SSPN Test Site

Blog

  • Wildeklawer-feesstryd van die baan

    Wildeklawer-feesstryd van die baan

    Wildeklawer10Die beplande feeswedstryd van die twee uitsoekspanne van Wildeklawer wat op 15 September op Ellispark sou plaasvind is gekanseleer. Dié wedstryd sou een van die hoogtepunte van die tiende bestaansjaar van die gesogte toernooi gewees het. Dit sou as die vernaamste voorwedstryd van die Curriebeker-wedstryd tussen die Goue Leeus en die Westelike Provinsie gedien het. 

    “Die impak van ‘n lang seisoen, en die werklikheid van die naderende graad 12 eksamens, het ongelukkig aanleiding gegee tot die onbeskikbaarheid van ‘n groot aantal van die verkose spelers. Talle van die spelers was ook betrokke by die wedstryde van die Suid-Afrikaanse Skole-span tydens hul onlangse vierhoekige reeks teen Wallis, Engeland en Frankryk asook die SA Sewes-span,” lui die verklaring van Wildeklawer.  

    Keurders het tydens die Wildeklawer-toernooi vroeër vanjaar in Kimberley twee spanne – Noord en Suid, gekies. Die twee spanne sou mekaar in ‘n vertoonwedstryd die stryd aansê.  

    “In die beste belang van die spelers en hul onderskeie skole, het die Strategiese Komitee van die Wildeklawer-toernooi, besluit om die beplande feeswedstryd af te stel. Die verkose spelers sal steeds deur Wildeklawer op ‘n gepaste wyse vereer word by wyse van spesiale sertifikate wat na hul onderskeie skole gestuur sal word,” sluit die verklaring af. 

    Paul Roos Gimnasium van Stellenbosch sal Suid-Afrika volgende jaar op die Sanix-toernooi in Japan verteenwoordig. Dit beteken Wildeklawer sal nog ‘n span na volgende jaar se toernooi moet nooi. Dit sal waarskynlik ‘n SARU XV-tal wees. 

  • Grey-afrigter verklap span se sukses-storie

    Grey2018“Geestelike taaiheid asook uitsonderlike kondisionering,”

    Dit is volgens Grey-kollege se hoof van rugbyafrigting, Wessel du Plessis, die belangrikste faktore wat ‘n rol in die skool se eerstespan se sukses vanjaar op die rugbyveld gespeel het.

    “Die seuns in die groep het werklik ‘n geestelike taaiheid ten toon gestel om die seisoen onoorwonne af te sluit. Ons het slegs drie wedstryde op ons tuisveld gehad,” het Du Plessis gesê.

    Die ander Bloemfonteinse skole het verlede jaar besluit om nie meer teen Grey te speel nie. Dit het vier wedstryde vir Grey uit hul bepalingslys geneem en ook beteken dat die span nie vanjaar veel op tuisbodem in aksie was nie.

    “Die spelers se kondisionering onder leiding van Inus Keyser het ook ‘n belangrike rol in die sukses gespeel. Ons twee wedstryde tydens die Wêreld-skolefees in die Paarl het ons selfvertroue ook ‘n belangrike hupstoot gegee.”

    Grey het verlede jaar ook vir Bobby Joubert as direkteur van rugby aangestel en sy werk agter die skerms begin veral op juniorvlak vrugte afwerp. Grey het vanjaar 22 spelers tot die 23-tal van die Vrystaatse-span bygedra wat as nie-amptelike kampioen van die Grant Khomo-week (vir o.16-spanne) in Kimberley gekroon is.

    Joubert is, sonder twyfel ook met die hulp van ooreenkoms met Montpellier met die Badawi-beurse, besig om Grey-rugby tot ‘n nuwe vlak te stuur. Grey het vanjaar vir die eerste keer ooit in die skool se geskiedenis in al 24 sy rugbywedstryde teen Paul Roos as oorwinnaars van die veld gestap. 

