SSPN Test Site

Blog

  • Plasies bespreek plek in eindstryd met klinkende sege oor Ellisras

    Plasies bespreek plek in eindstryd met klinkende sege oor Ellisras

    FOTO: Marie Huysamen

    TZANEEN. – Op ‘n pragtige laat-winter dag (vir die manne vanaf die hoëveld het dit dalk gevoel soos ‘n somersdag) hier in Tzaneen het die Noordvaal Afdeling 2 se o.15-, o.16- en eerste-spanne semi-finale op “Plasiepark” te  Hoërskool Merensky plaasgevind.

    Die hoofwedstryd van die dag was ‘n Limpopo stryd tussen Hoërskool Merensky en Hoërskool  Ellisras.

    Merensky het die wedstryd begin soos ‘n wegholtrein en was reeds na slegs 15 minute  se speel voor met 24 punte teenoor 0 te danke aan twee drieë deur kookwater senter Neil van Vuuren en die Plasies se besige kantman Nyakala Sethaba. Van Vuuren het ook  al hierdie drieë verdoel.

    Die manne het gaan lemoene eet met die Plasies wat 24 punte teenoor 7 voorgeloop het.

    Ellisras het baie goed verdedig maar het Merensky se Cravenweek skakelpaar, Carl Dohse en Phillip Ludick, stelselmatig hulle stempel in die tweede helfte begin afdruk.

    In ‘n stukkie briljante spel het Van Vuuren ‘n hoë-skop van Ludick opgevolg en uit die lug uit bemeester wat hy met ‘n skitterend aangee vanaf die grond vir Dohse weg gestuur vir sy drie. Van Vuuren het ook hierdie drie verdoel.

    Die Plasies se vleuel Clifford Ledwaba het ook agter die doellyn gaan kuier met Akademieweek-senter Reese Coetzee wat met een strafdoel geslaag het.

    Merensky se pak voorspelers het . soos hulle al die hele seisoen doen , baie goeie kwaliteit bal vir die agterspelers gegee, die Cravenweek-haker, Johan van den Heever, het ook beindruk met omgekeerde balbesit wat hy by die afbreekpunte soos ‘n tipiese Malcom Marx gegaps het.

    Met 13 minute speeltyd oor is die kantman van Ellisras, Jacques Dickinson, met ‘n rooikaart van die veld gestuur nadat hy die skeidsregter in baie gekruide taal aangespreek het.

    Vir Ellisras het hulle  vleuel Koketso Ledwaba agter die doellyn gaan kuier met heelagter, Mabotho Gwangwa, wat verdoel het. Die twee stutte, Ewald Kirstein en Marvin Mofokeng, kan ook baie tevrede wees met hulle spel.

    Merensky reis eerskomende Saterdag na  Midrand waar hulle teen Midstream College in die finaal van die Noordvaal Afdeling 2 sake sal uitspook om hierdie jaar se kampioene te bepaal.

    o.15 | HANS MOORE (BENONI) 16 MERENSKY 10

    In die eerste kragmeting van die dag was die o.15-spanne van  Merensky en Hans Moore (Benoni) gewikkel in ‘n tipiese uitspeelwedstryd wat uiteindelik gewen is deur Hans Moore met 16 punte teenoor 10.

    Die rustydtelling was 10-3 in die guns van Hans Moore. Merensky het in die laaste tien minute van die wedstryd verbete aangeval maar het die hardnekkige verdediging van Hans Moore die wen vir hulle deurgetrek.

    Die nommer oopkantflank, Divan Stander, asook die senterpaar, Seth Pretorius en Vincent Labuschagne van Hans Moore kan baie tevrede voel met hul spel.

    Vir Hans Moore het hulle loskopstut, Dawid Kruger, agter die doellyn gaan kuier en het die geleerde skopvoet van heelagter, Troy Strydom, 11 punte bygedra met ‘n doelskop en 3 strafdoele.

    Aan die kant van Merensky het ook hulle loskopstut, Carel Volschenk, gaan druk met losskakel, JD Boshoff, wat geslaag het met ‘n doelskop en ‘n strafdoel.

    O.16 | POTCHEFSTROOM GIMNASIUM 38 MERENSKY 7

    In ‘n baie aanskoulike o.16-wedstryd het die span van Potch Gimnasium hulle gashere van Merensky met 38 punte teenoor 7 die loef afgesteek.

    Die halftydtelling was egter 12 punte teenoor 7 in die guns van die manne vanaf Potch, maar het hulle na ‘n hoër rat oorgeskakel in die tweede helfte met skitterende samespel tussen voor en agterspelers.

