg nie, maar sy het daarmee ook die o. 20-Afrika-rekord laat spat met ‘n aansienlike 36 cm verder as Mine de Klerk se 53,50 m, wat sy in 2021 opgestel het.
Die Konfederasie van Afrika-atletiek (CAA) erken egter nié die byeenkoms nie, wat beteken dat Khunou se rekord nie in die Afrika-rekordboek aangeteken sal word nie.
Die gooi is ook bykans twee meter verder as Ischke Senekal se SA skolekampioenskapsrekord, wat in 2012 met ‘n gooi van 49.80 m opgestel is, maar Khunou se prestasie sal hier ook nie erken word nie aangesien dit slegs op nasionale skoolbyeenkomste oortref mag word.
Khunou mik derhalwe nou daarna om haar rekord amptelik te vestig, ten einde vir die Junior Wêreldspele in Peru te kwalifiseer.
Haar uitsonderlike prestasies strek verder as hierdie gooi; Khunou het verlede jaar ook die o. 18-Afrika-rekord (Jeug) met ‘n gooi van 50.10 m by die Ndola-kampioenskappe in Zambië verbeter.
Khunou is nie alleen die Suid-Afrikaanse o .18-diskuskampioen nie, maar blink ook uit in gewigstoot. Sy het ‘n rekord van 15.93 m tydens die 2023 ASA kampioenskappe in Pietermaritzburg opgestel en ‘n oorwinning in die Statebondspele behaal met ‘n gewigstootafstand van 17.97 m.
Khunou, wat haar atletiekreis op agt jaar begin het en deur haar ma afgerig word, het ook uitgeblink in netbal, maar op 14 besluit om slegs op atletiek te fokus.
Sy skryf haar sukses toe aan haar ondersteunende familie, veral haar broer Ronald, ook ‘n kranige diskusatleet, wat die belangrikheid van spanwerk binne haar gesin beklemtoon.
RUMÉ BURGER (Oranje) in aksie tydens die Curro Hazeldean Top 14-byeenkoms in Pretoria. FOTO: Frans Lombard/Actionpix
Sy is gebore in ‘n familie waar talent deur generasies vloei, maar die 16-jarige Rumé Burger is besig om haar eie pad in die wêreld van atletiek oop te kerf.
Rumé se geslagslyn spog met ‘n Springbok-oupa, Thys Burger, pa Philip Burger, wat vir die Cheetahs sowel as die Blitsbokke uitgedraf het, en ‘n paalspring-oupa, Wessel Jacobs.
Haar ma, Marida Burger, het in atletiek en netbal ook tot die gesin se atletiese nalatenskap bygedra.
By die onlangse Curro Hazeldean Top 14-byeenkoms in Pretoria het Rumé oorwinnings in die 100m en 200m, met blitstye van onderskeidelik 12.24 en 24.78 sekondes behaal.
Haar uitsonderlike 200m-vertoning het 933 punte ingeoes, wat haar een van die byeenkoms se uitblinkers gemaak het.
Om rekords te breek het tweede natuur vir Rumé geword, nadat sy die nuwe 200m-rekord by Sentraal se Top 20-byeenkoms in 2023 opgestel het. Sy het die vorige rekord van 25.30 sekondes met ‘n tyd van 25.03, dié rekord wat vir 16 jaar lank gestaan het, verbeter.
Gebore in Perpignan, Frankryk, waar haar pa vir USA Perpignan rugby gespeel het. Rumé het saam met haar gesin op die ouderdom van vier na Suid-Afrika teruggekeer.
Phillip Burger het in 2006 ‘n volle 15 drieë gedruk in die Cheetahs se opgang tot die Curriebeker-titel van daardie jaar.
Rumé het haar skoolopleiding begin aan Laerskool Willem Postma en is nou ‘n trotse leerder van Oranje Meisieskool in Bloemfontein.
Onder leiding van haar afrigter, Elinda Vorster, ‘n atleet in eie reg wat ook al vir Suid-Afrika verteenwoordig het, oefen Rumé vyf tot ses dae per week, en hoop sy om haar land op internasionale vlak by die Wêreldkampioenskap in 2024 te verteenwoordig.