    “Daar het baie harde werk, met ‘n klem op die baie in die seisoen ingegaan. Ons afrigters op juniorvlak speel ook ‘n belangrike rol met die grondslag wat hulle lê. Bobby sorg met sy werk dat dat rugby by Grey gesond is,” het Du Plessis gesê

    Vanjaar was die eerste keer in sewe jaar dat Grey daarin kon slaag om sy seisoen onoorwonne af te sluit. Die skool van die Rosestad se eerstespan het wel in 2014 ook die seisoen as die voorste skolespan in Suid-Afrika afgesluit.

    Sedert 2015 tot en met 2017 het die Hoër Jongenskool Paarl nie sy gelyke in Suid-Afrika gehad nie.

    Grey het vanjaar 13 wedstryde gespeel. Die span se twee oortuigende seges tydens die Wêreld-skolefees in die Paarl oor Christchurch Boys’ High (66-28) en Hartpury College (66-0) is egter nie in berekening geneem vir die ranglys nie.

    Wat Grey se seisoen nog meer merkwaardig maak is die feit dat die span slegs drie wedstryde op sy tuisveld gespeel het. Hy het slegs vir Waterkloof (60-15), Selborne College (62-22) en Paul Roos tuis gepak.

    Grey het vanjaar met 25-elk gelykop teen Glenwood in Durban gespeel en met sy sege van 28-26 oor Paul Roos Gimnasium seker gemaak dat hy die seisoen as die land se voorste span afsluit.

    Hoekom beklee Glenwood dan nie tweede posisie op die ranglys nie?

    School of Rugby se ranglys neem ‘n span se teenstand waarteen hy speel ook in ag. Vanjaar is daar 343 eerstespanne van regoor Suid-Afrika se uitslae ingewin. Dié skole is in tien vlakke volgens hul krag ingedeel. Die voorste 20 spanne in Suid-Afrika is in Vlak 1 en ‘n sege oor ‘n span in dié vlak gee aan ‘n span ‘n volle tien punte. ‘n Sege oor ‘n span in Vlak 10 sal aan jou ‘n enkele punt besorg.

    Daar is ook natuurlik bonuspunte vir seges met 30 punte of meer asook ‘n puntetoekenning vir ‘n span se nederlae wat in ag neem in watter vlak jou teenstander himself bevind.

    ‘n 100 persent wenrekord gee ook aan ‘n span ‘n voordeel. Hier word ‘n span se totale wedstryde ook in ag geneem. Grey en Glenwood spog albei met ‘n onoorwonne rekord na 11 wedstryde wat beteken albei het 1.1 punte tot hul total vir die ranglys gevoeg.  

    Grey en Paul Roos het albei nege skole in die Top 20 deur die seisoen die stryd aangesê. Glenwood het slegs teen vyf van die Top 20-skole kragte gemeet. Die span van Durban se onoorwonne status was die verskil tussen ‘n derde en vierde posisie op die ranglys. Paarl Gimnasium het slegs twee nederlae teen onderskeidelik Paul Roos en Paarl Boishaai op die lyf geloop en in totaal teen agt van die voorste 20 spanne in die land te staan gekom.

    School of Rugby volg die wiskundige sisteem om te verseker dat alle emosie uit die ranglys geneem word. ‘n Span word ook nie net op een goeie oorwinning of een slegte nederlaag geoordeel nie, maar sy hele seisoen word in oënskou geneem.

    Daar bestaan nie ‘n ranglys wat korrek is nie en hoewel School of Rugby poog om ons sisteem weekliks te verbeter en nader aan die waarheid te kom, is die slegs vir ‘n lekker en soms vurige gesprek langs die braaivleisvuur.

  • Nories maak dubbeld seker van plek in Kampioene-toernooi

    TwizzaNoordheuwel het die naweek dubbeld seker gemaak dat hy vanjaar ‘n plek in die Hoërskole 7s-reeks se Kampioen van Kampioene-toernooi sal hê. Die reeks word in samewerking met Twizza aangebied. 