    Vir Potch Gim het hul haker, Jaco Nel, asook senter Lourens Jacobs elkeen twee maal agter die doellyn gaan kuier met die slot Wian Coetzer en plaasvervanger Dian Smith elk met een drie.

    Die losskakel, Andre Grobbelaar, het vier van die drieë verdoel.

    Vir Merensky het agtsteman, Rico Pieterse, gaan druk met Byron Hendriks wat verdoel het.

     

  • Dis die White Sharks teen Vryburg in die Noordvaal-eindstryd in Afdeling 3

    Dis die White Sharks teen Vryburg in die Noordvaal-eindstryd in Afdeling 3

    Die Wilgers van Pretoria sal op sy tuisveld in Pretoria teen die Hoërskool Vryburg in die eindstryd van Afdeling 3 van die Noordvaaltrofee te staan kom.

    Die Wilgers het danksy ‘n drie in die doodsnikke deur sy flank Ajay Lottering daarin geslaag om vir Wolmaransstad uit die reeks te boender.

    Lottering is die tweeling-broer van die Hoërskool Garsfontein en Blou Bulle Cravenweek-haker, De Wet Lottering.

    Wollies het met speeltyd reeds verstreke ‘n voorsprong van 20-17 geniet. Die besoekers het boonop teen rustyd ‘n welverdiende voorsprong van 10-3 op die telbord opgebou.

    Die Wilgers se binnesenter, Kako Mokoena, het deurgans vra aan Wollies se verdediging gevra en ook rigting agterlangs gegee. Die heelagter, Joshua Louw, het ook goed onder druk gevaar. Hy is ‘n hele paar keer gepeper met taktiese skoppe deur die besoekers se losskakel, JP Geldenhuys.

    Voorlangs het die Wilgies se Lottering saam met die haker, Tian Joubert, behoorlik in die los gewoel. Joubert het na ‘n verbroude ingooi by ‘n lynstaan vyf meter van Wollies se doellyn kort daarna vir sy fout vergoed deur ‘n skitterende lopie vanuit sy eie halfgebied in te kry, voordat hy ‘n fase of twee later ook die beweging afgerond het.

    Wollies se buitesenter, Alex van Biljon, het ‘n hele paar spelers van die tuisspan met sy aggressiewe verdediging harpuis laat ruik. ‘n Hele paar agterspelers van Die Wilgers sal vandag ‘n pyn of twee in die ribbes danksy Van Biljon hê.

    Ander uitblinkers vir Wolmaransstad was AJ Holtzhausen (agtsteman), PJ Marx (skrumskakel) en Gerhard van Staden (flank).

    Vryburg het onder moeilike omstandighede daarin geslaag om sy plek in die eindstryd met ‘n sege van 43-31 oor CR Swart in Pretoria te bespreek. Die span vanuit Noordwes het teen rustyd ‘n voorsprong van 26-17 geniet.

    Die wenspan se losskakel, HJ Kruger, het ‘n uitsonderlike bydra van 29 punte tot sy span se sege gelewer. Kruger het twee van sy span se vyf drieë geddruk, al vyf daarvan verdoel en ook drie strafdoele tussen die pale deurgejaag.

    Ondanks die blink vertoning sal Kruger nie heeltemal met sy vertoning wees nie omdat sy taktiese skopwerk asook lynskoppe nie so akkuraat soos gewoonlik op die dag was nie.

    Die besoekers se kaptein en flank, Kraynu Kruger, was soos altyd ‘n staatmaker voorlangs. Hy het deurgans die harde werk voorlangs verrig en ook die span van voor gelei.

    Diaan Janse van Rensburg (flank) en Leon Kgatlhane (linkervleuel) verdien elk ook ‘n klop op die skouer vir hul vertonings.

    Vir CR Swart het sy linkervleuel, Eslin Kastoor, asook die slot Ronaldo Sithole ‘n goeie dag op kantoor beleef. Kastoor het twee keer agter Vryburg se doellyn gaan draai.

    Puntemakers:

    Die Wilgers 24 (3) – Drieë: Tian Joubert, Tjaart du Plessis, Ruben Botha. Doelskoppe: Kako Mokoena (2), Armand Griessel. Strafdoel: Griessel. Wolmaransstad 20 (10) – Drieë: PJ Marx (2). Doelskoppe: JP Geldenhuys (2). Strafdoele: Geldenhuys (2).

    Vryburg 43 (26) – Drieë: HJ Kruger (2), Leon Kgatlahne (2), Johan Retief. Doelskoppe: Kruger (5). Strafdoele: Kruger (3). CR Swart 31 (17) – Drieë: Eslin Kastoor (2), Reggie Mnisi (2), Godwin Engelbrecht. Doelskoppe: Mnisi (3).