Vorster het Suid-Afrika self as ‘n naelloper tydens die Olimpiese Spele van 1992 in Barcelona verteenwoordig.
Rumé se liefde vir atletiek strek egter verder as bloot die wenstreep. Sy glo dat atletiek nie slegs fisieke krag bou nie, maar ook waardevolle lewenslesse van harde werk en toewyding inboesem.
Vir die Burger-familie gaan dit alles daaroor om aktief te bly, en die gesin spog ook met nóg twee talentvolle dogters.
Lilly (13) blink uit in hekkies en hoop om in oupa Wessel se voetspore te volg met paalspring. Zylie (10), die jongste, is ook ‘n sportentoesias en gek oor hekkies.
Rumé het grootgeword met die gesegde “harde werk klop talent, as talent nie hard werk nie,” en sy dank God elke dag vir haar talent.
Hoërskool Menlopark se dinamiese duo, Menike van den Berg en Colene Scheepers, het onlangs hul stempel by die Interhuis-atletiekbyeenkoms afgedruk deur jarelange rekords te laat spat.
Op skaars 17 jaar oud maak beide Menike en Colene met trots aanspraak op die 100 m-rekord, ‘n prestasie wat 53 jaar lank onaangeraak gestaan het – sedert Claude van Straaten die merk in 1971 gestel het met ‘n tyd van 11.80 sekondes.
Colene het dit aanvanklik tot 11.78 verbeter, maar Menike het daarna die rekord verder vermorsel met ‘n merkwaardige 11.74 sekondes.
Dit het nie daar opgehou nie, met Colene wat ook die 400 m-rekord, wat sedert 2003 deur Tihanna Vorster gehou is, met ‘n tyd van 56.08 laat spat het. Sy het met ‘n tyd van 56.07 die rekord, wat 12 jaar lank gestaan het, gebreek.
Menike se atletiek-reis strek terug na haar laerskooldae by Laerskool Generaal Hendrik Schoeman, waar sy in gr. 3 rekords begin breek het. Ten spyte van terugslae, weens Covid-19 en ‘n ernstige rugbesering, het Menike ‘n skitterende terugkeer gemaak tydens Menlopark se Interhuis.
Danksy haar ooglopende talent, het sy elke jaar die Suid-Afrikaanse Kampioenskap bywoon en nog elke keer met medaljes teruggekeer.
Sy het ‘n ernstige rugbesering in 2021 oorkom met die ondersteuning van haar ouers, terapeute, fisio’s en afrigters. Menike poog om ten minste vyf keer per week te oefen, aangesien haar doel is om die hele jaar ‘n tyd onder 12 sekondes te handhaaf – met die oog op nasionale erkenning .
Menike is opgewonde vir die jaar wat voorlê en, hoewel daar heelwat trane en sweet met haar loopbaan gepaard gaan, weet sy dat dit op die ou einde die moeite werd is.
Vir Colene is dit niks nuuts om rekords te breek nie. In 2020 het sy die 400 m-rekord by die A-Bond Interhoër verbeter. Verlede jaar het sy Interhoër oorheers en nuwe rekords in die 100 m (12.07), 200 m (24.08) en 400 m (55.04) in die o.17-kategorie opgestel, terwyl sy vanjaar haar indrukwekkende vorm voortgesit het met nog twee Interhuis-rekords.
Colene se atletiek-reis het in gr. 1 begin waar haar natuurlike talent spoedig na vore getree het. Vandag hou sy met trots die titels van die SA en Afrika 400 m-kampioen.
Colene oefen vyf tot ses dae per week en mik om vir Suid-Afrika in die 400 m by die Wêreldbyeenkoms vir Juniors in Peru te verteenwoordig. Boonop is sy voorlopig deel van die 4 x 400 m-seniorspan vir die Wêreldaflosse in Mei, in die Bahamas.
Colene beskryf atletiek as ‘n sport met daaglikse uitdagings. Sy floreer egter wanneer sy haarself tot die uiterste druk, en sy weet dat dit belangrik is dat daar konstante groei moet wees – wat heelwat dissipline verg.