    Noordheuwel is Saterdag as kampioen van die Krugersdorp-been van die reeks gekroon toe hy Waterkloof van Pretoria met 21-19 in die eindstryd op sy tuisveld verslaan het. Nories het die vorige week ook die kroon as kampioen van die gesogte Vryheid-been van die reeks gedra, wat deur die Hoërskool Pionier aangebied word.

    Noordheuwel het sy plek in die eindstryd met ‘n oortuigende oorwinning van 38-7 oor die Heidelberg Volkskool bespreek. Waterkloof het ook nie veel probleme ondervind om sy plek in die eindstryd te bespreek nie. Klofies het Brandwag van Benoni met 38-14 in die ander halfeindstryd die loef afgesteek. 

    Waterkloof het naelskraaps bo-aan Groep B geëindig. Klofies het net-net daarin geslaag om Heidelberg Volkskool met 22-21 in sy laaste groepwedstryd te verslaan. Die span van Pretoria het in sy ander twee groepwedstryde vir Noordheuwel II (24-5) en Krugersdorp High (42-7) gemaklik uit die pad gestamp. 

    Noordheuwel moes ook harder as verwag werk om Dinamika van Alberton met 17-14 onder te kry. Die gasheer het wel gemaklik met Marais Viljoen (31-12) en Brandwag (22-7) afgereken. 

    Die Kampioen van Kampioene-toernooi word vanjaar weer op Camp Discovery net noord van Pretoria aangebied. Paul Roos Gimnasium van Stellenbosch is die verdedigende kampioen. Al die toernooie in die reeks word regstreeks deur DigiTV (www.digitv.co.za) gebeeldsend. 

    Al die uitslae: 

    Groep A: Noordheuwel 31, Marais Viljoen 12; Brandwag 24, Dinamika 10; Noordheuwel 17, Dinamika 14; Brandwag 19, Marais Viljoen 5; Noordheuwel 22, Brandwag 7; Marais Viljoen 22, Dinamika 12.

    Groep B: Waterkloof 24, Noordheuwel II 5; Heidelberg Volkskool 57, Krugersdorp High 0; Waterkloof 42, Krugersdorp High 7; Heidelberg Volkskool 38, Noordheuwel II 0; Noordheuwel II 32, Krugersdorp High 19; Waterkloof 22, Heidelberg Volkskool 21. 

    Halfeindronde – Bowl: Marais Viljoen 43, Krugersdorp High 19; Dinamika 24, Noordheuwel II 10. Beker: Noordheuwel 38, Heidelberg Volkskool 7; Waterkloof 38, Brandwag 14.

    Eindstryde – Skild: Krugersdorp High 21, Noordheuwel II 15. Bowl: Marais Viljoen 17, Dinamika 0. Plaat: Brandwag (Benoni) 12, Heidelberg Volkskool 7. Beker: Noordheuwel 21, Waterkloof 19. 

  • Paarl Boishaai stel Engledow as Hoof van Rugby aan

    Paarl Boishaai stel Engledow as Hoof van Rugby aan

    Paarl BoishaaiHoër Jongenskool Paarl (ook bekend as Paarl Boys High), het sopas die moeilike proses voltooi om die pos van “Hoof van Rugby” te vul. Die opening het ontstaan nadat Sean Erasmus ‘n aanbod van die Goue Leeus aanvaar het met ingang 1 November 2018.

    Volgens meneer Derek Swart, skoolhoof van die Hoër Jongenskool Paarl, was die komitee wat die aanstellingsproses hanteer het, bevoorreg om te kon werk met ‘n lang lys van uitstekende kandidate. “Ons moes uiteindelik ‘n keuse maak uit die groep top kandidate en het besluit op Peter Engledow, tans afrigter by Griekwas rugby”.