    Ander spanne: 

    o.16: Riebeeckrand 31, Hoërskool Sasolburg 3; Linden 55, HTS John Vorster 0.

    o.15: Hoërskool Sasolburg 15, Linden 14; Frans du Toit 19, Riebeeckrand 17.

    o.14: Standerton 24, Oosterland 14; Bergvlam 22, Lydenburg 5.

  • Trio ploeg met Trekkers, terwyl JF bordjies in Rosestad verhang

    Trio ploeg met Trekkers, terwyl JF bordjies in Rosestad verhang

    PIET VAN RENSBURG, die Hoërskool Trio se slot, raak hier behendig ontslae van besit terwyl sy direkte teenstander Harry Kymdell hom plattrek in die eindstryd van die Griffon-liga in die HT Pelatona-stadion in Welkom. Die Trekkers se se ander slot Ludich Reinecke staan nader om te kyk om hy hulp kan verleen. FOTO: Marnus Prinsloo

    WELKOM. – Die Hoërskool Trio se agttal het met die Trekkers geploeg in die eindstryd van die Griffon-liga in die HT Pelatona-stadion hier.

    Trio van Kroonstad het danksy ‘n oorheersende vertonings deur sy pak voorspelers ‘n geskiedkundige oorwinning van 21-14 oor Voortrekker van Bethlehem behaal.

    Wat die sege nog meer merwaardig maak is dat die Trekkers vroeër vanjaar in die liga vir Trio met 20-0 kaf gedraf het. Dit is ook die eerste seisoen sedert Trio sy ontstaan as skool.

    Trio het sy ontstaan te danke aan die samesmelting van die Hoërskool Kroonstad (Blouskool) en die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad (Rooiskool) in 2021.

    Die span van Kroonstad se 130 kilogram Cravenweek-vaskopstut, Kaleb Kriek, was weer aan die voorpunt van sy span se aanslag.

    In Bloemfontein het Jim Fouché danksy ‘n rotsvaste vertoning op verdediging vir Sentraal as kampioen van die Vrystaatse A-liga onttroon.

    JF het die Tralies met 19-14 getroef om die bordjies in die eindstryd te verhang. Die Bloktruie van Sentraal het vroeër vanjaar JF se harte in die doodsnikke van hul FNB Classic Clash met ‘n sege van 29-26 gebreek.

    Vir JF het sy skrumskakel, Jadon Roodt, asook die heelagter, GJ Vos, spel goed dikteer.

    Tydens die Groot Interjol in Upington het Duineveld met 26-13 teen die Hoërskool Upington koning gekraai.

    Hoewel Noordheuwel die knie met 29-33 teen Monument gebuig het in die laaste ronde van die Noordvaaltrofee se Beker-kompetisie was sy twee bonuspunte genoeg om hom tot in die derde posisie op die puntelys te laat eindig.

    Die Nories sal nou in die halfeindronde teen Garsfontein te staan kom, terwyl Monnas gasheer in die ander halfeindstryd vir EG Jansen van Boksburg sal pak.

    Monnas se slotpaar, HJ de Beer (kaptein) en Uli van der Westhuizen, het puik vertonings in die sege oor Nories opgedis.

    In die Plaat-afdeling het Kempton Park by die agterdeur tot die halfeindronde ingeglip deur die Hoërskool Rustenburg met 32-17 te troef. Kempies sal nou na Mbombela reis om die Hoërskool Nelspruit te pak.

    Rusties het sy tuisveldvoordeel vir die halfeindronde weens die nederlaag prys gegee. Hulle sal nou na Middelburg moet reis vir ‘n afspraak met die Hoërskool Middelburg.

    Paul Roos Gimnasium en Boland Landbou het met 12-elk gelykop gespeel. Die span van Stellenbosch sal sy spelpeil moet lig indien hy in sy laaste wedstryd van die seisoen teen Grey-kollege ‘n sege wil behaal.

    Hierdie artikel het oorspronklik op 14 Augustus 2022 in Rapport verskyn.

    Al die uitslae: 

    NOORDVAAL

    Afdeling 1

    Beker: Monument 33, Noordheuwel 29; Marais Viljoen 38, HTS Middelburg 36.

    Plaat: Hoërskool Middelburg 42, Zwartkop 31; Montana 44, Ben Vorster 34; Kempton Park 32, Hoërskool Rustenburg 17; Hoërskool Nelspruit 29, Transvalia 17.

    Skild: Heidelberg Volkskool 24, Eldoraigne 23; Oos-Moot 29, Jeugland 10; Hugenote (Springs) 45, Ligbron 40.