KAILI BOTJE, naelloper van die Hoërskool Randburg, in aksie tydens die Noordheuwel Top 15 in Krugersdorp. FOTO: Marius Nortjé
Tydens die Noordheuwel Top 15-atletiekbyeenkoms was Hoërskool Randburg se Kaili Botje en Chane Vermeulen kop-aan-kop met die 100 m en 200 m, en albei atlete het ook met nuwe rekords weggestap.
Vermeulen het die 100 m gewen in ‘n rekordtyd van 11.73 sekondes, terwyl Botje kort op haar hakke was met 11.87 sekondes.
Botje het die bordjies verhang in die 200 m, deur ‘n nuwe rekord met 24.05 sekondes op te stel, terwyl haar spanmaat, Vermeulen, tweede geëindig het met ‘n tyd van 24.34 sekondes.
Tebogo Mammathu van Monument het die vorige 200 m-rekord in 2013 opgestel met ‘n tyd van 24.15 sekondes.
Die spanmaats sit hul tweestryd op die baan voort by die Randburg Prestige-byeenkoms, wat Vrydag by die UJ-stadion in Johannesburg aangebied word.
Minke Dekker van Zwartkop het nie net die 3000 m vir dogters o. 15 gewen nie, maar ook ‘n nuwe rekord met ‘n tyd van 09:54.68 opgestel.
Menlopark se Janelle Kirkpatrick spog ook met ‘n nuwe rekord langs haar naam, nadat sy die 90 m-hekkies vir meisies o. 14 met 13.21 sekondes gewen het.
Noordheuwel se Chane Fourie het twee keer die wenstreep oorgesteek en ook ‘n nuwe rekord in die o. 14-meisies se 400 m met ‘n tyd van 0:57.58 behaal, wat ook in 2013 deur Mammathu opgestel is.
Fourie het ook die 200 m met ‘n tyd van 25.55 sekondes gewen.
Tumi Ramokgopa van Prestige College, wat reeds op internasionale vlak deelgeneem het, het weer gewys waarom sy as een van die topatlete beskou word, en het die 100 m vir dogters o. 17 met 13.60 sekondes gewen.
Izandri Jacobs van Montana het haar slag in die 1500 m en 800 m gewys, deur die wedlope met tye van onderskeidelik 04:52.84 en 2:09.27 te wen.
Menlopark se Line de Villiers het die 400 m (0:57.51) en die 800m (2:15.49) gewen in haar o. 15-kategorie.
Hannah Hope Vermaak van Hoërskool Noordheuwel het die 100 m in die o. 17-dogterskategorie met ‘n tyd van 12.09 sekondes gewen. In 2023 het sy die 100 m in ‘n rekordtyd van 11.69 sekondes gehardloop.
Vermaak het ook die 200 m gewen met ‘n tyd van 24.60 sekondes.
Colene Scheepers van Menlopark, rekordhouer van die 400 m wat sy skaars ‘n week gelede by die Interhuis-atletiekbyeenkoms opgestel het, het die 400 m met ‘n tyd van 0:56.23 gewen.
Hoërskool Diamantveld (DHS) het met trots sy eerste netbalspan vir die komende seisoen bekendgestel en, onder leiding van die ervare afrigter, Bethenie du Raan, is die span slaggereed vir groot sukses.
Die spanlys bied met ‘n mengsel van talent, met vyf matriekleerlinge, vier graad 11-leerders en een belowende graad 10-speler.
Aan die voorpunt van die span staan Mari du Raan, wat die rol van doel sal vervul. Neffens haar is Johandri de Wet op hulpdoel, terwyl Izeldi Jacobs veelsydigheid bied as hulpdoel en aanvallende vleuel, en Valmari Faber haar vaardighede na vore bring as ‘n aanvallende vleuel of senter.
Carmen Louw is op senter en Lara van Niekerk op verdedigende vleuel en hulpdoelverdediger.
Klarissa Taljaard bring verdere diepte aan die verdediging as hulpdoelverdediger en verdedigende vleuel, terwyl Brithe Honiball en Zandri Starke hul verdedigingsvaardighede sal uitstal as onderskeidelik verdediger en verdedigende vleuel.