    Peter is ‘n produk van die Universiteit van Stellenbosch. Hy het ‘n draai gemaak by St Joseph’s College in Ipswich, Engeland as Direkteur van Rugby voordat hy in 2013 by Griekwas Rugby aangesluit het. In sy vyf jaar by Griekwas was hy betrokke as Assistent Afrigter, asook Hoof Afrigter by die Griekwa Vodacom- en Curriebeker spanne. Onder sy leiding het Griekwas onder andere die Vodacom beker gewen in 2014, asook as naas-bestes geëindig in die Supersport Uitdaagreeks in 2017 met ‘n wen-ratio van 90%.

    “Dit is vir my ‘n groot eer en voorreg om deel te word van die Paarl Boys High kultuur,” sê Peter. “Die keuringsproses was baie omvattend maar ek sien uit daarna om die skool trots te maak en Sean Erasmus se skoene te vul”.

    Sean was vir vyf jaar die Hoof van Rugby by Paarl Boys High. In sy vyf jaar het HJS se rugby ongekende hoogtes bereik. Hoogtepunte oor die periode sluit onder andere in: drie onoorwonne jare asook vier Wen Interskoles teen Paarl Gimnasium vir die Eerste span, met die tweede span wat slegs twee maal verloor het in die vyf jaar periode.

    Peter sluit rondom die einde van Oktober aan by sy nuwe Paarl Boys High familie.

  • Hier is die loting van die o.17-toernooi van die Marius Schoeman 7s vir 2018

    MariusSchoeman7s2018Die verdedigende kampioen van die Marius Schoeman Sewes-toernooi, Paul Roos Gimnasium van Stellenbosch, behoort nie veel probleme in sy groepwedstryde te ervaar om sy plek in die uitspeelwedstryde van vanjaar se toernooi op Paarl Gimnasium se velde te verseker nie.

    Die span van die Eikestad is saam met Parel Vallei, Vuka Legends, die Hoërskool Tygerberg en Malibu geloot. Tygerberg kan wel ‘n moeilike hekkie vir die span van Paul Roos wees. Tygerberg het in 2010 en 2011 nie sy gelyke op skoolvlak in sewes gehad nie. Die span met sy breier, Gavin Beresford, aan die stuur beskik dus oor die vermoë om vir ‘n verrassing of twee te sorg. 

    Paul Roos is die nasionale seweskampioen na hy verlede jaar die eerste Hoërskole Sewesreeks se Kampioen van Kampioene-toernooi op Camp Discovery gewen het. Die reeks word in samewerking met Twizza aangebied. Dié span se breier, Ian Campbell-McGeachy, was betrokke by die trekking van die groepe vir die Marius Schoeman-toernooi. 

    Die gasheer, Paarl Gimnasium, is saam met Brackenfell, Douglas, Primrose RFC en Hugenote van Wellington in Groep A geloot. Die eerste wedstryd van die toernooi sal heel gepas tussen Gimmies en Hugenote wees. Marius Schoeman natuurlik ‘n oud-leerling van Paarl Gimnasium, terwyl Hugenote die Blitsbok Juan de Jongh opgelewer het. 

    Die grootste aanslag op die titel vanuit noord van die Vaalrivier sal van Monument van Krugersdorp en Garsfontein kom. Die Garsie BlitzBere het verlede week koning op die jaarlikse Sutherland Sewes in die Jakarandastad gekraai. Die span is die naweek ook in die Montana 7s in aksie. Garsfontein is waarskynlik in die moeilikste groep vir die Marius Schoeman 7s geloot. 

    Garsies is saam met HTS Drostdy, Outeniqua, Namibië en Melkbosstrand in Groep C geloot. Die span van Pretoria se SA Skole-skrumskakel, Jurich Claassens, het met die toekenning as Speler van die Toernooi tydens die Sutherland Sewes weggestap. 

    Monnas is saam met Overberg, Albert Myburgh, Prieska en Paarl Boishaai in Groep B geloot. Die span van Krugersdorp behoort nie te veel probleme te ondervind om bo-aan die groep te eindig nie. Hy behoort wel sterk teenstand van Boishaai te verwag. 