    Bowl: Hoërskool Pietersburg 61, Centurion 15; Secunda 31, Hoërskool Alberton 0; Wesvalia 24, Dr. Malan 12; Die Anker 22, Potchefstroom Volkskool 20.

    Afdeling 2

    Halfeindstryde – Merensky 36, Ellisras 7; Midstream College 23, Frikkie Meyer 18.

    Afdeling 3

    Halfeindstryde – Die Wilgers 24, Wolmaransstad 20; Vryburg 43, CR Swart 31.

    Afdeling 4

    Halfeindstryde – Carletonville 43, Eric Louw 14.

    Afdeling 5

    Halfeindstryde – 5A: Magalies 24, Roodepoort 14; Morgenzon Landbou 22, Hendrina 19. 5B: Koster 29, Schweizer-Reneke 5; Ferdinand Postma 32, Marist Brothers Linmeyer 7.

    VRYSTAAT/GRIEKWAS

    Jim Fouché 19, Sentraal 14; Hoërskool Trio 21, Voortrekker 14; Bothaville 21, Ficksburg 10; Duineveld 26, Hoërskool Upington 13; Diamantveld 73, Kalahari (Kuruman) 0; Curro Kathu 10, Wildeklawer 10; Warrenton 44, Saul Damon 5.

    OOS-KAAP/KWAZULU-NATAL

    Glenwood 26, Maritzburg College 22; Die Brandwag (Uitenhage) 18, Nico Malan 12; Grey High School 32, Selborne College 26; Queen’s College 97, Cambridge 10; Hudson Park 20, Dale College 17.

    WES-KAAP

    Paul Roos Gimnasium 12, Boland Landbou 12; Outeniqua 72, Framesby 5; Hoërskool Bellville 15, Hottentots-Holland 0; Rondebosch Boys’ High 24, SACS 12; Wynberg Boys’ High 44, Bishops 12; Stellenberg 43, Strand 11; Edgemead 22, The Settlers 7; Durbanville 22, Tygerberg 3.

  • Midstream College die laaste hoop om Afdeling 2 se trofee uit Limpopo se hande te hou

    Midstream College is die laaste span staande in Afdeling 2 van die Noordvaaltrofee van buite Limpopo en dus die enigste span wat kan sorg dat die trofee nie vanjaar staanplek in die provinsie kry nie.

    Die span vanuit Centurion kom vandag op sy tuisveld teen Frikkie Meyer van Thabazimbi te staan.

    Frikkie Meyer is die Limpopo-liga se naaswenner na hy teen Merensky in die eindstryd met 12-20 die knie gebuig het. Die span van Thabazimbi het egter nog nie te veel probleme ondervind om tot die halfeindronde van die Noordvaaltrofee te vorder nie.

    Hy het tot dusver vir die Hoërskool Randburg (66-12) en Brandwag van Benoni (28-10) verslaan om sy plek tot hier oop te speel.

    Die span se vaskopstut, Vian Horn, is soos ‘n Okey Geffin van ouds ook ‘n stelskopper. Almal jonger as 40 kan maar vir Geffin Google saam met 1949, All Blacks en Whitewash. Horn is die susterskind van die voormalige Springbok-slot, Victor Matfield. Is dit lyk of hy net so veelsydig soos sy oom is.

    In ag genome dat die Limpopo se Cravenweek-stelskopper en binnesenter, Tristan Brits, ook vir Frikkie Meyer uitdraf is ‘n bewys dat Horn weet hoe op pale toe te korrel.

    Midstream het reeds die enigste span van Limpopo wat uitgeskakel is, Hans Strijdom van Mookgophong met 24-15 in die uitspeelronde verslaan. In die kwarteindronde was hy met 32-17 oor Piet Retief baas.

    Merensky wat sover vanjaar een van sy beste seisoene in dekades beleef kom Saterdag op sy tuisveld, Plasiepark, in Tzaneen in die ander halfeindstryd teen Ellisras te staan.

    Daar kan verwag word dat die tuisspan se twee generaals, Carl Dohse en Phillip Ludick, te veel planne agterlangs sal hê vir Ellisras om vir ‘n opskudding te sorg. Die duo was ook die Limpopo Blou Bulle se skakelpaar tydens die Cravenweek-toernooi in Kaapstad.

    Merensky het tot dusver vir Leeuwenhof-akademie (50-12) en die Hoërskool Ermelo (45-5) in die reeks uitgeskakel. Ellisras het sy pad tot in die halfeindronde met seges oor Florida (22-5) en Oosterlig (36-24) oopgespeel.