Timney Greyling bied ‘n talentvolle opsie wat betref sowel aanvallende as verdedigende vleuel.
Onder die uitblinkers in die span tel du Raan, wie se uitsonderlike talent haar ‘n gesogte plek in die 2025 Wêreldbeker o. 19-span besorg het. Starke was onder die top-35 o. 16-spelers by die All Ages-toernooi in Boksburg in 2023, terwyl Louw haar merk gemaak het as een van die top-35 o. 17-spelers by die Telkom Nasionale Kampioenskappe in Kaapstad in 2023.
Met die doel om hulself hierdie seisoen as die top-netbalspan in die Noord-Kaap te vestig, streef die span ook na ‘n top-10-plasing op die nasionale ranglys.
Met Hoërkskool Menlopark se jaarlikse toernooi en die Absa Wildeklawer-sporttoernooi wat op hulle wag, maak die span gereed om strawwe kompetisie vanjaar die hoof te bied.
Afrigter du Raan prys haar span se toewyding, gees en sportmanskap, en beskryf hulle as ‘n goed gebalanseerde span. Met die ondersteuning van spanbestuurder, Magda Myburgh, en konsultant, Lanie Steenkamp, is die eerste span gereed om hul merk in die wêreld van netbal af te druk.
Fichardtpark se eerste netbalspan. Agter: Karla Pretorius (afrigter), Etna Pottas (spanbestuurder) Joanize Herbst, Lana Ronne, Inge Jacobs, Giselle Shehab, Anja Fourie, Rochelle Matthee. Voor: Gilden Valentine, Maroné Coetzee, Leilani Gertenbach, Meruscke Mostert.
Hoërskool Fichardtpark het met trots hul eerste netbalspan vir die 2024-seisoen bekendgestel.
Onder leiding van die bekwame Protea-netbalster, Karla Pretorius, wat die rol van netbalhoof in 2023 aanvaar het, spog die span met vyf matrieks, drie talentvolle graad 11-leerders en twee belowende graad 10-spelers.
Onder Pretorius se leiding is die doel nie bloot sukses nie, maar ook om ‘n positiewe spangees te kweek en ‘n effektiewe netbalprogram te vestig.
Terwyl die span sy visier op die hoogs mededingende Wesgrow Sentrale Skole-sportreeks het, met teenstanders soos Jim Fouché, Sentraal, Goudveld, Voortrekker, Witteberg, Trio en Diamantveld, mik Pretorius na ‘n top-vier-plasing.
Die ambisies hou nie daar op nie, want Pretorius beoog dat die span ook ‘n plek onder die top vier in die stadsliga sal behaal, waar hulle spanne soos Sentraal, Jim Fouché, Oranje en Eunice sal uitdaag.
Etna Pottas, spanbestuurder, sê hul doelwit vir die jaar is om ‘n positiewe omgewing vir spelers te skep sodat elke speler tot haar volle potensiaal kan ontwikkel.
“Sport is daar vir die totale ontwikkeling van die deelnemer. Dit gaan nie bloot oor die wen nie; hoewel wen belangrik is, is dit nie die alfa en omega nie. Kinders ondergaan karaktertoetse en leer meer oor die lewe. Hulle leer om onder druk te funksioneer, om saam te staan (in goeie en slegte tye), en in die proses besef hulle dat die lewe soms onregverdig is en dat jy nie altyd jou sin kry nie.”
Die Protea netbalster Karla Pretorius is onlangs as die nuwe hoof van netbal by Hoërskool Fichardtpark aangestel.
Met ‘n roemryke loopbaan en ‘n rekord van uitsonderlike prestasies, bring Pretorius ‘n magdom ervaring en kundigheid na die rol.
Danksy haar verdedigingsvernuf, word Pretorius alom bestempel as een van die wêreld se voorste doelspelers.
Pretorius se prestasies in die netbalwêreld is inderdaad indrukwekkend, en sy is in 2019 as die waardevolste speler by die Wêreldbeker aangewys.