    Grey-kollege van Bloemfontein behoort weer vanjaar ‘n sterk aanspraakmaker op die titel te wees. Veral die span se wedstryd teen Boland Landbou behoort vir heelwat vuurwerk te sorg. Boland Landbou het verlede jaar vir Grey in die kwarteindronde op omstrede wyse in die toernooi uitgeskakel. Die span van die Agter-Paarl behoort ook een van die spanne te wees om dop te hou. 

    Die Groepe is: 

    Groep A: Paarl Gimnasium, Brackenfell, Douglas, Primrose RFC, Hugenote (Wellington). 

    Groep B: Monument, Overberg, Albert Myburgh, Prieska, Hoër Jongenskool Paarl. 

    Groep C: Outeniqua, Namibië, Melkbosstrand, HTS Drostdy, Garsfontein. 

    Groep D: Paul Roos Gimnasium, Parel Vallei, Vuka Legends, Tygerberg, Malibu.

    Groep E: Stellenberg, Hermanus, Western Cape Sport School, Paulus Joubert, Paarl Barbarians. 

    Groep F: Grey-kollege, Durbanville, Be the Difference, Boland Landbou, Milnerton.

  • Hier is die spanne vir vanjaar se Marius Schoeman Sewes-toernooi

    MariusSchoeman7s2018Die Marius Schoeman Sewes-toernooi is nou wel nog in sy babaskoene, maar die baba is reeds die grootste en belangrikste enkele sewestoernooi op skolevlak in Suid-Afrika. Die loting vir die toernooi se poele vind op Donderdag, 30 Augustus plaas. 

    Paul Roos Gimnasium het verlede jaar die kroon as kampioen van dié toernooi gedra. Die Marius Schoeman-toernooi is ook deel van die Hoërskole Sewes-reeks in samewerking met Twizza.

    Paul Roos het verlede ook die kroon as kampioen van die Kampioen van Kampioene-toernooi verower. Die kampioen van die toernooi in die Paarl sal weer vanjaar vir die Kampioen van Kampioene-toernooi kwalifiseer. Dié toernooi vind op die velde van Camp Discovery net noord van Pretoria plaas. Daar sal vanjaar ‘n o.15-toernooi ook plaasvind. 

    Paul Roos kan vanjaar sterk teenstand van Grey-kollege, Monument, Garsfontein en Outeniqua vir die titel verwag. Garsfontein neem die naweek ook aan die Montana 7’s toernooi deel. Laasgenoemde is ‘n kwalifiserende toernooi vir die Virseker Noordvaal-toernooi wat op 14 en 15 September deur Menlpark aangebied word. 

    Grey-kollege Primêr is die verdedigende kampioen van die o.12-toernooi. Die span van die Rosestad kan sterk teenstand van Lochnerhoff van die Strand, Bastion, Gene Louw, Kenmare en Worcester Primêr verwag. 

    Die deelnemende spanne is: 

    o.17: Paul Roos Gimnasium, Paarl Gimnasium, Grey-kollege, Hoër Jongenskool Paarl, Boland Landbou, Hoërskool Garsfontein, Outeniqua, Monument, HTS Drostdy, Hugenote (Wellington), Stellenberg, Tygerberg, Durbanville, Brackenfell, Douglas, Prieska, Overberg, Paulus Joubert, Albert Myburgh, Primrose RFC, Western Cape Sport School, Milnerton, Vuka Legends, Paarl Barbarians, Melkbosstrand, Schoonspruit, Malibu, Hermanus, Be the Difference, Namibië. 

    o.15: Grey-kollege, Outeniqua, Paarl Gimnasium, Monument, Paul Roos Gimnasium, Oakdale Landbou, Boland Landbou, Hoër Jongenskool Paarl, HTS Drostdy, Durbanville, Stellenberg, Hugenote (Wellington), Brackenfell, Namibië, Vuka Legends, Tygerberg, Douglas, Western Cape Sport School, Paulus Joubert, Albert Myburgh, Primrose RFC, Prieska, Bredasdorp. 

    o.14: Laerskool Bastion, Grey-kollege Primêr, Klein Gim, Lochnerhoff, Gene Louw, Worcester Primêr, Kenmare, Namibië, Laerskool Gericke (Ceres), Primrose RFC, Kenridge, Bellpark, Gordansbaai, Van Riebeeckstrand, De Hoop, Durbanville.