    Die spanne is: 

    Merensky vs Ellisras om 12:10 op Plasiepark in Tzaneen: 

    Merensky: 15 Dirk de Nyschenn, 14 Clifford Ledwaba, 13 Reese Coetzee, 12 Neil van Vuuren, 11 Mahlatse Semosa, 10 Phillip Ludick, 9 Carl Dohse, 8 Waldi Haasbroek, 7 Nyakala Sethaba, 6 Tian Viljoen-Krugel, 5 Zander Heydenrych, 4 Henro Delport, 3 Wessel de Kock, 2 Johan van den Heever, 1 Divan Pietersen.

    Ellisras: Geen span ontvang nie.

    Frikkie Meyer vs Midstream College om 10:00 in Centurion:

    Frikkie Meyer: 15 Ulrich Gilbert, 14 Jacques Kotze, 13 Edward Terblanche, 12 Tristan Brits, 11 De Wet van der Walt, 10 Jeselte van Rooyen, 9 Tommy Swanepoel, 8 HJ Janse van Rensburg, 7 Driekus du Plessis, 6 Ruan Stander, 5 Tristan Baard, 4 Ulrich Taylor, 3 Vian Horn, 2 Kian Coetzee, 1 Janco van Deventer.

    Midstream College: 15 Jaedon de Leeuw, 14 Hilton Thomas, 13 Justin Hattingh, 12 Rowan Lindeque, 11 Nathan Manonga, 10 Christiaan Mare, 9 Rhynardt Henning, 8 Anru Cronje, 7 Joshua Smit, 6 Ndzalama Manyike, 5 Jacques Vos, 4 Zander Theron, 3 Luc Osmani, 2 Franco du Toit, 1 Mika Lubbe.

  • Eindstryd tussen Tralies en JF kan vir heelwat opwinding sorg

    Eindstryd tussen Tralies en JF kan vir heelwat opwinding sorg

    Die eindstryd van die Vrystaatse A1-liga beloof om vir heelwat opwinding Saterdag in Bloemfontein te sorg.

    Die Hoërskool Sentraal sê vir Jim Fouché die stryd op die Hoërskool Fichardtpark se veld aan om die titel.

    Die Tralies het vroeër vanjaar op spannende wyse in die FNB Classic Clash tussen die twee spanne met 29-26 die septer geswaai. Die Bloktruie sal dus op die veld draf as gunstelinge, maar slegs met ‘n kortkoppie.

    Sentraal is die verdedigende kampioen na hy die einste JF in 2019 se eindstryd verslaan het. JF was laas in 2012 kampioen van die liga toe hy Sentraal in die eindstryd met 29-16 getroef het.

    Maar genoeg oor die geskiedenis.

    Die skeidsregter vir vandag se wedstryd is Jaco Kotze wat die eerste Vrystaatse skeidsregter was wat die eer te beurt geval het om aan stuur van die hoofwedstryd van ‘n Cravenweek te wees. Interresant is dat Kotze een van die afrigters is van Fichardtpark wat verlede week in die halfeindronde teen JF (17-26) vasgeval het.

    Kotze was ook al voorheen by JF se eerstespan in sy loopbaan betrokke en daar is waarskynlik nie ‘n skeidsregter in die Vrystaat wat die twee spanne beter ken as hy nie. Dit kan verder tot die skouspel van die eindstryd bydra.

    Die Tralies se heelagter, Jermairon Ruiters, was vanjaar ‘n lid van die Vrystaatse-span na die Cravenweek in Kaapstad. Hy sal ‘n sleutelrol vanuit die laaste vesting vir die Bloktruie vertolk.

    Sy direkte teenstander van JF, GJ Vos, het vanjaar die punte behoorlik met die skopskoen ingeryg en dit kan vandag weer ‘n reuse bate vir sy skoolspan wees. Die Groen Masjien se skakelpaar, Justin Pieterse en Jadon Roodt, behoort ook sleutelrolle in vandag se wedstryd te speel.

    Albei die spanne het reeds vir die Kovsiestreekkompetisie se Shimla-liga gekwalifiseer. Die uitslag van die eindstryd sal slegs bepaal wie volgende week na Kimberley en wie na Welkom sal reis.

    Die spanne is: 

    Hoërskool Sentraal: 15 Jermairon Ruiters, 14 Hendré Botha, 13 Hanco Smith, 12 André Buys, 11 Valken Goosen, 10 Ruan van Niekerk, 9 Jaydon Botes, 8 GF Linde, 7 Bernard Kachelhoffer, 6 Hein Champion, 5 Gerhard Faber, 4 Rikus Louw, 3 JC Kruger, 2 Christiaan Barnard (kaptein), 1 HJ Human.