Haar netbalreis strek oor verskeie bekende spanne heen, soos Kovsies (2009-2015); Team Bath, Engeland (2011-2016); en Sunshine Coast Lightning in Australië (2016-2023).
Op internasionale vlak het sy sedert 2011 haar impak laat geld vir die Proteas.
Pretorius spog ook met ‘n reeks toekennings, insluitende die Varsitybeker-reeks se Speler van die Jaar (2014, 2015), die Universiteit van die Vrystaat se Sportvrou van die Jaar (2015, 2016) en die Australiese Superliga-MVP (2017) .
Sy was ook erken in die Mail & Guardian se lys van Top-200 Jong Suid-Afrikaners (2017).
Mnr. Herman van der Merwe, hoof van Fichardtpark, praat met groot entoesiasme oor Pretorius se aanstelling. Hy het haar uitgebreide ervaring in afrigtingsmetodologieë en kondisionering uitgelig, en beklemtoon dat haar invloed ver buite die grense van die netbalbaan strek.
“Min netbalspelers spog met soveel ondervinding van die nuutste afrigtingsmetodes en kondisionering. In die tyd wat sy met jongmense deurgebring het, het sy ‘n ongelooflike impak op hulle menswees gehad. Afrigting gaan juis oor heelwat meer as bloot afrigting; die impak op jongmense se lewens, as ‘n mentor, is ook van kardinale belang.”
Pretorius se visie vir Fichies-netbal behels meer as slegs die afrigting van die eerstespan. Sy streef daarna om ‘n netbalkultuur en speelstyl oor al die spanne heen te vestig en ‘n mededingende omgewing te bevorder.
Volgens Pretorius, sien sy geweldig uit na hierdie nuwe fase in haar loopbaan, en vernaam om terug te ploeg met haar kennis en ervaring. Sy wil graag ook haar kennis by die laerskole inploeg.
Met Pretorius aan die stuur, is Fichies-netbal op die drumpel van ‘n merkwaardige reis van groei en prestasie.
Tuks Academy‘s athletes impressed with their consistency, securing many first place and top three positions at Athletics Gauteng North’s Track and Field League 2 event, held at the Pilditch Stadium on Saturday.
In the girls’ u16 100m category, Fundiswa Makhanya (Tuks Academy) claimed victory in an impressive time of 12.98s, closely followed by Diane Dippenaar (Menlopark HS) in 13.01s.
Phiwe Nhleko (Tuks Academy) took the honours in the women’s u20 100m event, clocking 12.31s, with Atang Naane (Prestige College) second in 12.45s, followed by Rujeko Smunetsi (Elite Sprints Training), who was third in 12.62s.
Fundiswa Makhanya continued her dominance of the sprints in the girls’ u16 200m, halting the stopwatch in an impressive 26.22s. Ané Pretorius (Menlopark) and Aquina de Vries (Midstream AC) secured the second and third positions, with times of 26.63s and 26.80s, respectively.
Lolwethu Makasi (I Have Talent AC) powered to victory in the women’s u18 200m, crossing the line in 25.77s, comfortably ahead of Selena Rocha (Tuks Academy), who captured second place in 26.40s.
In the women’s u20 200m, Diana Eze (32GI), showcased her speed and secured the top spot in a time of 25.06s.
Gold in the women’s u18 400m went to Izel de Beer (Menlopark HS). She finished in 1:00.79, with second-placed Lente Groenewald (Midstream AC) clocking 1:01.14.
Lu Chelle Breedt (Boxer) put in a strong performance to claim the women’s u20 400m win in 58.21s.
Carmia van den Berg (Midstream AC) dominated the girls’ u16 800m, winning the two-lap race in 2:24.50.
Meanwhile, the women’s u18 800m title went to Angel Baloyi (Tuks Academy), who took victory in 2:23.64. She was closely followed across the line by her team-mate, Micaela Swart, who clocked 2:23.79.
Minke Dekker (Boxer) impressed in the girls’ u16 1 500m, winning in 4:32.82, which was better than anyone achieved in the older age groups.
Elizma le Roux (Zwartkop AC) claimed the top spot in the women’s u18 1 500m in a time of 04:42.98, while Emma Kruse (Country Club Johannesburg) bagged the women’s u20 1 500m title in 04:35.14.