  • Wildeklawer se bepalings vir 2019

    Wildeklawer se bepalings vir 2019

    Wildeklawer10Skolerugbyondersteuners kan volgende jaar tydens die 11de Wildeklawer-toernooi weer van die voorste skolerugby in 2019 verwag. Die toernooi sal volgende jaar van 2 tot 4 Mei in Kimberley aangebied word. 

    Die twee stryde wat die meeste uitgesien na sal word vind albei op die tweede dag van die toernooi plaas. Suid-Afrika se voorste span van 2018, Grey-kollege, sê Paarl Gimnasium die stryd aan, terwyl die wedstryd tussen die Hoër Jongenskool Paarl en Affies ook soos gewoontlik vir vuurwerk behoort te sorg. 

    Paul Roos Gimnasium en Garsfontein van Pretoria sal mekaar vir ‘n geskiedkundige eerste keer die stryd tydens volgende jaar se toernooi aansê. Paul Roos sal in sy tweede wedstryd teen Helpmekaar-kollege van Johannesburg se staan kom. 

    Die nuwelinge, Transvalia van Vanderbijlpark, word vroeg in die diepkant ingegooi. Hulle kom teen Paarl Gimnasium op die eerste dag van die toernooi te staan. Transvalia se wedstryd op die tweede dag teen Boland Landbou behoort ook ‘n uiters fisieke kragmeting te wees. 

    Die bepalings is: 

    Donderdag, 2 Mei 2019 

    Noord-Kaap vs Helpmekaar
    Welkom Gimnasium vs Waterkloof
    Affies vs HTS Drostdy
    Paul Roos Gimnasium vs Garsfontein 
    Hoër Jongenskool Paarl vs Glenwood
    Transvalia vs Paarl Gimnasium
    Monument vs Boland Landbou
    Grey College vs Oakdale Landbou
    Diamantveld vs Stellenberg
    Menlopark vs Outeniqua

    Saterdag, 4 Mei 2019

    Hoër Jongenskool Paarl vs Affies
    Boland Landbou vs Transvalia
    Grey College vs Paarl Gimnasium
    Menlopark vs Oakdale Landbou
    Diamantveld vs Waterkloof
    Welkom Gimnasium vs Stellenberg
    Garsfontein vs Glenwood
    Paul Roos Gimnasium vs Helpmekaar
    Noord-Kaap vs Outeniqua
    Monument vs HTS Drostdy

  • School of Rugby Rankings – 27 August 2018

    School of Rugby Rankings – 27 August 2018

    SORGrey College finished top of School of Rugby’s rankings for the 2018 season. The team from Bloemfontein finished their season unbeaten their first since 2011. The only slight blemish on their record for 2018 was the 25-all draw in Durban against Glenwood. 

    What made Grey College’s season even more impressive is the fact that they’ve only played three matches at home in Bloemfontein. The three home games was against Selborne College, Waterkloof and Paul Roos Gimnasium. 

     

    The Rankings:

    # Schools Played Won Drawn Lost Points F Points A
    1 Grey College 11 10 1 0 486 187
    2 Paul Roos Gimnasium 15 14 0 1 772 208
    3 Glenwood 11 10 1 0 454 155
    4 Paarl Gimnasium 15 13 0 2 632 343
    5 Paarl Boys’ High 12 9 0 3 331 256
    6 Oakdale Landbou 12 9 0 3 464 319
    7 Garsfontein 19 14 0 5 719 536
    8 Monument 21 13 1 7 846 539
    9 Transvalia 16 11 1 4 754 344
    10 Selborne College 18 15 0 3 771 279
    11 Helpmekaar 16 12 0 4 514 367
    12 Affies 12 7 0 5 345 260
    13 Hilton College 12 12 0 0 315 180
    14 Menlopark 17 11 0 6 566 458
    15 HTS Drostdy 18 14 0 4 675 434
    16 Boland Landbou 15 7 0 8 502 377
    17 Jeppe High School 16 13 0 3 545 353
    18 Wynberg Boys’ High 16 12 0 4 503 362
    19 Welkom Gimnasium 20 15 1 4 764 255
    20 Diocesan College 17 11 1 5 515 288
  • Gimmies Shimla-kampioene, terwyl Diamonds Wesgrow-kroon dra

    NewsGDiamantveldkampHoewel die Kovsiestreek-kompetisie se Shimla-liga steeds die mees gesogte titel vir ‘n skolerugbyspan in die sentrale streek is, moet daar kommer oor die groot verskil die afgelope twee jaar tussen die voorste spanne in die streek was.

    Welkom Gimnasium is gister vir die tweede keer sedert die ontstaan van die kompetisie as kampioen gekroon. Gimmies het Duineveld van Upington met 61-7 in die eindstryd op Shimlapark verniel Die span het in 2015 ook die kroon gedra.

    Grey-kollege, wat nie vanjaar aan die reeks deelgeneem het nie, het vir Noord-Kaap verlede jaar in die eindstryd met 92-7 afgeslag.

    Die Velties is vanjaar vir die eerste keer as kampioen van Griekwas gekroon. Gimmies se SA Skole-agtsteman, Keke Morabe, en die slot Husayn Banzi het na willekeur deur die verdediging met kragtige lopies gebars. Albei het elk twee van hul span se elf drieë afgerond. Banzi is vir sy skitterende spel as die Speler van die Wedstryd aangewys.

    Die kampioen se kaptein en flank, Christo Steyn, asook die senter Keith van Aswegen was ook op hulle stukke. 

    Gimmies se een breier Jacques Juries spog nou al met vier titels in die Shimla-liga. Buiten Gimmies se titel van 2015 het hy ook die Harmony Sportakademie tot kampioene in 2007 en 2008 gebrei.

    In die Irawa-liga het Bothaville vir De Aar met 31-12 die loef afgesteek. In die Colt-liga het Prieska die titel met ‘n gemaklike sege van 54-12 oor Hoopstad verower.

    Diamantveld is na ‘n spannende eindstryd as die eerste kampioen van die Wesgrow-reeks gekroon. Diamonds het Goudveld met 29-26 op Fichardtpark se hoofveld in die Rosestad verslaan.

    Dit was weereens die binnesenter, Handré Bruwer, wat met sy skopskoen sy span se groot held was. Bruwer het verlede met ‘n skepdoel in die laaste oomblikke teen Noord-Kaap in die halfeindronde ‘n sege van 6-5 vir sy span verseker. 

    Goudveld het in die doodsnikke ‘n geleentheid gehad om die sege te beklink. Die skeidsregter, Boela du Plessis, het ‘n strafdoel aan Goudveld met die telling op 26-elk reg voor die pale toegeken. ‘n Speler van Goudveld het iets aan Du Plessis gesê waarna hy die strafskop omgedraai het.

    Bruwer het die strafskop tot op Gouties se kwartlyn uitgesool. Goudveld se Cravenweek-losskakel, Ruben Liebenberg, het ook toe iets vir Du Plessis te sê gehad en glo ook kontak met die skeidsregter gemaak. Liebenberg is sy tweede geelkaart van die wedstryd gewys.

    Dié swak dissipline het sy span die wedstryd gekos. Bruwer het geen probleme ondervind om die strafdoel tussen deur die pale te jaag en sy span tot kampioene te lei nie.

    In die uitspeelwedstryd om die derde en vierde posisie het Noord-Kaap in ‘n wipplankstryd vir Witteberg met 34-29 getroef.