    Jim Fouché: 15 GJ Vos, 14 Tristan van der Walt, 13 Marcus Gordon, 12 Dalen Watkins, 11 Dylan Calitz, 10 Justin Pieterse, 9 Jadon Roodt, 8 Phillip Noëth, 7 Stefan Venter, 6 CJ Raath, 5 R Nieuwoudt, 4 Calvin Bolt, 3 W van der Berg, 2 E Nelson, 1 MJ Meyer.

    Afskop: 14:10
    Skeidsregter: Jaco Kotze

  • Jim Fouche – 2022

    Results

    [ninja_tables id=”11419″]

    Coaches: 

    Players: GJ Vos,  

    20 or more points in a match:

    • List Title #1

    3 or more tries in a match:

    • List Title #1

    Interesting Facts:

    • List Title #1
    • List Title #2
    • List Title #3
  • Trekkers en Trio in tweegeveg in Welkom om die Griffon-titel

    FOTO: Willie Kruger

    Gaan die Trekkers sy vierde titel inpalm of gaan Trio geskiedenis maak in die Griffon-liga se eindstryd?

    Voortrekker van Bethlehem sê vir die Hoërskool Trio van Kroonstad die stryd in die eindstryd in die HT Pelatona-stadion in Welkom die stryd aan. Die Trekkers was laas in 2016 in ‘n eindstryd in aksie en het in 2014 laas die kroon van Noord-Vrystaat gedra.

    Die Trekkers was in 2008, 2011 en 2014 die kampioen van die liga, terwyl dit Trio se eerste seisoen as span is. Trio het sy ontstaan te danke aan die samesmelting van die Hoërskool Kroonstad (Blouskool) en die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad (Rooiskool) in 2021.

    Voortrekker het die liga-wedstryd tussen die twee spanne vroeër vanjaar redelik gemaklik met 20-0 gewen, maar die span se afrigters, Dries Pretorius en Justin Taylor, sal geen ilusies hê oor dat Saterdag se eindstryd veel taaier sal wees nie.

    Trio word deur Francois Stemmet en Quintin Geldenhuys afgerig. Laasgenoemde het Italië in 67 toetse tussen 2009 en 2016 verteenwoordig. Hy het ook die span ‘n paar keer aangevoer.

    Trio se vaskopstut, Kaleb Kriek, was tydens vanjaar se Cravenweek in Kaapstad die swaerste speler in aksie op die toernooi. Kriek laat die skaal op 130kg kreun en hy is ‘n gevaarman met die bal in die hand. Kriek se voorrymaat, Anru Mulder, was ook vir die Perses op die gesogte week in aksie.

    Trio het boonop in sy arsenaal ‘n “John Eales” in die slot Piet van Rensburg wat ook pale toe korrel vir die span. Agterlangs hou die senterpaar, Michiel Heyns en Charlton Basson, gevaar vir die Trekkers in.

    Die span van Bethlehem se aanslag sal deur sy agtsteman, Fano Linde, gelei word. Linde se stormramlopies speel ‘n belangrike rol om sy span op die voorvoet te kry. Hy en die heelagter, Ruben Kruger, is die Trekkers se enigste Cravenweek-spelers.

    Die kampioen van die liga sal ook deurdring tot die halfeindronde van die Kovsiestreekkompetisie se Shimla-liga. Die Vrystaat het vanjaar twee verteenwoordigers in die liga wat beteken dat Jim Fouché asook Sentraal reeds hul plekke in die halfeindronde bespreek het.

    Die eindstryd om die Vrystaatse titel in Bloemfontein sal wel bepaal wie van die twee spanne onderskeidelik na Kimberley en Welkom sal reis.

    Die spanne is: 

    Voortrekker: 15 Ruben Kruger, 14 Hein Smit, 13 Tumi Khoza, 12 Dawie Maree, 11 Tiaan van Rooyen, 10 Jake Landman, 9 Johnny Willis, 8 Fano Linde, 7 Ruan Haward, 6 Louis Janse van Vuuren (kaptein), 5 Harry Kymdell, 4 Ludich Reinecke, 3 Ruan Warden, 2 DH Stevenson, 1 Sev Oosthuizen.

    Hoërskool Trio: 15 Jaco Steyn, 14 Haaron Kabeya, 13 Charlton Basson, 12 Michiel Heyns, 11 Ignus de Wet, 10 BJ Pelser, 9 CJ Taljaard, 8 Ewald Tolmay, 7 Conrad Hattingh, 6 JD Kirstein, 5 Piet van Rensburg, 4 Henco Kriek, 3 Kaleb Kriek, 2 Austin Jardim, 1 Anru Mulder.