Swazi athlete Nokwethu Nhlabatsi sparkled in the girls’ u16 3 000m, breaking the tape in 11:28.65.
In the women’s u18 3 000m, Diphetogo Semenya (Tuks Academy) powered her way to first place in 10:32.81.
Victory in the u16 90m hurdles went to Janelle Kirkpatrick (Menlopark HS) in 13.31s, while Ruvè van der Ende (Menlopark HS), was second in 14.14s.
The u20 100m hurdles win went to Angelique de Jager (Tuks Academy) in 14.49s, with Anika le Roux (Midstream College) the runner-up in 15.38s.
In the girls’ u16 300m hurdles, Liné de Villiers (Menlopark HS) took the win in 44.92s, well clear of Lené Greyling (Midstream College), who finished in 47.98s.
The women’s u20 400m hurdles title went to Anika Williams (Zwartkop AC) in 1:04.02.
There were some impressive performances in the shot put, discus, and javelin across the different age groups.
Johanne Lamprecht (Montana AC) dominated the girls’ u16 shotput, winning with a distance of 15.04m. She also added the discus title to her shotput success, recording a best of 39.10m.
The women’s u18 title went to Jeandré Jacobs (Eldoraigne AC). Her best distance measured 14.55m.
In the women’s u20 shotput, Alicia Khunou (Menlopark HS) put the shot 14.63m to take the win.
Christé Loedolff (Menlopark) posted an impressive distance of 44.72m to win the women’s u18 discus.
Alicia Khunou doubled up on her success by winning the women’s u20 discus with an impressive throw of 53.10m.
Allene Theunissen (Garsfontein) launched the javelin 39.98m to win girls’ u16 gold.
ALICIA KHUNOU van Menloapark in aksie tydens die gewigstoot vir meisies o.19 wat sy met ‘n skitterende afstand van 14,.46m gewen het. FOTO: Marius Nortjé
Die Hoërskool Menlopark se Alicia Khunou (o.19) het vir die beste vertoning tydens die Hoërskool Noordheuwel se jaarlikse massabyeenkoms in Krugersdorp gesorg.
Sy en Chirsté Loedolff ook van Menlopark is die enigste twee atlete wat ‘n voltal punte (1000 punte) tydens die byeenkoms kon aanteken. Albei het dit in die diskus-nommer vermag.
Khunou het haar voltal in dis diskus vir meisies o.19 met ‘n gooi van 52.29 meter behaal. Dit is ook ‘n nuwe byeenkomsrekord.
Dit is ook verder as die Suid-Afrikaanse Skole-rekord van 49.80m wat in 2012 deur Ischke Senekal opgestel is. Dié SA Skole-rekord kan egter net op die Suid-Afrikaanse Skole-kampioenskap verbeter word.
Meeste atlete van Gauteng-Noord verkies egter nie om aan die byeenkoms deel te neem nie. Die grootste rede is waarskynlik omdat Gauteng as een provinsie vir die byeenkoms gesien word en slegs 250 atlete na daarna kan stuur.
Kyla Nienaber van Noordheuwel was tweede met ‘n heel skaflike poging van 40.37m. Khunou se tweelingbroer, Ronald Khunou, het ook in die o.19-afdeling vir seuns goud met ‘n gooi van 48 meter gewen.
Khunou het ook in die gewigstoot goud met ‘n poging van 14.46m gewen. Nienaber (11.85m) moes hier met die derde plek tevrede wees. Cellonika van der Berg (Menlopark) het haar in dié nommer met ‘n poging van 12.56m uitgestof.
Loedolff het haar 1000 punte danksy ‘n gooi van 48.46m in die diskus vir meisies o.17 vermag. Jamoré Olivier (Noordheuwel) en Ashlynn Nel (Menlopark) moes met pogings van 43.21m en 40.66m onderskeidelik met die tweede en derde plekke tevrede wees.
Olivier het egter die septer in die gewigstoot geswaai toe sy die bal op 15.61 meter laat grondvat het. Nel was die keer tweede met ‘n poging van 14.29m, terwyl Loedolff (12.66m) met die bronsmedalje tevrede moes wees.