    Fichardtpark het die bordjies teen Jim Fouché met ‘n sege van 22-13 in die stryd om die houtlepel verhang. Dit was ook Fichies se eerste sege oor JF in nege jaar. JF het die kragmeting vroeër vanjaar tussen die twee spanne met 27-20 gewen.

    Voortrekker van Bethlehem was naelskraaps met 19-17 oor Sentraal van Bloemfontein baas. 

    Wynberg Boys’ High het sy seisoen met ‘n oorwinning van 30-17 oor SACS afgesluit. Wynberg het daarmee die seisoen as die voorste van die skolespan in die suidelike voorstede van Kaapstad afgesluit.

    Diocesan College oftewel Bishops en Rondebosch Boys’ High was in ‘n hewige tweestryd gewikkel. Na 70 minute se spel met die telbord op 10-elk was daar niks tussen die twee spanne te kies nie.

    Hoërskool Tygerberg het vir ietwat van ‘n verrassing gesorg deur Brackenfell met 19-8 te klop.

  • Hier is die Noord/Suid-toernooi se bepalings vir 2019

    Hier is die Noord/Suid-toernooi se bepalings vir 2019

    NoordSuid2019Die jaarlikse Barloworld Toyota Menlyn Noord/Suid-toernooi is vinnig besig om onder die Wildeklawer-toernooi se skadu uit te beweeg. Van die grootste skolerugbywedstryde van 2019 sal volgende jaar tydens dié toernooi in Pretoria gespeel word. 

    Die Hoërskool Garsfontein sal die gasheer vir die sesde Barloworld Noord/Suid-toernooi wees. Die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria sal ook vir die eerste keer in jare op Berepark in aksie wees. Affies en die Hoër Jongenskool Paarl is twee van die drie nuwelinge vir 2019 se toernooi.

    Helpmekaar-kollege sal ook volgende jaar vir die eerste keer aan die gesogte toernooi deelneem. Die twee spanne het mekaar onlangs in die eindstryd van die Virsekerbeker die stryd aangesê. Monnas het die titel met ‘n sege van 57-11 verower.

    Die wedstryd op die eerste dag van die toernooi om nie mis te loop nie, sal die kragmeting tussen Monument en Paarl Gimnasium wees. Die twee spanne het vanjaar op die Wildeklawer-toernooi vir die eerste keer in jare kragte gemeet. Gimmies het die spannende kragmeting met 34-31 gewen.\

    Monnas, kampioen van die Virsekerbeker, sal soos vanjaar se Wildeklawer ook ‘n strawwe Noord/Suid-toernooi beleef. Die span van Krugersdorp sal op die tweede dag van die toernooi teen Paarl Boishaai te staan kom. 

    Soos op vanjaar se Noord/Suid-toernooi sal Grey-kollege en Garsfontein weer kragte meet. Die wedstryd vind op die tweede dag van die toernooi plaas. Grey het 2018 as Suid-Afrika se voorste skolespan afgesluit. Grey kom op die eerste dag teen Menlopark te staan wat ook ‘n goeie wedstryd behoort te wees.  

    Die hele toernooi van 2019 beloof om ‘n fees van rugby te wees met Boland Landbou, Stellenberg, EG Jansen, Outeniqua, Waterkloof en Durbanville wie se eertstespanne ook jaarliks onder die voorste spanne in die land tel wat ook weer in aksie sal wees. 

    Die bepalings is: 

    Dag 1 

    Affies vs Stellenberg 
    EG Jansen vs Durbanville
    Paarl Boys’ High vs Helpmekaar
    Grey College vs Menlopark
    Boland Landbou vs Waterkloof 
    Garsfontein vs Outeniqua
    Monument vs Paarl Gimnasium

    Dag 2 

    Affies vs Outeniqua
    Stellenberg vs EG Jansen
    Waterkloof vs Durbanville
    Boland Landbou vs Helpmekaar
    Paarl Gimnasium vs Menlopark
    Monument vs Paarl Boys’ High
    Garsfontein vs Grey College