    Afskop: 13:20
    Skeidsregter: Tertius de Villiers.

  • Daar wag ‘n Luiperd vir die White Sharks en CR Swart in Afdeling 3 se halfeindronde

    Daar wag ‘n Luiperd vir die White Sharks en CR Swart in Afdeling 3 se halfeindronde

    Daar sal vanjaar ‘n nuwe kampioen in Afdeling 3 van die Noordvaaltrofee gekroon word.

    Albei die naweek se halfeindstryde sal in Pretoria aangebied word. Die Wilgers speel gasheer vir die Hoërskool Wolmaransstad, terwyl CR Swart op sy tuisveld teen die Hoërskool Vryburg sake sal uitspook om ‘n plek in die eindstryd.

    Die kampioen van 2019, Leeuwenhof-akademie, het danksy sy sukses van 2019 na Afdeling 2 van die reeks opgeskuif. Hy het destyds vir Curro Heuwelkruin van Polokwane met 37-16 in die eindstryd verslaan. Leeuwenhof het goed van homself in Afdeling 2 rekenskap gegee vanjaar met sy eerstespan wat in die uitspeelrondes teen die vroeë gunsteling, Merensky van Tzaneen, die onderspit gedelf het.

    Curro Heuwelkruin se reeks het in die uitspeelrondes teen Bastion van Krugersdorp tot ‘n einde gekom.

    Hoewel dit moeilik vir die twee spanne vanuit Luiperd-kontrei sal wees om weg van die huis seges te behaal, kan die twee spanne glad nie gering geskat word nie.

    Die Blou Bulle se kampioen, Die Wilgers se White Sharks, met sy kaptein en agtsteman, Johan Venter, aan die spits sal graag vir die eerste keer sedert 2011 tot ‘n eindstryd van die streekkompetisie wil deurdring. Die White Sharks was in 2011 die kampioen van die Beeldtrofee se mediumskole-afdeling.

    Die span van die Jakarandastad se flank Ajay Lottering asook losskakel, Armand Griessel, kan ook die besoekers probleme besorg.

    Wolmaransstad was laas in 1964 in ‘n eindstryd (eerstespanne) van die reeks betrokke. Die reeks het destyds nog as die Administrateursbeker bekend gestaan en Wollies het Die Fakkel van Johannesburg met 16-11 geklop om as kampioen gekroon te word.

    CR Swart sal graag ‘n tweede kans wil kry om Die Wilgers te kan verslaan, maar vir nou staan die gedugte span van die Hoërskool Vryburg in hul pad.

    Vryburg is een van die mees suksesvolste spanne in die geskiedenis van die reeks. Hy was kampioen van die mediumskole-kompetisie in 2009, 2014 en 2016, terwyl die eerstespan ook in 2002, 2003, 2004 en 2005 die kroon in die kleinskole-afdeling gedra het.

    CR Swart was in die eindstryd van die Blou Bulle se liga teen Die Wilgers met 25-33 aan die verloorkant. Vryburg het op hul beurt al vanjaar vir die Hoërskool Upington met 21-14 afgestof.

    Die spanne is: 

    Die Wilgers vs Wolmaransstad om 10:30 in Pretoria: 

    Die Wilgers: 15 Joshua Louw, 14 Anthony Venter, 13 Jonathan Hefer, 12 Kakho Mokoena, 11 David Valentine, 10 Armand Griessel, 9 Dennis Obi, 8 Johan Venter (kaptein), 7 Tjaart du Plessis, 6 Ajay Lottering, 5 Jeanre van der Walt, 4 Ruben Botha, 3 Ruan Viljoen, 2 Tian Joubert, 1 Ruaan Minny.

    Wolmaransstad: 15 Dirkie Mulder, 14 FC van Zyl, 13 Alex van Biljon, 12 Danus Hoffman, 11 Herco Janse van Vuuren, 10 JP Geldenhuys, 9 PJ Marx, 8 AJ Holtzhausen, 7 Gerhard van Staden, 6 Hlompho Motlabi, 5 MJ Scholtemeyer, 4 Tsepang Dingoko, 3 Fanie Rossouw, 2 Jan-Hendrik Barkhuizen, 1 Ongephotse Rabaji.

    CR Swart vs Hoërskool Vryburg om 11:00 in Pretoria: 

    CR Swart: 15 Alister Gouws, 14 Devon Brown, 13 Regy Mnisi, 12 Ricky Beukes, 11 Eslin Kastoor, 10 Godwin Engelbrecht, 9 Hlomla Nyobo (kaptein), 8 AJ Engelbrecht, 7 Tolulope Adicambi, 6 Thumisho Mashanye, 5 Ronaldo Sithole, 4 Nathan Sheldon, 3 Thinashe Munyati, 2 Katlego Mokoka, 1 Haraipha Mthembu.