Die Parkies se Merlé Janse van Rensburg (o.16) het goud in die diskus (42.20m) asook die gewigstoot (12.38m) ingeoes. Iza-Marie Odendaal (Noordheuwel) het in dis diskus vir Janse van Rensburg goeie teenstand met ‘n beste gooi van 40.17m gebied
Nories se Jessica van Aswegen (o.15) sal ook tevrede met haar vertoning in die spiesgooi wees. Sy het die blikassegaai tot op 42.37 meter laat trek.
Dit is nog vroeg in die seisoen, maar dit is duidelik dat Noordheuwel en Menlopark weer vanjaar onder die voorste atletiekskole in Suid-Afrika sal tel.
Die twee skole asook die Hoërskool Driehoek van Vereeniging se atlete het behoorlik Vrydag teen mekaar litte tydens Nories se jaarlikse massabyeenkoms losgemaak.
Die Nories se Hannah Vermaak (o.17) het twee eerste plekke in onderskeidelik die 100m en 100m-hekkies verower. Sy het in die 100m-naelloop in 11.97 sekondes vir haar spanmaat Kaylie van Oudtshoorn (12.06) hakskene gewys.
Van Oudtshoorn het wel in die 200m die bordjies verhang toe sy goud in 25.16 sekondes ingepalm het. Vermaak was kort op haar hakke in 25.88 sekondes oor die eindstreep.
Vermaak het die 100m-hekkies gemaklik in ‘n tyd van 14.76 sekondes gewen.
Menlopark se naelloper Colene Scheepers (o.19) het haar veelsydigheid tydens dié byeenkoms ten toon gestel. Sy het waarskynlik slegs om haar stamina op te bou aan die 800m deelgeneem. Sy het dié nommer in ‘n heel skaflike tyd van twee minute en 21 sekondes gewen. Die vertoning het aan haar ‘n 843 punte op die puntestelsel beteken.
Sy het natuurlik in die 200m ook in ‘n tyd van 25.94 sekondes koning gekraai.
Driehoek se beste atleet op die byeenkoms was ongetwyfeld Juhané Jordaan (o.14) wat in die 100m ‘n wentyd van 12.25 sekondes aangeteken het. Nories se Chané Fourie (12.41) moes met die silwermedalje tevrede wees.
Fourie het wel laaste gelag toe sy nie net die bordjies in die 200m verhang het nie, maar ook ‘n nuwe byeenkomsrekord van 24.78 sekondes opgestel het. Jordaan was net na haar in 25.35 sekondes oor die eindstreep.
Fourie en Jordaan het mekaar ook in die 400m opgekeil met Fourie wat in 58.15 sekondes baas was. Jordaan het die nommer in 59.86 sekondes afgeblits.
Nories se Taya Pelser is nog ‘n atleet vir die toekoms. Sy het in die 800m (2:19.28) asook die 1500m (4:55.89) koning gekraai.
Die Parkies se Rachel Schwulst (o.16) het ook gewys dat sy gereed is om goeie tye in die middelafstande vanjaar op te stel. Haar beste vertoning was in die 800m waar sy na slegs 2:15.78 oor die eindstreep is. Dit was ‘n skitterende 915 punte volgens die puntelys.
Haar spanmaat Kaitlyn van Rooyen moes met die tweede plek in 2:20.71 tevrede wees. Dit is self ‘n meer as skaflike tyd oor die afstand. Schwulst het die 1500m in 4:51.26 gewen.
Die gasheer se Hanri Pretorius (o.17) was ook op haar stukke en het die 800m in haar ouderdomsgroep in ‘n uitmuntende 2:14.36 gewen.
Die Parkies se hekkiesloper, Jannelle Kirkpatrick (o.14) het drie goue medaljes tydens die byeenkoms ingeoes. Sy het goud in die 90m-hekkies (13.40), 300m-hekkies (47.65) asook die verspring (5.22m) ingeoes.
Megan Nieman (Menlopark) het ook met haar wentyd in die 300m-hekkies vir meisies o.15 gewys dat sy vanjaar dopgehou moet word.