    Hoërskool Vryburg: 15 Johan Retief, 14 Linda Boyo, 13 Marnus Bosch, 12 Hanco Halgryn, 11 Leon Kgatlhane, 10 HJ Kruger, 9 Zack Tities, 8 Ferdie Pieterse, 7 Diaan Janse van Rensburg, 6 Kraynu Kruger (kaptein), 5 Andre Smit, 4 Onkarabile Thupe, 3 TJ Grobler, 2 Johan Steyn, 1 Cobus van den Berg.

  • Daar is die naweek ‘n jol in Upington, ‘n Groot Interjol!

    Daar is die naweek ‘n jol in Upington, ‘n Groot Interjol!

    NewsG DuineveldDit is weer tyd vir die Groot Interjol in Upington.

    Die gebeurtenis in die grootste in die Noordweste van Suid-Afrika – met almal vanaf Grootdrink, Stofbakkies, Karasburg, Askham en selfs Putsonderwater wat belang het in die tweestryd tussen Duineveld en die Hoërskool Upington.

    Die Velties is vanjaar die gasheer vir vanjaar se groot stryd. Die skeidsregter vir die eerstespan-wedstryd is Niel Bosman van die Blou Bulle se skeidsregtersvereniging.  Bosman het op sy dag ook op losskakel vir Affies uitgedraf.

    Ander skeidsregters wat al die eer gehad het om dié wedstryd te hanteer sluit in Jonathan Kaplan, Lourens van der Merwe en Ben Crouse.

    Duineveld het vroeër vanjaar tydens die Klein Interjol met 10-3 in ‘n klipharde tweestryd as oorwinnaars van die veld gestap. Die Velties het vanjaar vier spelers tot Griekwaland-Wes se span vir die Cravenweek in Kaapstad bygedra.

    Die viertal is AJ Wiese (haker), Juan Agenbag (vaskopstut), Freddie Collen (flank) en Wyndham Bouwer (buitesenter). Uppies het self drie spelers tot die Poubloues se span bygedra met Neil Pedro (skrumskakel), Macniell Hendriks (buitesenter) en Jaco Fourie (agtsteman) wat in die Moederstad in aksie was.

    Hendriks het op agtsteman tydens die Cravenweek uitgedraf, terwyl Wiese op vaskopstut vir die provinsiale span diens gedoen het.

    Die kragmeting behoort ‘n titaniese tweestryd tussen die voorspelers van Duineveld en die vlugvoetige agterspelers van Upington te wees. Veral die skrumskakel, Pedro van Uppies, het al vanjaar gewys dat niemand ‘n oog kan knip rondom die losskrums nie, anders is hy daar verby.

    Uppies het ‘n trotse rugby-geskiedenis met hul nuutste Springbok, Jasper Wiese, wat vandag op Ellispark teen die All Blacks in aksie sal wees. Sy jonger broer, Cobus Wiese, is ook ‘n produk van die skool.

    Ander Springbokke wat die Hoërskool Upington opgelewer het sluit in Tiaan Strauss, Daantjie Rossouw en Willem Barnard.

    Die Velties se bekendste uitvoerproduk op die rugbyveld in Kees Lensing wat Namibië op die rugbyveld aangevoer het.

    Die spanne is: 

    Duineveld: 15 Mighael Coetzee, 14 Wian Joubert, 13 Wyndham Bouwer, 12 Alwyn Kotze, 11 Shamaro de Klerk, 10 DJ Wandrag, 9 Jandre Marais, 8 Stefan Klindt, 7 Malan Geldenhuys, 6 Freddie Collen, 5 Gert-White Grobbelaar, 4 Ean le Rich, 3 Juan Agenbag, 2 AJ Wiese, 1 Janrich Agenbag.

    Hoërskool Upington: 15 John-Joshua Steenkamp, 14 Khayalenkosi Maganga, 13 Macniell Hendriks, 12 Shaldon Cloete, 11 Siphe Msebenzi, 10 Emlyhn Jacobs, 9 Neil Pedro, 8 Jaco Fourie, 7 Murry Louw, 6 Sipho Li’ingi, 5 PA Karsten, 4 Franco Odendaal, 3 Vrele du Toit, 2 LJ Kotze (kaptein), 1 Niel Visser.

    Afskop: 15:50
    Skeidsregter: Niel Bosman (Blou Bulle).